Die Seweduisend Klub | World Challenge

Die Seweduisend Klub

David WilkersonMarch 1, 1980

“Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie” (1 Konings 19:18).

Daar is wonderlike nuus vir elke Christen wat moedeloos is oor die apatie en goddeloosheid in hierdie land. Laat dit bekend wees dat maak nie saak hoe goddeloos en verdorwe hierdie samelewing word nie; maak nie saak hoeveel Christene kompromieë maak nie; maak nie saak hoeveel in sonde verval nie – God het steeds ‘n magtige oorblyfsel van heilige, afgesonderde volgelinge wat getrou is aan Hom.

Dit is so maklik vir Christene om mislei te word om te dink dat Satan besig is om die stryd om die gelowige te wen, en dat die voorspelde laaste dae “afval” al God se kinders raak. Die Bybel voorspel wel dat in die laaste dae baie afvallig sal word; dat mense plesier meer sal liefhê as vir God; dat die liefde van baie sal verkoel; dat goddelose mense en misleiers erger en erger sal word; en dat Satan oorlog sal verklaar teenoor die heiliges van die Allerheiligste.

Dit is ook waar dat Satan, soos ‘n brullende leeu, nou rondgaan met groot woede en slagoffers soek om te verslind. Die vyande van God is besig met ‘n volskaalse poging om elke ware volgeling van Christus te mislei en te verlei. Hel het al sy magte vrygestel, met die hoop om die geloof van God se uitverkorenes te laat skipbreuk ly en te vernietig.

Maar ek glo die Heilige Gees het ‘n heerlike en bemoedigende boodskap vir Sy kerk. Trouens: nie al God se kinders raak afvallig nie! Glad nie! God is op hierdie oomblik besig om ‘n menigte geheiligde gelowiges op te rig wat die afgodery van hierdie eeu teëstaan. Hulle is so vol liefde vir Christus dat hulle gereed en gewillig is om vervolg te word vir hulle geloof en toewyding.

Die 7,000 Klub

Elia het pas gevlug van die dreigemente van Isébel, die goddelose vrou van Koning Agab. God het hom gekry in ‘n grot op die berg Horeb. En God het gesê, “Elia, wat doen jy hier?”

Elia, daardie vername profeet van heiligheid en geregtigheid, so ywerig vir God se eer, was totaal moedeloos oor die sedelike verval wat sy land beleef het. Met regverdige verontwaardiging, het Elia geantwoord, “God, ek het geywer vir U eer, maar U volk het U Woord verlaat; U altare is afgebreek; U bedienaars word vervolg; en ek is die enigste een oor. Ek en ek alleen het oorgebly – en nou is hulle daarop uit om my ook te kry...”

Uiterlik het dit voorgekom asof Elia ‘n goeie argument gehad het. Sy samelewing was op pad na ‘n ineenstorting. Die regering was die slegste en mees goddelose in die hele geskiedenis. Die Bybel sê, “Ook het Agab die heilige boomstam gemaak, en Agab het nog meer gedoen om die HERE, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel, sy voorgangers” (1 Konings 16:33). Die regering het in werklikheid die land in afgodery ingedwing. Isébel was die mees goddelose koningin wat ooit die troon gedeel het. Sy was ‘n vrou wat God gehaat het, en was vasbeslote om elke volgeling van Jehova dood te maak. Dit was ‘n verskriklike tyd van vervolging, onsedelikheid en waansin. Die profete van God moes weggesteek word in grotte en gevoed word deur simpatiseerders. Bendes van goddelose manne het deur die land getrek, die altare van God afgebreek en Sy priesters doodgemaak. Alle godsdienstige vryheid was weg. Heidense heiligdomme het voorsiening gemaak vir die owerspelige begeertes van ‘n volk wie se mense hulleself oorgegee het aan ongeregtigheid. En nou het die grootste belediging teenoor God gekom: Isébel het die moord van Israel se beroemdste prediker, die profeet Elia, uitgevaardig.

Elia was vasbeslote om “uit te hou tot die einde toe.” As die hele land God verlaat het, sou hy getrou bly! Maar God was nie op die punt om hierdie profeet wat weggekruip het, geluk te wens nie, omdat die Heilige Gees op daardie presiese oomblik, deur die land beweeg het. Jong Elisa het die eerste beroeringe van God se hand op hom gevoel. Jehu, ‘n kragtige jong revolusionêr, het ongeduldig geword en gretig gewag om oorlog te verklaar teen die korrupsie en goddeloosheid in die land. ‘n Groot sedelike ontwaking was op die punt om plaas te vind en God sou binnekort Isébel vir die honde gooi en die goddelose heersers omverwerp.

Maar nou kom die werklike skok: Elia was baie uitdruklik ingelig deur God, “Ek het 7,000 manne wat nie ‘n kompromie gemaak het nie; 7,000 wat nie toegegee het aan die korrupsie rondom hulle nie. Hulle was nie mislei nie. Hulle is Myne!”

Nie net drie jongmanne – Jehu, Hasaél en Elisa nie – nie net ‘n handjievol hier en daar nie – maar duisende! God het probeer om vir Elia te sê dat Hy sy mense in sleutelposisies, oral in die land gestasioneer het, gelowiges wat sterk en getrou gestaan het ten spyte van die korrupsie rondom hulle.

Tot onlangs, het ek dieselfde soort gedagtes gehad wat Elia tot wanhoop gedryf het. Ek sien materialisme wegvreet aan ons geestelike lewe. Ek staan op in regverdige verontwaardiging as ek homoseksuele, pornograwe en die onderwêreld met hulle wetteloosheid sien pronk. Ek sien kompromie, standaarde wat erodeer, louwarmheid en afvalligheid en twyfelende Christene in dieselfde liga met goddelose mense. Die unies is vol korrupsie; die regering bevlek met skandaal; en kerk se hoogwaardigheidsbekleërs bespot die heilige standaarde van ons stigters. Soms laat dit my wil opstaan en skree, “Word wakker, Amerika! Oordeel kom. God gaan ons laat betaal vir ons geweld en goddeloosheid.” Ek sien gebeur met ons land wat Elia sien gebeur het met syne. En sommige Christene kruip weg, net soos hy.

Deesdae, moedig God my egter aan om my oë oop te maak vir die groot roepstem van heiliges wat nou uitgaan in ons tyd. God het vir Elia gesê, “Duisende het nie gebuig nie.” Vir ons, glo ek sê Hy, “Miljoene het nie gebuig nie!”

Eer aan God, ons is nie ‘n klein oorblyfseltjie nie! Ons is nie net ‘n paar getroues nie! Ons is ‘n leër; ‘n bloedgewaste menigte, van elke stand van die lewe, onwrikbaar sonder kompromie in ‘n eeu wat waansinnig geword het. Satan sal daarvan hou as God se kinders dink hulle getalle is besig om vinnig te krimp; hy wil hê ware gelowiges moet dink die meeste het reeds na sy laer oorgeloop, sodat vrees hulle sou laat wegkruip. Moenie die leuens van Satan glo nie! God is steeds aan die werk, stort Sy Heilige Gees uit en trek honger harte na Hom toe. Met al die afvalligheid, materialisme, liefde vir gemak, beheptheid met sukses en wêreldse voordeel – roep God ‘n volk wat hulle aardse wortels optrek en wat gereed maak vir die terugkeer van Christus as Here!

Die Geskiedenis herhaal homself

Gedurende sy eerste driehonderd jaar, het die kerk deur nege sistematiese vervolgings gegaan. Die eerste was onder die keiser, Nero: toe Domitiane, Trajanus, Marcus, Severus, Maximin, Decius, Valeriaan, en Aurelies.

Tussen hierdie vervolgings, het die kerk enigiets van tien tot vyftig jaar rus gehad. Die kerk was altyd op haar beste in die vure van vervolgings, en op haar swakste wanneer sy vriendelik met die wêreld was. ‘n Studie van die geskiedenis wys dat van 255 A.D. tot die jaar 303 A.D., het die kerk amper vyftig jaar van verdraagsaamheid en vrede geniet. Tydens hierdie periode, het Christene ‘n ongeëwenaarde graad van voorspoed verkry; terwyl daar terselftertyd ‘n groot afname van die eenvoud van die Evangelie was.

Pragtige kerkgeboue was dwarsdeur die koninkryk opgerig, met ‘n groot vertoon van argitektoniese grootsheid. Kleurvolle klere en heilige gereedskap van silwer en goud was in die aanbiddingsdienste ingebring. Dit het die mode van die samelewing geword om by die Christelike kerke aan te sluit; selfs die vrou van Keiser Diocletianus en sy dogter was lede. Christene het hoë posisies ingeneem, selfs in die keiserlike huishouding. Hulle het posisies van oppergesag beklee in die provinsies en in die gewapende magte.

Maar vyftig jaar van voorspoed en gemak, het die gewone gevolge tot gevolg gehad. Geloof en liefde het agteruitgegaan; trots en ambisie het ingesluip; materialisme het ‘n obsesssie van beide lidmaat en biskop geword. Die geestelikes het verdorwe geraak as gevolg van hoogmoed, luuksheid en ‘n gees van gierigheid.

