Jy Kan Nie Jou Eie Kruis Dra Nie | World Challenge

Jy Kan Nie Jou Eie Kruis Dra Nie

David WilkersonMay 1, 1979

Dit is baie waar wat Jesus vir Sy dissipels gesê het, “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” Maar Jesus kon nie Sy kruis dra nie – en jy kan ook nie! Jesus het onder die las van Sy kruis geval, moeg, uitgeput, en nie in staat om dit nog een tree te dra nie. Johannes het gesê, “En Hy het sy kruis gedra en uitgegaan na die sogenaamde Hoofskedelplek, in Hebreeus Gólgota” (Johannes 19:17). Die Bybel sê nie vir ons hoe ver Jesus Sy kruis gedra het nie. Ons weet hulle het Simon van Ciréne gedwing om dit op te tel en te dra tot by die plek van kruisiging (Matthéüs 27:32).

Jesus het wel Sy kruis opgetel en was gelei deur Sy martelaars soos ‘n lam om geslag te word. Maar Hy kon dit nie vir lank dra nie. Trouens, Jesus was te swak en broos om Sy kruis te dra. Dit was op iemand anders se skouers gelê. Hy moes die einde van Sy uithouvermoë bereik het. Hy was fisiek ‘n gebroke en beseerde man. Daar is net soveel wat een mens kan verdra. Daar is ‘n breekpunt. Waarom het hulle Simon gedwing om daardie kruis op te tel? Het Jesus op daardie keisteenstrate gelê soos ‘n lewelose man, met die kruis wat bo-oor Hom gelê het soos ‘n dooie gewig? Het hulle Hom geskop, Hom probeer oplig, en Hom probeer dwing om nog ‘n tree te gee? Maar het Hy net daar gelê, met nie genoeg krag om ‘n duim verder te beweeg nie? Sy kruis het te swaar geword om te dra.

Wat beteken dit vir ons? Sou ons Here ons iets laat doen wat Hy nie self kon doen nie? Het Hy nie gesê, “...elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie?” (Lukas 14:27). ‘n Kruis is ‘n kruis, hout of geestelik. Is dit nie genoeg om te sê, “Sy kruis was anders – ons kruis is geestelik” nie.

Persoonlik gee dit my hoop om te weet dat Jesus nie Sy eie kruis kon dra nie. Dit moedig my aan om te weet dat ek nie die enigste een is wat soms tot op die grond belas is en nie op my eie krag kan verder gaan nie. As ons met Sy kruisiging gaan identifiseer, moet ons ook identifiseer met die stappe wat tot die kruis gelei het. Ons moet eens en vir altyd die waarheid in die oë kyk dat geen mens sy eie kruis kan dra nie.

Moenie na een of ander verborge uitleg soek nie; Jesus het presies geweet wat Hy gesê het toe Hy ons geroep het om “ons kruis op te neem en Hom te volg.” Hy onthou Sy eie kruis. Hy onthou dat iemand anders dit vir Hom moes dra. Waarom sou Hy dan vir ons vra om ‘n kruis te dra wat Hy weet ons gou tot teen die grond sal druk? Hy weet ons kan dit nie die hele pad dra in ons eie krag nie. Hy weet van al die pyn, die hulpeloosheid, die las wat kruise skep.

Daar is ‘n verborge waarheid wat ons moet ontdek. Dit is ‘n waarheid so kragtig en stigtend dat dit die manier kan verander waarop ons na al ons probleme en hartseer kyk. En hoewel dit amper klink na ontheiligend om voor te stel dat Jesus nie Sy eie kruis gedra het nie, is dit die waarheid. Wat dit vir ons vandag beteken, is dat Jesus, wat medelye het met ons swakhede, self moes beleef het hoe dit voel om swak en moedeloos te wees en nie te kan voortgaan sonder hulp nie. Hy was in alle opsigte net soos ons versoek. Die versoeking is nie in die mislukking nie, nie in die neerlê van die kruis as gevolg van swakheid nie; die ware versoeking is om daardie kruis te probeer optel en dit met eie krag te probeer dra. God kon daardie kruis bonatuurlik opgelig het en dit toweragtig al die pad na Gólgota laat sweef het. Dan, kon Hy ook die gewig uit die kruis gehaal en dit so lig soos ‘n veer gemaak het. Maar Hy het nie. Die kruistoneel was nie ‘n reeks foute nie, en hoewel Christus aan die hand van sondaars gesterf het, was die hele plan gebore in die hart van God van die skepping van die aarde af. God het Simon daar geplaas, gereed om sy rol in die plan van verlossing te speel. God was nie verras toe Sy Seun nie langer die kruis kon dra en so die profesie vervul nie. God het geweet Jesus sou Sy kruis opneem, begin loop na Gólgota en dit dan neerlê.

Jou kruis is bedoel om jou te laat val.

God weet ook dat nie een van Sy kinders die kruis kan dra wat hulle opneem om Christus te volg nie. Ons wil so graag goeie dissipels wees; ons wil so graag onsself verloën en die kruis op onsself neem; dit lyk of ons vergeet dat dieselfde kruis ons eendag by die einde van ons menslike krag en uithouvermoë sal bring. Sou Jesus doelbewus vir ons vra om ‘n kruis op te neem wat Hy weet al ons menslike energie sal tap en ons hulpeloos sal laat lê – selfs tot op die punt van opgee? Absoluut ja! Jesus het ons gewaarsku, “Sonder My kan julle niks doen nie” (Johannes 15:5). So, Hy vra ons om ons kruis op te neem, daarmee voort te sukkel, totdat ons ‘n les leer. Eers wanneer ons kruis ons neerdruk tot in die stof, leer ons die les dat dit nie deur ons krag of mag of sterkte is nie, maar deur Sý krag. Dit is wat die Bybel bedoel waar dit sê Sy krag word volbring in ons swakheid. Dit beteken nooit dat God se manier ‘n bietjie beter is as ons s’n of dat Sy krag ‘n bietjie groter is nie. Dit beteken dat God se manier die enigste manier is; Sy krag is die enigste hoop.

Jesus kyk na hierdie wêreld vol verwarde kinders wat probeer om hulle eie geregtigheid op te rig, wat probeer om Hom op hulle eie manier te behaag, en Hy vra vir kruise. Die kruis is bedoel om ons te breek, om ons van alle menslike pogings te ontledig. Ons weet Hy is sterker as Simon wat by ons breekpunt sal kom en die las oorneem, maar Hy kan nie oorneem totdat ons opgee nie, totdat ons by die punt kom waar ons uitroep, “God, ek kan nie nog ‘n tree gee nie. Ek is uitgeput! Ek is gebroke! My krag is weg! Ek voel dood! Help!”

Jesus was gekruisig “uit swakheid” (2 Korinthiërs 13:4). Dit is wanneer ons heeltemal swak en self verneder word dat ons sien hoe ons sterk gemaak word, deur geloof in die Here. Ons gees is gewillig om ons eie kruis te dra, maar die vlees is swak. Paulus kon hom verbly in sy kruis, en ‘n behae vind in hoe swak dit hom gemaak het. Hy het gesê, “Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk...En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon....” (2 Korinthiërs 12:10,9).

Paulus was nie swak en sterk op dieselfde tyd nie. Hy het swak geword as gevolg van probleme en benoudhede. Maar toe hy neergedruk was tot op die grond deur sy kruis, was hy nie wanhopig nie. Dit was uit daardie swakheid dat hy sterk geword het. Paulus het gejuig in hierdie proses van swak word want dit was die geheim tot sy krag met Christus. “Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon”

Wat is jou kruis? Dit is enige las of druk wat dreig om jou te breek. My verslaafde vriende noem hulle s’n “’n aap op die rug.” Dit is nie ‘n onheilige verwysing na die kruis nie. Dit beskryf bloot hulle idee van ‘n las wat hulle tot op die grond verpletter. Ek hoor dikwels mans en vroue na hulle huwelik verwys as “’n kruis om te dra.” Ander sien hulle kruis as ‘n onbevredigende werk, ‘n siekte, ‘n toestand van eensaamheid of egskeiding. Ek hoor allerhande definisies van wat die kruis veronderstel is om te verteenwoordig. Ek het selfs al gehoor homoseksuele verwys na hulle gewoonte as ‘n swaar kruis. Aangesien Jesus die besonderhede van die kruis wat ons moet opneem beskryf het, stel ek voor dit is enigiets wat ‘n krisis in ons geestelike lewens sal verhaas. Byvoorbeeld, eensaamheid kan ‘n kruis wees wat te swaar is om te dra en dit maak ons uiteindelik raadop. Dit is dan wanneer ons die Here kan toelaat om af te reik na ons toe en ons uit ons selfbejammering en selfvernietiging te haal. Eensaamheid is ‘n goeie ding as dit ons swak genoeg maak om net Sy krag te wil hê.

“Ek doen nie genoeg vir God nie”

My kruis is vreemd maar nie onbekend aan baie ander nie. Ek word heeltyd belas met ‘n gevoel van “nooit genoeg doen nie.” Hierdie kruis word gewoonlik die swaarste direk nadat ek ‘n topverkoper boek geskryf het; nadat ek vir duisende gepreek het; na die begin van ‘n voedingsprogram vir sterwende kinders; na berading van honderderde ongelukkige paartjies. Ek stop vir ‘n paar weke, neem voorraadopname van my lewe en bediening, en iets binne-in my raak depressief en ek bely teenoor my vrou en vriende, “Ek voel nie ek doen genoeg vir God nie. Ek is nie so vervuld as wat ek behoort te wees nie. Soms voel ek so nutteloos.”

So dikwels kry ek daardie “nog nie klaar” gevoel. Ek voel ek mors te veel tyd om betekenislose dinge te doen. Dit is moeilik om te ontspan as ‘n stem in jou innerlike jou veroordeel omdat jy nie “uitbrand vir Jesus” nie. Ek dink aan al die dinge wat ek myself beloof het ek sal doen; die projekte wat ek sal klaarmaak; die groei in God wat ek sal bereik – en baie daarvan word nooit gedoen nie. Ek beskuldig myself van luiheid. Ander lyk so gedissiplineerd en gemotiveerd, en ek verbeel my almal gaan verby my en los my agter in die stof. Maar God sal my vra om aan te hou om daardie kruis daagliks op te neem, totdat dit uiteindelik die oorhand oor my kry. Duidelik is dit deel van my lewe wat nog nie onder Sy beheer is nie. Eendag, sal ek wanhopig neerval en uitroep, “Here, ek gee nie meer om nie. Laat die wêreld by my verbygaan. Laat my drome almal verdwyn. Laat my niks anders wees as ‘n gehoorsame dissipel nie. Ek wil nie meer met myself of ander kompeteer nie. Geen egoïstiese doelwitte meer nie. Neem oor, Here, en lig my las.” Dit is wanneer ons Here sal ingryp en fluister, “David, laat My nou jou las dra.”

Geestelike kruise

Soms kan geestelike hoogmoed ‘n kruis wees. Jy neem ‘n swaar las op wanneer jy begin getuig oor die groot dinge wat God in jou lewe doen. God gee vir jou ‘n gebroke en verslae gees. Ander kom na jou toe vir hulp en ontvang seëninge. Jy word op wonderlike maniere gebruik om mense oral om jou te bemoedig. Jy begin besef, “Sjoe! Ek het soveel blydskap gehad. God het my so teer en liefdevol gemaak. Ek leer uiteindelik hoe om my versoekings te oorwin en ek groei so baie in die Here. Ek voel asof ek op die punt is om deur te breek na ‘n lewe van geestelike glorie en krag. Uiteindelik, het ek ‘n wenstreep van vertroue en vrede bereik. Ek wil nooit weer teruggaan na wat ek was nie.”

‘n Week later rol jy in die stof; jou geestelike ballon het gebars, en alles lyk of dit uit jou getap het. Al wat jy kan sê, is, “Wat het gebeur? Ek het nie teen God gesondig nie; ek het nie getwyfel nie. Die blydskap het net verdwyn. Dit lyk nie of ek nou iets in my het om aan ander te gee nie. Ek is droog en leeg. Waarom kan ek nie die heerlike gevoelens behou nie?”

Jy sal nooit arriveer nie

Luister na my, vriend – God sal nooit toelaat dat jy voel jy het gearriveer nie. Dit is die probleem met soveel Christene vandag. Lank gelede, het hulle groot seën van die Here ontvang. God het ‘n wonderlike werk in hulle lewens gedoen. Die Heilige Gees het oor hulle gekom en hulle lewens oorgedoen, deur en deur. Dit was glorieryk en hulle het die wêreld begin vertel van hulle ontwaking. En dit was afdraende pad sedertdien. Hulle het daardie een groot belewenis uitgery en in die proses, het hulle selftevrede en selfvoldaan geword. Pasop wanneer jy dink jy staan, dat jy nie val nie. Uiteindelik voel daardie eens geseënde Christen swak en leeg. Nadat hy onsuksesvol probeer het om die seëninge te uit te dink of te herskep, het hy wanhopig opgegee. Hy roep uit, “Ek is geestelik dood. Ek verloor grond by God. Ek voel soos ‘n skynheilige. Ek kan skynbaar nie terugkom tot waar ek was in die Here nie.”

Jou liefde vir Jesus kan jou op jou knieë dwing, maar jou kruis sal jou op jou aangesig laat val – op die grond in die stof. God ontmoet jou in ‘n neergevalle toestand en fluister, “Ek het die swak dinge van die wêreld; die dwase dinge; die gebroke dinge; die dinge wat nietig is uitgekies – sodat geen vlees in Sy teenwoordigheid sal roem nie.”

Die kruis leer ons om onsself te verloën

Jy sal jou eie kruis moet dra totdat jy leer om te verloën. Wat verloën? Die een ding wat heeltyd God se werk in ons lewens verhinder – self. Kyk weer na wat Jesus gesê het, “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” Ons interpreteer hierdie boodskap verkeerd as ons selfverloëning beklemtoon, dit is, die verwerping van materiële of wettelose dinge. Jesus het nie ‘n beroep op ons gedoen om selfdissipline te leer voor ons ons kruis opneem nie. Dit is baie ernstiger as dit. Jesus vra dat ons onsself verloën. Dit beteken om jou eie vermoë te verloën om enige kruis in jou eie krag te dra. Met ander woorde, “Moenie jou kruis opneem nie totdat jy gereed is om enige en alle gedagtes te verwerp om ‘n heilige dissipel op grond van eie pogings te word.”

Daar is miljoene belydende Christene wat roem oor hulle selfverloëning. Hulle drink of rook of vloek of hoereer nie – hulle is voorbeelde van ontsaglike selfdissipline. Maar nie in ‘n honderd jaar sou hulle erken dit was bereik deur iets anders as hulle eie wilskrag nie. Trouens, hulle is gou om stellings soos die volgende by te voeg: “Ek kan enige tyd ophou as ek wil. Die duiwel kan my nie mislei nie. Ek weet wat reg is en ek probeer dit doen. Ek onderhou al die gebooie. Ek is ‘n rein, sedelike mens. Ek lieg of steel nie en is getrou aan my huweliksbeloftes.” Hulle beoefen selfverloëning, maar het nog nooit self verloën nie. Op sekere maniere, is ons almal so. Ons beleef oomblikke van heiligheid, vergesel deur gevoelens van reinheid. Goeie werke veroorsaak gewoonlik goeie gevoelens, maar God sal nie toelaat dat ons dink ons goeie werke en rein gewoontes ons kan red nie. Dit is waarom ons ‘n kruis nodig het.

Ek glo Jesus sê in werklikheid vir ons, “Voor jy jou kruis opneem, wees gereed om ‘n oomblik van waarheid te beleef. Wees gereed om ‘n krisis te beleef waarin jy sal leer om jou eiewil, jou eie-geregtigheid, jou selfgenoegsaamheid, jou eie-outoriteit te verloën. Jy kan opstaan en My volg as ‘n ware dissipel wanneer jy vrylik kan erken jy kan niks in jou eie krag doen nie – jy kan nie sonde oorwin met jou eie wilskrag nie – jou versoekings kan nie oorwin word deur eie pogings alleen nie – jy kan nie dinge uitwerk met jou eie intellek nie.

Jesus dwing nooit ‘n kruis op ons af nie

Hy het gesê, “Laat hom sy kruis opneem.” Nie een keer sê ons Here, “Buig neer en laat Ek ‘n kruis op jou lê nie.” Jesus is nie in die verwingsbesigheid nie; Sy leër is vrywillig. Nie alle Christene dra kruise nie. Jy kan ‘n gelowige wees sonder om ‘n kruis te dra, maar jy kan nie ‘n dissipel wees nie. Ek sien so baie gelowiges die weg van die kruis verwerp. Hulle het die goeie lewe gekies met sy voorspoed, sy materiële wins, sy gewildheid en sukses. Ek is seker baie van hulle sal dit maak tot in die hemel – hulle sal hulle lewens red, maar hulle sal Christus nie leer ken het nie. Deurdat hulle die lyding en droefheid van die kruis verwerp het, het hulle nie die kapasiteit om Hom te ken en te geniet in die ewigheid soos al die kruisdraende heiliges wat in die gemeenskap van sy lyding getree het nie.

Diegene wat ly, sal saam heers. Ek verheerlik nie die lyding en pyn nie – slegs die resultate wat dit veroorsaak. Soos Paulus, moet ons kyk na die beproewings en hartseer wat ons nou beleef en juig in die wete dat ons met die enigste pad af stap wat lei tot uiteindelike oorwinning en volwassenheid. Dan, kyk ons nie langer na ons laste en swaarkry as ongelukke en straf nie, maar as ‘n kruis wat gebied word om te leer om ons te onderwerp aan God se manier van dinge doen. As jy tans ly, is jy in die proses van genesing. As jy neerslagtig is, verpletter onder die las van ‘n swaar vrag, maak gereed! God is op die punt om jou kragtig te steun. Jy is op die punt van openbaring. Enige tyd nou, sal jou Simon verskyn omdat God mense gebruik om Sy wil uit te voer. Iemand gaan verplig wees deur die Heilige Gees om in jou pad van lyding te kom, na jou uit te reik, en jou las te lig.

Jou kruis is ‘n teken van sy liefde

Dierbare vriend, moenie aan jou beproewing dink as oordeel van God nie. Moenie rondgaan en jouself verdoem asof jy op jouself een of ander gevreesde straf vir mislukking gebring het nie. Hou op dink, “God laat my betaal vir my sonde.” Waarom kan jy nie sien dat dit waardeur jy gaan ‘n gevolg is van Sy liefde nie? Word jy getugtig? Voel jy asof jy neergetrek word? Is jy in pyn? Ly jy? Goed! Dit is die bewys van Sy liefde vir jou. Onderwerp jou! Neem jou kruis op! Wees voorbereid om selfs nog verder af te gaan! Maak gereed om jou krisispunt te bereik! Wees gereed om die einde van jou self te bereik! Wees gereed om op te gee! Wees voorbereid om die bodem te tref!

Begryp asseblief jy is in Christus se skool van dissipelskap. Juig omdat jy swak gaan word om Sy oorweldigende krag in jou te beleef.

Hy het Sy kruis neergelê; waarom nie jy nie? Vir Hom, het ‘n Simon verskyn. Vir ons, verskyn ‘n Verlosser. Ons staan op en gaan aan. Dit is steeds óns kruis – maar nou is dit op Sy skouers.

“Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te tel” (Prediker 4:9,10).

Download PDF