Die Misdaad van Ongeloof | World Challenge

Die Misdaad van Ongeloof

David WilkersonJanuary 1, 1983

Ongeloof bedroef die hart van God meer as enige ander sonde wat op aarde gepleeg word. Hy beskou dit as ‘n misdaad om te twyfel aan Sy woord of om Sy getrouheid te bevraagteken. Ons Christene vaar uit teen die sondes van die vlees – homoseksualiteit, alkoholisme, dwelmmisbruik en owerspel. Ons noem dit gruwels en dit is! Maar God is hoofsaaklik besorg oor die sondes van die hart. Die ware sake van lewe en dood het te doen met hoe ‘n mens dink – met wat in jou gedagtes aangaan.

Ongeloof is die sonde van die hart – die vloek van die innerlike mens. Ek ken Christene wat alle boesemsondes van die vlees laat staan het. Sommige het hulle geheime verhoudings laat staan. Ander het opgehou rook, drink, of dwelms in die geheim gebruik. Maar ten spyte dat hulle hul gedrag ten goede verander het, is hulle steeds rusteloos en ontevrede. Hulle het gedink God sou tevrede wees as hulle uiteindelik hulle boesemsonde laat staan, dat seëninge outomaties sou instroom. Maar soms gebeur dit nie so nie. In plaas daarvan, sloer probleme voort en die hemele blyk soos koper te wees.

Die rede is dat sondes van die vlees slegs deel is van die probleem. Hulle het nog nooit by die wortel van hulle ontevredenheid uitgekom nie. Hulle is onbewus van ‘n diepgesetelde sonde – onbewus dat hulle skuldig is aan ‘n baie erger misdaad in God se oë. Hulle het slegs geleer om die Here te vrees – maar nie om Hom te vertrou nie, en vrees gee amper altyd geboorte aan ongeloof.

God se kinders is betrokke by ‘n voortdurende stryd teen die sondes van die vlees. Hulle vas en bid, roep God aan om hulle te verlos van sataniese vleesstrikke. Maar die meeste mense is heeltemal blind vir die gevare van ongeloof! Hulle beskou dit nie eens in dieselfde kategorie as owerspel, hoerery, leuens en dronkenskap, ens. nie. Maar God se Woord plaas die sonde van vrees en ongeloof bo alle ander misdade!

“Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars — hulle deel is in die poel wat brand met vuur...” (Openbaring 21:8).

God het die profeet Eségiël ‘n gesig gegee van die gruwels van die huis van Israel. Die Gees het hom na die deur van die tempelhof geneem. Binne daardie deur, was sewentig oudstes van Israel besig met hulle priesterlike pligte.

“Gaan in,” het die Gees gesê, “en kyk na die growwe gruwels wat hulle hier doen...”

“Ek gaan toe in en kyk — en daar was allerhande afbeeldinge van afskuwelike kruipende en viervoetige diere, en allerhande drekgode van die huis van Israel wat al rondom op die muur uitgesny was.

“En sewentig manne uit die oudstes van die huis van Israel het daarvoor gestaan...en elkeen het sy wierookpan in sy hand gehad, en die geur van die wolk van reukwerk het opgegaan...

“Toe sê Hy vir my: Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel in die duisternis doen” (Eségiël 8:9-12).

En wat was hierdie eerbiedwaardige ou oudstes van Israel besig om te doen wat so goddeloos en gruwelik was? Het hulle opium gerook? Het hulle seksorgies gehad? Het hulle gedobbel? Nee! Die afskuwelike misdaad was in hulle gedagtes gepleeg: “...wat die oudstes...in die duisternis doen, elkeen in sy kamers met beeldwerk? Want hulle dink...”

Wat het hulle gedink wat God so bedroef het? Wat was hierdie verskriklike gruwel in hulle gedagtes? Hulle het toegegee aan ongeloof – hulle het hulle na hul eie weë gewend, na afgode – omdat hulle heeltemal hulle geloof in God verloor het.

“Want hulle dink: Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat..” (Eségiël 8:12).

Dink daaraan! Hulle was priesters, heilige manne van God – wat vir so baie jare wonderwerke gesien het. God het Homself keer op keer aan hulle geopenbaar, maar nou was hulle geloof in Hom verpletter. Hulle het nie langer geglo hulle gebede word verhoor nie. Hulle kon nie langer Sy teenwoordigheid ervaar nie en het hoop verloor op enige goddelike leiding. O, hulle het steeds gehoop God was daar, maar hulle het nie langer geglo Hy was betrokke in hulle lewens nie!

“Hy gee nie om nie!...” het hulle aangeneem. “Hy werk nie met ons nie! Hy het ons vergeet. Ons gee op. Waarom moet ons Hom dien as daar geen bewys is van Sy werking nie? Ons is verwaarloos, ja, deur God verlaat.” Word ons ook ongelowige priesters van die Here?

Hoe moet dit die hart van God bedroef as Sy verligte kinders steeds so in Hom twyfel!

Ongeloof bedroef Hom nie net nie, maar dit laat Hom kwaad en toornig word. Dit word van die vyande van God verwag om nie in Hom te glo nie, maar hoe tragies is dit as ongeloof God se uitverkore kinders ook in vyande verander. Miga kla: “Maar reeds vroeër het my volk vyandig opgetree” (Miga 2:8).

Daar was ‘n tyd toe die kinders van Israel God geglo het. Hulle het eens hulle Here vertrou. Hulle was pas verlos uit Egipte en van Farao ná die oorsteek van die Rooi See.

“Ook het Israel die magtige daad gesien wat die HERE aan die Egiptenaars verrig het. Toe het die volk die HERE gevrees en geglo in die HERE...” (Exodus 14:31).

Tog, ten spyte van alles wat God gedoen het vir Sy volk, was hulle vertroue nie blywend nie. In krisis na krisis, het hulle geloof gefaal! Moses het moeg geword om hulle te herinner aan God se getrouheid. Toe agt van die tien verspieders ‘n onheilspellende berig teruggebring het, het die volk dadelik in ongeloof verval. Hulle het gemurmureer en gekla en gekerm, “O, as ons maar nooit Egipte verlaat het nie!”

Moses het van frustrasie uitgeroep,

“Toe het ek aan julle gesê: Word nie verskrik en wees nie bevrees vir hulle nie...Die HERE julle God wat voor jul uit trek, Hy sal vir julle stry...en in die woestyn, waar jy gesien het hoe die HERE jou God jou gedra het soos ’n man sy seun dra...

“Maar ondanks hierdie woord het julle nie geglo in die HERE julle God nie...En toe die HERE die stem van julle woorde hoor, het Hy toornig geword...” (Deuteronómium 1:29-34).

‘n Mens kon vra, “Waarom het God so kwaad geraak? Die Israeliete was net bang. Dit was ‘n tydelike uitbarsting van vrees. Hulle het dit nie bedoel nie. Hulle was net verward!”

O, nee! God hoor elke klagte, elke murmurering teen Sy getrouheid. Hy hoor elke beskuldiging dat Hy nie besorgd is nie. Elke gedagte dat suggereer dat Hy ontrou is, maak God kwaad! Dit het Hom tóé kwaad gemaak, en dit maak Hom nóú kwaad. En dit lok Sy toorn uit. Laat almal wat slegs die liefde van God verkondig, mooi luister na die waarskuwing van Dawid.

“En hulle het God versoek in hul hart deur voedsel te vra na hulle sin... En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God ’n tafel kan dek in die woestyn?... sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk?... Daarom het die HERE gehoor en toornig geword... omdat hulle in God nie geglo en op sy hulp nie vertrou het nie...” (Psalm 78:18-22).

Laat my vir jou wys hoe ernstig God hierdie saak van ongeloof opneem.

1.Dit het veroorsaak dat die Here die hele huis van Israel verwerp het.

“Daarom het die HERE die hele geslag van Israel verwerp en hulle verneder en hulle in die hand van rowers oorgegee totdat Hy hulle van sy aangesig weggewerp het...” (2 Konings 17:20).

En waarom het Hy so ‘n drastiese stap geneem? “Maar hulle het nie geluister nie en hul nek verhard soos die nek van hul vaders wat nie op die HERE hulle God vertrou het nie....” (2 Konings 17:14).

2.Ongeloof het ‘n stortvloed van verdrukking en probleme oor hulle gebring.

“En die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE... Daarom het die toorn van die HERE ontvlam teen Israel... En hulle het die kinders van Israel verpletter....” (Rigters 10:6-8).

3.Dit was ‘n “verbreking van belofte”. Ongeloof het al God se kosbare beloftes tot niet gemaak vir Sy volk.

“(Israel het) My nou al tien maal versoek...en na my stem nie geluister...nie.

“Hoe lank sal hierdie bose vergadering aanhou dat hulle teen My murmureer? Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor waarmee hulle teen My bly murmureer.

“So waar as Ek leef, spreek die HERE, waarlik, soos julle voor my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen...vir elke dag een jaar, moet julle jul ongeregtighede dra, veertig jaar lank, en my teëstand gewaar word...” (Númeri 14:22-34).

4. Ongeloof bring ‘n vloek van stomheid mee.

Volgens die Nuwe Testament, het die Here duidelik met Sagaría, ‘n priester van die heilige tempel gepraat, en hom ‘n seun beloof wat Johannes genoem sou word.  Die engel van die Here het Sagaría wonderlike dinge vertel oor Johannes, wat bestem was tot ‘n magtige held. Hierdie belangrike man van God het dit glad nie geglo nie. Daarom het God vir Sagaría gesê,

“En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie” (Lukas 1:20).

Later, toe Sagaría se geloof teruggekeer het, het sy stomheid weggegaan!

“Hy vra toe ’n skryfbordjie en skryf: Johannes is sy naam. En almal was verwonderd. En onmiddellik is sy mond geopen en het sy tong losgeraak, en hy het gepraat en God geloof...” (1:63,64).

5.Ongeloof veroorsaak ‘n maerte (leegheid) in die siel.

“Maar hulle het gou sy werke vergeet, op sy raadsbesluit nie gewag nie... Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel ’n maerte gestuur... En hulle het onrein geword deur hul werke en gehoereer deur hul dade...” (Psalm 106:13,15,39).

Israel het God beperk

Onthou jy die groot geloof van Israel by die Rooi See? Onthou jy hulle lied van vertroue en vrymoedigheid in die Here? Hulle het gesing, hulle het gedans en die lof van God besing omdat Hy Sy magtige arm van verlossing geopenbaar het.

“Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem... Hom sal ek verhef...o HERE, u regterhand is verheerlik deur krag. U regterhand, o HERE, verpletter die vyand... Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen... U het deur u guns die volk gelei...deur u krag na u heilige woning gevoer... Die HERE sal regeer vir ewig en altoos...” (Exodus 15:1-18).

Maar hoe vinnig het hulle Sy werke vergeet! Hoe gou het hulle weggedraai van Sy leiding en die Heilige van Israel beperk. Hulle het nie onthou hoe Hy hulle verlos het nie en het teruggekeer na twyfel en ongeloof.

Luister na die teleurstelling van ‘n hemelse Vader wat nie kon glo wat Hy hoor nie –

“Maar die heerlikheid van die HERE het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel... Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens (wonderwerke) wat Ek onder hulle gedoen het...” (Númeri 14:10,11).

Wat ‘n diepgaande roepstem uit die hart van God! “Wanneer? Wat sal dit verg? Wat moet Ek doen – om ‘n volk te vind wat My volkome sal vertrou?”

Ons het niks geleer uit die tragiese ongeloof van Israel nie! Ons sien hoe dit ‘n hele volk van God vernietig het. Ons sien hoe hulle al die beloftes verloor en in die woestyn vergaan het – ‘n verwarde, depressiewe volk. Tog stap ons blind voort in ons eie ongeloof! Dit lyk of ons glo dat die genade van God ons vrystel van die straf van hierdie gruwel.

Voor ons het ons een van die mees gedetailleerde voorbeelde in die hele geskiedenis, wat vir ons wys hoe ongeloof ons van God vervreem. Hoe dit die Here uitlok en kwaad maak. Hoe dit leegheid, vrees, depressie, en algehele verwarring veroorsaak wat die deur oopmaak vir elke soort boosheid bekend aan die mensdom!

Verder het ons ‘n Nuwe Testamentiese waarskuwing om dieselfde foute te vermy!

“En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie? En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie...

“Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie...” (Hebreërs 3:17-19, 4-11).

Die Gees fokus vandag op hierdie sonde want die Woord maak dit duidelik dat slegs ‘n bose hart in staat is tot ongeloof.

“Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie...” (Hebreërs 3:12).

Paulus praat nie hier met misdadigers, dronkaards of verslaafdes nie! Hy praat met wedergebore, Gees-vervulde gelowiges! “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is nie!”

Gelowiges van God, hou ons vas aan ons vrymoedigheid in die Here? Klou ons vas aan ons vertroue in Sy getrouheid? Luister na wat die Skrif sê: “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou...” (Hebreërs 3:14).

Dit is hartseer, maar waar dat soveel van God se kinders vandag die vaste vertroue verloor wat hulle eens gehad het. Ons is te midde van ernstige eindtyd beproewing – en talle behou nie die geloof nie.

Jesus waarsku oor vurige beproewings van geloof wat kort voor Sy koms sal plaasvind.

“Sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud...deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus...” (1 Petrus 1:7).

Hierdie jong geslag word getoets met die warmste vure in die hele geskiedenis! Die toekoms is absoluut hopeloos, menslik gesproke. Die wêreld beleef werkloosheid, armoede, depressie en hongersnood. Loopbane word duur en gekompliseerd, en niemand lyk of hulle die antwoorde op belangrike vrae het nie. Baie van die rebellie, dronkenskap en dwelmverslawing wat posvat onder ons jeug, is die direkte gevolg van vrees en verwarring.

Selfs Christen kinders word bang! Alles lyk of dit buite beheer tol. Baie jongmense wil hulle toekoms gee aan die Here in voltydse bediening, maar dit word so ingewikkeld. Meer as ooit moet hulle weet dat hulle ‘n God dien op wie hulle volkome kan vertrou.

Diegene van julle met veilige werke en huise, en met ‘n sekere mate van vervulling – sal julle graag plekke wil ruil met tieners vandag? Hulle gaan na skole wat meestal besmet is met dwelms. Hulle vriende hou partytjie en raak dronk omdat hulle bang is vir die toekoms. Die regering is korrup en die politici is oor die algemeen leuenaars. Hulle gesinne breek op – hulle kyk hoe hulle ouers kul en drink en lieg!

Watter soort gruwelike ongeloof sou die Here in sekere van Sy heiliges en bedienaars vind as Hy die gordyn sou wegtrek en diep in die hart kyk? Moenie dink Hy spreek hierdie woorde ligtelik nie – “Maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?...” (Lukas 18:8).

Jesus waarsku ons dat sommige vir ‘n rukkie sal glo, maar in die tyd van beproewing en krisis, sal hulle in ongeloof verval:

“En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ’n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af...” (Lukas 8:13).

Hoe lank glo jy al? Vyf jaar? Tien? Veertig? Wat gebeur met jou in “tye van beproewing”? Val jy terug in vrees en ongeloof? Hoeveel leraars, sendelinge, evangeliste het op die kansel gestaan en die heiliges gevra om te glo, te vertrou en vrymoedigheid in God te hê, net om te misluk wanneer hulle self ‘n van beproewing beleef?

Die belangrikste vraag wat God se kinders in hierdie laaste dae hulself moet afvra, is die volgende: “Glo jy God is in staat om jou deur te dra? Glo jy Hy kan alles doen wat nodig is om jou gebede te verhoor en jou behoeftes aan te spreek?”

Dit is dieselfde vraag wat ons Here gevra het aan die twee blinde manne wat Hom gesmeek het om genade en genesing. “En nadat Hy in die huis gegaan het, kom die blindes na Hom toe. En Jesus sê vir hulle: Glo julle dat Ek dit kan doen? Hulle antwoord Hom: Ja, Here... En hulle oë het oopgegaan” (Matthéüs 9:28,30).

Aan jou, aan my, aan die kerk – vra die Here, “Glo jy Ek kan jou lei en rig, en my volmaakte wil in jou lewe uitvoer? Glo jy Ek is steeds aan die werk om jou onthalwe? Of koester jy geheime gedagtes dat Ek jou verlaat en teleurgestel het?” Hy sê vir ons wat Hy vir Maria en Martha gesê het – “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?” (Johannes 11:40).

God is nie hoofsaaklik daarin geïnteresseerd dat ons een of ander groot werk vir Hom doen nie. Liewer, Hy wil baie graag hê dat ons Hom eenvoudig moet vertrou!

Ek is verstom oor die aantal rustelose Christene wat ek ontmoet wat vir my sê hulle wil “alles laat staan en in een of ander voltydse bediening ingaan.” Trouens, sommige verkoop huise en besighede, en pak hulle familie op om een of ander opofferende, armoedige-tipe bediening te betree. Soms is God daarin en word dit vervullend. Maar in die meeste gevalle, word niks opgelos nie. Die leegheid en rusteloosheid duur voort – omdat om iets vir God te doen, nie waarborg dat jy Hom werklik glo nie! Dikwels is dit ongeloof wat aanhou om ons aan te dryf!

Geliefde, God wil nie iets hê wat jy besit nie. Hy is nie agter jou huis, jou grond, jou kar, of enige ander wêreldse besitting aan nie. Nee! Hy wil jou vertroue hê! Hy wil hê jy moet stewig gevestig wees in jou vrymoedigheid teenoor Hom!

‘n Amerikaanse soldaat in Duitsland het verlede week aan my geskryf en sy muntversameling vir my aangebied. Hy het dit ‘n afgod genoem. Ek het vir hom teruggeskryf en gesê, “God wil baie meer as jou muntversameling hê – Hy wil jou vertroue hê!”

Ons hou aan om dinge te wil doen, om dinge prys te gee, om op te offer, te werk, te ly. En die hele tyd is dit ons gehoorsaamheid en vertroue wat Hy die meeste begeer. Sy Woord is duidelik. God sal met niks minder tevrede wees as ons geloof nie –

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek...” (Hebreërs 11:6).

God het vir ons ‘n vaste weg gebaan om bokant hierdie verkrummelende wêreld uit te styg – deur absolute vertroue in Hom!

* “as jy gaan lê, sal jy nie skrik nie, en lê jy, dan sal jou slaap soet wees.

* “Jy hoef nie bang te wees vir ’n skielike skrik of vir die ondergang van die goddelose as dit kom nie... want die HERE sal jou vertroue wees, en Hy sal jou voet bewaar vir die strik” (Spreuke 3:24-26).

* “Werp dan julle vrymoedigheid, wat ’n groot beloning het, nie weg nie...” (Hebreërs 10:35).

As ons nou vrymoedigheid in ons Here het, kan ons vrymoedigheid voor die oordeelstroon hê!

* “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie...” (1 Johannes 2:28).

* “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.

* “En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het...” (1 Johannes 5:14,15).

So – vestig jou hart daarop om die Here te vertrou! Moenie toegee aan vrees of twyfel nie! Reken af met ongeloof net soos met enige ander gruwelike sonde. Onthou die woorde van die Psalmis:

* “Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die HERE... Vas is sy hart, hy vrees nie...” (Psalm 112:7,8).

Jesaja het voorspel dat in die laaste dae die verlostes van die Here God sal loof en prys vir ‘n nuwe gees van vertroue en vrymoedigheid.

* “In dié dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda... U sal ’n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U” (Jesaja 26:1-3).

Daar het jy dit, geliefde! Terwyl al die fondamente van die wêreld bewe; terwyl Satan brul soos ‘n woedende leeu; terwyl daar oral verwarring, geweld, en onsekerheid is – sal diegene wat hulle vertroue in die Here stel, en hulle vrymoedigheid in Hom vestig en grondves – stil staan om God se verlossing te sien met harte en gedagtes vol vrede. Hulle sal rus geniet, lekker slaap, sonder vrees vir toestande rondom hulle, onaangeraak deur geweld en vrees – onbeskaamd in die laaste dae en hulleself in die hoop verbly!

Gevolgtrekking

Ek gee ‘n paar heerlike beloftes van God vir almal wat op Hom vertrou!

* “Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy is ’n skild vir almal wat by Hom skuil...” (2 Samuel 22:31).

* “Maak u gunsbewyse wonderbaar, o verlosser van die wat by u regterhand skuil vir teëstanders!” (Psalm 17:7).

* “o, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders!...

* “U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig vir die samesweringe van mense; U steek hulle weg in ’n hut vir die twis van die tonge...” (Psalm 31:20,21).

* “Wees sterk, en laat julle hart sterk wees, almal wat op die HERE wag!...” (Psalm 31:25).

* “Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer...” (Psalm 37:5).

* “Maar die hulp van die regverdiges is van die HERE, hulle toevlug in tyd van benoudheid. En die HERE help hulle en red hulle; Hy red hulle van die goddelose mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom” (Psalm 37:39,40).

* “Ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan vlees my doen...” (Psalm 56:4).

* “Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ’n toevlug vir ons” (Psalm 62:8).

* “Die wat op die HERE vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, maar bly tot in ewigheid” (Psalm 125:1).

* “Hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word...” (Spreuke 29:25).

Download PDF