Die Teenwoordigheid van God | World Challenge

Die Teenwoordigheid van God

David WilkersonFebruary 29, 1988

Dawid het owerspel gepleeg met Batséba, “...Maar die ding wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die HERE” (2 Samuel 11:27). Batséba het koningin geword, en Dawid het voortgegaan met sy koninklike pligte. Eendag, miskien toe hy besig was in ‘n hoë regeringsessie met buitelandse ambassadeurs, het iemand die koning genader en gefluister, “Meneer, die profeet Natan is hier. Hy is ongeduldig en dring daarop aan om u dadelik te spreek. Hy sê, dit is ‘n saak van lewe en dood!”

Ek kan sien hoe Dawid wasbleek word en die bloed vinnig uit sy gesig verdwyn, verstar, verlam van vrees. Sy gedagtes het gejaag, “O nee! Hy weet! Hy moet weet! Hy is ‘n profeet! God moes vir hom gesê het van my geheime verhouding met Batséba! Hy weet Uria het nie per ongeluk gesterf nie; hy weet ek het hom laat doodmaak! Dit is alles verby! Klaarpraat! Hy gaan my ontbloot!” Dawid het gou-gou almal verskoon. Terwyl hy stadig, diep asemhaal, beveel hy sy dienaar, “Bring Natan na my private raadskamer.” En skielik, daar staan die profeet met daardie diep, deurdingende oë, daardie heilige man van God, Natan. Dawid val neer in sy stoel, spookagtig wit. “God seën jou, Natan. Wat kan ek vir jou doen? Noem dit net?”

Natan draai weg en begin om vir Dawid te vertel van die verskriklike sonde van ‘n ryk man wat iemand se lammetjie gesteel het. Dawid is verlig! “Hy weet nie!” Hy is nie hier om my te ontbloot nie! Hy is ontsteld oor iemand ander se sonde!” Dawid is nou ene ore. Hy antwoord op Natan se storie, “Natan, bedoel jy hierdie verskriklike, selfsugtige ryk man het baie troppe en kuddes gehad, maar toe hy besoekers kry en hy vleis nodig gehad het, het hy die enigste lam gesteel van ‘n arm buurman? En daardie lam was die huishouding se troeteldier, het in die huis gebly, met die kinders gespeel, saam met hulle geslaap? En hierdie selfsugtige, gierige ryk man het daardie lam gesteel? So help my, Natan, so seker as wat die Here lewe, ek sal hom doodmaak. Hoe verskriklik. Ek sal maak dat hy die lam vierdubbel teruggee. Moenie bekommerd wees nie, Natan. Ek sal my kaptein beveel om hierdie man dadelik in te bring. Wat is sy naam, Natan? Sê vir my. Wie is hy?”

Natan draai skielik om, kyk Dawid vierkantig in die oë, wys ‘n vinger en sê, “Jy, Dawid! Jy is die man! Jy het Batséba gesteel! Jy is die selfsugtige moordenaar!” Dawid is sprakeloos. Angs gryp sy hart vas toe Natan uitroep, “Waarom het jy die woord van die HERE verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë?” (2 Samuel 12:9). Toe kom daardie verskriklike woord, “Kyk, Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek, en jou vroue voor jou oë neem en aan jou naaste gee...” (2 Samuel 12:11). Dawid het uitgeroep, “Ek het gesondig teen die HERE...” (2 Samuel 12:13).

Dawid is vreesbevange, nie oor Natan se profesie dat hy sy vroue sou verloor nie. Nee, Dawid onthou wat met Saul gebeur het weens sonde en wederstrewigheid. Dawid het gesien hoe hierdie groot man van God geval het; hy het hom gesien mal word toe die teenwoordigheid van God hom verlaat het. Hy het geween toe hy gesien het hoe ‘n eens magtige man van God vloek, in vrees lewe, sonder hoop. Dawid het geweet wat die einde was vir ‘n man wat die teenwoordigheid van God verloor het. Hy het die bose gees gesien wat Saul beset het. Daarom het Dawid uitgeroep, “Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Skep vir my ‘n rein hart, o God, en diep in die binneste van my ‘n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie” (Psalm 51:5,12,13).

Wat gebeur met ‘n kind van God wanneer Sy teenwoordigheid wyk?

As Christene Saul se belewenis ter harte sou neem, sou hulle soos Dawid uitroep tot die Here, “Gee vir my ‘n rein hart! Moenie U teenwoordigheid van my af wegneem nie!” Saul is ‘n tragiese beeld van die Christen wat God se heilige teenwoordigheid verloor het.

Daar is drie verskriklike bewyse. Die eerste bewys is ‘n melancholiese, depressiewe gees. God se Gees het Saul verlaat omdat hy geweier om die Here se bevel te gehoorsaam. Saul was beveel om niks te doen totdat Samuel na Gilgal gekom het om God te soek en te offer, maar Saul het ongeduldig geword en sake in sy eie hande geneem. Daarom het God hom verlaat “...omdat jy nie gehou het wat die HERE jou beveel het nie” (1 Samuel 13:14). Hy was nie ernstig oor God se Woord nie.

‘n Gees van afguns en jaloesie het oor hom gekom en hy het onseker geword. Die skares het gesing, “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende...En van dié dag af en verder het Saul sy oog op Dawid gehad...Die volgende dag het die bose gees van God oor Saul vaardig geword, sodat hy rasend was binne-in die huis...” (1 Samuel 18:7-10). Die oorspronklike Hebreeus lees, “Die melancholiese gees wat deur God gestuur is, het oor Saul gekom, en hy het geveins deur te profeteer in die huis...” Die woord is eintlik “Geraas!” Saul het deur die huis gestorm en dinge gebreek in ‘n gewelddadige waansinnigheid. Hy was rasend soos ‘n malmens! Saul het sy spies na Dawid gegooi in ‘n poging om hom dood te maak. “En Saul was bevrees vir Dawid, omdat die HERE met hom was en van Saul gewyk het” (1 Samuel 18:12).

Niks erger kan van ‘n kind van God gesê word as dat die “teenwoordigheid van die Here gewyk het” nie. In Sy plek kom ‘n gees van hopeloosheid en leegheid, en die veroorsaak skielike irritasie, humeuruitbarstings, jaloesië, afguns en vrees. Hierdie melancholiese gees op Saul het hom laat glo dat ander daarop uit was om hom te kry, dat almal teen hom saamgesweer het, dat niemand hom liefgehad het nie en niemand hom jammer gekry het nie, “Dat julle almal teen my saamspan en niemand dit aan my openbaar as my seun met die seun van Isai ‘n verbond sluit nie?  en niemand van julle met my medelyde het...nie...” (1 Samuel 22:8). Hy het nou sy eie seun wantrou. En op een swart dag van skandaligheid, het Saul die teregstelling van 85 priesters beveel. Daarna het hy die stad van Nob, die priesters se stad, heeltemal uitgewis, insluitende vroue, moeders en kinders. Saul het ‘n konkelaar geword, ‘n manipuleerder van mense. Sy huis was verdeeld en in onrus. Hy kon nie slaap in die nagte nie en was altyd rusteloos.

Daar is ‘n depressie wat veroorsaak word deur ‘n gebrek aan sekere stowwe in die brein en dit is ‘n streng mediese probleem. Maar baie van die depressie van God se kinders is weens die wyk van die Gees van God as gevolg van hulle ongehoorsaamheid. Soos Saul, weier hulle om God ernstig op te neem. En soos Saul, word hulle geïrriteerd, jaloers, afgunstig, manipulerend en haatdraend.

‘n Tweede bewys van die verlies van God se teenwoordig is gereelde belydenisse en somtydse kragtige bewegings van die Gees met geen gepaardgaande verandering van hart nie. Saul het altyd sy sonde bely, altyd gesê, “Ek het gesondig! Ek is jammer!” Hy het dit by Gilgal gesê toe hy aan God ongehoorsaam was, die beeste gespaar en die goddelose koning Agis gered het. Hy het dit vir Dawid gesê, nadat Dawid geweier het om hom dood te maak in die grot, “Jy het aan my goed gedoen terwyl ek ek aan jou kwaad gedoen het” (1 Samuel 24:18). Saul het weer sy sonde bely in die berg Hagila nadat Dawid in die laer in gekruip het terwyl Saul se lyfwag geslaap het en Saul se spies en waterbottel gesteel het. Saul het toe uitgeroep, “Ek het gesondig; kom terug, my seun Dawid, want ek sal jou geen kwaad meer doen nie...” (1 Samuel 26:21). Maar deur dit alles heen, het sy hart nooit regtig verander nie; dit het in werklikheid harder geword met elke belydenis.

Toe Dawid gevlug het na Rama om saam met Samuel en die profete te wees, het Saul gekom om Dawid dood te maak. Maar in plaas daarvan, het die Gees oor Saul gekom, “...En die Gees van God het ook oor hom gekom, sodat hy aldeur geloop en profeteer het totdat hy in Najot by Rama aangekom het. Hy het ook self sy klere uitgetrek en ook voor Samuel geprofeteer en ontbloot neergeval daardie hele dag en die hele nag...” (1 Samuel 19:23-24). Toe hy naby die vuur van God gekom het, tussen heilige mense, het God se Gees hom soos weerlig getref. Dit was verstommend! Die hele dag en nag, ekstatiese uitsprake, God loof en prys en profeteer. Maar toe hy opgestaan het, het hy reguit teruggekeer na sy hardkoppige weë.

Hoeveel Christene is so! God beweeg somtyds op hulle; dan huil hulle en belowe God dat dinge sal verander. God gee hulle tye van verkwikking om hulle nader te trek aan Hom, om sonde om te keer. Maar hulle verander nooit. Hulle kom nie uit tot ‘n lewe van toewyding nie. Hulle bestudeer nie hulle Bybels nie. Hulle bid nie. Die teenwoordigheid van God bly nie by hulle nie. Slegs per geleentheid beleef hulle die ware beweging van God se Gees op hulle.

Die derde bewys van die gebre aan God se teenwoordigheid is ‘n lewe van verwarring, met geen leiding, geen persoonlike woord van God nie. Een van die hartseerste gedeeltes van die Skrif vertel hoe Saul raad gaan soek het by die heks van Endor, omdat God geweier het om hom te antwoord (sien 1 Samuel 28:5-20). Hoor Saul se somber woorde, “...God het van my gewyk en antwoord my nie meer langer...nie” (1 Samuel 28:15). Dit is die hartseer teken van ‘n Christen wat God se teenwoordigheid verloor het. Hy lewe in verwarring en angs, en gaan smekend rond vir ‘n Woord van God, en soek selfs horoskope en astroloë, enigiets of enigeen wat daarop aanspraak maak om ‘n profeet te wees.

Hoe word God se teenwoordigheid verloor?

Christene vandag verloor God se teenwoordigheid op dieselfde manier as Israel. Nadat Israel uit die Rooi See gered is en al haar vyande oorwin is en dood in die See gelê het, “...Toe het die volk die HERE gevrees en geglo in die HERE en aan Moses, sy kneg” (Exodus 14:31). Nadat hulle gered is, het hulle belowe om vir God ‘n woning te verskaf, ‘n plek in hulle harte om Sy teenwoordigheid te bevat. Die hele nasie het belowe, “...Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem [‘n woning berei]...” (Exodus 15:2).

God se teenwoordigheid is verloor, want geen plek is verskaf om dit te behou nie! Israel het God belowe hulle sou nooit hulle uur van verlossing vergeet nie, dat hulle harte Sy tent sou wees, Sy plek om te woon, dat hulle vir altyd sou onthou. Dit is daaglikse kommunikasie. Is dit nie wat jy God belowe het toe Hy jou gered het nie? Jy sou vir Hom jou hele hart gee! Jou liggaam sou Sy tempel wees! Sy Woord sou jou behae wees! Jy wou altyd dankbaar en biddend wees!

Maar Israel het God se teenwoordigheid geïgnoreer en Sy Woord vergeet. En so is dit vandag. God se kinders het so min agting vir Sy teenwoordigheid, dat hulle geen tyd of plek het vir Sy Gees nie. Hulle besoek selde die binnekamer van gebed, wat Sy woning is, Sy tent. Baie haal die vers aan, “Want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5); maar lees verder – vers 7 het daarmee saam ‘n bevel om God se Woord te gehoorsaam.

Tweedens, God se teenwoordigheid word verloor wanneer die goue kalf opgerig word, God roep die Israeliete rondom die goue kalf, “hardnekkige volk.” Hierdie Israeliete verteenwoordig ‘n volk wat nie afgesonder is met God nie, wat geen tyd of plek verskaf vir heerlike gemeenskap met Hom nie. ‘n Volk waarvan die Gees en teenwoordigheid van God wyk, is ‘n volk wat gou verteer sal word deur afgodery. Die Israeliete wat rondom die goue kalf gedans het, moenie gespot word nie. Die Christen moenie neerhalend vra, “Hoe kon hulle so laag daal?” nie – want die goue kalf is steeds binne-in ons.

Wat is die goue kalf? Dit is ‘n simbool. Dit verteenwoordig ‘n diep innerlike hartprobleem. Dit simboliseer ‘n ongeërde onverskilligheid teenoor God se gebooie. Deur hulle aksies, het die Israeliete gesê, “God kan nie bedoel wat Hy sê nie!” Hulle neem eenvoudig nie Sy waarskuwings ernstig op nie. Waarom was Israel so nonchalant, so ongeërg, so lighartig en vreesloos teenoor God se Woord? Omdat die profetiese stem weg was. Die bulderende profeet was nêrens in sig nie. Daar was geen heilige man van God daar op die oomblik om hulle te bestraf nie. Slegs Aäron, die sag-op-sonde priester. Moses was op die berg saam met God.

So gaan dit vandag. Oor die laaste 30 jaar, het daar ‘n verdraaide evangelie gekom. Profete het slegs onlangs na vore gekom. Hierdie gebrek aan goddelike bestraffing, het ‘n ongeërgde onverskilligheid veroorsaak wat die Christen toelaat om gemors in te drink sonder om veroordeel te voel, om ongeërg te wees oor die bestudering van God se Woord, om nonchalant te wees oor gebed. Ja, die goue kalf is ‘n gees in die kind van God, ‘n gees van onverskilligheid.

Hoe kry jy God se teenwoordigheid terug en behou dit?

Aangesien so baie Christene gebed ignoreer, is die werklike vraag, “Wil jy regtig hê God se teenwoordigheid moet saam met jou gaan?” Omdat, glo dit of nie, Israel verder kon gaan om alles wat God belowe het in besit te neem – sonder Sy teenwoordigheid! Israel kon dit gedoen het, en baie Christene doen dit vandag.

God het Moses beveel om Sy volk te neem en hulle in die Beloofde Land in te lei; Hy het ook gesê dat ‘n engel hulle sou lei, nie Hy self nie, “...want Ek sal in jou midde nie optrek nie, omdat jy ‘n hardnekkige volk is; anders sal jy op die weg verteer word” (Exodus 33:3). Dink daaraan! Al God se seëninge; al Sy beloofde regte en volle erfenis, maar sonder Sy teenwoordigheid! Die teenwoordigheid van engele, ‘n land wat oorloop van melk en heuning, maar geen teenwoordigheid van God nie!

Saul het God se teenwoordigheid verloor, maar God het hom die Amalekiete laat verslaan. Saul het die Filistyne oorwin. Hy was steeds koning. Maar hoe verskriklik was die gevolge om uit die teenwoordigheid van die Here gelaat te wees! In hierdie situasie gedy sonde, afgode beweeg in en die vlees neem die troon oor. Dawid het dit gesien, daarom het hy uitgeroep, “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.” Moses het hierdie gevolge geken, en daarom het hy geweier om verder te gaan sonder God se teenwoordigheid. Hy het vir God gesê, “As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie. Want waarom sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is” (Exodus 33:15-16).

Drie dinge het gebeur voor die wolkkolom van God se teenwoordigheid teruggekeer het: “Toe die volk hierdie onheilspellende woord hoor, het hulle getreur; en niemand het sy versiersels aangesit nie. En Moses het elke keer sy tent geneem en dit vir hom buitekant die laer opgeslaan, ver van die laer af...En elkeen wat die HERE wou raadpleeg, het uitgegaan na die tent van samekoms wat buitekant die laer was. En as Moses in die tent ingaan, kom die wolkkolom af en gaan by die ingang van die tent staan...” (Exodus 33:4,7,9).

Eerstens, het hulle getreur, geween, was jammer en het hulle bekeer met die hartseer nuus van God se vertrek. Hulle het geleer dat God nie sal woon by ‘n hardkoppige volk wat Sy Woord ligtelik opneem nie. Hulle het ontdek dat God bedoel wat Hy sê. Hoewel hulle uitverkore was, het God gesê Hy sou hulle verlaat. Luister na Sy Woord: “Bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil; wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ‘n seën sal agterlaat...” (Joël 2:12-14). Daardie seën is die teenwoordigheid van die Here. Waar is daardie Christene wat ernstig sal raak oor Sy Woord, wat sal ween, vas, Hom soek, totdat daar ‘n belofte van Sy teenwoordigheid is?

Tweedens, hulle sit al hulle ornamente opsy. Die Here sê, “Maar haal nou jou versiersels van jou af, dan sal Ek weet wat Ek met jou moet doen” (Exodus 33:5). Dit beteken hulle het praktiese stappe geneem om elke wêreldse afleiding weg te sit. Hulle ornamente was goud en silwer replika’s van die goddelose Egiptiese gode – muise, bokke, en kalwers wat aan kettings gehang het. Hulle verskoning was, “Ek aanbid nie hierdie ding om my nek nie. Dit is net ‘n stuk goud. Dit beteken niks; dit is slegs ‘n sentimentele herinnering aan Egipte!” Maar God het geweet dit was meer as dit. Die Profeet Sefánja het gewaarsku dat God daardie Israeliete sou oordeel: “Ek sal ook uit hierdie plek uitroei...die aanbidders wat by die HERE sweer en sweer by Milkom” (Sefánja 1:4-5). God se volk het klein ornamentjies, beelde van die Moabitiese en Amonitiese god Milkom (Moleg), die god van menslike offerhandes, gemaak. Tot op hierdie stadium, het God hierdie flirtasie geduldig verdra, maar nou was dit ‘n kwessie van lewe en dood. Hulle klein gelukbringertjies het hulle ‘n goue kalf laat bou. Daarom het God gesê, “Genoeg! Die minste wat julle kan doen, is om alles weg te sit wat julle kan betower! Waaraan julle ook al jul tyd opoffer!”

Christene sê hulle wil God se teenwoordigheid hê, maar hulle wil nie eers daardie dinge wegsit wat hulle aandag duidelik van God aflei nie.  Josua het die mense beveel, “Vrees dan jou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het...” (Josua 24:14). “Verwyder” in Hebreeus beteken “Skakel af julle gode.” God maak nie ‘n grap as Hy beveel, “En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie” (Deuteronómium 7:26). “Raak nie aan wat onrein is nie;” “Laat daar geen bose ding voor jou oë wees nie;” “Wandel vlekkeloos voor My.” Daarom het hulle hulself gestroop van alles wat God aanstoot gegee het.

Derdens, Moses het ‘n tent buitekant die laer opgerig. Die tabernakel was nog nie gebou nie. Dit was ‘n spesiale tent, ‘n woning vir God se teenwoordigheid, weg van alle afleidings, ver van die laer. Slegs diegene wat waarlik die Here gesoek het, het uitgegaan na die tent. Moses het daagliks gegaan, en Josua het dit nooit verlaat nie. Daardie tent verteenwoordig die Christen se geheime binnekamer van gebed. Die kind van God moet sy familie en sy besige skedule agterlaat. Hy moet van dit af weggaan om die Here te ontmoet, om Sy aangesig te soek, want God kla dat “...daar is niemand meer wat my tent uitspan en my tentdoeke opsit nie” (Jeremia 10:20).

Slegs dan was die saak reg, “En as Moses in die tent ingaan, kom die wolkkolom af en gaan by die ingang van die tent staan, en dan spreek Hy met Moses...En Hy antwoord, Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?...daaraan sal Ek voldoen” (Exodus 33:9,14,17). As jy regtig God se teenwoordigheid wil hê, waar is jou tent? Waarom soek jy Hom nie? Waarom bid jy nie? Waarom bestudeer jy nie Sy Woord nie? Waarom is kerk jou enigste kontak met Hom? Ken jy nie, gee jy nie om oor Sy teenwoordigheid in jou nie?

Download PDF