Die Siftingsproses | World Challenge

Die Siftingsproses

David WilkersonJuly 16, 2001

Op die aand voor sy dood, het Jesus saam met sy dissipels gaan sit om die Pasgamaal te deel. Die groep het ‘n intieme tyd van gemeenskap saam gehad. Aan einde van die maaltyd het Christus plegtig gesê, “Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel” (Lukas 22:21). Wat ‘n verskriklike waarheid om op so ‘n intieme oomblik te sien. Vermetel het Satan een van Jesus se eie dissipels beset, Judas.

‘n Ander ongelooflike oomblik het reeds aan tafel plaasgevind. Jesus het ‘n stukkie brood, wat sy gebreekte liggaam voorgestel het, geneem en dit in die wyn gedoop en dit vir Judas gegee. Die konkelende dissipel het ‘n duiwelbesete hand uitgestrek om dit te neem. Dit was asof Satan self Jesus se liggaam in sy hande geneem het om dit te vernietig.

Soos ek, mag jy mag wonder: hoe was die duiwel in staat om Judas te beset? Geen persoon kan sommer so oornag val nie. Niemand kan só skielik oorgeneem word deur ‘n sonde, dat hy doelbewus die Seun van God sal verraai, wetend dat dit na sy dood sal lei nie. Ongelukkig was Judas in der waarheid ‘n maklike oorwinning vir Satan. Die evangelies openbaar, dat Judas ‘n geskiedenis van gierigheid gehad het. Hy het heimlik van die groep se skatkis geneem om vir homself gebruik. En omdat hy hierdie gees van gierigheid gehad het, was Satan in staat om hom met verloop van tyd te mislei.

Dieselfde ding het oor en oor met Christene deur die eeue heen gebeur. Satan het menigtes van gelowiges, wat nooit toegelaat het dat hulle van ‘n boesemsonde verlos word nie, laat val. Ek het talle goddelike bedienaars links en regs sien val, manne wat eens magtig deur God gebruik is. Oor die jare, het daardie predikers verstrengel geraak in ‘n wellus wat hulle nooit gewillig was om van ontslae te raak nie. En hulle het hard geval en alles verloor.

Judas self was magtig deur God gebruik. Hy het wonderwerke saam met die ander dissipels gedoen, die siekes genees en duiwels uitgedryf. En, net soos hulle, het hy naby Jesus, die lewende Woord, gewandel. Die skares het Judas herken as ‘n toegewyde dienaar van God.

Tog maak dit Bybel dit duidelik: van die heel begin af, was Judas ‘n werker van ongeregtigheid. Sy geheime wellus het altyd net onder die oppervlak geskuil. En niks wat hierdie geseënde man in Jesus se lewe gesien of gehoor het, kon die sonde in sy hart aanraak nie. Judas was heeltemal oorgee aan sy wellus. Die gevolg was dat hy geheel en al deur die duiwel oorwin is.

Ek het eenkeer ‘n bedienaar ontmoet wat hierdie belewenis gehad het. Hy het vir my vertel, “My pa was ‘n prediker vir vyftig jaar lank en hy was altyd arm. Toe hy afgetree het, het hy en my ma in armoede verval en hulle moes raap en skraap om te oorleef. ‘n Paar jaar gelede toe ek hulle in hulle treilerhuis besoek het, het ‘n stem in my opgerys. Ek het vir myself gesê dat ek nooit in armoede sal beland soos hulle nie. Ek sou transaksies manipuleer om vir my voordelig te wees as ek moes, wat ook al nodig was om sekuriteit te hê.”

Hierdie man was ‘n leier in sy denominasie en was aangestel oor baie bedienaars. Maar gou het hy in duistere eiendomstransaksies belê. Hy het geweet dit was verkeerd, maar hy kon nie verlos word van daardie gees wat hom geteister het nie. Hy was steeds gebind deur die vrees om in armoede te beland. Soos Judas, was hierdie man ‘n maklike teiken vir Satan, wat sy gierige hart beset het.

Verskeie jare gelede, was ‘n welbekende evangelis aan die kaak gestel vir seksuele sonde, wat die wêreld geskok het. Menigtes van Christene het gewonder, “Hoe kon so ‘n goddelike man in hierdie soort sonde verval?” Voor hierdie bedienaar ontbloot is, het ek hom geskakel oor wat aan die kom was. Hy het bely hy was betrokke by pornografie sedert hy ‘n kind was. “Ek is vir jare geteister,” het hy my vertel. “En ek het hierdie las deur my bediening gedra.” Met ander woorde, selfs toe hy kragtig gepreek het, het hy teruggeval in sy ou gewoonte. Dit is duidelik dat hierdie man se verslaafdheid nie oornag gebeur het nie. Hy was vroeg al deur die duiwel geteiken en het nooit ‘n tydperk van algehele oorwinning geniet nie.

Ek glo vandag is menigtes van Christene soos hierdie man. Hulle word deur God gebruik, hulle aanbid vurig en hulle dien die Here opreg. Maar hulle het ‘n sonde in hulle lewe toegelaat en met verloop van tyd het dit diep ingegrawe. Nou het hulle ‘n maklike teiken vir Satan geword. En die duiwel het die area van hulle swakheid ingeneem en hulle oorgeneem.

By die Pasga, het Satan geweet Jesus se koninkryk was op die punt om te kom. So, toe hy eers vir Judas beset het, was hy vasbeslote om agter ‘n ander dissipel aan te gaan. Ek glo hy het sy teenwoordigheid laat voel by daardie tafel, omdat daar “ook ‘n twis onder hulle ontstaan [het] oor wie van hulle die grootste geag moet wees” (Lukas 22:24). Kan jy jou hierdie gesprek voorstel? Die dissipels het ‘n intieme tyd van gemeenskap gehad saam met hulle Here, wat vir hulle vertel dat Hy sou sterf. Maar skynbaar het hulle niks verstaan van wat Jesus gesê het nie. In plaas daarvan, het hulle begin argumenteer oor wie in beheer gelaat sou word wanneer Hy weg was.

Dit moet ‘n smorgasbord vir Satan gewees het. Hy het waarskynlik die dissipels een vir een opgeweeg en gewonder, “Wie sal volgende wees? Nie Nataniël nie. Jesus het gesê daar is geen bedrog in hom nie. Wat van Johannes? Nee, hy is te naby aan die Meester, altyd aan sy boesem. Aha, daar is Petrus. Jesus het hom ‘n rots genoem. Christus het immers gesê Hy sou sy kerk bou op Petrus se verklaring dat Hy die Messias is. Ja, Petrus is die een. As ek hom net in die hande kan kry, sal ek die fondament van die komende kerk verswak.

Jy is seker bekend met Job se storie van die Ou Testament. Indien wel, onthou jy dat Satan nie hierdie goddelike dienaar kon aanraak sonder om eers toestemming uit die hemel te kry nie. Die Here het die duiwel gesê hy kan net só ver gaan met Job. Hy kon sy liggaam aantas, hy kon hom deur verbysterende beproewings neem, maar hy kon hom nie doodmaak nie.

Nou het Satan Jesus probeer beïnvloed om van Petrus ‘n teiken te maak. Hy het gesê, “Jesus, U maak daarop aanspraak dat U u kerk op hierdie man se getuienis gaan bou. Wel, as U so seker is dat Petrus ‘n rots is, laat my toe om hom vir ‘n rukkie sif. U sal vind hy is nie rots vir enige soort fondament nie. Diep onder is hy niks anders as sand nie. U weet ek het reeds een van u twaalf fondament leiers ingepalm. Nou sê ek vir U, Petrus gaan verkrummel, net soos Judas.”

Ons weet reeds dat die Here toegelaat het dat Petrus gesif word. Waarom was dít egter nodig? Ek glo die Pasga toneel gee vir ons insig hierin. Jesus het sy dissipels beloof, “En Ek beskik vir julle ‘n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:29-30). Jesus se volgelinge moes opgewonde gewees het om dit te hoor. Hulle toekoms was heeltemal verseker. Die Here self het gesê hulle was op pad hemel toe. Hy sou selfs vir hulle sitplekke by sy etenstafel reserveer. En hulle sou almal krone dra, regeer en saam met Hom heers in die ewigheid.

Wat ‘n ontsaglike belofte van sekuriteit. Jesus se woord was genoeg om enigeen in uiterste geloof en vertroue te dra deur ‘n leeftyd. Terwyl Petrus geluister het, moes hy diep geliefd gevoel het en gedink het, “Ek het ‘n waterdigte belofte van Jesus. Hy gaan my gebruik deur die hele ewigheid heen. En dit maak my geheel en al vry om Hom nou te dien, sonder kommer.”

Petrus se blydskap en bepeinsing was egter skielik onderbreek. Jesus het hom skielik aangespreek met ‘n vreemde waarskuwing: “Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif” (Lukas 22:31). Ek kan my voorstel Petrus se verbasing. Hy het waarskynlik uitgeroep, “Waarom sou Satan my wou hê, Here? Is my hart boos? Wat het ek gedoen om uitgesonder te word? Ek is immers die een wat eerste U goddelikheid erken het. Toe die ander getwyfel het, het ek nie. Ek het selfs saam met U op die water geloop. So, wat bedoel U dat ek gesif gaan word? Sê U dat Satan gevra het of hy dit aan my kan doen en U het ja gesê? Waar is u beskerming oor my, Jesus? Wat gaan aan?”

Op daardie tydstip, was Israel ‘n landbougemeenskap, so almal was bekend met die graansiftingsproses. Plaaswerkers het hope graan met ‘n graaf op ‘n sif gegooi, tipies ‘n vier-by-vier houtraam met ‘n sif aan die onderkant. Die werkers het dan die sif hard geskud, sodat die sand en kaf deur die net geval het tot op die grond. Slegs die suiwer graankorrels het oorgebly.

Sifting is duidelik ‘n suiweringsproses, waar die slegte en nuttelose van die goeie en nuttige geskei word. Jy mag vra, “Waarom sou Satan Petrus wou sif as daar slegs goeie vrug daaruit sou voortkom?” Na my mening, het Satan gedink Petrus se geloof sou misluk tydens die skudding. Hy het beplan om Petrus so geweldig te sif, dat hy kon bewys dat die saad van sy geloof net kaf was.

Petrus het geantwoord, “Here, ek is gereed vir enigiets. Ek is gewillig om U te volg tot in die tronk, om saam met U gekruisig te word, om saam met U te sterf. U het reeds vir my vertel wat vir my wag in die ewigheid. Watter skade kan ‘n bietjie sifting aan my doen?” (sien Lukas 22:33). In der waarheid is niemand egter ooit reg vir sifting nie. Daar is niks wat ons kan doen in ons vlees om ons voor te berei vir hierdie soort verskriklike skudding, wat Petrus sou beleef nie.

Ek glo die Here laat veral toe dat selfvoldane, Christene, wat op hulleself vertrou, gesif word. Sulke goedopgeleide gelowiges is oortuig hulle kan enigiets hanteer wat Satan na hulle kant toe gooi. Hulle roem, “As die vyand ooit probeer om my verslaan, sal ek hom in God se krag vertrap. Ek sal hom uit my lewe jaag met die Woord. Die duiwel kan my nie aanraak nie.”

Ek hoor hierdie soort roem deur die hele Amerika heen van die preekstoele af. Natuurlik stem ek saam dat ons oorwinning oor Satan het deur geloof in Jesus se werk aan die kruis. Op een of ander tyd, beleef elke Christen egter skielike, verrassende siftings en besef nooit dat die duiwel daaragter is nie. Bewegings, waarvan ons baie min van weet, vind gedurig plaas in die geestelike wêreld. Ons moenie onbekend wees met die duiwel se planne nie, maar, soos Paulus sê, “Nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel” (1 Korinthiërs 13:12).

Miskien is jy op hierdie oomblik in ‘n diep beproewing, ‘n onverklaarbare skudding. Jy word onderstebo gekeer, van binne af na buite en jy dink dit mag dalk wees weens een of ander boosheid in jou. Heeltyd is dit egter Satan, wat jou sif soos koring, met God se toestemming.

Moenie verkeerd verstaan nie: die duiwel kan nie op enige tyd wanneer hy kies, by God se mense uitkom nie. Hy kan ons eenvoudig nie neerwerp soos hy wil nie. Verder het ons die versekering: die enigste mense wat die Here toelaat om gesif te word, is diegene wat Hy kies om sy gevalle kerk weer te herbou. Ons tye van sifting is bedoel om ons geloof intakt en suiwer te laat voortspruit. Dan kan Jesus ons gebruik in die werk van die herstel van sy kerk in die laaste dae: “En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is: Daarna sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig” (Handelinge 15:15-16).

Jesus het die verskil tussen die sifting en geestelike oorlogvoering vir sy dissipels aangetoon. Hy het vir hulle gesê, “En wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en ‘n swaard koop” (Lukas 22:36). Christus het in wese gesê, “Ek is op die punt om julle te verlaat. En julle gaan intense geestelike oorlogvoering beleef. Die hele tyd wat Ek met julle was, het Ek julle beskerm. Maar nou sal julle deur geloof moet lewe. Julle sal nodig hê om ‘n geestelik swaard op te neem en die goeie stryd van die geloof te stry.

“Daar is egter iets ver meer beproewend as geestelike oorlogvoering. Dit is die siftingsproses. Sif is hand-tot-hand oorlogvoering met Satan self, ‘n oorlog wat min mense ooit beleef. Petrus, jy gaan in die vyand se hande geplaas word vir ‘n tydperk. ‘n Swaard sal jou nie baat nie. Die duiwel is op die punt om ‘n aanval, wat bedoel is om jou geloof te vernietig, te stuur. Hy wil jou beroof van al die hoop wat Ek vir jou gegee het.”

Wanneer ons gesif word, spuit Satan ons gedagtes in met elke bose ding uit sy demoniese arsenaal. En hy veroorsaak dat ons glo hierdie verskriklike gedagtes spruit uit ons eie harte, eerder as uit die hel. Dit is ‘n beproewing so reguit die hel en so vol wanhoop, dat Christus ons nie daarin sal laat ingaan, sonder sy eed om ons daardeur te bid nie. Hy het Petrus verseker, “Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie” (Lukas 22:32). Hy het gesê, “Petrus, ek weet al te goed dit is ‘n alles-op-die-spel stryd om jou geloof. En Ek gaan vir jou bid vir elke oomblik wat jy onder die aanslag deurloop. Ek sê vir jou voor die tyd, jou geloof sal nie ophou nie.”

Jesus het gewaarsku dat Petrus so erg beproef sou word, “Die haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal geloën het dat jy My ken nie” (Lukas 22:34). Petrus het egter geglo hy was gereed. ‘n Paar uur later, toe ‘n menigte gekom het om Jesus gevange te neem, het die dissipels het opgestaan om te baklei vir sy Meester. Hy het dapper sy swaard uitgetrek en ‘n man se oor afgekap.

Maar Petrus se sifting het eintlik nog nie begin tot heelwat later nie. Dit het begin toe Jesus voor sy beskuldigers in die paleis gestaan het. Petrus was buite waar hy hom warm gemaak het by ‘n vuur, toe ‘n jong meisie hom herken het: “En ’n diensmeisie het hom daar by die vuur sien sit; en nadat sy hom vas aangekyk het, sê sy: Hierdie man was ook saam met Hom” (Lukas 22:56). Terwyl die meisie gestaar het, het Petrus begin bewe. Hy het vinnig geantwoord, “Vrou, ek ken Hom nie” (Lukas 22:57).

Nou het Satan Petrus in die sif gehad. En hy het begin om hom woes uit te wan. Die Bybel het gesê, “En kort daarna sien iemand anders hom en sê: Jy is ook een van hulle. Maar Petrus sê: Man, ek is nie” (Lukas 22:58). Teen hierdie tyd was Petrus geruk en het nie geweet waar sy woorde vandaan kom nie. Uiteindelik, ‘n uur later, het ‘n derde persoon hom herken en gesê, “Sowaar, hierdie man was ook saam met Hom...Maar Petrus antwoord: Man, ek weet nie wat jy sê nie” (Lukas 22:59-60). Volgens ‘n ander evangelie, het Petrus op daardie oomblik begin vloek.

Probeer om jou die toneel voor te stel. Net ure tevore, was hierdie getroue dissipel Jesus se dapperste verdediger en het ondanks alles, ‘n swaard rondgeswaai. Nou het Petrus heeltemal ineengestort en hy het ontken dat hy Jesus selfs ken. Satan moes geroem het en gedink het, “Ek hét vir Petrus. Dit is klaarpraat met hom, net soos Judas. Nou, voort na die volgende dissipel.”

Op hierdie oomblik van Petrus se derde verloëning, sê die Skrif, “En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het die haan gekraai. En die Here het Hom omgedraai en Petrus aangekyk” (Lukas 22:60-61). Stel jou voor hoe Petrus moes gevoel het toe sy Meester na hom gekyk het. Ek kan jou egter verseker, die kyk wat Jesus vir hom gegee het, was een nie een van beskuldiging nie. Christus het alles behalwe vir hom gesê, “Hoe kon jy dit aan My doen, Petrus? Jy het My gevloek en My verloën, selfs al het hierdie mense geweet jy is Myne. Hoe kon jy so laag daal na alles wat Ek vir jou gedoen het?”

In teendeel, Jesus het hierdie gebeure vir Petrus se onthalwe voorspel. En nou het Hy na hom gekyk om Hom gerus te stel, asof om vir hom te sê, “Hou vas, vriend. Ek het jou gewaarsku dat Satan jou sou sif, onthou jy? Hy wil jou laat val en my kerk vernietig. Maar ek herinner jou nou, Petrus, jy gaan herstel word. Jy is vir My belangrik. So, moenie van My af weghardloop nie. Hierdie oorlog gaan tot ‘n einde kom. En daar is steeds ‘n groot werk wat vir jou voorlê.”

Jesus het inderdaad vir Petrus gesê, “As jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk” (Lukas 22:32). Die letterlike Griekse woord hier is, “Wanneer jy terugkeer, wees ‘n sterkte vir jou broers en susters.” Christus het met ander woorde gesê, “Jy gaan my verloën Petrus. Ek sê egter vir jou dat jy herstel gaan word. En daarna, sal jy iets hê lewensbelangrik hê om aan ander te gee. Jy gaan ‘n seën wees deur dit wat jy geleer het.”

Dit is die werklike rede waarom God ons lyding toelaat. Die apostel Paulus het geskryf: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word. Maar of ons verdruk word, dit is julle tot troos en redding; en dit en dit laat sy werking blyk deurdat julle dieselfde lyding verduur wat ons ook ondergaan; en of ons getroos word, is dit julle tot troos en redding. En ons hoop vir julle is vas, omdat ons weet dat net soos julle deelgenote is aan die lyding, so ook aan die troos” (2 Korinthiërs 1:3-7).

Dit is duidelik dat God toelaat dat sy dienaars deur diep waters gaan en krisisse, wat hulle nie kan verstaan nie, verduur, sodat hulle ‘n getuienis en vertroosting vir ander kan wees. Op hierdie manier, help gesifte Christene om daardie dele van God se huis, wat vervalle is, te herstel.

Dink daaraan: Petrus se sifting het niks te doen gehad met vleeslike versoekings, soos wellus, gierigheid of hebsug nie. Nee, Satan se aanval was bedoel om God se beloftes aan hierdie man te ondermein. Hy wou hê Petrus moes oortuig wees dat hy heeltemal onwaardig was vir Jesus se belofte van die hemel aan hom. En, vir ‘n rukkie, het die duiwel daarin geslaag. Nadat Jesus na Petrus gekyk het, het die dissipel uitgegaan en bitterlik geween. Stel jou voor die leuens wat Satan vir hierdie gebroke man geskree het:

“So, jy is Jesus se rots, nê? Jy is die een wat ‘n bouvallige kerk gaan oprig? Kyk na jou, Petrus. Jy is ‘n swakkeling, ‘n tjankbalie, ‘n lasteraar. Jy het die Een, wat jou geroep en liefgehad het, verloën. As jy dink jy gaan by Jesus se tafel in die paradys aansit, vergeet maar daarvan. Jy het teen die Lig van die wêreld gesondig. Jy is sy beloftes nie waardig nie. Jy is boos, nikswerd. Jou lewe is verby.”

Min het Petrus egter geweet dat hy besig was om toegerus te word met ‘n lewensbelangrike boodskap vir die nuwe kerk: “Ek was dieper in wanhoop en hopeloosheid as wat julle ooit sal weet. En my Here het my daaruit gebring om julle te vertroos.”

In Johannes 21, het Jesus reeds uit die dood opgestaan en verskeie kere aan sy volgelinge verskyn. Toe Christus deur die mure van die bovertrek geloop het, het Hy sekerlik na almal gekyk, insluitend Petrus, met die die deernisvoll liefde van die Vader.

Petrus het klaarblyklik steeds gewankel as gevolg van sy ervaring. Eendag het hy vir die ander gesê, “Ek gaan visvang” (Johannes 21:3). Met ander woorde, hy gaan terugkeer na sy loopbaan as ‘n visserman. Petrus het homself nie meer goed genoeg gesien vir geestelik leierskap nie. Hy het waarskynlik gedink, “God kan nie ‘n man soos ek gebruik nie. Ek het gesondig soos geen ander persoon in die geskiedenis nie. Daar is niks vir my oor nie.”

Jy mag die storie van hierdie punt af verder onthou. Petrus het sommige van die ander dissipels oortuig om saam met hom te gaan. Hulle het die hele nag probeer visvang, maar het niks gevang nie. Toe, in die vroeë oggendure, het ‘n figuur van die wal af vir hulle geroep. Hy het hulle beveel om hulle nette aan die ander kant van die boot uit te gooi. Toe hulle dit gedoen het, het hulle ‘n klomp vis, wat so swaar was dat die nette begin skeur het, opgetrek.

Petrus het geweet dat die figuur Jesus moes gewees het. En onmiddellik het hy in die water gespring en land toe geswem. Hy het Christus gekry waar Hy vir hulle almal ontbyt voorberei het. Toe die ander opgedaag het, het Jesus hulle uitgenooi, “Kom eet!” (Johannes 21:12). Die Here het sy hande uitgestrek na sy uitverkorenes om hulle terug te bring na volle gemeenskap met Hom. En Hy het veral vir Petrus in gedagte gehad.

Gedurende die maaltyd, het Jesus die dissipels drie keer gevra, “Petrus, het jy My lief?” Elke keer het Petrus geantwoord, “Here, U weet dat ek U liefhet” (sien Johannes 21:15-16). Jy moet verstaan, Jesus het nie gevra om oortuig te word van die dissipel se toewyding nie. Hy het ook nie hierdie vraag gevra vir die ander se onthalwe nie. Dit was alles vir Petrus se onthalwe. Christus het in wese vir Petrus gesê, “Ek weet jy is verseker van my liefde vir jou. Jy is oortuig Ek het jou geheel en al en onvoorwaardelik lief, ten spyte van jou mislukkings. Maar Ek wil hê jy ook moet oortuig wees van iets anders. En dit is, EK WEET JY HET MY LIEF.

“Jy het ten volle teruggekeer na My toe, Petrus. En Ek weet jy gaan My nie weer verloën nie. Ek ken jou hart en Ek is oortuig jy het My lief met jou hele wese. So, moenie dat Satan jou daarvan beroof nie. Jy is duidelik seker van My liefde vir jou. Wees nou seker van jou eie liefde vir My. Dit sal jou voorberei vir die werk wat Ek vir jou toekoms beplan het. En dit is, om my skape om my skape te voed” (sien Johannes 21:17).

Geliefde, ons eie sifting eindig wanneer ons vir die duiwel sê, “My Verlosser het my onvoorwaardelik lief, deur al my sonde heen, omdat ek Hom ook liefhet. Verder het Hy my oortuig, selfs al het Ek hom gefaal, weet Hy ek het Hom steeds lief met my hele hart. So, jy kan my nie meer daarvan beroof nie, duiwel. Ek sal nie toelaat dat jy my enigiets anders vertel nie. Ek het Jesus lief en Hy weet dit.”

Soos Petrus, het ek Jesus se spesiale aanraking in my lewe ervaar. Ek het vasgehou aan ‘n kosbare belofte wat Hy vir my gegee het, dat my laaste dae my mees vrugbare sal wees. Ek het ook van Hom die Brood van die Lewe in soete gemeenskap ontvang. En ek het sy belofte geglo, dat ‘n kroon in heerlikheid vir my wag.

Soos Petrus, het ek myself egter in skielike geestelike oorloë, wat bokant my verstand was, gevind. Ek het duiwelse teistering en leuenagtige beskuldigings verduur. En in elke beproewing, het ek nie geweet of die oorsaak my eie vlees, die duiwel, of God se tugtiging om my van een of ander onbekende ongeregtigheid te reinig, was nie. Ek het met Job geïdentifiseer waar hy vir God gevra het, “Laat my weet waarom U met my twis” (Job 10:2). Job het in wese gesê, “Here, ek weet nie wat aan die gang is nie. Waaroor gaan hierdie diepe beproewing?”

Ek glo ons siftingservarings lê soos ‘n toebroodjie tussen tye van kragtige openbaring en tydperke van selfs groter bruikbaarheid vir die koninkryk. Beskou wat Paulus deur sy beproewing geleer het: “Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil. Want God wat gesê het dat daar uit duisternis ‘n lig moet skyn — dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” (2 Korinthiërs 4:5-6).

Paulus sê in wese, dat deur sy beproewings het hy geleer om nie homself te verkondig nie, maar Christus alleen. Op hierdie punt in sy lewe, het hy opgehou om op homself te fokus. Nou was al sy lering, getuienis en lewe heeltemal daaraan toegewy om Jesus te verhoog. Verder het Paulus groter openbaring gekry. Hy vertel vir ons dat die Heilige Gees in sy hart ingeskyn het en selfs nog meer lig gebring het, waardeur hy Christus aan ander kon openbaar. Wat ‘n wonderlike plek om te wees: heeltemal verneder, tog vol openbaring, lig en ‘n visie van God se heerlikheid.

Uiteindelik verduidelik Paulus wat op al sy openbarings gevolg het: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word. Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word. So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle” (2 Korinthiërs 4:8-12).

Let op al die swaarmoedige woorde wat Paulus hier gebruik: verdruk, vervolg, neergewerp, dra die doding van die Here Jesus in ons liggaam. Eenvoudig gestel, Paulus beskryf die siftingsproses. Aan die begin, kon hy nie verstaan waarom elke wonderwerk van God se Gees in sy lewe, gevolg is deur ‘n onstuimige tyd van skudding nie. Toe het die Heilige Gees aan hom die rede geopenbaar: dit was nie om sonde in hom bloot te lê nie, of om hom te dissiplineer of te korrigeer nie. Eerder, Paulus sê, dit was ter wille van ander: “Want dit is alles om julle ontwil, sodat die genade, wat groter geword het deur so baie mense, die danksegging oorvloedig kan maak tot die heerlikheid van God...’n...ewige gewig van heerlikheid” (1 Korinthiërs 4:15-17).

Paulus het duidelik geweet waarom sommige gelowiges meer beproewings ly, meer skuddings verduur en groter toetse beleef: “Dit is ter wille van die liggaam van Christus. En, uiteindelik, is dit vir God se heerlikheid. Jy sien, as ander kyk hoe jy reageer in die warmste van vure, sal hulle besef God sal húlle ook nie verlaat in hulle moeilike tye nie.”

Geliefde, die sifting waardeur jy huidiglik gaan, is alles ter wille van jou familie, jou vriende, jou medewerkers en diegene rondom jou wat Jesus liefhet. So, moenie bang wees vir jou beproewing nie. Jesus ken die uiteinde. En Hy sê vir jou, soos Hy vir Petrus gesê het, “Hou vas, vriend. Ek bid vir jou. Wanneer al die stof gaan lê, sal jy herstel word. En Ek gaan jou gebruik om my kerk te herbou. Ek het ‘n ewige doel agter jou sifting. Dit is alles vir die gewig van my heerlikheid.”

Download PDF