Gesond Word | World Challenge

Gesond Word

Gary WilkersonJuly 15, 2019

My vriend die evangelis Nicky Cruz noem die kerk ‘n Heilige Gees hospitaal. Ek stem volkome saam. Die kerk is en behoort ‘n plek van genesing te wees. In my dekades as ‘n herder, het ek baie mense beraad wat herstel nodig gehad het na lewenslange hartseer.

By verre kom die meeste skade uit gebroke huise. Sommige Christene was seergemaak deur hulle ouers se egskeiding. Sommige was verlaat deur ‘n moeder of ‘n vader. Sommige was mishandel deur ‘n gesinslid. Hulle dra hulle seerkry tot in volwassenheid en soms word ‘n patroon herhaal. Hulle huweliksmaat het hulle geskei, en hulle ly weereens pynlike verwerping; of hulle lewensmaat het hulle mishandel, en hulle het gedink hulle verdien dit.

Hoe hanteer iemand ‘n seerkry wat só diep is? Die meeste mense wat ek beraad, probeer hulle hartseer onderdruk. Hulle laat nooit toe dat hulle emosies na vore kom nie omdat dit te pynlik is om te hanteer. In plaas daarvan, druk hulle deur en begrawe hulle hul pyn in aanbidding of Bybelstudie. Ander stry met verslawings, maar hulle innerlike pyn gaan nooit weg nie.

Jesus belowe niemand ‘n pynlose lewe nie, maar Hy belowe wel dat ons herstel kan word tot oorvloedige lewe. Hoe lyk dít in ‘n seergemaakte, lydende Christen?

Die eerste hekkie vir baie hartseer mense, is die moeilike vraag, “Waarom het God dit laat gebeur?”

Het jy al ooit gewonder hoe lekker dit sou wees om ‘n skande-vrye lewe te hê? Om nie langer geteister te word deur ‘n kringloop van gedagtes wat jou herinner aan al jou seerkry en mislukkings nie? Sou dit nie bevrydend wees om nie heeltyd te wonder, “Wat het ek gedoen dat God toegelaat het dat ek as kind mishandel word? Wat het ek gedoen om my egskeiding te veroorsaak? Waarom het Hy toegelaat dat my seun, my dogter afgedwaal het? Waarom moes ek deur soveel pyn gaan?”

Die boek Rigters bied insig rakende die kwessie van ons pyn. Toe Josua die Israeliete tot oorwinning gelei het in Kanaän, het God toegelaat dat sommige van hulle vyande in die land agterbly. Hoekom sou Hy dit doen?

God het verduidelik waarom: “Ek [sal] ook verder geeneen van die nasies wat Josua by sy dood laat oorbly het, voor hulle uit verdrywe nie — om Israel deur hulle op die proef te stel, of hulle die weg van die HERE sal hou deur daarin te wandel soos hulle vaders dit gehou het, of nie. Daarom het die HERE daardie nasies laat oorbly sonder om hulle dadelik te verdrywe” (Rigters 2:21-23). Die volgende hoofstuk herhaal dit: “Hulle was dan daar om deur hulle Israel op die proef te stel; om te weet of hulle na die gebooie van die HERE wat Hy hulle vaders deur Moses beveel het, sou luister” (3:4).

God het Israel se vyande daar gelos sodat die Israeliete getoets kon word. Sommige mag dit lees en dink, “Sjoe, God het nie baie geloof in Israel gehad nie. Dit is amper om hulle vir mislukking op te stel.” As ek hierdie gedeeltes lees, interpreteer ek dit nie so nie. God het hier duidelik ‘n ander plan gehad.

Ons almal ken mense wat van ‘n uitdaging hou. Hier waar ek in Colorado woon, is daar baie mense wat rotsklim of driekamp- of ystermankompetisies doen om een rede: Hulle wil hulle eie krag toets. Hulle wil weet of hulle iets binne-in hulle het wat sal veroorsaak dat hulle die uitdaging sal kan deurstaan.

Ek glo ons Vader gee dieselfde soort toets vir elkeen van sy kinders. Dit is nie omdat Hy wil hê ons moet misluk nie. Sy doel is net die teenoorgestelde: Hy wil hê ons moet die krag wat ons in Christus het, sien en begryp, ‘n krag wat ons nie sou weet ons het nie, tensy daar vyande in die land was.

Die meeste van ons weet nie hoe sterk ons in Christus is nie en ken nie die krag wat Hy in ons plaas om vrygestel te word tot sy eer nie. Johannes sê vir ons, “Omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Johannes 4:4). Ons is ontsaglike gesag gegee deur die Gees wat in ons woon. Ons moet staatmaak op daardie gesag wanneer ons teen ons vyande te staan kom.

Ek sien vier primêre vyande wat seergemaakte Christene teister vandag.

Vyand nommer een is angstige vrees. As jy ‘n moeilike familiegeskiedenis het, is angs moontlik vir jou ‘n daaglikse werklikheid. Dit mag ‘n vryswewende angs wees wat losstaan van enige huidige werklikheid. Jy weet nie waarom jy angstig is nie, maar jy kry jouself dat jy bekommerd is oor dinge wat jy dink moontlik kan gebeur. Skielik, blaas jy dinge wat nog nie bestaan nie uit proporsie uit op.

Byvoorbeeld, jy vind uit jou kind het dagga gerook. Jy begin dink, “Wat as hy vasgevang raak in ‘n kring van verslaafdes? Dit mag lei tot sterker dwelms en meer risiko’s. Wat as hy iets doen wat hom in die tronk laat beland? Mense uit moeilike agtergronde is veral kwesbaar vir sulke gedagtes. Hulle diep seekry kan veroorsaak dat hulle hul verlede op hul toekoms projekteer. Dit is ‘n onbewuste hanteringsmeganisme wat sê, “As ek dink dit sal gebeur, dan sal ek nie daardeur verras word soos toe ek verras was deur my ouers se egskeiding nie.”

Vir enige seergemaakte broer of suster wat hier lees, die Bybel praat van een gebod meer as enige ander: “Moenie vrees nie.” Waarom sou God dit meer sê as “Moenie sondig nie” of “Wees lief vir mekaar”? Dit moet wees omdat God weet ons sal vreesaanjaende gebeure in ons lewens hê, en dat daardie werklikhede kan veroorsaak dat ons terugtrek.

Ons weet reeds ons is bonatuurlike gesag gegee om in die stryd te bly. Jesus stel ons ook gerus met die volgende: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin(Johannes 16:33).

Vyand nommer twee vir baie Christene is ‘n gevoel van verwerping. Daar is geen erger slag vir menslike begeerte as die ervaring van verwerping nie. Dit sê vir ons om nie weer te hoop nie. Ons mag goeie dinge begeer – verhoudings, vriendskappe, ‘n huweliksmaat, ‘n roeping – maar eerder as om moontlike verwerping te beleef, skakel ons begeerte af. Jy kan in werklikheid nie een deel van jou hart afskakel en verwag dat die ander dele nie beïnvloed sal word nie. As jy kies om pyn af te skakel, skakel jy ook die moontlikheid af van liefde ontvang om daardie pyn te genees. Vriend, ons hoop lê nie in ons vorige ervarings nie, maar in die toekoms wat Jesus vir ons gereed gemaak het. “Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting” (Psalm 62:5).

Vyand nommer drie is eensame afsondering. Ons diep seerkry kan ons in die versoeking bring om van gemeenskap te onttrek, tog is dit waar die meeste genesing plaasvind.

Dink aan die magtige parings wat God bestem het: Adam en Eva, Abraham en Sara, Moses en die ouderlinge, Dawid en Jónatan. In soveel gevalle van groot nood, was daar gemeenskappe – selfs net twee mense – wat bymekaargekom het om mekaar se geloof te versterk. Ek kan my die lewe nie indink nie sonder my bemoedigende vrou, Kelly, wat in elke beproewing vir my sê, “Moenie vlug nie, Gary. Bly in hierdie stryd! Jy word getoets, maar jy is bestem om oorwinning te hê.”

Wanneer jy jou beproewing beleef, sal jy dit alleen doen? Of sal jy jouself oopmaak vir die liefde wat God vir jou voorsien het in gemeenskap?

Ons laaste “vyand in die land” is algemeen by baie Christene wat ek beraad.

Vyand nommer vier is selfveragting of selfhaat. Dikwels, wanneer ons mense beraad, begin ons met die seer, die verwerping, die skande. Amper altyd, is die kernprobleem dat die persoon hulleself kwalik neem vir hulle seerkry. ‘n Man sou vir my sê, “My ma het my gewoonlik rond en bont geklap. Ek moes haar seker uitgelok het om dit te doen.” ‘n Vrou sou vir my sê, “My man het my verlaat. Ek moes seker ‘n slegte vrou gewees het.”

Dit is anders as ‘n skande wat sê, “Ek is verkeerd.” Hierdie skande sê, “Ek is sleg.” Dit sê vir iemand dat hulle wese verdorwe is. Daarom probeer hulle hulself herontwerp deur ‘n ander persoonlikheid te konstrueer wat ander aanvaarbaar sal vind.

Ons is ‘n bron van gesag gegee oor alle valse skande. Dit is die Here se onvoorwaardelike liefde. “Die liefde is lankmoedig en vriendelik...reken die kwaad nie toe nie...Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles” (1 Korinthiërs 13:4-7).  Ek stel voor dat elke seergemaakte persoon hierdie onvoorwaardelike liefde op hulleself toepas. Dit beskryf immers God se liefde vir jou. Niemand wat hulleself liefhet op die manier wat God hulle liefhet, het eksterne bekragtiging nodig nie, omdat hulle dit reeds het van die Een wat binne-in hulle leef. Hulle hoef nie ‘n valse self te konstrueer nie omdat hulle ware self gevier word deur hulle Skepper en Redder.

Hou op toelaat om vir jouself te sê, “Ek is ‘n mislukking, ‘n verloorder!” Onvoorwaardelike liefde openbaar die waarheid: “Jy groei. Jy word gestrek. Hierdie uitdaging roep jou tot nuwe hoogtes omdat die barmhartige, genadige, genesende fondament wat Jesus onder jou gestel het solied is.”

Bly in die stryd, bly in gemeenskap en kry sy oorvloedige lewe wat jou dag na dag vul. Daar mag vyande wees in die land om jou te toets, maar jou Vader het krag binne-in jou geplaas om hulle almal te oorwin. Hy roep jou om daardie krag vir jou genesing en tot sy eer te ontbied. Amen.

Download PDF