Die Jaloesie van God | World Challenge

Die Jaloesie van God

David WilkersonJanuary 1, 1986

Toneel Een

Gaan na daardie dorp reg voor julle, en dadelik sal julle ’n eselin vind wat vasgemaak is, en ’n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord: Die Here het hulle nodig; en dadelik sal hy hulle stuur. En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word die woord wat deur die profeet gespreek is: Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op ’n esel, ja, ’n jong esel, die vul van ’n pakdier. En die dissipels het gegaan en gedoen soos Jesus hulle beveel het; hulle het die esel en die vul gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het daarop gaan sit. En die grootste deel van die skare het hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takke van die bome afgekap en op die pad gestrooi. En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele! En toe Hy in Jerusalem inkom, het die hele stad in opskudding geraak en gesê: Wie is hierdie man? En die skare sê: Dit is Jesus, die profeet, van Násaret in Galiléa. EN Jesus het in die tempel van God ingegaan en almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgejaag en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi. En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis moet ’n huis van gebed genoem word. Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak. En daar het blindes en kreupeles na Hom gekom in die tempel, en Hy het hulle gesond gemaak. En toe die owerpriesters en skrifgeleerdes die wonderwerke sien wat Hy gedoen het, en die kinders wat in die tempel uitroep en sê: Hosanna vir die Seun van Dawid! was hulle verontwaardig” (Matthew 21:2-15 NAS).

Ek sien die dissipels ‘n donkie na Jesus bring, met sy klein vulletjie wat op haar hakke volg. Die dissipels lê hulle mantels op die donkie, dan klim Jesus op die donkie en vertrek na Jerusalem. Sy oë is gerig op die tempel. Kyk na die menigtes, wat hulle klere en takke op die strate gooi en ‘n tydelike koninklike tapyt vorm.

Jy kan amper hoor hoe die geskreeu harder word soos die skare groter word: “Hosanna! Hosanna! Vir die Koning! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”

Hy gaan die stad binne en die besoekers val in by die skare en sê, “Wie is hierdie Man? Is Hy nie die Wonderwerker nie? Is dit nie die Een wat Lasarus opgewek het nie? Kan Hy nie blinde oë en dowe ore oopmaak nie; en kan Hy nie verlamdes herstel nie? Deur ‘n eenvoudige aanraking van Hom, word bloeding genees!”

Maar kyk na Sy gesig! Hy stop nie een keer om ‘n blinde oog of ‘n dowe oor aan te raak nie! Hy verrig nie een teken nie, geen wonderwerk nie; die siekes strek hulle uit om Hom aan te raak, maar dit lyk of Hy hulle nie eens sien nie! Hy kyk nie eens na die kinders vir wie Hy so lief is nie! Daar is geen woord van vriendelikheid aan die verbygaande weduwee’s wat so naby aan Sy hart is nie!

Jesus is ingedagte! Hy kyk nie na regs of na links nie. Waarom is Hy so ernstig? Waarom die kwaai kyk? Waarom die frons? Hy is op ‘n sending, na ‘n afspraak in Sy Vader se huis! Die donkie stop by die tempeltrappe en Jesus klim af. Hy loop dwarsdeur die skare – stil en vasbeslote. Sagaria het van Hom gesê, “Kyk, jou Koning kom na jou: regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel – op ‘n jong esel” (Sagaria 9:9).

Maar vandag is Hy nie nederig nie. ‘n Vuur brand in Sy oë – die heilige jaloesie van ‘n jaloerse God is op Hom! “Want die HERE jou God is ‘n verterende vuur, ‘n jaloerse God” (Deuteronómium 4:24).

Jesus stap in die tempel in en iets in Hom ontplof! Vir die oog sonder onderskeidingsvermoë, lyk dit na ‘n godsdienstige herlewing – die bedrywige skares was daar. Dit was ‘n toneel van koorsagtige godsdienstige aktiwiteit. Die voorspoedige menigtes het na die tafels gestroom – hulle het gekoop en verkoop. Die mandjies het gebult met geld; die bedienaars van die tempel was uitbundig; nog nooit was God so gewild nie – nog nooit was godsdiens meer aanvaarbaar nie.

