Die Krag van Sy Teenwoordigheid | World Challenge

Die Krag van Sy Teenwoordigheid

David WilkersonApril 1, 1984

“Sodat van my aangesig af weg sal bewe...al die mense wat op die aarde is; en die berge sal omvergegooi word en die kranse inmekaarstort en al die mure op die aarde val” (Eségiël 38:20).

Daar is ‘n onheilspellende Skrif in die Bybel wat ‘n bron van vertroosting is vir talle Christene. Dit is Matthéüs 7:22,23, “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”

Dit vertroos diegene wat kan sê, “Dit kan nie ek wees nie, ek het nog nooit geprofeteer nie, ek het nog nooit duiwels uitgedryf nie, nog noot baie wonderlike werke gedoen nie.” Trouens, ek weet nie van een Christen wat al ooit gevoel het hierdie waarskuwing was vir hulle bedoel nie. Maar daar is ‘n waarskuwing uit die hart van Christus wat geen gelowige kan ignoreer nie. Dit het te doen met almal wat al die Brood van die lewe geëet of die wyn van die Gees gedrink het. Dit is gerig aan almal wat al nagmaal gebruik het of onder die lering van God se Woord gesit het.

Luister na Lukas 13:25-27: “Wanneer die eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het, en julle begin buitekant te staan en aan die deur te klop en te sê: Here, Here, maak vir ons oop — sal Hy antwoord en vir julle sê: Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Dan sal julle begin sê: Ons het in u teenwoordigheid geëet en gedrink, en U het op ons strate geleer. En Hy sal sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!” Het Christus hoofsaaklik gepraat met verdorwe genesingsevangeliste of charismatiese skynheiliges in hierdie gedeelte? Nee. Diegene wat toegang tot die Meester se huis geweier is, was onder die welgevoedes en welgeleerdes – diegene wat geestelike brood geëet en geestelike drank gedrink het in die teenwoordigheid van Christus.

Hierdie waarskuwings is genoeg bewyse dat dit moontlik is om die siekes te genees en duiwels uit te dryf en steeds nie intiem met Christus te wees nie. Dit is moontlik om groot werke in Sy Naam te doen, om kerke en bedienings te bou, om te evangeliseer en op te offer, en steeds nie Hom te ken soos Hy behoort geken te word nie. Dit is moontlik om sy Woord te eet, om Sy lewende water te drink, om openbaringswaarhede te hoor, en steeds nie die krag van Sy teenwoordigheid binne te gaan nie.

Wat was die ongeregtigheid van diegene wat toegang tot die Meester se huis (omdat Jesus hulle wel werkers van ongeregtigheid genoem het) geweier is? Hier is dit: Hulle het nie gebewe in die heilige teenwoordigheid van Christus nie! Duiwels het gesidder, maar hulle het nie. Die aarde het geskud, die heuwels het soos was gesmelt, mure het verkrummel – maar hulle was onbuigbaar en ongebroke in Sy teenwoordigheid. Hulle het geweier om gesmelt, verslaan, of veroordeel te word.

Dawid, die psalmis, het geroep, “Beef, aarde, voor die aangesig van die HERE, voor die aangesig van die God van Jakob...” (Psalm 114:7). Toe Israel haar vrees vir God verloor het en nie meer gebewe het in Sy teenwoordigheid nie, het sy skaamteloos, selfgesentreerd en goddeloos geword. Haar predikers het windsakke geword. Die profeet Jeremia het God se aanklag teen Sy volk opgeteken. “Want die huis van Israel en die huis van Juda het baie troueloos teen My gehandel, spreek die HERE... Hulle het...gesê...geen onheil sal oor ons kom nie; ons sal geen swaard of hongersnood sien nie; en die profete sal wind word; ja, die Woord is nie by hulle nie...hierdie volk het ’n oproerige en wederstrewige hart...Soos ’n hok vol voëls, so is hulle huise vol bedrog; daarom het hulle groot en ryk geword.... Hulle het vet...glad geword; selfs gaan hulle oor die maat van boosheid heen. Reg verskaf hulle nie, selfs die reg van die wees nie, dat hulle voorspoed kan hê...die profete profeteer vals...en my volk wil dit graag so hê” (Jeremia 5:11-31). Die Here God het hulle gevra, “Sou julle vir Mý nie bevrees wees nie, spreek die HERE, of voor my aangesig nie bewe nie...?” (Jeremia 5:22). Hulle het nie gebewe nie, omdat hulle harte vasgenael was op voorspoed en nie op Sy teenwoordigheid nie.

