Die Lê Jou Lewe Neer Aan Die Kruis Soort Liefde | World Challenge

Die Lê Jou Lewe Neer Aan Die Kruis Soort Liefde

Gary WilkersonMarch 28, 2016

As jy die hoogtepunt van Jesus se leerstelling moet noem, wat sou jy sê is dit? Ons kry insig hierin uit sy laaste nag saam met sy dissipels voor Hy na die kruis gegaan het. Hy het net ‘n paar uur met sy naaste vriende oorgehad en daarom het hy gekonsentreer op alles wat Hy vir hulle geleer het. Toe Christus alles opgesom het, het Hy dit alles laat neerkom op een woord: liefde. “Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het” (Johannes 15:12).

As ons oor liefde praat in die kerk — trouens, wanneer ons hierdie vers lees — beweeg ons gedagtes in sagmoedige rigtings. Ons dink aan vriendelikheid, vrygewigheid en om goed te wees vir ander. Die Nuwe Testament sê baie oor hierdie soort liefde. Dit gebruik die woord “mekaar” omtrent vyftig keer, met bevele om mekaar met geduld, bemoediging, vrygewigheid ens., te behandel. Die boek Efésiërs gebruik die woord “mekaar” dikwels om Christus se groot gebod om lief te hê in die gemeenskap te beklemtoon.

Die dissipels sou geen probleem gehad het met hierdie gebod nie. Hulle het waarskynlik gedink hulle was reeds heel goed daarmee. Hulle het pas drie jaar in voltydse bediening met hulle Meester deurgebring en geleer hoe om te doen wat Hy hulle geleer het.

Maar in hierdie toneel, het Jesus van liefde in ‘n heel ander konteks gepraat. Dit word duidelik in sy volgende sin: “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Johannes 15:13). Dit is nou ‘n ernstige soort liefde. Ek stel myself voor die toneel waar die dissipels na mekaar kyk en wonder, “Sal ek sterf vir hierdie ou langsaan my? Soms irriteer hy my nogal.” Miskien het hulle mekaar nie so liefgehad as wat hulle gedink het nie.

My punt is, dat as Jesus ons beveel om lief te hê soos wat Hy liefhet, is dit nie ‘n ligte saak nie. Dit is nie een of ander geromantiseerde idee gebaseer op gevoelens of ideale nie. Wat Hy ons beveel, is ‘n evangelie liefde — ‘n kragtige, onvoorwaardelike, opofferende liefde wat sy oorsprong in die kruis van Christus het. Jesus was op die punt om vir sy volgelinge die kragtigste daad van liefde, wat enigeen ooit kon doen, te demonstreer deur na die kruis te gaan vir ons sondes. Deur dit te doen, sou Hy wys hoe hierdie liefde selfs van toepassing is op ons vyande — omdat Hy sy lewe ook vir hulle gegee het.

Dit was ‘n heeltemal nuwe manier van lewe. Jesus het die ou weg van godsdiens uitgegooi en geboorte gegee aan ‘n nuwe weg. Liefde was nie meer bevat in die realm van die sentimentele nie. Dit was nou geplaas in die realm van die ontmoontlike.

Ek kan my voorstel dat die dissipels gedink het, “Jesus, ons het nie agape liefde soos U nie. Ons s’n is nie die onvoorwaardelike soort nie. Ons is nie volmaak nie. Ons liefde gaan sekerlik misluk.” Maar Jesus vat nie nee vir ‘n antwoord nie. Hy het geweet hulle eie pogings om lief te hê soos Hy liefgehad het, sou nie slaag nie. Daarom het Hy vir hulle gewys hoe hierdie soort liefde plaasvind: slegs deur die Vader se krag.

“Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader in my Naam vra, Hy julle dit kan gee. Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê” (Johannes 15:14-17).

As ons in die Vader se naam vra vir daardie soort liefde, belowe Jesus dat Hy dit vir ons sal gee. Ware evangelie liefde kom egter net op een manier: deur die gekruisigde lewe. Christus leer ons, “Die liefde waartoe Ek julle roep, is nie liefde wat deur die vlees plaasvind nie. Jou idee van liefde is beperk en voorwaardelik en dit moet sterf in jou. Die liefde waarvan Ek praat, moet opgewek word in die nuwe lewe deur die Vader.” Die boodskap is eenvoudig: As ons Jesus se gebod wil gehoorsaam, moet ons die Geesvervulde lewe leef.

Hoe lyk dit om hierdie soort liefde wat Jesus beskryf uit te voer?

Paulus help ons deur aan te toon wat gebeur wanneer ons hierdie soort liefde nie uitleef nie. In sy brief aan die Galásiërs, wys Paulus twee soorte sondes uit. Aan die een kant identifiseer hy growwe sondes, die soort wat ons assosieer met uiterlike optrede, soos seksuele sondes of misbruik van middels soos alkohol of dwelms. Maar Paulus wys ook ‘n tweede soort sonde uit — ‘n verhoudingsonde — en toon aan hoe dit net so dodelik en vernietigend is. Verhoudingsonde beïnvloed ons siele dieper as wat ons nooit sou kon dink. Dit het ‘n verskriklike effek, nie net op ons getuienis teenoor die wêreld nie, maar in die diepste dele van ons wese en dit versprei na almal rondom ons.

Paulus bring dit aan die lig in die Korintiese gemeente deur ‘n ooglopende probleem uit te wys: die verdeeldheid onder hulle. “Want ek vrees dat ek julle by my koms miskien nie sal vind soos ek wens nie, en dat ek deur julle gevind sal word soos julle nie wens nie — dat daar miskien sal wees twis, jaloersheid, verdeeldheid, kwaadsprekery, nuusdraery, verwaandheid, wanordelikheid” (2 Korinthiërs 12:20). Let op die laaste woord in hierdie lys: wanordelikheid. Dit is ‘n aanduiding dat verhoudingsonde aan die werk is.

Elkeen van die dinge wat Paulus hier opnoem is ‘n verhoudingsonde. Dit het te doen daarmee om te misluk om lief te hê soos Jesus liefgehad het. In hierdie terme is dit maklik om te sien hoe liefde nie net ‘n sentimentele gebaar kan wees nie. Dit is ‘n stryd om te stry en die wapens wat ons bring is vergifnis, genade, barmhartigheid en geregtigheid.

Een van die Korinthiërs se twiste het betrekking gehad op watter lering hulle sou aanvaar. Sommige het gesê hulle sou slegs Petrus se leiding aanvaar, terwyl ander Paulus gevolg het. Paulus moes vir hulle sê, “Ek kan julle nie as volwassenes aanspreek terwyl julle in hierdie toestand is nie. Dit is vleeslik. Julle redeneer met julle vlees. Ek kan julle nie vaste spys geestelike waarhede bied nie. Ek moet julle met melk voed, die manier waarop ‘n moeder haar baba voed.”

Die Griekse woord wat Paulus in Korinthiërs vir “vlees” gebruik, dui op die vel of vetweefsel van die liggaam. Maar natuurlik beskryf Paulus die toestand van hulle siel. Hy sê vir die Korinthiërs hulle is vasgevang in ‘n aardse manier van lewe, eerder as om te wandel in ‘n Geesvervulde lewe.

Op die manier waarop Paulus vir hulle skryf, is dit maklik om aan te neem dat die Korintiese kerk deurspek was met growwe sondes. Hulle het in der waarheid egter baie gawes van die Heilige Gees gehad. Dit is inderdaad deur die Korinthiërs dat ons weet van die gawes van die Gees; Paulus se brief aan hulle wys hoe kragtig daardie gawes in hulle gewerk het. Maar selfs al het die Korinthiërs ‘n groot kennis van die dinge van God gehad, het hulle kortgekom aan die liefde wat Jesus van ons vereis. Paulus het hulle hard getref op hierdie punt:

“Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie” (1 Korinthiërs 13:1-3).

Let hier op Paulus se operatiewe woord: “niks.” Dit is wat die Korintiese kerk se liefde werd was. Hy het vir hulle gesê, dat dit nooit God se doelwit kan bereik nie. Christus se liefde — die lê-jou-lewe-af-aan-‘n-kruis soort liefde — is ‘n moeilike taak, een wat onmoontlik is behalwe deur die Gees.

Dit mag nou klink na ‘n verrassende interpretasie van 1 Korinthiërs 13. Die meeste van ons ken hierdie hoofstuk as die Bybel se “liefdeshoofstuk.” Selfs nie-Christene is bekend daarmee, omdat dit op so baie troues gelees word. In daardie konteks, is 1 Korinthiërs 13 nie veel meer as ‘n groetekaartjie sentiment nie. Hierdie hoofstuk is in der waarheid ‘n kontrapunt met die lys van al die vleeslike sondes wat Paulus later in 2 Korinthiërs 12 sou opnoem. Daardie lys sluit in stryery, jaloesie, woede, vyandskap, laster, skinder, bedrog en wanorde. Let op die kontras:

“Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles” (1 Korinthiërs 13:4-7). Wanneer ons hierdie lys met die ander een vergelyk, begin ons 1 Korinthiërs 13 sien as ‘n geestelike oplossing vir ‘n probleem van sonde — inderdaad, die enigste oplossing.

Paulus het nie 1 Korinthiërs 13 bedoel as ‘n romantiese ideaal nie, maar as ‘n opofferende “taai liefde,” die enigste oplossing vir die probleem van sonde.

Ek wil jou uitdaag. Watter lys sien jy meer toegepas word in jou kerk? In jou huwelik? In jou eie lewe? As iemand jou beledig, moet jy altyd terugantwoord? Vind jy jouself waar jy retorte vir die volgende keer uitdink? As iemand anders gekies word om iets te doen wat jy graag wou doen, blaas jy stoom af daaroor? Hoop jy die persoon misluk?

Sommige Christene dink om vrede te maak is om konflik te vermy. Maar deur dit te doen, lei slegs tot verdere verdeeldheid, twis en wanorde. Wanneer was die laaste keer wat jy ‘n noodsaaklike konfrontasie met iemand vermy het? Het dit op die ou end daartoe gelei dat jy passief aggresief teenoor daardie persoon was en vriendelikheid weerhou het? Het jou e-posse of Facebook boodskappe oor hulle ‘n stekie in gehad?

Daar is as sulks niks Geesgelei daarin om konflik te vermy nie. Trouens, Jesus beveel ons om die teenoorgestelde te doen. Hy gee ons spesifieke instruksies hoe om dit te doen. “En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou: luister, dan het jy jou broer gewin (Matthéüs 18:15). Jesus se instruksies is hier vol wysheid. Om ‘n persoon privaat te konfronteer, beskerm hulle waardigheid te midde van hulle sonde. Dit laat ook toe dat lig op sy sonde gewerp word.

Tog, om iemand te konfronteer, is nie ‘n eenmalige oplossing nie. Waarom nie? Eerstens, dit mag moontlik nie werk nie, soos Jesus aangetoon het. “Maar as hy nie luister nie...” (Matthéüs 18:16). Verder is dit nie net ‘n klinkklare bevel nie, waar ons ná die tyd kan wegloop en sê, “Wel, ek het gedoen wat Jesus gesê het. Dit is dit. Ek sal nie meer met hierdie ou hoef te deel nie.” Volgens Jesus, het ons meer om te doen – omdat liefde daardie ekstra myl loop: “Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan” (Matthéüs 18:16).

Dit eindig selfs nie net daar nie. Liefde hou aan met die eerste myl, verder en verder: “En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar” (Matthéüs 18:17). Hierdie laaste frase klink soos ‘n finale verwerping. Maar dit is nie akkuraat nie. Ons aksies is bedoel dat die sondaar oor sy optrede besin, sodat hy hom sal bekeer en weer gemeenskap kan geniet.

Hierdie volgorde van aksies wys vir ons iets anders. Dit leer ons die lengtes waartoe God sy genade sal strek — en die prys vir ons as verteenwoordigers van daardie genade. God se hart is altyd daarop gerig om die verlore skape terug te bring in die kraal. Hoe ver strek hierdie genade? Soos Jesus vir Petrus gesê het, ons moet ons sondige broer “sewentig maal sewe” vergewe — wat beteken, soveel keer as wat dit verg. Weereens, dit vereis ‘n lê-jou-lewe-af-aan-‘n-kruis soort liefde. Dit is ‘n liefde wat sê, “Ek is steeds hier vir jou. Ek gaan nêrens nie.” Hierdie soort liefde vereis ‘n Geesvervulde wandel, omdat ons vlees doodeenvoudig nie in staat is daartoe nie.

Alles mag vir jou klink na geringe dinge, die soort van “kerkgesprekke” waarmee herders hulleself mee besig hou. Maar soos Jesus en Paulus albei uitwys, kan weiering om lief te hê, selfs op die mees alledaagse vlak, groot nagevolge hê. Dit lei tot hartseer, vervreemding en spyt. Twis in ‘n verhouding lei gewoonlik daartoe dat ‘n wyer vriendekring en familie geaffekteer word. Op sy beurt, kan dit uitbrei tot ‘n hele samelewing, soos Paulus dit uitwys onder die Korinthiërs. Om lief te hê soos Jesus liefhet, selfs al lyk dit soos ‘n klein sakie, is nie ‘n keuse nie — dit is ‘n geestelike dissipline.

As jy jou liefde sien as meestal voorwaardelik, het ek goeie nuus vir jou: Jy het nie nodig om daarin vasgevang te wees nie. Jou huwelik hoef nie ‘n eindelose herhaling van ‘n aanhoudende kringloop van bitterheid te wees nie. Die spanning tussen jou en ‘n vriend hoef ysig gevries te bly nie. Paulus bring vir ons hoop van wat kan wees: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie” (Galásiers 5:22-23).

Hierdie heerlike prentjie word moontlik op een manier: “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel” (Galásiers 5:24-25). Gee vir Jesus jou waardige gehoorsaamheid in elke verhouding. Asem dan die genade wat slegs ‘n lewe in die Gees voorsien in. Amen!

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE