Die Sonde Wat God Laat Huil | World Challenge

Die Sonde Wat God Laat Huil

David WilkersonNovember 1, 1984

Sonder om doekies om te draai of dit sagkens te stel. Laat my dit vir jou reguit sê. Die sonde wat God laat huil, word daagliks gepleeg – nie deur heidense werkers van ongeregtigheid nie, maar deur menigte Christene! Dit is die sonde van twyfel oor God se liefde vir Sy kinders.

Dink jy dit laat God te menslik en kwesbaar klink om te sê dat Hy huil? Vra jouself af, hoe kan ‘n God van liefde nie huil nie, wanneer Sy eie kinders twyfel oor Sy natuur? Hoe kan Hy nie bedroef wees nie, wanneer Sy eie kinders optree asof Hy hulle verlaat het en hulle oorgelaat het aan hulle eie planne? Jesus Christus was God in die vlees, en volgens die boek Johannes, het Hy geween wanneer die wat die naaste aan Hom was, Sy liefde en omgee oor hulle in twyfel getrek het. Dit was God in die vlees by die graf van Lasarus, wat geween het oor vriende wat Hom nie op Sy woord wou neem nie.

Hy het gehuil omdat hulle ongeloof hulle onnodige smart en hartseer veroorsaak het. Hy het gehuil omdat hulle nie besef het wie Hy was en in Sy beloftes gerus het nie.

Keer op keer het Christus se dierbaarste metgeselle op hierdie aarde getwyfel in Sy liefde vir hulle. Dink terug aan die storie van die dissipels in ‘n stormgeteisterde boot wat skynbaar water ingeneem het. Jesus was in die agterskip, vas aan die slaap. Sy volgelinge het vir hulle lewens gevrees en Hom beskuldig van blatante ongevoeligheid. “Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?” (Markus 4:38). Hoe moes hulle beskuldiging die Here bedroef het! Dit was almagtige God in hulle boot! Hoe kon God nie omgee nie? Maar wanneer mense ook al hulle oë afhaal van die Here en op hulle omstandighede konsentreer, neem twyfel altyd oor. Jesus was verstom! “Hoe kan julle dan bang wees as Ek by julle is? Hoe kan julle My liefde en sorg betwyfel? Het julle geen vertroue in My nie?” (sien Markus 4:40)?

Christene vandag bedroef die Here in hierdie saak selfs nog meer. Ons ongeloof is ‘n groter belediging vir Hom as die ongeloof van Maria, Marta en al die dissipels, want ons sonde word gepleeg teen groter lig. Ons staan op ‘n hoër berg en sien meer as wat hulle ooit kon sien. Ons het ‘n volle Bybel met ‘n volle en gedetailleerde opgawe van God se getrouheid. Ons het die geskrewe getuies van amper twintig eeue se Christene, geslag op geslag se goddelike vaders wat vir ons onwrikbare bewyse van God se liefde nagelaat het.

En dit is nie al nie. Ons het ontelbare persoonlike ervarings wat getuig van God se deernisvolle liefde en geneëntheid teenoor ons. Is daar ‘n enkele Christen wat waag om te sê hy het nie persoonlik die Here se liefdevolle ingryping in die besonderhede van sy lewe gesien talle kere nie? Tog gaan ons voort om in Sy liefde te twyfel. Wanneer probleme ontstaan en die Here lyk of Hy uitstel om ons te help soos ons dink Hy moet, dan kerm ons. Ons dink dit is niks nie as ons voortgaan met die sake van ons alledaagse lewens vol vertwyfeling oor Sy liefdevolle goedheid. Ons twyfel dat Hy ons geroep hoor. Ons twyfel Hy sal doen wat reg is. Ons twyfel in Hom om elke hoek en draai – en nie een keer sien ons die uitermate sondigheid van ons ongeloof nie. Ons weier om te erken dat ons beskuldigende hart God kon laat huil.

Die ellende van twyfel in ‘n Vader se liefde

Die storie van Josef en sy broers illustreer duidelik die droefheid wat veroorsaak word deur onbeantwoorde liefde. Hierdie Ou Testament storie hou ‘n kragtige boodskap in vir Nuwe Testament Christene. Josef is ‘n tipe Christus. Sy broers is ‘n tipe van God se uitverkore volk op aarde. [Onthou dat God aan Jakob belowe het, “Konings sal uit jou lendene voortkom” (Génesis 35:11)]. Josef se metode om sy broers te hanteer, is ‘n duidelik tipe van God se manier waarop Hy ons hanteer vandag. Hierdie storie van een man se vergewende liefde vir sy sondige broers is so ‘n pragtige beeld van God se liefde en genade vir sondige mense.

Om die storie van Josef en sy broers te lees, is om een van die hartseerste tragedies in God se hele Woord in herinnering te roep. Daar was ‘n geslag van uitverkore mense wat nooit kon glo hulle was geliefd nie. Die verwoestende stroom van sonde en smart veroorsaak deur hulle wantroue, sou dien as ‘n plegtige waarskuwing vir almal van ons.

1. Twyfel in hulle Vader se liefde het veroorsaak dat Josef se broers diep in sonde verval het.

Jakob het ‘n spesiale liefde vir Josef gehad, die kind van sy ouderdom en hy het spesiale voorsiening gemaak om hom te versorg. Sy ouer seuns het hierdie ekstra aandag opgevat om te beteken dat hulle vader Josef meer liefgehad het as wat hy hulle liefgehad het: “Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom [Josef] gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie” (Génesis 37:4).

Die feit dat Jakob Josef so innig liefgehad het, het nie beteken dat hy sy ander seuns minder liefgehad het nie. Hy het getrou vir hulle ook gesorg en al sy kinders geseën. Hulle het almal dieselfde liefdevolle leiding en dissipline ontvang. Maar hulle het jaloers geraak oor wat gelyk het soos een broer se bevoorregte posisie. Hulle het gedink daar was ongelykheid in hulle vader se liefde. Dit het gelyk asof Josef alles gekry het wat sy hart begeer het, insluitende ‘n deftige mantel met baie kleure. Dit het voorgekom asof hy dit makliker gehad as wat hulle dit ooit gehad het. Hy was meer geseënd, meer bevoorreg, meer vertroetel – en dit het hulle kwaad en jaloers gemaak.

Was jy al ooit skuldig daaraan om afgunstig te wees op ‘n broer in die Here wat lyk asof hy alles kry wat hy wil hê? Dit lyk asof sy gebede altyd vinnig verhoor word. Dit lyk asof hy nooit eensaam, ongeliefd, of oorbodig is nie. Jy sien hom toegevou in God se liefdevolle arms, terwyl jy verlate en alleen voel. Die wortels van bitterheid en jaloesie begin groei.

Geliefde, dit is gevaarlike grond. Die oomblik wat ons glo dat ons hemelse Vader ons minder liefhet as wat Hy iemand anders liefhet, maak ons onsself oop vir allerhande soorte kwaad. Wanneer ons kla oor ons omstandighede – of dit nou hardop is, of stil in ons harte – beskuldig ons God van verwaarlosing. Ons sê, “Ek probeer so hard om te doen wat reg is, maar die begeertes van my hart word nooit aangespreek nie. Ander Christene het so ‘n maklike lewe! Kyk na hom; kyk na haar; alles gaan so goed met hulle. Hulle is nie beter as ek nie. Waarom is hulle so bevoorreg, terwyl ek afgeskeep word?”

Dit is die gesindheid wat soveel probleme vir Josef se broers veroorsaak het! Twyfel in hulle vader se liefde, het die sluise van kwaad oopgemaak. Bitterheid en rebellie het ingestroom. Hulle harte het vol geword met haat en jaloesie. Die begeerte vir wraak het ‘n vuur in hulle siele aan die brand gesteek.

Hou asseblief in gedagte dat hoewel hulle ernstig gesondig het in die verlede, was Josef se broers nie willens en wetens goddelose mense nie. Hulle was die “konings uit Jakob se lendene”! – die vaders van nasies. Gedurende hulle verblyf in Haran, was hulle bekoor met die weë van die wêreld. Jakob het na hulle gekom – en hulle gewaarsku, “Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan” (Génesis 35:2). Gehoorsaam het hulle hul afode afgelê en gekyk hoe Jakob dit onder ‘n akkerboom in Sigem begrawe het. Hulle het toe hulle vader na Bet-el gevolg en gesien hoe God die omliggende goddelose stede geteister het, sodat geen vyand gewaag het om hulle te agtervolg nie. By Bet-el het hulle aanbid by die altaar wat Jakob gebou het.

