Ek Sal Jou Mond Wees... | World Challenge

Ek Sal Jou Mond Wees...

David WilkersonNovember 1, 1982

God het Moses by die brandende bos ontmoet en vir hom ‘n mandaat gegee om Israel uit slawerny te lei. Hy het aan sy dienskneg gesê. “Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is... Daarom het Ek neergedaal om hulle...te verlos... Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit” (Ex 3:7-10).

“Toe sê Moses aan die HERE: Ag, Here, ek is nie ’n man van woorde nie — van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong. En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê...” (Exodus 4:10-12).

Maar Moses het aangehou. “Stuur iemand anders!”

Hier, saam met Moses, is waar die meeste van God se gesalfdes struikel. Ons beperk ook God op hierdie een gebied – die beheer van ons monde.

Oor en oor het God Sy mag aan Moses geopenbaar. Hy het aan hierdie bedeesde man bewys Hy kon water in bloed verander. Plae veroorsaak om Egipteland te bedek. Die Rooi See verdeel deur bloot sy staf op te lig. Hy wou egter nie glo dat God “met sy mond kon wees” en sy spraak lei nie. Hy het geglo in die wonderwerke wat hy kon sien – maar nie in God se mag oor sy tong nie!

Moses het hardkoppig gepleit, “Ag, Here, stuur tog deur wie U wil stuur...” (Exodus 4:13). God het moedeloos geword met so ‘n gebrek aan geloof, “Toe ontvlam die toorn van die HERE teen Moses...” (Exodus 4:14). Hy het uiteindelik ‘n kompromie gemaak deur Moses se broer, Aäron, toe te laat om die woordvoerder te wees:

“En Ék sal met jou mond en sy mond wees en julle leer wat julle moet doen...” (Exodus 4:15).

Moses het gevoel hy het goeie rede gehad om in God se belofte te twyfel. Hoe goed het hy sy eie swakheid geken! Hy het bely dat hy “onbesnede lippe” (Exodus 6:12) gehad het. Uiteindelik was dit die presiese ding wat hom uit die Beloofde Land gehou het. ‘n Onoorgegewe tong! Hy het swak lippe gehad totdat hy gesterf het. Die Psalmis sê, “Want hulle was wederstrewig teen sy Gees, sodat hy onverskillig gepraat het met sy lippe...” (Psalm 106:33).

Wat ‘n kragtige waarskuwing vir ons vandag! Hier was ‘n belangrike man van God, ‘n man van wonderwerke en krag, ‘n man wat God werklik geken het. Hy het net een fout gehad. Maar dit was ‘n fout wat so groot was dat dit God kwaad gemaak het, en uiteindelik ‘n skaduwee gegooi het oor alles wat hy gedoen het. Dit is opgeteken tot ons voordeel. God verwag van ons om te leer uit Moses se gebrek aan geloof.

Dit is nie net ‘n Ou Testament beginsel nie. Matthéüs sê vir ons Jesus het Sy dissipels soos skape onder die wolwe ingestuur. Hulle was gewaarsku om teenstand en vervolging te verwag. Maar hulle was nie bang nie omdat, saam met die opdrag om die evangelie te versprei, was daar ‘n belofte dat Hy hulle “mond sou wees...”

“Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek” (Matthéüs 10:19,20).

Hulle moes nie die evangelie verkondig, of hulle kritici antwoord met hulle eie woorde nie! Bonatuurlike woorde van krag was belowe! Gees-woorde wat uit Gees-geleide lippe kom!

Daar is ‘n ander, skouspelagtige gebeurtenis in die Nuwe Testament toe die Gees “met die monde van sy dissipels was.” Op Pinksterdag, was dit nie hulle wat gespreek het nie, maar “soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek...” (Handelinge 2:4). Met ander woorde, die Gees het volle beheer van hulle monde oorgeneem, sodat hulle nie een woord gesê het behalwe wat Hy gespreek wou hê nie. En Hy wou slegs hê een ding moes gesê word:

“...die groot dade van God...” (Handelinge 2:11).

Onbekende tale was nie die middelpunt van Pinkster nie. In plaas daarvan, was dit die wonderbaarlike gesig van 120 God-vervulde gelowiges wat ontdek het dat God “in hulle monde” was. Dit was die heerlikheid van Christus se dissipels wat die ekstase beleef het, nie van die tale nie, maar van die Gees van die Vader wat deur hulle gespreek het.

Die Gees kon met ou of nuwe tale gespreek het, met die tale van mense of engele, met bekende of onbekende tale. Dit was nie die betekenis van Pinkster nie. Nie die taal wat Hy gepraat het nie, maar hoe Hy gepraat het – deur die lippe van die vergaderde heiliges te gebruik! My hart roep uit, “Laat Hom spreek wat Hy wil! Laat my net die goddelike heerlikheid beleef van die wete dat Hy beheer van my tong het!”

Dit bring ons by die hart van my boodskap

Bestudeer die Nuwe Testament en jy sal sien dat beide Jesus en Jakobus ‘n onmoontlike sedelike toestand voorgestel het. Jesus het dit op hierdie manier gestel:

“Hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond...” (Matthéüs 12:34).

Hier is dit hoe Jakobus dit gesê het:

“’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie? ’n Vyeboom, my broeders, kan tog nie olywe voortbring, of ’n wingerdstok vye nie? So kan geen fontein brak en vars water voortbring nie...” (Jakobus 3:11-12).

Die onmoontlike sedelike toestand is dit: ‘n ware geestelike mens kan nie kwaad spreek nie!

Jakobus dring egter daarop aan, “Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is ‘n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif...” (Jakobus 3:8). Hy stel nie voor dat die tong ‘n wil van sy eie het nie. In teendeel, hy het geweet die tong word beheer deur die hart! Hy het gepraat van Christene wat steeds “onbesnede lippe” het omdat hulle harte nog nie geglo het vir verlossing nie. Hulle seën God, loof die Here hardop, en praat steeds teen ‘n broer of suster. Jakobus sê, “Dit...behoort nie so te wees nie...” Met ander woorde, dit gebeur, maar dit is nie skriftuurlik nie. Dit bewys daar is ‘n probleem by die fontein se oog.

Dit is duidelik dat dit nie God se plan is dat ons tonge onbeheerbaar is nie. Dit is nie Sy bedoeling dat ons ooit met ons monde aanstoot gee nie!

“Wee die wêreld...dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see...” (Matthéüs 18:6).

Ons word nie sonder ‘n uitkoms gelaat nie. Die oplossing vir die onmoontlike sedelike toestand is eenvoudig die volgende: jy moet omgekeer word!

“Kyk, ons sit stange in die perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam kan wees, en ons stuur hulle hele liggaam daarmee. Kyk ook die skepe...word gestuur deur ‘n baie klein roer...” (Jakobus 3:3,4).

Die Heilige Gees verlang om aan ons te openbaar dat Hy die perd se stang is, Hy is die stuurman wat die roer van ons skip draai! As jy nog nie weet wat dit beteken om die “Gees se stang” in jou mond te hê nie, is jy steeds wild en onbeheerbaar sover dit jou spraak aangaan. Jou Pinkster het nog nie “volkome gekom” nie.

Maande lank het die Heilige Gees probeer om vir my te wys hoe ernstig hierdie saak is. Ek wil met jou drie dinge deel wat Hy onder my aandag gebring het.

I.As daar enigsins enige onreinheid in my tong is – is my hele liggaam onrein!

“...Net so ‘n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam...” (Jakobus 3:6).

Daar is geen ding soos ‘n “glip van die tong” nie. Nie ‘n woord kom onskuldig uit nie. Christus self het gesê ons woorde kom uit ons harte uit. Hy het nie gesê uit die laaste oorblyfsels van die vlees, praat die mond nie maar, “uit die oorvloed van die hart!” Wat ons sê, is nie per ongeluk nie – maar voorspelbaar!

Dit is belangrik! Ek en jy mag dink ons is vol van God se goedheid en liefde. Ons mag dink dat wanneer ons van iemand lelik praat, is dit per ongeluk. Maar God sê vir ons dit was gespreek omdat dit heeltyd in ons harte was. Jakobus sê enige soort twis, enige soort jaloesie, is ‘n direkte gevolg van twis in die hart! Twis word gedefinieer as “’n bakleierige of twisgierige gees.” Skinder, jaloesie, verdeeldheid, bitterheid, wederstrewigheid -  is alles die oorvloei van ‘n “twisgees.” En dit het sy oorsprong in die hart!

Dit is onmoontlik vir ‘n Gees-geleide gelowige om enigiets anders te praat as goedheid, genade en geregtigheid. So onmoontlik as wat dit vir vyebome is om olywe te dra. Of vir wingerde om vye te dra. Of dat brak en vars water uit dieselfde fontein vloei. Die Bybel sê nie dat brak en vars water uit dieselfde bron behoort te vloei nie – dit sê dit is onmoontlik!

Hierdie woorde moet van ons besit neem! Ons moet erken dat ons nie in die Gees kan wandel en gevul wees met die Gees, en terselftertyd onheilige woorde uitspreek nie. Anders, is ons steeds soos die goddelose mens wat “’n kuil van onheil [grawe]...sy lippe is soos ’n brandende vuur” (Spreuke 16:27).

Moenie vir een oomblik dink dat daardie dissipels op Pinksterdag onder die Gees se invloed gespreek het slegs toe hulle deur ekstase of hoë emosie aangeraak is nie. Nee! Van daardie dag af verder, het hulle woorde gespreek wat opbouend was – geheilig, heilig en rein. Paulus sê dat toe hulle Christus leer ken het,  

“Dat julle wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê...lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste... Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor...” (Efésiërs 4:20-29).

Paulus het nie gesê dat ‘n onbeheerbare tong ‘n swakheid is om te probeer oorwin nie, of ‘n swakheid van die vlees is wat mens moet verduur nie. Hy sê dit is onverskoonbaar onder enige en alle omstandighede!

II.Sonder reinheid, kan daar geen krag in ‘n enkele woord wees wat ek spreek nie!

 “Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ’n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal..” (Psalm 12:7). “Vriendelike woorde is rein...” (Spreuke 15:26). “Vriendelike woorde is...soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente...” (Spreuke 16:24).

Waarom het die woorde van Christus soveel krag? Waarom het die mense gesê, “Hy praat soos geen ander mens ooit gespreek het nie – met gesag! Omdat Hy, volgens Sy eie belydenis gesê het:

“Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke...” (Johannes 14:10).

Hierdie heilige woorde is deel van die erfenis wat Jesus vir sy volgelinge nagelaat het:

“Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee...” (Johannes 17:8).

Ons wandel nie in die lig van hierdie heerlike waarheid nie – en die Here is nie “met ons mond” nie – totdat almal rondom ons ook kan sê. “Hy spreek soos geen ander spreek nie! Daar gaan iemand wat slegs die woorde wat God verheerlik spreek!”

Wanneer ons onsself aan die Gees gee, sal Hy veroorsaak dat ons slegs daardie woorde spreek wat van die Vader is. Daar sal geen stryd wees nie, geen wettige oorlog nie. Al wat dit verg, is ‘n oorgegewe hart, wat gewillig is om gedissiplineer te word deur die Heilige Gees oor hierdie saak.

Onbelyde sonde besoedel die Christen se tong. Enige bedienaar of gelowige wat boesemsonde in sy hart herberg, het niks vir enigeen te sê nie! Elke woord wat hy praat, is verniet. Woorde mag uit jou dubbelhartige siel uitstroom en opreg klink. Dit mag vroom klink. Dit mag absoluut skriftuurlik klink. Maar dit is sinneloos as die werktuig onrein is, omdat sonde ons woorde van alle gesag ontneem.

Dit is nie hoe intelligent jou woorde is nie, of hoe goed dit uitgespreek of hoe kragdadig dit is nie. Wat regtig saak maak, is hoe rein hulle is! Slegs rein woorde gee gesondheid. Jesus het gesê,

“Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn...” (Matthéüs 12:35).

Hier is ‘n ontnugterende gedagte: elke ydele woord wat ons spreek, sal van kennis geneem word op die oordeelsdag!

“Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag...” (Matthéüs 12:36).

Die stamwoord van die woord ydel is “nie enige doel dien nie, niks doen; leeg, nutteloos, ondoeldtreffend, ontoepaslik.” Dit is meer as die toevallige geskerts wat ons almal in die loop van die dag uitspreek. Dit het te doen met ondoeltreffende getuienis. Ontoepaslike berading. Prediking wat niks bereik nie. Woorde wat niks doen om God se koninkryk te bevorder nie.

Mag God ons help om hierdie saak ernstig op te neem, en te begin luister na hoe ons praat! Ek vra die Heilige Gees om die vrees van God in my te plaas oor my mond – my woorde – sodat ek ‘n wag voor my mond sal sit en versigtig sal praat. Nie net in die teenwoordigheid van ander nie, maar selfs privaat – wanneer ek alleen is.

Klink dit ingewikkeld? Wetties? Onmoontlik? Hier is die goeie gedeelte!

III.God smag ook daarna om met ons monde te wees! 

God is op die punt om ‘n nuwe geslag suiwer harte en rein lippe op te rig. Om weer met die wêreld te kan praat, moet Hy rein lippe hê. Daarom bring Hy Sy kinders terug na ‘n heerlike visie van Sy ontsagwekkende heiligheid. Soos Jesaja, besef God se kinders hoe boos, hoe afvallig, hoe los met ons tonge en ongedissiplineerd ons geword het.

“Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is ’n man onrein van lippe en woon onder ’n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien...” (Jesaja 6:5).

Ek moet bely dat ek op ‘n werklike manier die vrees waarvan Jesaja praat, beleef. Ek sien ‘n nuwe visie van die Saligmaker se heilige heerskappy! En hoe duideliker die visie, hoe meer is ek bewus van die sondigheid wat steeds in my lewe teenwoordig is – die opruiende tong, die onbesnede lippe. As ‘n heilige profeet van God soos Jesaja bely het dat sy lippe onrein was, waar staan ek en jy? Die afgelope weke, het God my in Sy koninklike tughuis ingeneem en my erg gepiets omdat ek te dikwels onverskillig praat.

God het vir Moses gesê, “Verder het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie...” (Exodus 33:20). Jesaja het Hom gesien en uitgeroep, “Wee my, ek is verlore..” (Jesaja 6:1-5).

Hierin lê die leidraad – “Sien God en sterf!” Laat die óú jy opgaan in rook. ‘n Brandoffer. Wanneer jy Hom as Here sien, sterf jy! Maar dit is slegs die begin. Van dan af, betree jy opstandingslewe!

Sien hoe wonderlik was die Here met die mond van Jesaja van daardie oomblik af:

“Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met ’n gloeiende kool in sy hand, wat hy met ’n tang van die altaar af geneem het... en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen....En Hy het gespreek: Gaan sê aan hierdie volk...” (Jesaja 6:6-9).

Ons word uitgenooi om die stryd gewonne te gee om die regte ding in ons eie krag en sterkte te doen of te sê. Ons word gevra om te sterf deur geloof – om opgewek te word deur geloof – om heilig en aanvaarbaar te wees deur geloof – en om te leef en te spreek deur geloof, soos bloedgekoopte heiliges. Die Gees belowe om ons harte en lippe te besny, sodat ons die woorde van ons Vader kan spreek, soos Christus gedoen het.

Gee mooi aandag hieraan: Nie in ‘n miljoen jaar kan Christus kom om met jou mond te wees deur enigiets wat jý kan doen nie! Gaan voort. Maak jou beloftes. Sê vir God jy sal nooit lieg, of skinder of afgunstig wees, of enigiets ydel of dwaas sê nie. Sterwe aan jouself. Gaan dieper in dissipline is. Sê vir jouself, “Van nou af sal elke woord wat ek spreek die Here verheerlik.” Maar jy is gedoem tot mislukking en wanhoop as jy dink wilskrag of vasbeslotenheid sal jou daar kry. Ek het die speletjie gespeel – en dit werk nie!

Nee! ‘n Duisend keer nee! Ons word gereinig deur geloof! Ons menslike wil moet reggemaak word sodat ons Sy woord kan gehoorsaam.

Gevolgtrekking: ‘n Profetiese woord

Die hele tyd wat God Sy boodskap in my siel uitgestort het, het die behoefte in my verstand gebrand om besnede lippe en ‘n rein hart te hê – het ek ‘n toenemende gevoel gehad dat die Gees my lei na ‘n heerlike profetiese waarheid vir hierdie laaste dae. Ek het geweet dit moet meer wees as net ‘n les oor rein spraak.

Waarom ‘n nuwe reiniging in ons harte en lippe? Waarom ‘n hernude visie van heiligheid in hart, tong, lippe en mond? God het my gewys waarom.

Ons lippe is die sluise waardeur die Gees moet vloei! God is op die punt om Sion te herstel en die tabernakel van Dawid te herbou. Hy sal dit doen met ‘n magtige vloedgety van die Gees. ‘n Magtige rivier van lewende water om te genees, te reinig en te herstel. Hierdie rivier sal van binne die liggaam van Christus voel hier op aarde – vanuit die harte van Sy mense! God hoef nie een of ander onbekende, geheimsinnige krag af te roep nie. Alles wat Hy nodig het, is reeds daar; die water is daar – ‘n bodemlose oseaan!

Slegs een ding bly oor: Die Gees kan nie met onverhinderde krag en sterkte vloei totdat alle dinge gereed is nie. Die fonteinoog (wat die plek is waar ons vlees in ons Gees intap) moet vlekkeloos wees. Geen reinheid – geen stroom! Die sluis moet rein en gereed wees. Al die afval verwyder. Alle obstruksies weg. Die kanale dieper. Wat is die kanale? Die geheiligde tong, lippe en mond van gereinigde gelowiges!

Op die presiese oomblik wanneer die Gees hierdie werk verrig, sal daar niks meer nodig wees om te doen nie. Daar sal niks wees om aan te skakel nie. Niks om te gereed te maak of te forseer nie. Al die opgedamde krag sal veroorsaak dat die lewende water vanself “opspring.” Dit sal “’n fontein van lewende water wees wat opspring...” soos dit ook in die oorspronklike teks lees.

Verbeel jou – ‘n spuitbron van Heilige Gees Krag! Die Heilige Gees sal in ons opspring. ‘n Rivier sal uit elke geopende sluis stroom. Rivier sal by rivier gevoeg word, spruit by spruit en die water sal styg bokant enigiets wat die mens al gesien het. Dan sal ons die laaste-dag uitstorting beleef wat God beloof het – ‘n uitstorting vanuit die hoogte, wat binne-in ons begin!

Die vraag word nou, Moet ek bid vir onbesnede lippe, net om vrygespreek te wees by die Oordeel – of, Wil ek ‘n kanaal wees van hierdie laaste-dag uitstorting? Wil ek verder gaan as vergifnis – na bruikbaarheid?

Vir my, is die antwoord duidelik. Ek wil hê die Heilige Gees moet “na my mond kom” en my voorberei vir ‘n spuitende rivier van Sy liefde – wat deur my vloei na die wêreld! Wie sou waag om hierdie rivier te keer? Wie sou waag om die saak ligtelik op te neem? Die oordeel kan groter wees as wat ons dink vir iemand wat die vloei verhinder. Om ander die genesing te ontsê wat van ons eie lippe moes gekom het.

Dit is so belangrik om die Gees deur ons te laat vloei. En nie net vir ander nie. Ons drink uit ons eie stroom. Dit is vir ons ook lewende water. Al wat nodig is, is in daardie rivier: genesing, openbaring van Christus, geestelike wysheid en kennis, vrede in ons gedagtes, hoop, blydskap – alles nodig om allerhande soorte vrug te produseer.

Jakobus het gesê, “’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie?” Maar jy kan stop by, “’n Fontein laat tog nie...opborrel nie” Dit kan glad nie “opborrel” – totdat die prop afgehaal is nie.

Wil jy hê jou fontein se prop moet afgehaal word? Verlang jy dat die Gees deur jou vloei, jou mond heilig? Hier is hoe eenvoudig dit is:

Lê elke boesemsonde af

-

Beweeg na die koninkryk van goddelike eerbied. Bely jou swakheid en hulpeloosheid – Deur geloof, sien hoe die bloed van Christus deur die fontein stroom, deur die sluis, verby die poorte van jou lippe, jou reinig en alle blokkasies wegspoel.

Dan – sal jy die vars water proe wat binne-in jou opspring.

Dan – sal die Gees vloei!

Download PDF