Ek Sal Nie Verniet Weggaan Nie | World Challenge

Ek Sal Nie Verniet Weggaan Nie

David WilkersonMarch 15, 1984

God se weë lyk soos teenstellings vir die menslike verstand. Hy sê, om te lewe, moet jy sterwe. Om jou lewe te vind, moet jy dit verloor. Om sterk te word, moet jy eers swak word.

Een van die grootste teenstellings van dit alles is – om waarlik vry te wees, moet jy gebind word. Om die grootste vryheid in God te wen, moet mens alle regte oorgee en ‘n lewenslange slaaf word van die Here Jesus Christus. Daar is ‘n glorieryke liefde-slawerny wat lei tot die hoogste vorm van vryheid. Dit is ‘n vrywillige oorgawe gebore uit liefde en toegeneëntheid, wat veroorsaak dat mens diensbaarheid selfs groter beskou as kindskap.

In ‘n tydperk waarin God se volk so behep is met hulle regte opeis, so opgevang met die Here se seëninge, voordele en beloftes – sou dit ons almal voordelig wees om toe te laat dat die Heilige Gees ons oë oopmaak vir ‘n plek in God bo enigiets wat ons reeds ontdek het. Ek sal vir jou wys dat dit in volmaakte goddelike orde is om alle die goeie dinge uit die hand van God te ontvang – en dat geen kind van die Here moet skuldig voel oor die seëninge en voordele wat op hom uitgestort is nie.

Die doel van hierdie boodskap is om jou geestelike verstand te verbreed om iets te verstaan wat beter is as seëninge en voorspoed. Iets baie meer lonend as genesing van die liggaam en al die ander menigvuldige voordele waarmee Hy ons daagliks oorlaai. Iets beters as vryheid self.

‘n Slaaf is die hoogste roeping van God in Christus Jesus!

‘n Slaaf is iemand wat getree het in ‘n sakrament van diens met sy meester. Dit word pragtig beskryf in Exodus 21, verse 2 tot 6.

“As jy ’n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar lank dien, maar in die sewende moet hy as vryman verniet weggaan. As hy alleen kom, moet hy alleen vrygelaat word; as hy getroud is, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word. As sy heer aan hom ’n vrou gee en sy vir hom seuns of dogters baar, moet die vrou met haar kinders haar heer se eiendom wees, terwyl hy alleen vrygelaat word.

“Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer, my vrou en my kinders lief; ek wil nie as vryman weggaan nie —dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met ’n els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd dien.”

Dit is baie meer as ‘n beeld van God se menslike besorgdheid oor slawe en dienaars. In tipe en skaduwee, beskryf dit duidelik die slaaf van die Here Jesus Christus.

Christus is die Meester in hierdie verhaal, en ons is die dienaars wie se vryheid gekoop is. Die Kruis is God se sabbat, die jaar van vryheid vir alle gevangenes, prisoniers, slawe en dienaars. Ons wat verkoop was onder die Wet is vrygemaak deur genade.

Ons praat van Vryheid

‘...Moet hy as vryman verniet weggaan...” (Exodus 21:2) ‘n Hebreër kon verkoop word in slawerny om twee redes: armoede of misdaad. As ‘n dief betrap is dat hy inbreek, moes hy ten volle restitusie doen vir alle verliese. As hy nie kon betaal nie, het hy die besitting geword van die slagoffer vir ses jaar lank om die skuld af te werk. “Moet hy vir sy diefstal verkoop word” (Exodus 22:3).

Meer dikwels was dit armoede wat gely het tot knegskap. Net soos met die Hebreërs, so was dit met die Egiptenaars. Tydens die laaste jaar van hongersnood, het Josef al die inwoners van Egipte vir Farao gekoop in ruil vir graan, “Toe sê Josef aan die volk: Kyk, ek het vandag julle en jul grond vir Farao gekoop: daar is saadkoring vir julle... En hulle antwoord... dan sal ons die dienaars van Farao wees.” (Génesis 47:23-25).

Prys God vir ewig! Ons wat eens slawe van sonde was, onder slawerny van die wet van sonde en dood, is gekoop deur die bloed van die Lam van God. Wie die Seun vrymaak – is waarlik vry. Ons is vry om “verniet weg te gaan” – wat onvoorwaardelik beteken. Vry om weg te gaan sonder vrees, om te doen wat ons hand ook al vind om te doen – hopelik in konsultasie met die Meester.

Die Meester moes die dienskneg laat gaan sonder verwyte. “Dit moet nie hard in jou oë wees as jy hom as vry man van jou laat weggaan nie, want die dubbele loon van ’n dagloner het hy vir jou ses jaar lank ingedien...” (Deuteronómium 15:18).

Die vrygemaakte dienskneg moes nie met leë hande weggaan nie. “En as jy hom as vryman van jou laat weggaan, moet jy hom nie met leë hande laat weggaan nie” (Deuteronómium 15:13). Hy moes oorvloedig toegerus word met alles wat sy hande kon dra, uit die vee, die graanskuur en die wynpers. Dit was bedoel om genoeg te wees om ‘n nuwe lewe te begin.

Die dienskneg wat gekies het om verniet weg te gaan en ‘n nuwe lewe te begin, moes nie blameer word nie.

Dit is baie belangrik om in gedagte te hou dat hy die volste reg gehad het om weg te gaan. Hy was getrou en het beter gewerk as twee gehuurde diensknegte. Om verniet weg te gaan, was werklik prysenswaardig. Hy kon wettig al die voordele aanvaar wat aan hom gegee is om hom te help om sy vryheid te geniet. Hy het niks verkeerds gedoen nie; hy moes glad nie skuldig voel nie. En hy kon gelukkig en tevrede aangaan. Hy was nou verantwoordelik teenoor niemand nie en het die vryheid gehad om die lewe te leef wat hy gekies het. Hy was vry om te gaan waar hy wou.

Dit is waar die meeste van God se kinders vandag is. Ek het gewoonlik diensknegte van die Here wat “verniet weggaan” en hulle regte tot voorspoed en opgehoopte seëninge opeis, veroordeel. Ek sien nou dat sommige diensknegte met blydskap alles bymekaar maak wat die Meester bied. Dit is alles in die Woord – die seëninge, die beloftes van daaglikse voordele wat uitgestort word en voorspoed vir diegene wat dit wettig soek. Christene hoef nie onder slawerny of skuldgevoelens te kom weens die Here se oorvloed wat hulle ontvang nie.

Christen, dit is waar dat jy vry is in Christus. Jy is vry om te kom en te gaan soos jy wil, binne die perke van Christelike sedelikheid. Jy moet jouself nie veroordeel as die Meester jou wegstuur met al die seëninge wat jou hande kan dra nie. Miskien is dat hoe meer Hy vir jou gee, hoe meer getuig dit van Sy dankbaarheid vir jou getroue diens in die verlede. Jy het ‘n reg om al die groot en kosbare beloftes te geniet. Jy word beveel om baie te vra sodat jou blydskap volkome kan wees.

Daar word nie van die vrygemaakte dienskneg verwag om na een of ander afgeleë sendingveld te gaan nie. Jy is nie wettig verplig om op te offer of te ly nie, as jy dit nie kies nie. En die Meester sal jou nie veroordeel as jy jou vryheid en hulpbronne gebruik om vir jou toekoms te voorsien nie. Onthou die Meester mag nie spyt gewees het oor die dienskneg se verniet weggaan om sy eie behoeftes aan te spreek nie.

Ek dink dit is prysenswaardig dat God soveel het wat “verniet weggaan,” wat “vrugbaar onder hulle eie wingerde en vyeboom is,” en wie se grootste belang is om “regverdig en reg te wandel” voor die Here. Die kerk is vol diensknegte wat tevrede is bloot om hulle regmatige seëninge te geniet en antwoorde op gebed te ontvang, die Meester lief te hê en die heel beste vir Hom te doen wat hulle kan. Hulle leef nie in sonde nie, hulle doen goed en is selfs getrou. En hulle word nie veroordeel nie, maar sal voor Christus staan en hoor, “Mooi so, goeie en getroue dienskneg.”

Vir die meeste is dit genoeg. Wat meer kan enige kind van God wil hê, as hy geluk, sukses, gesondheid geniet en die hemel en die ewige lewe op die ou einde kry? Watter groter vryheid kan ‘n vrygemaakte siel geniet as om met blydskap al die goedertierenheid van die Meester te ontvang? Het Hy ons nie aangemoedig om deur geloof al die heerlike beloftes van Sy Woord toe te eien nie?

Dit alles is waar, maar daar is steeds ‘n beter weg. Dit is ‘n weg wat nie vereis word deur die Meester nie. Hy kan ons nie eens vra om hierdie spesifieke weg te neem nie. Hy moet eenkant staan en ons toelaat om ons eie besluit te maak, en as ons kies om “verniet weg te gaan” – op ons eie pad, sal Hy ons nie tugtig of dit teen ons hou nie. Hy sal ons uitstuur met seëninge en goeie wense.

