Krummels Wat Uit Die Hemel Val | World Challenge

Krummels Wat Uit Die Hemel Val

Gary WilkersonAugust 18, 2014

Die laaste tyd was dit nie vir my moontlik om ‘n sekere beeld uit my gedagtes te kry nie. Dit is van ‘n hemelse bank, waar God se mense kom om transaksies te doen. Hierdie bank is altyd oop sodat ons deposito’s kan maak waartydens ons aan die teller al ons sondes, vrese, bekommernisse en sorge gee. Natuurlik is die kluis waarna al hierdie deposito’s geneem word, die troonkamer van God se genade.

Ons kan ook onttrekkings maak by hierdie hemelse bank. By die tellervenster sit die Heilige Gees gereed om elke bron uit die hemel uit vry te stel. Wanneer ons na daardie venster kom, het ons die vermoë om die eindelose reserwe van God se genade, krag, geloof en hoop te onttrek.

Terwyl ek hierdie bank in my gedagtes sien, besef ek dat baie van ons in die kerk baie deposito’s maak, maar ons maak nie naastenby so baie onttrekkings nie. In plaas daarvan, staan ons nader na die venster en vra vir ‘n hongerloon. “Here, ek wil U nie pla nie,” stotter ons, “Ek wil net ‘n bietjie genade hê om my deur hierdie huidige probleem te kry. As U my net aan die gang kan kry, sal ek die res hanteer.”

Ek het nuus vir jou: God wil nie hê dat ons “die res moet hanteer nie.” Hy wil hê dat ons alles by Hom moet deponeer: al ons vrese, stryd, sonde en hartseer. En Hy wil hê dat ons van sy onbeperkte bronne, wat in sy kluise gestoor word, moet onttrek. Hy wil hê dat ons sê, “Here, ek is klaar gevra vir tien Rand se waarde van geloof om my deur ‘n probleem te dra. Ek het u genade in eenhede van duisende nodig. En ek wil nie hê dat dit net my probleem oplos nie, maar om u heerlikheid op hierdie aarde te bevestig. Van nou af sal ek elke keer wat ek na hierdie venster toe kom, vra vir ‘n groter uitstorting van u Gees. Ek het meer van u lewe, u Gees, u werking in my nodig!”

Wanneer dit kom by die bronne van die hemel, spreek Sagaría ‘n wonderlike, maar vreemde vers.

“In dié dag sal die Here die inwoners van Jerusalem rondom beskut, en die struikelende onder hulle sal in dié dag wees soos Dawid, en die huis van Dawid soos ‘n hemelse wese, soos die Engel van die Here voor hulle uit!” (Sagaría 12:8).

Sagaría het regdeur die geskiedenis vooruit gesien tot vandag toe. As gevolg van die werk wat Christus vir ons gedoen het, kan selfs die swakste Christen so sterk wees soos Dawid, Israel se grootste koning. En die sterktste gelowige sal “soos God wees,” wat beteken, soos Christus. Dit klink vreemd. Tog gee God ons in hierdie profesie ‘n beeld van die bronne wat hy aan sy kerk beskikbaar gemaak het. Die reserwes van die hemel se bank is bedoel om oor ons uitgegiet te word in groot heerlikheid, veral in ons beproewings.

Meeste mense in die kerk moet dit nog begryp. Wanneer Christene by die teller se venster kom, staan hulle stom. Die Heilige Gees vra hulle, “Wat kan Ek vir jou doen?” maar hulle vra nie vir die rykdom wat vir hulle beskikbaar is nie. In plaas daarvan antwoord hulle, “Here, gee my net wat U wil. Ek het nie enige ambisie nie, maar U heers oor alles. U kan doen wat U wil.”

Dit mag nederig klink, selfs goddelik, maar die Skrif stel voor dat hierdie gesindheid die Heilige Gees frustreer. Sy reaksie is, “Wat bedoel jy dat daar niks in jou hart is nie? Sien jy nie hoe die vyand aan die werk is en die mense wat jy liefhet, teister nie?  Sien jy nie jou geliefdes in vrees en slawerny leef en hoe hulle vrygemaak kan word as hulle net my reddende krag kon ken nie? Kyk rondom jou. Daar is koninkryke om te oorwin, vyande om te verslaan, demone om uit te dryf!”

Paulus leer ons om ernstig te strewe na die geestelike gawes en ons daarvoor te beywer. Dit beteken wanneer ons na die tellervenster toe kom, is ons versoek veronderstel om te wees, “Here, ek het die gawe van geloof. Kan U vir my ook die gawe van evangelisasie gee, sodat ek ander tot geloof in U kan bring? Of, “Here, U het my die gawe van profesie gegee. Gee my nou ook asseblief ‘n woord vir my suster wat erge pyn deurgaan en geen hoop het nie.”

Een van die grootste lesse wat my vader, David Wilkerson, my geleer het, was, “Jy kan soveel van Jesus kry as wat jy wil hê.” Op my beurt, is my boodskap aan jou: Gaan na die tellervenster en vra buitensporig! Wees gewillig om mense uit die pad te stamp as hulle nie vir enigiets vra nie. En wanneer jy uiteindelik by die venster kom, draai na die een agter jou en sê, “Jy mag jouself maar gereed maak, want Jesus en ek gaan ‘n lang gesprek hê oor my finansies en alles waarop ek dit gaan spandeer: my vervreemde kind, my sukkelende huwelik, my broer en suster in nood. Ek moet God se rykdom hê om ‘n kanaal te wees waardeur sy teenwoordigheid die wêreld kan verander!”

Die evangelies maak dit duidelik dat watter maatstaf van geloof ons ontvang, van ons afhang.

“En op die derde dag was daar ‘n bruilof te Kana in Galiléa, en die moeder van Jesus was daar. En Jesus en sy dissipels was ook na die bruilof uitgenooi. En toe daar wyn kortkom, sê die moeder van Jesus vir Hom: Hulle het geen wyn nie” (Johannes 2:1-3).

Het jy al ooit uit iets uitgehardloop? Miskien geduld vir jou rebelse kind? Hoop vir jou huwelik? By die bruilof in Kana, het Jesus se moeder, Maria, gesien dat die bruilofsfees se wyn opgeraak het. Dus het sy na Jesus gegaan en basies gesê, “Doen iets.”

Jesus se reaksie klink ‘n bietjie bisar: “Jesus sê vir haar: Vrou, wat het Ek met u te doen? My uur het nog nie gekom nie” (Johannes 2:4). Maria kon haar seun se antwoord as ‘n ferm besluit aanvaar het: “Wel, dit is soewerein uit die hemel verklaar dat wyn nie by hierdie bruilof vermeerder sal word nie.” In plaas daarvan, het sy opgetree soos enige ander goeie Joodse moeder — of net soos enige ander tipe moeder sou doen — en haar seun se reaksie geïgnoreer. Maria het gereageer deur aan Jesus te sê, Hy beter dit doen: “Sy moeder sê vir die dienaars: Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen” (Johannes 2:5).

Teologies glo ek sterk in die soewereiniteit van God. Ek glo dat niks gebeur sonder dat Hy dit so bestem nie. Maar soms is God se soewereine bepaling, “Ek laat dit in jou hande. So laat dit wees volgens jou wil, jou aksies, jou geloof.” Die duidelike indruk wat ek uit hierdie gedeelte kry, is dat Jesus nie sou reageer het op Maria se versoek nie. Hy het selfs ‘n soliede teologiese rede daarvoor gegee: “Dit is nog nie My tyd nie,” waarmee Hy bedoel het dat God nog nie sy openbare bediening aangekondig het nie.

Maar Maria kon nie vir die hemelse kalender wag nie. Sy het nodig gehad dat God nou beweeg — en so het die kalender ook vorentoe beweeg! “Jesus sê vir hulle: Maak die kanne vol water. En hulle het hul tot bo toe volgemaak. En Hy sê aan hulle: Skep nou uit en bring dit vir die hoofdienaar. En hulle het dit gebring. En toe die hoofdienaar die water proe wat wyn geword het — en hy het nie geweet waarvandaan dit was nie, maar die dienaars wat die water geskep het, het geweet — roep die hoofdienaar die bruidegom en sê vir hom: Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar” (Johannes 2:7-10). Dit was nie net die “vervangings” wyn nie. Dit was die heel beste!

‘n Wonderwerk het gebeur wat selfs Maria se verwagtinge oortref het. Tog kon dinge baie anders gewees het. Sy kon dalk  ontmoedig gewees het deur Jesus se reaksie. Sy mag dalk sy woorde aanvaar het en met Hom saamgestem het, “Ek reken dit is nie die regte tyd nie.” In plaas daarvan, het sy ‘n onttrekking van geloof gemaak van daardie hemelse bank toe sy nog nie eers ‘n deposito gemaak het nie. Sy het God gevra vir iets wat sy nie eens veronderstel was om te vra nie!

Wat Maria hier gedoen het, gebeur keer op keer in die Skrif.

In die Ou Testament, was Dawid nie veronderstel om die heiligste van die heilige in die tempel binne te gaan nie. Maar hy het, en sy ervaring het veroorsaak dat ‘n kragtige Psalm tot vandag toe nog deur God se mense opgesê word: “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige” (Psalm 91:1).

Hoewel Dawid ingegaan het, waar hy nie veronderstel was om in te gaan nie, het dit veroorsaak dat dit hom laat dink het aan die verstommende openbaring van God se teenwoordigheid op die aarde. En Dawid se woorde spreek profeties van die Nuwe Testament, wat deur Christus ingestel sou word. Inderdaad, hy was die eerste een wat die idee van intimiteit met God beskryf het nog voor daar enige moontlikheid was van intimiteit met God.

Dit is my punt: Baie heiliges in die Bybel en deur die geskiedenis heen, het hulle slegte omstandighede omseil deur pure geloof, terwyl hulle God se kalender aangedraai het met hulle passievolle uitroepe na Hom. Nee, hulle het nie hulle vinger geklap en dan het God gehoorsaam gespring en ‘n wonderwerk gedoen nie. Eerder, iets van hulle hartsgeroep, iets van hulle gebrokenheid, hulle geloof, hulle ywer vir sy koninkryk — het sy hart aangeraak en Hom beweeg om namens hulle op te tree.

Een van daardie mense was ‘n nie-Israelitiese vrou wat Jesus kom soek het om haar geteisterde dogter te genees. “En ‘n Kananése vrou het...na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete” (Matthéüs 15:22). Hierdie vrou het na die teller se venster gekom met ‘n groot nood, haar dogter was geteister deur ‘n bose gees. Tog was Christus nie beweeg om te reageer nie: “Maar Hy het haar nie ‘n woord geantwoord nie. Toe kom sy dissipels nader en sê: Stuur haar weg want sy roep agter ons aan” (Matthéüs 15:23).

Maar die vrou het gebly en aangehou om hulle te pla, terwyl sy aangedring het op haar versoek en geweier het om weg te gaan. As jy bekend is met die Skrif, weet jy dat Jesus verskeie gelykenisse vertel het wat daardie tipe volharding prys: “Hou aan met klop. Hou aan soek. Hou aan vra. God sal jou geloof beloon.”

Maar weereens het Christus ‘n goeie rede gehad om die versoek te weier: “Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel” (Matthéüs 15:24). Hy het haar vertel, “God se agenda vir My behels net die huis van Israel. Eers nadat sy mense my boodskap gehoor het, sal die evangelie aan die heidene verkondig word.”

Dit sou vir hierdie vrou maklik gewees het om op te gee. Maar sy het aangehou en uiteindelik het Jesus vir haar gesê, “Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie” (Matthéüs 15:26). Hiermee het Hy verwys na Israel se prioritiet bo die heidene. Ek vind haar reaksie verstommend: “Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base val” (Matthéüs 15:27). Sy het bedoel, “Jesus, as ons praat van die krag van die hemel, dan is selfs die krummels genoeg.”

Sy was reg: Die krummels wat van God se tafel kom is genoeg om enige behoefte op hierdie aarde te vervul. En sy het geloof gehad dat selfs die kleinste stukkie krummel haar dogter volkome sou vrymaak. Vriend, dit is ware geloof! Hierdie vrou het nie skugter na die teller se venster gegaan nie. Sy het vas geglo in God se goedheid en geweet dat selfs die kleinste afvalstukkies van sy heerlikheid goed genoeg was om ‘n wonderbaarlike verlossing teweeg te bring.

Wat van jou? Het die stilstaande water van jou huwelik nodig om verander te word in sappige wyn? Het jy ‘n krummel van God se tafel nodig om genesing te bring vir jou geliefde wat ly? Dit maak nie saak wat jou nood is nie, ek dring by jou aan: Gaan na die tellervenster toe en maak ‘n onttrekking. Vra God om jou situasie te voorsien met sy genesende, herstellende krag. As dit nodig is, vra Hom om die hemelse kalender vir jou aan te skuif vir jou situasie. Hou dan aan met vra. Hy is bly oor jou geloof — en Hy sal getrou wees om sy heerlikheid in jou situasie bekend te maak om die wêreld te verstom.

Download PDF