Die Mantel van Elia | World Challenge

Die Mantel van Elia

David WilkersonJanuary 17, 2000

Tweede Konings 2 bevat een van die mees skouspelagtige gedeeltes in die hele Ou Testament. Hierdie hoofstuk vertel van die wonderbaarlike storie van die bejaarde profeet Elia en sy dienaar Elisa. Waar ons met die verhaal aangaan, het God Elia ingelig dat sy bediening op die aarde verby was. Hy sou nou die Jordaanrivier oorgaan en na ‘n sekere plek toe gaan waar ‘n hemelse strydwa hom sou optel en in heerlikheid opneem.

Terwyl die ou profeet aan sy laaste dag op aarde gedink het, het hy besluit om die dorpe van Bet-el en Jérigo te besoek. Hy het sy dienaar, Elisa genooi om saam met hom te gaan en die twee het vertrek op wat ek sien as ‘n “onderrig reis.” Nadat hulle beide dorpe besoek het, het hulle op die oewer van die Jordaanrivier aangekom. Elia het sy mantel — ‘n wye, lospassende kleed of oorjas — afgehaal, en hy het die water daarmee geslaan. Die water het bonatuurlik verdeel en die twee mans het op droë grond deur geloop (sien 2 Konings 2:8).

Toe hulle aan die anderkant kom, het Elia na sy dienaar gedraai en vir hom gesê, “Begeer wat ek vir jou moet doen, voordat ek van jou af weggeneem word” (vers 9). Sonder aarseling het die jongman geantwoord, “Laat dan tog ‘n dubbele deel van u gees op my kom” (dieselfde vers).

Met die eerste oogopslag, lyk dit of Elia verras was met Elisa se reaksie. Hy het gesê, “Jy het ‘n harde saak begeer...” (vers 10). Toe antwoord hy, “...As jy my sien wanneer ek van jou af weggeneem word, laat dit dan so met jou wees” (dieselfde vers). Hy het in wese gesê, “As jy my sien wanneer die Here my wegneem, sal jou begeerte vervul wees. Maar as jy die aksie misloop, sal jy teleurgesteld moet teruggaan huistoe.”

Terwyl hulle op pad was, het daar skielik ‘n strydwa uit die hemel verskyn en die mans geskei. In ‘n oogwenk, was Elia in die wa opgeneem – en Elisa het die toneel gade geslaan. Hy het uitgeroep, “My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters! En toe hy hom nie meer sien nie, het hy sy klere gegryp en dit in twee stukke geskeur” (vers 12).

Elia was weg – maar sy mantel het op die grond geval. Toe Elisa dit sien, het hy sy eie klere afgeruk, dit in stukke geskeur en Elia se mantel aangetrek. Toe het hy teruggekeer na die Jordaan en gedoen net soos sy meester gedoen het: Hy het die mantel afgehaal en die water daarmee geslaan. Onmiddellik het die waters verdeel en Elisa het op droë grond deurgeloop. So het die jong profeet se eie merkwaardige bediening begin.

Die gebeure in hierdie hoofstuk is absoluut ontsagwekkend. Wat sê hierdie gedeelte egter vir ons vandag? Ek glo God het hier vir ons ‘n onmiskenbare les gegee met ‘n duidelike, eenvoudige betekenis: God wil groter dinge doen met elke opvolgende geslag. En elke nuwe geslag moet die Here soek vir sy eie belewenis van die Heilige Gees en sy eie uitstorting van krag van Hom.

Dit is wonderlik om te lees waar God die Rooisee vir Moses oopgemaak het en die Jordaan vir Josua. Maar dit is vir ons ‘n ander storie om God te vra om wonders vir ons te doen. Dit is egter presies wat die Here vir ons begeer. Hy wil wonderwerke verrig en meer van sy Gees vir sy mense beskikbaar maak, ver bo alles wat ons in die verlede gesien het. Hy verlang daarna om ons geloof meer en groter te maak – sodat ons, nes Elisa, sal vra vir ‘n dubbele deel van sy Gees tot sy heerlikheid.

In hierdie Ou Testament toneel, is Elia ‘n tipe Christus wat opvaar na die Vader. En Jesus beloof ons, “Jy gaan groter werke doen as wat Ek gedoen het, omdat Ek na my Vader gaan” (sien Johannes 14:12). Hy sê in wese, “Jy gaan meer van my salwing, mag en gesag nodig hê as wat enige ander geslag in die verlede gehad het. En my Gees gaan jou toerus met alles wat jy nodig het om te oorwin.”

1. My eerste vraag in die storie was, waarom het Elia Elisa op hierdie warrelwind reis geneem?

Waarom wou die ouer profeet hê dat sy dienaar hom vergesel na Bet-el en Jérigo? Dit was sekerlik nie net ‘n sentimentele reis vir Elia en een laaste terugblik nie. Nee – hierdie wyse ou man wou Elisa leer – sowel as vir ons vandag – dat ons ‘n behoefte het vir meer van God se krag en salwing.

Die twee mans het eerste by Bet-el, wat “huis van God” beteken aangekom. Bet-el het inderdaad ‘n groot geestelike erfenis gehad. Jakob self het sy offer daar gebring. Oor die jare, het daar egter iets met die stad gebeur. Jerobeam het ‘n goue kalf daar opgerig en gou was die mense verslaaf aan afgodery. Met die gevolg dat ‘n hele geslag verlore geraak het in skeptisisme en bespotting, terwyl hulle hul kinders beroof het van elke spoor van Bet-el se geestelike wortels.

Dinge het so sleg gegaan, dat hierdie mense waarskynlik Elia en Elisa gespot het toe hulle daar aangekom het. Hoe weet ons dit? Net ‘n dag of so later, toe Elisa teruggekeer na Bet-el, het die jongmanne van die dorp uitgehardloop om hom te spot.

Terwyl hulle deur die strate geloop het, het Elia waarskynlik sy dienaar se afgryse en verontwaardiging oor die algehele afvallige samelewing opgemerk. Elia het in sy tyd self ook spotters getrotseer op die berg Karmel. Maar hy het geweet dit sou ‘n selfs groter bonatuurlike krag vereis om hierdie nuwe geslag te trotseer. Hierdie jongmense was baie meer verhard en goddeloos as die afgodiese priesters teen wie hy geveg het.

Ek glo dit was op hierdie punt dat Elia besluit het om sy dienaar te toets. Hy het heel waarskynlik voorgestel, “Elisa, waarom vestig jy jouself nie hier en wees ‘n herder vir hierdie mense nie? Jy het ‘n defnitiewe roeping en jy is goed opgelei. Jy kan help om Bet-el se erfenis te herstel.

Ek is seker Elisa het geluister, omdat hy geweet het dat sy meester magtige onderskeiding gehad het. Tog glo ek hierdie jongman het gou die storie van ‘n ander profeet onthou. God het ‘n sekere anonieme segsman na Bet-el gestuur om teen Jerobeam se afgodery te profeteer. Hierdie profeet het uitgeroep, “Jerobeam, jou goue kalf gaan val” – en onmiddellik het die afgod van die altaar afgeval en as gemors. Toe Jerobeam dit sien, het hy uitgereik om die profeet te slaan – maar skielik was sy hand verlam.

God het hierdie naamlose profeet se bediening met ander bonatuurlike dade bevestig. Tog was dieselfde heilige profeet later verlei en in die gedrang gebring deur ‘n gebrek aan geestelik krag.