Ek sal nie teen God se volk uitvaar nie, maar ek moet kommentaar lewer oor die ligsinnigheid en lighartigheid wat nou so heers in God se huis. Waar is die ontsag, die majesteit, die bewe in Sy heilige teenwoordigheid? Hoe durf ons die almagtige Koning van die heelal “pappie” noem? Waarom kom ons in Sy verhewe teenwoordigheid in met besoedelde klere van die vlees en gee Hom applous in plaas van voor Sy voete neerval?

Toe Jesaja in Sy teenwoordigheid gekom het, was hy verneder en neergeslaan. Toe die Here se heerlikheid die tempel gevul het, het selfs die serafs hulle gesigte met hulle vlerke toegemaak. Een van hulle het uitgeroep. “Heilig, heilig, is die Here van die leërskare...” (Jesaja 6:3). Die kosyne van die deur het beweeg met die geluid van Sy stem. Jesaja het sy gesig met sy hande toegemaak en uitgeroep, “Wee my, ek is verlore...onrein...onder ’n volk wat onrein...is...!” (Jesaja 6:5).

Wat sê dit vir jou en my as ‘n heilige profeet van God in die Here se glansryke teenwoordigheid gebring word en die sonde binne-in hom moet bely?

Vir drie weke het Daniël getreur, gevas en gebid – en sy sondes en die sondes van Israel bely. Toe het die Here in Sy glorieryke klere verskyn. Sy gesig het die voorkoms van weerlig gehad, Sy oë was soos fakkels van vuur, en Sy arms en voete het geskyn soos blink geskuurde koper. Sy stem het die aarde geskud. Dit was nie die “pappie” wat voor hom gestaan het nie! Daniël was nie ‘n Konings se kind wat gevra het vir seëninge nie. Niemand het hande geklap nie maar,“...’n groot skrik hulle oorval...” (Daniël 10:7). Daniël se knieë het geknik. Hy het gesê. “Ek het geen krag oorgehou nie. En ek het...bewusteloos op my aangesig, met my aangesig op die aarde, geval” (Daniël 10:8-9).

Wat sê dit vir jou en my as ‘n geliefde man van God die Here se vlammende oë sien en selfs nie eens regop kan staan of sy kop regop kan hou nie?

Hoe anders is dit vandag. Ons hoor ons welbekende sprekers hulle kragtige preke lewer en ons gee applous. In een byeenkoms, het die mense in ‘n charismatiese konferensie ‘n evangelis ‘n vyf-minute lange staande toejuiging gegee aan die einde van sy boodskap. Moes daardie gehoor nie liewer op hulle aangesigte geval het voor God se heilige teenwoordigheid nie? Is ons nie veronderstel om te bewe wanneer Hy verskyn om sonde te oordeel nie? Behoort ons eiegeregtige krag nie heeltemal uitgeput wees en ons menslike krag ons nie heeltemal verlaat nie?

Maar waar – in watter byeenkoms – vind jy knieë wat knak en Christene wat uitroep, “Weë my!”? Waar is die kerk of konferensie waar die spreker nie langer gesien word nie, maar in plaas daarvan verskyn die vlammende oë van Christus en Sy stem laat harte bewe? Waar God se kinders hulle verdorwenheid sien en uitgestrek neerval, neergeslaan deur Sy teenwoordigheid?

Dit is waar dat ons met vrymoedigheid in Sy teenwoordigheid moet kom met lof en danksegging. Maar dit beteken nie ligsinnig of ongeërg nie. Darius, ‘n heidense koning, het meer eerbied gehad vir die Here as baie hedendaagse Christene. Hy het uitgevaardig, “Aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon...dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God...sy heerskappy duur tot die einde toe” (Daniël 6:25-27). Ons behoort te bewe en te vrees voor Sy almagtige majesteit en grootheid – nie omdat dit teen ons opgestel is nie, maar vir ons! Ons bewe in die teenwoordigheid van so ‘n groot mag, geopenbaar ten doel om ons te ondersteun en te verlos.

Die kind van God wat Hom werklik ken, ontwikkel ‘n toenemende sin van Sy majesteit en grootsheid. Hy word minder begaan oor regte en seëninge en meer bekoor deur Sy teenwoordigheid. Gemak maak plek vir waardigheid. Lukraakheid en informaliteit maak plek vir eerbied en heilige agting.

Ek wil drie belangrike stellings maak aangaande die krag van Christus se teenwoordigheid – een negatiewe en twee positiewe:

1. God se kinders word magteloos wanneer hulle die teenwoordigheid van die Here verlaat.

Die gelowige wat buite die Here se teenwoordigheid is, plaas homself in ‘n posisie waarin hy verswelg kan word deur teenspoed. Hy word ‘n lafaard – hy vlug wanneer hy nie eens gejaag word nie. Hy lewe in konstante vrees van, “daar is ’n leeu buitekant; ek kan in die middel van die strate gedood word!” (Spreuke 22:13).

Ons voorbeeld is Jona. Hierdie profeet moes die teenwoordigheid van die Here geniet het, anders sou hy nie in ‘n posisie gewees het om so ‘n duidelike woord van leiding te gekry het nie: “Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en preek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig” (Jona 1:2). In die verlede, was om in die teenwoordigheid van die Here te wees ‘n opwindende, opwekkende belewenis. Jona het dit geniet om te hoor van die herstel en genesing van God se volk. Dit was heerlik om God se geheime oor die toekoms te deel.

Maar nou het die teenwoordigheid van die Here ‘n persoonlik tol van hom geëis. Hy moes opstaan en teen sonde preek. Hy moes ‘n hele samelewing dreig met onmiddellike oordeel tensy hulle hul bekeer. In plaas van die Here se leiding egter te gehoorsaam, het “Jona het hom klaargemaak om na Tarsis te vlug, van die aangesig van die HERE af weg” (Jona 1:3). Daar is geen twyfel dat hy ‘n oproep sou gehoorsaam om profesieë te verkondig aan een of ander afgeleë Israelitiese stam nie – miskien selfs ‘n oproep om te preek oor die voorspoed van Israel aan die staatshoofde. Maar om hellevuur te verkondig, om sonde te veroordeel en om mense met goddelike oordeel te dreig – en dit alles teenoor ‘n verdorwe en goddelose samelewing! Nie vir Jona nie. Hy het die oproep geweier.

Hou asseblief in gedagte dat hy weggevlug het van Hom wie se some van heerlikheid die tempel gevul het. Van Hom wie se gesig soos weerlig is. Van Hom wie se oë ‘n vlam van vuur is, wie se magtige arm soos blink geskuurde koper is. Hy het weggehardloop van Hom wie se blik die knieë laat knak, wie se stem die aarde laat bewe, wie se voorkoms alle vlees neerfel.

Waarom vlug ‘n man van God af weg, van die Een wat hy liefhet? Was Jona bang vir die Nineviete? Was hy te trots om te gaan? Te hardkoppig?

As jy regtig wil weet waarom Jona van die teenwoordigheid van die Here af weggevlug het, kyk goed na jou eie hart. Waarom vermy enige Christen die teenwoordigheid van die Here? Waarom wil ons nie in Sy vlammende oë kyk nie? Net soos ons, kon Jona die eise wat ‘n heilige teenwoordigheid aan hom gestel het, nie hanteer nie. Dit was nie die sondes van die Nineviete wat hom bang gemaak het nie – dit was die sonde in sy eie hart wat hy nie in die oë kon kyk nie. Hy het ‘n twis met God gehad in sy innerlike mens!

Hoeveel bedienaars van die evangelie sal nie die basuin van God optel en uitroep teen die sondes van die mense nie omdat hulle self nie Romeine 2:21-22 in die oë kan kyk nie? “Jy dan, wat ’n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy?Jy wat sê dat ’n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat ’n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof?”

Hoeveel Christene durf nie hulle stemme verhef teen verdorwenheid of wellus in God se huis nie, omdat die wellus van hulle eie harte hulle tot stilte veroordeel? Hulle is lafaards oor sonde, omdat hulle nie self daaroor seëvier nie. Talle ouers sien hulle eie sondes uitbars in hulle kinders, en hulle is hulpeloos daarteen. Pa rook, so hy kan nie sy kinders veroordeel wanneer hulle gevang word dagga rook nie. Ma drink en kyk dan met afsku as haar dogter ‘n alkoholis word.

Ek is bedroef oor die tye in die afgelope jare toe ek geweier het om God se oproep om te profeteer teen die sondes van heiliges en sondaars, omdat ek verskriklik veroordeel was deur ‘n jakkals wat in my eie wingerd gevreet het. Ek weet ek sou God oneer aandoen om ‘n boodskap van heiligheid te verkondig terwyl my eie kleed bevlek was. My gebulder het verander in ‘n fluistering; my swaard het ‘n stok geword. Daar was ‘n tyd wat ek die Here nie in sy vlammende oë kon kyk nie. ‘n Tyd lank was ek ongemaklik in die teenwoordigheid van ‘n heilige man omdat ek gevrees het hy sou deur my kon sien. ‘n Tyd lank moes ek bloot tevrede wees met dagstukkies en Bybelstudie want ek het goed geweet dat wanneer ek my daaraan verbind het om na die allerheiligste te gaan, ek nie staande sou kon bly nie. Daar sou ‘n reiniging wees. Eise sou aan my gestel word wat ek nie gedink het ek sou kon volbring nie.

Dank God die Gees het my gereinig. Dank God Hy het al die drek en sonde afgestroop en my in staat gestel Sy teenwoordigheid binne te gaan, vlekkeloos en aangeneem in die Geliefde.

Jy kan hiervan seker wees: Die mens buite God se teenwoordigheid, beland in ‘n krisis van teenspoed, ‘n gevangene van die Here. Het ek gesê “gevangene” van die Here? Ja! Luister na wat met Jona gebeur het. “En die HERE het ‘n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nagte indie ingewande van die vis” (Jona 1:17). Die Skrif sê vir ons dit was die Here wat die vis beskik het! Dit was die Here wat die matrose Jona laat oorboord gooi het! Vir Jona was dit die “binneste van die doderyk” (Jona 2:2); vir God was dit die tugkamer.

God was nie van plan om Sy man oor te gee aan die duiwel nie. Hy het waarskynlik vir Satan gesê, “Dit is Mý vis; Jona is Mý dienaar. Jy kan hom ‘n rygeleentheid gee – neem hom af onder toe en gee vir hom ‘n kykie van die hel. Maar jy mag hom nie skade doen nie. En wanneer Ek weet die sondevraagstuk is afgehandel, sal jy hom aflaai op die strand van gehoorsaamheid. Hy het werk om te doen!”

Dit was in die krisis wat Jona afgereken het met die sonde in homself – eens en vir altyd. Die hele tyd was dit ‘n leuenagtige ydelheid. Hy het ‘n leuen gelewe. Die Woord sê, “Die wat nietige afgode vereer, verlaat die Een wat vir hulle goedertieren is” (Jona 2:8). God het in Jona ‘n gees van leuenagtige hoogmoed gesien. Hy was onder misleiding, onkundig oor sy eie geestelike toestand. Daar was blindekolle in hom, verborge tot nou toe. Hy het gewandel soos die heidene van Efésiërs: “...in die verdwaasdheid van hulle gemoed... mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart” (Efésiërs 4:17-18).

Waarom is so baie opregte mans en vroue van God in krisisse vandag? Waarom is daar soveel teëspoed? Waarom soveel diep geestelike oefeninge? Waarom soveel blootstelling aan vyandige magte? Dit is God aan die werk! Hy het toegelaat dat hierdie krisisse ons terugbring na Sy teenwoordigheid. Om gehoorsaamheid in ons te produseer. Om vir ons te wys hoe blind ons is vir wat werklik in ons is. Om die hoogmoed, die leuenagtige ydelhede, die dubbele lewe te openbaar.

Die Here het vir ons gesê om die hele wêreld in te gaan en Sy geregtigheid te verkondig. Ons het na onsself gekyk en verwelk. Die volk van God het lafhartig geword. Bedienaars is deur sonde verswak. Daarom het die Here ‘n groot walvis voorberei. Menigtes is nou in sy buik. Daar is eensaamheid, vrees, rusteloosheid, twyfel. Dit is ‘n tyd van seegras en kolkende donker waters.

Maar selfs te midde van ‘n krisis, is daar baie hoop vir die Christen. Dit was as gevolg van die verdrukking wat Jona uitgeroep het tot God, gebid, bely en vernuwe was. As jy werklik God se kind is, sal Hy jou nie aan Satan oorgee nie. Hy sal jou nie in jou krisis verlaat nie. Laat die Gees jou vermurwe. Laat Hom al die lelike dinge binne-in jou openbaar. Laat jou sondes jou verneder en verpletter. Reik dan uit en kom terug na Sy heilige teenwoordigheid om herstel te word.

2. Dit is in God se teenwoordigheid waar sonde geopenbaar en uitgedryf word!

“Soos was smelt voor die vuur, vergaan die goddelose voor die aangesig van God” (Psalm 68:3). “My vyande [sal] agteruitwyk, struikel en omkom van voor u aangesig” (Psalm 9:4). Die hartsgeroep van die kerk vandag behoort te wees vir ‘n bonatuurlike manifestasie van Christus se teenwoordigheid. ‘n Manifestasie is “‘n vertoning, ‘n openbaring, ‘n demonstrasie, ‘n voorstelling.”

Beskou wat gebeur het met Simon Petrus toe Christus bonatuurlik Sy teenwoordigheid voor sy oë gemanifesteer het. “En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang” (Lukas 5:4). Hou in gedagte dat Simon die heeltyd in Christus se teenwoordigheid was tydens sy predikasie. Hy het Sy bevel gehoorsaam om selfs na ‘n vrugtelose nag van visvang, die nette uit te gooi. Hy het Christus gesien, gehoor, miskien selfs aangeraak. Hy was binne sigafstand van Hom – ‘n armlengte – maar tog het die Woord hom nie veroordeel nie, omdat Christus nog nie die krag van Sy teenwoordigheid geopenbaar het nie.

Maar skielik het Christus Sy teenwoordigheid vertoon. Hy het Homself gemanifesteer. Skielik was Hy daar met bonatuurlike krag. “En toe hulle dit gedoen het, het hulle ’n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur. Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het. En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is ’n sondige man!” (Lukas 5:6-8).

Petrus, saam met sy maats Jakobus en Johannes, was almal ontbloot in hulle sondes, omdat hulle die bonatuurlike krag van Sy teenwoordigheid gesien het. Christus het Homself aan hulle verbind. Hulle het nie gereageer deur te dans, applous te gee, te skree of te lag nie. Hulle was getref met veroordeling oor hulle sondes. Hulle was op hulle knieë, nie in staat om te staan voor daardie heilige teenwoordigheid wat vertoon is nie.

Wat sou vandag in ons kerke gebeur as Christus bonatuurlik Sy heilige teenwoordigheid geopenbaar het – miskien deur gesalfde profesie van Sy troon af? Sou al ons geheime nie aan die lig kom en geopenbaar word nie? En dan, terwyl ons op ons aangesigte val, sou ons Hom aanbid. Die apostel Paulus het vir ons gesê dit is wat sou gebeur (1 Korinthiërs 14:25). Sou enige van ons ongebroke kon bly? Sou enige van ons ons sondes kon besweer en dit regverdig in Sy teenwoordigheid? Sou ons nie saam met ‘n bulderende stem, almal soos een, uitroep, “Ek vergaan! Onrein! Ek kan in U teenwoordigheid nie bly staan nie! My lippe is onrein!”

Dit is nie net ‘n saak van rein wees in God se oë nie. Dit is ‘n saak van sien hoeveel ons van Sy heerlikheid ontbreek. Hoe verskriklik ons die hoë roeping van God in Christus misgeloop het. Hoe lui en dwaas en swak ons geword het. Dit is wat ons sien oor onsself wat ons nederig maak.

Johannes die openbaarder, het ‘n dag gesien waarin die hele wêreld ‘n magtige, bonatuurlike manifestasie van Christus se teenwoordigheid sal sien. Dit sal begin met ‘n groot aardbewing. Die son sal swart word soos ‘n harige sak. Die maan sal soos bloed word. Die sterre sal val soos vye wat geskud word met ‘n magtige wind, en die hemele sal toegerol word soos ‘n boekrol. Al die berge en eilande sal uit hulle plek versit word. En daar, voor die oë van die mensdom, sal Christus geopenbaar word, waar Hy op sy troon sit (sien Openbaring 6:12-16).

“En die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam” (Openbaring 6:15-16).

Die Ou Testament profete vertel vir ons van ons Verlosser wat na Sy kerk kom in die laaste dae met bonatuurlike manifestasies van Sy teenwoordigheid, om Sy volk te reinig en gereed te maak as ‘n bruid. Ons hoor dieselfde woorde van beide Jesaja en Paulus. Jesaja het geprofeteer, “Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die HERE...” (Jesaja 59:20). Die apostel het ‘n tyd voorspel wanneer “Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend... as Ek hulle sondes wegneem” (Romeine 11:26-27).

Nog ‘n Ou Testament profeet, Maleági, het die openbaring van Christus beskryf op hierdie manier: “Dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek...Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. En Hy sal sit: ’n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ’n offer sal bring...En Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou” (Maleági 3:1-5).

Christus gaan naby ons kom met bonatuurlike manifestatsies van Sy teenwoordigheid! Hy sal, met die krag van Sy teenwoordigheid, towery, owerspel, valse getuienis, en alle sonde in Sy huis oordeel. Alles sal soos was smelt voor Sy teenwoordigheid. Hy sal die byl teen die wortel lê, die kaf wegblaas en alle goddeloosheid ontwortel. Hy sal die vyand uitdryf en elke kind reinig.

Dit is jammer dat talle gelowiges hierdie bonatuurlike manifestasies van Sy teenwoordigheid gaan misloop. Christus sal Homself nie toevertrou aan diegene wat slegs tekens en wonders soek nie. “En toe Hy in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen. Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het...want Hy self het geweet wat in die mens is” (Johannes 2:23-25). Hy het geweet hulle was slegs bekoor met wonderwerke, en nie met Hom alleen nie. Hy sien dit in die hele mensdom. Merk die volgende goed: Daar sal baie min manifestasies wees van die Here se ontsagwekkende teenwoordigheid waar Christene meer op krag fokus as op Christus.

3. Die krag van Sy teenwoordigheid sal die aanskouer verander na Sy eie beeld!

“En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korinthiërs 3:18). Ons word wat ons aanskou! Die fokus van ons aandag versprei sy invloed dwarsdeur ons lewens. Wat ons aanskou met ons geestelike oë raak ons vol van! Dit neem oor. Paulus het gekies om vol te wees met Christus. Die Saligmaker alleen het die voorwerp van sy denke, sy prediking, sy leerstelling geword. “Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Korinthiërs 2:2). Hy het sy oë op die Hoof van die liggaam gevestig, en nie op die siekte in die liggaam nie. Hy het dit genoem... vashou aan die Hoof...kom tot die volle grootte van Christus...in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus...sodat Hy alles tot volheid kan bring...Hom die heerlikheid in die gemeente.”

‘n Ware Pinkster is verheffing van Christus! Ek vrees ons hou nie vas aan die Hoof nie. Om vas te hou beteken “om styf vas te kleef, om te klou, vas te sluit aan.” Verkondig Christus! Hou vas aan die leerstelling van Christus. Klou daarna, hou vas daaraan, sluit daaraan vas. Ons het so min lewe vir Christus vandag want daar is so min prediking oor Hom. Herders en leraars moet Hom hoog hou, sodat mense in Sy aangesig kan kyk en soos Hy word.

God se begeerte vir ons is dat ons beklee moet wees met Christus se teenwoordigheid. Wil jy oorwinning oor sonde hê? Wil jy algehele vryheid en verlossing van alle mag van die vyand hê? Bid dan vurig vir ‘n bonatuurlike manifestasie van Christus se teenwoordigheid aan jou. Ek het so ‘n belewenis in die afgelope maande gehad. As jy ernstig daaroor is, sal jy gebroke word. Jy sal jou sonde in die oë kyk. Daardie vlammende oë sal jou deurdring! Bly dan daar vir reiniging.

Dieselfde vurige teenwoordigheid van die Here sal dan die hart en lewe van jou siel word. Jy sal nie Sy teenwoordigheid wil verlaat nie. Dit sal jou vreugde en plesier word vir altyd. Sy oë sal ophelder met liefde en barmhartigheid. Jy sal juig met die aanskoue van Sy aangesig. Jy sal leun op Sy arm van koper. Alle vrees sal verdwyn. Volmaakte vrede en rus sal vloei. Jy kan sonde en Satan in die oë kyk as jy beklee is met die heerlike krag van Sy teenwoordigheid. God se Woord belowe, “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele” (Openbaring 3:5).

Die kerk gaan die laaste dae binne as “’n vrou wat met die son bekleed was” (Openbaring 12:1). Dit is Christus! Hy is ons wit klere. Ons het ons met Christus beklee; ons bly in Sy teenwoordigheid, bo alle owerhede en magte.

Dit is nie werklik ingewikkeld nie. Dit kan as volg opgesom word: BLY NABY AAN CHRISTUS! Lewe in Sy teenwoordigheid. Neem jou sitplek saam met Hom in hemelse plekke. Aanskou Hom wat staan aan die regterhand van die Vader. Dan, soos Stéfanus, kan die klippe van Satan jou nie skade doen nie. Niks kan jou hinder nie. Jy sal verhewe wees bo dit alles terwyl jy Hom in die hemel aanskou.

Download PDF