Cyprianus, die goddelike biskop van Carthago, het geskryf: “...omdat die goddelik voorgeskrewe lewenswyse ontwrig is in die lang seisoen van vrede, is ‘n goddelike oordeel gestuur om ons afvallige, sluimerende geloof te hervestig. Terwyl hulle vergeet het wat gelowiges gedoen het in die tye van die apostels en wat hulle behoort te doen, het Christene met ‘n onversadigbare begeerte gewerk om hulle aardse besittings te vermeerder. Baie van die biskoppe, wat veronderstel was om voorbeelde wees, het hulle roeping verwaarloos om betrokke te raak in die bestuur van wêreldse belange.”

Die hartseer effek van wêreldse gemak en voorspoed, was ‘n verswakte, gelooflose kerk. Afguns en tweespalt het die kerk in twee geskeur en dwaalleerstellinge was ingebring. So, weereens moes God vervolging oor Sy kinders bring om hulle te louter en te reinig.

Amper soos weerlig, het die Keiser Diocletianus begin om uit te vaar teen Christensdom. Weereens het vervolging die kerk met groot toorn getref. Dit het die grootste vervolging in die kerk se geskiedenis geword en dit het ‘n volle tien jaar geduur.

Ongeveer die 24ste Februarie 303 A.D. is ‘n edik uitgevaardig dat alle Christelike kerke vernietig moes word; dat alle godsdienstige vergaderings gestop moes word; en dat alle Geskrifte verbrand moes word. Heidense altare was opgerig en almal wat geweier het om neer te val en dit te aanbid, was doodgemaak. Christene wat nie hulle geloof verloën het nie, was in die tronk gegooi, hulle eiendomme gekonfiskeer en alle voorregte was herroep. Menigtes was gemartel, en alle biskoppe en priesters was gevang en tronk toe gestuur. Die mees toegewyde Christene wat oorleef het, was as slawe na die myne gestuur en soos diere behandel.

Maar dit was die vuur van hierdie verskriklike vervolging wat ‘n leërmag sluimerende heiliges laat ontwaak het. Die wrede tiran, met sy bloedige edikte het ‘n fout gemaak. Hy het gedink dat ‘n kerk, verswak deur voorspoed en gemak, bloot die geloof sou verloën weens vrees en hulle sou wend tot afgodery. Hierdie keiser was ‘n skelm werktuig van Satan. Voor hy God se kinders vervolg het, het hy eers probeer om hulle geestelike krag te tap deur hulle te vlei, hulle in gemeenskap te bring met sy koninklike hof en hulle te verryk met pragtige geboue en voorspoedige tye. En net toe Satan gedink het hy het die kerk verslaaf gemaak aan gemak en luuksheid; net toe hy gedink het hy het die geestelikes verdorwe gemaak; net toe heidendom en Christendom vrede met mekaar gemaak het – het hy die bose septer van gewelddadige vervolging laat neerkom. Dit was nou ‘n stryd tussen God en die duiwel. Satan was vasbeslote, in die jaar 303 A.D. om vir eens en vir altyd die Christelike naam uit te wis. In plaas daarvan, het hy ‘n reus wakker gemaak. Die gees van martelaarskap het herleef. Hoewel sommige geestelik te swak was om te oorleef, het talle Christene, wat voorheen op beddens van gemak en luuksheid gesit het, met blydskap die berowing van hulle besittings aanvaar. Jongmense, veral, het sterk in die Here geword en gejuig te midde van ontsettende vervolging. Bedienaars het weereens magtig in gebed en geloof geword. Die wêreld het al sy bekoring verloor en God se kinders was saamgebind in eenheid en liefde. In ‘n kort tyd, het Christene dapper na vore gekom en aangebied om te sterf vir Christus.

Is ons gereed vir die dreigende vloedstroom?

Weereens het die kerk veertig jaar van voorspoed beleef, getel vanaf die laaste wêreldwye depressie van die dertigs. Sal Christene, wat duur karre bestuur en wat leef in pragtige huise vol luukshede, in staat wees om die verlies van alles te ly om Christus se onthalwe? Of, sal ons gemaklike leefstyle ons verander in geestelike swakkelinge wat uiteindelik sal buig voor hedendaagse afgode? Daar is geen twyfel nie, baie pretliefhebbende, gierige Christene sal afvallig raak wanneer dinge kritiek raak.

Maar God het my hart bemoedig met die wete dat die Heilige Gees tans die mees toegewyde, geheiligde, heilige mense oprig wat die kerk ooit geken het.

Oral in hierdie land, praat ek met baie goddelike jongmense wat grootgemaak is met luuksheid en gemak, wat niks omgee vir materialisme nie. Hulle wil hulle lewens, liggaam en siel, gee aan die bediening van Christus. Christene oral, van alle ouderdomme, lyk of hulle moeg raak vir besittings en, in plaas daarvan, soek na ‘n dieper wandel met die Here. Daar is ‘n toenemende honger na heiligheid. Daar is menigtes wat hulle wynglase neerlê, goddelose versoekings vermy en hulle lewens reinig van kompromie.

