Die Triomfantlike Christus | World Challenge

Die Triomfantlike Christus

David WilkersonJune 16, 2014

Ons is almal bekend met die storie van Dawid en Góliat. Dit is ‘n verhaal van God se uitverkose man wat teen ‘n reuse vyand te staan gekom het en hom verslaan het. Vir my is dit een van die Skrif se duidelikste illustrasies van die triomfantlike Christus.

Die storie begin toe die Filistyne teen Israel versamel het om teen hulle oorlog te voer. Elke dag het Góliat, die Filistynse baasvegter, vorentoe gekom om die Israelitiese weermag te terg. Hy was ‘n reuse man en van kop tot tone gewapen: “Die gewig van die pantser was vyfduisend sikkels koper” (1 Samuel 17:5). Dag na dag was die toneel vir Israel baie intimiderend: “En hy het gaan staan en roep na die slagordes van Israel en vir hulle gesê: …Gee my ‘n man, dat ons saam kan veg” (1 Samuel 17:8,10).

Góliat is natuurlik ‘n tipe duiwel en die Filistynse leër verteenwoordig sataniese magte, die magte van die hel. Góliat het namens Satan gepraat toe hy aan God se mense gesê het, “Julle sê God is julle vrede, maar julle bewe van vrees. Julle sê Hy is triomfantlik, maar julle is totaal geïntimideerd. Erken dit nou, julle kan julself nie teen my verdedig nie. Ek het alle mag oor julle.”

Hoe het Israel gereageer teenoor hierdie reus? “Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bevrees... toe... vlug hulle vir hom weg, want hulle was baie bang. En... sê: Het julle die man gesien wat daar opkom?” (1 Samuel 17: 11, 24-25). God se mense het geroep, “Sien julle hoe groot is die vyand wat teen julle wil veg?”

As God nie ‘n verlosser na Israel gestuur het nie, wat sou gebeur het? Ek glo die leër sou in wanhoop verval het, moed verloor het en begin om in God te twyfel. Een soldaat na die ander sou gedros het en die geveg laat vaar het.

Maar God het sy eie man gehad: Dawid. Toe die jong Israeliet hoor hoe Góliat Israel terg, het hy beledig gevoel. Hy het geëis, “Want wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag?” (1 Samuel 17:26). Dawid het Saul bemoedig, “Laat die manne se moed tog nie ter wille van hom sink nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg” (1 Samuel 17:32). Dink net aan sy uitroep terwyl hy na Góliat gehardloop het met net ‘n nederige slingervel: “Die stryd behoort aan die Here” (1 Samuel 17:47).

Die wanhopige Israeliete het gesien hoe Dawid sy slingervel gelaai, geslinger en ‘n klippie laat skiet het en dat dit Góliat tussen die oë getref het! Die slag het die reus teen grond geslaan. Wat het op daardie oomblik deur die Israeliete se gedagtes gegaan? Hulle moes gewonder het, “Leef die reus nog? Kan hy nog veg?” Dit is die konsep wat baie Christene het van die duiwel. Hulle is bang dat Christus se werk teen die vyand nie afgehandel is nie. Daarom hulle doen nie iets nie, omdat hulle dink dit sal hom opwek.

Maar Dawid het Góliat se swaard gegryp, die lem opgetel en die reus se kop afgekap. Dit is toe Israel besef het, “Dit is verby, ons het gewen!” Dawid het Góliat nie net neergeslaan gelaat nie; hy het die saak afgehandel en hom heeltemal afgemaai. Die oorlog was verby en almal het dit geweet. Skielik het die Filistyne gevlug met die Israeliete kort op hulle hakke. Kortliks, Satan was verslaan en die demone het op die vlug geslaan. En in sy heerlike triomf, het Dawid het dit ‘n openbare vertoning gemaak vir die hele wêreld om te sien: “Dawid het die hoof van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring, maar sy wapens in sy tent neergesit” (1 Samuel 17:54).

Dieselfde afgehandelde werk van triomf het by die kruis plaasgevind.

Jesus het nie ons vyand, Satan, net teen die grond neergeslaan nie, maar Hy het die werk afgehandel, hom verslaan en vanaf die kruis verklaar, “Dit is volbring.” Eenvoudig gestel, “Dit is alles afgehandel. Ek het jou vyand verslaan. Jy het nie nodig om ooit weer sy veroordelende mag te vrees nie.”

In Jesus se dag, het Satan se intimiderende stem gebrul teen ‘n volk wat met eindelose wette belas was. Sowat 630 vleeslike reëls is deur die godsdienstige leiers ingestel, wette wat beteken het dat mens God se guns moes verdien. Tog, hierdie wette was net ‘n las wat te swaar was vir enigiemand om te dra, en Satan het voordeel uit hulle getrek.

Elke Sabbat het hulle dieselfde ontmoedigende boodskap in die sinagoges gehoor: “As julle net een van hierdie wette verbreek, is jy skuldig daaraan dat jy almal verbreek het.” Die mense het geweet, “Ons vaders was nie in staat om hierdie wette te hou nie en ons kan ook nie.” God was verkeerdelik voorgestel as ‘n moeilike heerser, bulderend uit die hemel, “Gehoorsaam My of sterf.”

Tog het die mense se pogings net een ding veroorsaak: Dit het veroordeling op hulle gebring. Ten spyte van al hulle offers, kon niks hulle gewete sus nie. En Satan het nutteloosheid op hulle uitgegiet en hulle aanhoudend geteister met ‘n gevoel van hopeloosheid.

Wat het uit daardie wanhoop voortgekom? ‘n Plaag van sonde het uitgebreek. Dit het altyd gebeur wanneer mense probeer het om deur eie pogings die wet van God te gehoorsaam.  Hulle gooi hulle hande in die lug en dink, “Wat is die nut? Dit maak nie saak hoe hard ek probeer nie, ek sal steeds misluk.” Skynheiligheid was geil met sondige mense wat gemaak het of hulle heilig is, terwyl hulle vuil van binne gebly het. Leiers het wette gemanupileer om huise van weduwees te steel. En ‘n gees van vrees het heeltyd oor die hele samelewing gehang.

In hierdie uiterste ellende, het God se volk verlang na die Messias. Dit was ‘n uitroep na vryheid van vrees, oorweldigende sonde en vrees vir God se wraak. En in hierdie donker, wanhopige uur van Israel se geskiedenis, het God ‘n man na vore gebring. Daardie man, was natuurlik Jesus, die seun van Dawid en die Seun van God. En die uittartende vyand wat Hom gekonfronteer het, was Satan.

God het al die sondes van die mensdom — verlede, hede en toekoms — op Jesus gelê. Hy het ook op Hom die vonnis van al daardie sondes gelê. Toe Jesus sy bloed gestort het, sy lewe gegee het en in die graf neergedaal het, is al ons sondes saam met Hom begrawe. Deur Christus se offer, het God eintlik gesê, “Genoeg gestrewe. Genoeg van jou eie pogings om My te probeer behaag met offers, werke en beloftes. Daardie ou mentaliteit het saam met my Seun graf toe gegaan. Net een triomfantlike man het uit die graf uitgekom. Christus alleen is in my guns, die Een wat bo veroordeling is, Hy wat die ewige lewe het, Hy wat getriomfeer het.”

Dawid se oorwinning was ‘n verklaring – “Dit is verby, ons het gewen!” – net so is dit met ons Verlosser se oorwinning.

“Nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hule getriomfeer het” (Kolossense 2:15). Paulus sê hier, “Alles wat teen ons was, is uit die pad geneem. Dit is alles aan die kruis vasgenael.”

As ons Jesus aan die kruis vasgenael sien, hou Hy in sy hand ‘n lang lys van ons sondeskuld. Hy het daardie lys openlik aan die Vader, die engele, die ganse mensdom, die duiwel en sy demoniese magte gewys. Terwyl die spyker in Jesus se hand ingedryf is, het dit ook deur daardie lys van oortredinge gegaan — en alles is gekanseleer. Dit is nou volbring; Christus veg nie meer nie. Hy het gewen en is in heerlikheid, ‘n totaal en al triomfantlike man.

As gevolg van sy triomf, mag ons nooit weer die duiwel vrees nie. Sy aanklagte is alles niksseggend. Tog is daar baie Christene wat vergifnis en regverdigmaking ken, maar nie die triomf van Christus geniet nie. As jy hoor dat hy jou aankla, antwoord Hom met hierdie woorde uit die hemel: “Wie sal enige beskuldiging teen ons inbring? Wie sal ons veroordeel? As enige iemand sondig, ons het ‘n advokaat.”

Sonde sal altyd die reus wees wat teen ons kom. Somtyds val ons, soms word ons oorweldig deur vrese, soms word ons geteister deur ontstellende gedagtes. Tog, as ons steeds deur hierdie dinge geïntimideer word, dan werk ons in die verkeerde liggaam: die ou man (vlees) in plaas van in die nuwe man (Christus), Hy wat alleen deur die Vader erken is.

Jy sien, deur die kruis, is daar baie meer vir ons beskikbaar as net ewige sekuriteit en vergifnis. Christus se bloed het die mag om vir ons vrede te bring. Dit is jammer, maar jy het dalk so lank in vrees gelewe dat jy nou wonder, “Sal daar ooit ‘n tyd wees wanneer ek vrede het? Sal ek ooit vreugde hê sonder om deur die duiwel geïntimideer te word?”

Ja, dit is absoluut moontlik. Dit sal gebeur wanneer jy jou oë afhaal van die brullende reus voor jou en jou triomferende Redder oor sy verslane karkas sien staan. Toe die Israeliete gesien het dat Góliat dood was, het hulle ook gou gemaak om die Filistyne te laat vlug. Hulle het dit gedoen omdat hulle geweet het, “Dit is verby en ons het gewen!” “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Chistus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei” (2 Korinthiërs 2:14).

Hoewel ons weet dat ongeloof die ergste sonde is, mag ons met tye God se sorg vir ons toekoms in twyfel trek.

Op hierdie oomblik mag jy jou bekommer, “Ek triomfeer nie oor sonde nie. Ek val heeltyd vas in skuldgevoelens en beskuldigings. Dit lyk of my stryd net nooit eindig nie. In werklikheid is ek nie seker dat die vyand heeltemal in my lewe oorwin is nie. As die vyand dood is, wie lei my dan nou in versoeking?”

Ek dring by jou aan: Moenie na die reus voor jou kyk nie, maar na die triomfantlike oorwinnaar, Jesus. Jy is nie onder sy oordeel nie. In teendeel, Hy het belowe dat jy uit sy oorwinning sou voordeel trek. Niks kan ons van sy liefde skei nie, behalwe geharde ongeloof.

Judas het sy sendbriewe  gerig aan heiliges wat in donker tye geleef het toe die wêreld mal geword het. Hy sê dat om in so ‘n stryd te staan — om die oorwinning van die triomfantlike Christus te midde van duisternis te sien — moet ons aanhou die volgende doen: “En julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag” (Judas 21).

Liewe heilige, doen soos wat Judas sê. Bewaar jouself in die wete dat God jou liefhet. Herinner jouself die hele tyd aan, “In elke stryd, elke mislukking, het God my steeds lief.” Terwyl jy elke oggend wakker word, bewaar jouself in daardie liefde en wees op die uitkyk vir sy genade. Dit vind ons in sy oorwinning, die triomf van Christus!

Download PDF