Terwyl Elisa die situasie in Bet-el bekyk het, het hy geweet hy was nie gereed om in opstand te kom teen die bose geeste daar nie. Hy het besef wat Elia die heeltyd geweet het – die noodsaaklikheid vir die Heilige Gees om ‘n groter, kragtiger werk in hom te doen voor hy die boosheid in so ‘n bose stand kon teëstaan. Daarom het hy vir sy meester gesê, “So waar as die HERE leef en u siel leef, ek sal u nie verlaat nie...” (2 Konings 2:6). Dan sê die Skrif, “...En hulle twee het gegaan” (dieselfde vers).

Ek glo Bet-el verteenwoordig die soort boosheid waarin ons samelewing verander het in net ‘n geslag se tyd. Ons leef ook tussen spotters – sensuele mense wat oorgegee is aan wellus, afgodery en homoseksualiteit. En die huidige geslag is baie erger as enige geslag wat Elia of Elisa ooit mee te doen gehad het. Hierdie heilige profete het gesien hoe kinders spot en laster – maar Amerika se kinders vermoor mekaar. Tien-jaar-oue seuns verkrag vyf-jaar-oue meisies. Jong kinders vermoor sonder skuldgevoelens of berou – hulle maak ouers, klasmaats en onskuldige vreemdelinge dood.

Ek wil nie graag ‘n breedvoerige oordeel teen alle jeug uitspreek nie. Ek weet daar is baie goddelike tieners in hierdie samelewing wat aan die brand is vir Jesus. Ek dank God vir elke jongmens wat ‘n stand vir Christus inneem in hierdie bose tye.

Hierdie bose dag vereis dat God se mense ‘n dubbele deel van sy krag en gesag verkry om in staat te wees om die verlore geslag te bereik. Dit vereis ‘n mate van salwing wat ons nog nooit tevore in die geskiedenis gesien het nie. Dit vereis dat ‘n heilige oorblyfsel opstaan soos Elisa en uitroep, “O, Here – meer is nodig.”

2. Ons weet hierdie reis is nie vir Elisa se saak alleen nie, maar om elke daaropvolgende geslag te onderrig.

Elia en Elisa het voortgegaan na Jérigo, wat “’n plek genaamd aangenaam” beteken. Hierdie stad was nou egter dor, droog en heeltemal leweloos. Daar was geen bome nie, geen weivelde nie, geen vrugte nie. Alles het verdroog omdat ‘n stroom gif Jérigo se waterbron besoedel het.

Die stad verteenwoordig dooie, droë Christendom – ‘n kerk wat Jesus in Openbaring op hierdie manier beskryf: “Dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood” (Openbaring 3:1).

Elia het ‘n skool van profete in Jérigo gestig en waarskynlik het hy en Elisa die skool besoek. Sommige van die jong, opkomende profete het Elisa genader en gevra, “Weet u dat die HERE vandag u heer van u hoof sal wegneem?” (2 Konings 2:5). Elisa het hulle vinnig stilgemaak en gesê, “Bly stil.”

Hierdie sterk jongmanne van God was studente van die Skrifte. Hulle het selfs ‘n mate van profetiese visie gehad, omdat hulle geweet het dat Elia opgeneem sou word daardie dag. Dit was die geslag van bedienaars wat deur Juda en Israel gestuur sou word om die samelewing te bedien – skole te bou, die armes te voed en die woord te verkondig.

Maar duidelik het iets kortgekom in hulle: die krag, salwing en gesag van die Heilige Gees. Die volgende dag, sou hierdie bedienaars Elisa smeek om hulle toe te laat om Elia se liggaam te gaan soek, ingeval die Heilige Gees hom dalk op een of ander berg of vallei neergesit het. Hulle was heeltemal onkundig oor die maniere en werkinge van die Heilige Gees. Hulle kon getuig, preek en van wonderwerke praat – maar hulle het nog nie self God se krag beleef nie.