Maar diep in hulle harte, het hulle gedink, “Ons is nie geliefd op dieselfde manier as ander nie. Ons vader is nie ewewigtig in sy liefdes nie. Ons is verwaarloos en veronagsaam.” Hierdie gevoel het ongehinderd gegroei. Uiteindelik het iets in hulle gebreek. Hulle het verander. Hulle taal en hulle motiewe het verdraaid geword. ‘n Innerlike gemeenheid het ontwikkel. Hulle het besluit om sake in eie hande te neem. Teen hierdie tyd het hulle alle kommer verloor oor die droefheid wat hulle dade hul vader sou aandoen. In plaas daarvan, was hulle heeltemal verteer met die begeerte om die ongeregtigheid wat hulle gedink het hulle aangedoen was te wreek.

Wat ‘n klein, maklike stap is dit om te neem vanaf twyfel in ‘n vader se liefde tot reg in ons eie hande neem – maar wat ‘n tragiese een! Die oomblik waarop jy jou eie wil af forseer – maak jy jou hart kwesbaar vir ‘n stortvloed van kwaad.

Die eerste ding wat in Josef se broers verander het, was die manier waarop hulle gepraat het. Luister na hulle – dit is ongelooflik! “Kom, laat ons hom doodmaak... Nee, gooi hom in ‘n put... Nog beter, laat ons hom verkoop aan die Ismaeliete en ‘n bietjie geld maak vir ons moeite!” Luister hoe hulle kibbel soos slawehandelaars oor die prys van hulle eie broer: “Tien stukke silwer is nie genoeg nie – ook nie vyftien nie. Gee vir ons twintig!” Hulle harte het geswel van minagting en verraad. En uit daardie verdorwe harte, het ‘n stroom van goddelose woorde gekom. Hulle het nou die taal gepraat, nie net van twyfel nie, maar ook van die wêreld.

Wys vir my ‘n Christen wat begin twyfel in God se liefde en besluit om sake in eie hande te neem, en ek sal vir jou ‘n Christen wys wie se gesprekke verderflik geword het. Amper oornag sal daar ‘n opmerklike verandering wees. Hoe meer hy twyfel, hoe meer goddeloos sal sy spraak word. Dit is absoluut skokkend om die manier te hoor waarop sommige Christene praat. Eens het hulle met goddelike ontsag en eerbied gepraat. Eens het hulle woorde van geloof en blydskap geuiter. Eens het hulle sag gepraat, met spraak wat stig. Nou praat hulle kortaf, oneerbiedig. Hulle woorde verraai wat in hulle harte is – vrees, ongeloof, wanhoop.

Onheilige spraak is ‘n sekere teken van ‘n verharde hart. Josef se broers het onsensitief geword vir sonde! Slegte gesprekke lei tot kriminele gedrag. Eers praat hulle soos die goddelose; dan begin hulle ook soos hulle optree. Kort voor lank, word hulle koue, berekende misdadigers. Hulle verloor alle skuldgevoelens oor sonde. Nie net het hulle gesondig nie – nie net het hulle dit bedek nie – maar hulle het voortgegaan asof niks gebeur het nie! Nadat hulle hul eie broer in slawerny verkoop het, nadat hulle blatant vir hulle eie vader gelieg het, het hulle kalm uitgegaan en gaan skape oppas.

Vir twintig lange jare, het hulle hul bose daad uit hulle gedagtes uitgewis en voortgegaan met die lewe soos gewoonweg. Vir twintig jaar het hulle daardie donker sonde in hulle siele rondgedra. Vir twintig jaar het hulle rondgegaan met ‘n bewusteloosheid, terwyl hulle steeds getwyfel dat hulle geliefd was, steeds gedink het dat hulle die reg het om sake in hulle eie hande te neem. Vir twintig jaar, het hulle by hulle vader se tafel gesit en sy droefheid aanskou, maar nie één keer was hulle die genoop om hulle sonde te bely en dinge reg te maak nie. Hulle gewetes was toegeskroei.

Hoe laag daal ons wanneer ons begin twyfel in ons Vader se liefde. Hoe verderflik word ons – hoe onsensitief vir sonde! Maleági die profeet het die kinders van Israel gewaarsku oor die hardheid van hulle harte. Soos Josef se broers, het die Israeliete slagoffers geword van twyfel en het op die ou end onsensitief geword vir hulle sonde. Die boek Maleági begin, “Godspraak. Die woord van die HERE aan Israel deur die diens van Maleági. Ek het julle liefgehad, sê die HERE. Nogtans vra julle: Waarin het U ons liefgehad?” (Maleági 1:1,2). Ongelooflik! Hulle het gewaag om vir God te sê, “Ons sien geen bewyse in ons lewens dat U ons liefhet of vir ons omgee nie!”

Weer, soos die broers van Josef, het hulle twyfel gelei tot allerhande soorte goddeloosheid en afvalligheid. God het vir hulle gesê, “Julle verag my Naam.” Met ander woorde, “Julle het verander. Julle het ‘n innerlike veragting vir My. Julle dink julle is nie geliefd nie, so heimlik haat julle My eintlik!”

Die ergste van alles – hulle was blind vir hulle oortreding! God sê vir hulle, “Maar julle sê: Waardeur het ons u Naam verag?... Waardeur het ons U verontreinig?” (Maleági 1:6,7). Hierdie arme, afvallige skepsels het nie ‘n idee gehad hoe ver hulle afgedwaal het van hulle vroeëre toewyding aan God nie. Hulle het voortgegaan om Hom lippediens te gee, maar hulle was slegs leë doppe. Deur te twyfel in God se liefde vir hulle, het hulle hul liefde vir Hom verloor en hulle gewend na materialisme en wêreldse plesier. Hulle het moeg geword vir God se nou weg, verveeld met aanbidding, moeg van dien, ontnugter met God self!

As ons maar die hartseer kon verstaan wat ons vir God veroorsaak wanneer ons Sy liefde bevraagteken! Miskien sou jy nie waag om sulke vertwyfelinge hardop te sê nie, maar jy dink heeltyd daaraan, “Waar is die bewyse dat die Here my liefhet? Waar is die antwoord op my gebed? Niks verander nie. As U my werklik liefhet, Here, bewys dit dan!”

Word wakker! Verwerp al sulke bose gedagtes. As jy voortgaan om God se groot liefde in twyfel te trek, sal jy op die ou end net soos Josef se broers en die Israeliete wees – ontnugter met die dinge van God, moeg om Hom te dien, verveeld met wag vir Sy verhoring van jou gebede. Jy sal sake in jou eie hande neem en in ellende beland.

2. Nie hulle twyfel of hulle sondes kon Josef keer om hulle lief te hê nie.

God het ‘n krisis gebruik om aan Josef se broers te openbaar hoe geliefd hulle werklik was. Dit was ‘n krisis van hongersnood. “En die hongersnood was oor die hele oppervlakte van die aarde...Toe Jakob merk dat daar koring in Egipte was, het Jakob aan sy seuns gesê...trek daarheen af, en koop vir ons daar koring...Daarop het tien van Josef se broers afgetrek om koring uit Egipte te koop” (Génesis 41:56; 42:1-3).

Twintig jaar het verbygegaan sedert hulle misdaad. Josef was nou Eerste Minister van Egipte. Vir sewe jaar het hy graan geberg ter voorbereiding van die hongersnood. Jakob se seuns het voorgestel dat hulle net na Egipte gaan om koring te kry. Maar God het ‘n groter en beter plan gehad: Hy het hulle daarheen gestuur om ‘n openbaring van liefde te ontvang! Hulle sou leer waaroor die genade van God gaan. Hulle sou barmhartigheid, vergifnis en herstel beleef. Hoewel hulle niks anders as oordeel verdien het nie, sou hulle suiwer genade ontvang.

Deur in gedagte te hou dat Josef ‘n tipe van Christus is, vind ek dit onmoontlik om hierdie deel van die storie te lees sonder trane. Dit is so ‘n pragtige beeld van die genade en liefde van ons Here Jesus Christus vir al diegene wat Hom gefaal het.

Twintig jaar van sonde en voorgee, het die broers buite bereik van Josef gehou. Hulle het waarskynlik aangeneem dat hy dood was teen hierdie tyd. Toe hulle by Farao se hof aangekom het en voor Josef verskyn het, het hulle hom nie herken nie, maar hy het hulle dadelik herken (sien Génesis 42:8). Daar was hulle, al knielende voor hom net soos hy gedroom het. Was Josef kwaad vir hulle? Wou hy hulle terugkry? Wou hy hulle laat betaal vir hulle sondes? Nooit! Die Bybel sê sy binneste het na hulle gesmag. Sy hart was gevul met deernis toe hy die broers sien wat hy so innig liefgehad het.

Waarom het hy dan so kwaai met hulle gepraat (sien Génesis 42:7)? Waarom het hy hulle beskuldig van spioene wees? Ek het eens gedink dat Josef ‘n bietjie wraak geneem het. Maar dit was glad nie sy motief nie. Hy het bloot God se leiding gevolg. Hierdie trotse mans was nog nie gereed vir ‘n openbaring van genade en barmhartigheid nie. Eerstens, moes hulle die uitermatige gemeenheid van hulle sonde sien. Hulle moes hulle skuld en skande in die oë kyk. Hulle moes raadop word – sodat daar niks anders oorgebly het om hulle te help nie, behalwe genade.

Dit is onmoontlik om God se genade te verstaan totdat ons aan die einde van ons eie hulpbronne kom. God het hierdie waarheid aan Josef getoon en Josef het sy broers in die tronk gestop vir drie dae – nie om hulle te straf nie - maar om hulle die kans te gee om die waarheid van hulle sonde in die oë te kyk. Dit was die wet aan die werk, en dit het hulle goddelose natuur aan hulle geopenbaar. En dit het gewerk. “Toe sê hulle vir mekaar: Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie — daarom kom hierdie benoudheid oor ons... En hulle het nie geweet dat Josef dit verstaan nie, want daar was ’n tolk tussen hulle....” (Génesis 42:21,23).

Josef kon dit nie vedra om sy broers in sulke ontsteltenis te sien nie. “Toe draai hy hom van hulle af weg en ween” (Génesis 42:24). Waarom het hy geween? Nie weens die lang skeiding of weens hulle penarie nie – maar omdat sy broers steeds verteer was deur diepe bitterheid. Hulle het steeds ‘n wrok teen God gehad, en todat daarmee afgereken was, was hulle nie in staat om liefde en vergifnis te aanvaar nie.

Josef het die toestand van hulle harte onderskei en het ‘n krisis geskep om hulle bitterheid en ontnugtering na die oppervlak te bring. Hy het sy dienaars beveel om sy broers se sakke vol te maak met die koring wat hulle kom koop het en in die geheim hulle geld terug te sit in hulle sakke. Toe, sonder dat hy sy ware identiteit geopenbaar het, het Josef sy broers vrygelaat en hulle teruggestuur huistoe. Op hulle terugreis, het een van die broers sy sak oopgemaak en die geld ontdek. “En hy sê vir sy broers: My geld is teruggegee; hier lê dit dan ook in my sak! Toe het hulle hart hul begewe, en hulle draai verskrik na mekaar toe en sê: Wat het God ons nou aangedoen?” (Génesis 42:28).

Hulle het huistoe gegaan met dubbele smart. Nou was alles in die openbaar. “Na al die jare,” het hulle gedink, “Gaan God ons laat betaal vir ons sondes!” Nie net het hulle geglo dat hulle ongeliefd was, maar hulle was ook daarvan oortuig dat God wraak gesoek het. Kort voor lank, het hulle graan opgeraak en hulle was gedwing om weer terug te gaan Egipte toe. Bewend, het hulle teruggegaan en hulle onskuld probeer verduidelik. Maar hulle het geweet dit was hopeloos. Hulle het ten volle oordeel en toorn uit die hand van Farao se opsiener verwag.

Waarom het hierdie mans die ergste van Josef verwag? Omdat hulle glad nie geweet het wie hy was en wat in sy hart was nie. Wanneer ons die ergste van God verwag, is dit nie omdat ons Hom nie werklik ken nie? Is dit nie omdat ons geen openbaring van sy liefdevolle hart het nie? Ons vrees word veroorsaak deur onkundigheid oor die barmhartigheid en genade van ons Here.

Die broers was heeltemal onkant gevang met dit wat gebeur het toe hulle Josef genader het. Eerder as om hulle te beskuldig of te oordeel, het hy hulle genooi om by hom te “Kom eet.” “Toe Josef Benjamin by hulle sien, sê hy aan die opsigter oor sy huis: Bring die manne in die huis en slag slagvee en maak dit gereed, want die manne moet vanmiddag by my eet. En die manne het gevrees, omdat hulle in die huis van Josef gebring is” (Génesis 43:16,18).

Wil hulle blindheid jou nie laat skree, “Dwase, onnosele manne! Waarom is julle so bang? Waarom bly julle ooreel verwag as al wat Josef van jou wil hê, is om julle liefde oor julle uit te stort en julle verhouding met hom te herstel?” Ek wonder of die engele en die magtige leërskare getuies dieselfde ding vir ons sou skree – “Dwase Christene! Hoe kan julle so blind wees? Waarom is julle altyd bekommerd oor oordeel? Kan julle nie sien hoe baie lief die Here julle het nie? Kan julle nie Sy uitnodiging hoor om te kom eet nie? Verstaan julle nie dat daar geen toorn van Hom is teenoor hulle wat Sy kinders is nie? Daar is absoluut niks om te vrees nie. Al wat Hy vir julle wil hê, is om Hom te vertrou en te rus in Sy liefde!”

Wil jy ‘n beeld sien van die hart van ons Saligmaker – selfs teenoor die sondige uitverkorenes? Hier is dit: “En Josef het gou gemaak, want sy binneste was ontroerd oor sy broer: hy het geleentheid gesoek om te ween en in die kamer gegaan en daar geween” (Génesis 43:30). Die letterlike Hebreeus sê, “Sy hart het passievol na hulle gesmag.”

‘n Verslae hart – die sleutel tot ‘n herstelde verhouding

Die broers was nou in Josef se huis, het geëet en gedrink in sy teenwoordigheid. Maar “Toe bring hulle dit vir hom besonders [afsonderlik] op en vir hulle besonders” (Génesis 43:32). Ons durf nie die betekenisvolheid van hierdie stelling ligtelik opneem nie. Hierdie mans het gejuig in Josef se teenwoordigheid sonder om ten volle herstel te wees, sonder om hom te ken, sonder ‘n openbaring van liefde en genade. Ons kerke vandag is vol prysende mense wat eet en drink in die Here se teenwoordigheid – maar met ‘n leemte tussen hulle. Hulle het nog nie ‘n openbaring van God se oneindige liefde ontvang nie. Die wrok – die gevoel van ongeliefd wees – woed steeds in hulle harte. Dit is die oorsaak van alle Christene wat na God se huis gaan, sing, aanbid, en prys – en dan huistoe gaan na dieselfde ou leuen: “God gee nie vir my bewyse dat Hy my liefhet nie. My gebede bly onbeantwoord. Hy gee nie regtig om oor my soos Hy omgee oor ander Christene nie.”

Vir Josef se broers, was daar een laaste stap om te neem voor hulle ‘n volle openbaring van liefde gegee kon word. So ‘n openbaring word gegee slegs aan diegene wat gebroke en verslae van hart is. “Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:19). Die broers was nog nie gebroke van hart nie. Terwyl hulle by Josef se tafel geëet het, lees ons “hulle het gedrink en saam met hom vrolik geword” (Génesis 43:34).

Hierdie mans het hulle sonde erken, maar hulle was nog nie gebroke in gees nie – nie verslae oor sonde nie. Totdat hulle heeltemal gebroke was, totaal aan die einde van hulle bitterheid en menslike hulpbronne, kon Josef nie sy liefde aan hulle openbaar nie. Daarom het Josef hulle deur ‘n laaste toets gesit. Hy het sy opsigter opdrag te gee om sy persoonlike silwer beker in Benjamin se sak te sit voor hulle teruggekeer het na Kanaän. Die broers was skaars uit die stad toe Josef se manne hulle ingehaal het en beskuldig het dat hulle die beker gesteel het. Hulle was so seker van hulle onskuld dat hulle gesê het, “Dié een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterwe; en ons sal ook my heer se slawe wees”(Génesis 44:9).

Kan jy jou daardie oomblik indink toe Benjamin se sak oopgemaak is en die opsigter ‘n verlore beker opgehou het? “Toe skeur hulle hul klere, en elkeen laai sy esel, en hulle gaan na die stad terug” (Génesis 44:13). Hulle het na Josef se huis gekom en “voor hom neergeval op die grond.” As mens dit die eerste keer lees, klink dit asof Josef nog ‘n wrede truuk op sy broers gespeel het. Maar dit was glad nie sy plan nie. Die motivering agter hierdie skynbare vreemde dade, was niks anders as liefde nie. Hy het ‘n krises geskep om hulle gees te breek, hulle nederig te maak en hulle te ontledig van alle bitterheid en haat, sodat hulle gereed sou wees vir die openbaring van wie hy werklik was.

Luister na die verandering in hulle gesindhede: “God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind. Kyk, ons is my heer se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gevind is” (Génesis 44:16). Daar was niks meer baklei in hulle oor nie. Niks trots nie. Hulle was openbaar, verneder, gebroke – gereed om te doen wat ook al gedoen moes word. Met ander woorde, uiteindelik het hulle uit die dieptes van hulle harte geroep, “Ons gee op! Ons gee oor!”

Nou kom die openbaring van wat dit beteken om FAMILIE te wees! “Toe kon Josef hom nie langer bedwing voor almal wat by hom gestaan het nie, en hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie” (Génesis 45:1).

Die wêreld weet absoluut niks van hierdie openbaring van liefde nie. Dit is gereserveerd slegs vir familie. “Gaan uit, al julle Egiptenaars. Gaan uit, al julle wêreldlinge. Dit is net vir familie!” Die Skrif sê vir ons van Josef: “Daarop bars hy in trane uit, sodat die Egiptenaars en ook die huis van Farao dit gehoor het” (Génesis 5:2). Die wêreld kan hoor van God se liefde, maar slegs familie kan dit beleef. Slegs die familie van God word hanteer met soveel liefde en barmhartigheid.

Wat was die reaksie van Josef se familie toe hulle hom openlik sien ween het? “Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom” (Génesis 45:3). Kyk goed na daardie verskrikte, bewende manne wat nie eens hulle weldoener in die oë kon kyk nie – en jy sal waarskynlik ‘n weerkaatsing van jouself sien waar jy verskrik staan in die Here se heilige teenwoordigheid weens vorige sonde.

Ek hoor die liefdevolle woorde van Jesus in dit wat Josef gesê het vir sy ontstelde broers: “Kom tog nader na my... En ek sal u daar onderhou...sodat u nie verarm nie” (Génesis 5:4-11). Toe “En hy het al sy broers gesoen en aan hulle hals geween” (Génesis 45:15).

Wat ‘n heerlike toneel! Ek is mal daaroor omdat ek ook daar was. Ek het gestaan waar hierdie manne gestaan het toe my “Josef” Sy liefde aan my geopenbaar het. Ek weet ook wat dit beteken om te sondig teen my Here. Ek weet hoe dit is om vergete en ongeliefd te voel. Ek is verleë oor die manier waarop God werk. Ek sondig deur in Sy liefde te twyfel. Soms het ek sake in my eie hande geneem toe ek gedink het God was te stadig of ongeërg. Ek het dinge in my hart weggesteek en sonde bedek. Ek weet hoe dit is om te dink dat God kwaad was vir my en as dinge verkeerd loop, ek vir sondes betaal. Ek het in die toekoms ingekyk en toorn en oordeel gevrees omdat ek so sondig en onwaardig gevoel het.

Maar dank God vir die dag toe die Heilige Gees my gebroke gemaak het en vir my die liefdevolle hart van God gewys het! In plaas van die oordeel wat ek so verdien het, het ek Hom hoor sê, soos Hy vir verloënende Petrus gesê het, “Kom eet!” Hy het my genooi om te kom en Sy arms rondom my te voel, Sy trane op my nek en Sy deernisvolle soen op my wang. Ek het Hom hoor sê, “Ek is Jesus, jou Broer. God het My voor jou uitgestuur om jou te bewaar en jou lewe te red deur ‘n groot verlossing. God het My Here van alles gemaak. Kom na My toe; moenie aarsel nie!” Nou weet ek Hy het my lief, mislukking en als! Nou weet ek Hy sal sorg vir my toekoms.

