God Weet | World Challenge

God Weet

David Wilkerson
March 31, 2014

Hierdie boodskap is vir enigeen wat pyn, swaarkry of verdrukking ly. Dit is vir die werkloses en hulle wat finansiële beproewings in die gesig staar. Dit is vir mense wat elke dag leef met ‘n angstige voorgevoel oor hulle toekoms. Ek wil op hierdie oomblik vir elkeen van julle sê: GOD WEET ALLES DAARVAN AF.

Die Psalmdigter getuig, “Here, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte” (Psalm 139:1-2). Hy vertel ons, “My God sien wanneer ek sit en opstaan. Hy hoor en weeg elke woord wat ek dink. Hy weet alles van my af.” Wanneer ons in verdrukking is, weet God waardeur ons gaan.

Wanneer ek ly en ‘n woord van bemoediging nodig het, wil ek met iemand praat wat weet. Ek wil nie met iemand praat wat bloot verse vir my opsê nie. Ek het nodig om met iemand te praat wat self deur die vuur is — iemand wat die dieptes van lyding deurgegaan, wat self daardeur is.

Gewoonlik sal net diegene wat self erge pyn gely het, ware meegevoel vir ander wat swaarkry, hê. Ek het dit oor die jare gesien terwyl ek en my vrou in Florida vakansie gehou het. By restaurante het ons ou mense gehoor praat oor hulle dokters en die operasies wat hulle ondergaan het. Ander wat dieselfde pyne gehad het, sou in simpatie saamstem. In hulle stemtoon, kon ek die pyn van die lang nagte wat hulle verduur het, voel. Diep aanklank is gevestig, ‘n band van begrip en meegevoel gesmee.

Baie Christene is vandag so terneergedruk oor hulle pyn dat hulle nie langer glo dat God omgee oor hulle toestand nie. Hulle wonder, “Hoor God ooit my gebede? Hoekom laat Hy toe dat hierdie beproewing aangaan?” Ander Christene groei stadig meer bitter te midde van hulle beproewing. Hulle dink, “Ek was getrou om God oor al die jare lief te hê en te gehoorsaam. Ek het reg gedoen volgens sy Woord.”

Nou het ek my werk verloor en is op die randjie daarvan om my huis te verloor. Mediese rekening hoop op en ons finansies is besig om buite beheer te raak. Ons staan permanente bankrotskap in die gesig. Waarom sal God toelaat dat dit alles gebeur? Waarom hoor Hy nie my geroep wanneer ek Hom die meeste nodig het nie?”

God weet van ons lyding — en Hy gee om.

Ons Hemelse Vader ken ook lyding — deur Jesus, sy eniggebore Seun. Die outeur van Hebreërs vertel ons dat Christus self aangeraak word deur ons gevoelens van swakheid. Die feit is dat ons beproewings ons óf nader aan Christus sal trek, óf ons dieper in wanhoop sal intrek. Beproewings kan ons heeltemal afhanklik maak van God se Woord, of hulle kan ons in die spiraal van ongeloof laat induik. As ons aanhou om bitterheid te vertroetel, kan dit veroorsaak dat ons harte verhard totdat ons opeindig in ‘n put van hopeloosheid.

Ek ken persoonlik hierdie “siele-stryd” wat lyding meebring. My vrou, Gwen, het agt-en-twintig operasies ondergaan oor ‘n leeftyd, wat gekenmerk was deur fisiese lyding. Nag na nag het ek op die rand van die bed gesit met die las van droefheid swaar op my, terwyl ek uitroep, “Here, ek het U lief, ek vertrou op U. Maar ons ly so erg. Waarom hou hierdie pyn net aan en aan? Sal dit ooit ophou?”

Op sulke tye, het ek Hom liefdevol hoor fluister, “David, ek weet. En Ek gee om. Ek is met jou.” O, die genesende krag van daardie woorde: “Ek weet” — en die groot genade van ons kosbare, liefdevolle Verlosser!

In ons moeilikste tye het ek ‘n keuse gehad. Óf ons moet God vertrou met ons lewe en toekoms, óf ons moet Hom aankla van opsetlike nalatigheid. Dit was nog altyd die keuse vir God se volk. In die Ou Testament, het die kinders van Israel die verkeerde keuse gemaak. Die Here het hulle uitgekies om ‘n “opvoedkundige volk” te wees, voorbeelde van geloof en vertroue in God voor die hele wêreld. En God het selfs aan Israel groot beloftes gegee om van te lewe. Die plan was eenvoudig: Israel, die “lig van die nasies,” moes leer om te leef van elke woord wat uit die mond van God kom (sien Deutoronómium 8:2-3).

Groot probleme het voor Israel gelê, maar God het belowe dat Hy hulle nooit sou verlaat of begewe nie. Hy het belowe om hulle met sy eie hand deur alles te neem. Hy het net gevra dat hulle Hom vertrou, en leef deur elke woord wat Hy tot hulle spreek.

Israel se probleem het nooit daaroor gegaan of hulle genoeg voorsiening gehad het nie. Hulle het nooit gebrek gehad aan voedsel, water of skuiling nie. Nie een van hulle het in veertig jaar van honger omgekom nie. Selfs in hulle ongeloof, het God in al hulle fisiese behoeftes voorsien, deur elke beproewing en probleem heen. Ons Here sny nie sy kinders af van wat hulle nodig het net omdat hulle foute maak nie.

Die Israeliete se beproewings was nodig om ‘n blywende getuie vir die wêreld te wees.

Wat was die getuienis wat God vir Israel bedoel het? Dit was dat sy volk enige krisis kan oorleef en rustig daarin kan wees. Die Israeliete was oppad na Kanaän toe, die Beloofde Land, ‘n plek wat vol was van ‘n nimmereindigende voorsiening van melk en heuning. Tog, die “plek van rus” wat God vir hulle bedoel het, was meer as net ‘n fisiese plek. Dit was ‘n plek waar sy mense heeltemal in geloof sou lewe, terwyl hulle vertrou op elke woord wat uit die mond van God gekom het.

Dit is steeds God se plan vir sy mense — om ‘n plek van rus te hê. Hulle vind dit deur hulle lewens te leef volgens elke woord wat Hy spreek. Die outeur van Hebreërs vertel vir ons dat so ‘n plek van rus nog nie deur God se mense ingeneem is nie. Kortliks, die Here toets steeds ‘n volk wat “sy rus in geloof sal ingaan.”

In hierdie sin het Israel nooit die Here se getuienis geword nie. In plaas daarvan, het die mense gemurmereer en gekla, terwyl hulle God se getrouheid in elke krisis bevraagteken het. En hulle het in ellende gesterf. Hulle het lewens vol vrees gelei, was heeltemal self-gesentreer en het ‘n obsessie met hulle eie behoeftes gehad. Tog het die Here hulle getrou gelei, hulle geklee en beskut. Van binne, was hulle net geestelik dood.

Die Here weet wat in die hart van elkeen van sy dienaars is. En Hy ken elke rede wat gegee word deur hulle wat Hom eers met blydskap gedien het, maar nou in bitterheid weggedraai het. Hy sien daardie innerlike plek in ons harte baie duidelik, selfs wanneer ons dit nie sien nie.

Jesus het hiervan gepraat toe ‘n groep gierige Fariseërs gekom het om na Hom te luister. Terwyl hulle Hom geteister en gespot het, het Christus gereageer, “Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God” (Lukas 16:15).

Hierdie woord van Christus was nog nooit meer relevant nie. Vandag in die wêreld se oë, wil jy nie graag uitgevind word as een van daardie “Jesus mense” nie. Baie Christene wat eens passievol was oor Jesus, het nou ‘n godsdiens van ordentlikheid aangeneem, terwyl hulle klem lê op goeie werke en liefdadigheid. Vir hulle is dit die hoogste prioriteit om die goedkeuring van die skare te behou. Dus regverdig hulle hulle verwerping van enige ywer wat hulle vir Christus gehad het. Jesus sê dat hierdie gesindheid ‘n gruwel in God se oë is.

Ek het eenvoudig geen antwoord vir hulle wat vra waarom die heiligste gelowiges so diep en dikwels moet ly nie. Ek kan nie eers begin om te antwoord waarom God se geliefdes soveel moeilike tye moet beleef nie. Maar ek weet iets omtrent hulle wat in bitterheid van die Here af weggedraai het.

Ek moet aan alle teruggevalle mense die volgende vra: Is jou hart sagter nadat jy die Here verlaat het? Of is dit harder? Is jy warmer of kouer teenoor die mense in jou lewe? Jesus het gesê dat ons ‘n boom moet oordeel op grond van sy vrugte.

As ‘n getroue herder, moet ek jou waarsku: Die duiwel hou daarvan om heeltyd jou gedagtes met eindelose vrae te vul. Hy wil enige flikkering van geloof wat in jou is smoor met  ‘n groeiende berg van twyfel. Jy kan seker wees dat sulke gedagtes aanhoudend opgestapel sal word. Luister na my wanneer ek sê, jy het die verkeerde tyd gekies om van Jesus af weg te draai.

Dit is die waarheid dat God weet. Hy ken jou gaan sit en jou opstaan. Hy ken al jou pyn, jou situasie, jou hele toekoms. Soos Dawid geskryf het, “Want daar is nog geen woord op my tong nie – of U, Here, U ken dit geheel en al. U sluit my in van agter en van voor en U lê u hand op my” (Psalm 139:4-5).

Hier sê Dawid eintlik, “Omdat ek Hom vertrou, beskerm Hy my van alle kante. Te midde van verdrukking, is ek in staat om te sê, “God weet. Hy gee om. Hy is met my!”

In Psalm 139 herinner God sy mense waar Hy tydens ons verdrukking is en wat Hy belowe om vir ons te doen.

Miskien ervaar jy hoe die Heilige Gees jou hart nader trek te midde van jou pyn. Tog, hou jy aan om te vra, “Maar wat van my uiterlike situasie, my omstandighede? Waar is God in my geval? Wanneer gaan hierdie beproewing ooit eindig?”

Ek weet nie waarom die Here toelaat dat die regverdige ly nie. Ek weet nie waarom Hy toelaat dat kinders ly nie. Ek weet nie waarom Hy die lyding van my eie kinders, my vrou, my familie toelaat nie. Ek kan eenvoudig nie vir jou sê wat ek nie weet nie. Maar ek kan jou vertel wat God in sy Woord belowe.

Kyk na die begin van Psalm 139. Hy belowe aan almal wat sy naam aanroep: “Ek ken jou! Jy is nooit uit my gedagtes uit nie” (vers 1) “Ek monitor jou elke beweging. Ek weet elke gedagte wat jy dink” (vers 2) “Ek beskut jou te alle tye” (vers 3). “My hand is op jou” (vers 5). “Daar is geen plek in die hemel of op die aarde waar jy my Gees kan ontsnap nie” (vers 7). “Jy mag dink dat my Gees nie met jou is nie, maar Hy is altyd daar” (vers 8).  “Wanneer duisternis probeer om my van jou oë af weg te steek, sal Ek deur daardie duisternis breek” (vers 12). “Ek het jou lief en het jou beskerm selfs in die baarmoeder” (vers 13). “Ek sien waarvan jy gemaak is voor jy gebore is” (vers 15). “En Ek het kosbare gedagtes teenoor jou van daardie tyd af tot nou toe” (vers 17).

Geliefde, jy kan selfs nou, nie eers die aantal goeie gedagtes wat God teenoor jou het, begin tel nie. Wees bemoedig: Hy is met jou in jou situasie, dit maak nie saak hoe erg dit mag word nie. Jy het ‘n getroue, alwetende metgesel in jou pyn. Ja, God weet!

Download PDF