Die Koring op die Top van die Berg | World Challenge

Die Koring op die Top van die Berg

David WilkersonJune 1, 1983

“Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge; mag die vrug daarvan ruis soos die Líbanon...” (Psalm 72:16).

Die 72ste Psalm is ‘n profetiese visioen van die heerskappy van die Here Jesus Christus. Hy is die koring, op die aarde, op die top van die berge. “As die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug” (John 12:24).

Die vrug van Sy dood het ‘n magtige oes van geestelike bome voortgebring, waarvan die takke uitgesprei het soos die woude van die Líbanon wat in die wind swaai. Christus het nou heerskappy “van see tot see” (Psalm 72:8). Die Kruis was geplant op die aarde op ‘n berg genaamd Gólgota. Die profete het dit “die heilige berg van God” genoem. Hier, op hierdie heilige berg van God, was ‘n handjievol koring in die graf geplaas. Daardie saad het gesterf en het wortel geskiet op droë grond en ‘n opstandingsblaar het uitgespruit. Vandag, sien ons die volle koring as opstandingskrag steeds ‘n glorieryke oes voortbring. Die vrug van Sy dood, begrafnis en opstanding het sekerlik geword soos die “geur...[van] die Líbanon” (Hoséa 4:6,7).

Ons, die kinders van God, is soos daardie handjievol koring, op die aarde, op die berg. Ons moet saam met Hom na Gólgota gaan, sterf en opgewek word saam met Hom in heerskappy-krag. Hierdie profesie handel oor saad wat geneem is na die hoogtes om te sterf, sodat dit veel vrug kan voortbring. Dit is ‘n heerlike gesig van die Kruis van ons Here Jesus Christus en van sy effek op diegene wat sy werkinge verstaan. Jy kan hierdie profesie verstaan as jy in gedagte hou: koring – in die aarde – op die berg – veel vrug.

I.Die berg verteenwoordig “die heilige berg van Sy teenwoordigheid.”

“Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is...” (Psalm 24:3-4).

Van die heel begin af het God heilige mense geroep na die berg van Sy teenwoordigheid om te hoor vanuit die hemel en om gereed te maak vir ‘n groot, nuwe werk.

God het Abraham geroep na ‘n berg om hom te toets, om sy geestelike oë te toets en hom te bring tot intieme eenheid met Hom. Dit was daar waar Abraham die kennis gekry het van wie God was: “En Abraham het dié plek genoem: Die HERE sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: Op die berg van die HERE sal dit voorsien word” (Génesis 22:14). Hoe eenvoudig was die openbaring wat hy ontvang het – dat die geheime van God slegs in Sy heilige Teenwoordigheid geopenbaar word, aan gehoorsame dienaars wat gewillig is om alles wat vir hulle in die lewe dierbaar is onder die mes te neem.

Moses was deur God gelok na die berg Horeb, waar hy sy roeping ontvang het om Israel uit slawerny te lei. En elke keer wat God met sy volk wou praat, was Moses teruggelei na die berg van Sy heilige teenwoordigheid,

“Maar Moses het opgeklim na God toe, en die HERE het hom van die berg af toegeroep” (Exodus 19:3).

Dit was op die top van die berg waar die Here Moses die eerste keer ontmoet het, dit was op dieselfde hoogtes waar die Wet aan hom gegee was, en dit was daar waar God hom in die volle gemeenskap van die ewige lewe ingebring het. Moses het met God gewandel op die top van die berg. Hy het in die teenwoordigheid van die Here gelewe, op Sy heilige berg. En toe hy afgekom het om onder mense te werk, het sy gesig gestraal met die teenwoordigheid van God.

Johannes was deur die Gees gedra na ‘n groot en hoë berg om met God te kommunikeer en dit was daar waar hy ‘n heerlike gesig vir die kerk van die laaste dae gegee is. Johannes het gesê,

“En hy het my in die gees weggevoer op ’n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal; en dit het die heerlikheid van God gehad” (Openbaring 21:10,11).

Petrus was op die berg, in die teenwoordigheid van God, toe hy die stem van die Here gehoor het. “En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was” (2 Petrus 1:18).

Elia was op ‘n berg toe hy die sagte, rustige stem van God gehoor het en ‘n visioen van Sy heilige teenwoordigheid gesien het.

Hier is oorweldigende bewyse dat die mens die wêreld moet uitsluit en na die heilige berg van Sy teenwoordigheid moet gaan om van God te hoor. Petrus het van God gehoor toe hy “saam met Hom op die heilige berg was.”