Elia het waarskynlik hulle gesprek met Elisa gehoor. En hy moes gewonder het of sy dienaar kon onderskei waarheen hierdie vleeslike bediening op pad was. Daarom het die ou profeet weereens hierdie jong protégé getoets. Klaarblyklik het hy voorgestel, “Elisa, jy kyk nou na die nuwe geslag bediening. Jy kan duidelik die gebrek aan die Gees se werk in hulle sien. Waarom vestig jy nie jouself hier en onderrig hierdie bedienaars in die weë van die Gees nie? Jy is net die man om hierdie dooie, droë, intellektuele kerk op te wek.”

Maar Elisa het geweet wat sou gebeur as hy hierdie bedienaars lei. Hulle sou bekoor bly met Elia se kragtige bediening – en hulle sou hom gedurig bombardeer met vrae daaroor: “Hoeveel ure per dag het jou meester gebid? Hoeveel tyd het hy in die boeke van die wet bestee? Watter metodes het hy gebruik? Watter leerstellings het hy gepreek?

Elisa sou op die ou en al sy tyd deurbring om te vertel van herlewings en wonderwerke van die verlede. En hierdie jong bedienaars sou al hulle energie gebruik om te probeer om klein Elia’tjies te wees met die hoop om sy wonderwerke na te doen – maar sonder die krag en gesag van die Heilige Gees.

Vandag het die kerk in dieselfde strik getrap. Ons bestudeer bewegings en herlewings van die verlede en soek na sleutels en probeer metodes ontdek om die vuur uit die hemel te bring. Vandat ek kan onthou, roep die kerk uit vir ‘n oudmodiese, Heilige Gees herlewing. Dit alles kom van ‘n begeerte om te sien, dat God iets wat Hy in die verlede gedoen het, herskep.

Elisa het nou sy mentor geantwoord, “Ek sal nie hier vertoef nie. Ek sal U nie verlaat nie” (sien verse 2,4,6). Hy het geweet hy kon nie iemand in hierdie dooie, droë kerk aanraak totdat hy sy eie aanraking van God gekry het nie. Hy kon nie op Elia se groot werke vertrou nie. En hy was nie van plan om tevrede te wees met enigiets minder as meer van die Gees wat sy mentor gehad het nie.

Hy het in wese vir Elia gesê, “Ek respekteer die geloof van my voorvaders, die geestelike reuse van die verlede. Maar ek weet die Here wil ‘n nuwe ding doen. En ek moet ‘n groter aanraking van Hom hê as enigiets wat ek ooit tevore gesien het.”

Ek wil teruggaan na die toneel by die Jordaanriver. Waarom het Elia daarop aangedring om op ‘n wonderbaarlike manier daardeur te gaan? Die Jordaan was nie ‘n diep, wye rivier nie en die Skrif gee geen bewyse dat dit in vloed was nie. Buitendien was daar vyftig sterk, jong profete aan die ander kant wat binne enkele ure ‘n vlot vir hulle kon bou.

Ek glo Elia wou sy opvolger leer dat die wonderbare oorgange van die verlede – van Moses, tot Josua, tot die huidige dag – alles antieke geskiedenis was. Hy wou Elisa uitdaag deur te sê: “Wanneer jy jou eie bediening begin en jy verkondig dat God ‘n God van wonderwerke is, moet jy getuig van dit wat Hy vir jou persoonlik gedoen het. Ek gaan binnekort weg wees, Elisa. En môre, wanneer jy terugkeer na hierdie rivier, wil ek hê jy moet op dieselfde wyse daaroor teruggaan as wat jy gekom het. Glo God vir die wonderwerke in jou eie lewe.”

Die meeste van ons het nie geloof om God vir ons eie wonderwerke te glo nie. Ons bring ons tyd deur om die ontsaglike wonders in die Skrif te bestudeer – maar heeltyd wil God vir ons sê, “Ek het iets selfs beters vir jou. Ek wil wonderwerke in jou lewe doen – om jou huis te verander, jou huwelik te herstel, jou ongereddes te red. Jy gaan jou eie Rooisee en jou eie Jordaanrivier moet deurgaan – en Ek wil daardie water vir jou verdeel.”

3. Nou oor die Jordaan, het Elia vir Elisa gesê, “Begeer wat ek vir jou moet doen voor ek van jou weggeneem word.”

Die ou profeet het nie dit aangebied soos ‘n gees wat hy uit ‘n lamp kan laat uitkom en drie wense laat waar word nie. Hy het dit vir Elisa aangebied as ‘n goddelike leermeester in die geloof. Dit was een laaste toets en hy wou sien hoe hierdie jong pleegkind sou reageer.

Ek glo die meeste Christene vandag sou geantwoord het, “Die samelewing is verwronge en dinge word net die hele tyd meer chaoties. Ek is moeg vir die stryd, moeg van die duiwel se teistering. Dit is nou gevaarlik om lewendig te wees. Elia, neem my saam met jou. Ek wil huistoe gaan. Daar is sekerlik plek vir twee op daardie wa.”

Ons uitroep as God se mense moet inderdaad wees, “Kom, Here Jesus.” Jesus sê egter vir ons, “Werk totdat Ek kom.” En terwyl Hy na die hemel opgevaar het, het Hy sy dissipels beveel, “Waarom staan julle hier en kyk? Gaan, wag totdat Ek weer kom.”

Elisa het geweet sy plek was op daardie stadium nog nie by die Here nie. Hy het geweet dat God steeds geween het oor die rebelse kinders van Bet-el en die onvrugbare kerk in Jérigo. En hy het geweet wat hy nodig gehad het: Hy moes bly om die verantwoordelikheid oor te neem om ‘n bose samelewing en ‘n dooie godsdienstige stelsel aan te vat.

Ek is seker hy het vir Elia gesê, “Jy het vir my die toestand van hierdie samelewing en hierdie kerk gewys. En jy weet ek gaan meer krag, salwing en gesag nodig hê as enigeen voor my ooit nodig gehad het. So, ek vra vir ‘n dubbele deel van die Gees wat God vir jou gegee het.” “Laat dan tog dubbele deel van u gees op my kom” (2 Konings 2:9).

Toe Elia dit gehoor het, het hy geantwoord, “Jy het ‘n harde saak begeer...” (vers 10). Vir wie, presies wou hierdie taak te hard wees? Sou dit te hard wees vir God? Sou dit te hard wees vir Elia, ‘n man wat die dooies opgewek het en vuur uit die hemel laat kom het?

Nee – dit sou hard wees vir Elisa. Dit was iets wat hy vir homself sou moes verkry. Elia het nie die vermoë gehad om sy dienaar met ‘n deel van die Gees, wat in hom was, toe te rus nie. Net God kan sy Gees aan die mens oordra.

Maar Elia het geantwoord, “...as jy sien wanneer ek van jou af weggeneem word, laat dit dan so met jou wees” (vers 10). Dit is belangrik om op te let dat die woord “wanneer” nie in die vers in die oorspronklike Hebreeus verskyn nie. Dit was later ingevoeg in die teks van die King James en ander vertalings. Daarom glo ek Elia sê vir Elisa, “As jy my sien dat ek van jou af weggeneem is.”

Elia het in wese gesê, “Die Heilige Gees kan nie ‘n besondere werk in jou doen so lank as wat jy steeds leun op my gedagtenis nie. Jy moet my beskou as weg. Jy het my nie nodig nie, Elisa. Wend jou tot die Here, Wie se Gees ook in my werk. Hy sal jou uitroep antwoord.”

Die oomblik toe hy sien hoe sy meester in die hemelse wa opgeneem word, het Elisa hierdie verantwoordelikheid op homself geneem om God se werk in sy geslag voort te sit. En terwyl jy by die Jordaan gestaan het en die water geslaan het, was die woorde wat hy uitgeroep het, “Waar is die God van Elia?” Die jong profeet het in wese gesê, “Here, al my geestelike voorvaders is dood en nie meer hier nie. En hierdie verskriklike uur vereis selfs meer as wat U tot dusver gegee het. Werk weer, Here – hierdie keer deur my. Ek moet bemagtig word met meer van u Gees.”

