Die Man Wat Christus Gemis het | World Challenge

Die Man Wat Christus Gemis het

David WilkersonFebruary 1, 1984

Ek wil vir jou die mees tragiese mens in die geskiedenis wys. Hy is nie Judas nie; hy is nie Herodus nie; hy is nie eens ‘n hater van God nie. Hy was ‘n seun van Dawid, ‘n koning in Jerusalem en ‘n tipe van die hartseerste, mees patetiese mens op aarde.

Luister eers asseblief klaar as ek vir jou sê dat ‘n Ou Testament koning, jare voor Bethlehem en Gólgota, Christus gemis het. Hoe kan ‘n mens Christus mis, eeue voor Hy gebore is?

Christus is geopenbaar dwarsdeur die Ou Testament. Trouens, dit is die belangrikste rede waarom dit gegee is – dit wys ons na Christus toe. Dit was op die pad na Émmaüs toe Christus aan twee van Sy dissipels die waarheid oor Homself in die Ou Testament geopenbaar het: “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte van die dinge wat op Hom betrekking het” (Lukas 24:27).

Vanuit Sy eie lippe, het Christus gesê Hy behoort gevind te word van Moses af dwarsdeur die profete. Die kinders van Israel het “dieselfde geestelike spys geëet...en almal dieselfde geestelike drank gedrink...want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Korinthiërs 10:3,4). Christus, die Rots, was in die woestyn. Hy het hulle gevolg en hulle het Sy geestelike kos geëet en gedrink.

Salomo het ook Christus se geestelike drank gedrink en Sy geestelike voedsel geëet. Vir ‘n tyd land het hierdie koning sy Geliefde in sy kamer ingebring en hom in Sy liefde verlustig. Salomo was by die Here se onthaalsaal. Hy het onder Sy banier van liefde gesit. Hy het groot wysheid gehad en in sy gees, het hy die Roos van Saron aangeraak en die Lelie van die Dale gesien. Hy het in Sy skaduwee gesit met blydskap. Hy het Christus se hand onder sy hoof gevoel en Sy regterhand het hom omhels. Sy grootste blydskap was die geluid van Sy stem.

Maar daar het ‘n tyd gekom waarin hy die Geliefde se stem gehoor sê het, “Salomo, my geliefde...staan op, my vriend, my skone, kom dan tog...” (sien Hooglied van Salomo 2:10). Die boodskap is onmiskenbaar. Ek sien dit so duidelik! Salomo het die hoë roeping van God in Christus gehoor. ‘n Oproep om sy siel te versadig met niks anders nie as daardie geestelike drank, daardie geestelike brood. Die was ‘n oproep om verder te gaan as wysheid, na wegraping, om die liefhebber van sy siel te sien en om verander te word in die innerlike mens.

Dit was ‘n oproep om sy wingerd skoon te maak van elke jakkalsie wat sy wingerstokke vernietig het. Dit was ‘n oproep om uit te reik na die dieptes, na geestelike groen weivelde van goddelike openbaring en ‘n Here hoog en verhewe te sien. Hy was geroep na ‘n weiveld tussen die lelies (Hooglied van Salomo 2:16). Vir Salomo is gesê, “Vlug, kom aan, my beminde, maak soos die gemsbok of soos die jong takbok op die berge...” (2:17). Kom en smag na die Geliefde soos die hert smag na water op die berge van skeiding.

Het Salomo gehoor God roep hom na ‘n lewe van absolute toewyding en afsondering? Sal hy opstaan, homself skud en alles wat hom bind aan aardse dinge laat staan en ontsnap na die berg saam met God? Sal hy antwoord op die hoë roeping en “kom”? Twee keer het die oproep gekom – “Staan op en kom saam met my.”

Sal Salomo wegdraai van die koningin van Skeba en by die voete van sy Geliefde gaan sit? Sal hy al die goeie dinge wat God vir hom gegee het laat staan – die applous, die middelpunt van die verhoog, die prag, die rykdom – en dit alles as tevergeefs en ‘n gejaag beskou? Sal hy antwoord gee op die hoë roeping en Hom soek wie sy siel liefhet? Sal hy besef dat selfs goeie dinge ons visie van Hom kan laat vervaag?

Is Salomo se hart werklik gesteel deur sy Geliefde? Sal jy op bly deur die nag terwyl hy na Hom smag? Sal hy by die berg uitkom om die hoë roeping te aanvaar?

Daar is ‘n probleem! Salomo is ‘n man vol wellus! Hierdie man van God het ‘n twis wat in sy siel gewoed het. Hy het ‘n duisend jakkalsies in sy wingerd gehad wat al die vrugte opgevreet het – sewehonderd vroue en driehonderd byvroue: “En koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad...uit die nasies waarvan die HERE aan die kinders van Israel gesê het: Julle mag nie met hulle meng nie, en hulle sal voorwaar julle hart velei agter hulle gode aan – Salomo het hulle met liefde aangehang” (1 Konings 11:1,2).

God sal nie bespot word nie. Maak nie saak of hierdie man van God die mees begaafde man op die aarde was nie – hy het probeer om die beste van twee wêrelde te hê. Hy wou sy geliefde Here hê – en sy jakkalsies. Maar sonde word altyd geopenbaar. “En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie vokome met die HERE sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie...So het Salomo dan gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here en nie volgehou om die HERE te volg...nie...” (1 Konings 11:4,6).

Daar is dit in al sy lelikheid. Die Geliefde het gesê, “Kom dan tog.” En Salomo het “nie volgehou om die HERE te volg...nie...”

Laat my vir jou wys wat gebeur met die man wat die hoë roeping van God in Christus Jesus mis! Hierdie duidelike lesse moet ons skud tot in ons geestelike been en murg. God sê iets aan ons met hierdie tragedie. Kyk na die gelykmatige afwaartse stappe van ‘n man wat oorgee aan die vlees.

1. God het sy teëstanders teen hom in opstand laat kom!

“Daarom was die HERE toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die HERE, die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het” (1 Konings 11:9). Hy het alles wat hy gehad het in gedrang gebring. God was nou sy teenstander. Die koninkryk sou stadig van hom af weggeskeur word en aan ‘n ander gegee word. God het in wese aan hom gesê, “Ek sal dit nie alles wegneem nie, maar jy sal net ‘n skaduwee wees van wat jy eens was. Mense sal uiterlik nie die verskil sien nie. Jy sal op jou pad voortgaan met die uiterlike dop ongeskonde, maar innerlik, sal jy stadig disintegreer. Jy sal weet Ek werk nie langer met jou nie. Jy is op jou eie. Jy het die salwing verloor weens sonde.”

God het sy hand van Salomo afgehaal– en van daardie dag af was die beskutting af en God het vyande verwek om hom te teister. “En die HERE het vir Salomo as teëstander verwek Hadad, die Edomiet” (1 Konings 11:14). Weer in vers 23, “God het ook as teëstander vir hom verwek Reson, die seun van Éljada.”

Dit is tragies om Oordeel op sonde en tugtiging te misgis met die werk van Satan – as God daaragter is. God het hierdie man steeds liefgehad en Hy het self hierdie vyande in opstand laat kom. Satan mag die werktuig gewees het, maar God was die dryfveer agter dit alles. God het gehoop om Salomo tot sy sinne te bring en gemeenskap en kameraadskap met hom te herstel.

Koning Hadad het eendag opgestaan met ‘n wrok in sy hart teenoor Salomo, miskien selfs verras deur sy skielike drang om dinge vir hom moeilik te maak. Sy gedagtes moes seker as volg gewees het: “Wie dink hierdie man is hy – hy poog om so ‘n groot man van God te wees, terwyl hy in weelde lewe, mense saamdrom om sy wysheid te hoor, hulle geskenke bring, en hom behandel asof hy ‘n god is! Laat ons op hom jag maak, hom openbaar en sy swakheid vind!”