Daar is ‘n dienskneg wat nie verniet sal weggaan nie. Hy kies slawerny as sy manier om iets groter as vryheid te bekom.

“Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer, my vrou en my kinders lief; ek wil nie as vryman weggaan nie —” (Exodus 21:5). Vir hierdie dienaar is daar geen dilemma nie, geen keuse nie. Sy besluit was nooit te betwyfel nie. Sy meester was sy hele wêreld; hy was aan hom verbind met ‘n ewige band van liefde. Hy kon onmoontlik sy meester of sy huis verlaat.

Soos Paulus, het hierdie dienskneg alle ander dinge as ‘drek’ beskou, sodat hy die meester mag win. Hy was die soort mens wat gewillig sou wees om vervloek te wees as ander daardeur die liefde van sy heer sou kon leer ken. Sy lewe het gehandel rondom sy liefde vir die meester.

Hierdie dienskneg het intimiteit met sy meester groter geag as enige aardse seën. Wie gee om vir vee, vir koring, of vir wyn en olie – as jy eindelose maaltye en gemeenskap met die meester kan hê? Sy hart het oorgeloop van liefde vir hom – dit was huis, dit was hemel, net om by hom te wees waar hy was. Hy het dit baie duidelik gemaak: “Ek het my meester lief...ek sal nie verniet weggaan nie.”

Kan jy sien hoe hierdie slaaf staan en kyk as die meester geskenke en voordele gee aan al die dienaars wat verniet weggaan? Sy hart juig, maar ween. Hy dink, “Weet hulle nie dit is die beste lewe om die meester met algehele oorgawe te dien nie? Hoe kan hulle tevrede wees om hulle eie lewens te leef, om bloot Sy voordele te ontvang en tevrede te wees met die lewe op ‘n laer vlak, en dus lewe op ‘n laer vlak van intimiteit met die meester?” Weet hulle nie dat slawe, “Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge. Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig” (Psalm 36:9,10).

Wat hierdie dienaar vir ons sê, is bloot die volgende – Christus is genoeg! Hy sê daar is niks in hierdie wêreld die moeite werd om die gewaarwording van sy teenwoordigheid te verloor nie. Al die rykdom en voorspoed van die hele aarde kan nie vergelyk word met een dag wat saam met Hom deurgebring word nie. Die plesiere aan Sy regterhand het by verre die ekstase bekend aan die mens oortref. Om Hom te ken, om saam met Hom te wees waar Hy is, saam met Hom in hemelse plekke te sit, is beter as die lewe self. Om Hom te dien, om deur Hom gelei te word, om te kom en te gaan soos Hy alleen beveel – dit is lewe op die hoogste vlak.

Sou jy my herinner dat jy ‘n seun is, en nie ‘n dienaar nie? Dan sou ek jou vriendelik herinner dat Jesus, ‘n Seun wat “dit geen roof geag [het] om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword” (Filppense 2:5-7). Hy kon gekom het as ‘n sterk Prins van die Almagtige en alle vyande vertrap – maar Christus het gekies om te kom as ‘n slaaf, volkome verbind aan Sy Vader se belange.

Paulus het gesê, “Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak...” (1 Korinthiërs 9:19). Ons lees ook, “Simon Petrus, ‘n dienskneg; Judas, ‘n dienskneg van Christus.” Almal was seuns wat die vorm van ‘n dienskneg aangeneem het.

Jesus as dienskneg van Sy hemelse Vader sou niks sê, niks doen, sonder leiding van bo nie. Hy het gesê, “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). Hy het gesê, “Uit Myself doen Ek niks nie...omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is...” (Johannes 8:28,29).

Hierdie toegewyde slaaf het geglo hy het een sending in die lewe, en dit was om sy meester te dien. Hy was nie daarin vir ‘n erfenis nie, hoewel daar geskryf staan, “’n Verstandige dienaar sal heers oor ’n seun wat skande maak, en onder die broers sal hy die erfenis verdeel” (Spreuke 17:2). Van oggend tot aand, elke uur wat wat hy wakker was, was oorgegee aan gewillige diensbaarheid aan sy meester. Liefde het dit maklik gemaak om te gehoorsaam. Hy was nie gedrewe deur skuld of ‘n sin van plig nie – hy was gemotiveer deur liefde alleen. Geen wonder nie Jesus kon sê, “As jy My liefhet, sal jy My gehoorsaam.”

Geliefde, dit is nie dat die dienskneg die meester se voordele gering ag, of dat hy sy eie regte verag nie. Dit is bloot omdat hy so lief is vir sy meester dat hy vervul voel, en niks meer nodig het nie. Hy trek uit daardie intimiteit al die rykdom en volheid om sy diepste behoeftes te bevredig. Dit is sy verhouding met die meester wat betekenis aan sy lewe gee. Hy kan sê, “My meester is genoeg. Sy huis is my tuiste. My sekuriteit, my gesin se sekuriteit, is in die hande van die een wat ek liefhet en vertrou. Ek wy my volkome aan hom toe.”

Die slaaf wat weier om verniet weg te gaan, gee homself oor as ‘n lewende offer aan sy Meester.

Hy het voor getuies gestaan en het sy oor laat deurboor aan sy meester se deurkosyn as ‘n openbare sakrament van diens. “Dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met ’n els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd dien” (Exodus 21:6).

Die Hebreeuse woord vir “owerhede” is elohim, of “God se verteenwoordiger.” Ek sien dit as die Heilige Gees wat ons verbintenis aan die Here Jesus seël.

Wat ‘n pragtige beeld van liefde. Talle het verniet weggegaan en hulle meester se voltydse diens verlaat. Maar hier staan een op teen die deurkosyn, selfs sonder ‘n sagte kreun terwyl die meester ‘n gat in sy oor steek in die hout deurkosyn. Sy glansende oë is gevestig op sy meester, sy hart loop oor van nederigheid dat die meester hom sou toelaat om te bly en sy lewenslange dienskneg word. Dit was geen ligte sakrament nie – dit was ‘n lewenslange verbintenis.

Wat moes die reaksie van die meester gewees het? Watter liefde is dit, dat ‘n dienskneg gewillig sou wees om sy hele lewe te gee vir die een wat hom liefhet? Hy kon saam met Christus sê, “Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit [my lewe] uit Myself af” En veronderstel daardie dienskneg was een van sy eie seuns? Watter liefde moes die meester nie gevoel het vir so ‘n verbintenis nie?

Dawid, die psalmis, het gesê, “Ore het U vir my gegrawe” Met ander woorde, “Daar is ‘n gat in my oor wat my merk vir die Here, lewenslank en tot in ewigheid.”

Het jy toegelaat dat die Heilige Gees jou oor deursteek? Wil jy ‘n gaatjie in jou oor hê?

Daar is niks geheimsinnig aan hierdie manier van lewe nie. Dit word prakties in ons alledaagse lewe uitgewerk. Dit begin met ‘n verbintenis om vir die Here die beste van ons tyd te gee! Dit is wat ‘n slaaf kenmerk – hy verbind homself daartoe om al sy tyd te gee in diens aan sy meester.

Dit beteken nie ons moet almal werke en loopbane bedank om in voltydse bediening te gaan nie. Te veel is deesdae buite God se wil en verlaat die verantwoordelikheid om ‘n gesin groot te maak en trek wortels op om “in geloof te gaan.” Die meeste gaan voorbarig weg. Die beter ding om te doen is om te bly waar jy is en die Here daar meer kwaliteit tyd te gee. Dit is ‘n saak van Christus in die middelpunt van alles te plaas, sodat gesin, werk en alles rondom Hom wentel. Christus word die fokus van ons gedagtes. Dit beteken dat tyd gevind word om dikwels en lank in Sy teenwoordigheid deur te bring, Sy stem te hoor en Sy bevele te gehoorsaam.

Die slaaf is meer ‘n gewende, as ‘n nemende siel. Saam met Paulus kan hy sê, “Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” Hierdie dienskneg is nie geïnteresseerd in diens vir ‘n beloning of persoonlike wins nie. Sy loon is die heerlikheid en die eer wat hy aan sy Meester gee.

Dit is nie nodig om een of aner diep en geheimsinnige betekenis in die deurboorde oor te soek nie, of in die proses nie. Al wat ons hierin moet sien, is dat ‘n ware slaaf wat verbind is aan lewenslange diens, deur die Here gemerk word op ‘n spesiale manier. Jy kan hom nie miskyk nie – hy dra in sy liggaam die kenmerke van sy Meester.

Wat kenmerk die slaaf in hierdie dag en eeu? Dit is duidelk geopenbaar in die Woord en dit is onmiskenbaar. Dit is die kenmerk van ‘n gebroke, verslae gees wat sug en ween oor die gruwels wat teen sy Here gepleeg word. Dit is die kenmerk van die rooi oog wat bedroef is oor die eer van die Meester wat vertrap word in die heiligdom. Ons Meester deurboor nie die oor met ‘n els nie, maar breek die hart met ‘n hamer. “...En Hy het na die man geroep wat met linne bekleed was, wat die skrywer se inkpot aan sy heupe gehad het. En die HERE sê vir hom: Trek dwarsdeur die stad, dwarsdeur Jerusalem, en maak ’n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word..” (Eségiël 9:3,4).

Nog ‘n kenmerk van hierdie slaaf, is ‘n besnydenis gemaak sonder hande. Dit spreek van ‘n algehele afsondering van die wêreld na Christus toe. Dit beteken dat alle selfgemaakte planne, skema’s en drome laat staan word en die belange en laste van die Here word die belangrikste.

Het jy al enige sulke dienaars gesien – diegene wat gekenmerk word deur ‘n afgesonderde lewe, volkome oorgegee aan die heerlikheid van Christus, wat ween en sug weens die koudheid, die doodsheid, die onbesorgdheid van diegene wat eens Sy dienaars was? Jy kan seker wees daardie soort dienaar het iets in God gevind buiten vryheid – hy het bonatuurlike blydskap en vrede in die Heilige Gees gevind.

Smag jy daarna om die slaaf van ons Here Jesus Christus te word? Sê jou hart vir jou dat daar iets heerliks en bevrydend is as jy net dieper in Christus kan gaan? Begeer jy om meer tyd in Sy teenwoordigheid deur te bring en in Sy diens? Sug en ween jy oor die oppervlakkigheid en lighartigheid wat jy sien in die lewens van Christene rondom jou? Is jy siek vir die losse sedes, die toenemende ongeërdheid onder God se kinders?

Waag jy dit om uit te stap en te sê, “Laat my een wees wat volkome oorgegee is aan die Here! Laat my nie die vryheid van ander veroordeel nie, maar laat my die Here se slaaf wees! Laat my so gevul wees met Hom – so weerspieëlend van wie Hy is – dat wanneer alles in die wêreld in duie stort, mense iemand sal kan sien wat onwrikbaar staan weens intimiteit met Hom.”

Ek het pas begin om die heerlikheid van so ‘n lewe te ontdek. Ek is oortuig dat die grootste blydskap wat ‘n menslike siel kan vind, is in algehele oorgawe aan die heerskappy van Christus. Ons hoef nie bekommerd te wees oor hoe hierdie verbintenis in ons uitwerk op praktiese manier nie. Dit is Sy deel om ons te vertel wat om te doen, hoe en waar om dit te doen. Ons deel is bloot om Hom lief te hê, by Hom te bly, en ons liggame as lewende offers aan te bied vir nou en tot in ewigheid. Hy sal reageer op daardie soort liefde. Hy sal vir ons van Homself gee – Hy sal ons lei, selfs deur die dood.

Ek sien ‘n oorblyfsel opstaan, wat bestaan uit toegewyde slawe wat ‘n toenemende liefde vir die Here Jesus Christus deel. Hulle is nie mistici of fanatici nie – hulle is bloot so vervul met die Here liefhê en dien, dat die dinge van hierdie wêreld hulle bekoring verloor. Hulle weier om “verniet weg te gaan” omdat hulle die heerlikheid gesmaak het wat slegs geken word deur diegene wat leun op die Meester se bors.

Hulle weier om “verniet weg te gaan” omdat hulle iets ontdek het ver buite vryheid – en dit is opstandingslewe in die hemelse Sion. Hull het hulle Meester hoor sê,

“Versamel my gunsgenote vir My, hulle wat my verbond by die offer sluit! En — die hemele verkondig sy geregtigheid, want God staan gereed om te oordeel!” (Psalm 50:5,6). Hoe waar! Die Here sal Sy heiligheid openbaar aan almal wat na Hom gekom het om Sy slawe te wees.

Die beste van alles, is dat in die Meester se huis, in Sy teenwoordigheid, ontdek daardie slaaf skoonheid, heerlike leiding, en rotsfondamente.

“Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel. Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ’n rots” (Psalm 27:4,5).

“Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie. Al beswyk my vlees en my hart — God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid” (Psalm 73:25,26).

“Geplant in die huis van die HERE, sal hulle groei in die voorhowe van onse God. In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte ra, hulle sal vet en groen wees...” (Psalm 92:14,15).

“Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek. Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar. Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet” (Psalm 119:2,17,18).

Download PDF