Die Uiteindelike Genesing | World Challenge

Die Uiteindelike Genesing

David WilkersonOctober 1, 1979

Opstanding uit die dode is die “uiteindelike genesing.” Ek het probeer om daardie heerlike waarheid oor te dra aan die bedroefde ouers van ‘n vyfjarige seun wat net ure tevore gesterf het aan leukemie. Hulle het God gesmeek vir die genesing van hulle dierbare kind. Die hele kerk het ernstig gebid. Vriende het geprofeteer: “Hy sal nie sterf nie; hy sal genees word.” Een week voor die klein seuntjie se dood, het die vader die gebroke, koorsige kind in sy arms opgetel en met hom in die kamer rondgeloop. “God, ek sal nie moed verloor met hom nie. U beloftes is waar. My geloof het nooit geweifel nie. Meer as twee of drie het in u Naam saamgestem dat Hy genees sal word. Ek bely dit nou en ek eis dit op.” Ten spyte van alles, het die kind gesterf.

Ek was daar toe daardie kind in ‘n klein kissie neergelê was. Ek het met afsku gekyk na al daardie hartseer gesigte van Christen vriende wat bymekaargekom het om oor die dood te treur. Die ouers was in ‘n toestand van skok. Almal was bang om hardop te sê wat hulle gedink het. Ek weet die kerkmense het dit gedink, en die pastoor het opgetree asof hy dit gedink het. Ek weet die ouers het dit sekerlik gedink. En wat was hierdie ondenkbare gedagte waaraan hulle gedink het? Eenvoudig die volgende – “God het gebed nie verhoor nie! Iemand het ‘n fout gemaak! Iemand het in die pad van God se genesingskrag gestaan! Iemand is verantwoordelik vir hierdie kind se dood. ‘n Wrok, verborge motief, of ‘n boesemsonde. Iemand of iets het die genesing verhinder.”

Dit was toe dat hierdie heerlike waarheid by my opgekom het, en ek het die ouers eenkant toe geneem en dit kortliks van my hart afgekry, “Moenie God bevraagteken nie,” het ek gesê. “Julle gebede is almal verhoor. God het julle seun die uiteindelike genesing gegee. Daardie klein koorsige, siek liggaampie is verlaat, en Ricky is nou beklee met sy volmaakte, pynlose liggaam. Ricky is genees! God het ver bo alles wat jy van Hom kon vra of dink, gedoen. Hy leef en is gesond – al wat verander het, is sy liggaam en sy ligging.”

Daardie ouers het met woede teen my gedraai. Hulle was bitter en verward, hulle het die graf verlaat en ‘n bleek vyf jaar tydperk van twyfel, vrae, skuldgevoelens en selfondersoeke betree. Gedurende daardie tyd, het hulle skaars met my gepraat. Maar God, in Sy barmhartigheid, breek altyd deur tot opregte harte. Eendag, terwyl sy in gebed was, het die Heilige Gees oor daardie bedroefde moeder gekom, haar herinner aan my boodskap. Sy het die Here begin prys en gesê, “Ricky is genees. God het ons gebede verhoor. Here, vergewe ons twyfel. Ricky is tans lewendig en dit gaan goed en hy geniet sy genesing.

Die oomblik waarop ons bymekaar gestaan, arms om mekaar, en die Here gedank het vir soveel vertroosting, is vir my kosbaar. Ricky se vader het bely, “Dave, ons was so kwaad vir jou. Ons het gedink jy was harteloos omdat jy gesê het ons seun, wat pas gesterf het, is genees. Nou verstaan ons. Ons was so selfsugtig dat ons nie kon verstaan wat die beste vir ons seun was nie. Ons het net aan ons eie pyn, óns droefheid, óns lyding gedink. Maar nou het die Here vir ons gewys Ricky was nie vernietig deur die dood nie, maar die Here het hom na Homself getrek.”

Die lewe is nie in die dop nie

Hierdie sterflike liggame van ons is maar net doppe, en die lewe is nie in die dop nie. Die dop is nie om te bewaar nie, maar dit is ‘n tydelike beperking wat ‘n toenemde, volwasse-wordende lewenskrag omhul. Die liggaam is ‘n dop wat optree as ‘n verbygaande beskermer van die lewe daar binne-in. Die dop is sinteties in vergelyking met die ewige lewe wat dit beklee.

Elke ware Christen is gevul met ewige lewe. Dit is geplant as ‘n saad in ons sterflike liggame wat voortdurend meer volwasse word. Dit is binne-in ons ‘n groeiende, uitdyende proses van ontwikkeling – en dit moet uiteindelik uit die dop breek om ‘n nuwe vorm van lewe te word. Hierdie heerlike lewe van God binne-in ons pas druk uit op die dop, en, op die presiese oomblik waarop opstandingslewe volwassenheid bereik, breek die dop oop. Die kunsmatige grense word oopgebreek en soos ‘n pasgebore kuiken, word die siel vrygelaat uit sy tronk. Prys die Here!

Die dood is ‘n blote breek van die kwesbare dop. Op die presiese oomblik wat ons Here besluit ons dop het sy funksie volbring, moet God se kinders hulle ou, verdorwe liggame verlaat en terugkeer na die stof waaruit dit gekom het. Wie sou daaraan dink om die gefragmenteerde stukkies doppe op te tel en die nuutgebore kuiken te dwing om terug te keer na sy oorspronklike toestand toe? En wie sou kon dink om ‘n afgestorwe geliefde te vra om sy nuwe, verheerlikte liggaam – gemaak in Christus se eie beeld – prys te gee en terug te keer na die verrottende dop waaruit hulle vrygebreek het?

Om te sterf is wins?

Paulus het dit gesê! “Om te sterwe is wins!” (sien Filippense 1:21). Hierdie soort bespreking is heeltemal vreemd vir ons hedendaagse, geestelike woordeskat. Ons het sulke aanbidders van die lewe geword dat ons baie min begeerte het om te sterf en by die Here te wees.

Paulus het gesê, “Maar ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste...” Maar, ter wille van die geestelike opbouing van die bekeerlinge het hy gedink dit was beter “om in die dop te bly.” Of, soos hy dit stel, “in die vlees te bly.”

Was Paulus morbied? Het hy ‘n ongesonde beheptheid met die dood gehad? Het Paulus ‘n gebrek aan respek betoon vir die lewe waarmee God Hom geseën het? Glad nie! Paulus het die lewe voluit geleef. Vir hom was die lewe ‘n gawe en hy het dit goed gebruik om ‘n goeie stryd te stry. Hy het die vrees vir die “angel van die dood” oorwin en kon sê, “Dit is beter om die sterf en by die Here te wees as om in die vlees te bly.”

Diegene wat in die Here sterf, is die wenners; ons wat oorbly, is die verloorders. Hoe tragies dat God se kinders steeds na die afgestorwenes kyk as die “verloorders – arme, ellendige siele, bedrieg uit ‘n groter maat van die lewe.” O! Maar as ons geestelike oë en ore maar vir ‘n paar oomblikke geopen kon word – sou ons ons dierbare geliefdes aan God se kant van die heelal sien, waar hulle in die suiwer, kristalhelder rivier van die ewige lewe loop – en vir ons probeer skree, “Ek het gewen! Ek het gewen! Ek is uiteindelik vry! Druk deur, dierbare aardlinge; Daar is niks te vrees nie. Die dood is nie seer nie. Dit is waar – dit is beter om te sterf en by die Here te wees.”

Het iemand wat jy liefhet uit die dop gebreek? Was jy daar toe dit gebeur het? Of het die nuus jou per foon of telegram bereik? Watter soort verskriklike gevoelens het deur jou kop gegaan toe vir jou gesê is, “Hy is dood!” of “Sy is dood!”?

Dit is sekerlik natuurlik om te rou en te ween oor diegene wat gesterf het. Selfs die dood van die regverdiges is pynlik vir diegene wat agterbly. Maar as volgelinge van die Christus, wat die sleutels van die dood in Sy hand hou, waag ons nie om aan die dood te dink as ‘n ongeluk wat deur die duiwel veroorsaak is nie. Satan kan nie een kind van God vernietig nie. Hoewel Satan wel toegelaat was om Job se vlees aan te raak en sy liggaam te verdruk, kon hy nie sy lewe neem nie. God se kinders sterf altyd presies op Sy skedule – nie een sekonde te gou of te laat nie. As die gange van ‘n regverdige mens deur die Here gerig word, dan rig Hy hierdie uiteindelike een ook.

Die dood is nie die uiteindelik genesing nie – die opstanding is! Die dood is die oorgang, en soms kan daardie oogang pynlik wees, selfs uiters pynlik. Ek het baie van God se uitverkore kinders sien sterf met ontsettende pyn. Maar Paulus antwoord dit goed deur te sê, “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Romeine 8:18). Dit maak nie saak hoeveel pyn en lyding verwoesting saai op hierdie liggame nie – dit is nie eens waardig om vergelyk te word met die onuitspreeklike heerlikheid wat wag op diegene wat die oorgang deurgaan nie.

God se magnetiese aantrekking

In my jare van die goddelikes sien sterf, het ek een gemeenskaplike belewenis opgelet. Ek noem dit die magnetiese aantrekking. Ek is oortuig dat die dood na die heilige kom, lank voor die laaste asemteug geneem word. Wanneer die Here die sleutel draai, begin ‘n onomkeerbare magnetiese aantrekking van God se Gees die geliefde na Hom toe trek. Op een of ander manier, laat God toe dat daardie mens wat getrek word weet wat besig is om te gebeur. Hy word ‘n innerlike wete gegee dat hy huistoe gaan. Hy het reeds ‘n bietjie van die hemelse heerlikheid gesien. Terwyl geliefdes rondom hom vergader om vir sy opstanding te pleit, kan jy beleef hy wil nie meer in sy dop gevange gehou word nie. ‘n Kraak het verskyn; hy het deurgeloer en het ‘n glimp na die Nuwe Jerusalem met al sy opwindende vreugdes gesien. Hy het ‘n visioen gesien van die heerlikheid wat op hom wag. Om terug te keer sou leegheid wees.

Onlangs, het ek by die bed van ‘n heilige moeder wat sterwend was aan kanker gestaan. Haar hospitaalkamer het geskyn met God se heilige teenwoordigheid. Haar man en kinders het saggies gesange gesing, en, swak soos sy was, het sy haar gesig hemelwaarts gedraai en gefluister, “Ek voel Sy aantrekking. Dit is waar – Hy trek ons na Hom toe. Dit voel soos ‘n kragtige magneet en ek gaan vinniger en vinniger en ek wil nie hê iemand moet my nou stop nie.” Binne ure, het sy deur haar vleeslike dop gebreek tot in God se binnekring. In daardie heilige uur, het niemand gewaag om in te meng met sy goddelike proses van verandering, wanneer die aardse ingesluk was deur die hemelse. 

Dit is so jammer om te hoor Christene veroordeel God vir “hulle geliefdes van hulle af wegneem.” “Here, dit is net nie regverdig nie,” redeneer hulle. Hoewel dit moeilik is om te veroordeel wat mense in tye van diepe droefheid sê, glo ek sulke vrae kan selfsugtig wees. Ons dink net aan ons verlies en nie aan hulle wins nie. God pluk slegs diegene wat Hy nie meer van ‘n afstand af kan liefhê nie uit hierdie wêreld uit. Hulle gemeenskaplike liefde vereis dat hulle in Sy teenwoordigheid moet wees. Dit is dan wanneer liefde volmaak word. Om by die Here te wees, is om Sy liefde in sy volheid te beleef.

So staan jy hulpeloos as jou geliefde daardie oorgang genaamd dood binnegaan. Jy weet dit is ‘n donker, eensame pad, en jy kan hulle hand net so ver vashou. Die tyd kom wanneer jy daardie geliefde moet laat gaan en Jesus toelaat om hulle aan die hand te vat. Hulle is nie langer joune nie – hulle behoort aan Hom. Jy voel so hulpeloos, maar daar is niks wat jy kan doen nie, behalwe rus in die wete dat die Here oorgeneem het en jou geliefde in goeie hande is. Dan binne ‘n oomblik, is hulle uit sig uit. Die stryd is verby. Slegs die gebroke dop bly oor. Die verloste siel het gevlug tot in God se heilige teenwoordigheid. Die dood van die regverdige is ‘n kosbare ding. Dawid, die Psalmdigter het geskryf, “Kosbaar is in die oë van die HERE die dood van sy gunsgenote” (Psalm 116:15). God kyk na die dood van een van Sy kinders as ‘n kosbare oomblik. Maar ons mense vind min of niks in hierdie belewenis om te koester nie.

‘n Jong moeder het vir my ‘n hartseer storie vertel van die trauma wat sy gely het na die dood van haar twee kinders. Die eerste kind het op die ouderdom van 18 maande gesterf. Die tweede een het ongeveer twee maande geleef. Sy het gedink God het haar die tweede kind gegee om op te maak vir die verlies van die eerste – nou was altwee dood. Sy en haar Christen man het deur maande van selfondersoek gegaan. Was daar sonde in hulle lewens? Het hulle God kwaad gemaak deur te twyfel in Sy genesende krag? Was hulle op een of ander manier verantwoordelik vir die dood van hulle kinders? Toe, een donker dag, het ‘n “goeie Christen vriendin” na hulle toe gekom met wat sy gesê het ‘n boodskap van God af was. Hulle was, het sy gesê, besig om getugtig te word deur die Here vir verborge wrokke en oneerlikheid in hulle huwelik. “Daardie kinders sou steeds lewend gewees het,” was vir hulle gesê, “as julle harte gereinig was van sonde en as julle belydenis reg was.”

Hulle was tot wanhoop verpletter. Maar God, in Sy barmhartigheid, het vir hulle gewys hoe belaglik sulke gedagtes was. Sulke lering is tragiese onsin. God speel nie Russiese roulette met lewens nie.

Sal ons ophou bid vir die sterwendes? Sal ons moed verloor met die terminaal siekes? Moet ons net gaan lê en sterf, as dit lei tot die uiteindelike genesing? Nooit! Meer as ooit in my lewe, glo ek in goddelike genesing. Ons behoort te bid vir almal om genees te word. En die enigste mense wat nie genees word nie, volgens ons konsep van genesing, is hulle wat uitverkies is vir Sy uiteindelike genesing. Party word nie herstelde organe of ledemate gegee nie – in plaas daarvan, word hulle ‘n volmaakte genesing gegee – verheerlikte, pynlose, ewige liggame. Wat is daar waarmee ons gedagtes kan opkom as ‘n groter wonderwerk as die opstanding uit die dood?

Ons is te aardsgebonde

Enige boodskap oor die dood pla ons. Ons probeer selfs die gedagte daaraan ignoreer. Ons dink diegene wat daaroor praat, is morbied. Soms sal ons praat oor hoe die hemel moet wees, maar die meeste van die tyd, is die onderwerp taboe.

Hoe anders was die eerste Christene. Paulus het baie oor die dood gepraat. Trouens, ons opstanding uit die dood word in die Nuwe Testament na verwys as ons Salige Hoop. Maar deesdae, word die dood beskou as ‘n indringer wat ons afsny van die goeie lewe waaraan ons gewoord is. Ons het ons lewens so volgeprop met materiële dinge, dat ons in die modder van die lewe vassit. Ons kan nie meer die gedagte duld om ons pragtige huise, ons mooi goed, ons sjarmante geliefdes te verlaat nie. Ons dink waarskynlik, “Om nou te sterf sou ‘n te groot verlies wees. Ek het die Here lief – maar ek het tyd nodig om my eiendom te geniet. Ek het ‘n vrou getrou. Ek moet my osse uittoets. Ek het meer tyd nodig.”

Het jy opgelet daar is baie min gesprekke oor die hemel of oor hierdie ou wêreld agterlaat? In plaas daarvan, word ons gebombardeer met boodskappe oor hoe om ons geloof te gebruik om meer goed te verkry. “Die volgende herlewing,” het een welbekende leraar gesê, “sal ‘n finansiële herlewing wees. God gaan finansiële seën uitstort op alle gelowiges.”

Wat ‘n verpotte konsep van God se ewige planne! Dit is geen wonder nie dat soveel Christene bang is vir die gedagte aan die dood. Die werklikheid is dat ons ver daarvan af is om Christus se roeping te verstaan om die wêreld en al sy verstrengelings te laat staan. Hy het ons geroep om te kom en te sterf. Om te sterf sonder om gedenktekens vir onsself te bou. Om te sterf sonder bekommernis oor hoe ons herinner wil word. Jesus het geen outobiografie nagelaat nie – geen hoofkwartierkompleks – geen universiteit of Bybelskool nie. Hy het niks agtergelaat om Sy gedagtes te verewig nie behalwe die brood en die wyn.

Wat is die grootste openbaring van geloof en hoe word dit uitgeoefen? Jy sal dit in Hebreërs kry: “In die geloof het hulle almal gesterwe...en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was...Maar nou verlang hulle na ’n beter een, dit is ’n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad berei” (Hebreërs 11:13-16).

Hier is my opregte gebed tot God:

Here, help my om my los te maak van die slawerny van dinge. Laat my nie my gawe van die lewe mors op my eie selfsugtige plesiere en planne nie. Help my om al my aptyte onder U beheer te bring. Laat my onthou dat ek ‘n pelgrim is, nie ‘n setlaar nie. Ek is nie U ondersteuner nie, maar U volgeling. Bo alles, verlos my van die slawerny van die vrees vir die dood. Laastens, laat my verstaan dat om in Christus te sterf wins is. Help my om met kosbare verwagting uit te sien na my oomblik van Uiteindelike Genesing.

Bewys Skrifte: Openbaring 1:18; Hebreërs 2:14-15; 2 Timótheüs 1:10

Download PDF