Laat my vir jou vertel wat dit gaan verg om ‘n oorwinnaar te wees in die dae wat kom!

1.‘n Besnede oor om saam met ‘n besnede hart te gaan

“Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle” (Handelinge 7:51).

Stéfanus het hierdie gedagte ter sprake gebring: Jy kan jouself ‘n kind van God noem, maar jy weerstaan die Heilige Gees; jy is hardkoppig as jou hart en jou ore nie geheilig is nie. Ek sien hierdie weerstand teen die Heilige Gees oral waar ek kyk: Ore wat koppig is, onwillig om die wêreld uit te sluit. Hierdie geslag sluit hulle ore uit. Hulle lyk asof hulle sê, “Ek gee Jesus my hart: my ore is myne!”

Hulle voed hulle siele met goddelose, heidense musiek. Selfs country-western musiek het onsedelik, boos en skandelik geword. God moet vir ons wys dat om dit te hoor, net so erg is as om dit te sien. As geloof deur gehoor kom, kom dwaasheid ook deur gehoor. Maar ons is so hardkoppig, so weerstandig teen die Heilige Gees, dat ons reaksie is, “Watter soort heiligheid skop is hierdie? Luister na rock of western lirieke maak doen my geen skade nie...”

God het my getugtig en gesê ek kan nie meer toelaat dat ‘n onbesnede oor my hart besoedel en dan opstaan en van oorgawe aan Jesus praat nie!

2.Draai teen die wêreld!

Paulus, toe hy met die Hebreërs gepraat het, het gesê, “Onthou watter groot verdrukkings julle gely het? Hoe julle met blydskap die berowing van julle goed aanvaar het?”

Op een manier, beteken dit hulle besittings was gekonfiskeer, maar in ‘n beter sin, het daardie besittings vir hulle bedorwe geword. Hulle het na alles wat hulle gehad het gekyk en gesê, “Daardie dinge is bedorwe vir my.”

Om te bederf beteken ook om te verrot, om sleg te word. Dank God vir wat jy het, maar kyk daarna as dinge wat besig is om te bederf, te verrot. Deur die hele Ou Testament, was vyandige leërs wat die besittings van Israel geplunder het, “rowers” genoem.

Ek wil my eie rower wees. Ek wil hê alles wat ek besit moet bedorwe wees vir my. Ek wil hê goddelose musiek moet bedorwe wees vir my, goddelose vermaak moet bedorwe wees vir my, goddelose vriendskappe moet bedorwe word vir my! Hoe meer bedorwe die wêreld word, hoe soeter sal Christus word.

Onthou jy die drie mans wat verskonings gemaak het? Hulle kon nie die fees bywoon nie omdat: een grond gekoop het en die transaksie moes afhandel; een het osse gekoop en moes hulle uittoets; een het ‘n vrou getrou en wou op wittebrood gaan. God is nie teen die besit van grond of osse of teen huwelike nie. Hulle sonde was om hierdie dinge eerste te plaas.

Jy hoef nie op te hou met sport of jou kar verkoop of ophou uitgaan nie. Maar Jesus moet eerste kom! Soveel so dat alle ander dinge niks in vergelyking met Hom is nie!

3.Raak doodernstig oor die dinge van Jesus!

Die oproep van Jesus is om nugter te word. Die Bybel het baie te sê oor nugterheid. Paulus het vir Titus gesê: “Vermaan die jong manne net so om ingetoë te wees” (Titus 2:6). Hy het ook van waaksaamheid en opregtheid gepraat.

Petrus het die Christene vermaan:

“Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter” (1 Petrus 1:13).

“En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid” (1 Petrus 4:7).

Hy praat nie van ‘n lang gesig of gebrek aan humor nie. Hy praat van doodernstig raak! Met ander woorde, hou op speletjies speel. Die einde is naby. Begin bid! Leef soos mense wat hierdie aarde verlaat!

God roep alle Christene: Kry jou sake in orde; kry jou gesprekke reg; besny jou ore; raak besig met einde-van-die-wêreld sake! Raak besig met die Woord! Kom terug na die binnekamer!

Ek sien ‘n nuwe soort Christen kom, een heiliger, meer toegewyd, en sterker in die Here as in die hele geskiedenis! Wie is die laaste-dag heilige? Hy kom uit groot verdrukking uit; hy het die verslaafdheid aan besittings afgeskud. Hy is nugter in ‘n eeu van ligsinnigheid en waansin, honger en dors na God, verwerp die plesiere van hierdie wêreld en is gewillig om te ly vir Christus.

Download PDF