God se Smart Oor Sy Kinders | World Challenge

God se Smart Oor Sy Kinders

David WilkersonMay 15, 1985

Die uiteinde van die kerk van Jesus Christus is glorieryke oorwinning. Op die ou end, sal die poorte van die hel nooit seëvier teen die ware kerk, wat die onsigbare liggaam is van Jesus Christus op aarde.

Dit is veronderstel ‘n glorieryke kerk te wees, sonder vlek of rimpel, gewas en seker in die bloed van die Lam. Maar enigeen met geestelike onderskeiding kan geredelik sien dat die kerk van Jesus Christus op hierdie huidige oomblik nie seëvierend oor sonde of die vyand is nie. Die hartseer en jammerlike toestand van talle gelowiges is ‘n groot smart vir ons Here.

Satan vertrap miljoene van God se kinders net soos hy wil. Die lewens van miljoene van gelowiges is in algehele wanorde. Ons bediening ontvang weekliks duisende briewe van Christene oral oor die wêreld. Wat my vrou en ek lees, is hartverskeurend, en ons medewerkers ween saam met ons as ons die jammerlike gebedsversoeke lees van menigtes wanhopige Christene wat raadop is. So baie huise en lewens lyk totaal buite beheer, met sommige wat wil ontsnap deur selfmoord.

In een week sal ons hoor van honderde Christen vroue wie se mans hulle verlaat het of in die proses is om dit te doen. Baie van hierdie mans was eens aan die brand vir God, maar nou drink hulle, hulle hoereer met ander vroue en hulle is heeltemal mislei deur die Satan. Daar is Christen vroue wat dit haat om in die oggende wakker te word, en elke nag huil hulle hulleself aan die slaap.

Kinders rebelleer en raak afvallig. Daar is chaos en verwarring in te veel Christelike huise. Ons hoor selfs van bedienaars wie se vrouens hulle verlaat. Daar is so baie eens stralende Christene wat hulle rûe op die Here draai, en die afvalligheid is wydverspreid en word erger. Omdat ongeregtigheid toeneem, koel die liefde van baie af.

Ons bespeur by so baie Christene ‘n sin van hulpeloosheid en wanhoop. Talle verloor hoop en daar is nêrens blydskap of oorwinning in hulle lewens nie. Hulle lyk so verslaan, terneergedruk, weerloos, neerslagtig, moeg en bekommerd. Die manier waarop talle praat, laat dit blyk dat die mure en die poorte afgebreek is, en Satan kan doen wat hy wil sonder teenstand.

Ons lees hierdie duisende hartverskeurende versoeke, en ons word op ons knieë gedryf en uit te roep, “O, God – wat gebeur met u geliefde kinders? Hoe kan die vyand oor hulle loop en hulle skade doen met soveel woede? Waarom word so baie gevange gehou deur vrees en bekommernis? Waarom soveel wanorde onder U dierbare kinders? Waarom staan God se kinders nie op met heilige toorn en roep uit, “Genoeg!” nie.

My smart weerspieël slegs God se groter smart oor die jammerlike toestande in die lewens en huise van die Here se kinders – want dit hoef nie so te wees nie!

God treur oor Sy kinders. Hy was vir veertig jaar bedroef oor Sy volk Israel weens die swaarkry en smart wat hulle oor hulleself gebring het deur ongeloof. “En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie?” (Hebreërs 3:17).

God het belowe om hulle in sy eie arms te dra deur die woeste woestyn. Hy het belowe om hulle gids, hulle bewaarder, hulle beskerming, hulle sterk arm, hulle beskutting teen elke storm, hulle verlosser teen elke vyand en hulle hoë toring van beskerming te wees. Hy het belowe dat geen wapen wat teen hulle gesmee sou word ooit iets sou regkry nie. Hulle was veronderstel om die appel van Sy oog te wees, die blydskap van sy siel, die voorwerp van sy liefdevolle sorg. Hulle vyande sou hulle voetbanke wees; hulle sou altyd meer as oorwinnaars wees.

Sou hulle geglo wat God vir hulle gesê het, sou hulle geglo het sy beloftes was getrou en waar, sou hulle op sy magtige krag gerus het om hulle te red en te verlos, sou hulle onoorwinlik gewees het! Hulle sou nie slagoffers van wanhoop en swaarkry gewees het nie. Hulle kon deur daardie gevaarlike woestyn geloop het goed gevoed, sonder dors, sonder vrees of wanhoop, met elke behoefte aangespreek, met ‘n lied en groot blydskap. Hulle kon ‘n lewe van vrede, rus en oorwinning in ‘n pragtige land van beloftes lewe; en alle geestelike en fisieke behoeftes kon aangespreek gewees het! Dit is wat God vir hulle beplan het! Dit was wat Hy belowe het! Hy wou so graag hê hulle moet triomferend, bly, vredevol en geseënd wees. Hy wou hulle bed opmaak in hulle siekte; Hy wou alles doen om hulle onthalwe om hulle te beskerm en te bewaar as ‘n spesiale volk vir Hom.

Maar ongeloof het dit alles vernietig! Ongeloof het hulle oë verblind vir die weë van God! Hulle het God se heerlike plan misgeloop bloot omdat hulle nie sy beloftes wou glo nie! “En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie” (Hebreërs 3:18,19).

Dit was nie net hulle wellus en onsedelikheid wat al hulle swaarkry en smart oor hulle gebring het nie. God was hulle sondes genadig en die geslagte lam het al die vergifnis wat hulle nodig gehad het, voorsien. Hy het versoening vir die sondes van die vlees beskik.

Dit was hulle blatante ongeloof wat God se hand vasgebind het sodat Hy nie langer kon help of hulle verlos nie. Ongeloof het al hulle vrede en rus gesteel en het God se beloftes nutteloos en kragteloos gemaak om hulle onthalwe.

Die deur na volheid, vreugde en oorwinning was oop; maar ongeloof het hulle daarvan weerhou om in te gaan en dit op te eis. Hulle het God se liefde en sorg vir hulle in twyfel begin trek. Hulle het Sy genade en besorgheid bevraagteken en hulle het hulle na binne gekeer om hulp van die vlees te soek. Dit het hulle by ‘n hartseer toestand van hopeloosheid uitgebring en moeilikheid het van oral op hulle afgekom.

Ons kyk na die jammerlike geskiedenis van Israel in die woestyn en ons sê, wat ‘n vermorsing! Hoe anders kon dit vir hulle gewees het as hulle God bloot geglo het! Hulle hoef nie in sulke vrees en slawerny te geleef het nie! Hulle hoef nie in ongeloof te verval het en sulke moeilikheid oor hulleself gebring het nie! Dit was selftoegedien! Waarom sou hulle nie die goeie weg van geloof en vertroue, die seëvierende weg, God se verkose weg gekies het nie? Waarom moes hulle so ‘n hartseer, verskriklik dood sterf, verslaan, gebroke en hulpeloos?

God treur selfs meer oor hierdie geslag gelowiges omdat ons beter beloftes het en steeds nie wil glo nie! Ons ongeloof is onverskoonbaar!

“Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 4:1,11).

Dink vir ‘n oomblik aan God se smart as Hy sien wat weer gebeur in die lewens van sy kinders! God sê in wese in hierdie gedeeltes, “Dit behoort nou anders te wees! Jy het My belofte om jou na ‘n plek van volmaakte vrede en rus te bring – as jy slegs sal glo! Jy het voor jou oë ‘n voorbeeld van die gevaar van ongeloof! Luister na die tragiese voorbeeld van My volk in die verlede.”

Israel het geen voorbeeld gehad van die destruktiewe krag van ongeloof nie! Hulle kon nie ‘n gedetailleerde, stap-vir-stap verhaal lees van ‘n volk wat alles verloor het deur dwase ongeloof nie. Maar ons kan! Ons het dieselfde beloftes – beloftes van ‘n lewe van volkome en volmaakte rus en verlossing in Hom! Ons dien dieselfde God! Maar selfs meer, ons het nou ‘n hoëpriester in die hemel wat na ons belange omsien. Ons het ‘n beter hoop, gebou op beter beloftes. Ons het ‘n Mens in die hemel wat medelye het, deur persoonlike ervaring, met die gevoelens van ons swaarkry, bekommernisse en behoeftes.

God sê, “Jy het ‘n rede om vas te hou aan jou geloof – ‘n rede wat Israel nie gehad het nie! Jy het ‘n Hoëpriester wat in die hemel ingegaan het – ‘n Priester wat jou uitnooi om met vrymoedigheid in Sy teenwoordigheid in te kom.” “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16).

Wanneer sal daar ooit ‘n volk van God wees wat in sy volmaakte rus ingaan? As óns nie, sal geen geslag ooit nie omdat ons die laaste is!

So dikwels is dit die Here se eie volk wat sy hande vasbind sodat Hy nie kan help en verlos nie. Dit is die ongeloof van sy uitverkorenes wat Sy goddelike krag verhinder. So was dit toe Hy op hierdie aarde in die vlees gewandel het. Hy het na Sy eie land gegaan, onder Sy eie mense, en hulle het aantoot geneem aan Hom. “En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie” (Matthéüs 13:58).

Toe Jesus geween het oor Jerusalem, het hy uitgeroep, “Jerusalem, Jerusalem, Ek wou...maar julle wou nie.” Jesus wou hulle onder Sy vlerke neem en hulle van die naderende storms bewaar, maar hulle het geweier deur hulle ongeloof. Sulke vreeslike blindheid! Hulle was in sulke groot nood, en Hy was daar met alles wat hulle nodig gehad het, en hulle ongeloof kon nie dit raaksien of toeëien nie.

Daar is nie ‘n enkele rede vir gelowiges om te lewe as slagoffers van sulke verskriklike vrees, angs en marteling nie. Wat vandag gebeur in die lewens en huise van Christene is net so sinneloos as die selftoegediende slawerny van die Israeliete. Dit behoort nie so te wees nie – dit hoef nie te wees nie!

In hierdie laaste dae sal diegene wat nie geleer het om op Hom in alles te vertrou nie, verteer word deur hulle vrese en moeilikhede! Hulle sal oorweldig word!

Al die Israeliete wat uit Egipte gekom het, behalwe Josua en Kaleb, het gesterf in die woestyn. Hulle het gesterf buite God se wil, sonder hoop, sonder vrede of blydskap – hulle het alleen en verlate gesterf. En dit hoef nie so te geëindig het nie. Hulle moes verlos en in die land van rus en vrede ingebring gewees het.

Voordat hy gesterf het, het Moses vir hulle gesê waarom hulle so sou sterf. Hy het hulle herinner, “Die HERE julle God...sal vir julle stry... waar...die HERE jou God jou gedra het soos ’n man sy seun dra...Maar ondanks hierdie woord het julle nie geglo in die HERE julle God nie” (Deuteronómium 1:30-32). Moses het gesê, “En toe die HERE die stem van julle woorde hoor, het Hy toornig geword en gesweer en gesê: Waarlik, geeneen van hierdie manne, hierdie verkeerde geslag, sal die goeie land sien...nie...draai om en trek weg na die woestyn...Julle mag nie optrek en veg nie — want Ek is nie in julle midde nie...maar die HERE het na julle stem nie geluister en julle geen gehoor gegee nie” (Deuteronómium 1:34,35,40,42,45). God het vir hulle gesê dit was hulle voortdurende ongeloof wat hulle verdoem het tot so ‘n verskriklike einde.

Dink ons God hoor ons nie wanneer ons kla en wanneer ons Hom in twyfel trek nie? God sê, “Ek het gehoor wat jy gesê het in jou moedeloosheid! Ek het die woorde van jou twyfel en vrese gehoor! Jy het geweier om My te vertrou! Selfs jou gedagtes is vol twyfel!”

O, heiliges van God, let op jou taal in jou tye van toetsing en beproewing! Dit mag wees dat jy werklik die Here liefhet, bid, jy lees Sy Woord. Maar wat van jou gedagtes en woorde teenoor Hom – Hy lees jou gedagtes! God neem dit baie ernstig op, en Hy moet vertrou word. Ongeloof is die grootste smart wat jy Hom kan aandoen.

Glo jy Hom wanneer Sy Woord belowe, “want Hy sal kom soos ’n saamgeperste stroom wat die asem van die HERE aandrywe” (Jesaja 59:19).

Kom die vyand teen jou, jou huis en jou geliefdes? Is daar ‘n stroom van swaarkry en moeilikheid wat op jou afkom? Is jy wanhopig, vrees jy en blameer jy God? Of wend jy jou tot die Here, hou jy aan Hom was in die tyd van swaarkry en nood, rus jy in Sy beloftes om jou deur te dra, en gee jy Hom jou algehele vertroue – maak nie saak hoe sleg dinge lyk nie?

Dit is ‘n groot boosheid in die oë van die Here vir Sy kinders om vertwyfelinge uit te spreek of te dink oor Sy liefde en sorg vir hulle wat aan Hom behoort.

Jesaja het gesê, “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ’n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes” (Jesaja 58:1).

Wat was die groot oortreding? Dit was verstommend dat Jesaja gepraat het met diegene wat, “Wel soek hulle My dag vir dag en het ’n behae in die kennis van my weë! Soos ’n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het ’n behae in die toenadering tot God” (Jesaja 58:2).

