Herstel van Ontspoorde Lewens | World Challenge

Herstel van Ontspoorde Lewens

Gary WilkersonApril 6, 2015

Ons het almal ‘n roeping van God op ons lewens. Miskien het die Here vir jou ‘n droom gegee wat by jou roeping pas en jy het goed begin. Jy kon daardie droom werklik al begin sien vervul word, maar toe kom daar ‘n hindernis in die pad — ‘n onmoontlike situasie — en dit het jou lewe ontspoor. Jy het momentum verloor en gou was jy heeltemal van die spoor af.

‘n Gebeurtenis tydens my eerste jaar op hoërskool illustreer dit. Ek was ‘n goeie basketbalspeler in Long Island, waar ek groot geword het en toe my familie na ‘n klein Texas dorpie getrek het, het ek dus by die junior universiteitspan aangesluit. Die afrigter in Lindale het my egter as ‘n reserwe gesien, met die gevolg dat ek net kans gekry het om te speel wanneer ons span alreeds dertig punte voor was.

Toe het ons aanvangsvoorspeler seergekry en nog ‘n ou was uit die span geskop. Die afrigter het ons laat sit en gesê, “Ons is in vir ‘n rowwe tyd, ouens.” Onwillig het hy na my gekyk en gesê, “Wilkerson, ek neem aan jy is in die beginspan.” Dit was nie juis opbouende woorde nie, maar ek was opgewonde.

In my eerste wedstryd waarin ek begin het, het ek sewe doele geskiet van sewe pogings. Een was ‘n laaste sekonde gooi van die halflyn af en dit was ‘n kolskoot. Ek was die span se top doelskieter daardie dag. Toe ons die baan daardie dag verlaat het, het ek gesien dat my afrigter na my gekyk het asof hy goud ontdek het.

Maar in die volgende wedstryd, het ek net een van tien pogings verdoel en het verder sleg gespeel. Hierdie keer toe ek die baan verlaat het, het die afrigter net na my gegluur. Van toe af moes ek maar weer reserwe speel terwyl ek die res van die seisoen gesit en kyk het hoe my spanmaats speel.

Dit is maklik dat ons drome ontspoor word. Ons kan vol moed en energie begin, maar dinge verander vinnig wanneer die werklikheid inskop. Dit is dan wanneer God ons iets belangriks oor ons drome wil leer.

Jesus is ons voorbeeld wanneer ons lewens ontspoor word.

Vroeg in sy bediening het Jesus se reputasie vir genesings en wonders groot skares getrek. “En Jesus het op die berg geklim en daar met sy dissipels gaan sit...Toe Jesus sy oë opslaan en sien dat ‘n groot menigte na Hom kom” (Johannes 6:3,5).

Bybelskoliere skat hierdie skare tussen 10,000 en 15,000 mense. Die aanskoue van die groot skare moes die dissipels baie bemoedig het. Dit het bevestig dat hulle die regte man gevolg het en dat groter dinge sou gebeur. Dit moes Jesus verheug het om hulle blydskap te sien want hulle was besig om te leer om groot dinge van Hom te verwag.

Tog, terwyl die skare bymekaargekom het, het die dissipels ‘n onmoontlike dilemma in die gesig gestaar: “Toe... sê Hy vir Filippus: Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet?” (Johannes 6:5). So gou soos wat die droom verwesenlik was, so gou het die harde werklikheid ingeskop.

Is hierdie scenario aan jou bekend? Dink terug aan die eerste groot werk wat jy gehad het. Jy was opgewonde, want dit het gelyk of dit die eerste stap was in die vervulling van jou roeping. Maar na ‘n paar dae het jy agtergekom dat jou baas nie was wat hy voorgegee het nie. Jy moes met ‘n kollega saamwerk wat min van jou dink. Die eise op jou tyd was baie groter as wat jy vertel was en dit het veroorsaak dat jy kosbare tyd saam met jou familie verloor het. Jy het besef, “Ek het geen idee gehad dat dit so moeilik sou wees nie.”

Dit is hoe Filippus op daardie oomblik moes voel. Skoon verskrik het hy Jesus geantwoord, “Brood vir tweehonderd pennings sal nie genoeg wees vir hulle, sodat elkeen van hulle ‘n stukkie kan kry nie” (Johannes 6:7). Dit was ‘n groot klomp geld. Kortliks, selfs as hulle die middele en vermoë gehad het om kos te voorsien, sou dit steeds nie genoeg wees om die skare te voed nie.

As ek Filippus se reaksie lees, dan spring ‘n deel van die vers na my toe uit: “sal nie genoeg wees nie.” Hoe dikwels kom hierdie gedagte nie by my op wanneer ons struikelblokke in die gesig staar nie? Hoe dikwels wonder ons, “Ek is nie seker dat ek dit het wat dit verg nie. Ek het nie die hulpbronne nie en ek twyfel dat ek die vermoë het. Is ek sterk genoeg in Christus? Het ek genoeg van die Heilige Gees? Here, is ek oppad om te ontspoor?”

Ons kan van een ding seker wees: Daardie dag het Jesus Filippus geroep tot ‘n groot oorwinning; Filippus kon dit nog net nie sien nie. Dieselfde is waar vir ons: God het ons geroep om groot dinge in ons wandel met Hom te doen. Dus, wat gebeur wanneer ons situasie geloof vereis? Glo ons Hom vir die wonderwerk wat ons nodig het? Of word ons ontspoor deur ons beperkinge? Jesus se uitdaging aan Filippus het ‘n doel gehad: “Maar Hy het dit gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self geweet wat Hy wou doen” (Johannes 6:6).

God vra ons om Hom te vertrou vir Sy weergawe van die werklikheid, wat verder is as wat ons kan sien.

Meer as ‘n honderd jaar gelede, het ‘n Fransman opgekom met ‘n wonderlike uitvinding wat ons rolprente noem. Hy het uitgevind dat om ‘n reeks foto’s agter mekaar te rangskik en hulle dan vinnig voor ‘n helder lig te beweeg, dit die indruk gee dat die werklikheid voor sy oë afspeel.

Hierdie uitvinder het geweet dat hy iets spesiaals uitgevind het. Dus het hy ‘n premiere geskeduleer vir wat een van die bekendste publieke vertonings van ‘n rolprent sou wees. Verwagtinge was hoog terwyl hooggeplaastes en gaste die ouditorium gevul het. Die film, “Arrival of a Train at a Station,” was net vyftig sekondes lank, maar dit het ‘n kragtige uitwerking gehad — in werklikheid, te kragtig. Dit het ‘n trein gewys wat direk op die kamera afgepeil het — en sommige geskiedkundiges sê dat toe die mense dit sien, het hulle paniekbevange geword. Met geen agtergrond vir hulle ervaring nie, het hulle gedink dat dit ‘n werklike trein was wat op hulle afgepyl het en oor hulle sou ry!

Tog was dit net ‘n illusie. Die mense was oortuig dat hulle lewens in gevaar was, maar al wat hulle gesien het, was net rook en spieëls.

Dit is die truuk wat Satan met ons speel wanneer ons geloof uitgedaag word. In sulke tye lyk dit asof ons behoeftes veel groter as ons bronne is. Dit lyk of ons God-gegewe drome vernietig gaan word deur ‘n wegholtrein. Dit is wanneer die duiwel vir ons sê, “Dit is verby. Dit is heeltemal te veel vir jou.” Maar die “werklikheid” wat Satan voorstel is oppervlakkig. Die waarheid is dat Jesus groter is as enige swaarkry is wat ons in die gesig staar. Hy hou ons werklikheid in sy hande, en daardie werklikheid is oorwinning.

Wanneer alles verlore lyk in die aanskoue van ‘n aankomende trein, sê Jesus vir ons om nie te vlug nie, maar om te “gaan sit.”

Op hierdie stadium van die krisis, het Jesus aan die dissipels gesê, “Laat die mense gaan sit” (Johannes 6:10). Jesus het wat ek noem ‘n AFHANKLIKE VERTROUE gehad. Dit was gebaseer op wat Hy van die Vader geken het.

In die vorige hoofstuk, het Jesus daarvan gepraat dat Hy gesag van sy Vader ontvang het... dat Hy gesien het wat die Vader doen en dit self doen...  dat Hy die Vader se stem hoor en alles doen wat Hy beveel. Hoe het Christus hierdie dinge gesien en geken? Om seker te wees, daar was ‘n bonatuurlike element wat Jesus geken het. Hy het ook die Vader deur gebed geken. Oor en oor in die evangelies lees ons dat Christus Homself afgesonder het en baie kere die heel nag deurgebring het terwyl Hy met die Vader gekommunikeer het. Hy het dae in die berge gespandeer in gemeenskap met Hom.

Toe Hy dus die honger skare gesien het, “Hy het self geweet wat Hy wou doen” (Johannes 6:6). Christus se afhanklike vertroue was gebaseer op sy ervaring van God se werklikheid agter elke situasie. En daarom het Hy sy dissipels instruksies gegee, “Laat die mense gaan sit, omdat die Vader op die punt staan om hierdie behoefte aan te spreek. Dit is tyd om op Hom te vertrou om alles wat hierdie situasie nodig het, te voorsien.”

Vriend, God is voldoende vir elke situasie wat ons in die gesig mag staar. Die probleem is dat ons nie weet wat Hy gaan doen nie. Dit is die dilemma wat die dissipels in die gesig gestaar het. Jesus het die ervaring gehad om hulle te leer, “Dit is hoe om afhanklike vertroue in die Vader te hê.”

Is jou situasie of omstandighede op die punt waar dit nou alles van God afhang?

U mag bekommerd wees, “Ek het my gade te seer gemaak vir ons om weer reg te kom. Self huweliksberading sal nie help nie.” Of “Selfs as my kind na Teen Challenge toe gaan, sal hy altyd terugval na sy verslawing.” Of, “Ek sal nooit in staat wees om te kom daar waarvoor God my geroep het nie. Ek is nie geleerd genoeg nie. Ek het nie die hulpbronne nie. My lewe is ‘n mislukking.”

Moenie teen die behoefte vaskyk nie. Onder druk, herhaal meeste van ons oor en oor: “As ek net hierdie een ding gehad het...as ek net kon werk aan hierdie een swakheid...” Maar Jesus sê vir ons om nie teen ons behoeftes vas te kyk nie, maar na ons Voorsiener te kyk. “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe -  wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor julle liggaam - wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en julle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed hulle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?” (Matthéüs 6:25-27).

In die Ou Testament toe dinge onmoontlik vir Koning Asa gelyk het, het hy sy oë op sy Voorsiener gehou en nie op sy probleem nie. Toe die koninkryk omring was deur ‘n magtige vyand met geen hoop in sig nie, het Asa kortliks gebid, “Here, ek weet nie wat om te doen nie, maar my oë is op U gerig.”

Jesus het ons gewys dat ons dank moet betuig te midde van ons situasie. Terwyl Hy na die die uitgehongerde massas gekyk het met net ‘n handvol vissies en broodjies, het Jesus God gedank: “En Jesus het die brode geneem en nadat Hy gedank het, deel Hy dit uit” (Johannes 6:11).

Praat van afhanklike vertroue; Jesus het die Vader gedank nog voor die behoefte aangespreek was -  en ‘n wonderwerk het gebeur: “En nadat hulle versadig was, sê Hy vir sy dissipels: Maak die brokstukke bymekaar wat oorgeskiet het, sodat niks verlore gaan nie. Hulle maak toe bymekaar en het twaalf mandjies gevul met brokstukke van die vyf garsbrode wat oorgeskiet het by die wat geëet het. Toe die mense dan die teken sien wat Jesus gedoen het, sê hulle: Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom” (Johannes 6:12-14).

Jou situasie is nie afhanklik van jou hulpbronne nie. Dit is afhanklik van God s’n. “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Filippense 4:19).

Jy mag jou hart voor God uitgehuil het oor jou behoefte. Nou is nie die tyd om oor jou mislukkings te tob nie. In plaas daarvan, is dit tyd om jouself aan God se goedheid te herinner. Dit is tyd om op te hou om oor jou groot nood bekommerd te wees en in plaas daarvan moet jy Hom dank. Dit is tyd om by jou geloofsfamilie krag te kry as jy dit nie vir jouself het nie. Wees gerus, jou God is op die punt om Homself as magtig in jou lewe te vertoon. Glo dit — en vind jou rus in Hom!

Download PDF