Die Noodlottige Wedloop | World Challenge

Die Noodlottige Wedloop

David WilkersonJanuary 15, 1982

"...Laat ons...met volharding die wedloop loop wat voor ons lê..." (Hebreërs 12:1)

Die woord wedloop stel kompetisie voor. God se kinders word vergelyk met hardlopers in ‘n langafstand wedloop wat om ‘n prys meeding. Die prys is ‘n glorieryke openbaring van die kennis van Jesus Christus.

Maar ons bederf daardie wedloop na die ewigheid, en ons verruil dit vir ‘n ontaarde en vleeslike prys. Die kompetisie word baie intens, maar nou is dit God se kinders wat met mekaar kompeteer. En nou is die prys sukses, applous en erkenning. Christus het niks anders as die borg geword nie, aangesien al die hardlopers aanspraak maak dat hulle in Sy Naam deelneem. Groot getalle van die kompeteerders dra T-hemde gemerk, “Ek is #1.” Ander is verwaander en vertoon die woorde, “Ek weier om te Verloor.” Dit het ‘n noodlottige wedloop geword.

Eens op ‘n tyd was die wedloop nie vir die vinniges, of vir die voorspoediges, of die hebsugtiges nie – maar eerder vir die nederiges en swakkes. Die wedloop het eens op ‘n tyd gelei deur vervolging, gebrek, ontbering, swaarkry en martelaarskap. Sommige van die hardlopers het slegs bokvelle gedra, ander was gemartel, sommige was in twee gesaag, ander was geslaan en gewond. Hulle was in die middel van die wedloop gestop en verbrand op die brandstapel, ander was in tronke en vuil kelders gegooi. Sommige se oë was uitgepluk, en ander was gedwing om te kyk hoe hulle kinders voor hulle oë gemartel word. En waarom, sê asseblief, het al hierdie vermoeide hardlopers deur soveel ellende en lyding gegaan? Waarom het hulle nie uitgeval nie? Bloot omdat die prys die moeite werd was. Hulle wou niks anders as Christus hê nie! Hulle het saam met Paulus die dinge van hierdie wêreld as blote drek beskou. Hulle het nie hulle lewens liefgehad nie, slegs Christus. Hulle was vreemdelinge hier op aarde – het met al hulle mag en krag gehardloop na daardie stad waarvan die bouer en maker God is. Hulle sou jou spot as jy probeer het om dit vir vleeslike pryse te verruil. Hulle sou uitgeroep het, “Neem die hele wêreld, maar gee my Jesus.”

Vergelyk daardie soort wedloop met wat ons sien ontwikkel in God se huis vandag. Gister was ek ingelig dat ‘n welbekende evangelis ander TV evangeliste onstel het omdat hy TV-stasies meer geld aangebied het om hulle gewildste tydgleuwe oor te neem. Hy het “die prys verhoog.” ‘n Ander het geroem dat hy genoeg addisionele stasies gaan gebruik om seker te maak hy is op meer stasies as enige ander evangelis in hedendaagse tye.

Herders en evangeliste kompeteer om die grootste, mees unieke kerke en hoofkwartiere te bou. Een bedienaar vriend het my in alle erns in sy vertroue geneem, “Pastoor J___ bou ‘n kerk van 119,000 vierkante voet – so ek het my argitek aangesê om ons planne oor te doen en ons nuwe kerk te vergroot na 121,000 vierkante voet. Ek wil die meeste vierkante voet hê as enige kerk in my staat.

En wat van die menigtes Christene wat nou vasgevang is in die wedloop vir materiële dinge. Hulle wil nou twee van alles hê. ‘n Ondersteuningstelsel om op terug te val vir alles wat hulle besit. Dit is amper asof ons probeer om hierdie wedloop in ‘n boerpot marathon te verander.

My dierbare kinders van God, hierdie wedloop is nie een of ander soort ewige tombola nie. Dit is nie ‘n kompetisie vir voorspoed, gesondheid of sukses nie. As ons geloof beloon word met enigiets minder as die prys van ‘n hoë roeping in Christus Jesus – is dit nie die moeite werd om voor mee te ding nie. Die enigste een wat hierdie prys wen, is die kind van God wat niks anders as Jesus wil hê nie. Hy is die een wat die dinge van hierdie wêreld aan die voet van die kruis neergooi as nuttelose gemors – sodat hy die glorieryke blydskap en vrede van die Saligmaker kan verkry.

Die weg na volkome geluk hier op aarde is om die noodlottige wedloop van menslike kompetisie prys te gee 

As ‘n Christen alle kompetisie vir wêreldse voorwerpe kon prysgee, as hy kon wegloop van die mal wedloop wat so baie nou hardloop – sou hy kon ontdek wat dit beteken om heeltemal tevrede te wees.

Die Christen wat uit die vleeslike wedloop val, kan vir alle kompeteerders sê, “Deel julle pryse uit; hou dit alles; ek laat vaar die wedloop.” Hy kan vir een sê, “Hou jy die ambisie.” Vir ‘n ander kan hy sê, “Neem jy die applous.” Vir ‘n ander, “Vat jy al die geld en materialisme.” Hy sou hulle almal kon verlaat sodat hulle met mekaar kon meeding vir hulle wêreldse pryse en hy kon sy eie eensame wedloop hardloop, ‘n ander wedloop, ‘n wedloop met net een prys. Die heerlikheid van God in Christus Jesus.

Maar dit is vandag amper onmoontlik om Christene sover te kry om die noodlottige wedloop te laat vaar, sonder om hulle voete af te sny. So baie is in die noodlottige wedloop van vleeslikheid, so min in die wedloop vir ewige waardes.

In die hele geskiedenis, het slegs diegene wat geleer het om die wêreld en alles wat daarin is af te lê, ware geluk ontdek. Een groot goddelike het gesê, “Ek het nooit geweet wat dit beteken om gelukkig te wees nie, totdat ek ophou streef het om belangrik te wees.”

As ons maar kon ophou om te sukkel met wêreldse ambisies, en gewillig sou wees om niks te word nie, sou ons kon deurbreek na ‘n nuwe wêreld van vrede en blydskap.

Biddende Payson

Dr. Edward Payson, bekend aan meeste as “biddende Payson,” het ‘n kerk gelei in Portland ongeveer 175 gelede. In 1806, net ‘n paar jaar na die Verklaring van Onafhanklikheid, was Amerika verwoes deur ‘n ernstige depressie. Dit was die donkerste tydperk sedert Onafhanklikheid en Dr. Payson het duidelik die tragedie in sy gebied opgeteken. Hy het geskryf:

“Besigheid stagneer, talle misluk. Honderde sakemanne of seemanne en ander burgers is in werkloosheid gedompel, en hulle is brandarm. Ek sidder vir my arme land. Ek vrees ons sondes het gehelp dat oordeel oor ons gekom het. As ons ‘n burgeroorlog vermy, sal dit goed wees. Sommige van ons wonderlike jong bekeerlinge het alles verloor, en hulle huise is weggevat; maar dit doen my hart goed om hulle deur dit alles bly en rustig te sien. Ander, wat geen God het nie, het hulle doel verloor, hulle is aanhoudend bekommerd, en sterf duidelik aan ‘n gebroke hart...”

Dr. Payson, en sy toegewyde gemeente het die berowing van hulle goed gely. Dr. Payson self het van pennies geleef tydens daardie moeilike tye. Op 28 Desember, 1807, het hy in ‘n brief aan sy ma geskryf:

“Toestande versleg. ‘n Groot aantal van die ryk handelaars leef nou in armoede. Besighede misluk daagliks, sodat ons bedreig word deur universele bankrotskap. Die armhuis is reeds vol en daar moet nog vir honderde voorsien word. Baie wat grootgeword het in rykdom, is nou afhanklik van ander vir daaglikse kos. As die swaar tye voortduur, sal nege-tiendes van die mense hier in die vier windrigtings verstrooi word. Ek het skaars genoeg vir myself om vir kos en blyblek te betaal.