Vir jare het Reson nie gewaag om sy stem teen Salomo te verhef nie. Maar op ‘n sekere dag was hy vreemd opstandig. Hy het sy raadgewers geroep, en hulle was ook teen hom opstandig, “Want hy is geen man van God nie,” het hulle gesê; “Hy is ‘n politikus. Die koningin van Skeba luister na hom; wêreldleiers ontvang hom en luister na sy raad. Laat ons probleme veroorsaak en dinge vir hom moeilik maak. Hy is nou ons hoofteiken. Laat ons hom tot ‘n val bring!”

Die ergste hou het van Salomo se eie huishouding gekom toe Jeróbeam, die seun van ‘n dienskneg, “sy hand opgehef [het] teen die koning” (1 Konings 11:26). Salomo het hom liefgekry en het hom ‘n vertroueling gemaak. Hy was aangestel oor die huis van Josef, maar die jongman het hom in die rug gesteek, by wyse van spreuke. Hy het gerebelleer en gedraai teen sy weldoener, Salomo. Nou het Salomo vyande van buite en van binne gehad.

Verstaan asseblief, dit is moontlik om te ly vir geregtigheid. Dit is moontlik om vervolg te word ter wille van Chrstus, om die evangelie so kragtig te verkondig dat die hele hel probeer om dit stop te sit. Maar baie van wat ons vandag sien, is die werk van God – en dit word toegeskryf aan Satan.

As God se kinders hulleself nie sou verneder en die vlees en die wêreld laat staan nie, het hulle teenstanders nodig om hulle wakker te maak. As God se kinders nie politiek sal laat staan en terugkeer daarna om Christus te verkondig nie, as hulle nie sal toelaat dat die Heilige Gees hulle verneder en reinig nie – het God die volle reg om vyande te verwek.

Dit was God se man waaroor ons praat. Die Here het twee keer aan hom verskyn. Hy was magtig gesalf. Maar Salomo moes met God onderhandel – nie met Satan nie! Dit is nie naastenby so skrikwekkend om in die hande van die duiwel te val as wat dit is om in die hande van ‘n woedende God te val nie. En God was kwaad vir Salomo.

Ons is so blind. Ons kan nie besef nie dat God aan die werk is en die koninkryk afskeur van die ongehoorsame en trotse mense, deur teenstanders te gebruik om kinders van God tot hulle geestelike sinne te bring; sensualiteit en kompromie in die bediening stop te sit; diegene tugtig wat nie ag gee op die hoë roeping van God in Christus vir bekering en heiligheid nie.

Jy mag dalk weet van een of ander regverdige dienskneg van God wat groot vervolging ly en jy het die getuienis dat Satan daaragter is. Hierdie man soek nie die kollig nie. Hy is afgesonder met God en sy boodskap wys dit. Hy is volkome toegewy aan Christus en hy lewe ‘n nederige, vlekkelose lewe voor die wêreld. Jy hoor sy ontwaakte stem roep om bekering. Hy bring liefdevol die eise van die evangelie en hy onstel die vyand se nes. Satan gaan agter hom aan, fisiek, verstandelik en met al die planne in sy arsenaal. Die pers kruisig hom; predikers lag en bespot hom. Maar daardie man weet hy is rein en skoon in God se oë – en jy weet dit. Hy het ons gebede en ondersteuning nodig. Die Here sal hom bring na hoër grond.

Maar daar is ‘n ander man van God, onder ernstige spervuur en vervolging. Die pers hou hom voor vir publieke bespotting. Sy oordadige leefstyl word voor die wêreld geparadeer. Dit lyk soos ‘n sameswering om hom tot ‘n val te bring en sy bediening te beëindig. Een vyand trek terug en ‘n volgende word opgerig. Hy word beskuldig, bespot, en weerspreek. So, die man gaan rond en soek simpatie en liefde. Die applous van sy vriende hou hom staande. Tog is daar diep in sy hart ‘n vermoede dat God agter dit alles is. Iewers het hierdie man dit gemis. Hy het te besig, te beroemd, te selfgesentreerd geword om te antwoord op die hoë roeping van God om dieper in Christus te gaan. En alle ware oordeelkundige oorwinnaars kan dit agterkom. Hulle weet God probeer hom terugbring na sy geestelike wortels.

As ek geteister word deur goddelose vyande, moet ek liewer uitvind wie hulle gestuur het: God of Satan? En as daar sonde in my lewe is, weet ek waar hierdie vyande vandaan kom! Ek hoef nie enige pos uit te stuur om te vra vir geld om die duiwel te help bestry nie. Ek durf nie vir mense vertel die duiwel is kwaad vir my as dit die heeltyd God is wat kwaad is vir my nie.

2. Nog ‘n stap afwaarts – die verlies van die Geliefde se teenwoordigheid.

Luister na hierdie jammerlike gehuil – “Ek het vir my beminde oopgemaak, maar my beminde het weggedraai, verbygegaan; ek het my besinning verloor toe hy gespreek het; ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie; ek het na hom geroep, maar hy het my nie geantwoord nie” (Hooglied van Salomo 5:6).

Jy begin jammer voel vir hierdie man, omdat hy steeds smag na die intimiteit wat hy eens geken het, maar hy is nie gewillig om die prys te betaal om herstel te word nie. Hy speel aan die een kant steeds met die jakkalsies, is steeds wellustig – maar aan die ander kant, wil hy voortgaan om die teenwoordigheid van die Geliefde te geniet. Hy kom strompelend uit sy koninklike bordeel, dronk met die verbode wyn van wellus en hy gaan uit en soek die Geliefde. “Waar het hy heengegaan? As julle my geliefde vind, sê vir hom ek is krank van liefde vir hom....” Maar dit dra geen gewig nie. Dit is nou ‘n skaduwee, ‘n herinnering – aan die ander kant van die venster, anderkant die traliewerk.

Die Geliefde sal nie intiem wees met ‘n ontroue minnaar nie. Geen wonder Salomo het die visioen van sy Geliefde verloor nie. Geen wonder die Here het nie geantwoord toe hy geroep het nie. Geen wonder eensaamheid en wanhoop het ingesluip nie. Deur trane van smart en verskriklike onheilspelling, was Salomo teruggelok na sy sonde, keer op keer. Hy was verskeur tussen twee liefdes. Dit was toegee, berou, toegee, huil, toegee, spyt, toegee, smag na God, toegee, bid. Maar heeltyd het die vlees geheers.

Ek sien Christene wat die hoë roeping van God in Christus gemis het weens wellus en sonde, en dit is onvermydelik dat hulle berou het. Die blydskap van die Here is weg van hulle af. Waar hulle eens vrymoedig gepraat het, het hulle nou vrae gevra. Hulle praat oor hulle geestelike honger, hulle behoefte om Christus beter te leer ken, maar daar is meer skaduwee as werklikheid daaraan. Jy kan daardie peinsende kyk wat sê, “Ja, ek het Hom werklik lief – het Hom nodig – maar ek kan nie breek met hierdie ding wat ‘n houvas op my het nie! Hulle kan jou nie in die oë kyk nie.

Ek kan aan niks ergers op aarde dink as om die gevoel van Christus se teenwoordigheid te verloor nie. Ons kyk terug na hierdie hartseer beeld van Salomo en wonder hoe so ‘n geseënde en begaafde man sy goeie naam, sy plek in die geskiedenis, sy koninkryk en sy plek in God kan verruil – vir die reg om homself te verlustig in sy onbeheerbare passies.

