Kalm Christene in ‘n Krisiswêreld | World Challenge

Kalm Christene in ‘n Krisiswêreld

David WilkersonJanuary 15, 1986

[Hierdie boodskap was gelewer in die sewentiende eeu deur Thomas Manton. Ons het dit geparafraseer in moderne Engels, en dit is ‘n boodskap net so kragtig vandag as toe. Kalm Christene is diegene wat geleer het om te juig in enige en alle omstandighede.]

“Wees altyd bly!” is ‘n gebod, en ‘n gebod is vir alle Christene van alle tye. God sê dat Sy kinders dit ‘n gewetensaak moet maak om hulle in Hom te verbly te alle tye en in alle omstandighede. Om ons te verbly, is nie ons keuse nie; dit God se gebod. As ons versoek word om hierdie woorde as ‘n keuse te ag, ondermyn ons God se eie opdrag aan ons.

God het nie ons hart totdat Hy ons behae het nie. Ek wil hierdie waarheid versterk deur jou uit te daag om drie stappe te neem om jou in God ons Saligmaker te verbly: 1. Verwyder elke hindernis wat inmeng met blydskap; 2. Oortuig jouself dat blydskap noodsaaklik is; 3. Oefen om jou altyd te verbly.

I. Verwyder elke hindernis wat inmeng met blydskap.

Laat my jou nou voorberei, dit sal nie altyd maklik wees nie. Byvoorbeeld, hoe kan ons onsself verbly wanneer ons besef dit is God wat toegelaat het dat verdrukking ons te beurt val in die eerste plek? Is dit nie dom om gelukkig te wees wanneer Hy kwaad is of om bly te wees in tragedie wat Hy kon verhoed het nie?

Jy mag dalk dink dit maak nie sin as ons ons kan verbly in swaarkry en vervolging nie. Hoe kan ons juig wanneer God se eie hand prikkelende tugtigings stuur om ons tereg te wys? Moet ons bly wees daarin? Laat my antwoord sonder om te aarsel – God verwag van ons om ons te verbly in beproewings wat direk van Hom af kom. “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil” (Habakkuk 3:17,18). Selfs as God kies om ons tereg te wys met hongersnood en mislukking, “nogtans sal ek jubel in die Here!”

Geestelike blydskap is nie onkunde of oneerbiedigheid nie, maar ‘n eer vir God wanneer ons tevrede is in Hom al misluk alle ander dinge. Goddelike tevredenheid wys Hom dat Sy vertroosting al is wat ons nodig het, omdat Hy self buite bereik is van probleme. Om geloof bokant ons omstandighede te verhef deur elke oomblik te lewe in ‘n verborge, hoë skeur van liefde vir God, leer ons om te glimlag wanneer natuurlike kragte probeer om ons te laat huil. “Oor verwoesting en broodsgebrek sal jy lag... hoef jy nie te vrees nie” (Job 5:22).

Om ons in die Here te verbly wanneer alle uiterlike redes vir blydskap verdwyn, is glad nie ‘n sonde nie; want dit maak nie saak hoe bitter ons deel tans in die wêreld mag wees nie, ons hede en toekoms in Christus word vir ons in die hemel gehou en deur God self bewaar.

As ons goddelik is, sal ons vervolging ly, maar ons sal nie verlaat word nie.

Ons moet onderskei tussen verdrukking en ondersteuning sodat ons nie ingee onder die probleem nie. Beide kan en moet saamstaan, want in alle wêreldse verdrukking moet ons “ween, asof hulle nie ween nie” (1 Korinhiërs 7:30). Kortliks, probleme is nodig om te maak dat ons God se soewereine krag ken; in die tussentyd, maak Sy vertroosing die probleme draaglik.

Die God van alle vertroosting wil sekerlik nie hê Sy kinders moet beswyk van angs asof alle blydskap weg is nie. Ons is nooit heeltemal vernietig nie, solank ons Hom steeds as ons deel het. “Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop” (Klaagliedere 3:24). As ons goddelik is, sal ons vervolging ly, maar ons sal nie verlaat word nie. Ons sal bekommerd wees, maar ons sal nie verslaan word nie. Ons mag dalk neerslagtig wees, maar ons sal nie vernietig word nie. Hoe kan dit alles wees? God leef in ons! Slegs deur beproewings van ons geloof sal ons Hom ooit ken as die ware vreugde en blydskap van die lewe.

Ons kan hierdie swaarkry verduur omdat ons opkyk na die Vader en liefde vind terwyl Hy ons teregwys. Die dissipline kom nie net van Sy geregtigheid af nie; barmhartigheid is die stok waarmee Hy ons louter. “Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie” (Johannes 18:11). Ons is in staat om daardie bitter beker te neem, omdat geloof ons verseker dit is die hand van ‘n deernisvolle, alwetende Vader wat die ander kant daarvan vashou.

Hierdie Vader wat Sy kinders jammer kry het genoeg barmhartigheid om daardie bitter beker vir ons ten goede om te draai. “Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word” (Hebreërs 12:10).

Waarom moet ons aanhoudend neerslagtig voel wanneer God ons opwek tot groter nederigheid, afkeur vir die wêreld, en vertroue in Homself? Hoe kan ons onrustig en ongelukkig wees wanneer Hy so lank vir ons gewag het om ons hart se begeertes in Hom alleen te plaas? Omdat ons heilige, tugtigende God ook ‘n liefdevolle hemelse Vader is! Ons kan die beker van lyding drink en saamstem met die Psalmis, “Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil” (Psalm 34:9).

As ons Vader tydelike verdrukking toelaat om ons gereed te maak vir ewige heerlikheid, is daar steeds ‘n fontein van blydskap wat sy weg deur die trane forseer. “Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid” (2 Korinthiërs 4:17).

“SALIG IS DIE WAT TREUR, WANT HULLE SAL VERTROOS WORD” (Matthéüs 5:4). ‘n Wanopvatting aangaande blyskap is die volgende; omdat Christus belowe het om diegene te seën wat oor sonde treur, hoe kan ons juig? Om te treur oor sonde, is die enigste poort na bekering weens die sonde en vloek wat ons van nature weghou van geregtigheid. So lank as wat ons buite Christus is, het ons niks om ons mee te vertroos nie, niks om die skrik van die wet teë te werk nie, niks om beskuldigings van die gewete te versoen nie, niks om ons te bewaar van naderende oordeel en die hel nie.

Omdat ons roekeloos hierdie loon van die sonde verdien het, wat anders kan ons doen as om uit te roep tot God met sterk geroep en trane en smeking? Sy eerste werk tydens bekering is om ons uit te haal uit die gekkeparadys, met sy ydele vreugde en behae in enigiets en alles behalwe Christus. Daarom is gebroke vernedering noodsaaklik om die opwindende smaak van sonde dood te maak. Dit is die lang ure van pyn en geween werd wanneer ons die genesende genade van Christus groter ag as al die plesiere en pryse wat die wêreld so aanloklik uitdeel.

Die gevaarlikste posisie in die wêreld is van ‘n man wat besef hy is verlore – in gevaar van veroordeling – en tog nie bedroef is oor sy sonde nie. Maar vir ‘n mens wat ernstige berou het, is blydskap in wording! God is gereed om te genees sodra ons behoefte ons na Sy troon van genade neem. “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes. Want Ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie, want die gees sou voor my aangesig versmag en die siele wat Ek self gemaak het. Ek was toornig vanweë die ongeregtigheid van hulle hebsug en het hulle geslaan terwyl Ek My toornig verberg het; ewenwel het hulle afkerig voortgegaan op hulle eie weg” (Jesaja 57:15-17). Maar dan voeg die Here by, “Ek het hulle weë gesien, en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle weer vertroosting skenk, naamlik aan hulle treuriges” (Jesaja 57:18).

Dit is duidelik waarom hartseer oor sonde ‘n saadjie van blydskap bevat; die nederige Christen is bly dat sy hart steeds kan breek oor sonde! ‘n Uur van opregte, siel-deursoekende bekering beteken meer vir hom as baie aande van opwindende vermaak, hy sou nie die vertroosting van God se tugtigende hand vir al die pret in die wêreld verruil nie. Hy verkies selfs die bitter trane van berou wat sonde doodmaak, saam met die kosbare gevangenskap van Christus se liefde, bo al die prominensie wat die wêreld hom kan bied. Om in staat te wees om te ly wanneer ons God laat ly het, is ‘n vereiste deel van blydskap in Hom.

‘n Berouvolle, gebroke gelowige sou nie plekke verruil vir die mees suksesvolle, gesogte goddelose mens nie. En hierdie prioriteit dui op die bewys dat ‘n onbreekbare blydskap die ware kern van ons wese vorm. Dit is nie volmaakte blydskap in die Here nie, nog nie – nie tot in die hemel sal ons daardie soort heerlikheid ken nie – maar dit is blydskap gemeng met droefheid en onuitspreeklike versugtinge. In Christus, is ware bekering ‘n heerlike, onuitspreeklike blydskap op sy eie.

II. Oortuig jouself dat blydskap noodsaaklik is.

Tensy ons Hom liefhet en na Hom verlang meer as enigiets anders, is Hy nie ons God nie. Of die wêreld in duie stort of staan, of ons alles en almal wat vir ons kosbaar is verloor of behou, bly die Here die bron van ons versadiging! “En verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart” (Psalm 37:4).

Ons hart, is egter nie heel nie, todat ons so gevul is met liefde en lof vir ons Verlosser dat ons nie dink aan of ons ryk of arm, beroemd is of geïgnoreer word nie. Slegs as ons gestroop is van alle natuurlike bedekkings en ‘n naakte Christus genoeg rede ag vir blydskap, het ons Hom werklik lief met ons hele hart. “Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is” (Psalm 4:8). Hierdie soort toewyding aan God maak ons vry om alles te verloor en steeds te besit wat ons die graagste wil hê. “Ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry” (Filippense 3:8). Paulus het ‘n vervolg geskryf oor hierdie “berowing van julle goed” wat die wêreld nie eens wil lees nie: “Omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het” (Hebreërs 10:34).

Wanneer hierdie goddelike blydskap gevestig en geanker is deur God in ons harte, word dit ‘n onwankelbare ondersteuning in tye van pyn en armoede en skande. Niks kan dan ons blydskap steel nie. “En julle hart sal bly word, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie” (Johannes 16:22). God het ‘n plek in Sy kinders geskep vir blydskap. Hierdie plek sal gevul wees met iets, of met die speelgoed en nietighede van wêreldse prestasie en besittings versamel of met die hemelse dinge van die Skepper. Aangesien die liefde van sensuele plesiere die wortel van sonde vorm, sal daar altyd vleeslike drange wees wat ons weglok van God af. “Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word” (Jakobus 1:14).

Die geneigdheid om die vlees behaag, is die val van die kerk vandag. Aangesien hierdie soort behoefte aangebore is in ons en diep ingeëts is in ons natuur, kom dit nie uit sonder ‘n geveg nie. Byvoorbeeld, as ons besluit om daardie behoeftes vir krag en prestasie te voed met ‘n paar ongesiene krummels van trots op ‘n keer, word hulle so sterk dat hulle gou ons siele deurboor met tydelike plato’s van sensuele plesiere. So, dan, vir ons om nie verslaaf te wees daaraan om die vlees te dien nie, kan ons ons wend na ‘n hoër blydskap, op baie dieselfde manier waarop ‘n groter spyker in hout ingeslaan word en die kleiner spyker uitslaan.

Terwyl die sondige natuur plesier meer liefhet as “die naakte Christus,” maak die nuwe natuur van die mens God sy ontsaglike groot beloning en verkies die dinge van die Gees. “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge” (Romeine 8:5). Net soos wanneer ons akkers nie meer kosbaar ag as ons vars koringbrood geproe het nie, sterf vleeslike aptyte bietjie vir bietjie op ‘n keer omdat ons onverganklike skatte in Christus besit.

Wanneer ons blydskap uitstyg tot die hemelse doel van God se behae te wees, tap die drek van tevredenheid wat onder versamel is uit. Sensuele, kleinlike bevredigings word vaal in vergelyking met die Christen se blydskap in Christus. Wanneer ons eers God se verborge manna ken, proe die knoffel, die uie en die vleispotte van Egipte sleg. “Ons wil juig en ons in u verheug, ons wil u liefde prys meer as wyn” (Hooglied van Salomo 1:4). Blydskap in God blus ons vleeslike begeertes, baie soos die helderheid van die son die vuur verdof!

Volgende, “Want die blydskap in die HERE – dit is julle beskutting” (Nehemia 8:11). Blydskap lig ons op tot in ‘n lewe van heiligheid. Dikwels voel ons natuurlike apatie of stompheid as ons daaraan dink om God te dien. En hierdie doodsheid kan oorwin word slegs deur blydskap in Hom, iets wat so glad werk soos olie gegiet op stram wiele.

III. Oefen om jou altyd te verbly.

“O, regverdiges, jubel in die HERE! ‘n Loflied betaam die opregtes” (Psalm 33:1). Diegene in wie ‘n nuwe, goddelike natuur geplaas is deur die almagtige God, is nie meer tevrede met dinge van die wêreld nie. Wanneer ons nuwe natuur hom aanhoudend wend tot die Vader, kan ons wegstap van vleeslike plesiere, en hulle as semels agterlaat vir die varke om te vreet. “Sodat julle daardeur geelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Petrus 1:4). ‘n Verandering van hart, impliseer dan ‘n verandering van begeerte ook. ‘n Rein hart wat God soek, wil hê wat Hy wil hê.

Ons hele lewe moet verander word. Heilige gehoorsaamheid skep elke keer die lieflikste vrug van blydskap. “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly. Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word” (Johannes 15:10,11). Wandel in die vrees van God en goddelike vertroosting, dan, is die onafskeidbare arms van goddelike liefde: lewe “in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees” (Handelinge 9:31). Die goddelike lewe is die enigste vredevolle lewe: “Want ons roem is dit: die getuienis van ons gewete dat ons in eenvoudigheid en reinheid van God, nie in vleeslike wysheid nie, maar in die genade van God in die wêreld verkeer het, en veral by julle” (2 Korinthiërs 1:12).

As ons in sonde verval wat ons van God se vrede skei, dan sal ons blydskap in Hom daardeur ‘n kritiese besering ly. ‘n Teer hart wat klop vir God se voortdurende liefkosing kan nie die sonde ligtelik opneem wat hierdie kosbare gemeenskap breek nie.

Nou hier is ‘n praktiese sy van blydskap. Dit kan nie onderhou word as dit nie voortdurend beoefen word nie. As ons hierdie groot gedeelte van God se verlossing verwaarloos, sal dit verskrompel en verlam word en te traag wees om liefdesliedere tot Christus te sing. Maar deur konstante gebruik daarvan behou ons dit en neem dit toe totdat dit op die ou end die sterkste vesel van ons siele word, gewillig en in staat om elke ander liefde te beheer.

Die skare wat na Johannes die Doper se boodskap van bekering geluister het, “was gewillig om julle vir ’n tyd in sy lig te verbly” (Johannes 5:35). En die klipperige grond in Jesus se gelykenis “is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af” (Lukas 8:13).

Omdat blydskap in God se goedheid oorweldig kan word deur kankeragtige swakheid van die vlees, moet ons dit ferm laat wortel skiet in ons wil en dit voed met voortdurende gebruik sodat dit sal groei en floreer totdat ons Christus sien – en meer!

Nou is die tyd om iets te heroorweeg wat ek reeds genoem het. Sonde verower en mishandel ons gees tot op die punt dat blydskap sukkel om die onstuimige nagevolge van sonde te oorleef. Dawid het uit persoonlike ervaring verstaan hoe sonde God se aangesig verberg en alle vreugde absorbeer. “Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed” (Psalm 32:3-4). “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing” (Efésiërs 4:30).

Sonde van die tong verraai wat diep in die hart weggesteek is.

Let op Paulus se oortuigende stelling oor die Heilige Gees bedroef: “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting” (Efésiërs 4:29). Sonde van die tong verraai wat diep in die hart weggesteek is, en geen mate van slim gesprek geleen van die wêreld, is die moeite werd om die vloei van blydskap na en van ons heilige Vader af te sny nie. “Ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging” (Efésiërs 5:4). “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid” (Efésiërs 4:31).

Deur toe te gee aan ontevredenheid, impulsiewe woede, twis en mikroskopiese sade van afguns en wraak, laat ons klein woordjies toe om siedende vernietigers van blydskap in God te wees. Enige vorm van ydele gesprekke, dan, of dit ‘n vaardig gemanipuleerde afjak, eksplosiewe woede of die geringste insinuasie van ‘n indringende seksuele aptyt is, is ‘n moorddadige daad en moet oorwin en verwerp word, sodat ons nie hoef te lewe met ‘n toegeskroeide, gevoellose gewete nie.

Maar wat as ons reeds ons gewete laat skade ly het? Weens God se genade, hoef ons nie vir ewig gevange gehou te word deur hierdie pyn nie. Ons moet ons eers verneder en ons bekeer, ons geloof in Christus Jesus vernuwe, vergifnis aanvaar en toelaat dat Sy genade ons verlos van verwoesting. Omdat God die gawe van berou en bekering gegee het, kan ons Hom glo om die blydskap van Sy verlossing te herstel, sodat ons gebroke hart kan herlewe en weer heelgemaak kan word. “Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het” (Psalm 51:10).

God is gereed om gevalle bekerendes wat sonde bely en smag om na Hom toe terug te keer te ontvang. “My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe” (Psalm 32:5).

Download PDF