Hy Laat Oorloë Ophou | World Challenge

Hy Laat Oorloë Ophou

David WilkersonJuly 1, 1984

“Wat oorloë laat ophou...” (Psalm 46:10).

Watter welkome nuus vir die kind van God wat verpletter en verskeur is deur die oorlog in die siel: Hy laat oorloë ophou. Geseënde verligting; die oorlog in my siel is Sý oorlog, en Hý alleen kan dit laat ophou. My liefdevolle Vader sal nie toelaat dat die vlees of die duiwel my boelie tot in ‘n nederlaag nie.

My oorlog word duidelik gedefinieer deur Jakobus wat geskryf het:

“Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? .... Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie” (Jakobus 4:1,2).

Dwarsdeur die eeue heen, het heilige mense van God dieselfde vraag gevra, “Sal die begeerte-oorlog binne-in my ooit einde kry terwyl ek nog lewe?” Is dit nie dieselfde vraag wat vandag gevra word deur diegene wat die Here volkome liefhet nie?

Die antwoord is natuurlik dat die oorlog moet en sal ophou, en dit sal onvermydelik gevolg word deur die grootste vrede ooit bekend. Maar hoe eindig die oorlog, en wie beëindig dit? As dit mý oorlog is en mý plig is om dit te beëindig, moet God vir my wys hoe. As dit werklik Sý oorlog is, dan moet Hý dit beëindig op Sý tyd en op Sý manier – en vir my die geduld gee terwyl die geveg voortgaan.

Die Griekse woord wat deur Jakobus gebruik word, is “stratenomai” wat dui op: ‘n Oorlog teen vleeslike neigings; ‘n soldaat in die oorlog. Dit word afgelei van “Stratia” wat beteken: ‘n Leërskare, ‘n leërmag wat ons omsingel. Het Dawid nie gepraat van leërs wat ons omsingel nie? Ons begeertes en vleeslike neigings kom teen ons soos ‘n leërmag, ‘n goddelose leërskare vasbeslote om ons te ondermyn en in onrus te hou met die hoop om ons geloof te laat skipbreuk ly.

As jy die Hebreeuse woord vir oorlog bestudeer wat Dawid in Psalm 46:10 gebruik, word dit ‘n oorsaak van groot gejubel. Dit is “Milchamah” wat beteken: Om op te voed, verteer, verslind, vreet, oorwin. Dit is afgelei van ‘n stamwoord wat kos of brood vir ‘n dier voorstel.

Wat die woord eintlik vir ons hier sê, is eenvoudig wonderlik: God gaan die vyand keer om ons te verteer, om ons te verslind. Hy sal help ons ontslae raak van dit wat aan ons vreet. Hy sal nie langer toelaat dat begeertes aan ons vreet of ons oorweldig nie. Ons sal nie langer kos wees vir die dier se natuur nie. God sal veroorsaak dat ons begeerte-oorlog ophou.

God se doel vir ons is rus en vrede van alle oorloë.

God se uiteindelike doel vir al Sy kinders is oorvloedige lewe, ‘n vol lewe. Hy het nooit beplan dat ons deur die lewe gaan gefokus op ons sondes en mislukkings nie. Die goeie nuus van die evangelie is dat ons ‘n God van absolute liefde dien – ‘n God van barmhartigheid wat begeer om Sy geliefdes na ‘n plek van verhewenheid bo alle onrus te bring. Maar ons kan nie ons plek waar ons saam met Christus sit in die hemelse plekke inneem nie, totdat ons volkome identifiseer met Sy dood en opstanding.

Daar kan geen deurbraak wees na ‘n opstandingslewe sonder om die dood by die Kruis te beleef nie. Die Heilige Gees het binne-in ons ‘n wete geplaas dat ons nooit waarlik kan lewe totdat ons waarlik sterwe nie. Dit lyk asof ons weet ons het ‘n afspraak met die dood, ‘n bestemming rakende die Kruis van Christus.

Kyk goed na waar jy is, met al die vrese, die leegheid, die eensaamheid, die mislukkings, en die kompromieë met sonde. Beskou hoe min van die Here se beloofde vrede jy werklik besit. Jy het skiet ver te kort aan wat jy weet ‘n seëvierende Christelike lewe moet wees. Tog weet jy God se Woord praat duidelik van oorwinning, van rus en vrede, van vryheid van sonde se heerskappy. Jy het ander gesien wat deurgebreek het na daardie pragtige lewe van versekering en heerskappy oor bose magte. Hoe het hulle by so ‘n oorwinning uitgekom? Hoe sal jý deurbreek?

Die Heilige Gees moet ons bring by die Kruis en ons die werklikheid van sterf vir die wêreld en sonde laat beleef. Die oomblik waarop jy die Here pligsgetrou begin soek en begeer om onder Sy heerskappy in alles te kom, sal jy onweerstaanbaar getrek word deur die Gees na die Kruis. Jy sal getrek word na die afgrond van die dood. Jy sal raadop wees met jouself. Jy sal kom na daardie plek, gestroop, verswak en met geen vertroue in jou vlees meer nie.

Die laaste flirtasie

Ek is oortuig die Heilige Gees bring Sy kerk terug na die heerlike waarhede van identifisering met Christus in dood, opstanding en hemelvaart. Te veel mense het wetties geword en ons het meer as dikwels ‘n program van heiligmaking vervang met werke eerder as deur identifisering met Christus se volmaakte werk aan die Kruis. Ek sê dikwels die bovertrek moet nooit die Kruis oorskadu nie. Ek glo die hele Charismatiese beweging word teruggebring na die Kruis en alles waarvoor dit staan.

Ek kan nie namens ander praat nie, maar ek weet God het ‘n moeilike tyd om my sover te kry om die Kruis in die oë te kyk. Die dood is ‘n verskriklike ding, veral as jy nie die heerlikheid aan die ander kant daarvan kan sien nie.

Ons kom by die Kruis terwyl ons skop en skree en gryp na elke bietjie gemak van aardse plesier. Ons weet die Kruis is onvermydelik, so ons neem ons laaste treë deur ons oor te gee aan elke sinsgenot en een geniet laaste flirtasie. Dit lyk asof ons sê, “Eet, drink en wees bly, want môre sterf ons.”

Ons wil oorwinning hê; ons wil die vrede en blydskap van die opstandingslewe hê – maar ons wil ook alles hê wat ons kan kry met een laaste flirtasie. Daardie flirtasie mag nogal ‘n lang tyd duur, en mens mag dalk diep in kompromie verval. As die hart nie gerig word op die Kruis in hierdie tyd nie, is daar ‘n risiko om in wetteloosheid en neerslagtigheid te verval. Dit kan dan ‘n baie lang pad terug wees.

In die natuurlike, doen siekte sy ergste werk in die liggaam net voor die dood; net so is dit in die gees. Jy mag dalk op jou heel ergste wees net voor jy sterf saam met Christus. Die hel sal op jou afstorm met elke plan in sy arsenaal. Jy sal beproewing en versoekings beleef wat met ‘n orkaansterkte teen jou kom. Jy sal met tye wonder of jy verlore is, eerder as op pad is na die Kruis.

Harry Foster, ‘n vroom man van God, het geskryf, “Daar mag op jou neerdaal ‘n soort duisternis, ‘n soort apatie; meer as dit, ‘n wanhoop, ‘n swarigheid, ‘n sin van die onwerklikheid van dinge, en dit word ‘n groot toetsgrond.”

God sien nie sonde oor nie, maar Hy is altyd tog so geduldig met diegene wat op die drumpel staan van gekruisig word saam met Christus. Deesdae beleef ek daardie wonderlike geduld van die Here soos ek nader en nader aan die Kruis beweeg. Ek weet die enigste weg na heerlike oorwinning is deur die deurbraak by die Kruis deur die kruisiging van self. Maar, hoe nader ek kom aan ten volle identifiseer met Sy dood, Sy Kruis, hoe meer mislukking sien ek in my lewe. Dit lyk asof Satan self my hoor uitroep het in my siel, “Here, ek wil ‘n deurbraak hê.” Die vuuroond van verdrukking en versoeking was verskeie kere warmer. En ja, ek het die Here gefaal op ernstige manier gedurende hierdie ernstige aanslae. Maar deur dit alles heen, het ek soos nog nooit tevore, die Here se teenwoordigheid gevoel in die Gees se bearbeiding. Hy het my stil verseker van Sy ewigdurende liefde, ten spyte van enige mislukkings. Hy het my verseker dat Hy my al die pad sal deurdra – en dat die vyand my kan aanval, maar hy kan die onvermydelike nie keer nie. Ek gaan kom, deur openbaring, tot die volle kennis van wat dit beteken om saam met Christus gekruisig te wees, met Hom begrawe is, en opgewek is in nuwigheid en krag.

Ons kan nie ons oorlog beëindig nie – en ons kan onsself nie kruisig nie.

Daar is verskeie skrifte wat aandui dat ons ons lewe op die aarde moet doodmaak – laat sterf – kruisig. Ons word beveel om ons kruis op te neem en Christus te volg. Maar dit beteken nie dat ons dit in ons eie krag moet doen nie.

Veronderstel ‘n snydokter ontdek ‘n knop op my nek wat hom bekommer, en hy sê vir my, “Daar moet dadelik daarop geopereer word.” Hy stel nie voor ék doen die operasie nie – dit is sý werk. Christus, ons Groot Geneesheer, sê vir ons, ons moet doodgemaak en gekruisig word. Maar dit sou vir ons noodlottig wees om so ‘n operasie op onsself uit te voer. So seker as wat ons “bewaar word deur die krag van God deur geloof tot verlossing” – so word ons gekruisig deur geloof.

Dr. Donald Barnhouse, in ‘n boodskap getiteld “Hemel Nou,” skryf, “’n Mens kan homself hang, homself verdrink, homself skiet, homself doodsteek, homself van ‘n hoë plek laat afspring – maar hy kan homself nie kruisig nie. Slaan een hand aan die kruis vas, en die ander een is vry. Kruisiging moet deur iemand anders gedoen word. En ons kruisiging en dood moet aan ons gedoen word deur Christus.”

Dr. Barnhouse het ’n unieke “Deurbraak belewenis” gehad terwyl hy op ‘n skip was wat oor die Atlantiese oseaan gevaar het. Hy het getuig, “Ek onthou so goed die eerste dag wat ek na die hemel gegaan het. Ek was op die skipdek en het alleen gereis. Ek het myself ingestel om die boek Efésiërs ‘n honderd keer op die Atlantiese vaart te lees. Ek het dit reeds uit my kop uit geken sedert my jeug. Ek het my Testament in my hand gehad, maar het op my dekstoel gelê en oor die betekenis gedink. Skielik het ek die groot waarheid gesien wat ek vir julle uitgelê het. My hart het gespring met ‘n onuitspreeklike blydskap. Ek het die hele nuwe en lewende weg gesien, van myself af al die pad tot by die troon van God, met die Here Jesus Christus wat daar gesit het, en ek het begeer om by Hom aan te sluit. Dit was soos om na ‘n kasteel te kyk deur ‘n lang laning bome. Gelukkig was ek amper alleen op my deel van die dek. Ek het my testament opgelig met ‘n skerp gebaar, asof dit die hef van ‘n swaard was, wat dit eintlik is, en met die hele Efésiese waarheid brandend voor my, het ek geskreeu – in uiterste stilte so ver as menslike ore aangaan – ‘Here, ek kom deur!’ Ek glo daardie uitroep het al die magte van die hel wakker gemaak. Ek het hulle woedende, hatige kyke gevoel. Maar ek het toe geweet dat hulle heeltemal verslaan was. Hulle was oorwin deur die Lam en was op die punt om oorwin te word deur die woord van my getuienis dat ek heeltemal een was met die opgestane, opgevaarde Here. Gaan terug, julle slawehandelaarhonde van die hel! Gaan lê in julle hondehokke! Julle slagtande is getrek vir diegene wat hulleself identifiseer met die opgevaarde Here. En ek het geroep, ‘Here, ek is ontoereikend vir hierdie ding; en as hy magte bring bo my kragte, hanteer U dit. Selfs Mígael, die aartsengel, het U geroep om direk met Satan af te reken. Ek moet niks in myself wees nie, maar alles in Christus,’ en skielik het ek ver onder my (‘n verbyganger sou gesê het daar was ‘n passasier half aan die slaap en wat oor een knie leun) ‘n skip, ‘n klein stippeltjie op ‘n blou see gesien; maar ek het geweet dat van toe af daardie skip en daardie oseaan en daardie wêreld ewig onbelangrik was. Ek was in die hemel, by die Here in geloof. Hy was nader as toe ek Hom by die Kruis gesien het. Die ewige lewe wat Hy vir my gegee het toe ek gered was, was nou gerealiseer om die lewe van ewigheid te wees wat ek bevoorreg was om in tyd te lewe. Ek moes die res van my lewe deurbring deur te sit in die hemele saam met Christus.”

Ek stem saam met Barnhouse dat Pinksterdag ook my opstandingsdag was en dat toe Christus gesterf het, ek gesterf het; toe Hy opgestaan het, het ek opgestaan.

Hoe goed fraseer hy dit, “Toe Christus opgevaar het na die hemel deur die krag van die Vader, was ek opgelig van die aarde na die hemel saam met Hom; toe die Vader Sy Seun oor alles op die troon laat sit het, was daar ook ‘n sitplek voorberei vir die Bruid. Hou my dan nie terug van my regmatige plek nie! Moenie van die Kerk ‘n verbande Bruid maak nie! Moenie my hou by mure van skeiding wat Christus neergewerp het nie. Keer my nie by die poorte wat Christus oopgesluit het nie. Laat my treë nie bly by die see wat Hy in kristal voor my verander nie. Keer my nie om deur die sluier in te gaan waar my Bruidegom voor my ingegaan het nie. Christus het gesterf: Christus het opgestaan: Christus het opgevaar: Christus het ons saam met Hom geneem!

“Glo dit! Aanvaar die vrymoedigheid wat Hy gee en tree in die allerheiligste in en neem ons regmatige plek. Die Hemel wil nou ‘n triomferende Bruid hê! En terwyl dit nog nie duidelik is wat ons sal wees nie, skiet ons nou ver te kort van wat God wil hê ons moet wees. Laat ons wees waar ons sal wees; laat ons nou wees wat ons moet wees. So baie dinge wat nie nou is nie, kan werklikheid wees, indien ons ons sitplek op die troon van die hemel inneem.”

Een van my gunsteling skrywers is C.H. Mackintosh. Sy beskouing van die Kruis het my laat jubel en juig op verskeie geleenthede. Ek deel met jou ‘n paar dele van sy verhewe beskouings van Versoening.

“Die Kruis is die goddelike kuur vir al die verwoesting, en deur daardie Kruis word die gelowige ingelyf by ‘n plek van goddelike en ewige voorreg. Christus het al die nood aangespreek, al die eise verhoor, al die verantwoordelikhede opgehef, en dit gedoen deur Sy dood aan die kruis. Hy het by die opstanding die basis van al die gelowiges se voorregte geword. Ons het alles in Christus, en ons kry Hom, nie omdat ons ons verantwoordelikhede nagekom het nie, maar omdat God ons liefgehad het toe ons in alles misluk het. Ons vind onsself, onvoorwaardelik in ‘n plek van onuitspreeklike bevoorregting. Ons het nie onsself daar ingewerk nie; ons het nie onsself daar ingeween nie; ons het nie onsself daar ingebid nie; ons het onsself nie daar ingevas nie. Ons was opgeneem uit die diepte van ons puin, uit daardie diep, diep put waarin ons geval het, omdat ons in al ons verantwoordelikhede gefaal het; ons is laat sit, deur God se vrye genade, in ‘n posisie van onuitspreeklike geseëndheid en bevoorregting, waarvan niks ons ooit van kan ontneem nie. Nie al die magte van die hel en aarde saam nie – nie al die boosheid van Satan en sy gesante nie – nie al die magte van sonde, dood en die graf, bekleed in hulle mees geweldige vorm, kan die gelowige in Jesus beroof van daardie plek van bevoorregting waarin hy deur genade staan.

“Ons het nie ons bevoorregte plek as gevolg van getrouheid in ons verantwoordelikheid ontvang nie. Dis is juis die teenoorgestelde. Ons het in alles gefaal. ‘Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.’ Ons verdien die dood; maar ons het die lewe ontvang. Ons het die hel verdien; maar ons het die hemel ontvang. Ons het die ewige toorn verdien; maar ons het ewige guns ontvang. Genade het die toneel binnegekom, en dit ‘heers deur geregtigheid, tot die ewige lewe, deur Jesus Christus ons Here.’

“O, die diepgaande verborgenheid van die Kruis! – die heerlike geheimenis van reddende liefde! Ek sien God self neem al my sonde – die swart en verskriklike kategorie – al my sondes, asof Hy hulle ken en geweeg het.Ek sien Hom dit alles neerlê op my geseënde Plaasvervanger en met Hom afreken daaroor. Ek sien al die branders en golwe van God se regverdige toorn – Sy toorn teen my sondes – Sy toorn wat my moes verteer, siel en liggaam, in die hel, dwarsdeur ‘n hele somber ewigheid; Ek sien dit rol oor die Man wat in my plek gestaan het, wat my voor God verteenwoordig het, wat alles gedra het wat my moes toekom, met wie ‘n heilige God afgereken het soos Hy met my moes afgereken het. Ek sien onbuigsame geregtigheid, heiligheid, waarheid, en geregtigheid afreken met my sondes en ‘n duidelike en ewige bevryding daarvan. Nie een daarvan word toegelaat om oorgesien te word nie! Daar is geen gekonkel, geen versagting, geen vinnige oorsien, geen ongeërgdheid nie. Dit kon nie wees nie. Toe God die saak in sy hande geneem het, was Sy heerlikheid op die spel; Sy vlekkelose heiligheid, Sy ewige majesteit, die heerlike aansprake van Sy heerskappy.

“Al hierdie dinge moes op so ‘n manier beskik word om Homself in die aangesig van engele, mense en duiwels te verheerlik. Hy kon my hel toe gestuur het – regverdiglik, geregtelik, my hel toe gestuur het – weens my sondes. Ek het niks anders verdien nie. My hele sedelike wese, van sy diepgaande dieptes, erken dit – moet dit erken. Ek het nie een woord van verskoning om te sê vir ‘n enkele sondige gedagte, nog minder vir ‘n sondebesmette lewe van begin tot einde – ja, ‘n lewe van moedswillige, rebelse, hoogmoedige sonde.

“Ander mag redeneer soos hulle wil oor die onregverdigheid van ‘n ewigheid vir ‘n lewe van sonde – die uiterste gebrek aan proporsie tussen ‘n paar jaar van verkeerd doen en eindelose eeue van marteling in die vuurpoel. Hulle kan redeneer, maar ek glo vas en bely onvoorwaardelik, dat vir een sonde teen so ‘n Wese as die God wat ek sien by die Kruis, verdien ek ewigdurende straf in die diep, donker en somber put van die hel.

“Ek skryf nie as ‘n teoloog nie; as het ek, sou dit ‘n baie maklike taak wees om ‘n lys van Skriftuurlike bewyse sonder antwoorde te bring oor die plegtige waarheid van ewige straf. Maar nee, ek skryf as een wat onderrig is in die ware woestyn van sonde, en daardie woestyn, verklaar ek kalm, doelbewus en somber, is en kan niks anders wees nie as ewige uitsluiting van die teenwoordigheid van God en die Lam – ewige marteling in die poel van vuur wat brand met vuur en swael.

“Maar – ewige halleluja’s aan die God van alle genade! In plaas van ons hel toe te stuur weens ons sondes, het Hy Sy Seun gestuur om die versoening vir daardie sondes te wees. En in die ontvouing van die wonderlike plan van verlossing, sien ons ‘n heilige God afreken met die kwessie van ons sondes, en oordeel fel daaroor in die Persoon van Sy geliefde, ewige Seun wat aan Hom gelyk is, sodat die volle vloedgety van Sy liefde kon afvloei tot in ons harte. “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes” (1 Johannes 4:10).

Nou, dit moet vrede gee aan die gewete, as dit net ontvang kan word in die eenvoud van geloof. Hoe is dit moontlik vir ’n mens om te glo dat God Homself tevrede gestel het oor sy sonde en steeds nie vrede hê nie? As God vir ons sê, “Jou sonde en ongeregtighede onthou Ek nie meer nie,” wat kan ons meer begeer as ‘n basis van vrede vir ons gewete? As God my verseker dat al my sondes uitgewis is soos agter ‘n digte wolk – dat dit agter Sy rug gewerp is, altyd weg uit Sy aangesig – sou ek nie vrede hê nie? As Hy vir my die Man wys wat my sondes aan die Kruis gedra het, nou gekroon aan die regterhand van die Majesteit in die hemele, behoort my siel nie daardie volmaakte rus in te gaan rakende die kwessie van my sondes nie? Verseker.

“Geseënd vir ewig is die God van alle genade, dit is nie net vergifnis van sondes wat aangekondig is vir ons deur die soendood van Christus nie. Dit op sigself sou ‘n seën van die hoogste orde wees en, soos ons gesien het, geniet ons dit volgens die grootheid van die hart van God, en volgens die waarde en doeltreffendheid van die dood van Christus, soos God dit ag. Maar buiten die volle en volmaakte vergifnis van sondes, het ons ook algehele verlossing van die huidige mag van sonde.

“Dit is ‘n groot saak vir elke ware liefhebber van heiligheid. Volgens die heerlike ekonomie van genade, het dieselfde genade wat die volkome vergifnis van sonde verseker, vir altyd die mag van sonde gebreek. Dit is nie net dat die sondes van die lewe wat uitgewis is nie, maar die sonde van die natuur is veroordeel. Die gelowige is bevoorreg om homself te beskou as dood vir sonde. Hy kan sing met ‘n blye hart,

Vir my, Here Jesus, het U gesterf,

Ek ek het in U gesterf

U het opgestaan, my bande is alles los,

En nou lewe U in my.

Die Vader se gesig van stralende genade

Skyn nou ‘n lig op my.”

Afsluiting

Dit is onmoontlik om te verstaan wat dit beteken om dood saam met Christus te wees en saam met Hom met krag opgewek te wees sonder ‘n openbaring van die Heilige Gees. Maar so seker as wat God self ons stryd moet laat ophou, moet Hy vir ons wys wat dit beteken om saam met Christus gekruisig te wees. Sonder daardie openbaring, is om onsself as dood saam met Christus te beskou, net betekenislose woorde. Ek rus in die raad van my afgestorwe vader. Hy het dit as volg opgesom: “Bly naby aan Jesus. Jy mag dalk nooit heeltemal verstaan hoe dit alles werk nie, maar jy sal in die volle genieting wees van alles wat Hy beskik het bloot deur naby Hom te wees.”

Na die Woord vir ons sê dat dit God is wat oorloë laat ophou, word daar die volgende bygevoeg: “Laat staan en weet dat Ek God is...” (Psalm 46:10).

Die Hebreeuse woord vir “stil” is “raphah” wat beteken: Hou op; laat staan; word swak; slap. Dit kom van die stamwoord “rapha,” wat beteken: Om heel te maak en heeltemal genees te word aan die hand van ‘n geneesheer.

Hoe deeglik konsekwent is die Woord van God. God laat die oorloë ophou en, totdat Hy Sy werk klaargemaak het, moet ons ons selfregverdigende pogings laat staan, dit aan Sy hande oorlaat, ons swakhede en slapheid erken, en ons toekoms en herstel in die hande van Christus, ons Groot Geneesheer werp.

‘n Laaste boodskap van vertroosting aan diegene wie se siele in onrus is

Aan jou – herder, leraar, sanger, kerkwerker, liefdevolle gelowige: Skeur jou innerlike konflik jou uitmekaar? Jy mag geslaan word deur Satan, maar hy kan jou nie seermaak of vernietig nie. Heel waarskynlik, is jy besig om gestroop te word ter voorbereiding van ‘n heerlike openbaring van die Kruis – sodat jy voorberei kan word vir groter diens aan God.

Jy is soos Petrus wat gestroop was van alles voor Pinkster. Sien hierdie groot man van God doelloos dwaal oor die heuwels van Judéa – verslae. Hier is ‘n man van God wat eens op water geloop het, wat gehelp het om menigtes wonderbaarlik te voed; wat sigbaar die ware heerlikheid van God beleef het; wie ‘n geseënde, prominente, bruikbare, Christus-liefhebbende dienskneg was. Maar hy het gruwelik gesondig. Hy het die Here gefaal soos min ander. Nou ween en treur hy en hy dink het sy saligheid en bediening verloor.

“Wat is verkeerd met my?” moes hy homself oor en oor gevra het. “Waarom het ek geen krag of sterkte wanneer ek versoek word nie? Waarom geen sedelike reserves nie – geen wil om die vyand te weerstaan nie? Waarom moes ek die een wees wat geval het? Hoe kon ‘n man van God so ‘n verskriklike ding doen aan sy Here? Hoe kon ek vir ander gepreek het as ek self geen krag gehad het in ‘n krisis nie?”

God het nie Petrus se mislukking veroorsaak nie, maar die goeie het daaruit voortgespruit. Dit was ‘n deel van die stroping van God se man – toegelaat om te openbaar wat diep in die innerlike mens gewortel was. Slegs mislukking kon die trots en selfgenoegsaamheid openbaar. Mislukking het Petrus afgebreek en aan hom sy behoefte vir absolute afhanklikheid aan sy Here vir alles geopenbaar – insluitend sy reinheid en geregtigheid.

Ons moet gestroop word voor ons gekruisig word. Ons moet onder die skaduwee van die dood kom voor ons die dood kan beleef. Dit is in die skaduwee van die Kruis, voor ons deurbreek na die opstanding, wanneer ons ons grootste versoeking en mislukkings beleef.

Prys God! Soos Petrus, ná ons sifting aan die hand van Satan, sal ons in ons bovertrek staan en met nuwe krag en sterkte toegerus word.

Verlede week, nadat ons intense lyding beleef het in my familie, was my seun in ‘n kop-aan-kop botsing waarin sy kar afgeskryf is. Ek was na die toneel ontbied. Die hele pad na die ongelukstoneel, het ek uitgeroep, “God, dit is al weer Satan – wat probeer om my geloof skipbreuk te laat ly. Maar hy kan nie my of enige van my kinders doodmaak nie.” Toe ek daar aankom, het my 20 jarige seun Greg na my toe aangehardloop, heeltemal ongedeerd. Ons het geween en God gedank dat Hy nóg ‘n oorlog laat ophou het.

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE