Eerste Liefde | World Challenge

Eerste Liefde

David WilkersonFebruary 1, 1986

Baie Christene vermy die boek Openbaring omdat dit so verborge is. Tog skryf Johannes, “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby…” (Openbaring 1:3).

Alhoewel Johannes dit geskryf het kom die openbaring van Jesus Christus (Openbaring 1:1). Dit is die hart van God, geopenbaar aan Christus en met Johannes gedeel.

Johannes was een van die drie pilare in die kerk in Jerusalem. Baie van wat ons van Johannes weet, was opgeskryf deur Iraneus, wat dit op sy beurt van Polikarp, ‘n leerling van Johannes gekry het.

Ons weet dat Johannes langer as Paulus geleef het. Paulus is as martelaar dood onder Nero tussen 64 en 69 AD. Daar word geglo dat Paulus ten minste twee van die vyf kerke in Asië gestig het, en na sy dood, het Johannes sy laaste dae in Efese deurgebring. Uit Johannes se briewe aan die kerke in Asië blyk dit dat hy toesig oor die kerke daar gehad het. Hy was waarskynlik deur keiser Domintian na Patmos verban; en na sy vrylating het hy teruggekeer na Ephesus. Tydens die skryf van Openbaring was die Romeinse Ryk in ′n groot onrus gedompel. Nero word daarvan verdink dat hy Rome aan die brand laat steek het, sodat hy Rome in koninklike prag kon herbou en dit na homself kon vernoem. Hy was gemeen in sy behandeling van die Christene, en het hulle vir die vuur en slagting geblammer.

Op ′n stadium het hy baie Christene aan pale laat hang in sy koninklike tuin. Hulle met teer besmeer en aan die brand gesteek. Een historikus vertel dat hy te perd tussen hule deurgery het in ′n wilde vrolikheid terwyl die reuk van brandende liggame die tuin gevul het. Baie is gemartel weens hulle onwrikbare geloof in Jesus Christus.

In sy verbanning het Johannes gedeel in die lyding van die liggaam van Christus. Ingesluit, alleen met God, ontvang hy die openbaring van Jesus Christus.

Die boodskappe aan die sewe gemeentes word gerig aan ″die engel″ van die gemeentes, duidende op die pastore, leiers en boodskappers. Johannes sê, “Wat ek met julle deel, is wat elke prediker in die kerk behoort te weet en te preek. Dit is God se hart wat hier openbaar word, teen sonde en afvalligheid – sien toe dat julle die woorde hoor en leef en dit dan preek.

Alle ware openbaring begin met 'n vrees vir Christus se heiligheid.

In Johannes 13:23 lees ons, “En een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het aan tafel teen die bors van Jesus gelê”. Dit was hierdie selfde Johannes wat op die bors van die Seun van God gerus het. Johannes het Hom in sy menslikheid geken soos min ander.

Maar op Patmos, sien Johannes vir Christus in sy verbasende heiligheid - “Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters” (Openb. 1:14-15).

Johannes het nou nie sy kop op Christus se bors gesit nie. Dit is nie nou Christus in sy menslike gestalte nie, maar in sy goddelike heiligheid! Johannes sê, “En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete …” (Openb.1:17)

Daniël het dieselfde visioen van die ontsagwekkende heiligheid van Christus gesien. Dit het hom alle menslike krag ontneem en hy het doodsbang geword. “… het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek ‘n man met linne bekleed … sy heupe was omgord met goud … sy oë soos fakkels van vuur … sy voete soos blink geskuurde koper … sy woorde soos die gedruis van ‘n menigte…” (Daniël 10:5-6). Daniël sê verder “’n groot skrik het hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg … toe het ek alleen oorgebly … geen krag het in my oorgebly nie … my gesonde kleur het aan my verander … het ek bewusteloos op my aangesig op die aarde geval …” (Daniël 10:7-9).

Ons lewe in ′n tyd van evangeliese ligsinnigheid en charismatiese gekskeerdery.

Die Woord sê mense kom om waar daar geen visioen is nie. Ek neem aan dat dit verwys na die visioen van die ontsagwekkende heiligheid van Christus. Toe Jesaja Christus in sy heiligheid gesien het, het hy uitgeroep: “Wee my, … ek is ‘n man van onrein lippe … ek is verlore … en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is … want my oë het die Koning, die Here van die leërskare, gesien…” (Jesaja 6:5)

Hoeveel van God se herders kom, in hierdie dae, na die preekstoel, doodsbleek. Wat ure met hulle aangesig op die grond gelê het omdat hulle ′n blik gewerp het op die ontsagwekkeude heiligheid van Jesus Christus? Ja, daar is skoonheid in daardie visioen, maar dit moet in ons dieselfde reaksie uitlok, as by Johannes, Daniël en Jesaja; en in elke dienskneg van God wat daardie visioen gesien het. Dit moet 'n ware vrees vir God opwek, vrees om sy Naam ligtelik te gebruik, 'n vrees om oppervlakkig in sy heilige teenwoordigheid te wees 'n vrees om Hom nie te verhoog in die oë van mense nie.

Wat sommige vandag vertroulikheid noem, noem ek vrypostigheid en vermetelheid. Hoe parmantig, onbeskof en ongeskik het sommige Christene in God se huis geraak. Hoe astrant het sommige predikers geword –met hulle lawwe grappies, en heiligskending van die gewyde preekstoel. Ons het Christus afgebring na ons eie vlak, asof Hy een van ons is. Wat ons dringend nodig het, is een kyk in sy vlammende oë - een visioen van sy verterende heiligheid en ons sal nooit weer arrogant of verspot in sy heilige teenwoordigheid wees nie.

'n Ware Blik op sy Heiligheid openbaar ons gebrek aan liefde.

In sy briewe aan die sewe kerke handel Johannes allereers met die kerk in Efese se toestand. “Skryf aan die engel van die gemeente in Efese. Dit sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars: Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy die op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het … Maar dit het jy dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat ek ook haat” (Openbaring 2:1,2,6).

By die Efesiërs komplimenteer die Here hulle gedeeltelik. Hier is 'n groep gelowiges wat werk en volhou ter wille van die Evangelie. Hulle kan slegte mense nie verdra nie, hulle het onderskeiding en word nie deur valse leraars mislei nie. Hulle het baie vir sy Naam verduur, en nie moeg geword nie, en God kon van hulle sê, “Julle haat die dade van die Nicolaïete netsoos Ek dit ook verafsku.”

God sien hulle haat vir die Nicolaïete raak. Twee keer in hierdie briewe word melding gemaak van God se haat vir die leer van hierdie afvalliges. [sien Openbaring 2:15].

Nikolaus word genoem in Handelinge 6:5 as een van die sewe manne wat gekies is om vir die weduwee's te sorg. “En die twaalf het die menigte van die dissipels byeengeroep en gesê: Dit is nie reg dat ons die woord van God nalaat om die tafels te bedien nie. Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel; maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord. En die woord het byval gevind by die hele menigte; en hulle het gekies: Stefanus, ‘n man vol van geloof en van die Heilige Gees, en Filippus en Prochors en Nikanor en Timon en Parmenas en Nikolaus, ‘n Jodegenoot uit Antionchië, wat hulle voor die apostels gestel het; en hulle het gebid en hulle die hande opgelê” (Handelinge 6:2-6).

Die kerk het hom gesien as 'n geesvervulde man. Hande is hom opgelê deur die apostels. Wat het met Nikolaus gebeur dat so 'n goddelike vloek uitgespreek is oor sy leer en lewe en sy volgelinge?

Die kerkvaders het twee kardinale reëls gehad vir alle gelowiges- moenie vleis eet wat aan afgode geoffer is nie en vermy ontug. Nikolaus het hom nie hieraan gesteur nie, wat hy geleer het, het juis hierdie twee vereistes geïgnoreer. Die destydse gemeenskap het van ontug 'n grap gemaak. Nikolaus en sy volgelinge het 'n leer verkondig wat valse sekuriteit gebring het en 'n vermenging met die wêreld in die hand gewerk het, met 'n onderstroom van seksualiteit.

Klemens van Aleksandrië het van die Nikolaiete gesê: Hulle het hulleself oorgegee aan sensuele plesier soos bokke, in 'n lewe van skaamtelose selfbevrediging. “Hulle het hulle vrees vir God verloor, en hulle het die altaar met trane benat tewyl hulle ontug en owerspel pleeg. Hulle kon pragtig praat oor die liefde van Christus, terwy hulle hart en hande bevlek was met sonde.

Hierdie gees van die Nikolaïete is nog onder ons. Dit is die lering van die sogenaamde Christen ruk-en-pluk sangers wat die heilige naam van Jesus Christus deur die modder van die demonies-beheerde musiekwêreld sleep. Hulle skryf aan my met soet woorde oor hoe lief hulle Jesus het, en dat hulle sy Naam uitdra waar niemand anders dit kan doen nie. Maar hulle is so verblind deur hoogmoed, roem en seusualiteit dat hulle blind geword het vir die feit dat Jesus self nie na plekke sal gaan, wat hyself verban het nie. Die Gees van God alleen, kan lewe gee. As hulle na die duiwel se hool gaan, met 'n dooie woord - 'n woord wat die Heilige Gees nie kan salf nie -bring hulle die dood voort. Eendag sal hulle almal voor 'n heilige Koning staan, wie se vlammende oë hulle hoogmoed sal laat verteer, en moet antwoord gee; waarom hulle God se eie woord gebruik het om so baie dood te maak deur 'n dooie woord.

Hierdie moderne Nikolaïete het die vermetelheid om te dink dat 'n angswekkend heilige Christus hulle belaglike, kleinlike dingetjies, hulle vermomde prekies, hulle pynlose, goedkoop uitnodigings sal salf. Nooit! Hulle is skaam vir my Here! Skaam om 'n duidelike, onmiskenbare boodskap van Christus, uit te sing. Hulle spuug in die Here se gesig. Hulle is mislei en hulle mislei 'n hele geslag van jong gelowiges. God sê, “As hulle my volgelinge was, sou hulle die mense hulle sonde laat sien het.”

Hulle sê vir my dat hulle die nuwe profete van hierdie eeu is, maar Jeremia het van hulle gesê: “Van die profete van Jerusalem het goddeloosheid in die hele land uitgegaan …” (Jeremia 23:15)

Dit bekommer my dat baie van hierdie ruk-en-plukkers lede van die Pinkster kerke is, en hulle word geseën en aangemoedig deur hulle pastore. Het ons herders so blind geword - kan hulle Esegiël se donderende woorde aan predikers vergeet, “En hulle moet my volk die onderskeid leer tussen wat heilig en onheilig is, en hulle bekend maak die onderskeid tussen wat onrein en rein is!” (Esegiel 44:23)

Predikers, word wakker! Dit is die Nikolaïete wat God so haat, Ons moet dit ook haat!

Dit is moontlik om jou eerste liefde te verloor, selfs terwyl jy stryd voer teen die sonde en hard werk vir die Here.

Die Efesiërs het uitgeroep teen sonde, hulle het alle valsheid ontbloot, hulle het nooit oorweeg om die geloof te verlaat nie. Maar God het iets teen hulle gehad, “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het…” (Openbering 2:4)

God neem hierdie saak van “eerste liefde” so ernstig op, dat Hy dreig om sy salwing van hulle te weerhou as hulle dit nie bely en laat staan nie.

Dit is een van die Skrif gedeeltes wat die mees misverstaan word, in die Bybel. Ons vergeet dat Christus hier oor sy kerk praat.

Christene kan gedurig probeer om daardie eerste ervaring met die Here weer te beleef. Verkeerdelik glo hulle dat, terug keer na die eerste liefde, beteken om weer die opgewondenheid en ywer van die eerste ontmoeting te herwin. Hulle treur oor die jeugdige entoesiasme wat hulle kwyt is. Ja, dit is waar, baie Christene het koud en onvrugbaar geraak – maar om terug te gaan na 'n onskuldiger tyd, is nie genoeg om die dieper waarheid van hierdie teks te ervaar nie.

Sommiges behoort nooit terug te gaan na wat hulle aan die begin was nie. Party kom tot bekering uit selfsugtige oorwegings - om die oordeel van God vry te spring, of om geseën te wees, of gesond gemaak te word, of omdat hulle gemoedsrus soek. Ek wil nie teruggaan na vroeër nie. My liefde was onvolwasse, sonder wysheid, sonder ervaring, en my ywer het pyn veroorsaak. Dit was meer emosie as toewyding. Ek wil nie teruggaan na enigiets minder as wat ek nou het nie, deur sy genade.

Waarom moes die Efesiërs teruggaan na wat hulle eenmaal was? Christus sê dat hulle nie hulle deursettingsvermoë verloor het nie. Hulle het respek vir sy Naam nie, hulle werk ook nie minder nie.

Dit is die Kerk wat hulle apostoliese liefde vir Christus verloor het.

Christus is hier on vir die Kerk te toon hoe ver hulle weggeval het van die apostoliese liefde. Hy sê, “Julle het die regte leertellings, julle is toegewy aan My werk, julle is vasgelê in die fondament van die Woord, en kan nie mislei word nie. Julle het al die wette onderhou, julle doen goeie werke - maar julle het die apostoliese liefde vir My verloor!”

Ons hou vas aan al die werke van die eerste kerk, maar ons het die vurige liefde wat hulle gedryf het verloor. Daardie eerste liefde was uitgdruk op baie praktiese maniere.

Die liefde van die eerste kerk word gekenmerk deur 'n verlange na die spoedige wederkoms van Jesus Christus. Hulle verlang na 'n volkome gemeenskap met Hom in 'n ewige, glorieryke lewe. Hulle geestelike verlange na sy wederkoms is omdat, sodat hulle ook heilig soos Hy kan wees en in volkome gemeenskap in sy teenwoordigheid kan wees. Hulle het gebid om “by Hom te wees en sy heerlikheid te mag aanskou!”

Nou sien ons 'n geleidelike verontagsaming van die beloftes van die Here om spoedig weer te kom en ons verloor die geloof in die vervulling van die belofte. Ons het ons Heer se waarskuwings om nie aan die wêreld gelykvormig te raak nie, vergeet; en ons het vergeet om te waak en te bid. Staan ons nou “met lampe brandende en heupe omgord, soos diensknegte wat ver hulle Heer wag?” Nee - Sy wederkoms, is nie meer ons groot verlange nie - ons is te behep met ons oseaan van materialisme. Ons het sy Woord vergeet wat sê dat Hy kom “met die knip van 'n oog”.

Ons het moeg geword om ons kruis te dra ongeduldig oor sy wederkoms. Ons het dit uit ons gedagtes gesit, ver in die toekoms, ons voel geen drang om te waak en te wag nie. Gevolglik slaap al die maagde. Is dit 'n wonder dat ons soveel afgodediens bespeur?

Ek sal met niemand argumenteer oor die leerstelling van die wegraping nie. Al wat ek weet, is dat ek bewe as Christus hom 'n slegte dienskng noem, wat sê, “My Heer talm om te kom” (Matteus 24:48). Ek glo Hom as Hy sê Hy sal skielik kom, soos 'n dief in die nag. Ek weet daar is 'n kroon van geregtigheid vir hulle wat “met verlange uitsien na sy koms”. (2 Timoteüs 4:8).

Ek glo dat God se volk nog groot lyding sal moet verduur, en ek glo dat groot verdrukking voorlê en God se volk moet gewaarsku word, om gereed te wees. Maar ek glo ook aan die onverwagse wederkoms van Christus op die wolke om sy bruid na Hom te neem.

Die Kerk het hierdie eerste liefde verloor wat kan uitroep, “Kom, Here Jesus, kom haastig, Heer” (Openbaring 22:20). Die eerste Kerk het gepreek, “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Heer kom nie” (Mattheüs 24:42). Ons hoor nou hierdie boodskap, “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.” Maar van die lippe van Christus self hoor ons, “Vir hierdie rede moet julle gereed wees … want die Seun van die Mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie…” (Mattheüs 24:44).

Wie ore het om te hoor, laat hom hoor wat die Gees sê – gaan terug na die apostoliese liefde wat Christus se wederkoms verwag het! Leef regverdig, verwagtend, waaksaam – en of die kinders van God deur die verdrukking gaan of nie, maak nie saak nie, want jy sal te alle tye gereed wees vir enigiets.

Die getrouste toets van apostoliese liefde is aan Petrus gegee deur die Here self, “Toe hulle dan klaar was met die more-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei. Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op. Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom. Laat my skape wei” (Johannes 21:15-17).

Om hartstogtelik lief te wees vir Christus is om sy skape te voed.

Jesus het nie daarvan gepraat om vir skape te preek nie. Ek dink Hy het vir Petrus gesê, “Jou verloëning van my het iets aan jou broers gedoen. Dit het hulle geskok om jou gebrek aan toewyding en lafhartig te sien. Laat jou liefde vir my nou so wees dat dit hulle kan voed. Sodat dit hulle hoop kan gee en in hulle behoefte voorsien.”

Die Kerk het meer voorbeelde nodig van toegewyde liefhebbers van Christus wat hulle kan voed. Ek word gevoed deur die voorbeelde van geheiligde manne en vroue van God. Daardie soort liefde is so mooi dit raak my aan, dit voed iets baie diep in my, dit voed my honger na God. Hulle absolute toewyding en liefde vir Christus verwek hoop in my. In so ‘n mate dat dit my meer voed om iemand te sien wat toegewy en heilig liewe, as al die predikers saam wat een ding preek en ‘n ander leef.

Sommige Christene laat my leeg en droog voel – hulle gebrek aan liefde vir Christus maak my depressief. Hulle is louwarm; hulle het dieselfde uitwerking op my as ‘n glas koue water in my gesig op ‘n koue dag. Hulle terneergedrukte gees, affekteer my. Hulle gee niks uit nie – hulle voed niemand nie.

Jesus Christus is die Brood van die Lewe. As jy Hom lief het, met alles wat in jou is – dan voed jy ander. Hy wat my lief het soos ‘n broer, is die een wat Jesus lief het met sy hele hart. Ek het die verlorenes lief, omdat ek Hom meer lief het. Sy liefde in ons word ‘n ligbaken – ‘n hoop – ‘n uitnodiging – ‘n lewegewende voorbeeld.

Download PDF