Daardie bergtop is nie maklik om te bereik nie. Jy gaan deur die geheime binnekamer en jy bly daar, gewillig om alles op die spel te plaas om alleen in God se teenwoordigheid te wees tot jou siel aan die brand is. Dit word bereik deur elke dag terug te kom, hoër te gaan elke keer, oor klippe en afgronde van teëstand – en daar is geen omdraai totdat die piek bereik word nie. Niemand kom by die piek van God se teenwoordigheid uit met een uur stilte tye nie. Dit moet ‘n manier van lewe word. Die gemaklikes en luies kom nooit daar nie – dit is slegs vir die toegewydes en vasbeslotenes.

Die openbaring van Christus is te groot om ooit ten volle te verstaan. Maar diegene wat afgesonder is met God in gebed kry ‘n toenemende begrip van Christus soos die Heilige Gees Hom in die hart openbaar. Waar is die brandende bos openbaring? Waar word die krag van Jehova gemanifesteer? Waar is die plek van visie vir die kerk in hierdie laaste dae? Dit is op die bergtop van Sy teenwoordigheid. Dit is waarheen manne en vroue van God gaan wat so desperaat geword het om uit die hemel te hoor, dat hulle alle menslike aktiwiteite gestaak het om Sy aangesig te soek, en hulle weier om uit te kom om te bedien totdat hulle onder Sy goddelike gloed is.

II.God wil ons almal op die berg van Sy teenwoordigheid plant.

“En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer...” (Jesaja 2:3).

“Hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed” (Jesaja 56:7).

Die boodskap van die Heilige Gees vir alle kinders van God vandag is, “Kom terug na die Berg – kom terug na Sy heilige teenwoordigheid.” Talle hoor nou daardie oproep en maak tyd vir gebed en om God te soek. Ander gaan voort met hulle selfsugtige weë, te besig met koninkryk details as om die heilige berg te klim.

Jesaja het beide die heerlikheid van ‘n opgewekte bediening en die tragedie van blinde wagte wat slaap, gesien. Terwyl sommige wagte hulleself wakker geskud en teruggegaan het na die berg van God om ‘n vars woord uit die hemel te hoor, sal ander verlore wees te midde van die dwaasheid en stomheid van eindelose aktiwiteite en selfbevordering.

“Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer. En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie; en herders is hulle wat nie weet om op te merk nie; almal loop hulle eie pad, elkeen na sy onregverdige wins, almal saam” (Jesaja 56:10,11).

Jesaja het gesê hulle het so geword, so selfgesentreerd en behep met die werke van hulle eie hande, slegs geïnteresseerd in wat hulle self doen, geestelik dood – omdat hulle “die HERE verlaat, wat my heilige berg vergeet” (Jesaja 65:11).

Bedienaars van God – ons moet liewer luister na die waarskuwing van die profeet Jesaja. Hy het gewaarsku, “Die Here HERE...sy knegte sal Hy noem met ’n ander naam” (Jesaja 65:15). Hy sal almal wat weier om terug te keer na die binnekamer verbrand en neerwerp en Hy sal ‘n nuwe volk oprig.

Die Gees rig ‘n leër van “bergmense” op, wat tyd met God alleen sal deurbring, afgesonder in Sy heilige teenwoordigheid, terwyl hulle eet en drink, Sy stem hoor, nuwe visie kry en terugkeer met blydskap om te verlos dié wat “skreeu van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees” (Jesaja 65:13,14). O, ja!

Hulle sal terugkeer – met krag en heerskappy.

God se hart moet sekerlik bly wees oor diegene wat hulleself aan vas en gebed toewy en tyd in Sy teenwoordigheid deurbring. Hoe bedroef moet Hy egter wees by die aanskoue van soveel biddelose, onheilige, selfgesentreerde bedienaars wat min of geen tyd het om alleen saam met Hom te wees nie.

Ek ontmoet sommige van hierdie besige bedienaars in my reise en dit breek ook my hart. Nie dat ek een stap voor hulle in geestelike volwassenheid is nie, maar wat aan die gebeur is, is so duidelik vir gemeentes, dat iets gedoen moet word. En God is op die punt om dit te doen!

Die oorlede Austin Sparks het geskryf: “O die verskriklike vertoon van menslike vlees in die koninkryk van goddelike dinge! O, die reputasies gemaak in die koninkryk wat van God is! O, hoe mense hulle daarin verlustig om ‘n posisie in die kerk te hê!” Hy het bygevoeg, “Daar is nou twee klasse Christene in die kerk. Diegene wat Christelike aktiwiteite so georganiseer het dat dit alles ‘n saak van geweldige bedrywigheid is om te onderhou met dryfkrag en sy eie momentum: daar word aangeneem onophoudelike aktiwiteit is vanself lewe en krag: met die gevolg dat daar min tyd of belangstelling in die kwessie van geestelike diepte is.

“Dryfveer en ambisie vir God ry wild en wakker bo-oor stille wag op die Here. Hulle is so betrokke, toegewyd, gedrewe – dat die ongejaagde rustige, sagte stem van die Gees geen kans het om gehoor te word nie. Hulle vuur en ywer vir Christus het nie onder die vlammende oog van sy teenwoordigheid gekom nie.

“Die ander klas bestaan uit diegene wat so vas in tradisie en onwrikbaar in leerstelling en praktyk is, dat hulle dit amper onmoontlik maak vir die Heilige Gees om hulle te lei in ‘n volle openbaring van Christus.”

Jesus was so besig soos enige hedendaagse prediker of evangelis. Hy het duisende bedien en was beskikbaar vir almal van hulle. Tog het Hy tyd gemaak om al die bedrywigheid te laat staan en alleen op die berg by Sy Vader te wees.

“En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen” (Matthéüs 14:23).

En jy sê vir my, liewe bedienaarsvriend, jy het nie tyd om van dit alles af weg te stap en alleen by God uit te kom nie. Maar jy moet wegkom! Weg van die mense! Vir ‘n rukkie, selfs weg van familie af! Sonder jou af, alleen met God en hoor weereens uit die hemel, of word oorgelaat aan jou eie planne. Christene, die profete waarsku dat swaarkry en ellende die harte van diegene, wat die Berg Sion verlaat, sal verswak. Ons moet uitroep, “Bring ons terug, o Here: bekeer ons, gee ons ‘n hart om weereens te vas en te bid. Maak ons voorbidders – openbaar Uself aan ons.”

Dit is op die berg, waar Eségiël gesê het, dat die sonde van jou hart aan jou geopenbaar sal word en jy nederig gemaak sal word. “Daar sal... julle sal vir julself walglik wees vanweë al jul slegte dinge wat julle gedoen het...en Ek sal My in julle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies” (Eségiël 20:41-43).

Geliefde, ons Here gaan vernedering en die onromantisering van bedienaars en evangeliste vereis. Alle belangrikheid van self moet weg. Die koringkorrel moet sterf, Hy moet ons terugbring na Sy berg om alles wat van self is – ons reputasies, ons eie waardigheid en alle begeerte na erkenning – af te breek. Hy moet ons heilig maak voor die oë van die wêreld.

Sy louterende vuur gaan nuwe en goddelike beginsels in ons wakker maak. Ons was te lank dood vir die goddelike beginsels wat nodig is om die kerk van chaos te red. Die Here sal nie langer tevrede wees met ‘n algemene goedheid in Sy huis nie; Hy soek nou die vuur van heiligheid in die hart.

Die enigste kriteria vir God se voortdurende seën op enige bedienaar of bediening is die tasbare teenwoordigheid van Jesus Christus.

Die meeste van ons het begin met God op die heilige berg. Ons het ons in Sy teenwoordigheid verheug en was vrugbaar. Maar die sake van hierdie lewe het binnegekom, ons weggetrek van daardie teenwoordigheid en ons droog en onvervuld gelaat. Ons het van die berg afgekom om bloot te bestaan in die vallei van depressie.

Die meeste bedienings het begin as ‘n handjievol koring, in die aarde, op die berg.

Dit was ‘n klein begin en sy stigter was een wat, soos Paulus, daagliks gesterf het. Die teenwoordigheid van die Here was belangriker as die werk self. Baie tyd was alleen saam met God deurgebring in die binnekamer. Leiding het meestal gekom deur die stem van God in gebed te hoor. Dit was gebore in gebed, vas, nederigheid en geloof.

Maar nou, as die vrug van die Líbanon die heuwels en al die valleie vul, en die olie en die wynvatte vol is en oorloop – en almal ryk is, besittings vermeerder en niks meer nodig is nie – dan kom verveeldheid, rusteloosheid en droogheid. Die berg van Sy teenwoordigheid word geïgnoreer en die bediening wat begin het as ‘n klein handjievol koring op die berg, verloor sy rede om te lewe.

‘n Bediening mag ‘n geskiedenis hê van toewyding aan God, en kan ‘n ware uitdrukking wees van Sy genade en krag, maar God is nog steeds nie verplig om dit te bewaar as dit nie langer ‘n instrument van Sy tasbare teenwoordigheid is nie. God het baie werke opgerig wat later uit Sy goddelike doel beweeg het. Die Here het die kandelaar van sy teenwoordigheid verwyder uit die kerke van Johannes se Openbaring weens ‘n verlies aan vars liefde vir Hom. God sal nie ‘n abstrakte voorstelling van sy heiligheid ondersteun nie. As die man op die top nie met God afgesonder is en energie uit sy tasbare teenwoordigheid trek nie, is daardie bediening ‘n teenstrydigheid in sy wese, en kan nie voortgaan as die instrument van God om Sy boodskap aan die wêreld te bring nie. Hoe belangrik is dit tog dat alle bedienings en leiers terugkeer na eerste liefde, intense gebed en vas.

III.Ons moet almal terugkeer na God se teenwoordigheid of verval in sedelike agteruitgang.

“Die koring is verwoes...graankorrels het weggekrimp...die koring het verdor” (Joël 1:10,17).

Joël het die sedelike verval van diegene, wat Berg Sion verlaat het, vooruit gesien. Verrottende sade spreek van sedelike verval, ‘n gees van verdorwenheid. Wanneer die saad nie sterf nie, verrot dit. As ons weier om te sterf vir sonde deur die krag van die Kruis, sal dit ons in ‘n toestand van progressiewe onsedelikheid laat.

Ek vind dit walglik om in charismatiese aanbiddingsdienste te sit waar honderde mense hulle stemme luid ophef met lofprysing, gedans en geskreeu in die Naam van die Here – net om uit te vind dat baie van hulle tydens my gebed ná die tyd bely dat hulle hartseer, verslae en verslaaf is aan die krag van ‘n geheime begeerte. Te midde van ‘n herlewing van uitbundige lofprysing, is daar steeds ‘n passiewe gesindheid teenoor sonde, ‘n aanvaarding van kompromie, ‘n toegee aan ‘n lewe sonder oorwinning en sonder totale heerskappy oor die kwaad. Te veel heiliges staan op om God te loof en te prys, maar staan nie op om gesag te neem oor Satan en die goddelose begeertes wat hulle steeds bind nie.

Ons word meer onsedelik hoe langer ons uit Sy teenwoordigheid is. Ons kan so besig raak met die eise wat op ons tyd gemaak word, dat ons afvallig word. Ons verloor ons blydskap, ons word geïrriteerd en rusteloos en verloor ons sin van rigting – omdat ons ons afspraak uitstel om terug te keer na die binnekamer en vernuwe te word met ons Here se heerlike teenwoordigheid. Satan sal poog om ons te verswak deur ons van die Here se heilige berg af weg te hou.

Tensy ons almal gou terugkeer na die berg en in Sy heerlikheid en teenwoordigheid kom, sal ons meer ongehoorsaam en sondiger word. Die ergste van alles, ons sal gestroop word van alle geleenthede om vrugbaar te wees in God se werk. En wanneer ons onvrugbaar en uit Sy teenwoordigheid is, kan Satan ons makliker oortuig ons is verlore, of nutteloos.

Die kerk en die bediening vandag kort ‘n ware innerlike openbaring van Jesus Christus. Ons is gefokus op ons werk, eerder as op Christus. Ons verkondig amper alles behalwe Hom. Ons verkondig die waarheid, sonder lewe. Wanneer Christus waarlik geopenbaar is in die hart, word alle belange verander en gereinig. Die man of vrou van God wat tyd deurbring op God se heilige heuwel, sal begin besef, soos almal wat hulle afsonder met Christus – dat geen bediening, geen kerk, geen gemeenskap die reg het om voor God te bestaan nie, behalwe as dit ‘n ware uitdrukking is van Christus se teenwoordigheid op aarde. Ons het ook nie ‘n reg om onsself Christene te noem as ons weier om elke dag tyd in sy heilige teenwoordigheid deur te bring en nie net ‘n nuwe openbaring nie, maar ‘n volle openbaring van Christus soek nie. Andersins, is dit een of ander “ding” waaraan ons toegewyd is – een of ander werk vir God – ‘n getuienis – eerder as aan Christus self. Dit is omdat Christus te swak gedefinieer is dat so baie Christene nie kom by ‘n vaste plek in Hom nie. Hulle is geëvangeliseer, maar nie geleer om te bly in die teenwoordigheid van Jesus totdat hulle Heerskappy Heiliges word nie. Ons is toegewy aan die idee van geloof, maar nie aan die gebed en Bybelstudie wat geloof produseer nie.

Geen wonder so baie skei nie. Geen wonder so baie word deur elke wind van lering en golf van valse doktriene rondgewaai nie. Geen wonder daar is soveel onsedelikheid en selfvoldaanheid onder God se kinders – soveel hartseer – soveel wanhoop nie. Ons het onsself die kennis en openbaring van wie Christus werklik is ontneem, bloot deur nie eenkant te gaan staan en te luister nie. Ons het Christus binne-in ons as ‘n loseerder, maar Sy krag en heerskappy is onbekend aan ons. Hoe desperaat moet ons ‘n nuwe onthulling van Christus in ons innerlike mens kry.

Hier is die res van die profesie van Psalm 72 aangaande wat God sal doen vir diegene wat terugkeer an die berg van Sy teenwoordigheid.

Hy sal die heerlikheid van Sy vrede openbaar. “Die berge sal vrede dra vir die volk, en die heuwels, deur geregtigheid...” (Psalm 72:3).

Hy sal op ons siele neerdaal soos sagte reën op nuutgesnyde gras en alle droogheid wegneem. “Hy sal neerdaal soos reën op die grasveld, soos buie — ’n swaar reën op die aarde...” (Psalm 72:6).

Hy sal ons bemagtig om heerskappy te neem oor al die magte van duisternis.

“En hy sal heers van see tot see... en sy vyande sal die stof lek...” (Psalm 72:8,9).

Hy sal ons verlos van drukkende nood en fisieke laste.

“Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie...” (Psalm 72:12).

In Sy teenwoordigheid sal ons sterf aan self, en opgewek word in nuwigheid om vrugbaar en bly te wees! “Versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig” (Psalm 16:11).

“En Ek sal julle verlos van al jul onreinhede; en Ek sal roep na die koring en dit vermenigvuldig, en Ek sal geen hongersnood op julle lê nie... En Ek sal die vrugte van die bome en die opbrings van die veld vermenigvuldig...” (Eségiël 36:29,30).

“Ek sal hulle afkerigheid genees... Sy lote sal uitsprei... sy geur soos die Líbanon...sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok” (Hoséa 14:5-8).

“Die lied sal by julle wees soos in die nag as die fees gevier word, en julle sal vrolik wees van hart soos die wat met die fluite loop, om te kom op die berg van die HERE, na die Steenrots van Israel..” (Jesaja 30:29).

“Stuur u lig en u waarheid; laat dié my lei; laat dié my bring na u heilige berg en na u woninge, dat ek kan ingaan na die altaar van God...my jubelende blydskap...” (Psalm 43:3,4).

Daarom dan, broers en susters in Christus – vlug soos Lot wat moes “Vlug na die gebergte, dat jy nie omkom nie,” van hierdie goddelose wêreld af weg (Génesis 19:17). Vlug na daardie hoë Rots, wat Christus is. Die banier is opgelig op die berg en roep al God se uitverkorenes na ‘n feesmaal van goeie dinge in Sy teenwoordigheid. Moenie dit, wat God op die punt is om te doen, misloop nie. Die sluier kom af en ‘n heerlike openbaring van Christus is naby.

“En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn...En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier...Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem...Want die hand van die HERE sal rus op hierdie berg...” (Jesaja 25:6-11).

Wat het gestroop die skybare prag

Van die afgode van die aarde?

Nie ‘n sin van reg of plig,

Maar die gesig van Sy ongeëwenaarde waarde.

 

Nie die verplettering van daardie afgode,

Met sy bittere leemte en smart:

Maar die straling van Sy prag

Die onthulling van Sy hart.

 

Dis daardie kyk wat Petrus vermurwe het,

Dis daardie gesig wat Stéfanus aanskou het,

Dis daardie hart wat saam met Maria geween het,

Dit alleen kan ons van afgode wegvat –

 

Wegvat en oorwin en heeltemal vul,

Tot die beker heeltemal oorloop;

Wat het ons te doen met afgode

Ons wat met Hom saamloop?

 

Anoniem

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE