Handhaaf Jou Blydskap In Die Here | World Challenge

Handhaaf Jou Blydskap In Die Here

David WilkersonMay 17, 2010

“Die blydskap in die Here — dit is jul beskutting” (Nehemia 8:11). Toe hierdie woorde aangekondig is, het die Israeliete net uit Babel teruggekeer waar hulle in ballingskap was. Onder die leierskap van Esra en Nehemía het die volk die bouvallige mure van Jerusalem herbou. Nou het hulle beplan om die tempel te herbou en die volk te herstel.

Nehemía het ‘n spesiale vergadering by die stad se Waterpoort, binne Jerusalem se herboude mure, byeengeroep. “Die hele volk het soos een man op die plein voor die Waterpoort bymekaar gekom” (Nehemia 8:2). Volgens sommige Bybelskoliere, het sowat 50,000 mense daar vergader.

Heel eerste is God se Woord verkondig. Die Skrif sê dat die volk uitgehonger was om dit te hoor: “Die hele volk ...(het) aan Esra, die skrifgeleerde, gesê om die boek van die wet van Moses ... te bring. En Esra, die priester, het die wet voor die vergadering gebring, manne sowel as vroue en almal wat met verstand kon luister” (Nehemía 8:2–3).

Dit was nie nodig om God se Woord op hierdie mense af te dwing nie. Hulle was eengesind in hulle honger na die Woord. En hulle was ten volle bereid om hulleself aan die gesag van God se Woord te onderwerp, want hulle wou daardeur regeer word en aan die waarheid daarvan voldoen.

Dit was verstommend dat Esra vir vyf of ses uur vir die volk gepreek het, “vandat dit lig geword het tot die middag” (Nehemía 8:4). Niemand het op die tyd gelet nie, want “Die ore van die hele volk was op die wetboek gerig” (Nehemía 8:4).

Wat ‘n ongelooflike toneel. Ek glo dit sal moeilik wees om so ‘n gebeurtenis in die moderne kerk te sien. Ware herlewing kan egter nooit sonder hierdie soort alles-verterende honger na God se Woord plaasvind nie.

Moenie ‘n fout maak nie, by hierdie toneel by die Waterpoort in Jerusalem was daar nie welsprekende prediking nie. Esra het ook nie ‘n opspraakwekkende preek gelewer nie. Hy het direk uit die Skrif gepreek, terwyl hy vir ure aaneen gelees en die betekenis daarvan verduidelik het. En terwyl die mense geluister het, het hulle opgewonde geword.

Soms was Esra so oorweldig deur dit wat hy gelees het, dat hy eers moes ophou lees om “die grote God te loof” (Nehemía 8:7). Die heerlikheid van die Here het magtig neergedaal en almal het hul hande in lofprysing na die Here opgehef: “Die hele volk het geantwoord: Amen, Amen! met opheffing van hulle hande” (8:7). Met berou en gebrokenheid “het hulle gebuig en die Here aanbid met hul aangesig aarde toe” (Nehemía 8:7). Daarna het hulle opgestaan om meer te beleef.

Daar was geen manipulering vanuit die preekstoel nie en geen dramatiese getuienis nie. Hierdie mense het slegs ‘n oor gehad om te hoor wat God alles aan hulle gesê het.

Geliefde, ek glo dat die Here begeer om vandag steeds op dieselfde wyse onder sy mense te werk. Die soort herlewing en herstel wat ons met God se mense sien gebeur in Nehemía 8, vereis egter ‘n bediening en gemeente wat net soos Esra, deur die skrif opgewonde gemaak word.

Dit vereis ook mense wat net so gretig is om God se woord te hoor en dit te gehoorsaam. Selfs die vurigste prediker kan nie ‘n selfvoldane gemeente opwek as hulle nie uitgehonger is om God se waarheid te hoor nie.

Die gevolg van hierdie kragtige prediking was ‘n voortdurende vlaag van gebrokenheid tussen die hoorders.

‘n Halwe dag van prediking was nie genoeg vir die uitgehongerde Israeliete nie. Hulle wou meer van God se Woord hoor. Daarom het hulle groepe gevorm met nog sewentien ouderlinge bo en behalwe Esra, wat hulle die res van die dag in Bybelstudie gelei het.

“(Hulle het) die volk in die wet onderrig, .. en hulle het uit die boek, uit die wet van God, duidelik voorgelees en dit verklaar, sodat hulle verstaan het wat voorgelees is” (Nehemia 8:8–9).

Soos die volk God se wet begryp het, het hulle begin treur oor hulle sonde. “Want die hele volk het geween toe hulle die woorde van die wet hoor” (Nehemía 8:10). Stel jouself voor: 50,000 mense wat na die grond buig en as ‘n eenheid oor hul sonde treur. Soos ‘n hamer het God se woord hulle trots gebreek en hulle geween het vir myle ver oor die berge weerklink.

Ek vra jou: Is dit nie waaroor herlewing gaan nie? Kan dit toegeskryf word aan ‘n woord so deurdringend dat mense op hulle knieë gedwing word, terwyl hulle voor God ween en hulle tot Hom bekeer? Ek het self ondervinding van sulke heilige byeenkomste. As kind het ons familie “kamp vergaderings” by die Living Waters kampgronde in Pennsylvania bygewoon. Daar is oor die tweede koms van Jesus met soveel krag en gesag gepreek, dat almal oortuig was dat Christus binne enige oomblikke sou kom.

So eg soos hierdie verskynsels was, kan nie een van hierdie dinge op hulle eie sondaars tot in God se huis trek nie. Stel jou voor ‘n ongeredde mens met huweliksprobleme, wat seergemaak, verward en bevrees is dat sy lewe geen nut en betekenis het nie en wat probeer om die spanning in die lewe te hanteer. So ‘n persoon is vreugdeloos en het geen hoop nie. Niks wat hy probeer, les sy innerlike dors nie. Dit is net die manifestasie van die ware blydskap van Jesus wat hom te midde van sy pyn en droefheid kan aanraak.

Dit moet ons verstaan - die Waterpoort herlewing was nie vir sondaars nie. Dit was vir die afvallige kinders van God. Die Here het gepoog om sy kinders te herstel, om hulle van slawerny te bevry en hulle met blydskap te doop om hulle sterk te maak. Trouens, die getuienis wat Hy uit sy mense wil voortbring is blywende, ware blydskap. “Die blydskap in die Here — dit is jul beskutting” (Nehemiah 8:11). Hierdie blydskap, wat uit ware bekering en vertroue in God se Woord voortspruit, bring krag aan God se mense en trek sondaars in sy huis in.

Ek glo hierdie diep, blywende blydskap ontbreek grootliks vandag. Ek het Christene al gehoor sê: “Ons het ‘n herlewing in ons kerk afgebid.” Dit kan egter nie deur gebed alleen gebeur nie. Daar kan nie enige soortgelyke herlewing wees, tensy mense ywerig honger en dors na God se Woord nie. En hulle moet hulle lewens heeltemal daaraan toewy om deur die Skrif beheer te word. Ons kan eenvoudig nie die hemelse blydskap verkry totdat die suiwer Woord ons van ons teruggevalle toestand oortuig het nie.

Toe Dawid ongehoorsaam was, het hy die blydskap van die Here verloor. Daardie blydskap kon slegs deur ware berou en bekering herstel word. Dawid het dit geweet en daarom het hy gebid: “Was my heeltemal van my ongeregtighede en reinig my van my sonde. Want ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Ontsondig my...” (Psalm 51:4–5, 9). Dawid het ook gebid om dit wat hy verloor het, terug te kry: “Gee my weer die vreugde van u heil” (Psalm 51:14).

Waar God se woord gevrees word, volg ‘n uitstorting van ware “Jesus blydskap.”

In wese het Esra aan die volk gesê: “Julle het gehonger na God se Woord en het toegelaat dat dit in julle harte werk. Julle het berou gehad en julle bekeer en God is tevrede daarmee. Maar nou is die tyd om julle te verbly. Neem julle sakdoeke en vee julle trane af. Dis nou ‘n tyd vir blydskap!”

Die heerlikheid van die Here was op Israel. Die volk het die daaropvolgende sewe dae gespandeer deur hulle te verbly. “Toe het die hele volk weggegaan om te eet en te drink ... en groot vreugde te bedrywe; want hulle het ag gegee op die woorde wat aan hulle bekend gemaak is” (Nehemia 8:13).

Die woord “vreugde” word in die Hebreeuse teks vertolk as “blydskap, vrolikheid, opgeruimheid, gelukkigheid.” Dit is nie net ‘n goeie gevoel nie, maar dit is diep, innerlike uitbundigheid. Dit is duidelik aan almal om ons dat ons bron van blydskap uit die hemel kom.

Toe ons Times Square Church in 1987 begin het, het ons vinnig agtergekom dat ons in ‘n hedendaagse Korinthe, een van die mees vleeslike gebiede in die wêreld, bedien het. Daarom moes ons ‘n kragtige boodskap verkondig wat harte sou aanraak. Toe ons in die begin ons deure geopen het, was ons eredienste bygewoon deur baie mense betrokke in die vermaaklikheidsindustrie, in die teater, TV en film. Sommige het gekies om in loopbane, wat God duidelik oneer bring, te bly.

Ons het gewonder of ons ongeredde verhoogkunstenaars kon evangeliseer, terwyl  ons eie gemeentelede steeds in die ongure aspekte van die besigheid betrokke was. Daarom het ons ‘n boodskap van “afsondering” begin preek en die Here het in die mense se harte begin werk. Baie het winsgewende beroepe in die vermaaklikheidsindustrie prysgegee en God het hulle wonderlik geseën. Een vorige akteur is nou ‘n pastoor in ‘n kerk in Israel.

Ons het ontdek dat God vir Homself ‘n goddelike oorblyfsel in Time Square bewaar het, mense wat sy Woord liefgehad het. In elke diens het hierdie mense soos honger voëltjies gesit met hulle monde wyd oop vir kos. Na die tyd het hulle klankopnames van die preek huistoe geneem om daarna te luister. Ons kerk het ‘n gees van bekering beleef, ‘n ywer om gehoorsaam te wees en ‘n gretigheid om aan God se Woord te voldoen.

Namate ons almal, predikers en gemeentelede, onder die krag en beheer van God se Woord gekom het, is ons eredienste met meer as net trane van bekering gevul. Skielik is die heiligdom gevul met geluide van oorwinning, vreugde en blydskap. Daar was groot blydskap omdat ons die groot waarheid van God se Woord begin verstaan het. Mense het van blydskap uitgeroep toe hulle begin sien het wie hulle in Christus was — dat al hulle sondes by die Kruis geoordeel is en dat hulle nie meer onder God se toorn was nie.

Om die blydskap van die Here tussen sy mense te handhaaf, het God vir ‘n selfs dieper werk in die volk gevra.

God het die geween van die Israeliete gehoor en Hy het genade aan hulle betoon. Hy het hulle weeklaag in blydskap verander, sodat hulle kon jubel en juig. En nou het Hy hulle vir nog ‘n vergadering byeengeroep. Kortliks, indien Israel se vreugde gehandhaaf moes word — as hulle dit nie weer wou verloor nie — sou God dieper in hulle harte moes delf.

Sekere gedeeltes van die mense se lewens het nog nie aan God se Woord voldoen nie. Nietemin het die Here almal toegelaat om hulle vir ‘n seisoen te verbly, omdat Hy wou hê dat hulle moet weet dat hulle geliefd en veilig is. En nou, tydens hierdie toestand van aanvaarding en vreugde, het Hy hulle gevra om hulle nog meer van die wêreld af te sonder.

God het aan hierdie verheugde siele gesê: “Ek het ‘n welbehae in julle. Julle het my Woord eerbiedig, julle van sonde bekeer, julle in my genade verheug en julleself daaraan verbind om My te gehoorsaam. Nou is die tyd om op my liefde reageer. Ek wil hê julle moet julle heeltemal afsonder - breek in totaal weg van die wêreldse invloede wat in julle huise en harte ingekruip het.”

Dit is eenvoudig ‘n feit dat God se mense nie kan vorder tot in die volheid in Christus nie, tensy ons onsself toenemend afsonder van die gees van hierdie wêreld. Indien ons nie meer hemelsgerig raak en minder vasgevang word in wêreldse plesiere wat ons omring nie, sal ons stadig al die blydskap van ons bekering verloor. Die hartseer waarheid is dat baie gelowiges nie hulle redding kan geniet nie, omdat hulle nalaat om God se Woord te gehoorsaam. Gehoorsaamheid aan sy Woord is die plek waar seëninge en blydskap begin!

Israel wou nie hul buitengewone gees van vreugde verloor nie. Hulle het daarom weer byeengekom om aan God in hierdie saak gehoorsaam te wees: “En die afstammelinge van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders, en het gaan staan en belydenis doen van al hulle sonde” (Nehemia 9:2). “Hulle het onder ‘n eed en met beswering hulleself verplig om te wandel in in die wet van God ... en dat (hulle) nie (hulle) dogters sou gee aan die volke van die land, en (hulle) dogters nie sou neem vir (hulle) seuns nie” (Nehemía 10:29–30).

Let op dat Israel se omstandighede en beproewings nie verander het nie; God het hulle verander. Nehemía het ‘n jubelende Israel herinner hoe die Here aan hulle voorvaders in die woestyn voorsien het. Die Here het sy oorvloedige genade oor hulle uitgestort. Hy het hulle deur sy Gees geleer en met ‘n wolkkolom en ‘n vuurkolom hulle gelei. Hy het bonatuurlik manna en water aan hulle voorsien. En op ‘n wonderbaarlike wyse, het Hy nie eens toegelaat dat hulle klere of skoene verslete raak nie (sien Nehemia 9:19–21).

Op dieselfde wyse het God belowe om hierdie seëninge ook vandag op sy mense uit te giet. Te midde van ons beproewings, moet ons stilweg na God se Woord gaan en bid dat die Heilige Gees dit op ons harte sal skryf. Dit is hoe ons begin om sy rus en vrede binne te gaan.

Nietemin, ons kan steeds kies om soos Israel in ‘n woestyn te woon. Nehemía het aan hulle uitgewys dat hulle voorvaders God se wet verontagsaam het: “Maar hulle het wederstrewig en opstandig geword teen U en u wet agter hulle rug gewerp ... En U was baie jare lankmoedig oor hulle ... maar hulle het geen gehoor gegee nie” (Nehemia 9:29-30).

Net die blydskap van die Here voorsien ons met ware krag. Ons kan oor ons tien en twintig jaar wandel met Christus praat soveel as wat ons wil, maar as ons nie toelaat dat die Heilige Gees die Woord van die Here in ons opwek nie, sal ons vreugde van korte duur wees. Ons moet voortdurend honger na sy Woord; dit is waar blydskap begin en aanhou.

Hoe handhaaf ons die blydskap van die Here? Ons doen dit op dieselfde wyse as wat ons dit in die begin verkry het: Ons het sy Woord lief, respekteer dit en honger daarna. En ons wandel voortdurend in gehoorsaamheid deur die krag van die Heilige Gees.

Persoonlik het ek blydskap in my eie hart gevind die dag toe ek my posisie in Christus opgeëis het. Dit het gebeur toe ek ten volle geglo het dat ek, in Christus, met vrymoedigheid en versekering na God se troon kon gaan. Ek was nie langer van sonde beskuldig nie, en daar was geen toorn wat vir my gewag het nie. Die oordeel van my sonde sou nooit weer op my wees nie, omdat God dit alreeds geoordeel het deur sy Seun aan die kruis.

Vandag het God se mense iets wat die Ou Testamentiese heiliges nie eers aan kon dink nie: ‘n geregtigheid deur geloof alleen en nie deur werke nie. Verder het ons ‘n geseënde vrede met die wete dat God nie langer sonde aan ons toereken nie, omdat ons in Christus is. Dit is die lewende Woord van God; dit is om die Skrif te glo. Dit is die hoop wat die gelowige bring tot by onuitspreeklike blydskap, vrede en rus. En hierdie blydskap is ons daaglikse krag, ons deel om al ons beproewinge mee te trotseer.

Mag ons kosbare Here jou in al jou beproewinge in hierdie plek van rus inbring. En mag sy blydskap jou krag word. Amen!

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE