Mense-genade | World Challenge

Mense-genade

David WilkersonMay 14, 2001

Die skrywer van Hebreërs sê vir ons, “Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alles opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde" (Hebreërs 4:14-15).

Die meeste Christene is bekend met hierdie vers. Dit sê vir ons dat ons Hoëpriester, Jesus, ons lyding saam met ons voel. Die Griekse woord vir medelye hier beteken “simpatie, wat voortspruit uit die belewenis van dieselfde soort lyding.” Met ander woorde, ons Here word persoonlik aangeraak deur elke ramp, pyn, verwarring en wanhoop wat ons oorval. Daar is niks wat ons beleef, wat Hy nie ook op een of ander manier beleef het nie.

Omdat ons so ‘n groot Hoëpriester het, word ons beveel, “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:14-16). Ons word vertel, “Jou Verlosser weet presies waardeur jy gaan. En Hy weet presies hoe om sy genade aan jou te bedien.” My vraag is, wanneer ons almal in ‘n tyd van groot nood is, hoe “vind ons genade,” soos Hebreërs aandui?

Ek het baie van die teologiese definisies van genade gehoor: onverdiende guns, die goedheid van God, sy spesiale liefde. Maar genade het ‘n ander betekenis vir my gekry verlede Desember toe my elf jaar oue kleindogter, Tiffany, toetse ondergaan het vir ‘n moontlike breingewas. My vrou, Gwen en ek was by die hospitaal met ons dogter Debbie en haar man, Roger, die dag toe die dokters toetse op ons kosbare kleinkind gedoen het. Terwyl ons gestaan en wag het om die uitslae te hoor, was al wat ons kon doen om te bid vir genade.

Dit het alles so skielik gebeur. Net die vorige dag het Debbie en Roger ons geskakel om ons te vra om te bid terwyl hulle Tiffany dokter toe geneem het. Sy het verskriklike hoofpyne gehad en toe het sy begin bloei uit een van haar oë. Toe ons afgelui het, het ek vir Gwen gesê, “Die lewe is so kwesbaar. ‘n Enkele telefoonoproep kan jou hele wêreld onderstebo draai.”

Die volgende dag, toe ons by die hospitaal in Virginia aangekom het, het Gwen en ek desperate ouers oral in die gange gesien. Hulle het bekommerde uitdrukkings gehad, terwyl hulle hulself gestaal het vir moontlike slegte nuus oor hulle kinders. Dikwels, as daardie aaklige woorde tot hulle gekom het — “Dit is kwaadaardig” — het sommige van foltering geskreeu en heeltemal ineengestort.

Terwyl ons almal gewag het om Tiffany se laboratoriumverslag te hoor, het ek stil gebid vir krag om te aanvaar wat ook al die uitslag was. Op daardie oomblik, het dit nie vir my saakgemaak wat die teologiese betekenis van genade was nie. Vir my het dit beteken om God se vrede te hê en om enige nuus te ontvang, sonder om paniekerig te raak. Ek het gebid, “Here, ons weet U doen alle dinge reg. Ons plaas ons vertroue in U. Moenie dat ons sondig met ons lippe nie. Gee ons genade om hierdie ding te verdra.”

Toe het die stroom van slegte nuus gekom: Tiffany het ‘n groot gewas gehad, een van die slegste soort. Dit was kwaadaardig.

Ek het daardie aaklige woord “kwaadaardig” agt keer tevore gehoor. Gwen, Debbie en ons jonger dogter, Bonnie, het almal teen kanker gestry. Dank die Here hulle het almal elke verskriklike beproewing oorleef. Elke keer wanneer ons egter die slegte verslae gekry het, was dit die slegste nuus wat enigeen aan my kon vertel. Ek kan jou nie vertel waardeur Gwen en ek deurgegaan het in daardie oomblik met ons kleindogter, Tiffany, nie. Ek kan jou net vertel dat my pyn my na die boek Job geneem het.

Job was ‘n goddelike man, wie se gesin baie geheg was aan mekaar. Hy en sy vrou het tien volwasse kinders gehad, sewe seuns en drie dogters. Job het daagliks vir sy familie gebid en offerhandes namens hulle gebring: “Want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek! Job het dit elke keer gedoen” (Job 1:5).

Job het geen idee gehad wat op daardie oomblik in die hemel aan die gang was tussen God en Satan nie. Hy was nooit gewaarsku dat skielike rampe op pad was om sy familie te tref nie. En die Bybel skilder ‘n afgryslike toneel: binne die tydperk van ‘n enkele dag, het Job nie net sy dienaars en besittings verloor nie, maar al tien sy kinders het in ‘n natuurlike ramp omgekom (sien Job 1:13-22).

Wanneer rampspoed tref het, is daar net twee maniere om te reageer.

Probeer jou Job en sy vrou se tragiese verlies voorstel. Binne net ‘n paar uur, was alles wat vir hulle kosbaar was uit hulle lewens uitgeruk: elke geliefde seun en dogter, elke dierbare dienskneg en diensmeisie. Selfs in sy groot smart en angs, het Job gekies om volgens die goeie alternatief te reageer. Sy bedroefde vrou, het die verkeerde een gekies.

Job se vrou moes verbitterd gewees het toe sy ‘n boodskapper hoor sê het, “Die vuur van God het van die hemel geval en gebrand...en...verteer” (Job 1:16). Toe die verskriklike nuus ingesink het, het hierdie vrou geweier om getroos te word. En dwaaslik het sy God geblameer en haar man aangepor, “Vervloek God en sterf” (Job 2:9). Sy het in wese gesê, “Waarom sou die Here so ‘n ondenkbare tragedie oor hierdie goddelike gesin bring?”

Persoonlik, kan ek nie Job se vrou blameer vir haar reaksie nie. As ek al my kinders en geliefdes in een enkele middag sou verloor, sou ek moontlik my eie hart in dieselfde toestand as hare vind. Ek glo dat toe daardie verskriklike berigte gekom het, het Job se vrou doodeenvoudig van binne af doodgegaan. Sy was steeds fisies lewend, maar in haar hart was sy dood.

Tog was daar steeds ‘n ander verskriklike tragedie aan die kom. Gou sou haar man van kop tot tone getref word met pynlike swere. Job het op die ou end beland op ‘n ashoop, terwyl hy sy vlees met ‘n gebreekte potskerf gekrap het om sy pyn te verlig. Die gesig van hierdie siek man was so grusaam, dat mense van afsku weggedraai het. Selfs Job se vriende het hom eers nie herken nie. Toe hulle het, kon hulle nie na hom kyk nie. Hulle het ‘n ent van hom af gesit, getreur en geween oor wat met hulle vriend gebeur het.

In die tussentyd, moes Job se vrou heeltemal afgestomp geword het. Haar herinneringe van vreugdevolle familiebyeenkomste, sowel as haar hoop vir die toekoms, was verpletter. Haar hele wêreld het rondom haar ineengestort. Sy sou nooit weer sulke blydskap of hoop beleef nie. Nou het alles binne-in haar gesterf: liefde, hoop, geloof. En woede en ongeloof het haar siel gevul.

Job het ook diep getreur. Hierdie man het ‘n groot behoefte gehad om vertroos te word. Maar in plaas van vertroosting, het sy vrou teenoor hom ontplof en gesê, “Bly jy nog steeds vroom?” (Job 2:9). Twee dinge word afgelei in hierdie wanhopige vrou se skerp woorde. Eerstens het sy gevra, “Watter verskriklike, verborge sonde het jy gedoen, Job, om so ‘n vreeslike oordeel van God oor ons te bring? Moenie my probeer oortuig dat jy steeds ‘n man van integriteit is nie.”

Tweedens het sy afgelei, “So, is dit hoe God ‘n regverdige familie behandel? Ons het ‘n familie altaar gehou elke dag vir jare. Ons het volmaak voor die Here gewandel. En ons het ons oorvloed gebruik om die armes te seën. Waarom sou die Here ons beroof van alles wat vir ons kosbaar is? Ek kan nie ‘n God dien wat toelaat dat dit sou gebeur nie.”

Toe het hierdie ontstelde vrou die verskriklike woorde geuiter: “Vervloek God en sterf” (Job 2:9). Sy het erken, “Ek is alreeds dood, Job. Wat anders is vir my oor? Dit is beter om te sterf as om sonder ons kinders te wees. So, kom nou. Vervloek God en sterf saam met my.”

Haar toestand illustreer die kwaai stryd met die vyand wat elkeen wat ons beleef wanneer tragedie toeslaan. Ek het hierdie stryd onlangs gesien in ‘n jong vrou, wat langs my op die vliegtuig gesit het. Ek het opgemerk dat sy saggies huil. Toe vertel ek vir haar dat ek ‘n prediker is en gevra of ek kan help. Sy het geantwoord, “Meneer, ek kan net eenvoudig nie in u God glo nie.”

Sy het my vertel dat haar pa skielik gesterf het. Sy het hom as ‘n goeie man beskryf, een wat altyd van homself gegee het om ander te help. Nou, deur bitter trane het hierdie vrou vir my gesê, “Ek kan nie glo in ‘n God wat ‘n goeie pa in die fleur van sy lewe sou doodmaak nie.” Sy het die verskriklike alternatief van Job se vrou gekies: sy het God blameer en nou het sy in wanhoop afgedaal. Hoewel sy fisies lewendig was, was sy dood aan die binnekant.

Job het die goeie alternatief gekies.

Hoewel Job se hartseer ook “baie groot” (Job 2:13) was, het hy op God vertrou te midde van sy hartseer en pyn. Net soos sy bedroefde vrou, het hy ook begeer om te sterf. Sy wanhoop was so oorweldigend, dat hy gewens het hy was nooit gebore nie. Tog, deur dit alles, het Job verklaar, “Al wil Hy my ombring — ek hoop op Hom” (Job 13:15).

Job het in wese gesê, “Dit maak nie saak of hierdie swere my na my graf neem nie. Ek sal aanhou om die Here te vertrou. Ek sal nooit my vertroue, dat Hy weet wat Hy doen, laat vaar nie. Selfs al verstaan ek niks van hierdie tragedie nie, weet ek God het een of ander ewige doel. Selfs al kies Hy om my om te bring, sal ek Hom vertrou tot my laaste asemteug.”

Soos Dawid, het ek ook al met tye soveel droefheid gehad, dat dit my na trane gedryf het. Dawid het geskryf, “Ag, had ek maar vlerke soos ‘n duif, dan sou ek wegvlieg en wegbly...Gou sou ek vir my ‘n skuilplek soek teen die onstuimige wind, teen die storm” (Psalm 55:7,9). Ek erken egter, ek het nog nooit soveel droefheid soos Job beleef nie. Ek het nog nooit by ‘n punt gekom waar ek gewens het ek was dood nie.

In daardie Virginia hospitaal, het ek en Gwen voorbeelde van beide reaksies gesien. Die gevalle was so tragies: ‘n Twee jaar oue kind het een-en-twintig verdiepings geval en het behandeling ontvang vir trauma aan sy kop. ‘n Ander kritiek beseerde baba was pas na die hospitaal gejaag met ‘n helikopter. ‘n Siek klein meisietjie het verby ons geloop met haar IV paal. Nog ‘n meisietjie was buite haar verstand en het onsin gepraat.

Ons kon werklik onderskei watter ouers van hierdie lydende kinders Christene was. Terwyl ons by sommige van die kamers verbygeloop het, het ons ‘n groot vrede ervaar. In daardie gevalle, het ons God se ondersteunende krag gevoel werk, omdat die ouers op God se Woord geleun en gerus het.

Maar in ander kamers, was daar uiterste chaos en wanorde. Ons kon werklik sommige ouers se wanhopigheid ervaar. Hulle het God blameer en gevra, “Waarom sou ‘n goeie God dit toelaat?” Ons het hulle heen en weer in die sale sien loop, woedend aan die wonder, “Hoekom, hoekom, hoekom?”

Wanneer jou rampspoed kom, het jy ‘n keuse om te maak. Jy kan of kwaad word vir God en aanhoudend vra, “Waarom?” Of jy kan sê, “Here, dit maak nie saak wat gebeur nie, ek weet U het die genade en krag om my te ondersteun.” As volgelinge van Jesus, moet ons doodeenvoudig hardloop na ons Hoëpriester om die genade en vertroosting van die Heilige Gees te ontvang. En ons moet vertrou op God se alwetende genade. Soms mag ons uitroep, treur en verlang om te sterf. Ons mag dalk nie in staat wees om te slaap nie, terwyl ons gedagtes gebuk gaan onder vrae. Maar God laat ons toe om deur al hierdie dinge te gaan. Dit is alles deel van sy genesingsproses.

Maar hoe, presies, vind ons hierdie genade om ons te help in ons tyd van nood? Hoe word hierdie genade aan ons uitgedeel? Wanneer ons te midde van ‘n krisis is, kan ons nie op een of ander vae teologiese definisie vertrou nie. Ons het God se baie werklike hulp nodig. Hoe kan ons sy genade in ons hart, ons siel en ons fisieke liggaam kry wanneer ons ly?

Ek glo ons word aangeraak deur God se genade op ten minste twee wonderlike maniere:

1. God stuur sy genade deur openbarings in ons beproewings, wat ons nooit in ons goeie tye sou kon verstaan nie.

Regdeur die Skrif, het die grootste openbarings van God se goedheid na mense gekom in hulle tye van probleme, rampspoed, afsondering en swaarkry. Ons vind ‘n voorbeeld hiervan in die lewe van Johannes. Vir drie jaar, was hierdie dissipel “op die bors van Jesus.” Dit was ‘n tyd van uiterste rus, vrede en blydskap, met geen probleme of beproewings nie. Tog, tydens daardie hele tyd, het Johannes baie min openbaring gekry. Hy het Jesus net geken as die Seun van die mens. So, wanneer het Johannes hierdie openbaring van Christus in al sy heerlikheid gekry?

Dit het slegs gebeur nadat Johannes van Éfese af in kettings weggesleep was. Hy was na die eiland Patmos verban waar hy gevonnis is tot harde arbeid. Hy was afgesonder, met geen gemeenskap, geen familie of vriende om hom te vertroos nie. Dit was ‘n tyd van uiterste wanhoop, die laagste punt van sy lewe.

Dit is egter toe dat Johannes die openbaring van sy Here ontvang het en dit het die laaste deel van die Skrif geword: die Boek Openbaring. Te midde van daardie donker uur, het die lig van die Heilige Gees na hom gekom. En Johannes het Jesus gesien soos nog nooit tevore nie. Hy het Christus letterlik gesien as die Seun van God.

Johannes het glad nie hierdie openbaring ontvang terwyl hy saam met die ander apostels was nie, of selfs gedurende Jesus se tyd op die aarde nie. Nou egter, in sy donkerste uur, het Johannes Christus in al sy heerlikheid gesien waar Hy verklaar het, “Ek is...die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood” (Openbaring 1:18). Hierdie ontsaglike openbaring het Johannes op sy aangesig laat val. Maar Jesus het hom opgetel en vir hom die stel sleutels, wat Hy in sy hand gehou het, gewys. En Hy het Johannes gerus gestel, “Moenie vrees nie” (Openbaring 1:17).

Ek glo hierdie openbaring kom tot elke biddende, lydende dienaar in sy of haar tyd van nood. Die Heilige Gees sê, “Jesus hou al die sleutels van lewe en dood. So, elkeen se heengaan rus in sy hande. Daarom kan Satan nooit jou of enige lid van jou familie wegneem nie. Christus alleen bepaal ons ewige bestemming. So, as Hy ‘n sleutel draai, is daar ‘n rede voor. En daardie rede is slegs aan Hom, die Vader en die Heilige Gees bekend.”

Hierdie openbaring is bedoel om vrede in ons harte te bring. Soos Johannes, moet ons Jesus voor ons oë sien staan, waar Hy die sleutels van lewe en dood vashou en ons gerusstel, “Moenie vrees nie. Ek hou al die sleutels.” Wat moet ons reaksie wees? Nes Job, moet ons in geloof sê, “Die Here het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd” (Job 1:21).

‘n Beswaarde bedienaar het die volgende geskryf: “Vyftien jaar gelede het my vrou borskanker gehad. Nou is sy gediagnoseer met pankreaskanker. Sy mag dalk in ‘n hospitium geplaas moet word. Nou al vir veertig jaar was ek betrokke by God se werk. Ek moet wonder of al daardie arbeid verniet was? Tel dit vir niks nie? Sal God ons nie ‘n blaaskans gee nie?”

Ek sê vir hierdie liewe broer: Ek glo dat, nou, in jou donkerste uur, wil Jesus aan jou sy Godheid openbaar. Ja, jy ly diep. Maar as jy Hom sal vertrou te midde van jou pyn, sal jy kom tot ‘n openbaring van dinge wat jy nog nooit gesien of verstaan het nie. En jy sal deur die Here gebruik word om baie ander te help.

Jakob het ook groot openbarings in sy donker uur gekry.

Die Bybel vertel vir ons dat Jakob ‘n ontsaglike openbaring ontvang het deur ‘n van aangesig tot aangesig ontmoeting met God: “Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered” (Génesis 32:30). Wat was die omstandighede rondom hierdie openbaring? Dit was die laagste, mees skrikwekkende oomblik in Jakob se lewe. Op daardie tydstip, was Jakob vasgevang tussen twee sterk magte: sy woedende skoonpa, Laban, en sy vyandige, verbitterde broer, Esau.

Jakob het pas oor die twintig jaar gewerk vir Laban, wat hom keer op keer verneuk het. Uiteindelik het Jakob genoeg gehad. So, sonder om vir Laban daarvan te sê, het hy sy familie geneem en gevlug.

Laban het hom agterna gejaag met ‘n klein leër, gereed om hom dood te maak. Slegs toe God egter vir Laban in ‘n droom gewaarsku het om nie vir Jakob aan te raak nie, net hierdie man sy skoonseun laat gaan. Skaars was Laban uit die toneel, of Esau het uit die weste aangekom. Hy het ook ‘n klein leër van 400 manne gelei, gereed om sy broer dood te maak, omdat hy sy geboortereg gesteel het.

Jakob het totale rampspoed in die gesig gestaar en hy was oortuig dat hy op die punt was om alles te verloor. Dinge het uiters hopeloos gelyk. In daardie donker uur, het Jakob egter ‘n belewenis met die Here gehad soos nog nooit tevore nie. Hy het gestoei met ‘n engel, wat geleerdes glo, die Here self was. En na die tyd het hy gesê, “Ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered” (Génesis 32:30).

Dink nou terug aan Job. Hierdie man was ook op sy laagste punt. Hy het ‘n oorweldigende smart, folterende fisieke pyn en algehele verwerping deur sy vriende beleef. In Job se donkerste uur, het God egter in ‘n warrelwind aan hom verskyn. En die Here het vir hierdie man een van die grootste openbarings gegee van Homself wat ooit deur ‘n mens gesien is.

God het Job op in die kosmos ingeneem, daarna tot in die dieptes van die see. Hy het hom tot by die geheime van die skepping gelei. En Job het dinge gesien wat geen ander mens nog gesien het nie. Aan hom was die uiterste heerlikheid en majesteit van God getoon. En Job het uit daardie belewenis gekom en God geprys en gesê, “Ek weet nou U kan enigiets doen, Here. Ek het berou dat ek u oordeel in twyfel getrek het. Ek sien dat alles onder U beheer is en gerig word deur u genade. U het die hele tyd ‘n plan gehad. Ek het voorheen net van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien” (sien Job 42:2-5).

Iets wonderliks gebeur wanneer ons doodeenvoudig vertrou. ‘n Vrede kom oor ons en stel ons in staat om te sê, “Dit maak nie saak wat uit hierdie beproewing kom nie. My God het alles onder beheer. Ek het niks om te vrees nie.”

Jy mag beswaar aanteken, “Maar ek sal liewer dat God alles regmaak en my pyn en droefheid wegneem. Ek sal met plesier tevrede wees met minder openbaring.” Nee, die openbaring wat na jou toe kom is bedoel vir meer as jou eie gemak alleen. Dit is bedoel om jou ‘n genadegewer te maak, om die genesende genade van God aan ander uit te deel.

2. God deel sy genade uit deur sy mense.

Dikwels gebruik God engele om mense te bedien. Maar meestal gebruik Hy sy eie sorgsame mense om sy genade uit te deel. Dit is een rede waarom ons deelgenote van sy genade gemaak word: om kanale daarvan te word. Dit is vir ons bedoel om dit aan ander uit te deel. Ek noem dit “mense-genade.”

“Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus” (Efésiërs 4:7). Weens die vertroosting wat ons gegee word deur God se genade, is dit onmoontlik vir enigeen van ons aan te hou treur vir die res van ons lewens. Op dieselfde punt, terwyl ons deur die Here genees word, begin ons om ‘n reservoir van God se genade op te bou.

Ek glo dit is wat Paulus bedoel het toe hy geskryf het, “Waarvan ek ‘n dienaar geword het, volgens die gawe van die genade van God wat aan my gegee is...om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig” (Filippense 1:7). Die apostel maak ‘n diepgaande verklaring. Hy sê, “Wanneer ek na God se troon gaan om genade te verkry, is dit ter wille van julle. Ek wil ‘n barmhartige herder vir julle wees, nie ‘n veroordelende een nie. Ek wil in staat wees om genade aan julle uit te deel in julle tyd van nood.” God se genade het Paulus ‘n deernisvolle herder gemaak, in staat om saam met diegene wat bedroef was te ween.

Petrus skryf, “Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God” (1 Petrus 4:10). Wat beteken dit om ‘n goeie bedienaar, of uitdeler van God se veelvuldige genade te wees? Is ek so ‘n persoon? Of bring ek my tyd deur in gebed slegs vir my eie pyn, droefheid en stryd?

Toe ons by die hospitaal by Tiffany was, het ons die Here se “mense-genade” in aksie gesien. Debbie en Roger was met liefde oorstroom deur die gemeente by wie hulle aangesluit het. Daardie heiliges se ondersteuning van ons familie, gelei deur ‘n goddelike pastoor en sy vrou, was ongelooflik. Genade het vanuit alle rigtings gevloei: Mense het etes vir Debbie en Roger gebring. Ander het opgestopte speelgoed vir Tiffany gebring. Een groep het gesê, “Ons wil nie pla nie. Ons het net gekom om te bid.” Toe het hulle buite Tiffany se kamer gestaan en bid.

Ek het dieselfde mense-genade gesien vloei uit Time Square Church toe ons teruggekeer het huistoe. Pastoor Carter Conlon het ‘n boodskap op ons antwoordmasjien gelos en gesê, “David en Gwen, ons is lief vir julle. Hierdie kerk vas en bid vir Tiffany.” Later, terwyl ek deur die strate van New York geloop het en diep bedroef gevoel het, het ons Pastoor Neil Rhodes my gesien. Hy het gestop en gesê, “Pastoor David, jy en jou familie is so geliefd. Ons almal staan by julle.” My gees was opgelig deur die genade wat aan my gegee is.

Ek het dieselfde mense-genade in die wagkamer van daardie Virginia hospitaal gesien. Terwyl ek met Roger en Debbie oor Tiffany se operasie gepraat het, het ‘n onstelde moeder ingekom. Sy het op die sofa gaan sit en gelyk of haar hart heeltemal gebroke was. Toe ek haar vra wat verkeer was, het sy gesê, “My vyftien jaar oue seun se lewer het ‘n week gelede opgehou werk. As hy nie ‘n oorplanting kry nie, sal hy nie vir meer as ‘n paar weke lewe nie.”

Ek het die vrou gevra of ons vir haar kon bid. Sy het ja gesê en ek het begin bid. Na ‘n minuut of twee, het ek egter ‘n gewoel gehoor en toe gestop en opgekyk. Debbie het langs die vrou gesit. Hulle het mekaar vasgegryp — saam geween, mekaar se skouers geklop en mekaar vertroos.

Toe het Debbie vir die vrou begin bid. Ek het geweet dat hierdie gebed uit my dogter se eie hartseer gekom het. En ek het besef ek het ware mense-genade waargeneem. My dogter en hierdie lydende vrou was saamgebind in ‘n omhelsing van gedeelde pyn.

Geliefde, ons huidige lyding vorm in ons lewens iets wat kosbaar is. Dit vorm in ons ‘n uitroep vir die gawe van barmhartigheid en genade, om te bied aan ander wat ly. Ons lyding maak dat ons genadegewers wíl wees.

Ek dink dit is waarom ek so beswaard was toe ek onlangs die boek Job gelees het. Ek was kwaad toe ek sien hoe verskriklik Job se drie sogenaamde vriende hom behandel het te midde van sy droefheid. Bladsy na bladsy van my Bybel het ek geskryf, “Hoe wreed! Hoe verskriklik!” Hierdie mans het vir Job gesê, “As jy rein en opreg is, ja, dan sal Hy oor jou opwaak en jou woning herstel ooreenkomstig jou geregtigheid” (Job 8:6). “Jy het God vergeet, Job. Jy is ‘n skynheilige” (sien Job 8:13). “Jy is vol van leë praatjies en leuens” (sien Job 11:2-3). “Jy kry minder as wat jou sonde verdien” (Job 11:6).

‘n Paar maande gelede, het ek ‘n boodskap uitgestuur getiteld, “Jy Hoef Nie Jou Verdrukking te Verstaan nie — Jy het Genade.” Daarna het ek verskeie kwetsende briewe van lesers ontvang. Hulle het geskryf, in wese, “Haal my van jou briewelys af. Jy mag dalk nie verstaan waarom jy so baie ly nie, maar ek verstaan. Jy het geen geloof nie. Ek wil niks met jou soort evangelie te doen hê nie. Jy is veronderstel om krag oor jou verdrukkings te hê.”

Dit is duidelik dat hierdie reaksies nie in die Gees van Christus gegee is nie. Dit was eenvoudig nie gekenmerk deur die genade en medelye wat ons Here kenmerk nie. Sommige mense kry werklik ‘n wrede soort van bevrediging uit ‘n ander persoon se lyding. Toe Debbie deur haar eie eerste tydperk met kanker gegaan het, het die leiers van die kerk wat sy bygewoon het, haar gevra om te gaan. Hulle het gesê, “Jy is nie ‘n getuienis van God se genesende krag nie.”

Hierdie soort harde woorde maak dat ek saam met Paulus uitroep, “Here, maak my ‘n genadegewer. Laat my u barmhartigheid beleef, sodat ek dit aan ander kan betoon.” Ek het geen woede teenoor hierdie arme, misleide siele nie. Ek weet ongelukkig, dat daar ‘n tyd kom, wanneer hulle hul eie uur van rampspoed en droefheid gaan beleef. En hulle gaan geen innerlike hulpbronne hê om it te hanteer nie.

Job, aan die ander kant, het ‘n genadegewer geword. Omdat hierdie man aan sy vertroue op God vasgehou het gedurende sy beproewing, was hy in staat om genade te skenk aan sy verbitterde vrou. Dit is selfs meer merkwaardig, as jy in ag neem die dooie toestand waarin hierdie vrou verkeer het. Sou jy saam met haar gewees het toe sy die verskriklike nuus gehoor het oor haar kinders, sou jy gedink het, “Sy sal nooit hieruit kom nie. Sy sal nooit weer glimlag of ‘n normale lewe leef nie.”

Dit was egter nie lank hierna wat blydskap en gelag weer haar huis gevul het nie. Sy het haar man gesien genees word van sy siekte. En sy het geboorte gegee aan nog tien kinders: sewe seuns en drie dogters, net soos voorheen. Alles was herstel en meer.

Job en sy vrou het hulle eerste dogter Jemima, wat “warm, liefdevol, klein duifie” beteken, genoem. Praat van ‘n beeld van God se genade: dieselfde vrou wat vir haar man gesê het om God te vloek, was nou geseënd met ‘n lieflike klein duifie wat vrede na haar huis gebring het.

Job se vrou het nie alleen weer lewend geword nie, maar sy het weer gelag en gejubel. Maar nou het ‘n hele nuwe wêreld van seën en blydskap vir haar oopgegaan. En regverdige Job het nog 140 jaar geleef. Die Skrif sê hierdie goddelike man het geleef om sy “kinders en kindskinders...vier geslagte” te sien (Job 42:16).

God se woord verseker ons, “Saans vernag die geween, maar smôrens is jaar gejuig” (Psalm 30:5). En dit alles vind plaas deur genade!

Download PDF