Is Jy ‘n Vonk of ‘n Fakkel? | World Challenge

Is Jy ‘n Vonk of ‘n Fakkel?

Gary WilkersonMay 26, 2014

Is jou lewe ‘n vonk of ‘n fakkel? Wanneer dit by ons wandel met Christus kom, wys die Bybel vir ons dat daar ‘n deurslaggewende verskil is tussen die twee. Daardie verskil bepaal of ons wandel met Hom, Hom behaag. Ons sien hierdie verskil in die lewens van Saul en Dawid.

Saul was Israel se eerste koning, en op verskillende tye tydens sy heerskappy, het die Here hom aangeraak met ‘n kragtige salwing. God het selfs veroorsaak dat Saul geprofeteer het en dit het almal rondom hom verbaas.  “En die Gees van God het oor hom vaardig geword, sodat hy onder hulle geprofeteer het. En toe elkeen wat hom van gister en eergister geken het, sien dat hy saam met die profete profeteer, het die mense die een aan die ander gesê: Wat het tog gebeur met die seun van Kis? Is Saul ook onder die profete?” (1 Samuel 10:10-11).

Saul het verstommende ervarings gehad, oomblikke wat die krag van die hemel in sy lewe aan die brand gesteek het en ‘n groot ywer in hom opgewek het. “En die Gees van God het oor Saul vaardig geword terwyl hy dié woorde hoor, en hy het baie kwaad geword. En hy het ‘n paar beeste geneem en hulle stukkend gesny en met boodskappers deur die hele gebied van Israel gestuur om te sê: Wie nie agter Saul en agter Samuel aan uittrek nie — so sal met sy beeste gedoen word!” (1 Samuel 11:6-7).

Daar was vele oomblikke van onmiskenbare salwing in Saul se lewe. Tog het Saul elke keer daarna weggedryf van sy passie vir die Here. Een welbekende gebeurtenis was toe God Saul beveel het om Agag, die vyand, wat die koning gevang het, dood te maak en al die buit wat hulle in die stryd gebuit het, te vernietig. Saul het nagelaat om dit te doen en het Agag laat leef en sommige van die buit gehou. Omdat hy die Here se bevele op verskeie geleenthede verontagsaam het, het Saul die Heilige Gees se werk in sy lewe geblus. Omdat hy in gebreke gebly het om gehoorsaam te wees, het die Here uiteindelik die koninkryk van hom af weggeneem. Saul se heerskappy was ‘n reeks van geestelike opflikkerings, oomblikke van oorwinning wat nooit uitgeloop het in ‘n volgehoue vlam van gehoorsaamheid nie.

In die tussentyd, het God Dawid opgerig om Israel se volgende koning te wees. Soos Dawid se reputasie vir dapper gehoorsaamheid gegroei het, so het die vrug van sy gehoorsaamheid gegroei en dit het Saul jaloers gemaak. Op ‘n keer was Saul van plan om Dawid dood te maak en het hom vasgekeer in ‘n grot in Rama. Tog, selfs tóé was die Here hom genadig en het Hy Saul gekeer voor hy sy plan kon uitvoer. “Hierop gaan hy daarheen, na Najot by Rama; en die Gees van God het ook oor hom gekom, sodat hy aldeur geloop en profeteer het totdat hy in Najot by Rama aangekom het. Hy het ook self sy klere uitgetrek en ook voor Samuel geprofeteer en ontbloot neergeval daardie hele dag en die hele nag” (1 Samuel 19:23-24).

Eenvoudig gestel, Saul was geneig om terug te val, maar steeds het die Here se genade na hom toe teruggekeer. Saul het egter aangehou om weg te draai en is uiteindelik deur ‘n bose gees geteister. Hy het in diepe, folterende depressie en blinde woedebuie verval. In daardie tye, het Saul se dienaars vir Dawid geroep om vir die koning te sing en sy harp te speel om hom te sus.

Gedurende my berading as pastoor, sien ek soms dieselfde patroon in mense se lewens. Hulle beskryf vae gevoelens van bitterheid, ontsteltenis of ontevredenheid. As ek vra wat dit veroorsaak, dan antwoord hulle verward en sê, “Ek weet nie. Ek weet net dat iets verkeerd is.” As ons dan verder ondersoek instel, dan word dit duidelik dat hulle die suiweringsvuur van God in hulle lewens weerstaan.

Soos Saul, ervaar hulle uitstortings van God se Gees — ‘n vonk uit die hemel terwyl hulle ‘n boek lees, in die kerk aanbid, of met vriende gemeenskap hou — en hulle leef van daardie vonk vir ‘n rukkie. Maar gou “verag” hulle daardie vonk en draai na selfgenoegsaamheid. Hulle stook nooit daardie vonk tot ‘n vlam van gehoorsaamheid nie, wat hulle sal onderhou in hulle wandel met Christus. Soos Saul, mag hulle tydelike troos vind in die wonder van aanbidding terwyl hulle gesus word deur die gemanifesteerde teenwoordigheid van God se Gees, maar daardie vertroosting hou nie lank nie en hulle bly ongelukkig.

Ek sê dit met nederigheid, maar in ons wandel met Jesus, is baie van ons “mense van die vonk.”

‘n Vonk is tydelik en hou net vir ‘n kort rukkie voordat dit uitgeblus word. Tog is dit die doel van ‘n vonk — om dinge aan die brand te steek en iets aan die gang te kry. By voorbeeld, ‘n vonk is nodig op ‘n gasbraaier om die vlam aan die brand te steek om te kan kook. Maar ‘n vonk opsigself, is nie ‘n vuur nie en dit sal nie die vleis gaarmaak nie. Om in die volheid van God se doel vir ons lewens in te gaan, het ons ‘n vlam nodig wat voortdurend deur die olie van God se dwingende genade gevoed word.

Dawid se lewe wys vir ons die verskil. Hy het dieselfde geestelike ervarings as Saul gehad waarin hy deur God aangeraak en gesalf is. Tog is die vonk wat Dawid ontvang het, aangeblaas tot ‘n vuur. “Samuel neem toe die horing met die olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die Here het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword” (1 Samuel 16:13). Hierdie laaste deel — “van dié dag af” — wys die verskil tussen Dawid en Saul se lewens. Toe Dawid die vonk van God ontvang het, het hy dit bewaar, dit gestook en brandstof gegee. Hy was vasbeslote, “Ek wil hê dat hierdie vonk verander word in ‘n brandende fakkel vir die Here.”

In Psalm 51, soek Dawid die drie dinge wat deurslaggewend is in die wandel van elke gelowige. Die eerste ding wat Dawid van die Here wil hê, is persoonlike reiniging. Hy het geskryf, “Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees” (Psalm 51:11-12).

Wanneer God se vonk kom, mag dit ons vertroos, maar dit is ook bedoel om ‘n vuur, wat reinig, aan die brand te steek. Die vlam van sy heiligheid reinig ons van alle dinge wat nie by ons hoort nie. En terwyl dit die skuim van sonde wegbrand, veroorsaak dit dat ons ons kompromie met sonde haat. Dit gee ons ‘n passie om heilig te wees, sodat ons net soos Dawid kan sê, “Here, ek wil rein wees voor U, sodat my gees reg kan wees.”

Baie Christene weerstaan dit. Oortuiging van sonde kan lei tot verandering en ons mag dalk nie gewillig wees om ons gewoontes of die dinge wat ons graag wil hê, te verander nie. Dawid het die weerstand in sy eie hart aangespreek en gepleit, “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees” (Psalm 51:13-14).

Let op die klem wat Dawid in hierdie vers op gehoorsaamheid plaas. Die apostel Paulus kon maklik God se leiding verontagsaam het en sy eie pad in sending geloop het. Paulus wou die evangelie na Asië toe neem, maar hy het daarvan gepraat dat die Heilige Gees hulle verbied het om daarheen te gaan. Paulus het geweet dat as hy op sy eie sou gaan, sou hy die Heilige Gees bedroef. Hy sou steeds deur God gered en liefgehê word, maar hy sou die krag van die Gees om in sy lewe te beweeg, geblus het.

Dit is presies wat met Koning Saul gebeur het. Soos hy aangehou het om ongehoorsaam te wees, het die krag van God se Gees om hom te gebruik al minder geword. Na ‘n rukkie, het Saul nie langer God se stem gehoor nie en kon ook nie deur sy Gees aangeroer word nie. Hy het nooit toegelaat dat die aanvanklike vonk aangeblaas is tot ‘n reinigende vuur nie.

Die tweede ding wat Dawid van God wil hê, is ‘n aanhoudende begeerte.

Dawid het geskryf, “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie” (Psalm 51:11). Ons weet dat God alomteenwoordig is, maar sy gemanifesteerde teenwoordigheid is iets heeltemal anders. Dit is die rede waarom so baie aanbiddingsdienste open met koortjies wat die Heilige Gees vra om af te kom en sy teenwoordigheid bekend te maak. Dawid bedoel hier, “Here, ek het u teenwoordigheid nodig, nie net vandag nie, maar môre ook. Ek wil nie hê dat dit verminder nie, want ek wil nie teruggaan na my louwarm weë nie. Asseblief, God, neem u Heilige Gees nie van my af weg nie. Bly by my as ek U klaar aanbid het!”

Ons almal weet hoe dit is. By die kerk en in ons gemeenskap met ander, mag ons God se gemanifesteerde teewoordigheid ken. Vonke wat spat, bring ‘n gevoel van nuwe lewe en ons smeek God om ons elke oomblik van die dag so op te wek. Tog taan die vonk soos die dag verbygaan en ons deur werkvereistes gebombardeer word, familie verpligtinge, begrotings en rekeninge wat al ons tyd in beslag neem en ons oorweldig.

Ek val elke September by ons bediening se EXPECT konferensie in hierdie groef. Ek word beweeg en geïnspireer deur die goddelike leiers wat daar praat en hulle kragtige boodskappe dryf my tot op my knieë. Tog het ek verlede September ‘n dapper gebed tot God gebid: “Here, as U nie hierdie vonk gaan onderhou nie, moet my nie een gee nie.”

Ek was moeg van die tuimeltreintjie, om opgewek te word met ‘n vonk sonder ‘n vlam om dit te onderhou, om die een week op die bergtop te wees en die volgende week dan weer af te daal tot in die swoeëry. Dus het ek God gevra, “God, watter vlam U ookal in my opwek, laat dit groter en groter word. Gee my ‘n getroue, vaste gees, soos Dawid gesê het. As U my ‘n vonk gee, verander dit in ‘n fakkel!” God het hierdie laaste paar maande hierdie vlam onderhou. Die kerk wat ek nou lei, het ‘n pastoor wat brand met gebed vir sy mense. Ek mag dalk nie in staat wees om almal vir koffie te neem of saam te gaan gholf speel nie, maar ek het ‘n getroue gees wat dag vir dag vir hulle intree om toe te sien dat hulle lewens alles word wat hulle kan wees vir Jesus.

Dit lei tot die derde ding wat Dawid van God wou hê: ‘n kragtige getuie.

Dawid het geskryf, “Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer... Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig” (Psalm 51:15,17).

Die vuur wat aan ons gegee word, is nie net vir ons eie voordeel nie. Dit is bedoel om met ywer te brand vir die verlorenes in ons nabye gemeenskap en reg oor die wêreld. As ons toelaat dat hierdie vlam binne-in ons brand, sal dit ons dring om die goeie nuus verder as ons kerkmure te neem. Ons sal besef, “Hierdie vuur wat binne-in my brand, sal nie geblus word nie. Weë my as ek dit binne hou!”

As daar ‘n ware vuur brand, sal dit ons beweeg om ‘n vuur in ons stad te begin.

Ons kan eenvoudig nie ons ywer inhou wanneer ons deur God gereinig is en gevul is met ‘n voortdurende honger dat sy lewe in ons bly. Dit maak ons lus om sy lof voor die wêreld te besing. Sommige van ons beste Sondag aanbidders wat ek ken, is hulle wat uitroep, “Dankie Jesus, dat my medewerker langs my sit en u wonderlike liefde ervaar.”

As ons nie hierdie tipe vuur het nie, sal dit nie saak maak hoe kragtig ons kerkdienste is nie. Hemelse vlamme kan op ons hoofde rus en ons kan almal in verwondering op ons aangesigte val, maar hierdie dinge alleen wys nie die krag van Pinkster nie. So lank as wat herlewing tot binne die kerk beperk is, is dit waarskynlik nie herlewing nie. As daar ‘n ware vuur brand, sal dit ons beweeg om ‘n vuur in ons stad te skep. Ons gebed moet wees, “God, as U my met ‘n vonk gaan aanraak, laat my met sondaars praat. Salf my om hulle van u liefde te leer. Stuur my na die strate met die dwingende liefde van Jesus.”

As jy hierdie drie dinge in jou lewe sien plaasvind, kan jy weet dat jou lewe nie langer ‘n vonk is nie, maar ‘n fakkel.

Download PDF