Hierdie Manne Was By Jesus | World Challenge

Hierdie Manne Was By Jesus

David WilkersonSeptember 17, 2001

In Handelinge 3, kort na die opstanding, vind ons Petrus en Johannes op pad na die tempel om te aanbid. Net buitekant die tempelpoort, het ‘n bedelaar, wat van sy geboorte af kruppel was, gesit. Hierdie man het nog nooit in sy lewe ‘n tree geloop nie. Hy moes daagliks gedra word na die poort om te bedel vir ‘n lewe.

Toe die bedelaar Petrus en Johannes gesien aankom het, het hy vir hulle vir aalmoese gevra. Petrus het hom geantwoord, “Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou” (Handelinge 3:6). Petrus het toe vir die bedelaar gebid en gesê, “In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!” (Handelinge 3:6). Onmiddellik was die man genees. In uiterste blydskap het hy begin om deur die tempel te hardloop, terwyl hy op en af gespring en uitgeroep het, “Jesus het my genees!”

Almal in die tempel was in verwondering oor die toneel. Hulle het die man herken as die kreupele, wat jarelank by die poort gesit en bedel het. Toe Petrus en Johannes sien dat die skare bymekaarkom, het hulle begin om Christus te verkondig. Hulle het vrymoedig gespreek en by die mense aangedring, “Kom dan nou tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom” (Handelinge 3:19). Duisende was gered: “En baie van die wat die woord gehoor het, het geglo; en die getal van die manne het omtrent vyfduisend geword” (Handelinge 4:4).

Terwyl Petrus en Johannes gepreek het, het die owerstes van die sinagoge “op hulle afgekom, baie ontevrede” (Handelinge 4:1-2). Hierdie afvallige herders was kwaad, dat God ‘n wonderwerk deur Jesus se dissipels gedoen het. En hulle het daarop gereageer deur Petrus en Johannes in die tronk te gooi. Die volgende dag, het hulle die twee dissipels voor die Raad gebring. En elke godsdienstige gesag in Jerusalem was teenwoordig: “Ook Annas, die hoëpriester, en Kájafas en Johannes en Alexander en almal wat van die hoëpriesterlike familie was” (Handelinge 4:6). Hierdie hoë en magtige manne het die dissipels gevra, “Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?” (Handelinge 4:7).

Wat ‘n skynheilige vraag! Hierdie mans het presies geweet Wie se naam hulle verkondig het. Hulle het gesien hoe ‘n kreupel man rondhardloop en uitroep dat Jesus hom genees het. Hulle het gesien hoe 5,000 mense hulle sondes bely en Christus se Naam aanroep om hulle te reinig. Hulle het selfs gesien hoe sommige van hulle eie priesters bekeer word en bely, dat hulle gehelp het om die Seun van God te kruisig. Hierdie leiers moes geweet het dat daar krag in Jesus se Naam was. Maar hulle het doelbewus hulleself blind gehou daarvoor.

Skielik was Petrus deur die Heilige Gees vrymoedigheid gegee. Hy het die leiers geantwoord, “Sy Naam is Jesus Christus van Násaret, die man wat julle net weke gelede gekruisig het. God het Hom uit die dood opgewek. En nou is Hy die mag wat hierdie man genees het. Niemand kan gered word deur enige ander naam nie. Julle is verlore as julle nie julle op Christus se Naam beroep nie” (sien Handelinge 4:9-12).

Die owerstes van die sinagoge was stomgeslaan. Die Skrif sê, “En toe...was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken” (Handelinge 4:13). Die frase “herken” kom van ‘n basiswoord wat beteken “bekend deur een of ander onderskeidende teken of kenmerk.” ‘n Krag het van Petrus en Johannes besit geneem. En dit het hulle onderskei van al die ander wat voor daardie Raad verskyn het. Hierdie krag was so duidelik vir almal, dat die leiers “niks daarteen [kon] sê nie” (Handelinge 4:14).

Wat was hierdie kenmerk wat Petrus en Johannes onderskei het? Dit was die teenwoordigheid van Jesus. Hulle het Christus se gestalte en Gees gehad. Die owerstes van die sinagoge het besef, “Ons het Jesus gekruisig. Tog spreek Hy steeds vandag — doen wonderwerke, verkondig bekering, werk in die mense — deur hierdie ongeleerde twee manne.”

In daardie uur, het Petrus en Johannes Jesus se gebod om van Hom te getuig deur in “Jerusalem” te begin, volbring. Jy sien, hulle het getuig deur Jesus se teenwoordigheid in hulle lewens. Net so, glo ek dit sal God se kragtige getuienis wees in hierdie laaste dae. Dit sal nie kom deur prediking alleen nie. Dit sal kom deur manne en vroue wat “metgeselle van Jesus” is: hulleself met Hom afsonder, tyd deurbring in sy teenwoordigheid, Hom soek met hulle hele hart en siel. Die Heilige Gees sal sulke dienaars onderskei met sy krag. En die wêreld sal van hulle sê, “Daardie persoon was by Jesus .”

Hier is vier kenmerke van diegene wat by Jesus was:

Diegene wat tyd saam met Jesus deurbring, kan nie genoeg van Hom kry nie. Hulle harte roep gedurig uit om die Meester beter te leer ken, om nader aan Hom te kom en om te groei in die kennis van sy weë.

Paulus verklaar, “Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus” (Efésiërs 4:7). “Die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het” (Romeine 12:3). Wat is hierdie “maat” waarvan Paulus praat? Dit beteken ‘n beperkte aantal. Met ander woorde, ons het almal ‘n sekere hoeveelheid van die reddende kennis van Christus ontvang.

Vir sommige gelowiges, is hierdie inisiële maat al wat hulle ooit begeer. Hulle wil net genoeg van Jesus hê om oordeel te ontvlug, om vergewe te voel, om ‘n goeie reputasie te behou en om ‘n uur van kerk elke Sondag te verduur. Sulke mense is in “instandhoudingsmodus.” En hulle gee Jesus slegs die basiese vereistes: kerkbywoning, ‘n gemompelde daaglikse gebed, miskien ‘n vinnige kykie na die Skrif. Kortliks, hierdie Christene vermy dit om te naby aan Christus te kom. Hulle weet as hulle meer van sy Woord lees of enige tyd in gebed deurbring, sal die Heilige Gees eise op hulle lewens stel. En die een ding wat hulle nie sou wou verander nie, is hulle lewenstyl. In hulle oë, word alles wat hulle van waarde ag in die weegskaal geplaas as hulle Jesus leer ken.

Paulus het egter die volgende vir elke gelowige begeer: “En Hy het gegee sommige as apostels...profete...evangeliste...herders...leraars, om die heiliges toe te rus...totdat ons almal kom tot...die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus, sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur bedrieëry van die mense...om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus” (Efésiërs 4:11-15).

Paulus het in wese gesê, “God het hierdie geestelike gawes gegee sodat julle gevul kan word met Christus se Gees. Dit is deurslaggewend, omdat verleiers kom om julle van julle geloof te beroof. As julle in Christus gewortel is en in Hom opgroei, sal geen misleidende leerstelling julle ooit laat wankel nie. Die enigste manier om so ‘n volwassenheid te ontwikkel, is deur meer van Jesus te hê.”

Nie elke Christen streef na hierdie volwassenheid nie. Baie gelowiges verkies ‘n evangelie wat net van genade, liefde en vergifnis praat. Natuurlik is dit wonderlike Bybelse waarhede. Maar volgens Paulus, bestaan dit uit basiese melk en nie die vaste spys wat ‘n volwasse lewe nodig het nie. Hoe kan jy tot volle grootte in Christus groei as jy weier om ‘n evangelie te hoor wat jou uitdaag om die Here te soek en in sy heiligheid te wandel?

Hebreërs sê vir ons, “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebreërs 5:12-14).

Die skrywer sê, “Julle het lank genoeg onder goeie lering en prediking gesit. Teen hierdie tyd behoort julle self leraars te wees. Tog, na al die jare, is hulle steeds op dieselfde plek as die dag waarop julle gered is. Julle weet niks van die vaste spys van God se Woord nie. Julle is steeds onvolwasse en nie ten volle opgegroei in sy geregtigheid nie.”

Dit is jammer dat dít die rede is waarom so baie Christene val vir elke geestelike gier wat verbykom. Hulle word maklik op ‘n dwaalweg gebring en jaag agter dwaasheid aan. Maar ‘n volwasse gelowige word nie so maklik van sy plek van gebed af weggeneem nie. Hy weet dit is waar ware herlewing gebeur. En sy onderskeiding groei altyd, omdat hy kwaliteit tyd saam met Jesus deurbring.

Baie lesers op ons briewelys druk hulle frustrasie uit oor hulle lewelose kerk of hulle herder se dooie preke. Hulle skryf, “Ons kan nie gemeenskap vind wat enige vuur het nie. Ons is honger, maar ons groei nie.” Sommige mense eindig hulle briewe op ‘n klaende noot. Ander gaan egter verder voort om te sê hulle het besluit om eenvoudig meer tyd saam met Jesus deur te bring, in gebed en in sy Woord. Hulle briewe word maklik van die ander onderskei. Die Gees van Christus skyn uit elke reël.

Jy ken waarskynlik sulke dienaars. Hulle is altyd gretig om een of ander nuwe waarheid, wat hulle uit hulle tyd saam met die Here geleer het, te deel. Trouens, waarmee jy ook al jou hart vul, kan nie anders as om in jou lewe uit te kom nie. In teenstelling, luister na ander Christene se geselskap. Hulle is vasgevang in sport, films, TV, die internet, modes en haarstyle. Jy kan agterkom waar die meeste van hulle tyd en energie gebruik word. Hulle word gekenmerk deur hulle verslawings.

Diegene wat hulleself egter saam met Jesus afsonder, word voorberei vir die komende dae. Hulle het reeds diep in hulle siele die vertroosting van Christus ontvang. En hoewel die hele wêreld paniekerig is, bly hierdie gelowiges gerus.

Hoe meer iemand by Jesus is, hoe meer word daardie persoon soos Christus, in reinheid, heiligheid en liefde. Op sy beurt, produseer sy rein wandel ‘n groot vrymoedigheid vir God binne-in hom. Die Skrif sê, “Die goddelose vlug sonder dat daar ‘n vervolger is, maar die regverdiges voel hulle veilig soos ‘n jong leeu” (Spreuke 28:1). Die woord vir veilige in hierdie vers beteken vrymoedig, versekerd. Dit is presies die soort van vrymoedigheid wat die owerstes van die sinagoge in Petrus en Johannes gesien het.

Die Bybel gaan nie in op veel besonderhede in hierdie toneel nie. Tog kan ek jou verseker dat die godsdienstige leiers dit alles georkestreer het om vol prag en praal te wees. Eerstens het die hoogwaardigheidsbekleërs plegtig hulle fluweelagtige sitplekke ingeneem. Dan het die hoëpriester se familielede gevolg. Laastens, in ‘n oomblik van stille afwagting, het die hoëpriesters met hulle mantels ingeparadeer. Almal het gebuig terwyl die priesters verbygegaan het en styf met die gangetjie na die regterstoel geloop het.

Alles was bedoel om Petrus en Johannes te intimideer. Dit was asof die owerstes gesê het, “Neem ‘n nugter kyk, vissermanne. Beskou die krag en gesag waarmee julle te doen het. Julle beter versigtig praat met hierdie owerstes. Hulle is belangrike, hoogs gerespekteerde manne.”

Maar die dissipels was glad nie geïntimideer nie. Hulle was by Jesus vir te lank. Ek verbeel my Petrus dink, “Kom nou, laat ons hierdie vergadering aan die gang kry. Gee my die preekstoel en laat my los. Ek het ‘n Woord van God vir hierdie vergadering. Dankie, Jesus, dat U my toelaat om u Naam aan hierdie Christenhaters te verkondig.”

Skielik het die hofklerk vir die dissipels geskree, “Staan op en kyk na die regter.” Petrus en Johannes het opgekyk en die hoëpriester na hulle sien staar in ‘n doodse stilte. Die priester het toe in ‘n baie amptelike stem gesê, “Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?” Hy het met ander woorde gesê, “Ons is die wet hier rond. En ons het julle nie die gesag gegee om hierdie dinge te doen nie. So, deur watter gesag het julle opgetree?”

Net die volgende vers begin met, “Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees...” (Handelinge 4:8). Dit vertel vir my Petrus was nie van plan om een of ander lesing te gee nie. En dit sou nie stil of stemmig wees nie. Petrus was man wat deur Jesus besit was, borrelend met die Heilige Gees. Onthou, die twee dissipels het net onlangs van die bovertrek af gekom. Praat van “by Jesus ”: Petrus en Johannes het gemeenskap met die opgestane Christus gehad. En nou was Petrus beheers deur die Gees van die opgestane Here self. Daardie owerstes van die sinagoge was op die punt om vuur uit die hemel te beleef.

Ek stel my voor Petrus het nie op een plek gestaan of dat hy met ‘n gedempte stem gepraat het nie. Ek sien hom eerder heen en weer loop in die hofsaal, sy vinger wys en uitroep, “Julle ouderlinge van Israel vra, ‘Deur wie se gesag was hierdie man genees?’ Laat my julle vertel.” Volgens Handelinge 4, was Petrus se preek net vier verse lank. Maar ek glo dit is net ‘n opsomming van wat die apostel gepreek het. Ek verbeel my Petrus het gesê, “Luister almal. Dit was in Jesus Christus se Naam dat hierdie wonderwerk gebeur het. Dit het plaasgevind deur sy gesag alleen. Julle onthou Hom, omdat julle Hom gekruisig het. Maar God het Hom uit die dood uit opgewek. Hy leef. En alles wat julle vandag sien, was deur sy krag verrig.”

Ons het reeds gelees dat “die regverdiges voel hulle veilig soos ‘n jong leeu” (Spreuke 28:1). Eerstens, God se dienaars is verseker van hulle identiteit in Christus. En tweedens, staan hulle met vertroue op Jesus se geregtigheid. Daarom het hulle niks om weg te steek nie. Hulle kan voor enigeen staan met ‘n skoon gewete.

Petrus het hierdie soort van versekering gehad toe hy gepreek het. Sy doel was nie om daardie godsdienstige leiers te veroordeel of te verkleineer nie. Hy wou net gehad het hulle moes hulle sonde sien en hulle bekeer. Dit is waarom hy hulle ‘n altaar oproep gegee en gesê het, “Want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie?” (Handelinge 4:12).

Paulus skryf dieselfde, terwyl hy eers verklaar, “Ons [het] in onse God vrymoedigheid gehad om aan julle die evangelie van God te verkondig” (1 Thessalonicense 2:2). Dan ‘n paar verse later, maak die apostel dit duidelik, “Maar ons was vriendelik onder julle soos ‘n pleegmoeder haar kinders koester” (1 Thessalonicense 2:7).

Diegene wat tyd in Jesus se teenwoordigheid deurbring, word versekerd. Dit is waarom hulle nie bang is om die waarheid te spreek nie. Hulle het egter nie nodig om hulle boodskap met ‘n arrogante stem te lewer nie. In elke omstandigheid, het hulle die evangelie in liefde en genade verkondig.

In die komende dae, gaan dit belangrik wees om hierdie moedige versekering te hê. Die winde van politiese korrektheid het reeds Jesus se Naam ‘n misdryf gemaak vir baie. Binnekort, gaan baie gelowiges vervolging beleef en die onvoorbereides sal swig onder die druk. Hulle sal op die ou end ineenkrimp voor Christenhaters.

Tydens my onlangse sendingreis in Oos-Europa, het ‘n Poolse pastoor vriend my vertel van die stand was hy moes inneem gedurende die Kommunistiese jare. Hy het in ‘n fabriek gewerk en sy voorman het vir hom gesê die Party se base sou kom vir ‘n belangrike vergadering. Die Party sou gasheer wees vir sekere buitelandse hoogwaardigheidsbekleërs en hulle het die pastoor nodig gehad om te tolk. My vriend het ingestem op een voorwaarde: Ek is ‘n Christen. Ek dien Jesus. So, ek sal nie drink nie.” Hy het geweet dat vodka in daardie vergaderings gevloei het en hy sou gevra word om deel te neem. Maar die voorman het ingestem dat hy nie nodig sou hê om iets saam te drink nie.

Die volgende dag toe die vergadering begin het, was die vodka omgestuur. Die Kommuniste baas het daarvan geneem en daarna het die voorman. Maar toe die bottel by die pastoor kom, het hy geweier. Almal het ontsteld opgekyk. Hulle het by hom aangedring om iets saam met hulle te drink. Die Party-baas het na die voorman gekyk, asof hy sê, “Waarom drink hy nie? Dink hy hy is beter as ons?” Die voorman het woedend na die pastoor gegluur. Maar steeds het die bedienaar nee gesê.

My vriend was gereed om dadelik tronk toe te gaan. Hy kon vervolg, gemartel en jarelank van sy geliefdes geskei word. Maar in sy gemoed, was daar geen keuse as om te gehoorsaam nie. Hy het hoegenaamd geen vrees gehad nie. Waarom? Hy het tyd saam met Jesus deurgebring. Dit is die enigste manier waarop iemand in daardie omstandighede sulke krag kan besit.

Die volgende dag, het sy voorman hom geroep. “Jy is ‘n gelukkige man,” het hy gesê. “Na die vergadering het die Party-baas my geroep. Hy het gesê as hy ooit iemand nodig sou hê om op ‘n spesiale sending te gaan, wil hy vir jou hê.”

Daardie leiers was in verwondering oor die pastoor se moed en sekerheid. Hulle het geweet hy was nie bang vir enigiets nie, wat die dood ingesluit het. Selfs die heidene herken dat sulke moed net kom deur by Jesus te wees.

Terwyl Petrus en Johannes gestaan en wag het vir ‘n oordeel om uitgespreek te word, het die geneesde man langs hulle gestaan. Daar, in vlees en bloed was lewende bewyse dat Petrus en Johannes by Jesus was. Nou, terwyl die owerstes van die sinagoge toegekyk het, en “die man wat genees was by hulle sien staan, kon hulle niks daarteen sê nie” (Handelinge 4:14). Die owerstes het saamgedrom en gefluister, “Wat kan ons doen? Dit is vir almal in Jerusalem duidelik dat hulle ‘n ware wonderwerk verrig het. En ons kan dit nie ontken nie” (sien Handelinge 4:16). Daarom het hulle die dissipels laat gaan.

Wat het Petrus en Johannes gedoen toe hulle vrygelaat is? “Hulle [het] na hulle eie mense gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het” (Handelinge 4:23). Die heiliges in Jerusalem het saam met die twee dissipels gejubel. Hulle het gebid: “En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat U u hand uitstrek tot genesings, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind” (Handelinge 4:29-30). Hulle het in wese gebid, “God, dankie vir die vrymoedigheid wat U vir ons broeders gegee het. Maar ons weet dit is net die begin. Hou ons asseblief moedig om met heilige versekering te praat. En voorsien sigbare bewyse dat U met ons is.”

Petrus en Johannes het ongetwyfeld die kyk van gelate aanvaarding op die hoëpriester se gesig gesien toe hy besef hulle was by Jesus . Petrus moes moes vir Johannes geknipoog en gesê het, “As hulle maar net geweet het. Hulle onthou net dat ons by Jesus was ‘n paar weke gelede. Hulle besef nie ons was by die opgestane Meester sedertdien nie. Ons was pas by Hom in die bovertrek. Vanoggend was ons by Hom toe ons in ons tronkselle gebid het. En sodra ons hier uitkom, gaan ons Hom weer ontmoet, saam met die broeders.”

Dit is wat gebeur met manne en vroue, wat tyd saam met Jesus deurbring. Wanneer hulle weggaan van hulle alleen tyd saam met Christus, is Hy met hulle waar hulle ook al gaan.

As ‘n krisis tref, het jy nie tyd om jouself op te bou in gebed en geloof nie. Maar diegene wat by Jesus was, is altyd gereed.

‘n Paartjie het onlangs aan ons bediening geskryf in ‘n gees, wat geopenbaar het dat hulle by Jesus was. Hulle brief het ‘n ondenkbare tragedie beskryf. Hulle 24-jarige dogter was uit saam met ‘n vriendin toe ‘n kranksinnige man beide jong meisies ontvoer het. Hy het hulle na ‘n afgesonderde plek geneem, waar hy die dogter se vriendin laat gaan het. Toe het hy die dogter op ‘n grusame manier vermoor.

Toe die polisie beskryf wat gebeur het, het die paartjie aan skok gely. Hulle vriende en bure het gewonder, “Hoe kan enige ouer hierdie soort tragedie oorleef? Hoe kan hulle lewe met die grusame gedagte van wat met hulle dogter gebeur het?” Binne ‘n uur, het die Heilige Gees egter na daardie bedroefde paartjie gekom en bonatuurlike vertroosting gebring. Natuurlik het daardie treurende ouers in die pynlike dae wat daarop gevolg het, vir God aangehou vra waarom. Tog het hulle die hele tyd goddelike rus en vrede beleef.

Almal wat hierdie ouers geken het, was verstom oor hulle kalmte. Daardie paartjie was egter voorbereid vir hulle krisistyd. Hulle het die hele tyd geweet dat God nooit iets sou toelaat sonder ‘n onderliggende doel nie. En toe die verskriklike nuus gekom het, het hulle nie ineengestort nie.

In werklikheid het hierdie ouers en hulle oorblywende kinders gou daarna vir die moordenaar begin bid. Die mense in hulle eie dorp kon dit nie aanvaar nie. Hulle het vir bloed geroep. Maar die goddelike paartjie het gepraat en onderrig oor God se vermoë om krag te voorsien, maak nie saak wat hulle moontlik mag beleef nie. Die dorpsmense het herken dat hulle krag net van Jesus gekom het. Gou het hulle van die goddelike paartjie gesê, “Hulle is ‘n wonderwerk. Daardie mense is waarlik Jesus-mense.”

Ek het ‘n voorbeeld van so ‘n sigbare krag in Moskou gesien waar ek met 1,200 pastore gepraat het. Hierdie bedienaars het van oral oor Rusland gekom, selfs so ver weg as Siberië. Terwyl ek gepraat het, het die Heilige Gees my gelei om vir hulle te vra of enigeen oorweeg het om die bediening te verlaat. Honderde het vorentoe gestormloop en almal het gebed gesoek. Ek het gedink, “Here, ek het nie dit verwag nie. Wat wil U hê moet ek met al hierdie herders doen?”

Die Heilige Gees het my herinner aan die maande wat ek in gebed deurgebring het vir hierdie bedienaars. Hy het my ook herinner aan die liefde wat God in my hart geplaas het vir hulle. Trouens, Hy het my gelei om te bid dat elke herder wat na die konferensie gekom het, dit genees en bemoedig sou verlaat. Toe het ek besef God was besig om daardie gebed te beantwoord op ‘n manier wat ek nooit aan sou kon dink nie. Ek was by Jesus al daardie maande tevore en nou het Hy saam met my daar gestaan. Die Gees het gefluister, “Bid vir hulle in die naam van Jesus. Ek sal hulle herstel.”

Terwyl ek gebid het, het ‘n heilige gebrokenheid oor daardie manne gekom. Gou was daar ‘n sagte geween en blye lofprysing. Ek het sigbare wonderwerke van genesing en vernuwing onder daardie herders gesien. Onlangs, het ons Russiese kontak vir ons geskryf oor die Gees se blywende werk sedert daardie dag: “Ons hoor van getuienisse van oral. Daardie herders het teruggekeer na hulle gemeentes en gesê, ‘Ek kom huistoe om Jesus te verhoog.”

Gedurende een vergadering in Rusland, het ek gepraat met ‘n pastoor, wat vir agtien jaar in die tronk was. Hierdie man se gesig het sigbaar met Christus geskyn. Vandag hou hy toesig oor 1,200 kerke in Rusland. Hy het egter ontsaglike swaarkry in die tronk beleef. “Jesus was vir my werklik,” het hy getuig, “meer werklik as wat ek ooit in my leeftyd geken het.”

Weens sy karakter, wat soos Christus s’n was, was hierdie bedienaar gerespekteer deur almal in die tronk, insluitende verharde gevangenes en kwaadwillige wagte. Toe eendag, het die Heilige Gees vir die pastoor gefluister, “Binne drie dae gaan jy vrygelaat word.” En Hy het die bedienaar beveel om daaroor te getuig.

Die pastoor het dadelik ‘n boodskap na sy vrou en gemeente gestuur oor die Heilige Gees se openbaring. Toe het hy sy mede gevangenes begin vertel wat God vir hom gesê het. Hulle het hom uitgelag en gespot en gesê, “Niemand was nog ooit uit hierdie plek vrygelaat nie.” Die wagte het hom ook gespot en geterg, “Jy sal hier doodgaan, prediker.”

Toe die derde dag aanbreek, en die aandlug donker geword het, het ‘n wag by die pastoor ingekyk en sy kop geskud. “Wat se God het jy,” het hy gegrynslag.

Toe, net na 11 p.m., het die luidspreker aangegaan. ‘n Stem het die gevangene se naam uitgeroep. “Kom dadelik na die kantoor toe,” het die stem aangekondig. “Jy word vrygelaat.”

Al die gevangenes en wagte was stomgeslaan. Terwyl die pastoor verbygeloop het, het hy elkeen gegroet en sy beste wense oorgedra. Toe hy uiteindelik deur die tronkdeure geloop het, het hy sy vrou gesien waar sy vir hom gewag het met ‘n bos blomme. Toe die pastoor haar omhels, het hy omgekyk na die tronk waar hy agtien jaar deurgebring het. Sy mede gevangenes het almal by die vensters gestaan. En hulle het op die toppunt van hulle stemme geskree, “Daar is ‘n God! Daar is ‘n God! Daar is ‘n God!”

God het vir hulle sigbare bewyse gegee. En dit het deur daardie goddelike pastoor gebeur, wat elke dag by Jesus was gedurende sy agtien jaar vonnis.

Wat groter bewyse van God kan daar wees as ‘n enkele lewe verander deur die bonatuurlike krag van Chrisus? Mag dit van jou gesê word, “Daardie man, daardie vrou, was by Jesus.” En mag niemand in staat wees om dit te ontken nie.

Download PDF