“Miskien sal Ma hartseer wees oor my en sê, ‘Arme Edward!’ Maar u het nog nooit meer as nou rede gehad om oor my te juig en te roep, ‘Ryk Edward!’ nie. Geseënd is God, my geloof staan nie op sulke wankelrige fondamente om geskud te word deur hierdie gebeure nie. God hou my rustig, beskeie, en selfs gelukkig in al hierdie swaarkry. Ek bedoel nie ek voel nie pyn nie – ek voel dit. Al my wêreldse hoop is vernietig. My vriende is op die punt op die strate uitgesit te word, en baie kan dalk sterf van die honger. In hierdie omstandighede is dit onmoontlik om nie pyn te voel nie. Ek het gedink dat ek voorheen geweet het dat hierdie wêreld verraderlik is en sy plesiere maar vir ‘n oomblik is; maar hierdie moeilike tye het my geleer om myself te speen van skepseldinge en die dinge van God na te streef. Dit is my gebed, dat as God enige wêreldse seëning in stoor het vir my, sou dit Hom behaag om vir my Sy genade te gee in die plek daarvan, of dit alles te verander in geestelike voorspoed.”

Edward Payson en sy groep gelowiges het die noodlottige wedloop laat vaar. Hulle kon jubelend die berowing aanvaar van alles wat hulle besit, omdat hulle in hierdie wêreld was, maar nie van die wêreld nie. Die wêreld was hulle nie waardig nie.

As ons net vyf minute kon deurbring in die hemel of die hel, sou ons ‘n ander wedloop gehardloop het.

As ons net ‘n paar minute in die hemel kon deurbring, sou ons nooit weer meeding in ‘n vleeslike wedloop nie. As ons ‘n kort staptog binne die poorte van daardie stad van God kon neem; die vrede, die prag, die hemelse heerlikheid kon aanskou; na die grootse kore van engele en sérafs die eer van die Here besing kon luister; met die patriarge, die martelare, die apostels, diegene geklee in wit klere wat uit die groot verdrukkings kom kon meng; om weereens die afgestorwe geliefdes te kon besoek en hulle wonderlike storie van hoe die ewige saligheid is kon hoor; langs die kristalhelder waters kon sit, die gloed van God se heilige lig kon voel; in verwondering kon staan oor die pragtige kleure, die volmaakte bome, blomme en plante onbekend aan menslike oë; en die beste van alles, om ‘n glimps te kon kry, net een, blik van die opgestane Lam van God; om die heerlikheid en die warmte en die sin van sekuriteit wat uit Sy teenwoordigheid skyn te kon voel; en uiteindelik, om Hom te kon aanskou wat van die begin af is, ons heilige, Almagtige God!

Sou jy ooit terugkom na hierdie aarde en die wedloop van die noodlottige wedloop opneem? Nooit nie. Jy en ek sou slegs vir die Here leef, die wêreld en al sy plesiere en vleeslike dinge verwerp. Ons sou Sy wedloop hardloop! Ons sou nooit weer afvallig raak, koud word, of die Here met halfhartigheid dien nie.

As ons net ‘n paar minute in die hel kon deurbring, sou ons nooit weer dieselfde wees nie. Om in die swart oond van vuur en ewige duisternis ingetrek te word; om skielik in ‘n demoniese wêreld van goddeloosheid, vloekery, haat, wellus en verdorwenheid gewerp te word; om die gekreun van die ewige vervloektes te hoor, om hulle angs, hulle geswoeg en gekners van tande te sien; om skouers te skuur met die werkers van ongeregtigheid, die verkragters, die moordenaars, die wêreld se diktators en tiranne, die mense wat die Here Jesus gekruisig het; om te luister na die eindelose klanke van hopeloosheid, nuttelose gebede van die vervloektes; die swaai van hulle vuiste teen die God van geregtigheid en die dag vloek waarop hulle gebore is; om te voel wat verlorenheid beteken, afgesny van God en waarheid en liefde en vrede en alle vertroosting; om sulke ongelooflike gesigte en tonele te sien, erger as al die wêreld se gruwels saam; en die ergste van alles, om van aangesig tot aangesig te staan met daardie bloedige slagter van die hel, Satan self; om ‘n bose, verslawende vrees te voel wanneer die vader van die leuens jou aan die keel probeer gryp en ‘n belydenis uit jou te wurg dat hy die here oor alles is, om uit die poort van die hel te loop met ewige veroordeling wat in jou ore tuit. Stemme van die goddeloses van alle eeue, wat hulle jammerlike klagtes uitskreeu – “Ons is verlore! Verlore! Vir ewig verlore! Geboei aan duisternis en ewige marteling!”

Hoe kon jy terugkeer na die aarde van jou kort besoek aan die hel en ooit weer dieselfde wees? Kon jy teruggaan daarna om God se Woord, Sy huis, Sy liefde te verwaarloos? Sou jy voortgaan met jou selfsugtige strewes of bymekaarmaak van goed, die opgaar van goud, silwer, en bid vir nog meer? Ek dink nie so nie. Nee – jy en ek sal elke uur lewe asof dit ons laaste was. O, hoe sou ons bid, en werk, en studeer, en verkoop eerder as koop, en vas, en getuig, en die armes help, en voortdurend uitsien na die Here se koms.

Ek het altyd vir gemeentes gesê, “Moenie vorentoe kom om gered te word omdat jy bang is vir die hel nie. Kom net in eenvoudige geloof.” Maar ek was verkeerd – heeltemal verkeerd. Die apostel het gesê, “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig.” Daar is ‘n goddelike vrees wat lei tot bekering.

Dit is waar dat die hel voorberei was vir die duiwel en sy engele. Dit is ook waar dat Christene gered word deur onverdiende genade, en daardie geloof in Christus is die gelowige se sekuriteit. Verder is Christene nie veronderstel om die reddende en bewarende krag van Christus in twyfel te trek nie.

Maar – daar is een groot probleem. Passiewe geloof, die vlietende soort wat kom en gaan, in flitse en tydens emosionele hoogtes en laagtes – daardie soort geloof sal nie die siel red nie. Slegs reddende geloof – die soort gebore uit diep oortuiging van sonde; uit ‘n hart wat alle ongeregtigheid en boesemsondes verwerp het; uit ‘n hart wat volkome en daagliks oorgegee is aan die heerskappy van Christus – slegs daardie soort geloof waarborg genade.

God help my – ek het vir eens en vir altyd uit die noodlottige wedloop van vleeslikheid en wêreldsgesindheid getree! Ek het uit die kompetisie wedloop getree! Ek sal nie langer in vleesgemotiveerde, egoïstiese, mensbehaende wedlope hardloop nie.

Ek wil meer doen as bloot die verstandelike gehegtheid aan dinge, huise, karre, gronde en besittings prysgee. Ek wil die krag en genade hê om my aptyte te beheer, om alle gemors eenkant te skuif, om te verkoop wat ek nie nodig het nie, om op te hou koop en bou en onnodige dinge bymekaarmaak, en om my oë so gefokus te kry op Christus en die ewigheid, dat die dinge van hierdie wêreld sy houvas op my sal verloor en materialisme nie meer my meester sal wees nie.

Geliefdes – as hierdie boodskap nie vir jou maklik is nie, as dit jou kwaad maak of onstel, selfs in die minste – moet jy dalk doen wat ek onlangs gedoen het. Sonder jou af met God, dag vir dag, en vra die Heilige Gees om God se heilige soeklig op jou siel te rig. Raak doodernstig met God. Vra Hom om die sonde in jou te openbaar. Word honger vir God en Heilige Gees se oortuiging van sonde. Soos ek, sal jy gou ontdek hoeveel tyd jy gemors het, hoeveel dwase begeertes en welluste jou verlam het – en jy sal op jou aangesig val voor hierdie Heilige God en die koudheid en leegheid in jou hart bely.

En as jy dit met ‘n eerlike hart doen, sal jy begin om God te dank omdat Hy jou gewete in beroering bring en jou bearbei om ‘n ander wedloop te hardloop. Jy sal God dank vir boodskappe soos hierdie.

Heiliges van God – die basuin van die Here is op die punt om te blaas. Ons Here kom in die wolke van heerlikheid om Sy bruid weg te raap. ‘n Bruid sonder vlek of rimpel. ‘n Bruid gereinig van gierigheid, trots en wêreldse ambisie. Sal ons ons laaste ure op aarde deurbring om geld in sakke met gate daarin te sit?

Nee dankie! Ek reis net deur. Ek wil nie meer wortels hê om my vas te hou nie. Dank God vir die goeie dinge wat Hy vir my gegee het, my familie, ‘n mooi huis, moderne vervoer – maar daagliks berei ek nou my hart voor om van dit alles af weg te loop om omhels te word in die Saligmaker se arms! Ek wil nie ‘n fanatikus wees, of een of ander belofte van armoede aflê nie, of my familie en hulle toekoms verwaarloos nie. Ek wil bloot vrygestel word van alle hebsug.

Wil jy ophou hardloop en tevergeefs in die lug slaan. Laat staan die noodlottige wedloop. Rig jou oë en hart om die Here te soek soos nog nooit tevore nie.

Verandering kom! Vir jou – vir my! Is jy gereed?

“Dit is my gebed, dat as God enige wêreldse seëninge in stoor het vir my, sou dit Hom behaag om liewer vir my Sy genade te gee, of dit alles te verander in geestelike seëninge.” Edward Payson.

DEEL TWEE – Hoe om te valse lering en dwaalleer te onderskei

Ulrich Zwingli, die groot Switserse hervormer, gee ons baie goeie raad oor hoe om doktriene en lering te beoordeel. Hoewel hy dit meer as 450 jaar gelede geskryf het, is sy raad uiters nodig vandag. Ek sluit hierdie boodskap in omdat ek voel elke gelowige moet nou ten volle die lering en prediking van alle evangeliste en leraars toets. Daar is ‘n vaste Woord van God om ons teen alle dwaalleer en valse lering te bewaar.

“... ons sal nie dwaal as ons slegs die gedagtes van die Gees soek nie. As ons nie, as ons ons energie aanwend om skriftuurlike ondersteuning te kry vir ons eie opinies, hoewel hulle niks anders as blare en gras is nie, sal ons gedurig dwaal. Die wil van God is dat Hy alleen die leraar is. Ons behoort deur Hom geleer word, en nie deur mense nie. Dit is nie vir óns om Skrif en goddelike Waarheid te beoordeel nie, maar laat God sy werk daarmee en daardeur doen, want dit is iets wat ons slegs by God kan leer...

“Die Skrif kom van God en nie van mense nie. Hoe kan die mens dan regter wees? Sien 2 Petrus 1.

“Jy mag dalk vra, ‘Wie kan vir my sê of hy goddelik verlig is of nie?’ Die God wat die leraar verlig, sal jou in staat stel om te verstaan of dit wat hy sê van God af is of nie. Jy mag dalk sê, ‘Dit is nie hoe ek dit ervaar nie.’ Maar as dit so is, pasop dat jy nie van diegene is wat ore het en nie hoor nie, soos Christus uit Jesaja aantoon.

“Die woord van God onderrig sy eie waarheid...Ons durf nie die goddelike te vorm nie. ‘Wie het jou die gedagtes van God gegee, dat jy dinge sê wat God self nie gesê het nie en wat jy sê jy van God ontvang het, maar jy lieg. Jy sou poog om selfs vir God te onderrig en Hom forseer om jou eie opinies te aanvaar....”

“As jy iemand moet beoordeel, moet jy as volg dink: Voor ek enigiets sê of luister na die lering van mense, moet ek eers die gedagtes van die Gees van God raadpleeg. (Psalm 85:9: ‘Ek wil hoor wat God die HERE spreek.’)

“Dan moet jy God eerbiedig vra vir Sy genade, sodat Hy jou Sy gedagtes en Gees kan gee, sodat jy nie jou eie opinie sal hê nie, maar Syne. Jy moet ‘n vaste vertroue hê dat Hy jou die regte begrip sal leer, want alle wysheid is van God af, wat vrylik gee aan almal wat glo.

“Gaan dan na die geskrewe Woord van die Evangelie, sonder om iets te glo wat in teenstelling is met die geopenbaarde Woord. Die leringe van God is nooit duideliker gevorm nie as wanneer dit deur God self gedoen is en in die woorde van God. Mense wil die Skrif verdraai en forseer volgens hulle eie dwaasheid.

“Laat vaar daardie uitgangspunt van jou eie wat jy in die Skrif wil inlees. Ek weet sommige sê dat hulle die Skrif ondersoek het en tekste ontdek het wat hulle eie opinies ondersteun. Helaas! Hier kom ons af op die kanker aan die hart van alle menslike metodes. En dit is die volgende: Mense wil slegs ondersteuning in die Skrif hê vir hulle eie beskouings, en so neem hulle ‘n spesifieke standpunt in en verbind alle tekste aan daardie beskouing, maak nie saak hoe kunsmatig nie – en op daardie manier, verdraai mense die Skrif om dit te laat sê wat húlle dit wil laat sê....

“Valse Leraars sê vir ons: ‘Nie alles word vir ons vertel in die Evangelies nie. Daar is baie goeie dinge waarvan nooit eens van gehoor word in die Evangelie nie.’ Daar soek hulle verse uit buite konteks, en verdraai hulle volgens hulle eie ontwerpe... hulle is so vas in hulle eie menslike begrip dat hulle seker is daar kan onmoontlik iets anders wees....

“Toe ek jonger was, het ek myself te veel oorgegee aan menslike lering. Ongeveer sewe of agt jaar gelede, het ek besluit om myself volkome toe te wy aan die Skrif. Ek het by die punt gekom waar ek gelei was deur die Woord en die Gees van God om die noodsaaklikheid daarvan te sien om al hierdie dinge opsy te skuif en om die leerstelling van God direk uit Sy eie Woord te leer. Toe het ek God begin vra vir lig het die Skrif baie duideliker vir my geword – selfs hoewel ek niks anders gelees het nie – al sou ek baie kommentare en verklarings gelees het. My eie swak begrip kon my nooit by hierdie punt gebring het nie.”

Gevolgtrekking

Zwingly was nie teen Bybelonderrig nie. Hy het geglo soos ek dat God leraars in die kerk gestel het. Maar hy het daarop aangedring dat niks geglo moes word nie totdat die Gees van God dit aan die individu geopenbaar het, na baie gebed en bestudering van die Skrif. Ook het hy geglo dat die heel laagste Christene, selfs die ongeleerdes, die reg gehad het om alle lering te bevraagteken totdat dit bewys was deur die Woord en die Gees van God. Hy het verwys na 1 Korinthiërs 14 as bewys dat ongeleerde gelowiges kan bid en insigte ontvang van waarheid wat selfs die mees geleerde vals leraars aan die kaak kon stel.

So, bid vir begrip. Toets alles wat jy hoor met gebed en die geskrewe Woord. Aanvaar geen mens se aanspraak daarop dat hy ‘n spesiale openbaring ontvang het buite dit wat die apostels ontvang het nie. Bo alles, bid vir en moet nooit argumenteer met diegene wat jy glo dwaal nie. Valse leraars het ‘n doel, en dit is om ons so graag die waarheid te laat wíl weet, dat ons die Skrif pligsgetrou sal ondersoek totdat ons self van God hoor.

“En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly...” (1 Johannes 2:27).

Download PDF