Glo die Liefde van God | World Challenge

Glo die Liefde van God

David WilkersonJanuary 4, 1993

Die afgelope weke het die Heilige Gees my gelei om te bid vir ‘n groter begrip van God se liefde vir my. Nadat ek 1 Johannes 4:16 gelees het, het ek besef hoe min ek daarvan weet om in God se liefde te leef en te wandel: “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde en hy wat in die liefde bly, bly in God en God in hom.”

Ek glo die meeste Christene weet slegs teologies van God se liefde vir hulle. Hulle het die Skrifverse oor liefde geleer en het dit gehoor verkondig word – en tog is hulle begrip beperk tot ‘n reël uit die kinders se koortjie: “Jesus min my salig lot, ek weet dit uit die Woord van God...”

Ons sê ons glo God het ons, die wêreld en die verlorenes lief. Maar dit is ‘n abstrakte geloof! Min Christene kan met gesag sê, “Ja, ek wéét Jesus het my lief – omdat ek ‘n begrip het van wat Sy liefde is. Ek het dit verstaan – ek leef daarin. Dit is die fondament van my daaglikse lewe.”

Die daaglikse lewe van ‘n groot deel van Christene is egter nie een van wandel in glo in God se liefde nie. In plaas daarvan, leef hulle onder ‘n wolk van skuld, vrees en veroordeling. Hulle was nog nooit regtig vry nie – hulle het nog nooit gerus in God se liefde vir hulle nie. Hulle mag in staat wees om in die kerk te sit, hulle hande op te hef en te juig – maar hulle dra ‘n geheime bagasie met hulle saam te alle tye. Daar was nog nooit ‘n tyd waarop hulle heeltemal vry kon wees van ‘n knaende gevoel van nooit regtig die Here behaag nie. Hulle sê vir hullself, “Iets ontbreek in my – ek weeg nie op nie. Iets is verkeerd!”

Luister na Paulus se woorde: “Wandel in liefde, soos Christus ons liefgehad het” (Efésiërs 5:2). Die apostel het die Efésiërs aangemoedig, “Jesus het julle waarlik lief – so wandel soos iemand wat God baie liefhet!”

Ek het die belydenis van talle “ouer” Christene gehoor – mense wat met die Here gewandel het vir dertig of veertig jaar – wat bely dat hulle nog nooit die blydskap beleef het om deur God liefgehê te word nie. Hulle lyk uiterlik gelukkig en tevrede – maar van binne, gaan hulle sleepvoetend voort en dra altyd swaar laste van twyfel en vrees rond. Ek glo hierdie broers en susters het eenvoudig nog nooit diep in hulle harte die liefde wat God vir hulle het, verstaan nie. Hulle het nog nooit die vrede, wat na die hart gebring word wanneer ons God ken, beleef nie!

Jy sal nooit ‘n openbaring van God se liefde najaag, totdat jy siek en sat word om saam met vrees, skuld, veroordeling en verwarring te leef nie!

Jy moet eendag wakker word en vir jouself sê, “Dit is nie goed genoeg om so te leef nie! Ek kan nie voortgaan om God te dien met hierdie gevoel van toorn oor my, terwyl ek altyd veroordeeld en onwaardig voel nie. As ek Jesus liefhet en glo my sondes is vergewe, waarom is ek so swaarmoedig?”

God het jou in werklikheid nie gered om jou toe te laat om in skuld en veroordeling te leef nie. Jesus het gesê: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Johannes 5:24).

Een betekenis van die woord “veroordeling” hier is “toorn.” Jesus sê jy sal nie onder Sy oordeel kom nie – dat jy op die Oordeelsdag vry sal wees van Sy toorn. Maar veroordeling beteken ook “die gevoel van om nie op te weeg teenoor standaarde nie.” En Jesus sê die gelowige sal nie die gevoel kry van nooit goed genoeg wees nie!

“Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Romeine 8:1). Alle skuld en veroordeling is duidelik van die duiwel. En Paulus het gewaarsku van “in dieselfde oordeel van die duiwel val” (1 Timótheüs 3:6). Hy sê in wese, dat wanneer jy in veroordeling val, het jy van die genade verval – weg van die sekuriteit wat God ons bied deur die bloed van Sy eie Seun.

Geliefde, die Heilige Gees oortuig ons, maar Hy veroordeel nooit nie. Sy bediening is om van sonde te oortuig. Maar Hy doen dit slegs om te genees – om mans en vroue by ‘n plek van vrede en rus in Christus te bring. En Hy doen dit verlossend, nie met toorn nie.

“Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree” (Romeine 8:34). Die Here sê in wese, “Wie veroordeel jou? Waarom loop jy rond onder veroordeling, wanneer jou Verlosser nóú voor My is en jou saak bepleit?”

Die enigste veroordeling wat oorbly is oor diegene wat die lig van die evangelie weier: “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos” (Johannes 3:19).

As jy lief is daarvoor dat die Woord van God kom en alles in jou hart openbaar, dan is jy nie langer veroordeel nie. Veroordeling bly slegs vir diegene wat sonde wegsteek en duisternis liefhet! Jy het die lig lief, het jy nie? So, waarom veroordeling toelaat?

Miskien word jy egter aangeval deur ‘n versoeking wat jy nie kan afskud nie. Of miskien dra jy ‘n gevoel van nie goed genoeg wees nie, of onwaardigheid rond – ‘n vrees dat die duiwel jou gaan pootjie en dat jy God gaan teleurstel.

Vandag is die dag vir jou om wakker te word vir God se liefde vir jou! Ek bid dat terwyl jy hierdie boodskap lees, iets diep in jou hart sal tref en dat jy in staat sal wees om te sê, “Jy is reg, Broer Dave – dit is ek, ek wil nie op hierdie manier lewe nie!

Christene wat in skuldgevoelens, vrees en veroordeling leef, is nie “gewortel en gegrondves” in die liefde van God nie:

“Sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrondves is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (Efésiërs 3:17-19).

“Gewortel en gegrondves” beteken hier “om onder jou ‘n diep en stabiele fondament op te bou van die kennis en begrip van die liefde van God vir jou.” Met ander woorde, die kennis van God se liefde vir jou is die fundamentele waarheid waarop alle ander waarhede moet bou!

Byvoorbeeld, dit is waarop die vrees van God gebou word. ‘n Heilige vrees van God is nie ‘n vrees dat Hy gereed is om jou neer te slaan wanneer jy betrap word met een of ander klein foutjie nie. Dit is eerder die vrees van Sy heiligheid teen wederstrewigheid – en van wat Hy doen aan diegene wat duisternis liefhet in plaas van lig!

Ons hemelse Vader het Sy Seun gestuur om te sterf vir ons sondes en swakhede. En sonder om daardie soort liefde vir jou te ken of ten volle te verstaan, sal jy nooit ‘n stabiele of ‘n permanente fondament hê nie!

“En julle in staat kan wees om...ten volle te begryp...die liefde van Christus.” Die Griekse woord vir “begryp” dui hier op “om ywerig vas te gryp.” Paulus bedoel dat jy hierdie waarheid moet vasgryp en dit die fondament van jou Christelike lewe maak. Hy sê in wese, “Steek jou geestelike hande uit en sê, ‘Ek gaan dit in besit neem!’”

Laat my met jou drie dinge deel wat die Heilge Gees besig is om my te leer oor die liefde van God vir ons. Ek bid dat julle Sy waarheid sal vasgryp – dat dit jou oë en ore sal oopmaak om jou te help om ‘n hele nuwe gebied van blydskap en vrede in jou daaglikse wandel met Hom te betree:

1. Die liefde van God het te doen met Sy skatte in die hemel!

Jy kan nie God se voorsiening skei van sy liefde nie. Sy liefde vir ons het te doen met die oorvloedige rykdom wat in die hemel vir ons opgelê is vir ons gebruik. Hy het vir ons voorsorg getref vir elke krisis in ons lewe – om ons te help om oorwinnend te lewe te alle tye!

Weke lank het ek gebid, “Here, ek wil U hart ken. Ek kan nie ‘n openbaring kry van U liefde vir my uit enige van die boeke in my biblioteek, of selfs van die heiligste man wat ooit gelewe het nie. Dit kan slegs van U af kom. Ek wil my eie openbaring hê van U liefde – direk uit U hart uit! Ek wil dit so duidelik sien, dat dit die manier waarop ek met U wandel en die manier waarop ek bedien, sal verander.”

Terwyl ek gebid het, het ek nie geweet wat om te verwag nie. Sou ‘n openbaring van Sy liefde in my siel instroom soos ‘n vloed van heerlikheid? Sou dit verskyn soos een of ander groot insig wat my uitasem sou laat, of as ‘n manifestasie van Sy nabyheid? Sou dit ‘n gevoel wees van baie spesiaal wees vir Hom – of ‘n aanraking van Sy hand op my, so werklik dat dit my vir altyd sal verander?

Nee – God het met my gepraat deur ‘n baie eenvoudige versie: “Want so lief het God... gehad...dat Hy...gegee het” (Johannes 3:16). Sy liefde is verbind aan Sy rykdom in heerlikheid – Sy oorvloedige voorsiening vir ons!

Die Bybel sê ons liefde vir die Here word gewys in ons gehoorsaamheid aan Hom. Maar Sy liefde word gestaaf op ‘n ander manier – deur dit wat Hy gee! Jy kan Hom nie ken as ‘n liefdevolle God totdat jy Hom sien as ‘n vrygewige God nie. God het ons so liefgehad, Hy het in Sy Seun Jesus al die skatte, heerlikheid en oorvloed van die Vader belê – en Hy het Hom vir ons gegee! Christus is God se gawe aan ons, in Wie alles is wat ons nodig het om oorwinnaars te wees.

“Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon” (Kolossense 1:19). “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom” (Kolossense 2:9-10). Met ander woorde, “In Hom het julle alle voorsiening – alles wat julle nodig het!”

Die probleem is dat baie min Christene dit toeëien wat God vrylik aan hulle bied. Ons jaag dit nie na of neem dit in besit nie – en die skatte van Christus lê onopgeëis in heerlikheid!

Wat ‘n skok gaan ons hê wanneer ons in die hemel kom! Dan, sal God al die rykdom wat Sy liefde vir ons voorsien het, wys, en hoe ons dit nie gebruik het nie.

Ons sien ‘n voorbeeld hiervan in die gelykenis van die Verlore Seun. Hierdie storie openbaar God se liefde op ‘n deurslaggewende manier – en dit bewys dat Sy liefde vir ons te doen het met Sy oorvloedige rykdom en voorsiening!

2. God se liefde dring daarop aan dat ons by die einde van al ons menslike hulpbronne kom en Sy oorvloedige skatte opeis en toeëien!

 

Dit is waaroor die gelykenis van die Verlore Seun handel. Dit is die storie van twee seuns – een wat aan die einde van sy eie hulpbronne kom en een wat nie sy vader se hulpbronne wou opeis nie.

Die jonger seun het na sy vader gekom en gesê, “Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom” (Lukas 15:12). Die goed wat hy ontvang het – en toe verkwis het – verteenwoordig sy eie belange: sy talente, vermoëns, en al die dinge wat hy gebruik het om die lewe en al sy probleme te trotseer. Hy het gesê, “Ek het verstand, goeie vernuf en ‘n goeie agtergrond. Ek kan uitgaan en dit op my eie doen!”

Daardie gesindheid beskryf talle Christene vandag. Maar, wanneer dinge moeilik raak, kom ons tog do gou aan die einde van ons eie bronne! Hoe gou verkwis ons alles wat ons in ons het! Ons kan ons weg uit sekere probleme uitwerk en innerlike krag vind vir sommige van ons beproewinge. Maar daar kom ‘n tyd wanneer hongersnood die siel tref!

Jy kom aan die einde van jouself, en jy weet nie watter kan toe nie. Jou vriende kan jou nie help nie. Jy word leeg, hartseer, met niks binne-in jou om van te put nie. Jy is moeg – al jou veglus is weg! Al wat oor is, is vrees, depressie, leegheid en hopeloosheid.

Vertoef jy steeds in die duiwel se varkhok, rol jy rond in leegheid, sterf jy van honger? Dit is wat gebeur het met die Verlore Seun. Daar was niks in hom oor om van te put nie! Hy het al sy eie bronne uitgeput. En hy het besef waar al sy selfvertroue hom gebring het. Maar wat was dit wat hom uiteindelik wakker gemaak het? Wanneer het hy tot homself gekom? Dit was toe hy onthou het van al die oorvloed voorsiening in sy vader se huis!

Hy het gesê, “Ek vergaan van die honger hier. Maar in my vader se huis is daar oorvloed van brood!” (sien Lukas 15:17). Hy het besluit om terug te gaan en sy vader se oorvloedige voorsiening toe te eien!

Die hart van God se liefde word gevind in die Vader se uitnodiging om te kom en ‘n feesmaal van sy voorsiening te geniet!

Daar is nie een woord in hierdie gelykenis wat wys dat die seun teruggekom het weens sy vader se liefde vir hom nie. Dit is waar, hy was berouvol – hy het op sy knieë geval en geroep, “Vader, ek is jammer! Ek het teen u en teen God gesondig. Ek is nie eens waardig om u huis binne te kom nie.” Maar hy het nooit gesê, “Vader, ek kom terug omdat ek u liefhet!” nie.

Liewer, wat hier geopenbaar word, is dat God se liefde vir ons sonder voorwaardes is; dit hang nie daarvan af dat ons Hom moet liefhê nie. Hy het ons in der waarheid liefgehad toe ons ver van Hom af was in ons harte, steeds sondaars. Dit is onvoorwaardelike liefde!

Toe die Verlore Seun teruggekom het, het sy vader nie deur ‘n lys van sy seun se sondes gegaan nie. Hy het nie gesê, “Waar was jy? Hoeveel hoere het jy mee geslaap? Hoeveel geld is in jou sak? Ek wil rekenskap hê!” nie.

Nee – in plaas daarvan, het hy op sy seun se nek geval en hom gesoen. Hy het vir die dienaars gesê, “Slag die vetgemaakte kalf! Trek vir hom ‘n nuwe kleed aan, sit ‘n ring aan sy vinger en nuwe skoene aan sy voete. Laat ons feesvier – laat ons jubel en bly wees!”

Waar is die openbaring van die Vader se liefde in hierdie beeld? Is dit in sy geredelike vergifnis? Sy toegeneë soen? Die vetgemaakte kalf? Die kleed, ring en nuwe skoene?

Al hierdie dinge is inderdaad uitdrukkings van Sy liefde – maar nie een hiervan is die kern daarvan nie! “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening van ons sondes” (1 Johannes 4:10). “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19).

Die volle openbaring van liefde het gekom toe die vader nie ware blydskap kon hê, voordat hy geweet het sy seun was saam met hom in die banketsaal nie!

“Hy het my in die wynhuis [banketsaal] ingebring, en sy vaandel oor my was die liefde” (Hooglied van Salomo 2:4). Die vader se blydskap kon nie volbring wees totdat hy langs sy seun in die banketsaal gesit het nie, en hy seker gemaak het dat die seun geweet het hy was vergewe en sy sonde uitgewis. Hulle moes by die tafel sit – en die Lam eet!

As jy deur die venster sou kyk op daardie oomblik, sou jy ‘n jongman gesien het wat pas tot ‘n ware openbaring van God se liefde gekom het: Hy het gedans! Daar was musiek en hy het gelag en was gelukkig. Sy vader was bly oor hom, het vir hom geglimlag!

Hy was nie onder ‘n wolk van vrees nie. Hy het nie na die ou leuens geluister nie: “Jy gaan reguit terug na daardie varkhok! Jy is sulke liefde nie waardig nie...” Nee, hy het sy vergifnis aanvaar – en het sy vader se woord gehoorsaam om in te kom en vir homself alles te neem wat hy nodig het.

Hy het sy vader vir hom hoor fluister, “Alles wat ek het, is joune. Dit is nie nodig om ooit weer honger te wees nie. Jy hoef nooit weer eensaam, ‘n boemelaar, of afgesny van my stoorkamer te wees nie.

Geliefde, hier is die volheid van God se liefde, die ware hart daarvan! Dit is dat selfs in ons donkerste tye, omhels en bring God ons nie net terug nie – maar Hy sê ook: “Bring die vetgemaakte kalf, en laat ons eet en bly wees! In My banketsaal is daar ‘n fees van oorvloed vir My geliefdes!”

Vandag het ons egter ‘n beter belofte: “En die liefde van Christus te ken, wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God. En aan Hom wat mag het te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Efésiërs 3:19-20).

Hier is God se liefde aan ons: “Ek bied jou buitengewone, oorvloedige volheid – voorsiening vir elke krisis, blydskap dwarsdeur jou hele lewe. Jy mag na die stoorkamer gaan en dit alles opeis!”

Die ouer seun was buite in die veld, hard aan die werk om sy pa se sake te doen, toe hy skielik musiek, gelag en gedans hoor. Toe hy naby die huis kom, het hy ontdek dit was alles ‘n feesmaal vir sy weerspannige broer – die een wat sy vader se goed op hoere en ‘n losbandige lewe deurgebring het!

Terwyl die ouer seun deur die venster gekyk het, het hy gesien hoe sy vader vol blydskap juig oor die jonger broer. Hy kon nie verstaan hoe sy niksnut broer so vry, gelukkig en geseën kon wees binne so ‘n kort tyd nie! Die Skrif sê van hom, “En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie” (Lukas 15:28).

Uiteindelik het die vader uitgekom en by hom aangedring om binne te kom. Maar die ouer seun het gesê, “Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit ‘n bokkie gegee, sodat ek saam met  vriende vrolik kon wees nie” (Lukas 15:29). Hy het in wese gesê, “Dit is nie reg nie! Al hierdie baie jare het ek u goed gedien. Ek was nooit ongehoorsaam aan u nie.”

O, hoeveel van ons kan onsself met die ouer broer vereenselwig! Ons bring jare deur en probeer so hart om ons Here te behaag, terwyl ons vasberade leef om altyd reg te doen. Dit beskryf my beslis – want ek word dikwels aan die buitekant gevang waar ek na binne kyk!

Jy sien, ek ken die Here my hele lewe lank. Ek was nooit in die wêreld nie. Ek het nooit ‘n sigaret gerook, nooit ‘n dwelm aangeraak en nooit in owerspel geleef nie. Ek het hard gewerk om vir die Here te leef.

Dan, soms, sal ek ‘n bekeerling sien huistoe kom na Jesus toe, een wat in sonde geleef het. En wanneer hy teruggekom, het hy skielik gedans en gejubel – gelukkig en sorgeloos! Hy het na Christus gekom met eenvoudige geloof, en hy het nie langer enige skuld, veroordeling of herinnering van die verlede gehad nie. Alles was vir hom nuut! Dit het gelyk of God vir hom geglimlag het.

Ek het egter teruggesit en gedink, “Hy sing en juig sekerlik nou – maar is hy regtig heilig? Ek het ‘n prys betaal vir my plek by God – ek het Hom jarelank gedien. En tog het ek laste, sorge. Soms voel ek skuld, verwarring. En hier kom hierdie een in, en hy dans! Hy loop in en steek my verby met eenvoudige geloof in God se Woord. Here, dit is nie reg nie! Hy is so vry – en my lewe is so ingewikkeld!”

Die ouer seun het in al sy jare van diens, nooit ware blydskap geken nie – omdat hy nooit sy vader se uitnodiging benut het om alles wat hy nodig gehad het toe te eien nie!

Ek glo die ouer seun het reguit teruggegaan na sy eenvoudige herderstent, terwyl hy gedink het die dag sal kom wanneer hy sy erfenis sal kry: “Wag net. Eendag, nadat die dood sy werk gedoen het, sal ek groot seën ontvang. Ek sal ‘n groot stoorkamer hê!” Dit is die een wat wag om by die hemel te kom voor hy al die goeie dinge van God toeëien.

Sy vader se hart moes gebroke gewees het. Ek glo hy het oor en oor vir hierdie seun gesê: “Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joune” (Lukas 15:31). Met ander woorde, “Jy was by my al hierdie jare, en alles wat ek besit was joune om te vra. Jy weet ek sou jou enigiets gegee het – en tog het jy nie gekom om dit in besit te neem nie!”

Ek vra jou – hoeveel jare is jy nou al daar buite? Jy het ‘n Vader wat ‘n groot skat van voorsiening vir jou weggelê het. En jy het dit onopgeëis gelaat!

Hierdie gelykenis wys vir ons dat deur in te gaan en sy vader se skatte te geniet, het die Verlore seun dit aan beide kante goed gehad. Hy kon sy aardse lewe leef met oorvloed vergifnis, blydskap, vrede en rus wat syne was. En toe dood hom in sy erfenis ingebring het, kon hy ten volle geniet dit wat hy reeds op aarde geken het.

Die groter sonde is inderdaad gepleeg deur die ouer broer – die een wat by die huis gebly, gehoorsaam gewandel en nooit Sy vader teleurgestel het nie. Ja, dit is ‘n sonde om ons Vader se goed op ‘n losbandige lewe en ‘n wegholgees te verkwis; maar dit is selfs ‘n groter sonde om God se groot liefde af te wys – om die oorvloedige hulpbronne wat Hy aan ons gegee het vir so ‘n groot prys onopgeëis te laat!

3. God dring daarop aan dat ons ophou fokus op ons mislukkings en sondes, en in plaas daarvan, fokus op die rykdom wat aan ons gebied word in Christus!

Die wegholseun was nie getugtig, bestraf of herinner aan sy sonde nie – omdat God nie sal toelaat dat sonde die fokus van herstel is nie! Daar was ware berou, bekering en goddelike droefheid. En dit was tyd om verder te gaan na die banketsaal van liefde – na die fees! Die vader het vir die ouer seun gesê, “Hy was verlore, maar nou is hy weer in die huis. Hy is vergewe – en dit is tyd om te jubel en bly te wees!”

Is jy moeg om soos ‘n boemelaar te leef terwyl daar vir jou voorsorg getref is vir  alles wat jy nodig het? Miskien is jou fokus verkeerd. Jy is geneig om by swakhede, versoekings en vorige mislukkings stil te staan. En as jy in jou hart kyk, maak dit wat jy sien jou moedeloos. Jy laat toe dat skuldgevoelens insluip.

Geliefde, jy is veronderstel om te kyk na Jesus, die Leidsman en Voleinder van jou geloof! As Satan kom en een of ander swakheid in jou hart uitwys, het jy die volste reg om jou te antwoord: “My God weet dit reeds alles en Hy het my steeds lief! Hy het vir my alles gegee wat ek nodig het om oorwinning te behaal en dit te behou.”

“Want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles” (1 Johannes 3:20). Hy weet alles van jou af – en Hy het jou steeds lief genoeg om te sê, “Kom in en kry alles wat jy nodig het. Die stoorkamer is oop!”

Die deure na Sy stoorkamer is inderdaad wyd oop, en Sy rykdom is vol en loop oor. God dring by jou aan: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16).

Hier is hoe jy die stoorkamer binnegaan en kry wat jy nodig het:

1. Kom met vrymoedigheid na Sy troon en vra in oorvloed vir al die genade en barmhartigheid wat jy nodig het om jou deur elke versoeking en beproewing te dra. Die duiwel het ‘n miljoen maniere om jou skuldig, vreesbevange, veroordeel en verward te laat voel.

En hy sal vir jou sê, “Jy voel so, omdat jy gemors in jou hart het!” Maar ek het lankal reeds opgehou om in my hart te kyk, want dit is altyd swart. Dit is egter wit vir my Vader – omdat dit bedek is met die bloed van die Lam!

Dit maak nie saak hoe jy voel nie. Kyk bloot na God se Woord wat Jesus gedoen het. Hy het jou skoongewas!

2. Herinner God dat dit Sy idee was vir jou om in te kom. Jy het nie na die Here gegaan en gesê, “Vader, ek wil alles hê wat U het nie!” Nee – dit was Hy wat jou binnegenooi en gesê het, “Alles is joune. Kom haal dit!”

3. Neem God op Sy Woord! Die Bybel sê dat alles wat hy vir ons het, verkry word deur geloof. Jy moet net in geloof sê, “Here Jesus, oorstroom my met U vrede omdat U gesê het dit is myne! Ek kan rus vir my siel opeis.”

Jy kan dit nie opwerk nie. Jy kan dit nie afsing of afprys nie. Nee – dit kom deur gewortel en gegrondves te wees in ‘n openbaring van God se liefde vir jou. Dit kom nie deur ‘n gevoel nie, maar eerder deur die Woord wat Hy self gespreek het: “In My huis is oorvloed van brood!”

4. Neem God se Woord, en slaan al jou vrese, skuldgevoelens en veroordeling in stukke! Verwerp dit alles – dit is nie van God af nie! Jy kan sê, “Laat die duiwel maar kom met sy leuens. My vader weet reeds alles, en Hy het my vergewe en gereinig. Daar is geen skuld of veroordeling teenoor my nie. Ek is vry!”

Liewe heilige, ek glo dat as jy die Gees nou vra om jou te help om hierdie waarheid vas te gryp – om daarin gewortel en gegrondves te word – sal die komende dae die beste wees wat jy ooit gehad het. Jy kan sê, “Here Jesus, ek weet ek gaan foute maak. Maar niks gaan my ontstel nie – omdat U alles het wat ek nodig het om die oorwinning te behaal en daarin te leef.”

Kom in Sy stoorkamer in – en eis alles op wat joune is van jou liefdevolle Vader. Halleluja!

Download PDF