Die Sonde van Vermenging | World Challenge

Die Sonde van Vermenging

David WilkersonAugust 1, 1983

Hoeveel kerke waarvan jy weet word oorstroom met die ontsagwekkende teenwoordigheid van Jesus Christus? Waar word gelowiges so met ontsag en eerbied vervul, dat hulle in heilige stilte vergader. Waar niemand waag om ligsinnig of lighartig te wees nie. Waar die sang so gevul is met Christus se teenwoordigheid dat sondaars ween. Waar die afvallige en die goddelose sondaars so ellendig voel dat hulle óf na die altaar, óf by die deur uit hardloop. Waar die prediker so gesalf is dat sy aangesig lyk of dit skyn met bonatuurlike heerlikheid en sy woorde sondeoortuigende krag het.

Hoeveel Christene wat jy ken, leef in die heerlike oorwinning wat kom deur baie tyd in Jesus se teenwoordigheid deur te bring? Wie is daar wat jy ken by wie jy so opgewonde is, omdat jy die oorwinning en vrede binne-in hulle kan aanvoel? Waar is diegene wat daarin juig om vestings neer te werp – bose gedagtes verwerp – triomfeer oor begeertes en passies – wat die sterk arm van die Here ontdek en toegeëien het vir al hulle hartseer, probleme en bekommernisse?

Hoe min kerke, hoe min herders en hoe min Christene is daar wat lewend en lewenskragtig is met die krag van Christus se teenwoordigheid?

Waarom? Omdat hierdie geslag Christene skuldig is aan die sonde van vermenging! Ons sluit die wesenlike teenwoordigheid van Christus uit want ons wil nie langer ‘n afgesonderde volk wees nie. Ons wil meng. Ons wil nie anders wees nie.

Meng beteken “om te kombineer of te meng tot een groot massa sodat individuele karaktereienskappe verdwyn.” Dit is die vermenging van twee elemente wat veroorsaak dat hulle hul afsonderlike uniekheid verloor en ‘n nuwe, eenvormige karakter aanneem.

Beskryf dit nie presies wat vandag met Christenskap gebeur nie? God se kinders wil meng en vermeng – en gou verloor hulle hul unieke, anderse, spesiale karakter. Hulle verloor hulle goddelike karakter en neem die karakter van die wêreld aan.

Van die begin af, het God gekies om Sy teenwoordigheid slegs te openbaar deur ‘n spesiale, afgesonderde volk.

Hy het gekies om Homself deur Israel te openbaar – as hulle die sonde van vermenging sou vermy:

“Want jy is ’n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees...” (Deuteronómium 7:6).

Moses het geweet daar was slegs een ding wat hulle spesiaal gemaak het, of anders as al die ander mense op aarde. Dit was nie omdat hulle in hulleself waardig of heilig was nie. Dit was die teenwoordigheid van God geopenbaar in hulle midde! Hulle alleen het die wesenlike teenwoordigheid van Almagtige God gehad.

“En Hy [God] antwoord [Moses]: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf? Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie...

“Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is...” (Exodus 33:14-16).

Hier is afdoende bewys dat God se kinders spesiaal en anders is weens die wesenlike teenwoordigheid van die Here in hulle midde! Neem Sy teenwoordigheid weg en daar is geen verskil met die res van die kerkwêreld nie. Enige kerk of volk kan daarin roem dat hulle Gees-vervuld is en die volle evangelie bring – maar as daar geen oorweldigende teenwoordigheid van Christus werk in hulle midde nie, is hulle net so ordinêr soos enige ander dooie, droeë kerk. Ons is spesiaal, anders, slegs wanneer Christus se teenwoordigheid ten volle geopenbaar word onder ons.

God het Israel gewaarsku dat enige mengsel met die wêreld sou veroorsaak dat Hy Sy teenwoordigheid onttrek, en Hy sou hulle verwerp as die spesiale kanaal van openbaring. Hulle was beveel om genadeloos op te tree teen die goddelose, heidense gees van hulle tyd:

“Dan moet jy hulle geheel en al met die banvloek tref; jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie... Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie...want hy sal jou... van My afvallig maak...” (Deuteronómium 7:2-4).

Josua het ook die kinders van God gewaarsku – “...maar hulle sal vir julle ’n vangnet en ’n strik wees en ’n angel in julle sye en dorings in julle oë, totdat julle omkom uit hierdie goeie land wat die HERE julle God aan julle gegee het” (Josua 23:13).

Die waarskuwings van Josua is net so nodig vandag. Vir my, verduidelik dit baie van die hartseer en pyn in die lewens van sommige Christene. Dink daaraan – wydverspreide verdrukkings en dorings, alles veroorsaak deur affiniteit met die wêreld. Die direkte gevolg van die sonde van vermenging.

Israel was lief daarvoor om te meng! God se mense was vasbeslote om weg te doen met alles wat hulle anders gemaak het van die res van die wêreld. Hulle het die skande om afgesonder te wees, verag. Hulle wou konings hê, net soos die res van die wêreld. Hulle wou seksuele vryheid hê, soos die res van die wêreld. Hulle wou flankeer en hulle oorgee aan owerspel en steeds die altaar bedek met trane; hulle wou die begeertes, die passie, die onsedelikeid, die pornografie, die hoerery en die afgode – van die res van die wêreld hê. Daarom het hulle Sy gebod verwerp om afgesonder en spesiaal te wees vir Hom. Hulle het gesondig en trots en ydel geword, en vir hulleself gesmelte beelde gemaak en al die sterre van die hemel aanbid – om kwaad te doen in die aangesig van God “soos die goddelose.”

“Daarom het die HERE die hele geslag van Israel verwerp en hulle verneder en hulle in die hand van rowers oorgegee totdat Hy hulle van sy aangesig weggewerp het...” (2 Konings 17:20).

Daar was geen behoefte vir Israel om raadgewers, of geestelike adviseurs, of profete na te jaag – om uit te vind waarom hulle so geteister was met wanhoop nie. Hulle het geweet hulle was verdruk. Hulle het geweet waarom hulle moeilikheid toegeneem het – die teenwoordigheid van die Here was weg! God het hulle verwerp as die kanaal van sy teenwoordigheid en het hulle oorgegee aan verderwers!

Natuurlik word nie almal wat ly, verwerp as kanale van Christus se teenwoordigheid nie. Talle is siek en ly omdat God, soos teenoor Dawid, meer van Sy teenwoordigheid wil openbaar aan die lyer, of diegene wat naby hulle is. Maar die konteks hier praat van ‘n volk wat in verstandelike en geestelike foltering leef omdat hulle hul plek in God verwerp het.

Die oorheersende boodskap van die profete was “Jou ongeregtighede het die teenwoordigheid van God laat weggaan.”

Jeremia het Israel gevra, “Waarom dink jy die Here God het al hierdie dinge vir julle gedoen?” Toe het hy vir hulle die antwoord gegee: “Waarom het hulle My geterg met hulle gesnede beelde, met vreemde, nietige afgode?...” (Jeremia 8:19). God het met Sy volk gepraat deur Sy profeet en gesê, “Sou julle vir Mý nie bevrees wees nie, spreek die HERE, of voor my aangesig nie bewe nie... Maar hierdie volk het ’n oproerige en wederstrewige hart... Julle ongeregtighede het hierdie dinge afgeweer, en julle sondes het die goeie van julle teruggehou...” (Jeremia 5:22-25).

Luister na God se aanklag teen hierdie vermengers!

“Hulle het vet, hulle het glad geword; selfs gaan hulle oor die maat van boosheid heen...” (Jeremia 5:28).

Jesaja het geween omdat “Sion het ’n woestyn geword, Jerusalem ’n wildernis. Ons heilige en heerlike huis waar ons vaders U geloof het...het ’n puinhoop geword.....Sal U swyg en ons uitermate verdruk?...” (Jesaja 64:9-12).

Hy het uitgeroep, “En daar was niemand wat u Naam aangeroep het, wat hom beywer het om U aan te kleef nie; want U het u aangesig vir ons verberg en laat ons wegsmelt deur ons ongeregtighede...” (Jesaja 64:7).

Was dit genadeloos van God? Was daar geen genade om aan hulle te bewys nie? O, luister na die liefdevolle pleidooi wat God aan hulle gemaak het:

“Ek het my hande die hele dag uitgebrei na ’n opstandige volk wat wandel op ’n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan...” (Jesaja 65:2).

Jesaja gaan verder om die gevolge van hulle vermenging te beskryf. Hulle het begin om  - “’n volk...wat offer in tuine en rook laat opgaan op bakstene [vir afgode]...varkvleis eet...” Israel het vermeng, sy unieke karakter verloor, en het die karakter en identiteit van die wêreld aangeneem! Daarom het God Sy gesig vir hulle versteek, hulle nuwe karakter verwerp, en Sy teenwoordigheid onttrek.

Is ons so blind om die punt wat God maak in die Ou Testament te nie raak te sien nie! Hoeveel duideliker kan dit wees dat God nie ons vermenging met die onheiliges, die onreines sal verdra nie! Waarom so ‘n afgesonderde priesterskap in die Ou Testament? Om vir ons ‘n voorbeeld te bied van God se vaste verbintenis om Homself deur ‘n heilige, rein, afgesonderde volk te openbaar.

  • “Moenie wyn of sterk drank drink nie, jy of jou seuns saam met jou as julle in die tent van samekoms ingaan, dat julle nie sterwe nie; ’n ewige insetting is dit vir julle geslagte...
  • “En julle moet onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig, en tussen wat onrein en wat rein is” (Levitikus 10:9,10).
  • “En julle moet vir My heilig wees, want Ek, die HERE, is heilig; en Ek het julle van die volke afgesonder om myne te wees...” (Levitikus 20:26).

Dit is die spesiale boodskap van die Ou Testament – ‘n spesiale, afgeskeie, afgesonderde, anderse volk wat God se saak op die aarde sou handhaaf, deur ‘n manifestasie van Sy teenwoordigheid!

Esra het vir sy volk gevra:

“Sal ons weer u gebooie verbreek en ons verswaer met hierdie gruwelike volke?... totdat ons vernietig is, sodat daar geen oorblyfsel of vrygeraakte meer is nie?...

“Die volk van Israel en die priesters en die Leviete het hulle nie afgesonder van die volke van die lande, wat hulle gruwels betref nie...sodat die heilige geslag hom met die volke van die lande vermeng het...” (Esra 9:1-14).

Die Nuwe Testament is selfs sterker in die veroordeling van die sonde van vermenging!

Daar is niks in die Ou Testament so sterk soos die waarskuwings van Paulus teen liefde vir die wêreld nie:

“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige...” (2 Korinthiërs 6:14-18).

In die Ou Testament, toe God die krag van Sy teenwoordigheid wou openbaar voor die goddelose Egiptenaars, het Hy eers ‘n lyn van skeiding getrek, wat God se volk in Gosen geskei het van die res van Egipte.

“En die HERE sal ’n onderskeid maak tussen...die Israeliete en...die Egiptenaars...Want hierdie keer sal Ek al my plae in jou hart stuur...dat jy kan weet dat daar niemand op die hele aarde is soos Ek nie...” (Exodus 9:4,14).

God wil hê die wêreld moet die verskil sien tussen Sy volk wat Hom liefhet en die res van die ongelowige wêreld. Hy wil hê ons moet ‘n voorbeeld wees van ‘n verloste en triomferende volk, wat op Sy magtige arm vertrou om ons te verlos van alle kwaad en boosheid.

Die demonstrasie van God se skrikwekkende teenwoordigheid aan die werk onder Sy kinders het die hart van Farao getref met magtige sondeoortuiging – “Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en vir hulle gesê: Ek het dié keer sonde gedoen...ek en my volk het ongelyk” (Exodus 9:27).

Die redes vir afsondering van die wêreld (Egipte) is dieselfde vandag. God trek weereens die lyn tussen Sy volk en hierdie goddelose eeu, sodat hierdie geslag kan weet dat daar niemand soos Hy is wat verlos in die hele wêreld nie. Die goddelose van hierdie eeu moet selfs ‘n groter manifestasie van die Here se teenwoordigheid hê; niks anders sal hulle aandag trek nie. Niks anders sal hulle tref met oortuiging van sonde nie. Die Heilige Gees is uitgestort, sodat alle vlees onder die krag van Christus se teenwoordigheid kon kom – en oortuig kan word van sonde, geregtigheid en oordeel!

Wat ook al gemeng is met die wêreld kan nooit van God af wees nie. Dit kan nooit ‘n kanaal van Christus se wesenlike teenwoordigheid wees nie. Ons Here gaan “Íkabod” skryf oor die huis van elke bedienaar wat ingesuur is met die gees en metodes van hierdie eeu. Hy sal elke bedienaar van die evangelie wat na Sodom kyk, verbrand en neerwerp. Hy sal Sy teenwoordigheid onttrek van alle belyde gelowiges wat smag na die plesiere en verleidings van hierdie wêreld. Hulle sal droog, leeg, en verward gelaat word. Hy kan nie – Hy sal nie – Sy Heilige Teenwoordigheid toevertrou aan iemand wat nie heeltemal afgesonder van die wêreld is en slegs aan Hom onderwerp is nie.

Ongehoorsame dienaars sal nie in staat wees om die duiwel en die sedelike ineenstorting van hierdie laaste eeu nie teë te staan nie. Hulle sal eens en vir altyd die aanraking van God verloor, en hoewel sommige gered sal word, sal hulle onwaardig geag word vir die salwing. As jy van “hierdie wêreld” is, is jy nie van Syne nie! Jesus het gesê, “Ek is nie uit hierdie wêreld nie...” (Johannes 8:23).

Toe Hy van Sy ware dissipels gepraat het, het Hy gesê, “...Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie...” (Johannes 17:16). Weereens, “Omdat...Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Johannes 15:19).

Verstaan ons werklik wat Jesus vir ons sê? “Ek het ‘n verskil tussen jou en die wêreld gestel. Hulle sal jou haat as gevolg van My teenwoordigheid in jou.” As dit waar is, waarom probeer vriende maak met die wêreld? Waarom meng ons hulle musiek met ons s’n? Waarom soek ons hulle seën? Waarom buig ons ons sedes om hulle te akkommodeer? Waarom soek ons hulle applous en seën? Ons is nie van hierdie wêreld nie! Ons behoort ons verskil te aanvaar en ophou probeer soos hulle wees.

Die wêreld het sy eie lief – maar ons is nie deel daarvan nie. God, help ons om met blydskap ons besonderse karakter van afsondering en verskil te aanvaar en die wêreld prys te gee. Slegs diegene wat werklik nie met die wêreld meng nie en afgesonderd is met Christus, het enige krag om die wêreld te red!

“As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie...” (1 Johannes 2:15).

Die Vader het die verlorenes lief. Die Christen wat vermeng, of die bediening wat vermeng, kan nie daardie liefde vir die ongereddes ken of deel nie. Die liefde van die Vader vir die verlorenes is nie in hulle nie. Die vermengde Christen toon oneer aan die Kruis van Christus, want Hy het Homself gegee sodat Hy ons kan verlos van hierdie teenswoordige bose wêreld – hoe kan ons enige deel daarin hê?

Die Heilige Gees roep nou al die ware volgelinge van Jesus Christus en sonder hulle af – reinig, wan uit, kry hulle gereed as ‘n spesiale volk om Sy glorieryke teenwoordigheid terug te bring om die aarde te skud. ‘n Volk gekruisig vir die wêreld! Gereed om te stry met die owerhede en magte van die duisternis, en teen alle geestelike boosheid in hoë plekke.

Daar is slegs een hartseer alternatief vir diegene wat met die wêreld meng:

“Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God..” (Jakobus 4:4).

In hierdie laaste dae, gaan Sy vriende en vyande bepaal word deur of hulle vermeng of afgesonder is.

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE