Die Sleutel tot Mag oor Sonde | World Challenge

Die Sleutel tot Mag oor Sonde

David WilkersonAugust 1, 1980

Ek het gedink die manier om mag oor sonde te kry, sou wees om die oorsprong van sonde te bestudeer. Met ander woorde, waar het sonde vandaan gekom? Hoe het ek daarmee besmet geword? Maar wat ‘n lang, moeilike studie was dit. Dit is nogal ‘n ingewikkelde storie van ‘n kosmiese oorlog wat plaasgevind het voor ek gebore was, toe die hoof-engel, Lucifer, ‘n leër van ‘n derde van God se engele in ‘n opstand gelei het.

Die oorsprong van sonde het ook te doen met die mens wat gebore word met ‘n vrye wil, wat ‘n alternatief om kwaad te doen, insluit. Dit het te doen met Satan wat daardie alternatief vir Eva, die eerste vrou van die skepping, gegee het. Dit het te doen met beide Adam en Eva wie se oë oopgegaan het vir die innerlike stryd wat hulle in hulle liggame en gedagtes ingebring het. Hoe sonde van Adam af oorgedra is aan die menslike ras is nóg een van daardie teologiese probleme waaroor geargumenteer word.

Ek het daarteen besluit om die oorsprong van Adam se sonde te probeer bepaal. Ek is meer begaan oor my eie stryd. ‘n Mens wat aan kanker ly is nie geïnteresseerd oor waar kanker ontstaan het nie. Hy wil bloot ‘n kuur vir sy eie siekte hê. Dit is waar, die geneesheer behoort die oorsaak van die siekte te verstaan om ‘n kuur te vind. Maar die geteisterde liggaam is meer begaan oor onmiddellike hulp.

Ek het eenvoudig die Heilige Gees gevra om vir my te wys hoe om eerlik te werk te gaan met die kwaad wat op hierdie oomblik in my teenwoordig is. Vir my maak dit nie saak waar dit vandaan gekom het, hoe dit ontstaan het of hoe dit in my verstand ingekom het nie – al wat ek weet, is dat dit daar is en dat ek nie wil hê dit moet my oorheers nie, en dat ek hulp nodig het om dit te oorwin. Ek het God gevra om vir my die antwoord te wys in eenvoudige terme wat ek kon verstaan. Met eenvoudige, kinderlike geloof, het ek op waarhede afgekom wat my verstand oopgemaak het vir ‘n nuwe lewe van vryheid van sonde se heerskappy. Dit is die sleutels vir my oorwinning oor die misleiding van sonde.

Watter ontdekking het Paulus gemaak wat hom laat juig en sê het, “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Romeine 8:1)? Wat het hom verhoed om te sê, “Ek wil, maar kan nie”?

Hy praat van ‘n Nuwe Beginsel van Lewe. Hierdie nuwe beginsel van lewe in Jesus het in werklikheid die sonde se mallemeule gestop, hom van die eindelose rit afgeruk en hom eens en vir altyd uit sy mag bevry.

Eenvoudig gestel, hier is hoe hierdie nuwe lewe beginsel werk, volgens Paulus.

I. Gelowiges is nie langer slawe van sonde nie.

* Ons het geen verpligting teenoor ons sensuele natuur nie (sien Romeine 8:12 Phillips).

Daar word gesê dat Abraham Lincoln “die slawe bevry” het met die Emansipasie Deklarasie. Hierdie wettige dokument het slawerny tot niet verklaar. Alle slawe was vrygelaat.

Toe hierdie nuus eers deur die suidelike plantasies versprei het, wou baie slawe dit nie glo nie. Hulle het voortgegaan om slaafs te werk vir hulle meesters, daarvan oortuig dat hulle belofte van vryheid ‘n bedrogspul was. Talle gewetenlose grondeienaars het vir hulle slawe gesê dit is ‘n vals gerug en het hulle onder slawerny gehou. Maar bietjie vir bietjie, het die waarheid tot hulle deurgedring toe hulle voormalige slawe sien rondloop het, gelukkig in hulle nuutgevonde vryheid. Een vir een, het hulle hulle laste neergegooi, hulle rûe op slawerny gekeer en weggeloop om ‘n nuwe lewe te begin.

Miskien het jy nog nie gehoor nie, of miskien klink dit te goed om waar te wees, maar Christus het al die slawe van sonde vrygemaak op Gólgota. Jy kan nou “wegloop” van die duiwel af! Jy kan jou vrag sonde neergooi, van Satan se heerskappy af wegloop en in ‘n nuwe lewe van vryheid binnegaan.

Laat my vir jou wys wat die Bybel bedoel wanneer dit praat van sterf vir sonde. Toe Lincoln die slawe vrygemaak het, het die “saak” van slawerny gesterf. Nie die slawemeester nie – en ook nie die slaaf nie. Die slaaf kon vry wegloop en vir homself sê Slawerny is ‘n “dooie” saak.

Nou, die slaaf kon teruggeglip het in die lande en nog ‘n paar rye katoen gepluk het – miskien as gevolg van vrees of instink – maar dit het glad nie weer van hom ‘n slaaf gemaak nie. Hy was vry, maar hy moes sy vryheid uitoefen. Die proklamasie kon nie nakoming afdwing nie, en die slawemeester kon hom ook nie dwing om terug te keer nie. Dit was ‘n saak van die wil van die slaaf.

Die Bybel sê, “Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe” (Romeine 6:7-8).

Wat dit beteken, is bloot dit: Aangesien die saak van jou slawerny aan sonde, ‘n saak is wat “gesterf” het, siende dat Christus jou reeds vrygemaak verklaar het, is jy nou vry om te lewe as ‘n nuwe mens in Christus deur aan jouself te dink as ongeboeid.

Christus kan jou nie dwing om reg te doen nie, en Satan kan jou nie dwing om verkeerd te doen nie. Christus verklaar ons is vry deur geloof, maar ons moet optree soos ‘n vry mens.

Wanneer iemand Christus as Here ontvang, wat is dit in hom wat sterf? Sonde sterf nie. Satan sterf nie. Ook sterf die bose nie. Die “saak” of die “twispunt” sterf. Sonde het ‘n twispunt in die hart van die mens geskep oor wie in beheer was, en die stryd tussen goed en kwaad was die gevolg. God het bloot die verstand van sonde se beheer vrygemaak, en die twispunt van slawerny laat “sterf.”

Wanneer die Bybel sê, “ons sterf aan sonde,” beteken dit bloot dat die saak “dood” is! Daar is geen argument meer oor nie – die saak is nie onderhandelbaar nie – die mens is vry! Die saak oor wie in beheer is, is tot niet! Paulus het wettige terme gebruik om die Christen se vryheid van sonde se slawerny te beskryf. Dieselfde wettige terme word daagliks in die Kongres gebruik: Die voorgestelde wet is dood. Die wysiging is tot niet. Die resolusie het “gesterf.”

Eone gelede, in die Hel se hof, het Satan, as prins van die wêreld, ‘n wet uitgevaardig dat alle lewende siele sy onderdane was. God se hooggeregshof het daardie wet van sonde tot niet gemaak. Dit is dood omdat Satan dit nie meer kon afdwing nie. God het dit onkonstitusioneel verklaar en met Sy eie wet vervang – die wet van die gees, wat Hom al die regte gee tot die gelowige se liggaam.

Geen Christen kan nou sê, “Ek kan myself nie help nie. Ek kan nie wegbreek van my sonde nie.” Paulus was uiteindelik verlos van hierdie soort praatjies, en so moet ons ook wees! Satan kan jou nie dwing om te sondig nie; dit is jou eie begeerte wat terugkom om geboorte te skenk. As Christus nie die mag van sonde gebreek het nie, was die kruisiging ‘n bedrogspul.

Jy sal altyd ‘n slaaf wees totdat jy ophou om jou swakhede te verskoon deur te sê jy is hulpeloos. As ‘n kind van God is jy nie hulpeloos nie. Jy is nie meer die duiwel se maklike slagoffer nie, so begin en dissiplineer jou wilde, hardkoppige wil. ‘n Christen wat sê “Ek kan nie,” sê eintlik “Ek sal nie.” Om voor te gee om steeds ‘n slaaf te wees, is ‘n verskoning wat Christene gebruik om die verantwoordelikheid uit te stel om hulle eie vryheid op te neem.

  • “Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!” (Romeine 8:15).
  • “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (Galásiërs 5:1).

II. Vryheid van sonde se slawerny moet aanvaar word deur geloof.

Die hele ding is dan ‘n saak van geloof aan die mens se kant, en vrygewigheid aan God se kant (sien Romeine 3:16 Philips).

Geloof is iets wat jy doen rakende wat jy weet. Kennis beteken niks nie tensy daarop gehandel word.

Die kinders van Israel het die goeie boodskap dat God Kanaän aan hulle gegee het as ‘n tuisland aanvaar. Daardie inligting sou heeltemal niks vir hulle beteken het as hulle in Egipte as slawe gebly het. Maar die Bybel sê, “Deur die geloof het hy Egipte verlaat ... Deur die geloof het hulle die Rooi See deurgegaan” (Hebreërs 11:27-31).

Die Israeliete het nie tot by die grens van Kanaän gemars, een sarsie pyle afgevuur en verwag dat al die vyandige leërs dood sou neerslaan nie. Die land was hulle s’n, maar hulle moes dit in besit neem, “een dooie soldaat op ‘n slag.”

Wat het dit te doen met die oorwinning wat ek moet kry oor die greep van sonde? Alles! Christus het die saak van slawerny besleg deur jou vrygemaak van sy heerskappy te verklaar, maar jy moet dit glo tot op die punt dat jy iets daaromtrent doen.

Dit is nie genoeg om te sê, “Ja, ek glo Christus vergewe sonde. Ek glo Hy is Here. Ek weet Hy kan die mag van sonde in my lewe breek” nie. Jy stem verstandelik in tot dit wat jy hoor. Maar geloof is om uit te stap op daardie belofte van vryheid en daarop te reageer.

Hoe? Deur met ou vriende wat jou aftrek te breek. Deur jouself te oortuig dat vryheid regtig joune is. Eis dit op! God het dit gesê, so reageer daarop. Skud jou passiwiteit af en beweeg in jou nuwe lewe van vrede en vryheid in met vasberade versekering.

Jou stryd kan en moet uiteindelik eindig. Die Bybel is duidelik oor hierdie saak – Daar word van Christene verwag om ‘n rus binne te gaan.

“Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 4:9-11).

Aksie-Geloof Skep Vertroue

Gelowiges oorwin die bose mag van hierdie wêreld deur geloof. Ware geloof is die enigste ding wat jou kan help om met vertroue die magte van versoeking teë te staan. Selfbeheersing is moontlik slegs wanneer die waarheid oor vrygemaak te wees, aanvaar word deur geloof.

“Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie. Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof” (1 Johannes 5:3,4).

“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is. En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ’n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves! Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen” (1 Petrus 5:8-11).

Behou jou momentum

Die belangrikste ding wat ek aan ‘n gelowige kan sê wat steeds teen ‘n boesemsonde stry, is: Behou jou momentum! Niemand het al ooit verdrink deur stroom-op te swem na Christus toe nie. Niemand word langs die pad gelos as hy gewond is in sy stryd om vry te wees nie.

Wanneer jy val of wanneer jy van aangesig tot aangesig kom met verslawing wat nie wil los nie, trek God ‘n streep net daar waar jy is. Hy sê, “Staan op; bely; en hou aan beweeg. Moenie oor die lyn terugtree nie. Moenie teruggaan na slawerny toe nie. Hou aan om na My toe te kom. Jy is vrygemaak, behou dus jou momentum in die rigting van jou vryheid, deur geloof.

Die belangrikste stap wat jy as ‘n gelowige ooit sal neem, is die stap wat jy neem net ná jou val. Satan fluister, “Jy is verdorwe in jou wese, sensueel, kinderagtig, onvolwasse. Jy sal nooit heilig wees nie; jy sal nooit enigiets in God wees nie. So stop. Gee op. Dit is nutteloos om te probeer. Gaan terug! God is te hoog en te heilig; dit is te ingewikkeld en moeilik; jy sal dit nooit regkry nie. Dit is alles verby!”

Leuens – alles leuens! So, jy sondig? So, jy het gedink jy het vryheid gehad en dit verloor? So, jy dink mense sal jou ‘n skynheilige noem? So, jy sondig met jou oë wawyd oop – jy weet van beter – met die Heilige Gees wat in jou ore skreeu? So, jy het nooit gedink jy kon weer so ‘n lelike ding doen nie? Wat daarvan? Is daar nou ‘n goddelike droefheid in jou? Is jy vasbeslote om op te staan en vrygemaak op te tree? Is jy verneder, skaam en berouvol? Is jy gereed om aan te beweeg? Aanvaar God se vergifnis en beweeg aan! Jy is steeds Sy kind. Jy is nie ‘n slaaf van sonde nie. Sy liefdevolle goedheid is groter as al jou sondes. Aanvaar Sy liefde en vergifnis en skep moed.

Hou op met jou ewige introspeksie. Jy sal nie oorwinning kry deur die ashoop van jou bose natuur te deursoek nie. Dit sal wees soos ‘n generaal aan die verloorkant, wat vyandige grense oorsteek om sy vyand te raadpleeg en te vra, “Kan jy asseblief vir my sê wat ek verkeerd doen? Ek wil jou verslaan, maar dit lyk nie of ek vordering maak nie. Wat doen ek verkeerd?”

Regte leiding kom nie deur die verkeerde dinge te verstaan nie. Dit kom slegs deur die oorvloedige genade van God in Christus Jesus te verstaan. So, hou op om binnetoe te kyk; kyk op na Hom wat jou liefhet te alle tye. Hou op om jouself te probeer verstaan en juig in Sy verkwikkende, genesende liefde.

“Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Filippense 2:13).

III. Gelowiges word bonatuurlik gehelp in hulle uur van versoeking

“Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13).

Dit is die kragtigste en mees bemoedigende belofte in die hele Bybel vir gelowiges wat versoekings beleef. God maak dit baie duidelik dat geen kind van Hom alleen gelaat word om te stry teen wellus, passie, of enige inwonende boosheid nie. Bonatuurlike hulp is nodig en word verskaf.

Gelowiges dwarsdeur die wêreld word swak teen versoeking, en hulle gee oor aan die vlees in toenemende getalle. Dit lyk asof sommige Christene nou dink aan versoeking as een of ander ongeneeslike siekte wat nie laat los totdat dit sy slagoffer vernietig nie. Hulle deins terug van vrees wanneer versoeking tref en dink, “O, nee – hier gaan ek al weer. Dit het my in sy greep en ek weet net dat ek gaan toegee. Ek het geen wilskrag nie; ek is te swak om te weerstaan.”

Dit is die verslane denkwyse van gelowiges wat nie weet hoe om hulle reg tot hulp op te eis nie. Wat is hierdie reg wat belowe word aan alle gelowiges? Dit is die reg tot bonatuurlike hulp tydens versoeking.

Bedoel ek hiermee dat Christus ‘n gelowige nie net verlos van die mag van sonde nie, maar hom ook help en daarvan weerhou om terug te gaan daarna? Dit is presies wat die Bybel sê.

Wanneer versoeking instroom soos ‘n vloed, oefen Christus Sy heerskappy uit en doen iets bonatuurliks om dit te bestry. Hy beskik ‘n “uitkoms,” sodat gelowiges die vuurproef kan oorleef, of met ander woorde, “dit kan verdra.”

Versoeking is ‘n toets vir ‘n mens se vrye wil; daarom, kan God nie Sy alternatief tot sonde wegneem sonder om dieselfde vrye wil te vernietig nie. Daarom doen God iets net so effektief vir almal wat Hom vertrou. Hy doen iets aan die voorwerp van wellus. Hy werk buitekant ons by die bron van versoeking.

Dit word die beste geïllustreer met ‘n moeder wat iets aan haar kind se versoeking doen om koekies uit ‘n blik te steel. Sy kan nie die versoeking uit hom uit slaan nie – daarom plaas sy bloot die koekblik “buite bereik.”

Dit word verder geïllustreer met ‘n vader wat sy familie laat wegtrek van ‘n dwelmbesmette buurt om sy kinders daarvan te bewaar om verlei te word deur dwelmgebruikers en dwelmverkopers.

Ouers het al na ‘n nuwe kontinent getrek om hulle seun of dogter weg te hou van verdorwe invloede en vriende.

Hierdie ouers het almal uit liefde opgetree, met die hoop dat hulle tydelike ingryping tyd sou toelaat vir hulle kinders om van harte gehoorsaamheid te leer. Hoewel die tyd moet aanbreek wanneer kinders sake vir hulleself moet besluit, kan ‘n liefdevolle ouers nie stilstaan en toelaat dat ‘n onvolwasse kind oorval word deur een of ander bose invloed nie. ‘n Besorgde ouer sal eerder die kind wegneem van die versoeking af, of dit op een of ander manier buite bereik stel.

Die Bybel illustreer hoe God voorwerpe van versoeking buite bereik van Sy kinders stel. Byvoorbeeld, die kinders van Israel het teen Moses begin murmureer omdat hy hulle uit Egipte gelei het. Hulle wou teruggaan na hulle ou leefstyl. Vryheid het so duur gelyk. Daarom het God gereël om die Rooi See oop te maak en dat die Egiptiese leër hulle deurjaag op droë grond, toe het Hy die See laat toegaan – en die kans om terug te keer geblok. God het dit gedoen in verhoring op die vurige gebede van Moses en ander Israeliete wat vryheid wou hê.

Net soos Jesus, moet gelowiges versoeking weerstaan met die Woord van God. Die meeste versoekings kan ontlont word deur die laser van die waarheid daarop te fokus. Maar daar is ander versoekings wat so ingewortel is, so verskriklik en taai is – dat hulle nie verdra kan word sonder bonatuurlike ingryping nie. Die ergste versoekings is dikwels die gevolg van ‘n direkte en persoonlike aanval deur demoniese magte.

Paulus praat daarvan dat “van buite was daar aanvegtinge, van binne verskrikkinge” (2 Korinthiërs 7:5). Satan het in werklikheid oorlog verklaar teen sekere bekeerlinge wat sy leër verlaat het, omdat hulle eens sy mag om te beset die beste vergestalt het. In sy woede om so ‘n “prys” te verloor, veg hy van buite af deur hulle te slaan met een ernstige versoeking na ‘n ander, om hulle soos koring te sif. Jesus het aan Petrus gesê, “En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif” (Lukas 22:31).

Is jy ‘n gelowige wat geslaan word met ‘n herhalende versoeking wat lyk of dit bo jou krag is om te weerstaan? Homoseksuele, alkoholiste, verslaafdes en ongeoorloofde geheime minnaars word veral oorweldig deur verpletterende versoekings. Daar gee hulle dikwels oor en word gou verswelg met berou, skuldgevoelens en gevoelens van hulpeloosheid. As gelowiges, twyfel hulle nie dat Christus hulle vrygemaak het van alle verpligtinge om die begeertes van hulle vlees te gehoorsaam nie. En, op baie gebiede van hulle lewens, sien hulle die vordering en oorwinnings. Maar, daar bly een boesemsonde oor – een oorweldigende versoeking om toe te gee aan ‘n sekere begeerte.

Dank God, daar is ‘n manier om te ontvlug! God is ‘n “bonatuurlike ingryper.” Dit het ‘n storm en ‘n walvis en baie bonatuurlike ingrypings geverg om Jona uit die moeilikheid te kry. God is bekend daarvoor om water “bitter” te maak en om te veroorsaak dat manna “stink,” in ‘n poging om gehoorsaamheid minder moeilik te maak.

In antwoord op vurige gebed, kan God jou voorwerp van begeerte verander in ‘n gruwelike stank vir jou, en Hy kan oorgawe aan sonde so bitter maak dat jy daarvan sal wegdeins om ooit weer toe te gee. Hy mag jou met ‘n ompad neem; Hy mag mense uit jou lewe verwyder; Hy mag die voorwerp van jou begeerte teen jou laat draai; Hy mag allerhande padblokkades opstel; Hy mag ‘n “Job se muur” van beskerming oprig; Hy mag jou bloot onweerstaanbaar trek na die binnekamer van gebed; Hy mag iemand stuur om jou te waarsku of reg te help – maar op een of ander bonatuurlike manier, sal God gebed verhoor en ingryp, en dit vir gelowiges moontlik maak om die meeste van hulle ernstige versoekings te oorwin.

Gelowiges, wat diep binne, nie hulle begeerte wil prysgee nie en wat heimlik hoop om aan te hou om daaraan toe te gee, kan nooit hierdie wonderlike ingryping ontvang wanneer hulle versoek word nie. God tree in om ‘n uitweg te maak slegs wanneer die hart volkome aan ‘n lewe van afsondering en reinheid verbind is.

As daar nie ‘n verbintenis is nie, sal dit nie werk nie. God is nie verplig om in te gryp wanneer iemand nie regtig verlossing wil hê nie.

Flankeerders met boesemsondes word gelos om teen versoeking te stry met hulle eie krag. Dan wanneer hulle toegee aan sonde, blameer hulle God omdat Hy hulle nie “daaruit getrek het nie.” Hulle sê, “Ek het vir God gewag, maar Hy het my net laat voortgaan en dit doen.”

Maar die gelowige wat eerlikwaar van sonde se slawerny vry wil wees, kan verseker wees sy liefdevolle Vader sien sy stryd en sal al die krag van die Hemel gebruik om hom by te staan.

Wanneer jy ernstig versoek word, vra God vir sy bonatuurlike ingryping en vra met geloof, terwyl jy glo dat Hy dit sal doen.

God het belowe om ons te “verlos van die bose.” Hier is bewyse van God se hulp in tye van versoeking:

“O Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad! Hy bewaar die siele van sy gunsgenote, Hy red hulle uit die hand van die goddelose” (Psalm 97:110).

“Ons siel het vrygeraak soos ’n voël uit die vangnet van die voëlvangers; die vangnet is gebreek, en ons, ons het vrygeraak” (Psalm 124:7).

“My oë is altyddeur op die HERE, want Hý sal my voete uit die net uitlei” (Psalm 25:15).

“En hulle sal die Naam van die Here vrees van die westekant af, en sy heerlikheid van die opgang van die son af; want Hy sal kom soos ’n saamgeperste stroom wat die asem van die HERE aandrywe” (Jesaja 59:19).

Ek hoef nie langer te vrees om te struikel of te val nie. Hy sal my bewaar, my liefhê, en my in die hemel bring met Sy krag.

“Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 24).

Download PDF