Jy Hoef nie Jou Lyding te Verstaan nie – Jy het Genade | World Challenge

Jy Hoef nie Jou Lyding te Verstaan nie – Jy het Genade

David WilkersonNovember 6, 2000

‘n Liewe Christen vrou op ons briewelys het vir ons ‘n hartroerende brief geskryf:

“In 1972 het ons ‘n Down-sindroom seun aan longontsteking verloor. Hy was net sewentien maande oud. Sewe jaar later, in 1979, het ons ‘n vyftien-jaar-oue seun verloor. Hy was doodgeskok in ons agterplaas terwyl hy in ‘n boom geklim het.

Nou het ons vier-en-twintig-jarige seun diabetes. En ek het kanker en ondergaan chemoterapie. Ek vra jou opreg – is dit ‘n sonde om vir God te vra, ‘Waarom?’ Verstaan Hy ons menslikheid?

Pastoor Dave, was jy al ooit kwaad vir God vir ‘n tyd lank? Ek was en ek weet dit is verkeerd. Ek voel skaam oor sulke gedagtes. Maar ek raak so verward as ek probeer verstaan waarom Christene so baie ly. Ek weet ons is nie meer verdienstelik as ander nie. Maar ek is geskok oor al die lyding wat ons verduur.

Ek ly aan vrees en angs. Maar ek wil al my vrese met sterk geloof vervang, ten spyte van al my lyding. Ek hou egter steeds aan vra — waarom soveel lyding? Hoe lank gaan dit aanhou?”

Ek kan myself net indink die afgryse om ‘n seun op die grond te vind, dood, nadat hy doodgeskok is. Ek verstaan sy moeder se uitroep: “God, waarom moes ek nog ‘n seun begrawe? Waarom is twee van ons seuns dood en nog een aangetas met ‘n dodelike siekte? Ek het kanker, ek is siek van bestraling en chemoterapie. Ons is almal swaar getref. Waarom al die lyding? Wanneer gaan dit eindig?”

Ek kan nie verduidelik waarom hierdie gesin soveel lyding beleef nie. Maar ek kan vir jou sê dit is nie ‘n sonde om te vra waarom nie. Selfs ons gesalfde Here het hierdie vraag gevra toe Hy in pyn aan die kruis gehang het. Jesus self was ‘n “man van smarte en bekend met krankheid” (Jesaja 53:3). Ek glo Christus verstaan al ons vrae, omdat Hy ten volle met ons menslike pyn kan identifiseer.

Hy hoor ons wanneer ons uitroep, “Here, waarom laat U my hierdeur gaan? Ek weet dit kom nie van U af nie – tog laat U toe dat die duiwel my teister. Waarom moet ek elke oggend wakker word met hierdie donker wolk wat oor my hang? Waarom moet ek soveel pyn verduur? Waar gaan hierdie nagmerrie eindig?”

Die sekulêre wêreld eis ‘n verduideliking vir al die pyn en lyding in hierdie lewe. Baie ongelowiges vra vir my, “Mr. Wilkerson, as jou God werklik is – as Hy waarlik liefdevol is soos wat jy sê – waarom laat Hy toe dat hongersnood voortgaan? Waarom laat Hy toe dat vloede en hongersnood arm nasies teister en duisende op ‘n slag uitgewis word? Hoe kan hy bystaan as VIGS miljoene in Afrika doodmaak? Waarom word duisende uitgedelg in oorloggeteister lande wat nog nooit vrede geken het nie?”

“Ek kan eenvoudig nie in jou God glo nie, Dominee. Ek het meer liefde as Hy – want as ek die mag gehad het, sou ek al die lyding beëindig het.”

Ek gaan nie probeer antwoord waarom nasies ly nie – waarom daar soveel verskriklike hongersnood, peste, vloede, siekte en verwoesting is nie. Die Skrif werp egter lig op die wêreld se lyding, deur sy uitbeelding van God se volk, antieke Israel. Daardie nasie het soortgelyke rampe gely: volksmoorde, ballingskap, ekonomiese ineenstorting, vreemde siektes (sommige wat slegs Israel aangetas het). Soms was Israel se lyding so afgryslik, dat selfs hulle vyande hulle jammer gekry het.

Waarom het Israel sulke vreeslike dinge gely? Die Skrif maak dit duidelik: in elke geval, het hulle God versaak en hulle eerder na afgodery en heksery gewend.

Ons sien dieselfde ding in baie nasies gebeur vandag. Byvoorbeeld, vir tweehonderd jaar, het sendelinge na Afrika gestroom. Hele Afrika nasies het Christus egter verwerp – duisende sendelinge en miljoene bekeerlinge vervolg en doodgemaak. Dit is tragies dat wanneer ‘n nasies die evangelie verwerp – en hulle eerder wend na afgodery en die okkult – is die resultaat armoede, kranksinnigheid, siekte en onbeskryflike lyding.

Dit is sekerlik waar van Haïti. Op die oomblik gaan daardie land beserk. Ons het ‘n brief ontvang van ‘n sendelingpaartjie daar wat deur ons bediening ondersteun word. Hulle skryf dat hulle bure aan elke kant beroof en aangerand is – en hulle glo hulle is volgende gemerk. Hulle vra vir ons om te bid vir hulle beskerming.

Waarom is daar soveel rampe in Haïti? Satanisme heers daar en toordery is feitlik die staatsgodsdiens. Ek het dit eerstehands gesien terwyl ek op ‘n reis na Haïti was. Ek het met toordokters gepraat en die gevolge van hulle voodoo praktyke gesien: armoede, wanhoop, vrees, siekte, honger, korrupsie.

Die wêreld kan God glad nie vir enige van hierdie dinge blameer nie. Dit is duidelik die duiwel se werk – hy wil hê alle Christen invloed moet van die eiland verwyder word. Ja, Haïti is geëvangeliseer – maar Haïtiane verwerp die evangelie en het die duisternis liewer as die lig. En die tragiese gevolge is diepe lyding.

Regoor die aarde, besoedel sondige mense die land, lug en see. Tog blameer die wêreld God vir al die atmosferiese verandering wat vloede, hongersnood en siektes veroorsaak en beide mens en dier aantas. Mense dring aan op die reg tot losbandigheid en om veelvuldige seksuele maats te hê – tog word God geblameer vir die verspreiding van VIGS. Verenigde Nasies werkers word gespot as hulle seksuele onthouding in arm lande probeer onderrig.

Hier in Amerika, vloei ‘n oseaan van onskuldige bloed. Die laaste telling was 40 miljoen baba’s wat deur aborsie doodgemaak is. In die Kongres, is ‘n wet hangende dat as ‘n baba ‘n aborsie prosedure oorleef, kan die moeder kies of die kind moet leef of sterf. Die baba word eenvoudig eenkant geplaas – nie gevoer of vasgehou nie en laat sterf van die honger. Nou kom verpleegsters regoor die land na vore en sê hulle kan nie in die nagte slaap nie, omdat hulle die gehuil van hierdie dooie kinders hoor.

Hierdie bose geslag het ‘n blatante minagting vir lewe. Tog is ons nie in staat om te begryp waarom ons kinders hulle skoolmaats doodmaak nie. Ons maak daarop aanspraak dat ons nie verstaan waarom sogenaamde normale tieners ‘n eienaar van ‘n kitskosrestaruant vir minder as vyftien dollar se kos doodmaak nie. Die rede vir sulke tragedies is maar al te duidelik: ons maai wat ons gesaai het, deur ons eie vergieting van onskuldige bloed.

Terwyl die wêreld uitroep, “Waar is God in dit alles?”, reageer ek, “Hy huil oor wat die mensdom aangevang het.”

Op die oomblik gaan baie lesers van hierdie boodskap deur diepe lyding – fisieke pyn, emosionele onrus, oorweldigende versoekings – en hulle vra, “Hoekom?” Miskien beskryf dit jou. Jy is moeg om te voel dat jy verlore en veroordeel is en dat God kwaad is vir jou. Jy is uitgeput van die gedurige selfondersoek. Jy is moeg van al die slegte raad wat jy ontvang het, wat jou net slegter laat voel het.

Miskien is jy lankal verby wonder waarom. Nou vra jy, “Here, U weet dat ek U liefhet. My geloof in U is sterk. Maar hierdie beproewing duur net voort. Ek weet nie hoeveel langer ek dit sal kan verduur nie. Hoeveel meer verwag U van my om te verdra?”

Die apostel Paulus vertel vir ons sy lewe is ‘n voorbeeld van hoe ons ons verdukkings moet hanteer. Hy skryf, “Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ‘n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe” (1 Timothéüs 1:16).

Na my mening, het geen ander persoon behalwe Jesus soveel gely – op soveel maniere, aan die hand van soveel mense – soos Paulus nie. In die oomblik van sy bekering, was Paulus gewaarsku oor die lyding wat hy sou verduur: “Maar die Here sê vir hom...Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Handelinge 9:15-16). Jesus self verklaar hier, “Ek gaan vir Paulus wys hoeveel hy sal ly ter wille van my Naam.” Net so, moet ons lewens die patroon van Paulus se voorbeeld volg.

Die mees diepgaande beproewings en lyding word toegewys aan toegewyde dienaars, wat openbarings van die hart van God ontvang. Paulus getuig, “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbarings nie sou verhef nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee” (2 Korinthiërs 12:7).

As jy jou hart heeltemal op Christus gesit het – as jy vasbeslote is om Hom intiem te ken, om Hom gretig te soek om sy woord vir jou oop te maak – gaan jy op ‘n pad van lyding geplaas word. Jy sal swaar tye, diep smarte, groot verdrukkinge, wat koue, vleeslike Christene niks van weet nie, beleef.

Dit is waar van Paulus se lewe. Toe Paulus bekeer is, was hy nie tevrede om Christus te leer ken van selfs Jesus se dissipels in Jerusalem nie. Hierdie man wou self die Here intiem ken. Daarom het Paulus gesê, “Het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie” (Galasiërs 1:16). In plaas daarvan, het hy homself in Arabië afgesonder vir drie jaar lank (sien Galasiërs 1:16-17).

Die openbaring van Christus wat Paulus ontvang het, het immers nie van ‘n mens af gekom nie. Die apostel het getuig, “Want ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie” (Galasiërs 1:12).

Ek dank God vir Bybelse leraars. Hulle maak die Skrifte vir ons oop en openbaar baie wonders en geheime van geloof. Maar in werklikheid kan die openbaring van Jesus Christus nie onderrig word nie. Dit moet deur die Heilige Gees gegee word. En dit kom na diegene wat, soos Paulus, hulself in hulle eie Arabië afgesonder het en vasbeslote is om Christus te ken.

Hierdie kenmerk onderskei die twee basiese soort Christene. Een soort sê, “Ek gee my hart vir Jesus” – maar dit is al waarop hulle kan aanspraak maak oor hulle geloof. Hulle juig dat hulle hemel toe gaan en nie hel toe nie. Maar hulle gaan geensins verder met hulle wandel in Christus nie.

Die ander soort sê, “Ek gee my hart vir Jesus – maar ek sal nie tevrede wees totdat ek sy hart ken nie.” Hierdie dienaar sal nie rus totdat hy Christus se las dra, wandel soos Christus gewandel het, God behaag soos Christus God behaag het nie. Sulke vasberadenheid kan doodeenvoudig nie onderrig word nie.

Wees egter gewaarsku – as jy waarlik wil hê dat Jesus jou sy hart gee, moet jy bereid wees om verdrukkings te verduur. Die openbaring van Christus wat jy ontvang, sal saam kom met soveel lyding en verdrukking wat jy nog nooit geken het nie.

Paulus sê hy het openbarings van God, wat vir eeue van die mens se oë verberg is, ontvang. “Wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees” (Efésiërs 3:5).

As Paulus praat van openbarings ontvang (sien 2 Korinthiërs 12:7), beteken die woord wat hy gebruik “neem die bedekking af, maak verborge dinge oop.” God het die deksel gelig van groot geheimenisse van die geloof – en Hy het vir Paulus die wonders van sy reddende werk gewys.

Ten slotte verwys Paulus na ‘n verhewe visioen wat hy ongeveer veertien jaar tevore ontvang het, net nadat hy gered was. Hy beskryf dat hy “weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mense nie mag uitspreek nie” (2 Korinthiërs 12:2-4). Kortliks, Paulus was ‘n onuitspreekbare openbaring van die hemel gegee.

Wat ‘n ontsaglike oorvloed openbarings was vir Paulus gegee. Hy het ‘n ontsaglike wandel deur die hemel beleef en dinge gesien en gehoor wat nog nooit in hierdie wêreld ervaar is nie. Skaars het Paulus egter hierdie openbarings gekry, of hy het in groot lyding ingegaan.

“En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee” (2 Korinthiërs 12:7).

Daar is twee soorte lyding onder gelowiges. Eerstens is daar die verdrukkinge en versoekings wat algemeen is vir die hele mensdom. Jesus sê die reën val op beide die regverdiges en die onregverdiges (sien Matthéüs 5:45). Hy verwys na die gegewe probleme van die lewe – huweliksprobleme, bekommernis oor kinders, stryd met depressie en vrees, finansiële druk, siekte en dood – dinge wat net so algemeen is vir heiliges as vir sondaars.

Daar is egter ook lyding wat net die regverdiges teister. Dawid skryf, “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom” (Psalm 34:20). Let op, Dawid sê nie ons redding sal skielik of onmiddellik wees nie. In baie gevalle kom om genesing oor ‘n tyd, deur gebed, vertroue en geloof.

Dit is die soort lyding wat Paulus verduur het. Die groot openbarings wat hy ontvang het, het hom op ‘n pad geplaas van diepe lyding, wat vir ‘n hele leeftyd sou duur. Dink daaraan: teen die tyd dat Paulus hierdie brief aan die Korinthiërs geskryf het, was hy reeds ‘n Christen vir veertien jaar – en hy was steeds nie verlos van die doring waarvan hy gepraat het nie. Hy het geweet hy sou waarskynlik met hierdie lyding leef tot die dag van sy dood.

Ons weet nie presies wat Paulus se doring was nie. Bybelkenners bespiegel dit kon ‘n oogprobleem wees, of ‘n spraakdefek, miskien het hy gehakkel. Een kommentaar doen baie moeite om te bewys dat Paulus se doring ‘n karakterfout – spesifiek, ‘n vinnige humeur was. Ander bespiegelinge strek van vleeslike hunkering, tot teisterende demoniese gedagtes, tot selfs ‘n beledigende vrou. Al hierdie gissings bly egter bespiegeling.

In ieder geval, het Paulus erken dat daar ‘n groot stryd in sy lewe was. Hy het gesê, “Toe ek uit daardie groot openbaring van die paradys kom, het ‘n doring in my vlees verskyn. ‘n Boodskapper van Satan het my met die vuis geslaan. Die frase “my met die vuis geslaan” beteken hier “slaan in my gesig.” Paulus verklaar, “God het toegelaat dat die duiwel my in die gesig slaan.”

So, wat was hierdie boodskapper van Satan wat Paulus geslaan het en in die gesig geklap het? Ek glo nie dit was ‘n fisieke verdrukking soos ‘n sig wat agteruitgegaan of ‘n sukkelende spraak nie. Ek glo ook nie, soos ek eens het, dat Paulus se teistering ‘n demoniese spervuur van leuens en smaad was met die bedoeling om hom te ontmoedig nie.

Nee, ek glo ons kry ‘n idee uit Paulus se frase, “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie” (2 Korinthiërs 12:7). Ek glo Paulus praat hier van selfverheffing – ‘n eie trots. Jy sien, Paulus was ‘n Fariseër – en alle Fariseërs was trots. ‘n Verhewe gesindheid was by hulle ingeplant: “Ek is bly dat ek nie soos die massas van gewone sondaars is nie.” Trouens, Paulus het vleeslike redes gehad om trots te wees. Hy was hoogs intelligent en het vele gawes van die Heilige Gees gehad.

Ek glo die duiwel het geweet dat hierdie trots Paulus se vernaamste swakheid was – en hy het dit aangeval. Hy het Paulus gevlei, sy ego gestreel en hom met een trotse gedagte na die ander getref: “Jy is die enigste een wat hierdie openbaring gekry het.” Watter groter doring kan daar wees as dat Satan daagliks op ons kwesbaarste plek teer? Paulus moes gedurig na die kruis gaan en sy begaafdheid neerlê, om sy trots dood te maak.

Satan het geweet Dawid se geneigdheid was wellus. Hy het op daardie goddelike man se swakheid geteer deur ‘n vrou te laat bad reg voor sy oë. Net so, om elke draai, klap die duiwel ons in die gesig met geleenthede en versoekings wat teer op ons trots, begeertes, ambisie, vrees – wat ook al ons vernaamste swakheid mag wees.

Die duiwel kon egter nie vir Paulus slaan voor hy God se toestemming gekry het nie. Ons weet, by voorbeeld, dat God Satan toegelaat het om Job te beproef. En het God ‘n doel daarmee gehad om Paulus se doring toe te laat. Hy het geweet dat die grootste bedreiging van Paulus se getuienis was nie sensualiteit, of gierigheid, of die lof van mense nie; nee Paulus was onaangeraak deur die dinge van die vlees. Sy swakheid was eerder trots, wat saam met die groot openbarings gekom het.

Paulus skryf, “Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk” (2 Korinthiërs 12:8). Hy het in wese gesê, “Ek het die Here ywerig gesoek, met my hele hart – en Hy het homself aan my en in my geopenbaar. Hy het selfs sy heerlikheid in die hemel vir my gewys. Op daardie presiese oomblik, het ek egter begin om ‘n kloppende herinnering van my menslike broosheid te beleef.

“Ek het by die Here gepleit, ‘Neem hierdie ding weg. Genoeg van hierdie swakheid, hierdie demoniese teistering. Hoe lank moet ek verneder word deur hierdie aanvalle? Hoe lank sal ek hierdie lyding moet verduur? Here, verlos my asseblief.”

God het nie moeite gedoen om enigiets vir Paulus te verduidelik nie. En Hy het nie sy versoek om ‘n einde van sy lyding toegestaan nie. Hy het ook nie die doring verwyder en die boodskapper van Satan verdryf nie. Tog het God vir Paulus iets baie beters gegee. Hy het vir Paulus geopenbaar hoe hy deur elke ding met oorwinning sou kom: “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring” (2 Korinthiërs 12:9).

God het in wese gesê, “Paulus, Ek gaan jou vir jou genade gee vir elke dag se beproewings. En dit sal vir jou genoeg wees in alles wat jy beleef. Jy het nie nodig om alles waardeur jy gaan te verstaan nie. So, jy kan maar net sowel ophou vra. Jy het my genade – en dit is al wat jy nodig het.”

Ons ontvang briewe van mense wat lewens lei van ontsaglike lyding. Jong mense skryf dat hulle grootgemaak is in huis vol toordery – waarin hulle geslaan, mishandel en verwaarloos is. Een sestienjarige het geskryf dat sy ouers hom aan dwelms voorgestel het. Hierdie mense roep uit, “Ek het God lief – ek het gebid en Hom gesoek. Ek het al my vertroue in Hom geplaas. Maar elke dag, trotseer ek magtige vyande – en ek sien geen teken van verlossing nie.”

Ek wil niemand ontmoedig nie. Maar, soos Paulus, mag jou verdrukking die soort wees wat God se mees regverdiges oorkom. Indien wel, sal jy moontlik deur elke dag moet gaan terwyl jy volkome op sy genade leun. Jou verlossing sal nie ‘n skielike, eenmalige belewenis wees nie – maar ‘n dag-tot-dag wandel.

Ek sê weer vir jou: dit is nie ‘n sonde om vir God te vra waarom nie – waarom al die lyding, waarom al die nimmereindigende pyn? Maar ek sê egter ook, jy kan maar net sowel ophou vra – omdat God nie daardie soort vraag antwoord nie. Hy skuld ons geen verduideliking vir ons lyding nie.

Dawid het opreg gevra, “Wat buig jy jou neer, o my siel...waarom vergeet U my? Waarom gaan ek in die rou deur die vyande se verdrukking?...Wat is jy [my siel] onrustig in my?” (Psalm 42:6,10,12). Ons weet God het Dawid liefgehad. Die Skrif toon egter geen rekord waar God Dawid se vrae geantwoord het nie.

Jesus het gevra, “Waarom kan hierdie beker nie by my verbygaan nie? Vader, waarom het U My verlaat?” (sien Matthéüs 23:39, 27:46). Nêrens in die Bybel lees ons egter van ‘n antwoord van God op sy geliefde Seun se vrae nie.

Ek persoonlik het dieselfde vrae regdeur my lewe gevra. Op die ouderdom van agt-en-twintig, het ek my gesin na New York Stad gebring, sodat ek met bendes en dwelmverslaafdes kon werk. Toe eendag, net ‘n paar jaar nadat ons getrek het, het my vrou, Gwen, ineengekrimp van pyn. Ons het haar na die hospitaal gejaag en sy het ‘n noodoperasie ondergaan. Toe het ons die verskriklike woord gehoor: kanker. Sy het ‘n gewas in haar buik gehad so groot soos ‘n lemoen.

Ek onthou die vrae vir God toe: “Waarom Here? Ons het alles verlaat om U leiding hierheen te volg. Ons het ons lewens gegee om diegene in die strate te bedien. So, waarom gaan ons nou hierdeur? Is U kwaad vir ons oor iets? Wat het ek gedoen?”

Ek het dieselfde vrae nog vyf keer gevra – elke keer was Gwen getref met nog ‘n kanker. Ek het dit ook gevra deur elkeen van haar agt-en-twintig operasies.

Ek het God weer in Houston, Texas gevra, toe ons dogter, Debbie, opgekrul gelê het in ‘n fetale posisie met erge pyn van kanker. Sy het ‘n gewas in dieselfde area as haar ma gehad. Ek het tot die Here uitgeroep, “Here, Gwen was genoeg – nou is dit net te veel. Waarom?”

Ek het dit weer ‘n keer gevra toe ons ander dogter, Bonnie, in ‘n hospitaal in El Paso, Texas gelê het en bestraling behandeling vir kanker ontvang het. Sy was omring deur dokters wat loodpakke gedra het en haar liggaam is vir drie dae met dodelike bestraling gebombardeer. Die dokters het haar ‘n 30 persent kans van oorlewing gegee. Ek het uitgeroep, “God, U moet kwaad wees vir my. Daar is geen ander verduideliking nie. Hoeveel verwag U van my om te verdra?”

Uiteindelik, het ek alleen op ‘n stil pad uitgery – en vir twee ure het ek op God geskree: “Is daar geen einde hieraan nie? Ek het U alles van myself gegee, elke dag. Hoe meer ek U egter soek, hoe meer lyding sien ek.”

Ek weet ook wat dit is om deur ‘n boodskapper van Satan geslaan te word. Ek was erg versoek en uitgelok. Ek het vyande teen my aangehits gehad van alle kante af. Ek was gelaster deur gerugte, valslik beskuldig en verwerp deur vriende. In daardie donker tye, het ek op my knieë geval en uitgeroep, “Waarom, Here? Al wat ek wil hê, is vir U. Waarom laat U toe dat Satan my teister? Hoe lank sal ek met hierdie swakheid moet sukkel?” Net soos God egter niks vir Paulus verduidelik het nie, het Hy niks vir my verduidelik nie.

Ek glo dat wanneer ons eendag in die hemel is, sal die Here alles vir ons verduidelik. Ons het ‘n ewigheid om al ons vrae beantwoord te kry. En wanneer Hy dit alles openbaar, sal ons sien dat alles deel was van ‘n perfekte plan – georkestreer deur ‘n liefdevolle vader wat weet wat dit sou neem om ons op ons aangesigte te hou en in Hom vorentoe te beweeg.

Ons hoor dikwels genade word gedefinieer as, doodeenvoudig, die onverdiende guns en seëning van God. Tog glo ek genade is baie meer as dit. Na my mening, is genade alles wat Christus vir ons is in ons tye van lyding – krag, mag, goedheid, barmhartigheid, liefde – om ons deur ons lyding te dra.

As ek terugkyk oor die jare – jare van beproewings, lyding, versoeking en verdrukking – kan ek getuig dat God se genade genoeg was. Sy genade het Gwen deurgedra. En dit het ook vir Debbie en Bonnie deurgedra. Vandag is my vrou en dogters gesond en sterk – en daarvoor dank ek die Here.

Sy genade het ook vir my deurgedra. En dit is genoeg vir vandag. Dan, eendag in heerlikheid, sal my Vader aan my die pragtige plan wat Hy die hele tyd gehad het, openbaar. Hy sal my wys hoe ek geduld deur my beproewings ontvang het, hoe ek deernis vir ander geleer het; hoe sy krag volmaak gemaak is in my swakheid; hoe ek geleer het van sy uiterste getrouheid teenoor my; hoe ek hopelik meer soos Jesus geword het.

Ons mag steeds vra waarom – dit bly egter ‘n geheimenis. Ek is bereid om dit te aanvaar todat Jesus my kom haal. Ek sien geen einde aan my beproewings en verdrukkings nie. Ek het hulle al vir vyftig jaar lank en dit hou nog steeds aan.

Deur dit alles, word ek egter steeds ‘n immer toemende maat van Christus se krag gegee. Trouens, my grootste openbarings van heerlikheid het gekom in my moeilikste tye. Net so, in jou laagste oomblikke, sal Jesus die volste maat van sy krag in jou vrystel.

Ons mag dalk nooit ons pyn, depressie en ongemak verstaan nie. Ons mag dalk nooit weet waarom ons gebede vir genesing nie beantwoord is nie. Maar ons het nie nodig om te weet waarom nie. Ons God het ons reeds geantwoord: “Jy het my genade – en dit, my geliefde kind, is al wat jy nodig het.”

Download PDF