God Het Jou Nie Vergeet Nie | World Challenge

God Het Jou Nie Vergeet Nie

David WilkersonAugust 1, 1979

Daar is ‘n vurige boodskap wat brand in my beendere. Dit is ‘n boodskap wat elke Christen moet hoor, spesifiek in hierdie tyd van oorweldiginde versoekings en ondraaglike pyn.

Hierdie boodskap wat ek van die Here af bring is eenvoudig dit: God het jou nie vergeet nie! Hy weet presies waar jy is, wat jy nou deurgaan en Hy monitor elke tree op jou pad. Maar ons is soos die kinders van Israel wat die daaglikse sorg van God betwyfel het, al is profete gestuur om wonderlike boodskappe uit die Hemel te gee.

God se kinders het in donkerte, honger en dors, biddend vir verlossing en vertroosting gesit. God het elke traan opgevang, Hy het hulle geween gehoor en geantwoord, “Ek sal jou beskerm…Hulle sal nie honger of dors kry nie…want Hy wat Hom oor hulle ontferm het, sal hulle onder sy sorg neem. Hy sal hulle by fonteine langs lei…Die Here het vir sy volk uitkoms gegee, Hy het Hom ontferm oor sy volk wat in nood was….” (Jesaja 49). Het Israel hulle verbly in hierdie beloftes wat direk van die troon van God af gestuur is? Het God se kinders opgehou om hulle te verknies en op God vertrou om hulle deur te dra? Het hulle wat hartseer en verward was een woord van hierdie beloftes geglo? Nee!

 “Sion sê: ‘Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet’” (Jesaja 49:14). Hierdie was nie die verstokte sondaars of seuns van die duiwel nie. Eerder, hulle was diegene wat die Here gesoek het…die seuns van Abraham… hulle wat geregtigheid geken het… in wie se harte die wet van God was…” Hoeveel duideliker moet God sy Woord maak teenoor hierdie weerbarstige, ongelowige kinders? God was baie bekommerd, want hulle het nie sy beloftes toege-eien of gehoor nie. Jy kan amper die ongeduld van die Here aanvoel terwyl Hy hulle ongeloof afkeur. “Ek is die Here, Ek bring uitkoms vir julle. Hoe is dit dan dat jy bang is vir 'n sterflike mens? …Jy vergeet die Here wat jou gemaak het, wat die hemel oopgespan het, wat die aarde se fondamente gelê het. Jy was altyddeur bang vir die woede van die verdrukker, vir hom wat daarop uit was om jou te vernietig, maar waar is die woede van jou verdrukker nou?” (Jesaja 51:12-13).

Ons ignoreer eenvoudig God se beloftes.

Klink dit bekend? Hier is ons vandag as die kinders van dieselfde Heilige God, terwyl ons die glorieryke belofte van die Heilige Gees se vertroosting in ons het; tog vrees ons die verdrukker op ‘n daaglikse basis. Ons weet wat ons Here ons belowe het: leiding, vrede, skuiling teen die storm, ‘n weg waar daar skynbaar nie een is nie, voorsiening in al ons behoeftes en genesing vir al ons hartseer. Glo ons enigsins iets daarvan? Sluit ons net hierdie beloftes uit ons gedagtes uit en gaan ons op ons pad, terwyl ons bekommerd is en onsself verknies en sake in ons eie hande neem? Ek is bevrees dit is so! En ons is almal eenders. Ons word vasgevang in ‘n angsvolle posisie; ons voel alleen en bedruk; ons val in versoeking en gee toe aan ons begeertes; ons maak tragiese foute en leef in skuld en vrees; en deur dit alles kies ons om alles te vergeet wat God aan ons belowe het. Ons vergeet dat ons ‘n God dien wat die fondamente van die aarde daargestel het. Ons vergeet dat ons Vader almagtig is en dat alles wat bestaan deur Hom gemaak is. Ons sien slegs ons probleme. Ons vrees bedek ons visie van Sy krag en glorie. Ons word bang; ons raak paniekerig, ons bevraagteken; ons wantrou.

In ons uur van nood vergeet ons dat God ons in die palm van Sy hand het. In plaas daarvan, soos die kinders van Israel, is ons bang ons gaan alles opmors en die verwoes word deur die vyand. Hoe moeilik moet dit nie wees vir ons liefdevolle Vader om te verstaan hoekom ons Hom nie vertrou wanneer ons platgeslaan en hulp nodig het nie. God dink seker, “Weet hulle nie Ek het hulle name op die palms van My hand gegraveer nie… Ek kan hulle net so min vergeet.  Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie” (Jesaja 49: 15-16).

Die sonde van Christene is ongeloof.

Weer en weer het God na Israel gekom en gepleit vir hulle vertroue en geloof gedurende krisistye. “So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie” (Jesaja 30:15). God sȇ vir hulle, “Julle vra My nie volgens my Woord en bid vir hulp en leiding nie. Julle het nie op My gewag om te help nie. Julle het nie na My teruggekom vir hulp en krag toe julle dit werklik nodig gehad het nie. Julle het nie My raad aanvaar nie; julle het nie vir My gewag om te werk nie; julle het nie gewag vir die kalm woord wat agter julle fluister, ‘Hier is die weg; wandel hierlangs,’ nie. Julle het nie geglo My sterk arm kan julle red nie. Julle het nie My Naam aangeroep om in die skadu van My palm te rus nie. Nee! Julle het sake in eie hande geneem; julle het op ander vertrou; julle het op julle eie gedagtes vertrou. Julle het kaf bedink en het in julle eie vure gebrand.”

Dit wil voorkom of God uiteindelik vir Israel skreeu, “Kyk gerus in die boek van die Here en lees: …Die Here het die bevel gegee en sy Gees laat hulle daar bymekaarkom….Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: “Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier, Hy kom om wraak te neem, om julle vyande te straf; God kom julle red …ellende en smart sal verdwyn!” (Jesaja 34:16, 35:3-10)

Dit lyk vir my dat selfs die Nuwe Testament God se misnoeë met ongeloof weergee. “Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So 'n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:6-8). 

Jesus was bekommerd dat Hy met sy terugkeer na die aarde geen geloof sal vind nie. Hy het pas ‘n boodskap gelewer oor hoe God werklik met sekerheid gebede verhoor. Hy het pas belowe dat die Hemelse Vader gou “aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg sal doen.” Dit moes met ‘n swaar hart gewees het toe Jesus die volgende gesê het: “Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:7-8).

Ons het begin twyfel dat God steeds gebede verhoor.

Kan dit wees dat ons nog voortgaan in ons hartseer – voortgaan in ons sonde – voortgaan om in neerlaag en mislukking te lewe – eenvoudig net omdat ons nie glo dat God ons gebede verhoor nie?

Is ons net so skuldig soos die kinders van Israel deur te dink dat God ons verlaat en ons aan onsself oorgelaat het om ons eie heil uit te werk? Glo ons regtig ons Here het dit bedoel toe Hy gesȇ het dat God net betyds sal optree in antwoord op ons gebede van geloof? Jesus impliseer dat die meeste van ons, al is ons geroep en uitverkies, Hom nie sal vertrou tot Hy weer kom nie. Sommige van God se kinders het al klaar hulle vertroue in Hom verloor. Hulle glo nie in die diepste van hulle siele dat hulle gebede enige verskil maak nie. Hulle tree op asof hulle heeltemal op hulle eie is.

In plaas daarvan om alles aan die Here oor te gee in stille vertroue en rus in Sy beloftes, probeer ons hard om ons eie oplossings te vind. En wanneer ons eie oplossings in ons gesig opblaas, dan word ons kwaad vir God.

‘n Jong geskeide vrou het erken, “Ek het amper vanaand uitgegaan om smoordronk te word. Ek het vir ‘n hele jaar lank gebid dat my man sou terugkom, maar in plaas daarvan om na my toe terug te kom, het hy by ‘n ander vrou gaan bly. God het nie my gebede verhoor nie, so, ek het gedink ek sal uitgaan en my dronk gaan drink om vir Hom te wys hoe kwaad ek is.” Hoe jammer tog! Sy was gereed om dit op God uit te haal, omdat Hy nie haar gebed verhoor het op haar manier en haar tydskedule nie. Net soos so baie ander wat God smeek vir gunste, wou sy net een ding hȇ: verlossing van haar eensaamheid en ontlading van haar seksuele begeertes. Sy wou nie meer van Jesus gehad het nie, nie meer heiligheid en Christelike karakter nie. Nee! Sy wou eenvoudig net ‘n man langs haar gehad het. Ek het oombliklik geweet dat God haar gebede nie kon verhoor nie. Sy was nog nie reg om haar man terug te kry nie. Sy was nog steeds ‘n emosionele gestremde, en sy sou dit ‘n tweede keer opgemors het. Dan sou al wat sy oorgehad het net nog ‘n mislukking wees en haar vertwyfeling en wanhoop sou net soveel meer gewees het. God het haar nie verlaat nie: Hy was eintlik barmhartig teenoor haar. Hy het haar lewe gered, maar sy kon dit nie insien nie.

Wees nou eerlik! Was jou geloof die laaste tyd swak? Het jy amper moed verloor met sekere dinge waaroor jy baie gebid het? Het jy moeg geword om te wag? Het jy jou hande in die lug gegooi en oorgegee asof jy wou sȇ, “Ek voel of ek nie kan deurbreek nie. Ek weet nie wat verkeerd is nie en waarom my gebede nie verhoor word nie. Blykbaar het God vir my nee gesȇ.”

Wat van al die eensame mense in die wȇreld wat uitmekaargeskeur word deur hulle eensaamheid? Die jong ongetroudes wat maande en selfs jare spandeer om te bid vir ‘n liefdevolle maat? Ander sal tevrede wees as die Here hulle gebede beantwoord deur net ‘n vriend te gee. Hulle huil snags. Die telefoon word hulle lewensaar en wanneer dinge ondraaglik word, skakel hulle iemand – enige iemand – net om vir ‘n rukkie te gesels. Beantwoord God nog steeds daardie tipe gebede? Jy weet, die outydse soort gebede waar Christelike meisies steeds bid vir ‘n Christelike man en seuns bid vir ‘n Christelike vrou? Kan God nog steeds deur ‘n wonderwerk vriende en maats stuur in antwoord op hulle gebede en hulle geloof? Ek moet nog steeds glo dat God so werk. Tog weet ek vir ‘n feit, nadat ek onderhoude met honderde eensame jongmense gehad het, dat min van hulle God se beloftes glo.

Wys vir my ‘n eensame en hartseer kind van God wat karakter en groei voor alle ander behoeftes plaas, en ek wys jou een wat sekerlik vervul sal word. In plaas daarvan om in geloof te bid, in plaas daarvan om God se Woord te lees en te groei in krag, in plaas daarvan om hulle toekoms aan Hom op te dra vir bewaring – sal meeste eensame mense tv kyk, gemors tydskrifte lees en geestelik afgestomp word. Hulle geloof is swak omrede hulle geestelik verlam is. Hulle bid slegs met vinnige sarsies. Hulle verval in selfbejammering en in selfveroordeling. Hulle is traag en ongelowig en gereed om te dink dat God hulle tussen die skare uitgekies het om verkeerd behandel te word. God kan nie hulle gebede verhoor nie, want hulle is nie gereed vir vriendskap of ware liefde nie. Hulle sal dit in ‘n kort tydjie opmors, want ongeloof in God lei altyd tot onstabiliteit in menslike verhoudings. Ek sȇ aan alle eensame mense: Gaan terug na jou binnekamer toe! Gaan terug na eenvoudige, kinderlike geloof! Begin om na Jesus te verlang – meer as na ‘n vriend of ‘n maat. God sal, volgens Sy eie Woord, al jou behoeftes vervul.

God help my, of ek gaan dit opmors.

Omtrent oral waar ek vandag gaan, hoor ek Christene en selfs Pastore wat vir my vertel dat daar iets in hulle lewens kortkom. ‘n Pastoor en vriend van my het dit so opgesom, “David ek begin deur te honger na die Here. Ek kry ‘n gebroke gees; Ek huil vir ure. Ek voel asof iets binne-in my uiting soek. Soos ‘n geboorte wat nou moet plaasvind. Ek wil meer van God en meer uit hierdie lewe hȇ. Ek wil heilig wees. Ek wil God ken en tot Hom deurdring. Ek bid dat dit wat ek voel, nie sal verdwyn nie, maar sal aanhou groei totdat ek deurbreek. Maar, dit is so jammer, want binne ‘n paar weke verloor ek my gebroke gees. Ek verval in my ou vrese en droogte in my siel. Ek kom so naby, maar ek gaan nooit die hele pad nie. Dan sȇ ek vir myself – Wat het gebeur?” 

Beskryf bogenoemde dit wat jy deurgaan? Voel jy asof jy net buite die hek is; so naby en op die punt om deur te breek na ‘n lewe van vreugde, geloof, verhoorde gebede en oorwinning? Is daar iets in jou wat jou beskuldig, asof jy nooit genoeg doen om God te behaag nie? Soms dink jy, “Ek doen net mooi niks. Ek kry niks uitgerig nie. Ek groei nie. Ek maak geen ware vordering nie?”

Dit is my mening, dat binne-in elkeen van ons, net onder die oppervlak, daar ‘n afgryslike gedagte is, “O God, help my of ek gaan dit alles opmors.” Ons sȇ dit nooit, maar ons dink dit. “God, ek is so swak, so vatbaar vir my boesemsonde, so onkundig om oor versoeking te seëvier, so verward rakende gebed en hoe om die duiwel te oorwin – Ek is bang ek sal iets doen en alles ruïneer.”

God is nie ‘n goddelike terggees of raaisel nie.

 Wat beteken dit alles wanneer gebed onverhoor bly? Wanneer seerkry bly draal? Wanneer lyding toegelaat word om voort te duur en God skynbaar niks in reaksie op ons geloof doen nie? Dikwels het God ons op daardie stadium meer lief as ooit tevore. Die Woord sȇ: “Die Here tugtig hom wie Hy liefhet.” ‘n Tugtiging van liefde neem voorkeur bo enige daad van geloof, bo enige gebed en bo enige belofte. Wat ek as hartseer in my sien, mag Sy liefde vir my wees. Dit mag sy tere hand wees wat my slae gee om my uit my koppigheid en trots te haal. God mag dalk vir my sȇ, “Ek het belowe om elke behoefte van jou aan te spreek. Ek het vir jou gesȇ dat Ek enigiets vir jou sal doen wat jy met geloof van My vra. Jy moet jou onderwerp aan ‘n seisoen van tugtiging; dit is die enigste manier hoe Ek jou kan verander in ‘n ervare draer van liefde. Jy kan vra om bevry te word, maar dit sal slegs jou geestelike groei vertraag. Deur hierdie lyding sal jy leer om gehoorsaam te wees, as jy jou onderwerp.”

Ons glo in ons geloof. Ons plaas meer klem op die krag van ons gebed as wat ons daarop plaas om Sy krag in ons te kry. Ons probeer God ontleed sodat ons Hom soos ‘n boek kan lees. Ons wil nie verras of verwar word nie. En wanneer dinge in teenstelling gebeur met ons konsep van God, dan sȇ ons, “Dit kan nie God wees nie; dis nie hoe Hy werk nie.”

Ons is so besig om aan God te werk, dat ons vergeet dat Hy besig is om aan ons te probeer werk. Dis waaroor hierdie lewe gaan: God werk aan ons in ‘n poging om ons te herskep tot draers van Sy glorie.  Ons is so besig om te bid om dinge te verander, dat ons baie min tyd het om toe te laat dat gebed ons verander. God het nie gebed en geloof in ons hande gesit asof dit twee geheime voorwerpe is, waardeur ‘n geselekteerde groep van “kenners” leer hoe om iets uit Hom uit te trek nie. God sȇ dat Hy baie meer gewillig is om te gee as wat ons is om te ontvang. Waarom gebruik ons gebed en geloof as “sleutels” of gereedskap om iets oop te sluit wat nog nooit toegesluit was nie? Dit is alles vrylik gegee. Dit is uitgegiet. Dit is ‘n stoorkamer met al die vensters en deure oop, ‘n Vader wat reeds daagliks aan die werk is om ons te oorlaai met Sy voordele. Toe Jesus gesȇ het, “Klop en daar sal vir julle oopgemaak word,” het Hy gepraat van jou deur, nie Syne nie. Breek al jou eie deure af. Jy het geen sleutel nodig om in Sy teenwoordigheid in te kom nie.

Gebed is nie tot God se voordeel nie; dit is tot ons voordeel. Geloof is nie tot Sy voordeel nie, maar tot ons s’n. God is nie ‘n ewige geestelike terggees nie. Hy het nie Homself met raaisels omring vir mense om te ontrafel, asof Hy wil sȇ, “Die wyse sal die prys kry,” nie.

Ons is so verward in hierdie saak van gebed en geloof; en dan het ons die vermetelheid om aan God te dink as ons eie persoonlike “genie” wat elke wens vervul. Ons dink aan geloof as ‘n manier om God in ‘n hoek te druk rakende Sy beloftes. Ons dink God is tevrede met ons pogings om Hom teen die muur te druk en te skree, “Here, U kan nie teruggaan op U belofte nie. Ek wil hȇ wat na my toe moet kom. U is verbind aan U Woord. U moet dit doen of U Woord is nie waar nie.”

Dit is waarom ons die ware rede vir gebed en geloof mis. Ons sien God slegs as die gewer en ons die ontvanger. Maar gebed en geloof is die weg waarlangs ons die gewers aan God word. Dit moet gebruik word, nie as maniere waarop ons dinge van God ontvang nie, maar as ‘n weg om daardie dinge waarmee ons Hom kan behaag aan Hom te gee.

Iets beters as verhoorde gebede.

Wil jy ‘n belofte hȇ of die Beloftemaker? Wil jy antwoorde op jou gebede hȇ of wil jy Hom hȇ wat alle dinge ten goede laat meewerk? Kan jy jou voorstel ‘n vrou wat by haar man bly net vir die voordele wat sy kan kry? Sy geniet die gesag van haar beroemde man en gebruik sy naam vrylik om haar eie posisie te verhoog. Sy geniet al die luukshede wat hy verskaf en heeltyd spandeer sy op sy kredietkaart. Tog neem sy die een wat haar so liefhet as vanselfsprekend. Sy het min tyd om saam met hom deur te bring; sy is net behep met haar eie gerief en plesier. Hoe lank voor die wȇreld weet dat sy haar man gebruik, dat sy nie so geïntereseerd in hom is as wat sy is in wat hy aan haar bied nie? Geliefde bruid van Christus, is dit nie die manier waarop ons ons Meester moet behandel nie? Ons eis die gebruik van Sy kredietkaarte, terwyl ons so min belangstelling in Sy liefde toon.

Al die beloftes word aan ons gegee sodat ons deelgenote van Hom kan word. Hy wil sy goddelike natuur van liefde in ons nietige liggame plaas.

Glo ek al die beloftes is myne? Ja! Glo ek dat God steeds gebede verhoor? Ja! Glo ek dat Hy my sal vertroos, my sal verlos, vir my die dinge sal gee wat ek nodig het om vry en vervuld te wees? Ja! Maar alles wat God in my doen en vir my doen, berus op een ding: Ek moet glo dat Hy my hoor wanneer ek roep, dat Hy elke traan opvang, dat Hy meer gewillig is om te gee as wat ek is om te ontvang, dat Hy baie gretig is om elke gebed, wat sal veroorsaak dat ek meer soos Hy word, sal verhoor, en dat Hy nooit iets wat ek nodig het langer sal weerhou as wat ek sal kan verdra om daarsonder klaar te kom nie.

God het my nie verwerp nie – ook nie vir jou nie! ‘n Duisend maal nee! Hy wil nou hê dat ons almal moet glo dat Hy besig is om alle dinge uit te werk tot ons voordeel. So, hou op om dit te probeer uitpluis; hou op om jou te bekommer; hou op om in die Here te twyfel! Die antwoord kom! God het nie Sy ore toegemaak nie! Jy sal oes – op die regte tyd – as jy nie tou opgooi nie! 

Download PDF