Die Vermoë om Aangeraak te Word | World Challenge

Die Vermoë om Aangeraak te Word

David WilkersonAugust 15, 2005

In hoofstukke 2 en 3 van Openbaring, praat Jesus van ‘n kerk wat doodgegaan het. Hierdie geliefde kerk was eens vol lewe en het ‘n goeie reputasie gehad, maar nou was alles weg. Ek het sodanige “kandelaar kerke” in my reise oor die wêreld gesien: gemeentes van Europa tot Suid Amerika tot New York Stad, wat eens vol van die Heilige Gees was, gefloreer het en baie siele gewen het, maar nou geen lewe meer gehad het nie.

Die Here se hart het gebreek oor hierdie toestand van sy kerk. En ek glo Hy het ons hierdie twee hoofstukke in Openbaring gegee om ons presies te wys wat so ‘n geestelike dood in gemeentes, families en individuele veroorsaak. Hierdie liefdevolle woorde van Hom is bedoel om elke gelowige en kerk te help om hierdie tragiese toestand in die laate dae te vermy.

Dit is jammer dat Openbaring 2 en 3 egter van die mees verwaarloosde gedeeltes in die hele Christendom is. Daar word selde hieroor gepreek en baie min daarvan kan in Bybelkommentare gevind word. Dit is die Here se laaste, mees plegtige boodskap vir sy mense en hou die belofte van sy seën in vir almal wat dit lees en hoor. Waarom word hierdie hoofstukke so geïgnoreer? Ek is oortuig dat een rede daarvoor is dat die duiwel hierdie gedeelte absoluut haat. Dit bevat immers die Here se uitgesproke teenmiddel teen doodsheid, droogheid en apatie in sy kerk en jy kan seker wees dat die vyand dit nie openbaar wil hê nie.

Hier is die konteks van die gedeelte: in Openbaring 1, verskyn Christus aan die apostel Johannes in ‘n visioen waar Hy tussen sewe kandelaars loop en sewe sterre in sy regterhand hou. Jesus verduidelik die visioen aan Johannes: “Die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe  kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes (in Asië)” (Openbaring 1:20). Die meeste Bybelkommentators stem saam dat daar sewe letterlike, historiese kerke in Asië was. Die meeste bronne stem ook saam dat die “engele,” die herders van hierdie kerke verteenwoordig. Christus het Johannes beveel om ‘n brief vir elkeen van hierdie herders te stuur.

Een denkrigting word dispensasiolisme genoem. Dit leer dat die sewe kerke sewe opeenvolgende fases van die kerk verteenwoordig. Die eerste fase begin met die kerk by Éfese (Openbaring 2:1ff), en die laaste fase sluit af met ‘n hoogtepunt by Laodicéa (Openbaring 3:14ff). Hierdie interpretaise stel voor dat ons vandag in die Laodicéa fase lewe.

Die ander denkrigting leer dat hierdie sewe kerke op dieselfde tyd bestaan – inderdaad, hulle illustreer toestande wat in elke eeu van die kerk bestaan het. Dus, die sewe briewe was bedoel vir alle herders van alle tye, van die eerste eeu kerk tot die heel laaste van dae.

Jesus het hierdie sewe briewe bedoel as regstellings of liefdevolle bestraffings vir sy mense. Elke brief moes deur die herder aan die gemeente gelees word en dit was die bedienaar se verantwoordelikheid om namens sy gemeente te reageer. Hy was die voog van die gemeente en as hy nie aangeraak was deur Christus se woord nie, sou geestelike dood in die gemeente insluip. Dink vir een oomblik aan wie hierdie herders was: hulle was seuns van Johannes en van die apostel Paulus. ‘n Mens sou dink dat hulle net om hierdie rede reeds wawyd wakker en aan die brand sou gewees het. Maar hierdie herders het nie veel verskil van baie van vandag se herders nie en het gebrek aan ywer en onderskeiding gehad.

Beskou nou Jesus se woorde aan hierdie kerke. Hy sê aan die herder by Éfese: “Julle het julle eerste liefde verloor en in apatie verval. Bekeer julle!” Aan die herder van Pérgamus: “Julle het toegelaat dat valse leerstellings insluip. ‘n Wêreldse, onchristelike gees is aan die werk in julle midde.” Aan die herder van Thiatíre: “’n Goddelose Isébel gees het julle oorval. Julle reken nie meer af met sonde in julle kerk nie.” Aan die herder van Laodicéa: “Jy en jou mense het onverskillig geword omdat julle voorspoedig is. Julle is nou louwarm, met geen vuur, honger of groei nie. Bekeer julle!” (sien Openbaring 2 en 3). Dit is baie sterk taal. Maar moenie verkeerd verstaan nie: Christus het nie hierdie briewe gedikteer as boodskappe van toorn nie, maar as liefdesbriewe met die doel om sy kerk op te wek. Hy probeer sy mense uit hulle laksheid wakker skud om vir hulle die gevaar van waarheen hulle op pad is, te wys.

Maar Satan het meestal daarin geslaag om hierdie kragtige boodskap van God se mense te verberg. Ek is oortuig sy prestasies in die afgelope jare was om menigtes te mislei met ‘n ander evangelie, een wat nie-opofferend, nie-teregwysend is en die vlees behaag. Hierdie evangelie vernietig alle sondebesef en verblind die oë van diegene wat wakker gemaak moet word. Kortliks, dit beroof talle van die vermoë om aangeraak te word. Jesaja beskryf die geestelike toestand wat hierdie evangelie veroorsaak as volg: “Kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie; wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek  vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry; wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!” (Jesaja 30:9–11). Jesaja sê in wese, “Die mense wil nie langer ‘n boodskap van heiligheid hoor nie. Hulle is so aan die slaap gesus deur hulle misleiding, dat hulle nou God se wet verag. Hulle soek net ‘n strelende evangelie wat geen oortuiging van sonde bring nie.”

“En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dit sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood” (Openbaring 3:1). s ‘n herder, moet ek myself afvra, “Is dit ‘n aanklag teen ons kerk en teen my bediening?” Kan ek eerlik antwoord, “Absoluut nee”? Time Square Church het ‘n reputasie van lewe en daardie reputasie is in die werklikheid geanker. Al die herders op ons personeel is beslis baie lewend in Christus en wandel in die Gees.

Tog glo ek Jesus vra vir ons ‘n deurslaggewende vraag in hierdie gedeelte: “David, het jy die vermoë om aangeraak te word deur so ‘n brief van My aan jou kerk, vandag?” Eenvoudig gestel, geestelike dood kan selfs gebeur met ‘n aan die brand kerk. Dit het met die beroemde kerke in Openbaring 2 en 3 gebeur en ons mag dit nie waag om te dink dat dit nie ook met enigeen van ons kan gebeur nie.

Beskou die kerk in Sardis. Dit het ontstaan uit groot apostoliese krag, met God se seën en guns op daardie gemeente. Hierdie Christene het so baie goeie werke gedoen dat hulle liefdadigheid en vrygewigheid geassosieer word met hulle naam. In Openbaring 3 egter, vertel Christus vir die herder by Sardis: “Ek weet julle het met ‘n kragtige reputasie begin, omdat Ek julle daardie goeie naam gegee het. Maar julle het toegelaat dat die lewe wat Ek aan julle gegee het, begin taan het. Vertel dit aan jou gemeente: “Julle is dood. Sal jy die vermoë hê om hierdie woord te hoor, te aanvaar en daardeur opgewek te word?”

Geliefde, as Jesus ‘n gemeente dood noem, is dit dood. Die herder is dooierig, die mense belangeloos en die Gees is nie meer aan die werk nie. Dit beskryf die gelowiges in Saridis: verontreinig, lusteloos en nie in staat om aangeraak te word nie. Christus vertel egter vir ons dat in daardie kerk daar ook ‘n heilige, wawyd wakker oorblyfsel was en Hy sê dat Hy steeds hoop vir hulle het: “Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie” (Openbaring 3:4).

As Jesus hier van “besoedelde klere” praat, beskryf hy geestelike dood. Wat het egter die verontreiniging van daardie gelowiges in Sardis veroorsaak? Dit het gebeur omdat iets ‘n houvas op hulle harte gekry het, ‘n “spesiale belang.” Eens was die God se belange die middelpunt van almal se lewens: welsynswerk, sending en die getroue samekoms van sy liggaam. Eenvoudig gestel, Christus se werk was hulle hoof belang. Maar nou het elkeen sy eie belange nagejaag.

Jy sien, Sardis was ‘n welvarende dorp en bekend vir goudsmelterye en die maak van pragtige klere. Dit is duidelik dat die Christene in Sardis verlief geraak het op die omliggende kultuur en hulle fokus het verskuif. Hulle het vinnig begin wegdryf van die Here se belange na ‘n materialistiese ingesteldheid.

Volgens alle uiterlike aanduidings, kon niemand met hierdie Christene se aktiwiteite fout vind nie. Hulle was besig om ‘n lewe te maak, hulle besighede opgebou en vir hulle families gesorg. Tog, hierdie dinge het so allesoorheersend geword dat hulle begin het om God se werk te verwaarloos. Daarom het Jesus ‘n waarskuwing gerig aan die getroue oorblyfsel daar: “Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie. Onthou dan hoe jy dit onvang het gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou” (Openbaring 3:2–3).

Wat bedoel Jesus as Hy praat van dinge “wat op die punt staan om te sterwe”? Hy sê, “Wees waaksaam. Die opgewondenheid wat jy eens vir my huis gehad het — jou passie vir my Woord, jou blydskap in gesamentlike aanbidding, jou liefde vir mekaar — is besig om dood te gaan. ‘n Sluimering het oor jou oë gekom en jy het louwarm geword. Word nou wakker! As jy nie ontwaak nie, kan jy in ‘n geestelike dood verval.”

Toe Jesus op die aarde was, het hy getuig, “Die ywer vir u huis het my verteer” (sien Johannes 2:17). Hierdie boodskap aan die Christene in Sardis en vir ons vandag, is die volgende: “Julle het my guns geniet en het oral ‘n goeie reputasie. Julle was geseën met kragtige aanbidding en apostoliese prediking. Maar in plaas van vorentoe beweeg in daardie seëninge, het julle begin dink, ‘Ons het ons doel bereik.’ Daarom het julle ontspan. Julle was nie langer waaksaam nie en het belangeloos geword. Nou het julle gevestig geraak in ‘n geestelike gemaklikheidsone. Ek sê vir julle, julle het nog nie die resies klaargemaak nie. Julle het nie die volle sending wat Ek vir julle gegee het, voltooi nie. Bekeer julle nou en kom terug na die ywer wat julle vir die Vader se huis gehad het. Laat toe dat julle aangeraak word deur my woorde aan julle.”

God se Woord wys ons wat gebeur wanneer ons sy huis verwaarloos en eerste plek aan ons eie belange gee. Dit word alles geïllustreer in die boek van Haggai. Hou in gedagte dat die herder in Sardis hierdie profetiese boek geken het en ek is oortuig daarvan dat hy hierdie waarskuwings aan sy kerk moes verkondig het. Inderdaad, Haggai se boodskap bevat die teenmiddel wat nodig is om daardie toestand te genees. Tog moet ek dieselfde standaard op myself toepas: Ek het ook Haggai se profesie. Het ek die vermoë om dit te hoor?

Toe Haggai geprofeteer het, het God pas sy mense uit Babel verlos en hulle teruggelei na Jerusalem om sy huis te herbou. Die Here het ‘n “kandelaar kerk” begeer waarin Hy sy teenwoordigheid sigbaar onder sy mense kon vertoon. Hy wou hê dat die nasies die veranderde lewens van die Israeliete en ‘n land vol met sy seëninge en heerlikheid sien. Daarom het Hy Israel beveel, “Fokus op my kerk — dit is jou eerste sending. As jy getrou sal wees om vir my huis te sorg, sal ek vir joune sorg.”

Die mense het aanvanklik gedoen soos die Here hulle beveel het en het sy tempel begin herbou. Maar na ‘n rukkie, het hulle gesê, “Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van Die HERE gebou moet word nie” (Haggai 1:2). Die interpretasie hier is, “Ons het nie tyd om daardie werk te doen nie. Ons is te besig.” In werklikheid het hulle behep daarmee geraak om hulle eie mooi huise en besighede te bou.

Wat was die Here se reaksie? Hy sê deur Haggai, “Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê?” (Haggai 1:4). “Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop” (Haggai 1:9). Die profeet het in wese gesê, “God het jou verlos en jou op ‘n sending gestuur om sy huis te bou. Maar julle is so besig om julle eie huise te bou, dat julle syne verwaarloos. Die Here se belange is nie langer jou fokus nie. Julle is almal vasgevang in julle eie belange.”

Gelowige, vra jouself: is jy skuldig aan dieselfde verontreiniging? Het jy die energie om oral heen te hardloop om jou eie belange te behartig — jou kinders, jou familie, jou genietinge — maar julle het geen energie vir die Here se belange nie? Het jy tyd om aan jou eie huis te werk, maar net ‘n paar ure op Sondag oggend vir die huis van God? Maak jy tyd om inkopies te doen en TV te kyk, maar vind jy min of geen tyd vir gebed nie? Nog belangriker, het jy die vermoë om deur hierdie woorde van die Here aangeraak te word?

God het deur Haggai gesê, “Laat my jou wys wat met diegene gebeur wat my huis verwaarloos en wat ‘vir sy eie huis hardloop.’” Die profeet het verklaar: “En wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek...Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas...En Ek het droogte oor die land geroep” (Haggai 1:6, 9, 11). Haggai het bedoel, “Julle het gestreef en gestreef, maar julle sal nooit vooruitstrewend wees nie. Ten spyte van al jou harde werk en pogings, sal jy nooit genoeg hê nie.”

Nou vra jouself: “blaas” God jou finansies weg? Wonder jy waarom jy so hard werk en steeds nie vooruitstrewend is nie? Is jy nuuskierig waarom jy nie bevrediging vind in enigiets wat jy bekom nie? Haggai vertel ons waarom dit alles gebeur: “Waarom? spreek die HERE van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê [afgeskeep word]” (Haggai 1:9).

Die gelowiges in Haggai se tyd, kon oorvloed gehad het. Hulle kon hulle verbly het in die seëninge van hulle eie huise, seëninge wat deur ‘n liefdevolle God voorsien is. Inderdaad, die Here het hulle vertel, “Al hierdie tyd, sou Ek julle ingaan en uitgaan geseën het, gewasse op die lande en vrugte in die wingerd gebring het en julle huise en families geseën het. Maar omdat julle so behep is met julle eie belange en my belange afskeep, het Ek veroorsaak dat julle gebrek ly.” Daarom lees ons: “Ek het julle swaar getref met brandkoring en heuningdou en hael – al die werk van julle hande; nogtans het niemand van julle hom tot My gewend nie, spreek die HERE” (Haggai 2:17).

Die Here sal eenvoudig nie ‘n tweede plek in enige van sy mense se lewens aanvaar nie. En te spyte van Israel se selfsugtigheid en nalatigheid, het die Here nie met hulle moed verloor nie. Beskou sy woorde aan hulle op die toppunt van hulle selfgesentreerde strewes: “Daarop het Haggai, die boodskapper van die HERE...gesê: Ek is met julle, spreek die HERE” (Haggai 1:13). God se boodskap aan hulle was dieselfde as Jesus se woorde aan die kerk in Sardis: “Ek het ‘n doel met julle. En Ek het julle te lief om julle verlore te laat gaan.”

Gelukkig was daar ‘n klein oorblyfsel in Israel wat die vermoë gehad het om deur God se Woord aangeraak te word. Die Skrif vertel vir ons dat Serubbábel, Josua, die hoëpriester en al die ouderlinge op Haggai se boodskap gereageer het: “En die Here het die gees van Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, die gees van Josua...en die gees van die hele oorblyfsel van die volk opgewek. En toe het hulle gekom en die werk begin aan die huis van die HERE van die leërskare, hulle God” (Haggai 1:14).

Hier was die resultaat van hulle gehoorsaamheid: nou dat God se huis eerste plek in hulle harte gehad het, het Hy belowe om hulle te seën en Hy het selfs ‘n datum vir hulle gegee. “Merk tog op, van hierdie dag af terug, van die vier-en-twintigste dag van die negende maand...Ja, selfs die wingerdstok en die vyeboom en die granaatboom en die olyf boom het niks opgelewer nie. Van hierdie dag af sal Ek seën” (Haggai 2:18–19).

Haggai het vir hulle gesê, “Julle mag dalk nie aanvanklik die bewyse van ‘n vars seën sien nie. Maar julle gaan ‘n volheid beleef soos nog nooit tevore nie. Selfs voor julle dit sien gebeur, kan julle verseker wees: van hierdie dag af, sal die Here julle seën.”

Net soos die kerk in Haggai se tyd — en later, die kerk in Sardis — sal die Here nie moed verloor met ‘n kandelaar kerk nie, al het dit teruggeval in selfsugtigheid en verwaarlosing. En die eerste werk van enige so ‘n liggaam en sy herder is om vir hulleself te vra: “Het ons die vermoë om die Here se woord vir ons te hoor, maak nie saak hoe hard dit mag klink nie?”

Toe Israel eers aangeraak is en teruggekeer het daarna om God se huis te bou, het hulle aan die Here begin gee wat Hom toekom. Hulle het tiendes gegee, bedien en hulle dienste aangebied om elke werk wat nodig was, te verrig. Hulle het ook weer gesamentlik begin aanbid en hulle families God se huis laat respekteer en nie langer die byeenkomste van sy liggaam versuim nie. Toe, na drie maande van die dag wat hulle aangeraak was en teruggekeer het na God se plan, het hulle begin om die seëninge, wat God oor hulle geprofeteer het, te beleef.

So, liewe heilige, of herder, het jy die vermoë om hierdie woord van die Here deur Haggai en van Christus self in Openbaring 2 en 3 te hoor? Kan jy eerlik sê, “O, Here, my hart is oop. Jesus, wys my asseblief — het ek steeds die ywer wat ek eens vir u huis gehad het? Het ek die blydskap wat ek eens in U gehad het? Honger ek steeds na ‘n intieme wandel met U? Of het my eie belange u belange verdring?”

Laat Hom weer met jou praat oor sy belange. En wandel in die seëninge wat Hy beloof het om aan jou te voorsien terwyl jy die werk van sy huis vervul.

Download PDF