Narre Vermaak die Bokke | World Challenge

Narre Vermaak die Bokke

Gary WilkersonJanuary 16, 2017

Toe Paulus hierdie sendbrief aan Titus geskryf het, het hy kragtige instruksies vir ons nagelaat in sake Christus se Groot Opdrag om die evangelie te verkondig. Hy het pas die eiland Kreta verlaat waar hy en Titus saam bedien het. Paulus het vervolging op Kreta beleef en toe hy vertrek het om in ander stede te evangeliseer, het hy Titus en sommige ander leiers agtergelaat. Hierdie jong mans wou egter ook weggaan. Net soos Paulus, het hulle ondervind dat Kreta ‘n moeilike plek was om te bedien.

Hulle dilemma stem ooreen met ons s’n vandag. Enigeen wat vir die laaste vyftien jaar in die V.S.A. woon, het ‘n groot afname in godsdienstige geloof gesien. In minder as twee dekades se tyd, is Amerika se transformasie dramaties: Ons is nie langer ‘n Christelike samelewing wat beweeg het na sekularisme nie. Ons is nou ‘n sekulêre samelewing wat vinnig beweeg na heidendom.

Dit is baie soortgelyk aan wat die Christene in Kreta beleef het. Dit stad was goddeloos, het gewemel met sensualiteit en die jong leiers se harte het hulle gedring om daar weg te gaan. Maar Paulus het hulle beveel om te bly en het verduidelik dat dit vir goeie redes was: “Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat” (Titus 1:5).

Hierdie jong mans was deur Paulus opgelei. Hulle het na Kreta toe gegaan om ‘n kerk te stig, ouderlinge aan te stel en ‘n Christelike teenwoordigheid te vestig – waarvan hulle alles bereik het, maar slegs met groot moeite. Paulus het hulle swaarkry erken en het geskryf, “Een uit hulle, hul eie profeet, het gesê: Die Kretense is altyd leuenaars, ongediertes, lui buike. Hierdie getuienis is waar” (Titus 1:12-13). Toe Paulus vertrek het, moes hy geweet het hierdie jong dissipels sou vervolging beleef. Waarom sou hy hulle in so ‘n donker en goddelose kultuur agterlaat?

Christus het ons in ‘n verdraaide, afvallige wêreld agtergelaat vir ‘n rede.

As dit ons enigste doel in die lewe was om ‘n intieme verhouding met Jesus te hê, kon ons netsowel nóú hemel toe gaan. Ons kon onmiddellik begin het om vir ewig met Hom intiem te wees. Maar Jesus het ons in hierdie wêreld agtergelaat met ‘n ander doel in gedagte. Wat is daardie doel?

God het altyd ‘n oorblyfsel-volk in ‘n verdonkerende kultuur. Selfs in die slegste tye, wek Hy gedurig ‘n getuienis van lig op te midde van duisternis. Soos Jesus sê, ons moet sout wees, ‘n verteenwoordiger wat lewe bewaar in ‘n verrottende omgewing. “Julle is die sout van die aarde, maar as die sou laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie” (Matthéüs 5:13).

Vriend, ons is die mense wat God aangestel het om ligte te wees in ‘n verdonkerende plek en tyd. Jy wil moontlik nie leef in ‘n kultuur vol sonde soos Amerika s’n nie, of jou kinders grootmaak in ‘n samelewing wat meer en meer teen God woed nie. Maar Jesus het ‘n plan vir jou lewe in hierdie tyd en plek. Dit het te doen met meer as ‘n florerende loopbaan of om ‘n gemaklike lewe vir jou familie te voorsien. Die rede waarom jy hier is op hierdie oomblik – die rede waarom jy bestaan – is vir sy heerlikheid! Ons is hier om sy getuienis te wees, om ‘n verskil te maak, om sy lewende sendbriewe te wees vir ‘n wêreld wat desperaat dors na liefde.

Daar is egter ‘n belangrike probleem in die kerk vandag betreffende ons sending. Baie van die Amerikaanse kultuur – insluitende die verhewe strewe na geluk – het in die kerkkultuur ingesluip. Ons aanbid en tree op asof God vir óns bestaan, eerder as omgekeerd. Ons dink ons gehoorsaamheid aan sy Woord is om sy guns en seën te wen eerder as ‘n verhouding van liefde. Dit is afgodery, so eenvoudig soos dit; dit plaas materiële wins en vleeslike bevrediging voor ‘n heilige, liefdevolle God.

Dieselfde ding het met die kerk in Kreta gebeur. Paulus sê daar was talle Christene wat “tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is, veral die wat uit die besnydenis is; hulle mond moet gestop word. Hulle keer hele huise onderstebo deur te leer wat nie betaam nie, ter wille van vuil wins” (Titus 1:10:11). In Kreta, het die kerk net so vleesgedrewe geword soos die breër kultuur.

Paulus moes hierdie vals leerstellinge, wat mense se vlees behaag het eerder as om ‘n weg na goddelikheid te wys, konfronteer. Hy het Titus herinner, “Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en sinsgenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het – nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe” (Titus 3:3-7).

Moenie ‘n fout maak nie, die Christene van Kreta is bekeer na ‘n lewende geloof. Maar hulle het versonke gebly in ‘n vleesgedrewe kultuur wat fisieke aptyte beklemtoon in plaas van die dinge van God. Hier was Paulus se prontuit opdrag aan Titus: “Hierdie getuienis is waar. Daarom moet jy hulle skerp bestraf, sodat hulle gesond in die geloof kan wees” (Titus 1:13).

Dit breek my hart om al die Christene te aanskou wat kerk bywoon en wie se lewens nie verander word deur die evangelie nie.

As ons iets mooi soos die Goeie Nuus van Christus glo, maar nie uitoefen nie, is ons niks beter nie as die Fariseërs wat Jesus gekritiseer het. Daardie hoogs godsdienstige mense het rondgejaag om bekeerlinge te maak, maar het hulle nooit uitgedaag om hulle lewens in ooreenstemming met God se Woord te bring nie.  Jesus het hierdie skynheilige kerkleiers gekonfronteer en gesê, “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self” (Matthéüs 23:15).

Het jy al ooit gewonder waarom die kerk nie kragtig is vandag nie? Waarom het ons so ‘n swak getuienis in ‘n wêreld wat desperaat is om Goeie Nuus te hoor? En waarom lyk die kerk meer soos die wêreld as verskillend daarvan? Dit is omdat ons ‘n evangelie van mengsel aanvaar het, een gedrewe deur vleeslike doelwitte eerder as goddelikes. Wat ek sien gebeur, dryf my na my knieë om te bid, “Jesus, bekeer ons. Raak ons aan, verander ons, vorm ons. Maak ons rein, anders en heilig. Sonder ons af vir u glorieryke doelwitte.”

In 1974, meer as ‘n geslag gelede, het my vader, David Wilkerson, ‘n profetiese boek genaamd The Vision geskryf. Aan hom was ‘n openbaring gegee van wat kom wat aanvanklik selfs vir hom vreemd gelyk het, maar oor die jare heen, het amper alles wat hy voortuitgesien het, waar geword. Ek dink aan twee spesifieke voorspellings wat hy gemaak het wat niemand geglo het kan gebeur nie: Eerstens, pornografie sou in die huis instroom. En tweedens, Amerika sou nog ‘n ekonomiese depressie beleef. Dit het dekades uitmekaar gebeur, maar God was getrou om ons oor die koms van beide te waarsku.

Ek was ‘n tiener toe Pa The Vision vrygestel het. Ek onthou twee ander openbarings daaruit wat ek afgemaak het as té ongelooflik om ooit plaas te vind. In die afgelope maande, het ek beide vervul sien word. Ek noem hulle nou omdat ek dit as waarskuwingstekens sien vir ‘n kerk wat vinnig verval.

Die eerste voorspelling was dat heksery en Satansaanbidding in die kerk sou plaasvind. Nie lank gelede nie, het ek ‘n video gekyk van ‘n Pinksterskouspel wat vertoon is in ‘n prominente kerk. Dit het verleidend geklede dansers ingesluit wat sensueel rondgeslinger het by die voet van die kruis om te toon wat Satan se hordes gedoen het by Christus se kruisiging. Ek was gegrief oor hierdie toneel wat onder Jesus se voete plaasgevind het, terwyl Hy aan die kruis gehang het en dit self aanskou het. Ek besef dat dít waarna ek gekyk het, nie werklik Satansaanbidding was nie, maar dit het groot belangrikheid en klem geplaas op iets skandeliks. Dit het daardie bediening se onvermoë om te onderskei tussen strelende vermaak en rein aanbidding geopenbaar.

Hoe kan ons ‘n evangelie van lig verkondig as duisternis aangebied word as die evangelie? Ons is nie die eerste geslag wat dit beleef nie. C.H. Spurgeon, die bekende 19-eeuse prediker, het dieselfde versoeking gesien insluip in die kerke van sy tyd. Hy het geskryf:

“Die Duiwel doen selde ‘n slimmer ding as om vir die kerk te skimp dat dit deel is van hulle sending om vermaak aan mense te verskaf met die oog daarop om hulle te win.... Die kerk het geleidelik haar getuienis gedemp en het daarna die ligsinnigheid van die dag oorgesien en verskoon. Toe het sy dit geduld...nou het sy dit aangeneem met die verontskuldiging om die massas te bereik.

“My eerste beswaar is dat om vermaak aan die mense te verskaf, nêrens in die Skrif genoem word as ‘n funksie van die kerk nie. As dit ‘n Christelike werk is, waarom het Christus dit nie genoem nie? ‘Gaan dan heen, in die hele wye wêreld in en verkondig die evangelie aan alle mense.’ Ja, dit is duidelik genoeg; so sou dit gewees het as Hy bygevoeg het ‘en verskaf vermaak vir diegene wat nie behae het in die evangelie nie’ ...ek hoor Hom nie vir sy dissipels sê nie, ‘Jaag agter die mense aan wat weggaan. Petrus, sê vir hulle ons sal môre ‘n ander soort styl diens hê; iets kort en aantreklik met baie min prediking...’

“Laastens, die sending van vermaak misluk om die verlangde einddoel te bewerkstellig... Laat die roekelose en die spotter wat God dank omdat die kerk hulle halfpad tegemoetgekom het, opstaan, praat en getuig... Laat hom opstaan – maar daar is niemand wat kan antwoord nie. Die sending van vermaak produseer geen bekeerlinge nie.”

Spurgeon se preke het ‘n frase ingesluit wat vir my die titel van hierdie boodskap verskaf het: “‘n Tyd sal aanbreek wanneer daar in plaas van herders wat die skape voer, hulle narre sal hê wat die bokke vermaak.”

Vriend, Paulus het nie Titus en sy broeders in Kreta agtergelaat om die mense te vermaak nie. En Jesus het ons nie agtergelaat om hierdie verdonkerende wêreld te vermaak nie. Ons is hier vir ‘n goddelike doel: om van God te hoor, en om sy heilige woord te leef te te verkondig om deur die kultuur te dring met oortuiging en krag.

Paulus sê ons het drie dinge om te doen, terwyl ons in Kreta agterbly.

Hier is die eerste ding: “Een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te kan vermaan” (Titus 1:9). Die woord “gesonde” dui hier op iets onbeweeglik, onbetwisbaar, rotsvas. God het lering vir ons ontwerp om ons lewens betroubaar daarop te baseer. Dit beteken dit kan nie vermaaksugtig of bloot opwindend in ons ore wees nie. Daardie soort lering is hier een dag en weggewaai deur die winde van vleeslike giere die volgende dag. Vir sommige in die kerk kan dit beteken om die jongste Christelike topverkoper neer te sit en God se Woord op te tel wat Hy gegee het vir ons ewige voordeel.

Tweedens, ons moet ‘n heilige getuienis leef. “Ek wil hê dat jy hierdie dinge beslis moet bevestig, sodat die wat in God glo, sorg kan dra om goeie werke voor te staan; dit is wat goed en nuttig is vir die mense” (Titus 3:8). En derdens, ons moet die evangelie in woord en in daad verkondig: “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn” (Titus 2:11).

Ek vra jou: As God se lewende ligte in die verdonkerende kultuur inskyn – as sy sout beteken om lewe te bewaar – beoefen ons hierdie dinge? Of het ons ons heilige geur verloor? Het ons sy Woord gereduseer tot raad op beter lewe, of glo ons steeds dit het die krag van die opgestane lewe? As ons werklik glo dat Christus se evangelie Goeie Nuus is – dat Hy vir sondaars gesterf het – sal ons ander daarvan vertel sonder verskoning. En hulle sal die krag daarvan ken deur die getuienis wat ons leef. Amen.
 

Download PDF