Genade Heers | World Challenge

Genade Heers

Gary WilkersonSeptember 29, 2014

Ek is daarvan oortuig dat daar reg deur die wêreld ‘n honger is na die betroubare genade van Christus. Die Skrif getuig van hierdie honger. Lukas skryf dat toe Jesus die bergpredikasie gelewer het, het skares van duisendes “wat gekom het om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word; en die wat gekwel was deur onreine geeste, is ook genees” (Lukas 6:18). Hierdie menigtes het gekom omdat hulle ‘n gerug gehoor het van ‘n man van genade wat hulle kon gesond maak.

“En daar was ’n skare van sy dissipels en ’n groot menigte van die volk van die hele Judéa en Jerusalem en die kusstreek van Tirus en Sidon af” (Lukas 6:17). Die lydende massas het nie daardie afstande afgelê omdat hulle ‘n prediker wou hoor wat hulle aangemoedig het om harder te probeer nie. Hulle was afgemat deur moedeloosheid, siekte en wanhoop oor hulle pogings om goddelik te bly.  En dit was nie juis ‘n vergadering van “goeie” mense nie. Baie was heel moontlik op die rand van die lewe, mense wat eenkant toe gestoot was deur hulle gebroke toestand. Wat ookal die geval, deur die wet te gehoorsaam het hulle nie vir hulle lewe gebring nie.

Aan hierdie honger vreemdelinge, het Jesus se reputasie vir genade uitgedraai om waar te wees. Hy het nie net gepreek nie, maar dit gedemonstreer deur hulle almal te genees: “Krag [het] van Hom uitgegaan... en Hy het almal gesond gemaak” (Lukas 6:19). Verbeel jou: Van al daardie duisende, het nie een huistoe gegaan sonder om genees te wees nie. Daar was nie ‘n siekte oor nie. Nie een gebroke lewe is nie aangeraak nie. Ongelooflik, nie een enkele siel teenwoordig was onaangeraak deur die kragtige genade van Jesus Christus nie.

Baie van ons ignoreer Christus se genesende genade in die bergpredikasie en beklemtoon sy saligsprekinge.

Volgens Lukas se weergawe het Jesus dadelik na daardie genesings voortgegaan om sy saligsprekinge aan die mense te bring: “Toe slaan Hy sy oë op oor sy dissipels en sê: Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God.

Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag” (Lukas 6:20-21). Ander weergawes van die evangelie sluit addisionele seëninge in: aan die nederiges (aan hulle behoort die koninkryk van God), sagmoediges (hulle sal die aarde beërwe), aan die wat suiwer van hart is (hulle sal God sien) en aan die barmhartiges (aan hulle sal barmhartigheid bewys word).

As ‘n seun het ek my wandel met Christus gemeet aan hoe goed ek nederigheid, reinheid en barmhartigheid kon demonstreer. As ek myself gevang het dat ek aggressief was, het ek gedink, “Ek het nodig om meer nederig en sagmoedig te wees.” Of as ek seksuele gedagtes gehad het, het ek gewonder, “Hoe sal ek ooit in staat wees om ‘n rein hart te hê?” Soos baie voor my, het ek God se genadige belofte van seëninge omgeskakel in wette wat ek probeer hou het. As ek die saligsprekinge beter “geleef” het, dan sou God dalk sê, “Gary, jy is geseënd.”

Nee! Dit is heeltemal agterstevoor om — en heeltemal teenoorgesteld van Christus se evangelie. Toe Jesus na die skare mense gekyk het, het Hy alreeds die armes van gees gesien, op hulle knieë in nederigheid, gesweepslag deur siekte, uitgeput deur hulle pogings om ‘n goeie lewe te lei. So, wat het Hy gedoen? Hy het seëninge oor hulle uitgespreek! Net soos die Here die skepping in wording gespreek het in ‘n leemte van uiterste duisternis, het Jesus goddelike seëninge gespreek oor die geteisterde sondaars, mense wat deur die lewe neergeslaan was. Hy het hulle verseker, “Julle het in rou en droefheid hiernatoe gekom, maar ek sê vir julle dat julle geseënd is in die oë van God — geseënd in julle huwelike, geseënd in julle arbeid, geseënd in die dieptes van julle siele.”

Dit was ‘n radikale boodskap in hulle ore. Hierdie mense het net die vereistes van die Ou Verbond geken. Hulle het gedink dat hulle verdien om te hoor, “Julle is vervloek! Julle het nie die wet gehou volgens Deutoronómium nie; anders sou julle lewens geseënd gewees het.” Omdat julle die wet verbreek het, het julle ‘n vloek op julleself gebring.” Jesus het hulle die teenoorgestelde vertel: “Voor julle enigiets vir my gedoen het — voor jy gebid het, aanbid of bely het — het Ek jou alreeds geseën!”

Ten spyte van Jesus se duidelike boodskap van genade, dring baie van ons daarop aan om op ‘n wettiese skaal te lewe.

Baie Christene vandag sien hulle lewens soos die skaal van die wet. Aan die een kant, sit al hulle goddelike dade en aan die ander kant is daar ‘n groeiende stapel van sondes en mislukkings. As hulle voel dat hulle lewens meer na die kant van mislukkings kantel, dan voel hulle gedring om meer te bid, om hulle Bybels meer te bestudeer en meer kerk toe te gaan. Tog, die aantal goeie werke kan nie die selfgemaakte skaal van geregtigheid laat balanseer nie.

Onlangs het ek ‘n video gekyk waarin ‘n toneel van ‘n deurry kitskosplek was. Toe die bestuurder sy bestelling gegee het, het die stem aan die ander kant gevra, “Wat nog?”  Omdat die bestuurder skuldig gevoel het, het hy aartappelskyfies by sy bestelling geplaas. Weer het die stem teruggekom, “Wat nog?” Verward het die bestuurder nagereg bygevoeg. Weer het die stem gevra, “Wat nog?” Dit het so aangegaan tot die bestuurder uitgeroep het, “Nee, nee, nee! Geen ‘Wat nog’ nie!”

Dit is ‘n beeld van ons, wanneer ons God se geregtigheid probeer bereik. Hoe meer eie pogings ons probeer, hoe nader kom ons aan die oomblik waarin ons uiteindelik geforseer word om te roep, “Geen meer ‘Wat nog’ nie!” Dit verklaar hoekom so baie Christene totaat uitgeput voel om selfs net aan die gedagte te dink om God te dien. Paulus noem hulle eie pogings “dooie werke” om ‘n rede: Hulle benadering sal nooit geregtigheid of vreugde voortbring nie, maar net moegheid en ellende. Daar is geen lewe daarin nie — net dood — omdat dit nie die evangelie is nie.

Paulus skryf, “Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één” (Romeine 5:17). As die dood jou wandel beheer — as jy die gewig van gedurige aanklagte van sonde dra, as niks wat jy doen ooit goed genoeg is nie — dan luister jy na die stem van die ou Adam-natuur. Daardie ou natuur is die oorsprong van elke vleeslike poging om God tevrede te stel, wat in strydig is met ons identiteit in Christus.

Paulus voeg dan die volgende by: “Veel meer [as Adam se sonde] sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus” (Romeine 5:17). Hoe ontvang ons dus die geregtigheid? “Deur Één, Jesus Christus.” Ons is bestem om oor elke sonde te heers — nie deur ons eie pogings nie, maar deur een man, Jesus. En so dring Christus by ons aan, “Hoekom vat jy nie daardie skaal wat jy vir jouself gemaak het en lê dit neer by die voet van die kruis nie? Ek het jou nooit geroep om My tevrede te stel nie. Ek het jou geroep om een ding te doen: om my gawe van seën te ontvang.

Deur sy gawe, het Christus genade — eerder as ons sondige natuur — laat heers oor ons lewens.

Baie Christene sal dit nie erken nie, maar hulle wil steeds vasklou aan hulle skale. Hoekom? Diep binne-in hulle harte glo hulle dat God se genade te goed is om waar te wees. Hulle dink dit koop vir hulle te veel vryheid — soveel so dat dit hulle sal laat slaplê in hulle goddelike diens en begin sondig. Hulle hou vas aan hulle sin van werke omdat hulle oortuig is dat dit die enigste ding is wat hulle op die pad van geregtigheid sal hou.

Paulus verwag sulke denke, wat eindig in dooie werke. Hy reageer, “Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie — òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is” (Romeine 5:15-17).

Wat is die lering waarna Paulus hier verwys? Dit is dat ons nou aan die genade van Jesus Christus behoort! Dus hou ons nie aan met sondig soos ons tevore gedoen het nie, omdat dit nie langer ons identiteit is nie: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Korinthiërs 5:17). Laastens sê Paulus, “So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet dood deur die liggaam van Christus, om aan ’n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra” (Romeine 7:4).

Die nuwe lewe wat aan ons gegee is — die lewe van Christus self — wek ons op om Hom in vryheid, vrede en vreugde te dien. Losgemaak van uitputtende, verpligte werke, kan ons nou saam met Dawid uitroep, “Here, dit verbly my om u wil te doen!” En ons kan nie anders as om te getuig van Jesus in ‘n wêreld wat honger, desperaat en smagtend na sy genade is nie. In ‘n woord: Genade lewer resultate!

Vriend, jy kan nie die lewe voortbring uit iets wat dood is nie. Net Jesus het die mag om ons ou, dooie mens op te wek tot ‘n nuwe lewe. Daardie tipe genade is onverstaanbaar, so ver bokant ons verstand dat ons dit nooit ten volle in hierdie lewe sal begryp nie. Net so, sal ons dit nooit op ons eie kan bereik nie. Terwyl Paulus skryf, “Want nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is” (1 Korinthiërs 13:12).

Let op die laaste deel: Jy word ten volle geken deur die Here — selfs te midde van jou opgemorste lewe van hartseer en gebrokenheid — en Hy sê jy is geseënd. Jy sien, die nuwe lewe wat jy het, is nie die gevolg van dit wat jy bereik nie, maar van dit wat jy ontvang. So, sal jy jou skale neerlê en in die nuwe lewe wandel wat Jesus jou in genade geskenk het? Jy het niks om na Hom te bring nie, omdat Hy alreeds sy seën oor jou uitgespreek het. Ontvang dit — en gaan doen elke goeie werk wat Hy vir jou voorberei het deur sy genade!

Download PDF