Goeie Nuus vir Slegte Mense | World Challenge

Goeie Nuus vir Slegte Mense

David WilkersonSeptember 1, 1981

Ek het in die middel van Times Square in New York stad gestaan en kyk na die mal parade van sondaars wat hulle goddeloosheid trots vertoon, en my geestelike bloed het begin kook. Dit was net na middernag en die sonde-skare het opgekom vanuit die duikweë en bymekaargekom op Times Square en 42ste Straat van oral oor die stad.

Die ondergrondse skare neem in werklikheid die hart van New York oor na sononder. Bleek, siek in voorkoms homoseksuele stroom uit op die strate vanuit hulle enkelkamer slaapplekke en goedkoop hotelle. Tiener dwelmverslaafdes hang rond in die teater voorportale, en ruil hulle gesteelde dollars uit vir dwelms van allerlei beskrywings. Ander dwaal doelloos rond in die strate, buite hulle sinne bedwelmd. Karig-geklede prostitute gryp onbeskaamd die arm van elke verbygaande man en probeer hulle te lok met hulle volgende truuk. Vuil ou manne en seksmal studente dryf in en uit x-gegradeerde teaters en loervertonings. Sadomasochiste paradeer rond in die teenoorgestelde geslag se klere – party met pers hare en wange deursteek met haakspelde. Cadillacs en sportskarre trek op tot by die sypaadjie en die bestuurders koop onbeskaamd hulle dwelms. Die polisie kyk ander pad. Lesbiërs loop arm in arm, en vertoon hulle perversie. Arm, perverte met hartseer oë lê in teater sitplekke en vergaap hulle films aan wat bloed, geweld, verminkings en allerhande sadomasochistiese marteling vertoon.

Dit is so helagtig, jy moet jouself knyp om seker te maak jy is nie in ‘n droom oor Dante se inferno nie. En hoewel ek op dieselfde strate bedien vir al amper 23 jaar, het dit my hierdie keer ondergekry. Die goddeloosheid is oorweldigend, die demoniese geeste soveel; die ware liefhebbers van Christus voel ‘n soort geestelike versmoring as mens tussen dit alles is.

My hart het begin uitroep, “O God, wat preek ek vir hierdie mal menigtes? Wat is U boodskap vir diegene wie se oë so vol wellus en perversie is? Is daar enigsins enige hulp vir hulle?”

Die voorspoedsboodskap? Nooit!

Ek weet in die diepte van my hart dat die boodskap van Christelike voorspoed en sukses, so heersend in die land vandag, nooit hierdie arme siele sal help nie.

Ek glo nie in ‘n “maatskaplike” Christus, wat vir jou kontant in jou sak, ‘n nuwe Cadillac en ‘n voorstedelike huis, sukses en immuniteit teen alle lyding gee, as jy net leer om ‘n sekere kwaliteit of kwantiteit van geloof leer bemeester nie.

Hierdie straatmense is reeds agterdogtig dat godsdiens nou net vir die rykes en suksesvolles is. Die meeste van die jongmense met wie ek praat wat in die ghetto woon, sê vir my hulle is oortuig die Evangelie is nou ‘n “afpersery” deur ryk predikers wat van Rolls Royces hou.

Een Swart tiener het gesê, “Ek het alles probeer om dit te maak en niks werk nie. Ek is moeg om arm te wees. Ek neem aan ek sal godsdiens moet probeer; dit lyk deesdae of dit die enigste manier is om suksesvol te wees.”

Ek weier om ‘n evangelie te verkondig wat mense vrystel van lyding. Paulus, die apostel het gesê, “Maar jy het my navolger geword in leer...lydsaamheid, vervolginge, lyding, soos my te beurt geval het...Watter vervolginge het ek nie al verdra nie! En die Here het my uit almal verlos” (2 Timótheüs 3:10,11).

Dit was Paulus wat gesê het, “Ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie...” Ek het eens geglo dit beteken, “Ek is nie skaam om op te staan vir Jesus nie. Ek is nie skaam vir die stigma van die Evangelie nie.”

Maar dit is nie wat dit beteken nie. Dit het glad niks te doen met dapperheid nie, maar eerder lyding. Paulus het gesê, “Mag die Here aan die huis van Onesíforus barmhartigheid bewys, want hy het my dikwels verkwik en hom oor my kettings nie geskaam nie” (2 Timótheüs 1:16).

Paulus het God gedank dat sy student nie skaam was dat sy leraar in die tronk was nie – en dat ‘n groot geloofsprediker in boeie gely het nie.

Tog is daar vandag bedienaars wat skaam is vir Paulus se lyding. Ek het een onlangs hoor sê, “As Paulus ‘n openbaringskennis gehad het soos ons vandag, sou hy nie gely het nie. Dit was sy eie gebrek aan kennis wat hom arm en siek gehou het.”

Wat ‘n verskriklike lastering! Hulle is skaam vir Paulus! Hulle maak sy armoede en lyding af. Hoe anders as die Galásiese Christene, wat hierdie lydende man so gerespekteer het. Paulus het vir hulle gesê, “Maar julle weet dat ek ten gevolge van krankheid van die vlees die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het; en julle het my beproewing in my vlees nie verag of verfoei nie, maar julle het my ontvang as ’n engel van God, ja, as Christus Jesus...” (Galásiërs 4:13,14).

Ek glo die Heilige Gees is op die punt om hierdie “Christelike humanisme uit Sy kerk te braak. God sal nie langer toelaat dat ryk Christene hulle welgestelde leefstyl regverdig met ‘n voorspoedsteologie nie. Die sogenaamde voorspoedsevangelie veroorsaak ‘n arrogante, selfsugtige, inpalmende, materialistiese soort Christen. Gewapen met voorspoedskrifte uit die Ou Testament, en ‘n paar wat uit konteks gehaal is uit die Nuwe Testament, jaag hulle skaamteloos ‘n lewe van eindelose versameling van wêreldse goedere na. Dit veroorsaak dat mense hulle liefdes rig op die dinge van hierdie wêreld. Die sterwende massa’s van die wêreld word deur hulle geïgnoreer omdat hulle te behep is met hulle warrelwind strewe na sukses, rykdom, en volmaakte gesondheid. Hulle wil ‘n fantasie wêreld vry van alle stryd hê, beddens van ivoor, die soet reuk van rose en sukses waar geen siekte of smart toegelaat word nie. Daar is niks sondig daarin om voorspoedig of suksesvol te wees nie – die sonde lê daarin om materiële dinge die voorwerp van geloof te maak. Dit is nie sondig om die goeie dinge in die lewe te geniet nie – maar dit is sondig om selfsugtig betrokke te raak in die najaag van dinge.

Daar is nie so ‘n wêreld nie! Dit is ‘n leuen! En eendag wanneer die vuurtoets van geloof kom, sal diegene wat nie deur die Woord voorberei is vir verdukkings en beproewings nie, met bitterheid teen hierdie leraars draai en uitroep, “Julle het ons mislei.”

Ek het geweet, terwyl ek daar by Times Square gestaan het, dat ek nooit een enkele siel sou kon wen deur so ‘n misleidende boodskap nie – omdat ek weet dat soldate van die Kruis wel swaarkry ly omdat hulle deel het aan die gemeenskap van Christus se lyding.

Wat van ‘n sedelike veldtog begin?

Veldtogte teen onsedelikheid is immers gewild vandag. Die meeste Christene vandag is siek en sat vir die sondige vertoon van perversie en verdorwenheid. Daarom is die onlangse sedelike veldtoge ‘n uitvloesel van innerlike woede teen die onbeskaamdheid en vermetelheid van goddelose mense. In ons gevoel van hulpeloosheid, weet ons nie wat om te doen nie – daarom vloek ons die duisternis.

Daardie nag in Times Square, het my bloed gekook oor wat ek gesien het. San Francisco het dieselfde effek op my gehad. Ek het verstom gesit in ‘n homoseksuele kerk daar, terwyl die bedienaar die byeenkoms afsluit deur te sê, “Hiermee onthef ek jou van al jou sondes.” Hy het daarop aanspraak gemaak om al hulle sondes te vergewe.

Hulle kerkbulletin het my erg ontstel. Ek haal hulle aankondigings aan:

Maandag nag – Wynproepartytjie in die kerk se kelder.

Dinsdag – Heelnag kruisdrag partytjie: bring jou minnaar.

Woensdag – Gebedsbyeenkoms, gevolg deur disko en bier.

Donderdag – Gay Regte koukus.

Vrydag – Gay vaart – maanlig dans, drank.

Saterdag – “Gay Pride” dans: fondsinsameling vir gay regte.

Hierdie soort van vertoon van sensualiteit gee enige normale Christen aanstoot. Maar alhoewel ek kwaad was vir hierdie skaamtelose sondaars, was Christus Jesus nie.

Die gedagte het my so hard geslaan – “Jesus het steeds afsydige, vervreemde sondaars lief. Hy het vir hulle almal gesterf – maak nie saak hoe goddeloos of onbeskaamd hulle in sonde mag wees nie.”

Goeie nuus vir slegte mense!

Skielik het die waarheid tot in my siel deurgebreek – die boodskap wat God aan hierdie verlore sondaar wil oordra, is GENADE! Genade beteken God se guns en vergifnis aan sondaars – vrylik gegee, onverdiend, onverdienstelik, nie terugbetaalbaar nie.

Ek het met die Here geredeneer, “Maar ek kan nie sulke goeie nuus aan sulke slegte mense verkondig nie. Dit lyk nie regverdig nie! Hulle is goddeloos – hulle moet hoor van U toorn en oordeel oor hulle sondes.”

Maar in plaas daarvan, het die Heilige Gees my gedring om vir hulle te vertel dat God hulle steeds liefhet. Luister na die taal van geloof: “Julle sondaars wat vyandig, vervreemd, vreemdelinge van die Evangelie is, sonder hoop, sonder God, in duisternis lewe, geboei is deur die kettings van julle ongeregtigheid – God is nie kwaad vir jou nie! Hy wil hê jy moet versoen word met Homself deur Jesus Christus.”

  • “Naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou” (2 Korinthiërs 5:19).
  • “Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was... Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn” (Romeine 5:8,10).
  • “Dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd...vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus” (Efésiërs 2:12,13)

Ons verstaan eenvoudig nie hoe God steeds die sadomasochis, die verslaafde, die lesbiër en homoseksueel, die prostituut, die masseersalon mense, die pornograaf, ja – en selfs die verkragter en moordenaar kan liefhê nie. Ons verstaan nie hierdie wonderlik genade van God wat vergifnis en versoening bied vir elkeen wat hom bekeer en glo in die Here Jesus Christus nie.

Maar dit is waar! Ons kan met vrymoedigheid gaan waar sondaars losbreek – en vir hulle met alle versekering sê dat God hulle terugroep na Homself.

Selfs Christene het hierdie boodskap van geloof nodig!

Martin Luther, die vader van die prostestante hervorming, het gesê, “Ek vrees hierdie lering [van genade] sal weer geskend en vertroebel word, nadat ons weg is.”

Dit is presies wat gebeur het – die kerk van Jesus Christus het, vir die grootste deel van die tyd, Luther se boodskap van volle en vrye vergifnis en geregtigheid deur geloof, vergeet.

Sy oorlogskreet was, “Die regverdiges sal deur geloof lewe.” Hy het gesê, “Satan het sulke sondaars lief omdat hulle probeer om hierdie geregtigheid te verdien – omdat hulle hul eie liggame en siele vernietig en hulleself ontsê van al die seëninge van Christus se genade... Uiterlik lyk dit of hulle alle ander met goeie werke uitstof...”

Ons neem sonde te ligtelik op! Dit is waar! Ons het geen skaamte oor sonde nie; ons het te los in ons sedes geword. Ons sondig deesdae sonder veel skuldgevoelens, indien enige. Ons het meestal die vrees van God en bekommernis oor die Oordeelsdag laat vaar. Dit is ‘n ongeërgde samelewing, ‘n kerk gerus, met sonde en plesier en die nastreef van geluk ten doel.

As ‘n bedienaar van die Christus se Evangelie – is ek geskok! Ek is geskok oor al die sonde en wellus waaraan so vrylik oorgegee word; deur die apatie en kompromie in die kerk – die kwynende sedelike standaarde – en deur die liberale verandering van my eie gedagtes oor wat reg of verkeerd is. Dinge wat ek eens verag en teen gepreek het nou, lyk nou mak en onskuldig.

Daarom wil ek iets daaromtrent doen! Ek wil hardop skreeu, “Haai, ons voel nie skuld soos ons moet nie! Ons veroordeel nie sonde in ons samelewing en in ons persoonlike lewens nie. Dit lyk nie of ons jammer is wanneer ons sondig nie. Dit word so maklik om te doen wat die skare doen.”

Ja! Ek wil meer skaamte oor sonde sien. Ek wil veroordeel voel. Ek wil dit hardop van die kansel af roep, “Skaam jou! Skaam my! Ons is te sag met sonde. Waar is die outydse skuldgevoel oor sonde?!”

Ek wil meer van die vrees van God sien! Ek wil dit uitbulder teen die naaktheid, sensualiteit, dronkenskap, owerspel. Ek wil uitroep, “Die ewige vuur van ‘n goddelose hel op almal wat sondig en God bedroef!”

Ek wil meer van selfverloëning sien! Meer afsondering en onttrekking van die wêreld. Ek wil hardop uitroep, “Ons is te veel soos die wêreld. Ons musiek is dieselfde; ons gewoontes word eners; ons gaan waarheen die sondaar gaan; ons doen wat hy doen. Ons is nie langer ‘n afgesonderde volk nie!”

Dit klink soveel na die Ou Testament profete – om sonde te veroordeel en die oordeel van God neer te bring op kompromiemakers! Maar Jesus werk op ‘n hoër wet! ‘n Wet so ontsagwekkend dat dit kragtiger is as skuldgevoelens, veroordeling, of vrees. Dit is liefde!

Christus weier om ‘n las van skuld op iemand te plaas. Hy het gesê Hy het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om mense van hulle sondes te verlos. Die Kruis was bedoel om die skuldiges vry te maak en Christus se volgelinge die vrede en geseëndheid van vergifnis te gee.

Geen jukke of slawerny nie! Geen veroordeling nie! Geen donderende vrees nie! Maar toegang – vry en eenvoudig! Is dit te goed om waar te wees? Vind jy sulke goedheid en liefde moeilik om te aanvaar? Hier is die bewyse:

  • “Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?” (Romeine 2:4).
  • “Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie” (Romeine 4:7,8).
  • “Want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding” (Romeine 10:10).

Maar is dit nie wat kompromie-makende Christene wil hoor nie? As ons vir hulle sê God plaas nie skuldgevoelens op hulle nie – as hulle nie veroordeel voel nie – as hulle nie lewe onder die vrees van Sy toorn nie – sal hulle nie hul gewetens selfs meer gerusstel en onbeperk sondig nie? Is dit nie ‘n fout om die liefde van Christus te verkondig aan ‘n Christen wat misluk nie? Sal hy dit nie neem as ‘n teken dat God sag is met sonde nie? As God ons so lief het en so vergewensgesind is – waarom nie net voortgaan om te sondig nie?

Maar liefde is ‘n las wat baie groter is as skuld, vrees, of veroordeling! Ons het net ons liggame om terug te gee vir God om ons liefde te betoon. In die ewigheid, sal hierdie keuse geseënd wees. Slegs in tyd het ‘n mens die reg om te kies om God lief te hê. Ons was gebore om Hom lief te hê. Ons is verlos omdat ons Sy liefde aanvaar!

Die verwerping van God se liefde, deur Christus, is die verdoemende sonde. Dink daaraan. Jesus sê in wese, “Gaan die wêreld in. Moenie iemand laat skuldig voel nie. Moenie veroordeel nie. Moenie probeer om iemand banger te maak as wat hulle reeds is nie. Dit is reeds ‘n wêreld van vrees en marteling. Sê vir hulle hulle word liefgehê. Hulle is vergewe, as hulle bloot My offer sal aanvaar!”

Christus het Sy lewe gegee omdat Hy liefgehad het! Nie omdat Hy kwaad was nie! Of wraaksugtig! Of vergelding gesoek het nie! Christus se Kruis is versoening [vrede met God]!

Maar wat gebeur wanneer ‘n siel hierdie groot en wonderbare liefde afwys? Praat van skuld! Skande! Veroordeling! Vrees! Dit is waarom die hele wêreld in vrees sit op hierdie oomblik. God sê: “Ek het dit so maklik gemaak. Ek wil jou liefhê, vergewe, red. Hoe kan jy verwag om weg te kom om so ‘n offer af te wys?”

Nie skuld of sonde nie! Nie veroordeling weens kompromie nie. Maar skuldgevoel oor die verwerping van Christus se liefde! Verwerping van God se offer van volkome vergifnis en genade is die sonde wat die ongelowige sal trek.

Heiligheid het sy wortels in liefde! Geen gebooie nie. Geen reëls nie. Geen wet nie. Geen swaar laste of ordinansies nie. Maar liefde! Hy sê, “Ek het jou lief! Ek vergewe jou! Ek wil jou as My vriend hê – geen bybedoelings nie! Geen werke nie! Geen persoonlike verpligting nie! Neem dit in besit deur geloof!”

Hoe kan enigeen nie skuld, skaamte en veroordeling voel om so ‘n offer af te wys nie?

So skuld is nie die sleutel nie! Skande, vrees, of veroordeling sal nie werk nie. So wat is die sleutel? Om die ondeurgrondelike liefde van God in Christus Jesus te aanvaar. Dit is ‘n liefde wat medelye het met ons kwesbaarheid, ‘n liefde wat lankmoedig, barmhartig en vriendelik is. Selfs wanneer ons nie bid soos wat ons behoort te bid – of getuig, of bestudeer, of aanbid nie. Hy het ons lief selfs wanneer ons koud en louwarm is en lewe in mislukking, wanhoop en twyfel. Hy het ons steeds lief as Sy dierbare kinders, soveel so, dat Hy tugtig ons om daardie liefde oor en oor te bewys.

  • “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem” (Hebreërs 12:5,6).
Download PDF