Die Vierde Tabernakel | World Challenge

Die Vierde Tabernakel

David WilkersonJuly 28, 2014

Die Skrif praat van die woord tabernakel as die plek waar God woon. Dit is sy woning op aarde waar sy heerlike teenwoordigheid rus. Deur die eeue heen, het God sy mense besoek en sy teenwoordigheid aan hulle bekend gemaak, maar Hy het nie ‘n tabernakel gehad waarin sy teenwoordigheid op aarde kon woon nie.

Noag het God se stem gehoor, maar die Here het nie daagliks by Hom gebly nie. Abraham het sy dae gespandeer terwyl hy die stad waarvan God die boumeester en oprigter is, verwag het. Jakob was deur God besoek, maar slegs per geleentheid. Hy het nie geweet van God se daaglikse teenwoordigheid in sy midde nie.

Die eerste tabernakel wat as ‘n woonplek vir God gedien het, was deur Moses opgerig. Dit was deur God self ontwerp. Die Here het beveel, “Ook moet hulle vir my ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. En daar sal Ek met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee gérubs uit wat op die ark van die Getuienis, sal Ek jou alles sê wat Ek jou vir die kinders van Israel sal beveel” (Exodus 25: 8, 22).

Die struktuur bekend as die woestyn tabernakel, het as God se woning gedien voordat Israel Kanaän ingeneem het. Sy verstommende teenwoordigheid het daagliks daar verskyn as ‘n wolk in die dag en ‘n vuurkolom in die nag.  En die tabernakel het gestaan as ‘n geïllustreerde preek: Van die heiligste van die heilige tot by die altaar, tot die goue kandelare, het dit alles ‘n aspek van die Christus wat sou kom, weerspieël: sy krag, sy gesag en sy offer.

Die woestyn tabernakel het vir omtrent 480 jaar bestaan voor dit weggeval het. Toe is ‘n tweede tabernakel opgerig, wat voltooi is onder Salomo, wat die visie wat aan sy vader, Dawid, gegee is, getrou deurgevoer het. Hierdie tabernakel het regdeur die wêreld bekend geword vir sy heerlikheid en grootheid, maar wat dit so heerlik gemaak het, was die gemanifesteerde teenwoordigheid van God: “En toe die priesters uit die heiligdom uitgaan, het die wolk die huis van die Here vervul” (1 Konings 8:10).

Elke Israeliet het geweet dat God se teenwoordigheid daar gebly het. Inderdaad, as ‘n Israeliet op enige ander plek in die wêreld was, het hy in die rigting van die tempel in Jerusalem gebid omdat hy geweet het, dat God se teenwoordigheid dáár was. Tog, net soos die tabernakel in die woestyn, was hierdie tweede tempel ook vernietig nadat dit vir omtrent vyfhonderd jaar gestaan het.

Die derde tabernakel was Jesus Christus self. Toe God se Seun mens geword het, het hy gedien as die Vader se woonplek op aarde. “Wat in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kolossense 2:9). “En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon” (Johannes 1:14). Die Griekse woord vir “woon” hier, beteken letterlik, “tabernakel.” Kortliks, Jesus het onder ons getabernakel.

By die Kruis, het Jesus die vierde tabernakel opgerig.

Die vierde tabernakel is die kerk van Jesus Christus — sy verenigde liggaam, wat bestaan uit ‘n wêreldwye volk wat se liggame sy tempel is: “Of weet julle nie dat julle liggame ‘n tempel is van die Helige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?” (1 Korinthiërs 6:19).

By die eerste drie tabernakels, was daar ‘n sekere beperkende faktor. Die woestyn tabernakel was beperk tot ‘n enkele plek, waar Israel gekampeer het. Dieselfde was waar van Salomo se tempel; dit was in Jerusalem geleë. Selfs Jesus, die derde tabernakel, was beperk tot ‘n sekere plek; om Hom te ontmoet, moes jy na Israel gaan. Toe die uur van die kruisiging aangebreek het, het Christus die vierde tabernakel verwag — een waarin elkeen wat in Hom glo saam opgeneem word in ‘n enkele plek: in Hom.

Ons kry ‘n kykie in Jesus se vreugde daaroor toe Hy die Samaritaanse vrou by die put ontmoet het. Sy het vir Hom gesê, “Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is” (Johannes 4:20). Jesus het haar geantwoord, “Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. Maar daar kon ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:21, 23-24).

Jesus het van die vierde tabernakel geprofeteer, die een wat al die profete verlang het om te sien. Dit was die tempel waaroor Abraham hom verheug het, die een wat Moses verwag het. Hulle het dit al ‘n visie daarvan gehad, maar hulle kon dit nooit geniet nie omdat hulle nie in staat was om in die volheid van sy heerlikheid in te gaan nie: Paulus het geskryf:

“En albei in een liggaam met God kom versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het. En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was... Gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees” (Efésiërs 2:16-17, 20-22).

Jesus sê vir ons, “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Johannes 14:23). Wat ‘n verstommende waarheid: God die Vader, Seun en Heilige Gees het ons sy woning gemaak! Paulus praat van “ons aardse tentwoning” (2 Korinthiërs 5:1).

Ons “erdekruike” maak woning vir ‘n hemelse skat. Inderdaad, hierdie aardse liggaam van elke gelowige behoort aan Jesus. Hebreërs verklaar, “Maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Hebreërs 3:6). Dit maak nie saak hoe swak of onwaardig ons as God se tempel voel nie. Die skrywer verklaar baie duidelik, “Ons is sy huis, as ons ons vrymoedigheid tot die einde toe behou.”

Ons het almal begin met Adam se sondige natuur.

Die dag toe ons gebore is, het Satan aanspraak gemaak op ons lewens. Ons het uit die baarmoeder gekom met neigings van self-liefde, selfsugtige ambisie, self-verheerliking en selfbevrediging. Kortliks, die duiwel het ons opgeëis en het die titelakte van ons huis geneem. Hy het ingekom en by ons kom woning maak en dag vir dag het ons sondes opgehoop tot ‘n reuse eiendomsverband wat net aanhou groei.

Toe het die Kruis gekom, waardeur Christus die titelakte tot ons huis gekoop het. Sy bloed op Gólgota het al ons skulde betaal, die volle prys van ons verlossing en daarmee saam, het Hy die wetlike reg gehad om Satan uit die huis uit te sit sodat hy nooit weer mag terugkom nie.

Dit herinner my aan ‘n man wat ek geken het. Hy was ‘n hoogs betaalde uitvoerende bestuurder en het in ‘n pragtige, miljoen-dollar huis gebly. Ek het by geleentheid van Christus voor hom getuig, maar met verloop van tyd, het hy ‘n alkoholis geword en het uiteindelik sy werk verloor. Daarna het hy sy vrou, sy loopbaan en sy waardigheid verloor. Hierdie man het gedink dat sy huis al was wat hy oorgehad het. Hy het dit ontwerp en gebou en nou het hy gesweer om dit nooit te verlaat nie. Daarom het hy toe die hele dag in die huis gebly en gedrink. Maar hy kon nie bybly met die paaiemente van die verband nie en het uiteindelik eienaarskap verloor. Iemand anders het die huis gekoop en die verbandsmaatskappy afbetaal. ‘n Nuwe titelakte was opgetrek, die transaksie is beklink en dit was in die hof geregistreer.

Maar die alkoholis het geweier om die huis te verlaat. Hy het aan homself gesê, “Ek gee nie om wat die wet sê nie. Dit is steeds my huis en ek gaan nie weg nie.” Maar uiteindelik het die wet hom uitgeforseer. ‘n Geregsdienaar het gekom en hom verwyder. Toe die man uiteindelik weg is, het die nuwe eienaar dadelik die plek opgeknap en saam met sy familie ingetrek.

Vir dae het die vorige eienaar op en af in die straat voor die huis gery en verklaar, “Dit is my huis, dit is steeds my plek.” Maar hy was nie langer die wettige eienaar nie. Uiteindelik het die nuwe eienaar ‘n interdik teen hom gekry om hom weg te hou.

Sien jy die ooreenkomste? Jy is deur Christus se bloed gekoop. Dus is jou liggaam nou wettiglik syne, die woning van sy Gees en al jou skuld van sonde is afbetaal. Die vorige eienaar, die duiwel, is uitgeforseer en mag nooit weer terugkom nie, omdat die titelakte nou in Christus se naam is. Die Here hou die titel en dit is in die hoogste hof geregistreer.

Tog verlaat die duiwel nooit ‘n plek sonder om ‘n geraas te maak nie. Ons moet ons op die gereg beroep om hom uit te sit. Hy sal skree, “Ek het hierdie plek gemeubileer. Ek het al die jare geneem om dit te versier. Alles hier weerspieël my smaak. Dit is steeds alles myne.” Maar God se geregsdienaar, die Heilige Gees, het die duiwel gegryp en hom uitgewerp: “Nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het” (Kolossense 2:15). Jy mag sien hoe die duiwel heen en weer voor die huis stap en eis dat hy jou steeds besit. Maar die gereg sal nooit toelaat dat hy weer inkom nie.

“Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Korinthiërs 6:19).

Dit maak nie saak hoe afgebreek en bouvallig jy as God se woning mag voel nie. Hy het verklaar, “Jy is my woning. Ek woon in jou.” En die Heilige Gees is die een wat alles herstel. Hy werk gedurig aan die huis. Die duiwel kan lieg soos hy wil; jy is steeds die Here se huis, sy woning:  “Christus ... en ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Hebreërs 3:6).

By die Windsor Kasteel in Engeland, waai ‘n vlag bo-op die vlagpaal wanneer die koningin tuis is. Dieselfde is waar oor ons Koning se woning. Jesaja sê vir ons, “Wanneer die teëstander aanstorm soos 'n saamgeperste stroom, sal die Gees van die Here ‘n banier teen hom oprig” (Jesaja 59:19 vry vertaal). God se vlag van eienaarskap waai heeltyd bokant ons. Dit is beide ‘n verklaring van sy teenwoordigheid in ons en ‘n waarskuwing aan die vyand.

Geliefde, ons lewe nie meer in vrees vir die Satan nie. Ons moet ons liewer verheug en in vertroue en in die vreugde van die Here wandel. God het alle oordeel teen ons verwyder. En Hy het sy vlag bokant ons opgehef en het verklaar, “Die Koning is tuis. Hy woon hier in.”

Download PDF