Die Vrygemaakte Lewe | World Challenge

Die Vrygemaakte Lewe

David WilkersonApril 1, 1981

Ek het onlangs in die portaal van ‘n hotel gestaan en kyk hoe enkellopendes een vir een ‘n groot banketsaal binnegeloop het. Die bord buite die saal het gelees: Partytjie van Kreatiewe Enkellopendes. Dit was Sondagaand, waarskynlik die mees neerslagtige dag vir eensame mense.

Wat ‘n tragiese gesig was dit. Sommige was negentien en twintig; ander was in hulle sestigs. Niemand het geglimlag nie. Hulle het gelyk asof hulle almal van ‘n begrafnis af gekom het. Jy kon hulle leegheid, hulle eensaamheid aanvoel. Daar was ‘n verskriklike gevoel van hartseer oor dit alles. Elkeen van hulle het reguit na die dranktafel geloop en hulle glase met alkohol gevul. En vier ure later, het hulle selfs nog hartseerder daar uitgekom! Hulle het by die swaaideure uitgeloop so asof hulle sê, “Is dit al wat daar in die lewe is? Wat ‘n depressiewe ervaring!”

Maar vandag kan ek jou na die trappe van amper enige kerk neem en jou dieselfde depressiewe gesig wys. Hulle kom en loop in God se huis in en skaars iemand glimlag. Jy kan hulle gesigte lees, en jy kan dieselfde vrese, dieselfde eensaamheid, dieselfde leegheid waarneem wat jy by die enkellopendes se partytjie sien.

Staan voor enige skool op Maandag oggend en kyk na die kinders wat sleepvoetend na hulle klaskamers loop. Hulle gesigte is lank; hulle is half aan die slaap. Hulle lyk verveeld en dit kom voor asof hulle dit haat om skooltoe te gaan. Hulle tel die minute af tot middagete.

Dit is dieselfde ding by die werk – Maandagoggend “blues.” Die werknemers tree op asof hulle geloot is en na die voorste linies toe gestuur word om voor ‘n vuurpeleton te gaan staan. Hulle week hulleself in koffie tot twaalfuur. Luister na hulle taal, “O tog, nog ‘n lang week wat voorlê. Ek kan nie wag vir Vrydag nie.”

En nou het ons die “Sondag-blues”-kinders wat dit haat om gedwing te word om kerk toe te gaan; pa’s wat verkies om te lê en slaap of wat vir hulle vroue sê, “Die prediker beter nie tot na twaalf preek nie. Die Cowboys speel een-uur, en ek wil nie die afskop misloop nie.” Twee-derdes van die mense hou aan om na hulle horlosies kyk; die ander derde kyk na die mense en inspekteer wat ander aan het.

Die tragieste van dit alles is dat die meeste mense wat die kerkdiens bywoon, nie verwag om enige hulp te kry nie! Hulle is bly dat die diens slegs ‘n uur en ‘n half duur. As dit drie ure sou duur, sou min dit bywoon. Dit is ‘n uur en ‘n half om hulle gewetens te sus; ‘n uur en ‘n half om die tradisie te behou om kerktoe te gaan op Sondag. Hulle loop uit net soos hulle binnegeloop het: verveeld, bekommerd, gefrustreerd, vol vrees en angs.

Hoe moet dit die hart van God breek! Ons verander Sy huis van verlossing en gebed in ‘n plek van slawerny en verveligheid. ‘n Onlangse nasionale meningspeiling het die vraag gevra, “Waar raak jy die meeste verveeld?” Die meeste het geantwoord, “In die kerk.”

My vriende, wanneer die huis van God nie meer ‘n plek is waar mense krag en bevryding kan ontvang nie, moet dit sy deure sluit. As daar geen kreet van oorwinning, geen heerlike blydskap, geen verlossende krag is nie – is dit nie langer God se huis nie. “Íkabod” behoort op sy deure te staan- “Die eer is weggevoer.”

Hoe jammer, maar waar, dat ‘n groot meerderheid van al die mense wat God geskep het, sal sterf en die ewigheid binnegaan sonder om ooit werklik te gelewe het. Die meeste verdra slegs hulle lewens. Hulle lewe is een lang private stryd. Selfs op sy beste, is dit nooit wat hulle dink dit behoort te wees nie. Daar is altyd iets wat kortkom. Niemand lyk of hulle weet wat dit is nie, maar almal soek daarna. Hulle hou aan kyk na wat hulle noem “die betekenis van die lewe.” ‘n Stem van diep binne af hou aan fluister, “Daar moet meer wees. Iewers is daar iets beter – beter as om met voortdurende skuldgevoelens te lewe, beter as om net te bestaan en afgetrek te word deur gewoontes, sondes en swakhede. Die lewe is veronderstel om VRY te wees. Dit behoort my nooit ‘n gevangene te hou nie. Dit behoort bevrydend te wees.”

Daardie innerlike stem wat jou roep tot ‘n vrygemaakte lewe, is God self

Eeue voor Christus gebore is, het die Profeet Jesaja geprofeteer dat God ‘n verlosser na die mensdom sou stuur wat die lewe sou bevry. Jesus het self een Sabbat in ‘n Joodse sinagoge gestaan en die wêreld herinner aan hierdie profesie:

“En toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig...Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul” (Lukas 4:17-21).

Die patriarge en profete was ook soms neerslagtig

Jesus het vir die hele wêreld gesê, “My sending op aardie is om elke geknakte riet te bevry.” Om te bevry beteken om vry te maak van alle slawerny; om weg te doen met alles wat onderdruk. As jy glo Christus praat die waarheid, dan moet jy glo Hy sê vir jou en my, “Ek is gestuur om jou lewe te bevry, om jou lewe vry te maak van onderdrukking en slawerny. Ek kom om jou gees vry te maak.”

Paulus het ook verkondig dat Christus gekom het om elke gelowige te roep tot ‘n vrygemaakte lewe. “Want julle is tot vryheid geroep, broeders” (Galásiërs 5:13).

“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (Galásiërs 5:1).

Paulus het gepreek van “die heerlike vryheid van die kinders van God” [sien Romeine 8:21].

As Christus gekom het om ons te bevry van ‘n ellendige lewe, waarom moet ons aanhou leef op dieselfde ou ellendige manier?

Dit is wat God wil weet!

“Maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?” (Galásiërs 4:9).

Dit moet vir God so frustrerend wees as so min van Sy skepsels Sy aanbod om hulle te vry te maak ernstig opneem. Die kinders van Israel het nooit Sy aanbod aanvaar nie. Hy het hulle uit Egipte, die slawehuis, uitgelei en hulle ‘n vrygemaakte lewe in Kanaän belowe, maar toe sommige van hulle dit hoor, het hulle gerebelleer. Paulus het gesê dit het hulle ontbreek aan hulle bevryding omdat die woord wat hulle gehoor het, hulle niks goed gedoen het nie – omdat hulle nie werklik geglo het wat hulle gehoor het nie. Paulus sê vir ons dat God se aanbod om ons in die rus van ‘n vrygemaakte lewe in te bring, steeds staan vandag.

“God se belofte dat almal Sy rus kan binnegaan staan steeds, en ons moet van vrees bewe omdat sommige van julle dit nie sal bereik nie” (Hebreërs 4:1 geparafraseer).

Sedert die kinders van Israel misluk het om Sy aanbod te aanvaar, het God ‘n ander tyd ingestel vir mense om ‘n bevryde lewe te beleef.

Hy “bepaal...weer ’n sekere dag, naamlik vandag” (Hebreërs 4:7).

“Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebreërs 4:9).

Dink aan wat God vir ons sê vandag, “As julle nie oppas nie, sal julle geslag soos die miljoene van Israel deur die lewe gaan sonder om in die bevryde rus binne te gaan wat Ek belowe het.” Kyk rond, mense. Dit is waar! Ons het misluk om hierdie rus in ons lewens te bereik. Ons is steeds rusteloos en bekommerd. En ons ongeloof in Sy heerlike belofte van bevryding bedroef God.

“En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie? En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie” (Hebreërs 3:17-19).

Die enigste ding wat ons daarvan weerhou om die vrygemaakte lewe, wat God belowe het, binne te gaan is ongeloof!

Waarom het miljoene Israeliete in ‘n slangbesmette woestyn gesterf, na ‘n lewe van veertig ellendige jare van droefheid en smart? Waarom het hulle in ‘n woestyn dorsland gebly as hulle dadelik in ‘n land kon intrek wat oorgeloop het van vrugte, groente, heuning en allerlei dinge om die lewe mooi te maak? Waarom het hulle doelloos in tente gebly en stof geëet, as hulle hulle eie huis op hulle eie grond kon besit?

Die antwoord is skynbaar ongelooflik! Dit was te goed om waar te wees. Hulle kon eenvoudig nie glo dat God hulle lief genoeg gehad het om hulle ellende te verruil vir so ‘n wonderlike lewe nie. Hulle het so gewoond geraak aan ellende, dat hulle gedink het dit was hoe die lewe veronderstel was om te wees. Die spioene wat teruggekom het van daardie beloofde land van vrede en rus, het vir hulle vertel van sy skoonheid; van fonteine en riviere water; van wingerde, vyeplantasies, kuddes melkkoeie, ‘n oorvloed heuning en groen weivelde. Dit was alles wat God gesê het dit sou wees!

Maar sommige van die spioene het bygevoeg, “Moenie te opgewonde raak oor hierdie nuwe lewe wat julle belowe is nie. Daar is ‘n vangplek. Daar is ook ‘n aantal reuse in die land.” Die mense se harte het in hulle skoene gesak. Hull het begin murmureer en kla, “Ek het dit geweet – Ek het dit geweet! Dit was te goed om waar te wees; te maklik; te veel soos ‘n feëverhaal. Dit is alles ‘n vals droom. So ‘n pragtige lewe in ‘n pragtige land is onmoontlik.”

Kaleb het uitgeroep, “Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig” (Númeri 13:30).

Maar luister na hulle toe ongeloof oorgeneem het: “Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons” (Númeri 13:31).

Josua het te midde van hierdie ongeloof opgestaan en God het deur hom gepraat tydens een laaste poging om hulle in ‘n nuwe lewe in te kry.

“Die Here het ons lief. Hy verlustig Hom in ons. Hy wil ons in hierdie plek inbring en dit vir ons gee. Moenie bang wees nie; moenie God se belofte verwerp nie. Die Here is met ons. Nie eens reuse kan ons keer nie” (sien Númeri 14:8,9)

Maar die volk het hom amper gestenig. “Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie...?” (Númeri 14:11).

Dit is waaroor God die afgelopte tyd met my deel. Hy het my dieselfde vraag gevra, “Dawid, wanneer sal jy My glo en My op My Woord neem? Wanneer sal jy hierdie lewe van vryheid en rus betree wat Ek jou belowe het?” Hy waarsku my om versigtig te wees, voor ek ook misluk om die vrygemaakte lewe binne te gaan. Sy oorvloedige lewe – vry en rustig. Is ons gereed om nou uiteindelik te glo wat Jesus gesê het? Of sal ons ongeloof ons van Sy beloftes beroof?

Hy het gesê, “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Matthéüs 11:28-30).

Hy het ook gesê, “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10).

En weer hierdie belofte: “Ek het gekom om vryheid te bring vir almal wat gebroke is” (Lukas 4:18 geparafraseer).

Niks anders as ons ongeloof staan tussen ons en ‘n volkome vrygemaakte lewe

Ons is nes die kinders van Israel. Ons dink ‘n lewe wat volkome vry is van vrees en skuld is so ongelooflik. Die lewe in sy volste maat leef? ‘n Lewe met 24-uur-’n-dag rus en vrede in my siel? ‘n Lewe sonder ‘n swaar las van veroordeling of depressie? ‘n Lewe in die teenwoordigheid van ‘n liefdevolle, sagmoedige Verlosser wat besorgd is oor al my behoeftes? ‘n Lewe sonder onrus; sonder bekommernis; sonder vrees vir misluk?

Klink dit te goed om waar te wees? Is dit net ‘n grap van God? Glad nie! Dit is presies die soort Vrygemaakte Lewe wat Christus wil hê elkeen van Sy kinders moet hê. Net net ‘n paar van Sy kinders nie – maar almal! Nie net vir diegene wat een of ander teologiese geheim opgelos het nie – maar almal wat Hom bloot daarvoor vertrou! Selfs Christus het erken Hy kon geen wonderwerk doen vir hulle wat nie geloof in Hom gehad het nie.

“Laat ons ons bes doen om in daardie plek van rus in te gaan...en waaksaam wees om nie ongehoorsaam aan God te wees soos die kinders van Israel met hulle ongeloof was nie” (Hebreërs 4:11, geparafraseer).

Dieselfde geloof wat jou die ewige lewe gee, gee jou vrygemaakte lewe op hierdie oomblik!

Is dit nie skokkend dat die kinders van Israel geglo het dat God hulle uit Egipte kon uitlei, maar hulle kon nie glo dat Hy hulle in die beloofde land kon inlei nie? Hulle het tien bonatuurlike plae oorleef. Hulle het met afsku gekyk hoe die dood al die eersgebore kinders in Egipte opgeëis het, terwyl nie een van hulle gesterf het nie. Hulle het die ontsaglike gesig gesien van ‘n see wat aan weerskante opgestapel het om ‘n droeë pad reg deur die see oop te maak. Hulle het deur ‘n see geloop! Hulle het in verwondering gekyk hoe die see op Farao en sy leër toegeval en hulle laat verdrink het.

“Ook het Israel die magtige daad gesien wat die HERE aan die Egiptenaars verrig het. Toe het die volk die HERE gevrees en geglo in die HERE” (Númeri 14:31).

Hoe opgewonde was Israel! Hulle was nou verlos! Die ou lewe was weg; nuwe lewe was hulle s’n. Hulle het van blydskap gedans, vervul met afwagting van ‘n heerlike nuwe lewe in ‘n land van skoonheid en rus.

“U bring hulle in en plant hulle op die bergland van u erfenis, die plek, o HERE, wat U as vaste woonplek vir U berei het, die heiligdom wat u hande gestig het, o Here!” (Númeri 15:17)

Ses weke later, was hulle erg wanhopig! Hulle was ellendig; hulle was bekommerd; hulle het gekla; hulle het heeltemal vergeet van God se wonderwerkende krag. Hulle was bang en vreesbevange.

“En die kinders van Israel het aan hulle gesê: Het ons maar in Egipteland deur die hand van die HERE gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe” (Númeri 16:3).

In die maande wat daarop gevolg het, het dieselfde mense in God getwyfel op tien verskillende geleenthede. God het gesê, “Dit is genoeg! Hulle twyfel sal hulle buite hou. Hierdie mense het My heerlikheid gesien; hulle het My wonderwerke wat Ek in Egipte en in woestyn gedoen het, aanskou en hulle het in My getwyfel en My versoek hierdie tien keer. En hulle het My belofte nie geglo nie. Daarom sal hulle die land nie binnekom nie, maar hulle dooie liggame sal in die woestyn val!”

Hulle was verlos, maar waarvoor? Om veertig ellendige jare in ‘n skroeiende woestyn deur te bring, in geestelike armoede, murmurend en klaend, terneergedruk met gevoelens van verwerping, depressie en daaglikse smart? Bang om te sterf maar nie lus om te leef nie? Lewe onder die vrees van God se toorn? Dit is nie wat God vir hulle wou hê nie. Dit is nie waarom Hy hulle verlos het nie. Hulle het hulleself laat vasvang in ‘n woestynrot bestaan omdat hulle hul geloof in God verloor het.

Dit maak dat jy wil skreeu, “Israel, word wakker! Julle hoef nie so te lewe nie. Daar is ‘n pragtige plek vir julle, ‘n wonderlike land en vrygemaakte lewe net anderkant die heuwels. Moenie so dwaas wees nie! Glo in God – dit is waar!”

Selfs tragieser as dit, is dat soveel mense vandag vasgevang is in dieselfde ou woestyn van wanhoop. Ons is net so blind en ongelowig. Ons glo dat God ons red vir die ewigheid, maar ons wil Hom nie glo om vir ons oorvloedige lewe op hierdie oomblik te gee nie. Ons word in geen onduidelike terme deur God gesê dat daar ‘n lewe van volkome rus en bevryding op ons wag.

Jesus het gesê, “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:32).

Het Jesus gesê wat ek dink Hy het gesê? God wil vir my ‘n koninkryk gee? Waar is dit?

“Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie... die koninkryk van God is binne-in julle” (Lukas 17:20,21).

O goed! Dit beteken van nou af sal ek ryk wees, aanwas in goedere en niks nodig hê nie. Nee! Dit is iets wat jy in jou innerlike mens besit. Dit is ‘n vrygemaakte lewe!

“Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (Romeine 14:17).

God doen alles in sy vermoeë om hierdie geslag uit die koninkryk van duisternis te roep na sy nuwe koninkryk van lig!

Wat gaan dit verg om ons uit ons misrabele lewens van skuldgevoelens, vrees en depressie te bring? Wat sal dit verg om ons te laat sien daar is ‘n veel heerliker lewe wat op ons wag?

Paulus het gesê dat ons “die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig” (Kolossense 1:12).

Wil jy hierdie vrygemaakte lewe hê? Glo jy nou dit is jou erfenis? Glo jy God wil bitter graag hê jy moet dit hê? Aanvaar dit dan deur geloof! Neem dit in besit! Eis dit op as jou eie! Paulus het gesê, “Het jy nie genoeg gely nie? Het jy nog nie jou les geleer nie?” Met ander woorde, “Is jy nie siek en sat om met vrees en geestelike marteling te lewe nie? Het jy nie geleer daar is ‘n beter weg nie?”

“Die regverdige SAL deur die geloof LEWE!”

Jy plaas eenvoudig jou geloof in wat God gesê het Hy vir jou sal doen. Hierdie vrygemaakte lewe van geregtigheid, blydskap en vrede in die Heilige Gees is ‘n gawe. Jy kan nie daarvoor werk nie.

Die grootste blydskap van alles is om te weet jy is nie langer “skuldig” voor God nie. Dit is die blydskap wat weet jou geloof het jou reggestel voor Hom.

“Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie” (Romeine 4:7,8).

Abraham het die vader van nasies geword, bloot omdat hy God op sy Woord geneem het. Hy kon getwyfel en alles verloor het.

“En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken. Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het” (Romeine 4:20-24).

Hierdie daaglikse voorsiening van vrygemaakte lewe hang af van ‘n daaglikse geloof in God se beloftes

Ons glo dat Hy ons vergewe om ons te red; ons moet glo dat Hy ons sal bewaar. Die krag wat ons red, bewaar ons! Die geloof wat Christus in ons lewens gebring het, keer dat ons wegval.

“Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God” (Romeine 5:1,2).

Beleef jy ‘n oorweldigende versoeking? Is daar ‘n boesemsonde wat probeer om jou lewe uit te put? Plaas dit in God se hande! Glo HIERDIE belofte en laat dit aan Hom oor om te vervul:

“Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid!” (Judas 24,25).

Maar daar is ook ‘n waarskuwing: “Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie. So het Hy dan hulle dae laat vergaan in nietigheid en hulle jare in verskrikking” (Psalm 78:32,33).

Hulle het geestelike angs, gevoelens van waardeloosheid en jare van swaarkry gely – net omdat hulle nie op die wonderlike liefde en krag van God vertrou het nie.

Download PDF