Is dit dieselfde man wat eens voor Israel gestaan en hulle vermaan het, “HERE, God van Israel, daar is ... geen God soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart... As die hemel toegesluit bly...omdat hulle teen U gesondig het...as elkeen die plaag van sy hart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei... wil U dan hoor...en vergewe...As hulle teen U sondig...en U op hulle toornig is...en hulle hul bekeer met hul hele hart en met hul hele siel...en vergeef u volk  wat hulle teen U gesondig het...sodat Hy reg kan verskaf aan sy kneg...” (1 Konings 8).

Wat ‘n kragtige prediker was Salomo eens! Watter wonderlike lig het sy siel oorstroom. Maar hy het die hoë roeping gemis. Hy het gekies om nie die hart van sy Geliefde na te jaag nie, om plesiere na te jaag. In sy laaste dae, het hy die jonges vermaan, “En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek wat jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie” (Prediker 12:1).

3. Laastens – Salomo het niks anders as leë drome oorgehad nie.

Deurdat hy weggedraai het van ‘n hemelse visie, het hy behep geword met ‘n aardse een. Salomo het ‘n bouer geword en die meeste van sy tyd deurgebring met argitekte en kontrakteurs. Vir die vleeslike gedagte, was hy ‘n man van groot visie en dapperheid – avontuurlike gees wat groot dinge doen. Sy projekte was asemrowend. Die man wat geen tyd gehad het om te “kom” saam met die Geliefde nie, het die tyd gehad om “groot werke [te] onderneem” (Prediker 2:4).

Salomo was behep met ‘n passie om pragtige geboue, baddens, wingerde, tuine en boorde te bou. Hy het die grootste tempel in die wêreld gebou. Hy het 13 jaar spandeer om vir homself ‘n pragtige paleis te bou. Hy het ‘n ongewone somerhuis ontwerp in die woude van Libanon. Hy het ‘n hofsaal, forte, steen stede, wa-dorpe, en nuwe stede in veraf lande gebou. Ses myl oos van Jerusalem, by Ain Karim. Het hy groot tuine en boorde en pragtige parke geplant. Hy het opgaardamme, baddens en akwadukte gebou om water na Jerusalem en sy uitgestrekte kwekerye te lei.

Die koning het ‘n beesboer geword en groot kuddes beeste en osse, sowel as troppe skape en eksotiese perde geteel. Hy het 1,400 waens en 12,000 ruiters gehad. Joséfus het gesê sy wadrywers het lang, vloeiende hare gehad wat met goue stof gepoeier was en het kostuums van Tiriese pers gedra.

Salomo het ‘n vloot gevestig. Hy het handel gedryf met goud, ivoor, silwer, mooi klere, hout, speserye, poue en ander eksotiese diere. Hy het vir homself ‘n groot troon van ivoor gemaak en dit met goud bedek. Sy drinkbekers was van goud. Daar was so ‘n oorvloed dat niemand van alles rekening gehou het nie. Hy het ruim juweliersware op sy gaste en vroue uitgestort. Hy het groot feesmaaltye gevier en sy eie private kore en orkeste laat speel. Hy het sy gaste plesier verskaf met musiek, wyn en danse.

Die koningin van Skeba het na haar asem gesnak toe sy Salomo se koninklike kavalkade in al sy manjifieke prag gesien het. Sy goue waens, sy groot afdeling lyfwagte, ruiters en opsigters – wat ‘n gesig as hulle op pad was na een van Salomo se “paradyse.”

Maar wat die koningin van Skeba nie geweet het nie, was dat Salomo die eensaamste, mees ontnugterde mens in die koninkryk sou word. Teen die einde, het hy slegs deur die mosies gegaan. Elke nuwe bouprojek, elke nuwe aankope, het hom innerlik meer verpletter en ontnugter gelaat. Sy sukses in die natuurlike realm het homself selfstandig, ‘n man van deursettingsvermoeë gemaak. Hy was so opgebeur deur hierdie sigbare sukses en besittings, dat hy sy geestelike agteruitgang veronagsaam het. Hy het soveel selfvertroue gehad en verhewe gevoel toe hy sy hele koninkryk beskou het, dat hy geen behoefte daaraan gehad het om homself te ondersoek nie. Sy invloed en eiendomme het hom so vrymoedig gemaak om sy eie koers te bepaal, na geen raad te luister nie, en sy eie drome na te jaag.

Wanneer sigbare dinge die bekoring en die middelpunt van aandag word, word die hart koud. Salomo het afvallig en ‘n slaaf van die sigbare geword. Vir ‘n kort rukkie het hy sy projekte geniet. Hy kon sê, “Want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid” (Prediker 2:10). Maar kort voor lank hoor ons hom bely, “Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het – en kyk, dit was alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie...Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk...het my mishaag...Daarom het ek my begewe om my hart aan wanhoop oor te gee” (Prediker 2:11-20).

Hoe verskriklik hartseer! Hy was bewonder as ‘n man van visie en dryfkrag. Maar min het die skares geweet dat hy ‘n diep bekommerde man was. Hy het al sy projekte gade geslaan en dit het hom siek gemaak! In wese het hy gesê, “Hoe nutteloos! Watter nut is al hierdie materiële dinge? Dit het my geen geluk gebring nie!”

Ek was daar, in ‘n klein mate. Ek ken daardie sinkende gevoel, daardie gevoel van nutteloosheid. Ek het beplan en gebou – weke op bouterreine deurgebring, planne bestudeer, vir my self gesê ek doen dit alles “tot eer van God.” Ek het vir Jesus gebou – of so het ek vir ander gesê. Maar niks daarvan het vir my geluk gebring nie, maar het my op die ou end neerslagtig gemaak. Ek het altyd gedink, “Ek is so siek van geboue – so moeg om geld in te samel. Ek wens iemand kon kom en dit alles oorneem.” Toe eendag, het ek die hoë roeping van God gehoor om dieper in Christus in te gaan. Dit was slegs toe dat ek besef het ek was besig met al daardie aktiwiteite omdat ek aanraking met my Geliefde verloor het.

Ek moes dit alles prysgee. Ek kon nie meer my tyd deurbring met sulke leë drome nie. My droomplaas moes gaan. My droom-Bybelskool moes gaan. My Swart Angus kudde moes gaan. Ek het gehoor dat God my roep, hard en duidelik – “David, jy is besig om op die verkeerde pad te gaan. Kom dan tog weg saam met My. Ontmoet my op die berg. Kom na die dal van die lelies. Kom ontdek die Roos van Saron. Kom, omhels My, en Ek sal jou versadig met geestelike lewe, vrede en blydskap!”

Kyk na alles wat Salomo gebou het, en jy sal ontdek hy het materieel probeer namaak wat hy geestelik verloor het.

  • Akwadukte en baddens, in plaas van lewende water.
  • Groen weivelde en koel waters by Ain Karim, in plaas van die Geliefde se groen weiveld en koel waters van Psalm 23.
  • ‘n Tempel met goud oorgetrek in Jerusalem, in plaas van ‘n geetelike tempel van die Heilige Gees.
  • Sy eie beeste op ‘n duisend heuwels, in plaas van al Sy beeste op ‘n duisend heuwels.
  • Kore van manne, in plaas van kore van engele.
  • ‘n Troon hier, in plaas van ‘n troon daar.
  • Die waens van Salomo, in plaas van die waens van die Here van die leërskare.
  • ‘n Paleis hier, pleks van ‘n herehuis daar.
  • Strate van goud in Jerusalem, in plaas van strate van goud in die Nuwe Jerusalem

Is dit nie duidelik nie dat Salomo probeer het om met sy hande te bou wat hy verloor het in sy hart? Dink jy dat ‘n man van God wat die Here Jesus Christus najaag tyd het om te peuter met aardse drome? Die man van God behoort te sit in hemelse plekke saam met Christus Jesus en al sy tyd deurbring om God se planne te hoor en met Hom te gesels, sodat hy kan afkom en ‘n geestelike huis bou!