4. Elisa het teruggegaan na dieselfde twee stede en op sy spore met Elia teruggeloop.

Nou, nadat Elisa ‘n aanraking van God ontvang het, het hy voortgegaan in sy eie geloof. En sy eerste stop was Jérigo. Die kollege van vyftig profete het dadelik herken dat God se aanraking op hom was en het gesê, “Dieselfde gees wat op Elia was, is nou op Elisa.” Dit was vir almal duidelik dat hierde verborge dienaar in ‘n dieper krag en gesag van die Gees gewandel het.

Die jong profete het vir Elisa gesê, “...die ligging van die stad is goed soos my heer sien, maar die water is sleg, en die grond veroorsaak onvrugbaarheid” (2 Konings 2:19). Hulle het in wese gesê, “Daar is gif in die water en dit maak alles dood.” Klaarblyklik, was hierdie vyftig manne van God magteloos om te keer dat die gif dood na Jérigo gebring het.

Volgens Jesaja, verteenwoordig hierdie “aangename plek” die bediening: “Want die wingerd van die HERE van die leërskare is die huis van Israel, en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging...” (Jesaja 5:7). Ook verteenwoordig water hier die woord van God.

Sien jy die prentjie? Die vergiftigde waters van Jérigo dui op die besoedelde woord wat van die kansels af verkondig word. Hierdie manne van God het nog nooit met hulle eie sondes afgereken nie en daarom was hulle preke vol gif uit besoedelde harte. En hulle lewelose, vlees georiënteerde preke het geestelike dood onder die mense veroorsaak.

Wys vir my ‘n prediker in die preekstoel wat nie meer glo dat God se woord onfeilbaar is nie – wat die maagdelike geboorte verwerp het, wat verslaaf is aan ‘n geheime sonde en wat nie meer ween oor die sonde wat hy in God se huis sien nie – en ek sal vir jou ‘n kerk wys wat besig is om te sterf, weens die gif wat uit sy hart voortspruit.

Wat was die kuur vir die gif in Jérigo? Dit was om die watervoorsiening te reinig. En dit is presies wat Elisa gedoen het. Hy het ‘n skoon skottel geneem, dit volgemaak met sout en in die fontein van die stad se water gegooi. Gou was al die waters skoon en lewe het oral opgespring.

Natuurlik verteenwoordig die sout wat Elisa gebruik het, die evangelie van reinheid en heiligheid. En die skoon skottel wat hy gebruik het, verteenwoordig bedienaars wat gereinig is deur Christus se bloed en geheilig is deur die Gees se reinigende vuur en daardeur voorberei is om ‘n suiwer evangelie te verkondig. Geliefde, net hierdie dinge kan die bose gety in God se huis stuit: rein, suiwer voorwerpe wat in heiligheid wandel en ‘n suiwer woord verkondig met vars salwing.

Toe het Elisa teruggegaan na Bet-el – die besoedelde samelewing met ‘n verlore geslag jeug. En skaars het hy opgedaag of hy was gespot:

“En daarvandaan het hy opgegaan na Bet-el; en terwyl hy met die pad opgaan, kom daar klein seuntjies uit die stad uit wat met hom spot en vir hom sê: Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop! Toe het hy agter hom omgekyk en hulle gesien en hulle gevloek in die Naam van die HERE; en twee berinne het uit die bos gekom en van hulle twee-en-veertig kinders verskeur” (2 Konings 2:23-24).

Wat ‘n verskriklike toneel. Jy mag dink, “Hoe wreed dat God sou toelaat dat klein kindertjies deur bere aangeval word.” Maar die woorde “klein seuntjies” hier is ‘n swak vertaling. In die oorspronklike Hebreeus lees hierdie frase “jong mans” (Spurrell, Hebreeus).

Het Elisa hulle dood veroorsaak in ‘n selfsugtige woedebui omdat hy gespot is? Nee. Hierdie goddelike man het gewandel onder die krag en gesag van die Heilige Gees. Daardie spottende jongmans het inderdaad ‘n onuitspreekbare sonde gepleeg. Laat my verduidelik.

Die seuns het ongetwyfeld gehoor van Elia se opname in die hemel. Deur Elisa te treiter met die uitroep, “Gaan op, kaalkop,” het hulle egter die werk van die Gees bespot. Hulle het die waarheid van die Gees se heilige werk gehoor, maar hulle het dit nie aanvaar nie. Hulle aksies teen Elisa was ‘n daad van bespotting teen die bediening van die Heilige Gees – ‘n onvergeeflike sonde.

Jong predikers doen vandag dieselfde dinge wat die bedienaars in Bet-el gedoen het.

Vir baie jare was God geduldig met die afvallige kerk in Bet-el. Menigtes het daar saamgekom om te aanbid by ‘n altaar van tegemoetkoming. En die Here het baie profete, Elia ingesluit, gestuur om waarskuwings uit te spreek. Maar ‘n tyd het gekom waarin God nie meer die stad se afgodery en boosheid verdra het nie. Daarom het Hy vir oordeel gevra en het ‘n man met ‘n dubbele deel van die Heilige Gees  gestuur na hierdie bose omgewing. Elisa met gesag opgetree in Bet-el het oordeel teen hulle sonde verkondig.

Vandag vertrou te veel jong bedienaars op dieselfde vleeslike metodes waarop die afvallige kerk in Bet-el vertrou het. Hulle bring in God se huis die presiese musiek wat eers rebellie en sensualiteit in hierdie nasie ingebring het. Hulle doen opnames om agter te kom hoe om ‘n sonde-versadigde samelewing in ‘n kerkgebou in te lok. En in plaas daarvan om aanbidding aan te bied, bied hulle opvoerings, partytjies en rock konserte aan.

Net so, trotseer die kerk dieselfde gees van bespotting wat Elisa getrotseer het. Militante homoseksuele spot met God se woord. Gesogte museums in New York Stad vertoon trots lasterlike kuns: die kruis van Christus onderdompel in ‘n vat van uriene; ‘n portret van die maagd Maria besmeer met olifantmis. Sulke blatate, arrogante boosheid was eens ondenkbaar.

Terwyl sonde in hierdie laaste dae toeneem, was ek in kontak met baie goddelike soekers. Ek noem hierdie mense die “Elia Geselskap.” Hulle gaan aan met die Here – doen voorbidding, treur oor die boosheid in die samelewing en die kerk en streef na ‘n groter salwing van die Gees. En hulle hoor dieselfde boodskap van die Here: Oordeel staan by die deur. As hulle die verskriklike rampe wat plaasvind beskou – vloede, orkane, dodelike muskietplae – weet hulle God is besig om te praat.

Persoonlik is ek nie tevrede om rond te sit en vorige herlewings te bestudeer nie. Ek wil sien dat die Heilige Gees die groter werke, wat Jesus beloof het, doen. Ek wil voortgaan om barmhartighede en genade te verkondig aan almal wat ‘n oor het om te hoor – maar ek sal nie ‘n papperd wees wat bewe voor spotters nie. Die tyd het gekom om alle Christenhaters te waarsku: Hulle tyd is verby. God gaan hulle bankrot maak met ontsagwekkende oordele. En wanneer dit gebeur, sal selfs die mees verharde siel sê, “Dit is God se werk.”

Die Elisa Geselskap sal nie tevrede wees met die status quo of met die herskepping van vorige herlewings nie. Huidiglik is hulle afgesonder met die Here en bid vir meer van die Heilige Gees se krag. En hulle berei hulle harte voor om die Here ‘n nuwe ding te sien doen in hierdie laaste dae.

Download PDF