Jesus En Vergifnis | World Challenge

Jesus En Vergifnis

David WilkersonJanuary 1, 1979

Die moeilikste ding in die hele wêreld vir Christene om te doen, is om te vergewe. Ten spyte van al die gepraat in die kerk oor vergifnis, restitusie en genesing, word daar baie min gedemonstreer. Ons almal hou daarvan om aan onsself te dink as vredemakers, opheffers van diegene wat geval het en altyd vergewe en vergeet. Maar selfs die diepste geestelikes vandag, is skuldig daaraan om broers en susters skade te doen deur nie ‘n gees van vergewensgesindheid te toon nie.

Selfs die beste van Christene vind dit moeilik om diegene te vergewe wat hulle trots seergemaak het. Laat twee goeie Christen vriende ‘n uitval kry en jy het ‘n lewenslange wrok aan die gang. Hulle erken dit selde, omdat hulle hul onvergewensgesinde gees bedek met ‘n fasade van beleefdheidsbesoeke, mooi woorde en ‘n uitnodiging om “een of ander tyd by ons te kom kuier.” Maar dit is nooit weer dieselfde nie. Ons haat regtig nie die ander party nie; ons sê waarskynlik net, “Ek het niks teen hom nie, maar hou hom net van my af weg. Laat hy sy pad gaan en ek sal myne gaan.” Ons ignoreer bloot mense wat ons nie kan vergewe nie.

Die moeilikste mens om te vergewe, is iemand wat ondankbaar is. Jy het iemand lief sonder om liefgehê te word. Jy bied aan om ‘n vriend in nood te help, net om gekritiseer te word of vir vanselfsprekend geneem te word. Die persoon vir wie jy uit jou pad gegaan het om te help, wys op sy beurt niks anders as ondankbaarheid en selfsug nie. Jou goeie bedoelings word misken en jou goeie dade word verkeerdelik opgevat as gemotiveer deur selfsug. In ongeloof, roep jy uit, “Hoe kan hulle so wees, na alles wat ek vir hulle gedoen het? So dit is wat ek daarvoor kry om so grootmoedig te wees?” Vergewe ons ooit daardie ondankbare persoon? Amper nooit. Ons glimlag vir hulle, waai ‘n groet van ‘n afstand af, maar besluit om “nooit weer iets vir hulle te doen nie.”

Ons vind dit amper onmoontlik om enigeen te vergewe wat ons mislei. Ons is die gretigste om vergewe te word vir ons eie leuens en mislukkings, maar niks maak ons kwater as om te ontdek dat iemand vir ons gelieg het nie. Dit word beskou as ‘n vertrouensbreuk. As ons vergewe, is daar altyd ‘n voorwaarde, “Ek sal jou hierdie keer vergewe, maar as jy ooit weer vir my lieg, is ek klaar met jou.”

Ons kan diegene wat vir ons sê dat ons verkeerd is, nie vergewe nie. Oortuig ons het ‘n goeie rede vir alles wat ons doen, vind ons dit amper onmoontlik om die persoon te vergewe wat sê dat ons ‘n fout gemaak het. Eerder as om ‘n eerlik te kyk na wat ‘n persoon vir ons sê, het ons in ‘n lang, ingewikkelde verduideliking en regverdig ons dade. Hoe nader ons kritici aan die waarheid kom, hoe minder is die waarskynlikheid dat ons hulle sal vergewe omdat hulle dit onder ons aandag bring.

‘n Bankklerk het vir my tien dollar te veel gegee. Ek het geglimlag, die tien dollar teruggegee en gesê, “Jong dame, jy het ‘n foutjie gemaak. Jy het vir my tien dollar te veel gegee.” Sy het ontplof, “Wat wil jy hê, ‘n medalje vir eerlikheid? Almal maak foute.” Dit is presies soos baie van ons. Ons hou nie daarvan om herinner te word aan ons foute nie en diegene wat ons herinner, selfs in liefde, ontvang ‘n koue skouer in plaas van ‘n dankie.

Die meeste Christene weet nie in die minste hoe om kritiek te hanteer nie – veral gedrukte of geskrewe kritiek. ‘n Kritiese brief steek allerhande gramskap aan. Ons gaan sit en punt vir punt, slaan ons terug soos ‘n gewonde beer. Die pen dryf op ‘n rivier van giftige ink. Ons wil die saak uitklaar. Ons wil nie gelaster of verkeerd verstaan word nie. Ons is gereed om ten alle koste ons eer en ons eerlikheid te verdedig. Watter meersterstukke van verdediging skryf ons! Gewonde trots maak ons baie welsprekend om ons punt te bewys.

Selfs diegene van ons wat geleer het om nooit ons kritici te antwoord nie en om alle geskrewe kritiek in die vuilgoedmandjie te gooi, vind dit moelik om die outeur van daardie kritiek te vergewe. Eintlik, sê ons, “Ek sal nie terugbaklei nie, maar eendag sal God jou kry daarvoor! Eendag sal jy betaal!” Eerder as om te vergewe en te vergeet, laat ons ons afsku smeul vir maande en selfs jare, en wag ons net vir ‘n geleentheid om daardie kritikus van aangesig tot aangesig te ontmoet en “hulle te roskam.”

Glo dit of nie, ons moet leer om God eerste te vergewe. God het nog nooit teen enigeen gesondig nie, maar dit keer ons nie om ‘n subtiele wrok teen Hom te hou nie. Ons kom so dikwels in Sy teenwoordigheid in om te bid, met iets wat ons innerlik diep pla, omdat Hy nie gedoen het wat ons gedink het Hy moes nie.

‘n Tienermeisie het teenoor my bely, “Meneer, twee jaar gelede het my pa en ma gesterf in ‘n motorongeluk. Hulle was beide geordende bedienaars en hulle was die beste, meeste goddelike ouers wat ‘n tiener voor kon vra. Vir die laate twee jaar, sedert die dag van hulle begrafnis, het ek hierdie wrokkie teen die Here gehou. Ek het gewonder hoe Hy kon toelaat dat hulle op so ‘n gewelddadige manier kon sterf. Beskerm God nie Sy eie kinders nie? Ek kan nie meer bid met ware vertroue in Jesus nie, want ek dra binne-in my hierdie idee dat Hy my teleurgestel het. Wat kan ek doen? Ek neem aan u kan sê ek is kwaad vir die Here.”

‘n Jong paartjie wat ek ken, wat in ‘n suidelike staat woon, dra ‘n wrok teen die Here vir amper tien jaar lank. Hulle pragtige vyfjarige dogter het gesterf kort nadat sy ‘n breingewas gekry het. Hulle het bitter geword. Hulle het nie opgehou kerk toe gaan nie; hulle het steeds al die regte dinge gedoen. Maar hulle het nie langer geglo in die effektiwiteit van gebed nie. Hulle is bang om God te verloën; bang om Hom ‘n leuenaar of ‘n ontroue Vader te noem. Maar hulle het ongetwyfeld ‘n diepgesetelde wrok teen die Here. Hulle het nog nooit die Here vergewe omdat Hy “hulle enigste kind weggeneem het” nie.

Ek vind hierdie subtiele gees van onvergifnis teenoor Christus oral waar ek gaan. ‘n Jong dame in Wisconsin vra, “Hoe kan ek ooit weer met geloof bid? Ek is so eensaam en ek het ‘n Christelike man nodig. Ek het begin om elke belofte in die Bybel op te eis. Ek weet my lewe behaag God. Maar dit het alles in duie gestort. Toe ek uiteindelik ‘n oulike jong man ontmoet en dink hy was die een wat God vir my gestuur het, het hy my gelos en laat spaander. Hy wil nou nie eens meer met my praat nie. Verhoor God werklik gebed? Wat moet ek doen om verhoor te word? Ek wil nie God blameer nie, maar waarom het Hy toegelaat dat ek seerkry? Waarom moet ek alleen lewe as ek net graag al my liefde aan iemand wil gee?”

Amper elke Christen moes op een of ander stadium in sy lewe hierdie probleem in die oë kyk. ‘n Gebed bly onverhoor vir weke en maande – selfs jare. ‘n Onverwagte siekte of tragedie eis ‘n geliefde. Dinge gebeur sonder enige rede. Dan begin geloof te wankel. Maar die Woord maak dit baie duidelik dat ‘n twyfelende mens nooit enigiets van God sal ontvang nie.

Jesus het hierdie geneigheid in Sy kinders om wrokke teen die hemel te hou wanneer berge nie op skedule verwyder word nie, verstaan. Hy het Petrus gewaarsku om nie enigiets te vra wanneer hy in God se teenwoordigheid staan, tensy hy vergewensgesind was nie.

“En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe” (Markus 11:25).

Ek glo Jesus sê, “Moenie in God se teenwoordigheid staan en vra vir berge om geskuif te word of vir vergifnis van jou eie sondes, as jy ‘n geheime wrok in jou hart teen die hemel het nie. Raak ontslae daarvan! Laat die Gees van vergifnis deur jou vloei. Roep uit – God is getrou! Hy stel nie teleur nie! Hy sal verhoor! Hy sal voorsien! Onderwerp jouself en vra Hom om jou te vergewe omdat jy toegelaat het dat hierdie vertwyfelinge opspring.”

Download PDF