Waarom is daar so baie opregte kinders van God vasgevang in soveel projekte, massiewe bouprogramme en tydrowende drome? Dit moenie impliseer dat alle bouprojekte tevergeefs is nie. Ek twyfel nie daarin dat baie van God se dienaars werklik geïnteresseerd is om net ter wille van die heerlikheid van die Here te bou nie. God het Sy bouers en pioniers – hulle is die manne wat bou slegs uit nood. Hulle verdien aanmoediging en ondersteuning.

Aan die ander kant, het ek geen twyfel nie, dat baie van die godsdienstige bouery en beplanning vandag die gevolg is van manne van God wat die hoë roeping gemis het. Hulle het die geestelike misgeloop en daarom wend hulle hul tot die materiële. Hulle bou met hulle hande, omdat hulle gaan staan het in hulle najaag van Christus. En die besigste man het die grootste planne – “Hoe meer vertoon, hoe minder diepte.”

Dit is nie net op predikers van toepassing nie. Die mense op die kerkbanke neig in dieselfde rigting. Waarom is Christene so bekoor met huise, gronde en voorspoed? Waarom word weelde, gemak en plesier nagejaag? Dit is omdat die hoë roeping van God geweier word. Self is in beheer. Sekuriteit en plesier het die las van die Here vervang.

Gevolgtrekking: Paulus was die man wat Christus as wins verkry het!

“Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry” (Filippense 3:8).

Soos Salomo, was Paulus twee keer besoek deur die Almagtige – een keer op die pad na Damaskus en toe by die huis van Judas in Damaskus toe hy die Heilige Gees ontvang het. Paulus kon voortgegaan het op die krag van die inisiële besoekings en rondreis en sy bonatuurlike getuienis gee. Hoe opwindend sou dit wees. Maar Paulus het God gehoor roep tot iets beter. Hy het dieselfde oproep gehoor wat Salomo gehoor het – die Geliefde het gesê, “Kom dan tog. Kom na My tuin en leer van My.”

Paulus het agter sy Geliefde aangegaan na Arabië. Hy was mal – volgens alle evangeliese standaarde – om onmiddellike aanvaardig en erkenning prys te gee. Siele was besig om te sterf, hy was gesalf. Waarom nie gou gaan na die oeslande wat ryp is nie? In plaas daarvan, het hy homself afgesonder, alle godsdienstige eise nagelaat. Hy het alles vergeet en hom uitgestrek na die beloning. Christus was alles! Arabië was vir Paulus die groen weivelde, die dal van die lelies, ‘n banketsaal van liefde, ‘n feesmaal van lewende brood – waar die Roos van Saron gesien kon word in volle blom, in al Sy heerlikheid en majesteit.

Dank God daar is ‘n beroering onder God se kinders. Sy hoë roeping word gehoor deur talle honger dienaars van die Here. Daar is ‘n dringheidheid wat ek in baie harte vind – om afgesonder te word met God, om verder en dieper in Christus te gaan. Ontevredenheid bring baie aan die einde van hulleself. Ek hoor dit oral waarheen ek nou gaan – “Daar moet méér wees! Ek moet Jesus sien! Ek wil uitgaan, Hom tegemoet. Ek wil ‘n vars openbaring van Hom hê. Ek is honger vir Sy volheid. Ek is siek van die oppervlakkigheid, die besigheid, die bohaai, die windmakerigheid. Ek wil Jesus sien!”

Tyd raak min – die hoë roeping sal binnekort nie meer van gehoor word nie. Sal jy “Kom...en uitgaan na hom?” Ek wil nie staan voor Christus se Oordeelstroon en Hom vir my hoor sê, “Ek het geroep, maar jy het geweier” nie. Om geoordeel te word vir ongeërgdheid, vir lighartigheid, vir apatie – wat ‘n verskrikking!

Christus moet nou Here van alles wees, of Hy kan glad nie Here wees nie!

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE