Jesus: Groter as die Werke van die Wet | World Challenge

Jesus: Groter as die Werke van die Wet

David WilkersonSeptember 3, 2012

Die eerste hoofstuk van Hebreërs herhaal ‘n waarheid wat elke Christen weet, maar wat min van ons werklik verstaan: “Jesus is groter.” Die skrywer is so gefokus op hierdie tema dat hy nie eers tyd maak om te groet nie. Hy gee nie aan sy lesers instruksies soos sommige ander sendbriewe nie. In plaas daarvan, het hy net een tema in gedagte: “Jesus is groter!” Hy is oorkom met emosie en liefde vir Christus.
“Jesus is groter as wat?” mag jy vra. Hebreërs 1 bied die antwoord: Hy is groter as al die profete, priesters, konings en engele. Waaraan jy ookal kan dink of wat jy ookal kan noem, Hy is groter as dit. Dit is nie nuwe nuus vir ons wat Christus as ons lewende Verlosser ken nie. Hy was by die Skepping teenwoordig, as die ewig heersende Koning. Hy is groter as enigiets waaraan ons kan dink.
Baie Christene struikel egter oor ‘n eenvoudige waarheid wanneer dit kom by die wete “Jesus is groter.” Die probleem is as volg: Jesus is groter as die werke van die wet — maar ons leef asof ons werke meer beteken as Christus se reddende genade. Ons sê dat ons deur sy genade gered is, maar wanneer ons misluk, dan val ons terug op werke om herstel te word. Dit is ‘n Ou Verbond mentaliteit, een wat tot slawerny lei — maar min van ons besef dat ons daarin terugval.
Hebreërs 8 praat van die “groter verbond” wat God gemaak het toe Hy ons in gedagte gehad het: “Maar nou het Hy ‘n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is... Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en met die huis van Juda ‘n nuwe verbond tot stand sal bring...” (Hebreërs 8:6,8).
Ons word vertel dat God se Nuwe Verbond groter is as al die voriges wat Hy met die mens gemaak het. In daardie verbonde, het die mens altyd misluk om sy kant van die verbond te hou.  Dit was selfs waar van dienaars wat naby God se hart was. Moses het kwaad geword en die kliptafels wat God aan hom gegee het, gebreek.  Dawid — ‘n man wat God se wet liefgehad het, wat gesê het dat dit soos heuning op sy lippe geproe het – het owerspel gepleeg en moes toe moord pleeg om dit te probeer wegsteek. Hierdie dienaars was almal reuse van geloof, maar elkeen van hulle het klaaglik misluk.
‘n Groter verbond was aan die kom. Wat het dit groter gemaak? God het hierdie verbond so ontwerp dat dit nooit gebreek kan word nie. Jy sien, dit was ‘n verbond wat nie tussen God en mens gemaak is nie, maar tussen Vader en Seun. Daarom was die sekuriteit gewaarborg omdat nóg die Vader nóg die Seun dit ooit sou breek. Die wonderlikste van alles is dat die seëninge wat na Christus gekom het vir sy deel van die verbond, ons seëninge ook sou wees. Dit staan bekend as “verbondsgenade.”
Wanneer ons van ‘n “groter verbond” praat, wek dit egter vrae: Was daar fout met God se oorspronklike verbond of was dit sleg saamgestel? En was dit te hard van God om sulke wette in te stel met die wete dat dit bokant ons vermoë was om dit te vervul?
Volgens Hebreërs, het die wet perfek gewerk om sy doel te bewerkstellig.
God se wet het perfek gewerk om te doen waarvoor dit bedoel was. Hebreërs vertel ons, “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie. Want as die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het, hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam?” (Hebreërs 2:1-3).
Die wet wat God aan mense gegee het, was “onwankelbaar,” wat betroubaar beteken. Dit blyk egter teenstellend. As hierdie wet onmoontlik was vir enige persoon om te onderhou, hoe kon dit “onwankelbaar” wees? Eerstens, die wet was nooit bedoel om ons verlossing te bewerkstellig nie. Dit het ons behoefte vir verlossing getoon. En die wet het dit getrou gedoen. Keer op keer wys die Skrif hoe klaaglik die mens misluk het om God se wet te bewaar.
Let op iets anders in hierdie gedeelte. Weereens het die skrywer die woord “groot” gebruik om te beskryf wat Jesus gedoen het. Christus het die volmaakte verbond met die Vader gesluit, een wat werk om “so ‘n groot saligheid” te verseker” (Hebreërs 2:3). Praat van iets betroubaars — hierdie verlossing is ontwerp om in ons lewens te werk. Per slot van rekening, dit doen wat die wet self nie kon nie: dit red en maak vry! Christus se gawe van verlossing maak ons vry van die wet van sonde en dood. Verder, die Nuwe Verbond van genade is die krag van God wat in ons lewens werk. Dit bemagtig ons om sy gebooie te volg met sy krag, nie ons eie nie. “Terwyl God ook nog saam getuig het...deur allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil” (Hebreërs 2:4).
Met so ‘n groot gawe van verlossing, waarom sou enigiemand dit wou veronagsaam? Die rede is: Ons is so ingestel om op wette te reageer met werke. Selfs in die realm van geloof, is ons geneig om terug te val op werke. Ons mag met ons verstand instem dat ons deur genade gered is, maar diep binne-in, glo baie van ons steeds dat werke die manier is om God se seëninge te verseker.
In werklikheid is ons gedagtes so gekondisioneer om terug te val op wet-nakoming wanneer ons misluk. Dit is die kondisionering wat ons as kinders ontvang. Daar is basiese reëls in elke huishouding: Maak jou kamer skoon. Help die etenstafel afdek. Moenie jou suster se hare trek nie, of moenie jou broer in ‘n kopklem hou of sy troetel skilpad loslaat nie. Hierdie sisteem sê, “As jy die regte dinge doen, dan sal jy sakgeld kry. As jy die verkeerde dinge doen, word jy gehok.” Dit is ‘n voorwaardelike reëling gebaseer op beloning en straf, en die meeste ouers doen dit om hulle gesonde verstand te behou.
Hierdie sisteem mag goed werk in die gesinslewe, maar nie in die koninkryk van die lewe nie. Die meeste van ons word egter so grootgemaak en jare later sien ons steeds die lewe deur dieselfde lens. Wanneer ons in enigiets misluk, dan is dit ons refleks om terug te val op werke. En dit sluit in ons wandel met Christus. Wanneer ons die woord “wegdrywe” hoor, dan dink ons, “Dit kan ek wees. Ek kan van die Here af wegdryf deur nie genoeg te bid nie, of Skrif te lees of tiendes te gee nie. Ek kan wegdryf na luiheid of selfs na ou sondige gewoontes.”
Maar die skrywer van Hebreërs praat nie van wegdryf van heilige gewoontes nie. Hy sê, “Jy dryf weg deur na te laat om onder God se verbond van genade te leef. Jy hou aan om terug te gaan na ‘n verbond van werke met die hoop om genade te vind.” Werke kan nooit bereik wat net die kruis kan voorsien nie. Hulle kan nie een enkele graad van heiligheid aan hulle lewens toevoeg nie. Werke wat waarlik heilig is, is die resultaat van God se genade. Dit is wat ons doen in dankbaarheid, vreugde en getrouheid omdat “so ‘n groot saligheid” aan ons geskenk is!
Die presiese dinge wat God beplan het om vreugdevolle seëninge in ons lewens te wees, wil ons dikwels in verpligte werke verander.
Dink aan al hierdie dinge: intieme gebed met die Here, die lees van sy wonderlike Woord, die evangelie met blydskap deel. Al hierdie wonderlike dinge moet vir ons vreugde en ‘n vervulde lewe bring. Dikwels maak ons egter meriete gebaseerde werke daarvan — moeilike, verpligtende — gebonde werke. Deur dit te doen, “veronagsaam” ons “so ‘n groot saligheid” — ‘n reddende genade wat nooit misluk nie. Jy sien, selfs wanneer ons misluk, misluk die Nuwe Verbond nie. Volgens Paulus, moet daardie waarheid ons vrymaak en nie onder slawerny bring nie.
“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (Galásiërs 5:1). Deur die hele sendbrief vra Paulus gelowiges, “Waarom wou julle teruggaan na ‘n Ou Verbond van werke? Daardie sisteem sal jou net weer onder slawerny bring. Die Nuwe Verbond is aan julle gegee wat julle vrymaak om God lief te hê en te dien in volmaakte vryheid.”
Paulus het die Galásiërs dit geleer en gesê dat die evangelie ons in die Gees bemagtig deur genade. Maar die Galásiërs het aanhou probeer om die evangelie uit te leef deur die lens van werke. Hulle was oortuig, “As ek dit doen, sal ek geseën word. As ek dit nie doen nie, sal ek vervloek word.”
Ons mag dit dalk nie in onsself sien nie, maar ons doen iets soortgelyks vandag. Ons gesindheid is. “Ek sal my bes doen om God se gebooie te gehoorsaam. Hy sal my moet seën wanneer ek dit doen.” Maar God het anders gesê deur die Nuwe Testament: “Ek het jou reeds geseën, voor jy selfs probeer het om my gebooie te gehoorsaam. Ek weet ook dat jy nie my Woord volmaak kan hou  nie, so ek sal jou krag gee deur my Gees. My genade sal die krag agter jou werke wees, nie jou eie krag nie.
Dit is die kern van die evangelie: God doen dit alles! Daarom, as ons vertel word om “des te meer ag [te] gee op wat ons gehoor het, dat ons nie wegdrywe nie” (Hebreërs 2:1), beteken dit nie dat ons meer aandag moet gee aan die nakoming van ons reëls nie. Ons moet meer aandag gee aan die evangelie van genade wat ons vrygemaak het.
Waarom sou enigiemand nie wou aandag gee aan “so ‘n groot saligheid” wat ‘n heerlike, gratis geskenk is nie? Ek sien twee redes daarvoor:
1. Ongeloof. Ons sondige natuur vertel ons dat daar nie so ‘n heerlike ding soos hierdie Nuwe Verbond kan wees nie. Daar moet iets wees waarmee ons ons weg kan verdien. Ons word gekondisioneer om so te dink nie net deur ons kinderlewe nie, maar deur ons opsetlike natuur.
2. Trots. Trots sê, “Ek kan dit doen. Gee my net nog ‘n kans en ek sal dit regkry.” As dit jou beskryf, is dit duidelik dat die wet nog nie sy werk in jou klaar gemaak het nie. Sy doel is om jou by die plek te bring waar jy besef, “God sal dit alles doen.”
Jy mag wonder, “Waarom die klem op hierdie boodskap?”
Die meeste Christene het drukkende kwessies in hulle lewens — ‘n kind wat van God af wegloop, ‘n huwelik wat vol spanning is, ‘n hoop rekeninge met geen geld om dit te betaal nie. Waarom sou jy bekommerd wees om terug te val in werke as jy hierdie tipe probleme in die gesig moet staar?
Ek glo daar is nie ‘n meer praktiese kwessie as ‘n slawerny vasgevangde ingesteldheid van werke-oor-genade nie. Dit het alledaagse implikasies omdat dit die manier waarop jy jou probleme hanteer, direk affekteer.
Laat ons sê dat ‘n jong man met ‘n pornografiese verslawing vrygemaak wil word. Hy is ook geneig om ‘n werke mentaliteit te hê. Een nag lees hy die volgende gedeelte: “Hoe kan ‘n jong man sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord” (Psalm 119:9). Die jong man dink as hy sy Bybel meer lees, sal hy vryheid vind. Volgende lees hy ‘n gedeelte wat sê, “Bid vir mekaar.” Dus sluit hy aan by ‘n manne verantwoordelikheidsgroep en vra dat hulle vir hom bid.
Deur dit alles heen, hou die jong man aan om te sukkel met sonde. Met tyd begin hy homself te haat daarvoor. Hy hou aan met die goddelike werke waarby hy betrokke is, maar vertel homself, “Dit laat my net slegter voel. Hoeveel erger moet God nie oor my voel nie?”
Al die dinge wat hy probeer doen, is goeie dinge. Maar in sy hart, vertrou hy op daardie dinge — op werke — om vir hom die vryheid te bring wat hy soek. Sy werke mentaliteit dryf hom egter verder in slawerny en wanhoop in. Om Christus na te volg, is nie werke nie; om te werk, wat net God kan voorsien deur geloof, is werke
Laat ons sê ‘n ander jong man in dieselfde kerk sukkel met pornografie. Hy bid tot God, “Here, ek is hulpeloos sonder U — ek weet dit al te goed. Ek weet egter ook dat U my enigste hoop is. Ek kom nou na U toe en laat al my wanhoop agter en vertrou nou op U om ‘n werk in my te doen. Ek weet dat ek net een ding nodig het om hierdie sonde te oorwin: U bemagtigende genade. Laat dit nou oor my spoel. Andersins is ek hopeloos.”
God se bemagtigende genade sal hierdie man tegemoet kom. Waarom? Hy het elke hindernis wat hom van daardie genade verwyder het, uit die weg geruim — alles met net een eenvoudige gebed.
Hierdie twee voorbeelde mag dalk op die oppervlak nie baie verskillend lyk nie. Maar in die geestelike realm, het tektoniese plate geskuif. ‘n Hart het wegbeweeg van die ou, verslawende verbond  wat sê, “Ek moet dit verdien,” teenoor ‘n verbond wat sê, “U genade dryf al my pogings.”
Wanneer ons by hierdie punt kom, sal ons God dinge in ons lewens sien doen wat ons nooit deur ons eie pogings sou kon regkry nie. Ek dring by jou aan, moenie die groot verlossing wat jy ontvang het, veronagsaam nie. Draai na Jesus toe, Hy is altyd groter — en Wie se genade jou krag vir alles is. Amen!

Download PDF