Kyk weer na Jesus – die ywer van God se huis verteer Hom letterlik! Hy staan daar, weef die toue van ‘n sweep. In sy profetiese oog, het die profeet Jesaja die toneel jare tevore gesien. Jesaja het van hierdie oomblik gesê, “En Hy het geregtigheid aangetrek soos ‘n pantser, en die helm van heil was op sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as kleding en Hom gewikkel in die ywer soos in ‘n mantel. Volgens die dade, daarmee ooreenkomstig sal Hy vergelde...want Hy sal kom soos ‘n saamgeperste stroom wat die asem van die HERE aandrywe” (Jesaja 59:17-19).

Die woord ywer hier in Hebreeus beteken die jaloesie van God! Die jaloesie van Sy Heilige Vader het Hom verteer. Hy het daardie goddelike jaloesie as ‘n mantel gedra; Hy was daarmee beklee.

In daardie rowerspelonk het Jesus ingekom – soos ‘n saamgeperste stroom, aangedrewe deur die wind van God! Wat ‘n oproer! Die sweep het geklap – die tafels word omgekeer – die duiwe skree – die lammers word losgelaat uit hulle krale – die osse trap op die geldkiste – die handelaars hardloop weg in vrees! Al wat hulle sien is wat lyk soos ‘n kranksinnige mens wat mal geword het.

“Uit! Uit! Genoeg! Dit is My Vader se huis! Dit is ‘n huis van gebed! Julle rowers! Diewe! Julle verander hierdie huis in ‘n rowerspelonk! Gaan uit! Moenie terugkom nie!”

Daardie sweep het nie opgehou klap totdat die laaste skaap, die laaste os, die laaste duif, al die handelaars en al die godsdienstige skelms weg was nie!

Nadat Jesus die tempel gereinig het, het Hy weer uitgereik na die behoeftiges! “En daar het blindes en kreupeles na Hom gekom in die tempel, en Hy het hulle gesond gemaak” (Matthéüs 21:14).

Toneel Twee

“TOE Israel in Sittim gebly het, het die volk begin hoereer met die dogters van die Moabiete —dié het die volk na die offers van hulle gode uitgenooi; en die volk het geëet en hulle neergebuig voor hulle gode. So het Israel hom dan gekoppel aan Baäl-Peor, en die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam. Toe sê die HERE vir Moses: Neem al die hoofde van die volk en hang die oortreders op in die volle son vir die HERE, sodat die toorngloed van die HERE van Israel afgewend kan word. Daarop het Moses aan die rigters in Israel gesê: Slaan elkeen sy manne dood wat hulle aan Baäl-Peor gekoppel het. En daar het ’n man gekom, een uit die kinders van Israel, en ’n Midianitiese vrou na sy volksgenote gebring, voor die oë van Moses en voor die oë van die hele vergadering van die kinders van Israel, terwyl hulle ween by die ingang van die tent van samekoms. Toe Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, dit sien, het hy uit die vergadering uit opgestaan en ’n spies in sy hand geneem en agter die Israelitiese man aan gegaan in die tent en hulle twee deurboor, die Israelitiese man en die vrou, in haar onderlyf. Daarna het die plaag onder die kinders van Israel opgehou. En die wat deur die plaag gesterf het, was vier-en-twintigduisend.

“Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, het my grimmigheid van die kinders van Israel afgewend deurdat hy my ywer onder hulle geywer het, sodat Ek die kinders van Israel in my ywer nie verteer het nie. Daarom spreek: Kyk, Ek sluit met hom my vredeverbond, en dit sal vir hom en sy nageslag ná hom die verbond van ewige priesterskap wees, omdat hy vir sy God geywer en versoening vir die kinders van Israel gedoen het. En die naam van die Israelitiese man wat verslaan is, wat saam met die Midianitiese vrou verslaan is, was Simri, die seun van Salu, owerste van ’n familie van die Simeoniete. En die naam van die Midianitiese vrou wat verslaan is, was Kosbi, die dogter van Sur. Hy was stamhoof van ’n familie in Mídian. Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Behandel die Midianiete as vyand en verslaan hulle, want hulle het julle as vyand behandel deur hulle liste wat hulle teen julle bedink het in die saak van Peor en in die saak van Kosbi, die dogter van die vors van Mídian, hulle landgenoot, wat op die dag van die plaag weens Peor verslaan is” (Numeri 25).

Israel het laer opgeslaan in die vlaktes van Moab, anderkant die Jordaan en teenoor Jerigo. Balak is koning van die Moabiete. Hulle was die nakomelinge van Lot, die man van God wat sy tent by Sodom opgeslaan het. Die Moabiete was bang vir Israel. Hulle het gesien en gehoor van al die wonderwerke wat hulle God vir hulle gedoen het. Hulle het die profeet Bíleam gehuur om hulle te vervloek. Hy het gesê, “Nou sal hierdie menigte opeet alles wat rondom ons is, soos ’n bees die groenigheid van die veld opeet.” (Numeri 22:4).

“Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek...hulle uit die land verdrywe...Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek.” (Numeri 22:6).

Bíleam het Israel egter geseën, “’n Septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab” (Numeri 24:17). “Toe het Bíleam hom klaargemaak en weggetrek en na sy woonplek teruggekeer” Maar voor hy teruggekeer het huistoe, het hy vir Balak en die Moabiete DIE GEHEIM gegee om Israel te verslaan.

Wat die Moabiete nie met hulle leërs kon doen nie, het hulle met hulle prostitute en goddelose vroue gedoen. Johannes het vir die kerk by Pergamus gesê, “Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer” (Openbaring 2:14).

Petrus beskryf die gees en die weë van Bíleam. Hy het gewaarsku sommige sal “die regte pad verlaat...verdwaal...die weg gevolg van Bíleam...wat die loon van ongeregtigheid liefgehad het” (2 Petrus 2:15).

Israel het begin om die weë van Bíleam te volg deur vrye teuels te gee aan die vlees se luste met verdorwe begeertes. Hulle was uitdagend, vol eiewil en sonder kennis, terwyl hulle die heilige dinge gevloek het! Hulle het hulle verlustig in die daglig met oë vol owerspel. Hulle het nooit opgehou sonde doen nie en het onvaste siele verlei. Hulle harte was geoefen in hebsug, en het arrogante woorde van ydelheid gespreek. Hulle was sensueel; hulle het ander vryheid belowe, terwyl hulleself slawe van verdorwenheid was. Hulle het na julle feeste gekom, saam met julle aanbid, maar hulle is waterlose fonteine. Hulle sal op die ou end vernietig word.

Moab het God se kinders genooi na die offerande van hulle gode, en die afvallige nakomelinge van Lot het die kerk in die woestyn geïnfiltreer. “En die volk het geëet en hulle neergebuig voor hulle gode. So het Israel hom dan gekoppel aan Baäl-Peor, en die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam” (Numeri 25:2-3).

Hulle is dieselfde volk van God wat op wonderwerk-manna gelewe het. Hulle het pas water uit die Rots gedrink! Hulle het God se ontsagwekkende oordele oor die huis van Korag gesien; die grond het letterlik oopgegaan en hulle ingesluk.

Nou is hulle verswelg in ‘n gees van verleiding. Daar was ‘n tyd toe Israel Moab en alles waarvoor dit gestaan het, gehaat het. Ouers het eens hulle kinders gewaarsku; leraars en leiers het uitgevaar teen die sedeloosheid van die Moabiete en die Mídianiete.

Nou was hulle verenig! Die mure van skeiding is weg! Kompromie het soos kanker deur die laer versprei. Hulle het met die wêreld gemeng – en God het die hoerery genoem! Hulle het die goddelose weë van Moab geïnkorporeer in hulle aanbidding. Hulle het hulle gewend na owerspel, na hoerery, egskeiding en allerhande soorte goddeloosheid.

Wie is te blameer vir die verwoesting in God se huis? Wie hou God verantwoording? Herders! Leiers! “Toe sê die HERE vir Moses: Neem al die hoofde van die volk en hang die oortreders op in die volle son vir die HERE, sodat die toorngloed van die HERE van Israel afgewend kan word” (Numeri 25:4). “Daarop het Moses aan die rigters in Israel gesê: Slaan elkeen sy manne dood wat hulle aan Baäl-Peor gekoppel het” (Numeri 25:5).

Sonde het gewoed in die laer; duisende het gesterf deur die plaag; en niemand het ‘n stem verhef nie! Die herders het lafaards geword! Leiers was bang om sonde by die naam te noem! Niemand het gelyk of hulle jaloers was oor God se heiligheid nie. God se volk was verlei; hulle was onder Satan se heerskappy; en niemand het daarteen opgestaan of was “gewikkel in die ywer soos in ‘n mantel...soos ‘n saamgeperste stroom wat die asem van die HERE aandrywe” nie.

God het gesê, “Weg met die lafhartige herders! Weg met diegene was sonde oorsien! Weg met daardie wagte wat weier om die basuin in Sion te blaas. Hulle maak My kwaad!”

Dank God vir die oorblyfsel, die min wat ween oor die verwoesting en verdorwenheid in die laer! “En daar het ’n man gekom, een uit die kinders van Israel, en ’n Midianitiese vrou na sy volksgenote gebring, voor die oë van Moses en voor die oë van die hele vergadering van die kinders van Israel” (Numeri 25:6). Sy naam was Simri – haar naam was Kosbi. Wat is die betekenis hiervan? Dit is die wêreld wat reg by die voordeur ingebring word! Dit is astrante kompromie! Enigiets is aanvaarbaar nou! Geen gebulder van die kansel af nie; geen uitroep; geen basuingeskal nie! Sedelike waardes is weg!

Dank God, uit die heilige oorblyfsel het ‘n man van God, toegedraai in God se mantel van jaloesie, gekom! Sy naam was Pínehas! “Toe Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, dit sien, het hy uit die vergadering uit opgestaan en ’n spies in sy hand geneem en agter die Israelitiese man aan gegaan in die tent en hulle twee deurboor, die Israelitiese man en die vrou, in haar onderlyf. Daarna het die plaag onder die kinders van Israel opgehou” (Numeri 25: 7,8). Pínehas was verteer met die heilige jaloesie van God. “Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: Pínehas...het my grimmigheid van die kinders van Israel afgewend deurdat HY MY YWER ONDER HULLE GEYWER HET, sodat Ek die kinders van Israel in my ywer nie verteer het nie. Daarom spreek: Kyk, Ek sluit met hom my vredeverbond, en dit sal vir hom en sy nageslag ná hom die verbond van ewige priesterskap wees, omdat hy vir sy God, geywer en versoening vir die kinders van Israel gedoen het (Numeri 25: 10-13).

Die hele gemeente het hierdie goddeloosheid gesien – al die leiers het dit gesien. Waarom het niemand ander met God se jaloesie iets gedoen nie? Hulle was te besig om die misdaad te analiseer. “Laat ons hom nie oordeel nie! Moenie oordeel nie, sodat jy nie geoordeel word nie!” “Ons ken nie sy hart nie; miskien het hy regtig God lief!” “Laat elke mense sy eie hart ondersoek. Moenie ‘n ander man se dienaar oordeel nie!” “Miskien probeer Simri haar oorhaal tot Judaïsme. Moenie sy motiewe oordeel nie.” “Miskien weet hy nie van beter nie. Hy is onvolwasse. Laat die Heilige Gees met hom deel.”

Paulus het vir die Korinthiërs gesê, “Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God – wat ‘n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing” (2 Korinthiërs 7:11).

Een mens verteer met die heilige jaloesie van God stap uit die stille massas uit: “Genoeg! Dit het te ver gegaan! Ek gaan iets daaromtrent doen!” Die grootste gedeelte van God se kinders wil niks te doen hê met God se heilige oordeel teen sonde in hulle midde nie.

Net voor Pínehas God se heiligheid verdedig het, het God se volk met afsku gekyk hoe die aarde oopgemaak het en Korag en sy huisgesin ingesluk het. Toe het vuur geval en 250 Leviete wat teen Moses se gesag gerebelleer het, verteer. “Maar die volgende dag het die hele vergadering van die kinders van Israel teen Moses en Aäron  gemurmureer en gesê: Júlle het die volk van die HERE gedood” (Numeri 16:41). Hulle het in wese gesê, “Moenie meer praat van oordeel nie! Julle bring wanhoop, onrus en hartseer. Julle is te streng, te veroordelend. Onspan! Julle het ‘n paar van God se uitverkore kinders seergemaak! Wie is julle om ander te oordeel?” Hulle was glad nie begaan oor God se heiligheid nie! Hulle was meer begaan oor mense as die eer van God! Hulle harte het nie gebrand met die jaloesie van ‘n heilige God nie!

God wou hê die hele Israel moes dit weet: “Pínehas het my woede stilgemaak! Sy haat vir sonde – sy jaloesie oor My Naam – dit is waarom Ek nie in oordeel uitgebreek het teen julle almal nie!”

Toneel Drie

Toneel drie is die ewigdurende priesterskap van Pínehas. God het ‘n ewige verbond met Pínehas gemaak, aan al sy nakomelinge na hom. Dit het beteken dat totdat Christus Sy ewige koninkryk sou oprig, sou daar altyd ‘n oorblyfsel wees wat die gees en ywer van Pínehas op hulle sou hê.

God se uitroep is die volgende: “Wie sal vir my optree teen die kwaaddoeners? Wie sal my bystaan teen die werkers van ongeregtigheid” (Psalm 94:16).

Laat my vir jou vertel waar God se volk vandag is, op presiese dieselfde plek waar Israel was – vas aan afgode en hulle hoereer met die wêreld! God se volk word verlei, verblind, weggevoer deur wellus. Miljoene Gees-vervulde Christene buig voor die afgod van TV. Sommige van julle het gehoop ek sou nie hierdie saak aanroer nie, maar God het Sy spies in my hand geplaas. Ek voel Sy heilige jaloesie, en ek kom soos Pínehas in jou tent in; daardie afgodery moet sterf!

Jy weet wat God gesê het: “Stel geen lae ding voor jou oë nie!” “En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie...jy moet daar heeltemal ‘n afsku van hê en dit geheel en al as gruwel beskou; want dit is onder die banvloek” (Deuteronómium 7:28). “Moenie in die kring van die spotters sit nie.” “Ek wandel in die opregtheid van my hart, binne-in my huis...Ek stel geen lae ding voor my oë nie...dié sal my nie aankleef nie” (Psalm 101:2-4).

Luister na die verskonings: “Ek sien dit nie so nie.” “Moenie oordeel nie!” “Daar is baie goeie dinge daarin!” Waar is die nakomelinge van Pínehass, daardie ewige priesterskap? Van wanneer af is dit eerbaar vir God se volk om te sit en kyk hoe Satan se sedeloosheid geparadeer word – moord, owerspel, verkragting, verdraaide seks, verneukery, die omruil van vroue? Is dit nie ‘n afgod nie – waarom is al die meubels daarop gerig?

“Rolling Stone” tydskrif het pas ‘n woordeboek uitgegee oor ruk en rol; dit word genoem die bybel op die onderwerp. Hulle definisie: “Rok en rol is ‘n blues eufemisme wat seksuele omgang beteken – punt!” Nou neem die musiek van seksuele omgang ons jeug oor. Dit val ons kerke binne. Punk rock het daarmee saam gekom en niemand gee om nie! Wie roep uit daarteen?

Predikers spot my; evangeliste lag vir my – bloot omdat God se heilige jaloesie in my brand en ek roep, blaas die basuin en sê, “Dit is nie God nie! Dit is stinkende vlees! Dit besoedel die tafel van die Here! Drink uit Satan se beker!”

Dawid, die psalmis het ‘n psalm geskryf oor afvallige Israel en oor Pínehas. Dit is ‘n kragtige waarskuwing wat ons moet hoor. Hy het gesê, “Ook het hulle hul aan Baäl-Peor gekoppel en die offerandes aan die dooies geëet; en hulle het die HERE geterg deur hul dade, sodat ‘n plaag onder hulle uitgebreek het” (Psalm 106:28,29)

Ek sê ons het God vertoorn deur ons afgodery, verkwiste tyd en die eet van voedsel wat geoffer is aan dooie en goddelose afgode! Ek sê dat die plaag uitgebreek het onder ons! Wat is die verskriklike egskeidingsyfer – anders as ‘n plaag? Wat is die afvalligheid van ons kinders, die opbreek van huisgesinne en owerspel oral waar jy gaan – anders as ‘n plaag?

Nou het ons gekoreografeerde danse in kerke. Ons het ‘n fasade van voorspoed – ‘n fasade van “alles gaan goed.” Ons sluit ons oë vir alles wat negatief is; ons wil nie praat oor sonde nie! “Praat van wonderwerke! Praat van God se seëninge! Praat van die groot herstel wat plaasvind!” En so aan.

Maar God is steeds ‘n jaloerse God! Wanneer sonde veroordeel word, wanneer die Pínehasse opstaan om God se heiligheid te verdedig, wanneer die kompromie geopenbaar en verwyder word – dan sal God in Sy teenwoordigheid kom. Die plaag sal gestuit word – God se teenwoordigheid sal kom – dan sal julle dans! Julle sal nie julle dansery hoef te koreografeer nie. God se Gees sal uitbreek; dit sal spontaan gebeur – werklik! Wanneer die Gees van Pínehas op God se volk neerkom, sal die kerk onderskei tussen lig en duisternis, bitter en soet, die heilige en die onheilige! Daar sal ‘n verskil wees!

Wat van julle, vriende? Waar staan julle? God rig profete en wagte op. Die basuin van God weerklink. Sal julle die profete doodmaak? Met laster? Deur vir hulle te lag? Deur hulle te ignoreer? Sal julle God aanroep en verteer word met Sy heilige jaloesie? Sal julle opstaan teen sonde? In jou eie lewe? In jou huis? In jou kerk?

Dawid het gesê, “Toe het Pínehas opgetree en gerig geoefen, en die plaag het opgehou; en dit is hom gereken tot geregtigheid, van geslag tot geslag tot in ewigheid” (Psalm 106:30-31).

Wat ‘n ontsaglike stelling! Ons weet Abraham se geloof was vir hom geregtigheid gereken. Maar nou is die jaloesie van God in die harte van Pínehas. “Vir alle geslagte – vir ewig!” Dit sluit in vandag!

Esegiël het ‘n visioen gesien van ‘n man geklee in linne met ‘n merker in sy hand. God het hom beveel, “Trek dwarsdeur die stad, dwarsdeur Jerusalem, en maak ‘n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word” (Esegiël 9:4). “Slaan dood...maar raak aan niemand op wie die teken is nie, en begin by my heiligdom...die oudstes” (Esegiël 9:6). God merk tans diegene wat vol is van Sy jaloesie!

Wie is die ware man, die ware vrou van God? Wie praat werklik vir God? Wie het die onwrikbare waarheid? Wie kan vertrou word? Jeremia antwoord dit: “Maar by die profete...het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie...aan die einde van die dae sal julle dit duidelik verstaan. Ek het die profete nie gestuur nie, tog het hulle geloop; Ek het nie met hulle gespreek nie, tog het hulle geprofeteer. Maar as hulle in my raad gestaan het, moet hulle my volk my woorde laat hoor en hulle terugbring van hul verkeerde weg en van die boosheid van hul handelinge” (Jeremia 23:14, 20-22)

Gevolgtrekking

God se Woord kan nie faal nie! Die ewige priesterskap van Pínehas rys op. Op hierdie oomblik raak hierdie boodskap ‘n reaksionele koord in die hart van almal wat God se jaloesie in hulle het. Wagte, bewe julle vir God se Woord?

“o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes – moenie rus nie...totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde” (Jesaja 62:6-7).

“Ook het die HERE al sy knegte, die profete, na julle gestuur, vroeg en laat — maar julle het nie geluister of julle oor geneig om te hoor nie — met die woorde: Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg en van die boosheid van julle handelinge, en woon in die land wat die HERE aan julle en julle vaders gegee het, van eeu tot eeu; en loop nie agter ander gode aan om hulle te dien en julle voor hulle neer te buig nie, en terg My nie met die werk van julle hande nie, dat Ek julle geen kwaad aandoen nie” (Jeremia 25:4-6).

“Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer. En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie; en herders is hulle wat nie weet om op te merk nie; almal loop hulle eie pad, elkeen na sy onregverdige wins, almal saam” (Jesaja 56:10-11).

“Die regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; en die vromes word weggeruk sonder dat iemand daarop let; want die regverdige word weggeruk vanweë die boosheid” (Jesaja 57:1)

“En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê: Mensekind, spreek met die kinders van jou volk en sê vir hulle: As Ek die swaard oor ’n land bring, en die mense van die land neem ’n man uit hulle kring en stel hom as wag vir hulle aan, en hy sien die swaard aankom oor die land en blaas met die basuin en waarsku die mense —as dan iemand die geluid van die basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof. Hy het die geluid van die basuin gehoor, maar het hom nie laat waarsku nie: sy bloed is op hom. Maar as hy hom laat waarsku, dan red hy sy siel. As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem ’n siel uit hulle weg — dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis. En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku” (Esegiël 33:1-7).

Download PDF