Jesaja het ware liefhebbers en soekers van God aangespreek. Hulle was nie goddelose sondaars nie – hulle was die heel beste van God se uitverkorenes – maar hulle was skuldig aan hierdie verskriklike sonde van ongeloof! Hulle het God gedien sonder om te glo dat Hy begaan was oor die besonderhede van hulle lewens. Hulle het gebid tot ‘n God wat hulle nie werklik vertrou het nie. Hulle het na ‘n God gekom wat hulle nie geglo het hulle gebede verhoor of wonderwerke vir hulle gedoen het nie.

Luister na hulle ongeloof! “Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie? — Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en julle jaag al jul arbeiders aan” (Jesaja 58:3).

Laat my verduidelik wat dit beteken, omdat talle mense ernstig getoets word op dieselfde manier. Jy begin die Here soek met jou hele hart. Jy breek al die afgode van self en die vlees af. Jy word honger vir God en begin om te bid en sy aangesig te soek. Jy wil opreg die Here behaag, Hom vertrou en ‘n ware en triomferende lewe leef. Vir ‘n rukkie gaan alles goed. Maar eendag kom die vyand met sy verskriklike leuens om jou te toets! Hy fluister, “Dit help nie om so heilig en rein te wees nie. Niks het regtig verander nie. Daar gebeur geen wonderwerke vir jou nie. Jy probeer so hard, maar tog is jy nie beter as wat jy was nie. Kyk na al die moeilikheid en pyn in jou lewe. God is nie meer aan die werk in jou lewe as toe jy koud was nie. Dit werk nie vir jou nie.”

Die duiwel sal jou tart, “Jy is dieselfde ou mens wat jy altyd was – eensaam, verlate, hartseer, ‘n mat vir ander om oor te loop. God verhoor nie jou gebede nie. Selfs jou gevas kry nie resultate nie. Waarom ontspan jy nie en wees soos al die ander nie? Waarom soveel moeite doen om heilig te wees as jy nie veel resultate sien nie? Waarom die Bybel lees, waarom bid, waarom afgesonder en heilige lewens leef wanneer dit lyk of dinge nie verander nie?”

Wees baie versigtig tydens daardie moeilike tye! Moenie dat gedagtes bly talm in jou verstand dat God nie aan die werk is in jou lewe nie! Moenie ontspan en toegee aan die leuengeeste van vrees en ongeloof nie. Dit is ‘n ernstige sonde teen God om sy belangstelling in jou in twyfel te trek! Gebed verander jou, en dit is belangriker. God is aan die werk en wat Hy doen is verborge vir jou oë – maar elke gebed beweeg Sy liefdevolle hart, en Hy vang steeds al jou trane op.

Nader ons ‘n tyd wanneer slegs diegene wat volkome op God vertrou, sal oorleef? As jy Hom nie in die goeie tye kan vertrou nie – wat sal jy doen wanneer oordeel begin?

Jeremia waarsku, “As jy met voetgangers loop, maak hulle jou moeg: hoe sal jy dan wedywer met die perde? En in ’n land van vrede voel jy jou veilig: hoe sal jy dan maak in die pronkbosse van die Jordaan?” (Jeremia 12:5).

Met ander woorde, “As jy dit nie nóú kan maak deur God te vertrou nie – in hierdie maklike resies, wanneer alles vrede en voorspoed is – hoe sal jy dit ooit maak wanneer die vloedstrome van oordeel inrol? Die grootste gedeelte van God se kinders is nie gereed vir die oordele wat voor die deur is nie. As hulle nie die Here in hierdie goeie tye kan vertrou nie, waar sal hulle geloof kry in die dae van hartseer en verwarring?

Broer, suster, ons is tans in ‘n resies – maar dit is net ‘n stadige voetresies in vergelyking met wat binnekort kom. Ons moet binnekort jaag teen die perde van die apokalips – met oordele wat oral op sondige nasies val. God sê in wese, “As jy My nie in ‘n tyd van vrede kan vertrou nie, waar jy nie vervolg of doodgemaak word vir jou geloof nie, wat sal jy doen wanneer dit gebeur? As jy My nie kan vertrou in tye van veiligheid en relatiewe voorspoed nie, hoe sal jy My vertrou wanneer alles bewe en in duie stort?”

Glo my, kinders van God – ons beleef ‘n Jordaan wat styg, ‘n tyd van oorstromings van oordele en dae van onheil. Diegene wat nie kan sien wat kom nie, is geestelik blind, doof en stom – en hulle geloof sal op die ou einde skipbreuk ly. Die Gees doen ‘n beroep op alle slapende maagde, “Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion” Ons beter begin om ons dierbare Here nou te vertrou in alles, terwyl Hy naby is en gereed is om te verlos.

Ek dink aan al die twyfelende, vreesagtige, wanhopige kinders van God, wat in soveel onrus lewe en ek sê vir myself, “Wat sal gebeur met hierdie arme, dierbare siele wanneer werklike swaarkry kom? Meer swaarkry sal slegs meer twyfel en ongeloof veroorsaak.”

Mag God ons help! Hierdie geneigdheid tot hulpelose twyfel en verlammende ongeloof moet end kry! God se kinders moet ‘n einde maak aan alle twyfel – hulle moet opstaan in heilige en regverdige woede en hardop roep, “Duiwel, ek is ‘n kind van ‘n almagtige, alles-versorgende, hemelse Vader – en jy kan nie langer my in die grond van wanhoop en nederlaag in trap nie! Ek sal my God vertrou! Ek sal bid en glo dat God verhoor!

God blaas sy basuin. Hy doen ‘n middernagoproep. Hy probeer Sy bruid wakker maak! Hy roep ‘n volk uit wat hulleself op Hom sal werp, wat sal glo in Sy reddende, bewarende, verlossende krag!

Moenie na toestande kyk nie! Moenie na bewyse soek nie! Vertrou Hom selfs as jy glad geen sigbare bewyse sien nie. “Geseënd is diegene wat nie gesien het nie, maar glo.” Absolute geloof en vertroue in God sal jou oplig bokant alle en enige beproewing en probleem! Geloof sal verklaar, “Dit mag dalk nie gebeur op die manier wat ek dink dit moet nie. God sal dit dalk nie doen op my manier nie, maar Hy sal doen wat reg is vir my! Hy sal my bewaar! Hy sal my onderhou! Sy teenwoordigheid sal met my wees! Hy sal eendag al my trane afvee! Hy sal getrou wees!

Ons moet liewer begin om al ons bekommernisse op Hom te “werp” – nou! Hy wil elke bekommernis van ons skouers aflig! Hy wil vertrou word met alle behoeftes en probleme. Dit is Sy smart dat so min Hom vertrou, maar dit sal Sy groot blydskap wees om ‘n liggaam van gelowiges te vind wat alle bekommernisse op Hom gewerp het! Gee alles oor aan Hom! Jou huis! Jou kinders! Jou werk! Jou behoeftes! Jou maat! Jou toekoms!

Glo jy Hom wanneer Hy sê, “Ek gee om vir jou”? God moet ween van blydskap wanneer Hy ‘n volk vind wat oor niks bekommerd is nie omdat hulle rus in Sy versorging!

Dawid het gesê, “Welgeluksalig is die man wat die HERE vrees, wat ’n groot welbehae in sy gebooie het. Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die HERE” (Psalm 112:1,7).

Is jou hart reg? Vertrou jy volkome op die Here in alles?

Dan sal geen slegte nuus jou ontstel nie. Jy hoef vir niks bang te wees nie! Laat die ekonomie misluk, laat die banke sluit, laat die geweld woed, laat die wêreld sidder van vrees, laat die waterstofbomme val. My hart is vas – geanker! Ek vertrou die Here! Lewe of dood, ek die die Here s’n.

Diegene wat hulle vertroue in die Here stel, kan met blydskap uitroep, selfs wanneer die strome van oordeel inrol. “Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet. Want U seën die regverdige, o HERE, U omring hom met welbehae soos met ’n skild (Psalm 5:12,13).

Sy Woord roep ons tot ‘n lewe van vertroue.

“Maak u gunsbewyse wonderbaar, o verlosser van die wat by u regterhand skuil vir teëstanders! Bewaar my soos ’n oogappel; verberg my in die skaduwee van u vleuels” (Psalm 17:7,8).

“o, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders! U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig vir die samesweringe van mense; U steek hulle weg in ’n hut vir die twis van die tonge.” (Psalm 31:20,21).

“Die Engel van di HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil! Vrees die HERE, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie” (Psalm 34:8-10).

“U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U” (Jesaja 26:3).

“Die HERE is my sterkte en my skild; op Hom het my hart vertrou, en ek is gehelp; daarom jubel my hart en sal ek Hom loof met my gesang. Die HERE is ’n sterkte vir hulle, en Hy is ’n vesting van verlossing vir sy gesalfde” (Psalm 28:7,8).

“Ons siel wag op die HERE; Hy is ons hulp en ons skild; want ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou. Laat u goedertierenheid, HERE, oor ons wees net soos ons op U wag!” (Psalm 33:20-22).

“Die wat op die HERE vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, maar bly tot in ewigheid” (Psalm 125:1).

“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5,6).

Download PDF