God Se Aanraking | World Challenge

God Se Aanraking

David WilkersonDecember 2, 2002

Daniël het getuig, “En kyk, ‘n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms waggelend laat opstaan” (Daniël 10:10). Die woord die “aanraak” beteken hier “met geweld oorval.” Daniël het eintlik bedoel, “Wanneer God sy hand op my plaas, het dit my op my aangesig laat val. Sy aanraking het my ‘n dringendheid gegee om te bid en om Hom te soek met alles wat binne-in my is.”

Dit gebeur elke keer wanneer God iemand se lewe aanraak. Daardie persoon val op sy knieë. En hy word ‘n man of vrou van gebed, gedring om God te soek.

Ek het dikwels gewonder hoekom Hy net sekere mense aanraak met hierdie dringendheid. Waarom word sekere dienaars honger soekers na Hom, terwyl ander getroue mense hulle eie pad loop? God-aangeraakte dienaars het ‘n intieme verhouding met die Here. Hulle ontvang openbarings vanuit die hemel. En geniet ‘n wandel met die Here wat min ander het.

Ek dink aan Daniël. Hierdie toegewyde dienaar was deur God op ‘n bonatuurlike manier aangeraak. Daar was baie ander goeie, vroom mense wat die Here gesoek het in Daniël se tyd. Dit het Sadrag, Mesag en Abednégo, sowel as Barug, ‘n skrywer van Jerusalem in gesluit. Baie ander Israeliete het ook hulle geloof behou terwyl hulle in Babel in ballingskap was. Sowat 40,000 van hulle sou na Jerusalem terugkeer om die tempel te herbou.

So, waarom het God sy hand op Daniël gelê en hom aangeraak soos wat Hy gedoen het? Hoekom was hierdie een man in staat om dinge te sien en te hoor wat niemand anders kon nie? Hy het verklaar, “En ek, Daniël, alleen het die gesig gesien, maar die manne wat saam my was, het die gesig nie gesien nie” (Daniël 10:7).

Hier is die ongelooflike gesig wat Daniël gesien het: “En op die vier-en-twintigste dag van die eerste maand, tewyl ek op die wal van die groot rivier was....het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek ‘n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud...sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper” (Daniël 10:4-6).

Hierdie gesig was van Christus self, duidelik en aanskoulik. Trouens, dit was dieselfde gesig wat aan Johannes op die Eiland Patmos gegee is (sien Openbaring 1:13-15). Onmiskenbaar het God nou met Daniël gepraat, “soos die gedruis van ‘n menigte” (Daniël 10:6). Dit was nie ‘n gepiep of ‘n gefluister nie, maar die donderende geluid van ‘n brullende rumoer.

Die Here het Homself op hierdie manier aan Daniël geopenbaar vir ‘n spesifieke rede: Hy wou die lang hongersnood van sy Woord beëindig. Hy het besluit dat die tyd gekom het om ‘n boodskap aan die verlore mensdom te bring. En Hy wou hê dat sy diensknegte weet wat Hy op die punt was om te doen en waarom: “Om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val” (Daniël 10:14).

Maar God het ‘n stem nodig gehad om sy boodskap te spreek. Hy wou ‘n biddende dienskneg hê, iemand wat getrou aan sy roeping sou reageer. Daniël was daardie man. Hy het getrou gebid drie keer per dag. En nou, terwyl hy langs die rivier geloop het, het Christus Homself aan hom geopenbaar. Daniël was geruk deur hierdie belewenis.  Hy het gesê, “’n groot skrik het hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg. Toe het ek alleen oorgebly en hierdie groot gesig gesien, en geen krag het in my oorgebly nie... En ek het die geluig van sy woorde gehoor” (Daniël 10:7-9).

Die Skrif identifiseer nie die manne wat saam met Daniël was nie. Hulle kom moontlik Babiloniese wagte of regeringsbeamptes gewees het. Daniël het immers ‘n hoë pos in die koninkryk beklee. In my opinie, was hierdie manne egter Israeliete en spesifiek Daniël se vroom vriende en genote. Tog, as dit so is, waarom het hulle gevlug? Daniël sê hulle het niks gehoor of gesien nie. Waarom was hulle verplig om weg te kruip.

Hier is die rede: God was in die proses om Daniël in besit te neem. Hy was besig om sy dienaar voor te berei in liggaam en siel om ‘n woord vanuit die hemel te ontvang. En dit is altyd ‘n wonderlike gesig. Wanneer God een van sy biddende dienaars aanraak, manifesteer Hy Homself in daardie menslike werktuig. Eerstens, stroop hy hom van alle self en eie-ek en dan neem Hy totaal besit van hom.

Die aanskoue van hierdie proses kan vrees in elke vlees-gebonde Christen inboesem. Dit kan óf veroorsaak dat hulle verborge sondes wegsmelt, óf dit kan hulle dring om die van die toneel af weg te vlug. Ek onthou so ‘n aanraking in my eie lewe verskeie jare gelede, voor ons bediening na New York verskuif het. My vrou, Gwen, en ek het op ons stoep in Texas gesit saam met ander Christen pare. Skielik het God se Gees my gegryp en ek het op my aangesig geval.

Die Here het in my hart begin praat oor verlore siele. Kort daarna het ek gehuil en geprofeteer. Ek het gevoel asof ek in God se teenwoordigheid was, ver verwyderd van hierdie wêreld. Sy Gees het in my beweeg, my geroep, my ‘n visie vir my bediening gegee. Ek het nie geweet hoe lank ek in daardie toestand was nie. Al wat ek weet, is dat ons gaste hulleself gedurende hierdie tyd verskoon en uit die voete gemaak het. Iets omtrent die toneel het hulle weggeskrik.

Ek het dikwels gewonder: Is so ‘n bonatuurlike aanraking van God eenvoudig net ‘n saak van uitverkiesing? Is hulle wat sy aanraking ontvang het, uitverkies voor hulle gebore is? Is dit bloot vir húlle bestem om toegewyd in gebed te wees, gevul te word met die Heilige Gees en woorde van God se troon te ontvang?

Ek het hierdie vrae gevra as gevolg van ‘n onverklaarbare, God-gegewe honger in my siel. My innerlike mens het gesmag na ‘n openbaring van Christus. Iets in my wou doodeenvoudig net nie tevrede wees met ‘n ander persoon se openbaring nie. Hoekom? Ek is oortuig daarvan dat God ‘n spesifieke woord het wat hy aan hierdie generasie wil meedeel. En op hierdie oomblik, deurkruis Hy die aarde op soek na dienaars wat Hy kan invul. Hy wil manne en vroue hê wat sal dien as sy spreekbuis in ‘n verlore wêreld. Slegs sy kragtige, geseënde Woord kan die toenemende gees van Islam en valse evangelies stuit. En net sy waarheid kan die doodskoot gee and eie belang, materialisme en wellus in God kerk.

Hoe vinnig het die wêreld verander. Nadat die Twin Towers in New York geval het, het die kerkbywoning toegeneem. Mense het terug na hulle kerke gestroom vir die eerste keer in jare. Skielik het God weer polulêr geword. Die noem van sy Naam het elke sportgeleenthied, elke regeringsessie en elke openbare byeenkoms gekenmerk. Dit het gelyk of die hele nasie hulle gebede opgesê het en oor God gepraat het.

Vandag, is kerkbywoning egter laer as voor die September 11 ramp. ‘n Onlangse nasionale peiling, het mense aangehaal waar hulle gesê het, “Kerk was so ‘n onaangename belewenis, dat ek nooit weer sal teruggaan nie.” “Daar gebeur niks nie. Dit was nie my tyd werd nie.” “Daar was nie een ding, wat my laat begeer om terug te gaan nie.”

Hoe kan dit wees? Dit het gebeur omdat die kerk sy geestelike gesag verloor het. Die meeste preke wat daardie mense gehoor het, was dood en leweloos. Hulle het die kerk in sy huidige toestand geopenbaar: swak en leeg van die ware karakter van God. Nou het mense ‘n dowe oor gedraai vir die evangelie. Jongmense veral, verwerp die kerk en sê dit is irrelevant. Hulle wil niks te doen hê met ‘n instelling wat ‘n grap in die wêreld se oë is nie.

Maar God is op die punt om dit alles te verander. Selfs nou rig die Here manne en vroue op wat God-aangeraak en Geesvervuld is. Hy gaan hierdie dienaars aan die brand steek met sy waarheid. En sy aanraking op hulle lewens sal veroorsaak dat die hele wêreld notisie neem.

‘n Suiwer woord is op die punt om weereens uit die hemel te kom. Dit sal skynheiligheid en demoniese leuens ontbloot.  Dit sal ontbloot word dat Isam sataniese oorspronge het. En alles wat uit die vlees is — eie belang, materialisme, wellus — sal in die helder lig van God se Woord gebring word. Waarheid wat van sonde oortuig, sal gepreek word uit die monde van ‘n nuwe generasie God-soekers, mense wat hulle harte volkome op Christus gerig het.

1. God het Daniël sy spreekbuis gemaak omdat hy nooit opgehou het om te bid nie.

Die Here raak elke dienaar aan wat getrou in gebed is. Hy soek diegene uit wat gewillig is om hulleself te dissiplineer om sy woord te hoor. Die Bybel noem hierdie gesindheid “die hart gerig.” Daniël het geskryf, “En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy” (Daniël 9:3).

Dan sê Daniël vir ons, “Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig van die Here my God neerwerp...het die man Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, ‘n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer’ (Daniël 9:20-21). Kortliks sê Daniël hier, “God het my aangeraak terwyl ek Hom in intense gebed gesoek het.”

Daniël het dit duidelik gemaak: Hy het nie sy begrip van God se Woord gekry deur onder geleerde manne te studeer nie. Hy het nie sy kennis van toekomstige dinge van Babiloniese institute gekry nie. Niemand kon hom leer hoe om drome, wat bonatuurlik gegee is, te interpreteer nie. Daniël het verklaar, “Terwyl ek nog spreek in gebed... en hy het my onderrig en met my gespreek en gesê, Daniël, nou het ek heengegaan en jou insig gegee” (Daniël 9:21-22).

Eenvoudig gestel, Daniël se gebede het ‘n Woord van God se troon af voortgebring. “Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom... Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val” (Daniël 10:12,14).

Watter tipe gebed het Daniël gebid om aanleiding te gee tot so ‘n besoek? Die Skrif vertel ons dat hy drie weke in totale gebrokenheid deurgebring het: “In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was” (Daniël 10:2-3).

Daniël het een-en-twintig dae gespandeer om homself te verneder, op sy knieë te treur, sy vlees te kasty en sy hart daarop te plaas om goddelike insig te verkry. Hy het nie sy gebedstye met ‘n horlosie dopgehou nie. Hy het oorlog verklaar: “Here, ek sal nie U teenwoordigheid verlaat, totdat ek kan onderskei en weet wat U doen nie. Ek gee nie om wat die koste is wat ek moet betaal nie.”

Huidiglik, het God se mense ‘n woord uit die hemel nodig soos nog nooit tevore nie. Nog nooit in die geskiedenis is so baie menigtes moeg en siek gelaat van dooie, droë preke nie. Die heiliges roep letterlik uit vir ‘n oortuigende, lewensveranderende woord. Maar die oorgrote meerderheid van kansels word beset deur mense met geen geestelike gesag nie. Hierdie biddelose herders word deur die tye verskrik en is nie in staat om begrip en hoop aan vreesbevange gemeentes te bring nie.

Iets anders het met Daniël gebeur terwyl hy gebid het. Hy is tot aan die einde van sy menslike spreekvermoëns gebring. Die Here het nou Daniël se mond aangeraak sodat hy as sy spreekbuis kon optree. Hy het aan sy dienskneg gesê, “Ek het jou tong geheilig. Nou gaan ek deur jou spreek.”

Enigeen wat namens God praat, moet sy tong skoonmaak en reinig. Die Bybel gee vir ons voorbeeld op voorbeeld:

  • Jeremia het geskryf, “Toe het die HERE sy hand uitgestrek en my mond aangeroer; en die HERE het vir my gesê: Hiermee lê Ek my woorde in jou mond. Kyk, Ek stel jou vandag aan oor die nasies...om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant” (Jeremia 1:9-10).
  • Jesaja sê, “Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want ek het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien! Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende koop in sy hand, wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het, en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen” (Jesaja 6:5-7).
  • Daniël getuig, “En kyk, een wat soos ’n mens gelyk het, het my lippe aangeraak. Toe het ek my mond oopgemaak en gespreek... Toe het die een wat soos ‘n mens gelyk het, my weer aangeraak en my versterk” (Daniël 10:16,18).

Hierdie manne se belewenisse is voorbeelde vir ons almal: God soek sulke mense wat tyd sal maak om saam met Hom afgesonder te wees, wat Hom gereeld sal soek en op sy teenwoordigheid sal wag. Soos toegwyde Olimpiese atlete, sal sulde dienaars ure spandeer in hulle dissipline, vir weke of maande op ‘n keer.

Jy mag sê, “Ek kan nie ure per dag bid nie. Ek het verpligtinge net soos elke ander mens.” Laat my daarop wys dat Daniël self ‘n baie besige man was. As ‘n prominente regeringsbeampte het hy ongelooflike eise ten opsigte van sy tyd gehad. Tog het Daniël sy hart daarop gerig om die Here te soek. En hy het daagliks kwaliteit tyd gemaak — trouens drie keer per dag — om te bid. God het hom geantwoord met ‘n verstommende visioen: “En ek, Daniël, was gedaan en was dae lank siek; daarna het ek opgestaan en die werk van die koning gedoen; en ek was verstom oor die gesig, maar niemand het dit gemerk nie” (Daniël 8:2). Selfs in siekte of tydens sy daaglikse doenigheid, het Daniël die Here gesoek.

God soek na dieselfde soort desperaatheid onder sy herders vandag. Hy soek pastore en predikante wat moeg is om bloot preke te preek, wat sukkel om ‘n nuwe boodskap te kry en min impak op die mense het. Hy wil predikers hê wat eerder sal sterf en by Jesus wees as om voort te gaan in droogheid. Hierdie honger bedienaars roep, “O, God, plaas u vuur in my siel. Breek my, smelt my, bring ‘n omwenteling in my lewe. Ek kan nie voortgaan in hierdie huidige roetine nie. Ek het u aanraking nodig. Ek wil dien as ‘n spreekbuis van U, om tot u mense te spreek.” Dit is die hartsgeroep van die dienaar wat God aanraak.

2. Daniël het getreur oor die geestelike agteruitgang in sy gemeenskap en in die kerk.

Daar is baie goddelike mense vandag wat ure in gebed deurbring. Daar is geseënde dienaars wat in geloof met groot oortuiging wandel. Tog treur baie van hulle nie oor die sondes van ons nasie of die doodsheid in God se huis nie. Ek stel nie voor dat Christene treur en met lang gesigte moet rondloop nie. Maar daar is ‘n hartsgesindheid in selfs die mees vreugdevolle gelowige, wat hom laat treur oor die louwarm toestand van die kerk en die morele agteruitgang van die nasie.

Ons sien dit in Daniël se lewe. Daniël was skynbaar een in sy samelewing wat met God se hart getreur het. Op daardie tydstip, het Daniël visioene in die middel van die nag ontvang. Hy was wonderbaarlik uit die leeukuil gered. Die Here het hom geweldig geseën en voorspoedig gemaak. Tog het Daniël die hele tyd nooit die treurige dinge wat God hom oor Israel gewys het, uit sy gedagtes laat gaan nie: “Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik” (Daniël 7:15).

Hier was ‘n man wat met die Here in sy gedagtes gaan slaap het. Sy gedagtes het nie oorgeloop met een of ander besigheidsidee of sensuele beelde nie. Daniël het die Here voortdurend gesoek en gesmeek. En nou was die hemel vir hom oopgemaak, met visioene van die toekoms. Daniël het in ‘n wonderlike, profetiese realm beweeg, omdat hy gekies het om saam met God te treur.

Nou het God aan Daniël sy plan geopenbaar. Hy was op die punt om elke bose ding uit te ruk en neer te werp. Hy sou bose nasies vertrap en vernietig. Die Oordeelsdag was naby en die tyd was besig om uit te loop. Die Koning was aan die kom en die boeke sou gou oopgemaak word. Tog is dit verstommend dat God se mense totaal en al onbewus was daarvan.

Daarom het Daniël begin treur oor die doodsheid en verdorwenheid in God se huis. Hy het getuig, “Hierdie goddelike woorde, hierdie visioene van die toekoms, het my gepla. Dit het my siel aangeraak en het veroorsaak dat ek treur en rou bedryf” (sien Daniël 9).

Ek sien ‘n soortgelyke toneel in God se huis vandag. Predikers en kerke het hulle ore toegedruk vir enige profetiese waarskuwings. Hulle weier om enige negatiewe woorde te hoor of te preek. In hulle gedagtes, is dit tyd om net die lewe te geniet. Tog het baie van hierdie mense eens wonderwerke ervaar. Hulle het hulle verlore geliefdes in die koninkryk in gebid. Hulle het getreur oor die morele verval in die samelewing, en het uitgesien na Christus se koms. Maar nou het hulle hulle eie agenda. Hulle sal nie ‘n greintjie energie spandeer om saam met God te treur oor ‘n sterwende nasie en ‘n louwarm kerk nie. Soos die Skrif sê, “Hulle (het hulle) nie oor die verbreking van Josef bekommer nie” (Amos 6:6).

3. God openbaar sy woord aan die wat weier om sonde te verberg of te herberg.

Daniël het God se aanraking ontvang omdat hy gewillig was om saam met God te treur. Hy het gebid, “Here, wat gaan aan? Ek moet hierdie tye verstaan. Wys my, sodat ek u mense kan waarsku.” Hy het nie omgegee dat hy gespot is nie. Hy was vervul met ‘n ywer om God se hart te ken en sy las te dra. En hy het sy sonde openlik bely.

“En ek het tot die Here my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk“ (Daniël 9:4-5).

Hier is nog ‘n kenmerk van iemand na God se hart: Hy identifiseer homself met die kerk se sondes. Hierdie dienaar het uitgeroep vir heiligheid, in beide homself en in God se mense. ‘n Kerk kan ‘n oproep doen vir gereelde gebedsbyeenkomste, maar sonder reinheid, is gebed heeltemal kragteloos. Die boodskap, wat God aan sy mense wil oordra, moet kom van mense wie se lippe gereinig is.

Ek daag elke predikant of pastoor, elke onderwyser, elke gemeentelid uit: word desperaat vir God se aanraking. Bly in gemeenskap met Hom. Vas met jou gebede. En laat die Heilige Gees jou hart ondersoek. Hy sal elke bose, rebelse, sondige ding binne-in jou uitwys en Hy sal met jou deel oor elke area van ongehoorsaamheid.

Gou sal jy geen meer geveinsdheid of kompromie in jouself toelaat nie. Jou gebede sal verander in gebede om heiligheid. Dan, wanneer jy ook al sonde in God se huis sien, sal jy roep, “O, Here, ons het teen U gesondig.” Dit is hoe jy sal weet dat God jou aangeraak het. Hy het begin om sy goddelike werk in jou te doen deur jou te verander, deur jou opnuut te salf en jou vir groter werk voor te berei.

Laat my ‘n profetiese woord wat God aan my gegee het met jou deel.

Jy het gehoor van die VS Weermag se Spesiale Magte. Dit is ‘n hoogs opgeleide leër-binne-‘n-leer, ‘n elite eenheid van toegewyde soldate. Spesiale Mage bestaan heeltemal uit vrywilligers, vegters wat raakgesien is en deur hulle bevelvoerders uitgeroep is. As hulle gewillig is om aan te sluit, beleef hulle die moeilikste opleiding wat enigeen kan verduur.

Voor die oorlog in Afganistan, het Osama bin Laden gesê dat Amerikaanse soldate swak, lafhartig en nie opgelei was vir oorlog in die berge nie. Hy het voorspel dat die Taliban VS troepe huistoe sou stuur in skaamte, dieselfde manier waarop dit die Russiese weermag verslaan het. Maar bin Laden het nie tred gehou met die Amerikaanse Spesiale Magte nie. Hierdie vreeslose eenheid het Afganistan binnegeval met ‘n skamele 2,000 soldate. Binne dae, het dit die vyand se vestings opgespoor. Skielik het bin Laden se soldate gesidder voor die gesig van hierdie soldate wat nader kom. In ‘n kwessie van weke, was die Taliban oorwin.

Terroriste wêreldwyd bewe van vrees soos die Amerikaanse Spesiale Magte nader kom. Hulle weet selfs ‘n klein eenheid kan ‘n hele nasie omvergooi. VS Spesiale Magte het reeds in die Filippyne, Indonesië en ander lande waar terroriste opgelei word, aangekom. Hulle het terrorisme se mees gevreesde vyand geword.

Ek glo God doen iets soortgelyks in die geestelike realm. Terwyl ek in gebed was, het die Heilige Gees ‘n buitengewone visioen aan my meegedeel: God is besig met ‘n geheime operasie in die hemele. Hy is besig om ‘n weermag-binne-in-‘n-weermag op te rig, en hy soek sy gewone troepe om ‘n elite eenheid van vrywilligers te vorm. Hierdie spesiale magte bestaan uit krygsmanne wat Hy kan aanraak en oprig op teen die vyand te veg. Ons sien ’n voorbeeld daarvan in die Skrif met Saul se spesiale burgermag. Die Bybel vertel ons, “en die helde wie se hart God geroer het, het met hom saamgegaan” (1 Samuel 10:26).

Vandag sluit God se spesiale magte jong, middeljarige en ou mense in. Hulle het opleiding ontvang in hulle geheime gebedskamers. Baie het soveel pyn en lyding verduur dat dit amper meer is as wat ‘n mens kan verdra. En hulle het skoon en rein daaruit gekom. Hulle intimiteit met Jesus deur dit alles het hulle geleer hoe om te veg. Nou weet hulle hoe om op enige geestelike terrein oorlog te maak, of dit nou op die berge of in die valleie is.

Hierdie spesiale magte het baie gevegte met gebed gewen. En nou word hulle in die hel gevrees. Binnekort, sal God se hoogs opgeleide magte oorlog voer teen hierdie bose magte dwarsoor die wêreld, veral in Islamitiese nasies. Ons God het nie miljoen manskap leërs nodig nie. Sy spesiale magte is klein in getal, maar magtig in oorlog. Een biddende, gehoorsame lid van hierdie eenheid kan ‘n duisend vyandige soldate laat weghardloop. Soos God belowe het aan Josua se klein, uitgesoekte leërmag, “Niemand het tot vandag toe voor julle stand gehou nie. Een man uit julle het duisend agtervolg; want die Here julle God, Hy het vir julle gestry soos Hy julle beloof het” (Josua 23:9-10).

Ons oorlogsveld is nie in Afganistan, die Filippyne of Indonesië nie. Die oorlog wat plaasvind is in die kerk. Huidiglik stel God sy spesiale magte in sy huis vry. En hulle wapens is gebed, reinheid, en ‘n woord reguit van sy troon. Hierdie soldate se lippe is aangeraak met die kole van God se altaar. Hulle tonge is gereinig van alle verontreiniging. En hulle is vreesloos om alles wat van die vlees is te ontbloot. Hulle is leeus van gebed, maar lammers in hulle nederigheid. En die woord wat hulle preek is geweldig in waarheid, reinheid en integriteit.

Ek het die preke van baie soldate in hierdie spesiale magte gehoor. Sommige is jonk, omdat hulle Christus gou leer ken het. Hulle preek sy woord onverskrokke, beide in die kerk en aan die ongereddes. Ander soldate is  middeljare predikers wat moeg geraak het vir die kerk se louwarmheid. Die Heilige Gees het hulle met sy vuur aangeraak en hulle operig met nuwe ywer. Nou is hulle gereed om aan ‘n nuwe generasie te wys hoe om te veg. Hierdie mense voer oorlog in hulle binnekamers van gebed en wag op hulle kaptein, Jesus. En hulle kom te voorskyn met ‘n nuwe woord uit die hemel. Hulle spreek liefdevol, maar met gesag. En hulle is nie bang om die mense op hulle sonde te wys nie.

Vir jare nou, het Satan God se mense geterroriseer. Hy het die torings van die groot bedienings afgebreek, welbekende predikers en heilige standaarde. Maar God was nie verras deur dit alles nie. Die hele tyd was God besig om sy spesiale magte op te lei. En Hy is op die punt om hulle in sy kerk te ontplooi. Hierdie elite eenheid het die Ystergordyn in Oos Europa laat verkrummel. Dit het Kommunisme laat val. En huidiglik breek dit die Bamboesgordyn in Asië af.

Sy weermag-binne-in-‘n-weermag is in plek in elke nasie. Hulle aktiwiteite mag vir die oomblik geheim wees, maar gou sal ons sien hoe hulle groot werk in die Naam en in die krag van Christus doen. God se Woord kom uit en die geestelike hongersnood sal ophou. Die Here sal heers. Sy Woord sal alles oorwin!

Download PDF