Die Kosbare Bloed en die Magtige Hand | World Challenge

Die Kosbare Bloed en die Magtige Hand

David WilkersonMay 1, 2018

Dit is die nag van die Pasga. Die Jode is toegesluit in hulle huise, want God het gewaarsku dat dood oor Egipte kom hierdie nag! Die bloed van ‘n vlekkelose lam is besprinkel op die deurkosyn van elke huis, volgens die Here se bevel. “Maar die bloed sal vir julle ’n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie” (Exodus 12:13). Verder was hulle belowe, dan “sal die HERE by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om in julle huise in te gaan om te slaan nie” (Exodus 12:23).

Beskou twee huishoudings langs mekaar. In die eerste een, sit die familie hurkend langs die paaslam, met die ongesuurde brood en die bitter kruie. Almal is verskrik, asvaal en bewend. Die vader en moeder kyk na mekaar en dan na hulle eersgebore seun. Die vader gryp hom in sy liefdevolle arms vas en roep, “Bid, gesin, bid! Miskien het ons op een of ander manier God bedroef... die doodsengel sal dalk nie by ons verbygaan nie!” Vir ure het hulle in vrees gehurk en nie die lam geniet nie, omdat hulle die skadu van die dood vrees. ‘n Oorweldigende gevoel van onsekerheid het hierdie huis gevul.

In die huis reg langsaam, nuttig ‘n gesin vreugdevol die lam, opgewonde om Egipte te verlaat. Daar is ‘n onmiskenbare gevoel van veiligheid daar. Die vader kyk na die nuuskierige oë van sy eersgebore seun en sê, “Veilig! Almal van ons! Onthou die bloed? Het God nie gesê Hy sal nie toelaat dat die verderwer die huis binnekom nie? Wees gerus – alles gaan goed – ons is veilig onder die bloed van hierdie lam.”

Watter huis dink jy was veiliger daardie nag? Watter familie was meer beskerm? Die antwoord is: Hulle albei was veilig! Hulle was ewe beskerm – omdat albei onder die bloed was.

God was nie van plan om verlossing toe te vertrou aan gevoelens of vrese nie – of selfs nie aan enige inherente vroomheid – van die Jode nie. Hulle werk was om die bloed van die lam aan hulle woonplekke te smeer en God se belofte te glo dat dit die mag gehad het om hulle veilig te hou. Hulle het nog nie eers by die Rooi See aangekom nie, toe God Moses en die hele Israel bestraf het. “Dink aan hierdie dag waarop julle uit Egipte, uit die slawehuis, uitgegaan het; want die HERE het julle deur ’n sterke hand hiervandaan uitgelei” (Exodus 13:3).

Die verlossing van Israel uit Egipte is ‘n duidelike tipe van ons verlossing uit sonde en slawerny. Die meeste van ons weet dit. Die Skrif maak dit baie duidelik: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). “As ‘n waarskuwing aan ons” beteken dat ons in hulle stryd ‘n skaduwee van ons huidige stryd met self en sonde kan sien. Hulle Egipte is ons goddelose wêreld.

Hulle slawerny aan die Egiptenaars is ‘n tipe van ons slawerny aan begeertes en sonde. Hulle huis is ons tempel van die Heilige Gees; hulle lam, ons Christus. Die bloed van die vlekkelose lam is ‘n tipe van die bloed van ons vlekkelose Verlosser.

Ons kan baie leer oor ons eie verlossing uit sonde se mag deur die Israeliete se verlossing uit die slawerny in Egipte te bestudeer. Laat my vir jou drie wonderlike lesse leer wat min Christene geleer het.

I. Die bloed het Israel onthef van oordeel!

“Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge...te tref...sal Ek afreken. Ek is die Here!” (Exodus 12:12). Toe kom die groot belofte aan Sy kinders: “Maar...as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees...nie” (Exodus 12:13).

Dit was oordeelsdag vir Egipte! En dit het skielik toegeslaan op die middernaguur. Hoe skrikwekkend, dood oral. Watter geween en gekerm en gekners van tande kon dwarsdeur Egipte gehoor word daardie nag, “want daar was geen huis waar geen dooie in was nie” (Exodus 12:30).

Tog het dieselfde middernaguur van oordeel nie een Joodse huis getref nie. God se kinders was volkome, veilig uit die pad van die oordeel. Hoewel sommige nie die waarheid daarvan geniet of toegeëien nie, was hulle steeds veilig – weg van God se oordeel af deur die bloed.

Ja, gehoorsaamheid was betrokke, maar dit was die bloed alleen wat die Israeliete van oordeel bewaar het. Dit was sekerlik nie enige inherente goedheid nie. Hulle gepakte tasse het Egiptiese gode ingesluit. Hulle was ‘n onwaardige, afvallige, aardsdenkende, wedersprekende, ongehoorsame volk. Trouens, as God vir húlle moes gewag het om al hulle afgode prys te gee, berou te toon en hulle te bekeer van hulle goddelose weë, sou hulle nooit verlos kon word nie! Hulle sou almal in slawerny gesterf het.

Hulle verlossing was heeltemal buite hulleself – buite enige goedheid of getrouheid van hulle kant af. God moes sekerlik geweet het dat dieselfde mense binnekort rondom ‘n goue kalf sou dans, dronk, sensueel en ondankbaar. Steeds het Hy hulle liefgehad. Steeds het Hy gekies om hulle te verlos. Steeds het Hy hulle beskerm onder die bloed. Dawid het gesê dit was omdat “U ‘n welbehae in hulle gehad het” (Psalm 44:3). Hier was God wat verlang het om ‘n volk na Sy eie hart te neem en Sy krag en heerlikheid aan hulle te openbaar, om ‘n heilige, gewyde liggaam op te rig. Dit was alles uit barmhartigheid en genade!

Die Woord leer ons baie dinge oor die bloed van die lam, maar die eerste les om te leer, is dat dit die kind van God teen oordeel beskerm. Israel sou binnekort ‘n woestyntabernakel hê met sy baie offerhandes. Daar sou die vergieting van bloed wees vir sonde. Daar sou ‘n dag van versoening wees. Maar die eerste les vir Israel en vir ons is duidelik –

Die gelowige is heeltemal veilig van oordeel onder die bloed.

Ja, die bloed van Christus reinig ons van alle sonde. Ja, die bloed was ons versoening. Maar die belangrikste van alles, dit is ons sekuriteit. Dit is God se manier om vir Homself ‘n volk wat gereed is vir ‘n volle verlossing te verseker. Onthou, op die nag van die Pasga was die Israeliete veilig, maar nog nie verlos nie. Hulle moes steeds ‘n Rooi See, ‘n woestyn, oorlog teen reuse, hoë mure en vyandige vestings trotseer.

Ek is oortuig dat voor ek kan baklei teen owerhede en magte, voor ek begeertes en versoekings (ons hedendaagse reuse) kan weerstaan – moet ek weet dat ek veilig is onder die bloed! Hoewel ek nog nie volkome verlos is nie, is ek nie in die oordeel nie. Die vleeslike vyande lê voor, maar die bloed het my ‘n “veilige soldaat” gemaak.

Luister na hierdie woord: Jy kan nie teen reuse veg, vestings neerwerp, of teen ‘n oormag stry nie, tensy daar ‘n versekering is van absolute beskerming onder die bloed. Dit maak nie saak wat my hart sê nie, maak nie saak hoe skuldig of veroordeel ek voel nie, maak nie saak watter klein stemmetjie mag fluister nie – ek moet sonder twyfel weet dat ek veilig is! Ek gaan nie oordeel toe nie! Die bloed op die deur van my hart beskerm my in Sy oë.

Ek twyfel of daar vandag ‘n handvol gelowiges is wat rus in die sekuriteit van Christus se gestorte bloed. Hoe tragies! Die meeste van ons kan nie glo dat God ‘n volk so onwaardig, so geneig om ongehoorsaam te wees, so geestelik uitgeput deur die gees van die eeu, sou beskerm nie. Ons weier om sulke wonderlike liefde en genade te erken; ons sou liewer ons sekuriteit en verlossing verdien.

Ons bevraagteken altyd ons veiligheid. As God ons sekuriteit op ons liefde vir Hom of op persoonlike goedheid sou moes baseer, sou ons in groter gevaar wees as diegene wat die Wet gebreek het, want onder genade is daar ‘n hoër aanspraak. God moet sekuriteit uit ons hande neem, sodat dit staan op suiwer barmhartigheid en genade van Hom alleen. Nie ons toewyding, of ons gehoorsaamheid, of ons goedheid nie – maar slegs op Sy barmhartigheid. Gehoorsaamheid en toewyding – is die gevolg van ons liefde vir Christus.

Dit was nie ongesuurde brood wat die kinders van Israel gered het nie, maar die bloed. Nie een Israeliet het “in en uit” beskerming beweeg deur een of ander persoonlike fout nie. Hulle was almal veilig totdat oordeel verbygegaan het.

Ek verkondig nie ewige sekuriteit nie. Ek glo dit is moontlik om die bloed te verag – om dit te vertrap – en verlore te gaan. Die bloed moet gerespekteer, vertrou en toegeëien word. Daar is diegene wat dit vertrou; ander wat dit vertrap. Christene wat die bloed misbruik, maak hulleself oop vir allerhande soorte demoniese aktiwiteit.

Maar God het nooit bedoel dat Sy kinders onder vrees, angs of skuldgevoelens lewe nie. Hy het vir hulle ‘n rus voorberei – die volmaakte, absolute sekuriteit van die bloed van Sy eie dierbare Seun. Nie deur werke nie, maar deur die kosbare bloed! Deur Sy genadige daad, het God in wese vir Israel gesê, “Nou dat jy sien Ek het jou bewaar en jou weggeneem van vrees of oordeel, laat My jou liggaamlik verlos. Ek het jou beskerm om jou heilig te maak.”

John Wesley en George Whitefield het geargumenteer oor die vraag van of die Christen werk uit sekuriteit of na sekuriteit. Laat ons kyk na ons voorbeeld. Israel het vanuit sekuriteit gewerk. Dit is asof die Here vir ons sê, “Nou dat jy veilig is deur die bloed, laat die Heilige Gees jou bring tot by ‘n volle en heerlike verlossing van al jou vleeslike vyande.”

Die onveranderlike feit is, nie een ding kan bygevoeg word by Christus se bloed om ons veiliger te maak nie! Die bloed bewaar ons volkome, maak ons aanvaarbaar vir God en red ons van die toorn. Die Apostel Paulus sê, “Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn” (Romeine 5:9). Glo jy, jy is gered van toorn deur Sy gestorte bloed alleen? Of moet jy iets by Sy bloed byvoeg om jou veiligheid meer te verseker? Werke? Die Wet? Boetedoening?

Hoe durf ons vir ‘n oomblik dink dat God ons sekuriteit sou toevertrou aan die hande van ons eie vlees! Tog hou ons aan probeer om by die bloed by te voeg. Die bloed plus dissipelskap. Die bloed plus selfverloëning. Die bloed plus gehoorsaamheid. Die bloed plus die doodmaak van die vlees. Die bloed plus gevoelens van heiligheid. En so aan. Nee! ‘n Duisend keer Nee! Niks moet bygevoeg word nie.

Die bloed alleen kan ons bewaar van toorn en oordeel. Dit verlos ons. In teologie, beteken verlossing “red van sonde en sy straf.” God se Woord sê, “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Efésiërs 1:7). Hoe word ons beskerm van die straf van sonde? Nie deur enigiets wat ons nie gedoen het nie, maar as gevolg van Sy genade.

Dit is die begeerte van God se hart om baie kinders in die hemel te hê (Hebreërs 2:10). Ons liefdevolle Here is nie uit op veroordeling, toorn of oordeel nie. Net die teenoorgestelde – Hy bied verlossing van die toorn en oordeel. Die bloed is nie ‘n daad om ‘n woedende God te paai nie, maar ‘n getuienis van Sy liefde vir ‘n verlore mensdom. Dit is die gawe van ‘n liefdevolle Vader wie se hart smag na al Sy verlore kinders. “Want so lief het God...dat Hy sy eniggebore Seun gegee het....”

As jy beskerm word deur Sy bloed, is dit vir jou net so onmoontlik om meer geoordeel te word deur die toorn, as wat dit vir Christus is om so geoordeel te word deur die Vader. Jy is veilig en aanvaar deur God – soos ook Christus, Sy eie Seun. Deur die bloed, word ons aanvaar – goedgekeur in die Geliefde.

Christus se bloed het God se hart volkome tevrede gestel met betrekking tot ons sondes, en die misdaad weggeneem en ons met die Vader versoen. As jy die effektiwiteit van Sy bloed betwyfel, beskou die volgende: Is dit belangriker om te kyk na die bloed soos jou eie nietige oë dit sien – of soos God die Almagtige dit sien? God sien in die bloed van Sy Seun ‘n volkome verwydering van alles wat oordeel vereis. In Sy oë, is die werk van Christus ‘n volmaakte werk van verlossing van dit wat oordeel verdien. God het nie gesê, “Wanneer jý die bloed sien” nie – maar, “Wanneer Ék die bloed sien.”

As God dan tevrede is – behoort ons ook tevrede te wees. As God sê die bloed doen alles wat nodig is om ons te beskerm, behoort ons daarin te rus. Dit is alles deur geloof alleen – geloof in Sy bloed! “En hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God” (Romeine 3:24,25).

Laat my hart my maar veroordeel! Laat die demoniese magte maar woed! Laat die gewete maar beskuldig of vryspreek! Laat die nasies maar verwoesting oor hierdie aarde bring! Laat alles maar skud wat geskud kan word! Ek is veilig en beskerm onder die bloed van Jesus Christus my Here. Wat ‘n vreugde om op Christus, die Lam te voed, in volmaakte veiligheid. Geseënde gedagte: as God verby die bloed van ‘n blote lam gegaan het, sal Hy nie baie eerder verby die bloed van sy eie dierbare Seun gaan nie? As God nie oor die bloedlyn sou gaan nie, sal Hy toelaat dat duiwels daardie lyn kruis? Ek dink nie so nie.

II. Die Israeliete was verlos uit Egipte se Mag deur die magtige hand van God.

Ons praat nie nou van sekuriteit nie, maar van verlossing. “En dit moet vir jou as ’n teken wees op jou hand en ’n gedenkteken tussen jou oë, sodat die wet van die HERE in jou mond mag wees; want deur ’n sterke hand het die HERE jou uit Egipte uitgelei” (Exodus 13:9). “En as jou seun jou later vra en sê: Wat beteken dit? dan moet jy hom antwoord: Die HERE het ons deur ’n sterke hand uit Egipte, uit die slawehuis, uitgelei” (Exodus 13:14). “U self het met u hand nasies verdrywe, maar húlle geplant; U het volke kwaad aangedoen, hulle daarenteen laat uitspruit. Want hulle het die land nie deur hul swaard in besit geneem nie, en hul arm het hulle nie die oorwinning gegee nie, maar u regterhand en u arm en die lig van u aangesig, omdat U ’n welbehae in hulle gehad het. U self is my Koning, o God! Gebied die oorwinninge van Jakob. Deur U sal ons ons teëstanders omstoot; in u Naam sal ons hulle vertrap wat teen ons opstaan. Want ek vertrou nie op my boog nie, en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie” (Psalm 44:3-7).

Sommige Christene het ‘n sin van vergewe en veilig wees, maar hulle het ‘n gebrek aan ‘n sin van mag teen die vlees. Hulle het nie die “volkome verlossing” van hulle bose natuur geleer ken nie. Christen, weet dat deur Sy bloed beskerm Hy ons, en dan deur Sy magtige hand, breek Hy die mag van sonde in ons. Sonde bly steeds – maar dit heers nie!

Wat ‘n ontsaglike bemoedigende woord in hierdie dae van ontnugtering en bomenslike pogings om vry te wees van sonde se mag. “Verlos van slawerny...deur die krag van sy hand.” Tog is ons so huiwerig om die werk van God se hand te erken. Dit druis in teen ons trots, ons sin van geregtigheid en ons teologie, om die waarheid te aanvaar dat ons verlossing van sonde se heerskappy van ‘n mag buite onsself kom. Maar kyk na ons voorbeeld: Israel het gewapen uitgegaan, maar die stryd was die Here s’n “Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee” (1 Samuel 17:47). Dit is opgeteken in Exodus dat “Daarop sê Jónatan: Kyk, ons sal na die manne toe oorgaan en ons aan hulle vertoon” (Exodus 14:8). En nadat hulle veilig deur die Rooi See gegaan het, het hulle hierdie lied gesing.

“o HERE, u regterhand is verheerlik deur krag. U regterhand, o HERE, verpletter die vyand” (Exodus 15:6).

Die bloed het Israel bewaar teen godddelike oordeel, maar die hoë hand van God het hulle verlos van die mag van die vlees. Hulle het die sekuriteit beleef en daaroor gejuig; nou het hulle krag nodig gehad! Krag om vir eens en vir altyd van die ou vyand ontslae te raak, krag om hulle te bewapen teen al die nuwe vyande wat hulle sal teëkom. Daardie krag is in die Here se hoë en magtige hand.

God het maar net een gebod vir Israel gegee oor hulle vyande: “Verdryf hulle!” Dan “moet julle al die bewoners van die land voor julle uit verdrywe en hulle beeldhouwerk verniel; ook moet julle al hulle gegote beelde verniel en al hulle hoogtes verwoes. Maar as julle die bewoners van die land nie voor julle uit verdrywe nie, sal die wat julle van hulle laat oorbly, soos dorings in julle oë wees en soos angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waar julle in woon” (Numeri 33:52,55).

Wat is die Arabiese moskee wat in Jerusalem staan vandag? Dit is ‘n doring in die vlees van die Jode, ‘n steek in hulle oë. Die Jode ween steeds daaroor. Dit het sy oorsprong in die ongehoorsaamheid van Israel. “En die kinders van Benjamin het die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, nie verdrywe nie, sodat die Jebusiete saam met die kinders van Benjamin in Jerusalem woon tot vandag toe” (Rigters 1:21).

Juda het eens die Jebusiete verslaan, maar hulle het beheer teruggekry. Die oorwinning wat eens verkry is, was nie gehandhaaf nie, die kanker was nie heeltemal verwyder nie. Die Jebusiete was nie-Semities, en hulle naam in Hebreeus dui op, “platgetrap, onsedelik.” Jerusalem was op daardie stadium bekend as Jebus, “’n vreemde stad waar nie van die kinders van Israel is nie” (Rigters 19:12). Dit is steeds ‘n stad waarin vreemdelinge saamwoon, nie van die die kinders van Israel nie. Selfs ná Dawid se inname van Jebus en die oprig van Sion, is ‘n oorblyfsel van die onsedelike Jebusiete in die kultuur van Juda opgeneem.

Daar is ‘n les wat die Israeliete nog nie geleer nie: Ons sal nooit oorwinning oor die vlees kry totdat ons God se haat daarvoor deel nie. Israel het nooit God se haat vir hulle verskriklike vyande gedeel nie. Hulle het aangehou om die vyand hier en daar te spaar, vrede met hulle te maak en dwaaslik verbonde en ooreenkomste met hulle gesluit.

Hulle is ‘n belofte gegee van ‘n volkome en alghele verlossing in ‘n plek van rus, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. “En omdat Hy jou vaders liefgehad en hulle nageslag na hulle uitverkies het, en Hy self jou deur sy grote krag uit Egipte uitgelei het, om nasies groter en magtiger as jy voor jou uit te verdrywe en jou in te bring om hulle land aan jou as erfenis te gee soos dit vandag is” (Deuteronómium 4:37-38).

Ons is groot en kosbare beloftes gegee wat dié wat aan Israel gegee is, oortref. God het belowe om ons te verlos van alle onheil en ons in hemelse plekke saam met Christus Jesus. Ons is vryheid van die heerskappy van sonde belowe.

Maar eers moet ons leer om sonde te haat. Ons moet die Gees hoor sê, “Spaar dit nie! Dit moet uitgedryf word!” Ons moet nooit leer om in vrede saam te lewe met ‘n vyand van die vlees nie. Geen ooreenkomste, geen kompromieë met ‘n ingegraafde vesting nie. Vertroetel jou sonde, speel daarmee, laat dit agterbly, weier om dit te vernietig – en eendag sal dit die pynvolste ding in jou lewe wees.

Jy hoef nie te bid vir oorwinning oor die sondes van die vlees nie, totdat jy ‘n haat daarvoor kweek nie. Die enigste manier om God te behaag, is om ons boesemsonde so erg te haat as Hy. Hy wil niks te doen hê met ons sogenaamde verskonings en paaiery nie. Is jy verslaaf aan ‘n boesemsonde? Veroorsaak dit onrus en angs, beide fisiek en geestelik? My vraag aan jou is –

Haat jy dit met ‘n passie? Voel jy God se heilige oordeel daarteen?

Todat jy dit doen, sal oorwinning nooit kom nie.

Maar wanneer jy God se toorn en haat vir jou sonde deel, wanneer jy werklik oortuig is dat jy beveel word om dit uit te dryf en nie te spaar nie – is jy gereed om die hoër hand van God aan te roep vir verlossende krag. “Verder het Josua aan die volk gesê: Heilig julle; want môre sal die HERE wonders onder julle doen. Verder het Josua gesê: Hieraan sal julle erken dat daar ’n lewende God tussen julle is, en dat Hy sekerlik die Kanaäniete en Hetiete en Hewiete en Feresiete en Girgasiete en Amoriete en Jebusiete voor julle uit sal verdrywe” (Josua 3:5,10).

Wie sal al die vyande uitdryf met ‘n wonderlike demonstrasie van krag? Hý sal! Sonder om te faal!

Dit klink na ‘n paradoks om te hoor God sê Hy sal die vyand vernietig, dat die stryd Syne is, dat Hy die vyand op die vlug sal laat slaan, nie met die mens se swaard en spies nie – en tog lees ons dat Israel soms bloedige handgemene oorloë teen hierdie vyande gevoer het. Jy sal onthou dat hoewel geloof en gehoorsaamheid die mure van Jerigo laat val het, moes die Israeliete die stad binnegaan met swaarde en spiese en die inwoners vernietig.

Dit is ‘n eeu-oue vraag: Wat is God se aandeel, en wat is my aandeel om volkome verlossing van die mag van sonde te kry? Daar is heelwat skrifte oor die mens se hand wat oorwinning kry. “Dan moet julle uit die hinderlaag opstaan en die stad inneem; want die HERE julle God sal dit in julle hand gee” (Josua 8:7). “En die HERE het vir Josua gesê: Steek die spies wat in jou hand is, na Ai toe uit, want Ek wil dit in jou hand gee. Daarop steek Josua die spies wat in sy hand was, na die stad uit” (Josua 8:18). Skrif na Skrif herhaal, “God sal dit in julle hand gee.” Dit beteken bloot dat God al hulle vyande aan hulle genade oorgegee het, onder hulle mag en gesag. God het eers die vyand van alle krag ontneem, dan Sy kinders gestuur om oorlog te voer teen ‘n reeds-verslane vyand!

‘n Onlangse nuusuitsending het honderde Iranse krygsgevangenes gewys wat in klein groepies saamgedrom het met hulle koppe tussen hulle knieë en vrees op al hulle gesigte. Onder hulle geledere, was belangrikse beamptes van die geestelike hiërargie van Khomeini. ‘n Irakese soldaat het vir ‘n CBS kamera geglimlag en geroem, “Hulle is ons vyande – verslane vyande!” Hulle was steeds vyande, maar gestroop van alle mag. Owerhede en magte, geestelike leiers in hoë plekke – die vyand – verslaan en ontwapen.

Dit bring my by een van die grootste lesse wat die Heilige Gees my geleer het: Ek is nie aan die genade van Satan – of begeertes – of sondes oorgelaat nie! Ek het geween toe ek die eerste keer hierdie waarheid gesien het.

Israel het hulle vyande gevrees, het selde God se krag toegeëien en het geweier om te rus in Sy belofte van verlossing. Hoe ongelooflik, hulle het immers Sy magtige hand aan die werk gesien! Maar keer op keer het hulle gevrees hulle was aan die genade van die vyand oorgelaat. Ons het nie veel verander nie. Hoeveel bloedbeskermde Christene lewe in vrees vir demone vandag; bang een of ander intense versoeking sal hulle afvallig maak; bang ‘n kragtige begeerte sal hulle laat skipbreuk ly; bang ‘n dominerende sonde sal hulle uiteindelik verdoem.

Geliefde, ek en jy – onder die magtige hand van God – is net so min aan die genade van ons siele se vyande oorgelaat as Israel aan haar vyande. Was daar een enkele uur waarop die kinders van God oorgelaat was aan die genade van hulle vyande – as hulle God vertrou het en in Sy lig gewandel het? Wanneer hulle gehoorsaam was, was daar ooit ‘n vyand te sterk vir God? Sonde het geen heerskappy oor die vertrouende, bekeerde gelowige nie. Ons hoef nie te vrees vir enige reus nie. Ons hoef nie met vrees weg te vlug van enigte begeerte of versoeking nie. Ons weerstaan die duiwel deur God se magtige hand. Hy alleen kan al die mag van ons begeertes en versoekings tap en dit moontlik maak vir ons om elke hulpelose vyand te verslaan.

Ons moet ons sondes haat – maar nooit hulle krag vrees nie. Ons moet ons vlees en al sy begeertes doodmaak, maar ons moet glo God het dit moontlik gemaak deur Sy wonderbaarlike ingryping, waardeur sonde swak gemaak is. Die stryd is steeds Syne. Ons vyand is allereerste, Syne. En God is soos enige liefdevolle vader wat ‘n seun wil opvoed deur hom op een of ander manier te help.

Dit was jare voor my seuntjies besef het dat hulle nie regtig hulle pa se kar bestuur het nie, alhoewel hulle hul hande op die stuurwiel gehad het en op my skoot gesit het. Daar was altyd my onsienlike hand op die wiel. As jy dit volkome kan glo, daar is ‘n magtige, onsienlik hand wat jou reeds oorwinning gegee het. Jou deel is om te doen wat Hy vir jou sê om te doen, en om te vertrou dat Sy magtige hand jou hand bemagtig soos wat dit die swaard swaai.

III. Christus is God se sterk arm, wat gekom het om te verlos!

“En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?... Hy tog het soos ’n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ’n wortel uit droë grond” (Jesaja 53:1-2). Christus is die magtige arm van die Here geopenbaar in ons! Ons moet onsself verneder en ons aan Hom onderwerp as ons verlosser: “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd” (1 Petrus 5:6).

“Verhoog” hier beteken om na ‘n hoër vlak opgelig te word. Dit is God se belofte om ons in die hemelse plekke te laat sit, bo alle owerhede en magte, bo die heerskappy van Satan en sy demoniese magte, bo al die woede van versoekings en welluste.

Ons faal om Christus te sien as ons magtige Owerste van die leërskare van die hemel, met ‘n magtige swaard in Sy hand, gestuur om ons te verlos van die mag van die vyand. Is “Christus in my” nie méér as een of ander goedaardige, bewonderende, ryk broer nie? ‘n Duisend keer Nee! “Christus in my” is ‘n almagtige Koning in volle krygsgewaad, gereed en gretig om my vyande teë te staan namens my. Hy het saam met Hom ontelbare waens van heilige yster, gedrewe deur magtige engele en gereed om my saak te verdedig. Die waens van die Here is baie – en hulle is myne!

As ons nie lewe in die opstandingslewe van algehele oorwinning in Christus nie, is dit omdat ons geen verhewe visie het van die Here se majestueuse krag en heerlikheid in ons nie! Soos Job, sit ons op ons ashope van nederlaag en vrees, en soek net genoeg genade om reg dood te gaan. En net omdat ons nie kan glo wat God vir ons gesê het aangaande Sy krag – in ons – nie!

“Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug” (2 Petrus 1:3). “En die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God. En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Efésiërs 3:19-20).

“Dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte” (Efésiërs 1:17-19).

Sê vir my, waarom is al hierdie krag van God in ons as dit nie verstaan moet word dat Sy magtige hand tot ons beskikking is teen ons geestelike vyande nie? Dit is óf waar dat Hy ons al die mag gegee het om die vlees te oorwin en te wandel in die glorieryke en heerlike en goddelikheid – of God se woord is ‘n leuen! En God kan nie lieg nie.

Paulus het gesê Christus was in hom, eerder as aan hom geopenbaar. En waar Christus geopenbaar is in jou, sal dit ‘n heerlike openbaring wees van Sy krag, Sy oorwinning oor al die magte van die bose, asook Sy verbintenis om al daardie krag te gebruik om jou te red en te bewaar.

As God se Woord sê “Christus in my”, neem ek aan dit beteken God plaas Sy vuis in my. En soos Hy in die wêreld is, so is ek – sterk in die Here. In staat om alles te doen “deur Christus wat my krag gee.” Met ander woorde, Christus het die Here se sterk hand in my geword!

Ek ag myself om alles te wees wat God sê ek is –

Dood vir die sonde – die vlees – die wêreld

Verlos van die mag van sonde

Rein deur Sy Woord

Aangeneem in die Geliefde

Lewend tot God in die Gees

Meer as ‘n oorwinnaar

Veilig nou en deur die ewigheid heen

Bewaar deur Sy krag

Foutloos voor die troon

Opgestaan met Christus aan die regterhand van God

Christus kom haal my nie soos ‘n dief nie. Dit is die oogpunt van ‘n Sardis kerk! Hy kom my haal as my Geliefde – as die Blydskap van my hart. Ons moenie Sy koms vrees nie, maar “sy verskyning liefhê” (2 Timótheüs 4:8). Die kerk by Sardis het bedreig gevoel deur die Here se koms, maar ons wat Hom liefhet, moet bemoedig wees. Slegs die wêreld moet bang wees.

Wat ‘n rare voorreg is dit om deel te wees van diegene wat wag – gereed – getooi soos ‘n bruid – terwyl ons die Lam nuttig.

Download PDF