Hy het al my sondes vergewe. Hy het my nie laat skuldig voel nie. Hy het nooit ‘n harde woord gespreek nie. Sy binneste het na my gesmag die oomblik toe ek van Hom af weggedwaal het. Hy het geween oor my blindheid en my nodelose smart en wanhoop. Geliefde, nie ons sondes of ons vertwyfelinge kan God se liefde vir ons keer nie. Prys Hom vir die openbaring van Christus se liefde vir Sy eie mense!

Ongelukkig het die storie van Josef se broers ‘n hartseer einde.

3. Hierdie mans het nooit geglo dat hulle geliefd was nie!

Ten spyte van alles wat gebeur het, het Josef se broers aanhou twyfel in sy liefde. Dit het Josef se hart gebreek. Vir sewentien jaar het hulle by Josef in Egipte gebly en hy het in al hulle behoeftes voorsien. Toe het Jakob hulle vader gesterf. Skaars het hulle by die huis aangekom na afloop van die begrafnis of hulle ou vertwyfelinge het teruggekom. “Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het” (Génesis 50:15). Hoe kon hulle só praat, na alles wat Josef vir hulle gedoen het? Het hulle niks van sy liefde geleer nie?

Vreesbevange het hulle ‘n boodskap aan Josef gestuur en gesê, “Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen...En Josef het geween toe hulle met hom spreek” (Génesis 50:17). Kan jy jou indink hoe dit Josef moes verpletter het om te weet dat ten spyte van al sy pogings, het sy broers steeds getwyfel in sy liefde? Ek kan hom amper hoor sê, “Kan dit wees dat hulle nooit regtig geglo het nie? Dra hulle nog altyd ‘n las van skuldgevoel en smart? Hoe kon hulle my in so ‘n verskriklike lig sien? Hoe kon hulle ooit dink dat ek hulle sou skade aandoen? Wat meer kon ek gedoen het om hulle te laat verstaan hoe lief ek hulle het?”

Dit is dieselfde sonde wat God laat huil. Ten spyte van alles wat Hy vir ons gedoen het, weier ons om te glo dat Hy ons werklik liefhet. Christus het gesterf om vir ons sondes te betaal. Hy het ons vrylik vergewe, maar tog smeek ons vir vergifnis. Hy bied barmhartigheid, liefde, genade, voorsiening, versekering en steeds het ons dralende vertwyfeling. Steeds grawe ons ou sondes op. Steeds verbeel ons God sal wraak neem – ons miskien selfs haat. Hoe tragies!

Dit is ‘n ernstige ding om Jesus te hoor sê, “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:8). Om in die Here Jesus Christus te glo, is om te glo dat Hy ons liefhet – om te glo dat Hy omgee – om te glo Hy medelye het met ons gevoelens van swakhede. Dit is om te weet dat Hy altyd lewe om vir ons in te tree, dat Hy ons nooit sal verlaat of begewe nie en dat Hy gekom het, nie om ons te veroordeel nie, maar om ons te red. Moenie dat dit van jou gesê word nie, “Daar is ‘n Christen wat nooit die liefde van Christus aanvaar of verstaan het nie.”

Wat kan tragieser wees vir die broers van Josef as dit: Na ‘n openbaring van Josef se perfekte liefde en vergifnis, nadat hulle heeltemal versoen was – het hulle steeds aan hulleself gedink as hulle broer se vyande. In Josef se gedagtes, was hulle vlekkeloos; in hulle gedagtes, was hulle steeds vyande! Ons kan ons skaars indink dat iemand so dom kan wees!

Dierbare harte, hoor die liefdevolle Woord van God:

“Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel” (Kolossense 1:21,22). “In wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes” (Kolossense 1:14).

Dit is God se hart vir jou. ‘n Hart van barmhartigheid en vergifnis en liefde. As jy dit nie kan glo en daarin rus nie, pleeg jy nou die sonde wat God laat huil.

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE