Niks Anders as Christus Nie | World Challenge

Niks Anders as Christus Nie

David WilkersonJune 25, 1985

Daar is ‘n ou gesang in die kerk wat vir my ‘n belangrike betekenis het. Dit sê, “Jesus het ‘n tafel gedek waar die kinders van God gevoed word. Hy nooi Sy uitverkorenes uit, Kom en eet.” Daardie tafel is in die hemel en deur geloof moet ons daar sit. Paulus bevestig ons is “saam opgewek en laat sit in die hemel in Christus Jesus” (Efésiërs 2:6).

Daar is ‘n tafel van die Here vir ons gedek in die hemele. Jesus het vir Sy dissipels gesê, “En Ek beskik vir julle ‘n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk” (Lukas 22:29,30). Moses, Aäron, Abíhu en die oudstes van Israel het aan die Here se tafel geëet op die Berg Sinaí, “En hulle het die God van Israel gesien, en onder sy voete net soos ‘n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self. Maar Hy het sy hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel uitgestrek nie, en hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink” (Exodus 24:9-11).

Wat ‘n ontsagwekkende gesig: vier-en-sewentig manne van God, wat saam met Hom sit en eet en drink! Wat ‘n bonatuurlike tafel. Dit was so oorweldigend dat niemand anders as Moses dit kon inneem nie; dit was bokant hulle begrip. Aäron het van daardie goddelike tafel af gekom en ‘n goue kalf gemaak. Nadab en Abíhu het vreemde vuur geoffer en was deur God verteer.

Die konings van Israel het ‘n koninklike tafel gehad. Dit was ‘n ‘n groot eer om ‘n sitplek toegewys te word by daardie spesiale tafel. Dawid het ‘n sitplek by sy tafel toegewys aan Mefibóset. “En Dawid sê vir hom: Wees nie bevrees nie, want ek sal jou sekerlik guns bewys ter wille van jou vader Jónatan en al die grond van jou vader Saul aan jou teruggee, en jy self sal altyddeur aan my tafel brood eet” (2 Samuel 9:7).

Die Koningin van Skeba het haar verwonder aan die heerlike feesmaal wat bedien is vir diegene wat aangewys is om aan Salomo se koninklike tafel te sit. Dit het haar asem weggeslaan toe sy sien “die voedsel van sy tafel, en hoe sy dienaars sit en sy bediendes staan, en hulle klere en sy dranke en hulle klere” (2 Kronieke 9:4). By daardie tafel, het die Koningin van Skeba gesien en gehoor wat plaasvind. Sy het gesê, “Gelukkig is u manne, en gelukkig hierdie dienaars van u wat gedurig voor u staan en u wysheid hoor” (2 Kronieke 9:7).

By die tafel, was die wysheid van die koning meegedeel in soveel glorieryke intimiteit. Daar het hy sy hele hart oopgemaak vir diegene wat daar gesit het. Nehemía het gesê, “En die Jode, die leiers, honderd-en-vyftig man, sowel as die wat uit die heidene rondom ons na ons toe gekom het, was aan my tafel” (Nehemía 5:17). Hierdie koninklike tafels was gewoonlik eintlik feeste met ‘n groot skare wat dit bygewoon het.

Dawid het van sy Here gesê, “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders” (Psalm 23:5).

Ek probeer wys dat in die Ou Testament was daar ‘n koninklike tafel wat ‘n tipe en skaduwee was van die hemelse tafel. Diegene wat toegewys was aan daardie koninklike tafel het dit ‘n groot eer beskou en sou nie een maaltyd misloop nie.

Dawid was ‘n sitplek toegeken by Saul se koninklike tafel. Om by daardie tafel te sit, het ‘n groot risiko geword weens Saul se jaloesie, en daarom het Dawid met Jónatan ooreengekom om sy sitplek te verlaat om vas te stel of Saul hom regtig wou doodmaak. Jónatan het gesê, “Jy sal gemis word, want jou sitplek sal leeg wees” (1 Samuel 20:8). Dit was ook net so, hy was gemis! “Die koning het op sy sitplek gaan sit...op die sitplek teen die muur...maar Dawid se plek was leeg...Maar toe...sê Saul...Waarom kom die seun van Ísai gister sowel as vandag nie na die maaltyd nie?” (1 Samuel 20:25,27).

Ek wonder hoe talle die geestelike betekenis hiervan sal sien? Saul was sekerlik nie ‘n tipe Christus nie, en ook was sy tafel nie ‘n tipe van die Here se tafel nie. Maar die Ou Testament tafel van konings is in tipe en skaduwee, ‘n ware beeld van ons Here se hemelse tafel.

Paulus praat met ons en sê, “Laat ons dan feesvier” (1 Korinthiërs 5:8). Met ander woorde, laat ons duidelik verstaan dat daar in die hemel ‘n sitplek aan ons toegeken is saam met Christus by Sy koninklike tafel. Paulus sê in wese, “Daag op! Moet nooit dat dit van jou gesê word, ‘Jou sitplek is leeg’ nie!”

As Saul van Dawid kan sê, “Waarom kom hy nie na my tafel nie? Waar is hy?” – kan ons Here nie dieselfde van ons sê nie? Ons Here kan sê, “Ek het aan jou ‘n sitplek toegeken by My koninklike tafel. Dit is waar My dienaars My aangesig sien, My wysheid hoor en My leer ken. Dit is waar Ek hulle voed met die brood van die lewe. Dit is ‘n groot eer! Waarom neem jy dit so ligtelik op? Waarom neem jy nie jou sitplek in nie? Jy hardloop rond en werk vir My, praat vir My; waarom sit jy nie by My en leer van My nie? Waar is jy?”

Trouens, ons onderhou nie die feesmaal nie! Ons verstaan nie die majesteit en eer daarvan om opgerig te word om saam met Christus in hemelse plekke te sit nie. Ons is te besig vir sy tafel.

Ek dink ons Here kyk af na die aarde en sien menigtes wat hulleself met sy Naam noem. Dienaars! Herders! Bedienaars! Sendelinge! Christelike werkers! Heiliges van God! Ek vra myself af, wat is dit dat ons Here die graagste sou wou hê van almal wat daarop aanspraak maak dat hulle toegewyd is aan Hom? Wat sou Hom seën en behaag en blydskap gee? Sal ons iets vir Hom bou? Meer kerke? Meer Bybelskole? Meer evangelisasie sentrums? Meer huise en inrigtings vir mense wat ly? Hy wat nie woon in geboue wat deur hande gemaak word nie, wil meer as dit hê! Salomo het gedink hy het vir God ‘n ewige tempel gebou. Binne 50 jaar het dit agteruit gegaan; en in minder as 400 jaar, was dit heeltemal weg. In die lig van die ewigheid, is dit vier knippe van die oog. Wat kan ons doen en bereik vir Sy heerlikheid as Hy reeds al die heerlikheid ontvang het? Sekerlik nie nog meer ondernemings wat eindig in prag en aardse grootheid nie.

Die een ding wat ons Here verlang bo alles van Sy dienaars, bedienaars, en herders, is GEMEENSKAP BY SY TAFEL! Eenheid rondom Sy hemelse tafel! ‘n Plek en tyd vir intimiteit! ‘n Voortdurende kom na Hom toe vir voedsel, vir krag, vir wysheid, vir gemeenskap.

Hierdie is ‘n geslag met ‘n beperkte openbaring van die Here Jesus Christus omdat soveel afwesig is by die fees! Hulle sitplekke is leeg! Daar is so ‘n stokkerige, beperkte visie van Christus in die kerk vandag. Met al die prediking, die lofsange, die eindelose gepraat oor Hom – het min ‘n ware waardering vir die Here se tafel! Min ken die heerlikheid en majesteit van so ‘n hoë roeping in Christus Jesus.

Verkeerdelik kry ons ons geestelike blydskap uit die diens – nie uit gemeenskap nie. Ons doen meer en meer vir ‘n Here van wie ons minder en minder weet! Ons sal onsself moeg jaag; ons sal uitbrand, ons sal na enige plek op hierdie aarde gaan en ons liggame vir Sy werk gee – maar ons onderhou selde die feesmaal! Ons behandel die Here se tafel te lighartig. Ons is nie ernstig daaroor om ons plek saam met Hom in te neem en van Hom te leer nie!

Paulus praat van drie verskillende jare in die woestyn van Arabië. Dit was drie glorieryke jare, om in die hemele te sit by die tafel van die Here. Dit was daar waar Christus Paulus alles geleer het wat hy geweet het; dit was daar waar die wysheid van God in hom geopenbaar is. Vir Paulus was bekering nie genoeg nie! ‘n Bonatuurlike besoek was nie genoeg nie! ‘n Eenmalige verblindende visioen van Christus, ‘n eenmalige bonatuurlike hoor van Sy stem uit die hemel was nie genoeg nie! Hy het ‘n vlietende visioen van die Here gehad. Hy het een van die mees geestelike roepings ontvang wat ‘n man van God ooit ontvang het.

Maar Paulus wou meer hê! Iets in sy gees het uitgeroep, “O, dat ek Hom mag ken!” Geen wonder nie hy kon vir ‘n hele Christelike stelsel sê, “Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Korinthiërs 2:2). Hy het in wese gesê, “Laat Die Jerusalem Judaïseerders hou by hulle wettiesheid. Laat die Sabbatariërs hulle punte van leerstellinge debatteer. Laat diegene wat geregverdig wil word deur werke hulleself moeg maak. Laat alle ander in die kerk dink hulle steek my verby met al hulle wêreldse wysheid; maar niks anders vir my as Jesus Christus nie!”

Paulus het uit Arabië gekom en drie groot verbintenisse aangegaan, wat almal te doen het met Christus alleen! Dit is die drie verbintenisse wat God vereis van almal wat by sy tafel sit.

VERBINTENIS #1 Soek ‘n Toenemende Openbaring van die Grootheid van die Here Jesus Christus!

Sedert die kruis, het alle geestelike reuse een ding in gemeen gehad. Hulle het net die tafel van die Here gevrees; hulle het hulleself verloor in die grootheid van Christus; en hulle het gesterf terwyl hulle dit betreur het dat hulle steeds so min van Christus geken het, maar tog soveel meer kennis van Hom wou gehad het. So was dit met al die dissipels, met Paulus en met baie vroeë Kerkvaders; met Luther, Zwingly, en die Puriteine; met die Engelse Predikers oor die afgelope tweehonderd jaar; met manne soos Wesley, Fletcher, Whitefield, Mueller, Stoney, Mackintosh, T. Austin-Sparks. En so was dit en is dit met die vroom Amerikaners – Tozer, Ravenhill, en baie, baie ander.

Wat ‘n kragtige naamlys, en elkeen van hulle het dieselfde heersende passie gehad: ‘n toenemende openbaring van Jesus Christus. Hulle het glad nie omgegee vir die skouspelagtige; die aardse, die dinge van hierdie wêreld, sukses, ambisie of wêreldse roem nie. Hulle het gebid – nie vir dinge nie, nie vir seëninge nie, nie om gebruik te word nie, nie vir enigiets vir die self nie – maar slegs vir ‘n groter openbaring van die heerlikheid en grootheid van hulle Here.

‘n Duiwel wat vry rondloop en groot woede het omdat hy weet sy tyd min is, verg ‘n groter openbaring van Christus! Satan vertoon groter mag en die hel stel al sy woede vry op hierdie geslag. Die vyandige vestings is baie meer versterk, kragtiger, meer ingegrawe as in enige vorige geslag. Sonder twyfel openbaar Satan homself aan die wêreld soos nog nooit tevore nie. Die kennis van Satan, sy mag, sy koninkryk, sy werke, is aan die toeneem. Hy word beter bekend, minder gevrees, meer aanvaar.

‘n Basiese Bybelskoolkennis van Christus sal nie genoeg wees in hierdie laaste oorlog nie! Om van Hom te weet, is nie genoeg nie. ‘n Lewenslange studie van Christus is steeds nie genoeg nie. Ons moet ophou Christus bestudeer; ons moet na Sy tafel gaan en toelaat dat die Heilige Gees Hom aan ons openbaar! Dit verg baie tyd by Sy tafel.

Ek het volumes boeke gelees wat geskryf is oor Jesus Christus – en die outeurs het Hom regtig nie geken nie. Hulle was klinies, presies, leerstellig suiwer – maar leweloos! Hulle het nie geëet en gedrink in Sy teenwoordigheid nie! Jy leer Hom ken slegs deur baie in Sy teenwoordigheid te wees, net deur by Hom te sit, Sy stem te hoor, op Hom te wag vir goddelike wysheid. Besige mense leer Hom nooit ken nie. Hulle gaan vir jare aan op een of ander eertydse visioen. Hulle het jarelank nie ‘n vars boodskap, ‘n nuwe openbaring van Hom nie. Christus word deur hulle vereer en verhoog, maar Hy is nie hulle lewe nie.

Jy beter nie in hierdie wêreld ingaan waar demone onbetwis heers tensy jy verbind is tot ‘n toenemende openbaring van Christus se krag en heerlikheid nie! Die owerhede en magte van duisternis sal vir jou lag. Jy sal geen impak op die koninkryk van duisternis hê nie. Dit is slegs die een wat Christus in volheid ken, in toenemende visie, wat vrees deur die hel stuur. Jy moet meer as vier geestelike wette ken. Jy moet dikwels op jou knieë wees; jy moet vanaf die troonkamer kom – of jy sal in duie stort voor die vyand.

‘N EVANGELIE VAN GROOTHEID IS NODIG OM DIE INGEWIKKELDE EN GROEIENDE PROBLEME VAN HIERDIE BOSE GESLAG TE HANTEER! God los nie probleme op nie – Hy sluk hulle in in Sy grootheid! Die kind van God met ‘n toenemende openbaring van Christus se grootheid, sal vir geen probleem, geen duiwel, geen mag op aarde bang wees nie! Hy weet Christus is groter as hulle almal.

Ons visie van Christus is te klein, te beperk. As ons ‘n openbaring gehad het van hoe groot Christus is – hoe onbeperk, onmeetbaar, eindeloos, ontsaglik – sou ons nooit weer oorweldig word deur die lewe se probleme nie. In die afgelope tien jaar, was daar genoeg “Hoe Om” boeke geskryf om Washington se nasionale biblioteek vol te maak. Daar is ‘n maklike formuleboek oor elke denkbare onderwerp. Alles is gebaseer op wat die mens behoort te doen om verligting te vind. Min daarvan is van enige waarde! Dit is alles gebaseer op verpotte openbaring van die grootheid van Christus.

Dink aan al die ongelukkige huwelike onder God se kinders. Dekades van advies het alles misluk. Die boeke, kassette, seminare – alles het min effek gehad. Dit word net erger. Wat werklik nodig is, is ‘n terugkeer na die Here se teenwoordigheid, na die binnekamer van gebed – om by die Here se tafel te sit, verlore te raak in die volheid en grootheid van die Here. Die meeste mense soek God nie! Hulle drink nie die Woord in en voed nie op Christus nie, so hulle word kwesbaar vir die gees van die eeu.

Paulus was verbind aan ‘n toenemende openbaring van Jesus Christus. Alles wat hy van Christus gehad het, het gekom deur openbaring – en dit is aan hom geleer by die Here se tafel en vir hom ‘n waarheid gemaak deur die Gees. Hy het gesê, “Dat Hy aan my deur ‘n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid” (Efésiërs 3:3). Die Heilige Gees het die diep en verborge geheime van God geken en Paulus het voortdurend gebid vir die gawe van genade om die “onnaspeurlike rykdom van Christus” (Efésiërs 3:7,8) te verstaan en te verkondig. Paulus sê ons het toegang tot hierdie heerlike rykdom in Christus. Toe hy van God God se ewige planne gepraat het, het hy gesê, “in wie ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom” (Efésiërs 3:12).

Mag God ons help en vergewe omdat ons nie voordeel trek uit ons “toegang met vertroue” aan Sy groot rykdom in heerlikheid nie. God soek gelowiges wat nie tevrede is om te sif deur al die teenstrydige stemme om ‘n ware woord te vind nie. Hy soek diegene wat ‘n openbaring van Hom sal soek wat alles hulle eie is – ‘n baie diep persoonlike intimiteit.

Hoeveel predikers, sendelinge en leraars kan saam met Paulus sê, “Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus Christus” (Galásiërs 1:11-12). Wat onderrig jy? Is dit wat die mens jou geleer het? Is dit ‘n herhaling van die openbaring van een of ander groot prediker? Het jy ‘n openbaring van jou eie? Neem dit altyd toe? Het jy ‘n oop hemel?

VERBINTENIS #2 Verkondig Jesus Christus met toenemende intensiteit!

Paulus het gesê, “Want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Handelinge 17:28). Ware kinders van God lewe in hierdie baie klein kring; hulle lewe, hulle elke skuif, hulle bestaan word gevul met slegs die belange van Christus.

Vir jare in my bediening het ek geweet die Heilige Gees trek my in ‘n bediening in van Christus alleen! Hoe het my hart gesmag om niks anders as Christus te verkondig nie! Maar ek het die kring te nou gevind, omdat my hart verdeeld was en ek het geen stroom van openbaring gehad om so ‘n prediking te handhaaf nie.

Om niks anders as Christus te verkondig, moet daar konstante stroom van openbaring van die Heilige Gees wees! Anders sal jy op die ou end dieselfde ou openbaring herhaal. As die Heilige Gees die gedagtes van God ken, as Hy die diep en verborge dinge van die Vader ondersoek, en as Hy in my ‘n fontein van lewende water wat opspring moet wees – dan is daardie fontein van stromende water ‘n konstante, nimmereindigende openbaring van Christus. Dit wag op elke dienaar van die Here wat gewillig is om te wag op die Here – stil, met geloof, vertroue in die Heilige Gees om die gedagtes van God bekend te maak. Daar is so min vars waarheid, so min duidelike en toenemende kosbare woord van die Here. Die kerk word oorheers deur sogenaamde profete wat rondgaan en sê, “God het vir my gesê” of “Ek het ‘n boodskap van God vir jou.” Die meeste daarvan is brabbeltaal.

Wat vandag die nodigste is, is Sy onfeilbare woord – ‘n ware en lewende openbaring. Samuel het daardie soort woord van God gehad, en die hele Israel het dit geweet. Van al die stemme in die land, het syne waar geword en nie een woord het op die grond geval nie. Daar is menigtes vandag wat probeer sif deur al die stemme om die duidelike woord van God te hoor. Gelowiges word moeg van ‘n spervuur van stemme, stemme, stemme. Hulle vind slegs ‘n paar koringkorrels uit die berge kaf.

God se kinders dwarsdeur die wêreld is gereed om verder te gaan met die Here. Hulle is honger, dors, moeg van al die lighartigheid en dwaasheid op die kansel. Hy skryf vir my en vra gebed vir hulle herders en sê, “Hy het geen boodskap van God af nie! Hy is ligsinning! Lighartig! Hy maak grappies! Hy het geen vuur nie! Niks wat hy sê steek ons aan die brand nie. Wat kan ons doen?”

Die Here roep Sy bruid; daar is ‘n heilige, wenende, biddende oorblyfsel wat uitkom uit Laodicéa. Die vraag is: Sal daar genoeg manne van God op ons kansels wees met genoeg salwing en vars openbaring om hulle te onderhou? Sal die skape verby hulle herders groei? Sal daar genoeg ondersteuning wees vir almal wat dieper met die Here gaan? Sal daar manne van God wees met die wysheid van God om hulle op te bou en tereg te wys?

Christus alleen is die lig. As jy nie daartoe verbind is om Hom te verkondig nie, dryf jy nie duisternis uit nie! Die hele wêreld lê in duisternis en lig alleen dryf daardie duisternis uit. Dit is NIKS ANDERS AS CHRISTUS NIE! Sommige van julle is vas in daardie donker plek. Petrus het gesê, “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn” (2 Petrus 1:19). Paulus het gesê, “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” (2 Korinthiërs 4:6). Johannes het gesê, “Sy koninkryk is verduister, en hulle het hul tonge gekou van pyn” (Openbaring 16:10).

Jou goeie werke sal nie daardie duisternis wegneem nie! Jou prediking oor sosiale sake sal nie die duisternis opbreek nie! Jou ou Spurgeon notas sal dit nie doen nie! Jou storievertelling sal nie help nie! Al jou persoonlike ervarings sal dit nie doen nie! Ek sal ‘n stap verder gaan; jou bind van die magte van die duisternis sal nie werk nie – nie totdat die lig van Christus in al sy heerlikheid na vore skyn nie! Alle duisternis vlug – dit verdwyn – in die lig van God se heerlikheid, weerspieël in die aangesig van Jesus Christus! Ek adviseer alle Christelike bedienaars om hulle notas opsy te skuif, om op te hou om ander predikers te bestudeer, en Christus alleen te bestudeer, in die binnekamer. Ons dien dieselfde God. Ons word geleer deur dieselfde Heilige Gees, net soos alle mense wat Christus in sy volheid geken het. Dit is ‘n saak van honger en desperaatheid!

Ek was eens ‘n “groot” evangelis met ‘n gevolg van ‘n span manne vir die pad en ‘n span vir ondersteuning. Duisende het gekom om my te hoor preek. Maar ek het stadig aan leeg geword! Ek was te besig om my eie openbaring te gaan haal. Ek het geween! Ek was eensaam, hartseer! In my wanhoop, het ‘n gelowige vir my ‘n kopie van “Christian in Complete Armour” deur Gurnall gegee. Dit het my verpletter! Ek het gesê, “Ek ken God nie soos hierdie man nie!” Dit was die antwoord! Ek het opgehou! Ek het deur die Puriteine gelees: Sibbles, Brown, John Owens, Watson. Ek het Baxter, Bunyon, Luther, Zwingli. Toe het ek die latere skrywers gelees: Wesley, John Fletcher, Darby, Stoney, Mackintosh, T. Austin–Sparks – en aan en aan! Hulle het my net meer honger gemaak om my eie plek in Hom te vind. Ek het gelees totdat God gesê het, “STOP! EET DIE BOEK!”

Heiliges van God, EET DIE BOEK! Kry jou eie aanraking van God! Kom in die stroom van goddelike openbaring in! Verkondig Christus volgende jaar in voller mate as hierdie jaar. Bly vars! Verkondig Christus alleen; gaan van heerlikheid tot heerlikheid! Suksesvolle prediking? Motivering? Selfbeeld prediking? Politiek? Weg daarmee; dit is die drekverkope van mense sonder openbaring!

Verbintenis #3 Toename van Christus se lewe in my lewe om ooreen te stem met my openbaring van Hom!

Paulus maak dit duidelik dat Christus in hom geopenbaar was, nie net aan hom nie (Galasiërs 1:16). Hierdie week het ek ‘n kosbare brief van ‘n baie goddelike vader in Christus ontvang. Hy is soos ‘n heilige en vir my is dit soos om Paulus die apostel te hoor. Hy het geskryf, “Die feit dat Paulus slegs ‘ten dele’ gesien het, het nie die heerlikheid wat hy wel gesien het verminder nie, en het dit ook nie vir hom moeilik gemaak om dit te verkondig nie. Ek glo in al ons soeke na Hom, moet ons erken dat dit die kennis van Hom is wat ons werklik nodig het; en die waarheid wat ons soek is die waarheid wat uit ons gewring moet word deur die gees van lewe – voor dit werklik ons s’n word. Deur dit te weet, begin ons verstaan dat God dit nie goedvind om méér mee te deel nie, en ook moet ons nie meer begeer as wat ons kan verteer en in ons lewens bou nie. Openbaring kan ons meer kwaad doen as goed as daar nie ‘n ooreenstemmende toediening van lewe in ons gees is nie. Die Boom van Lewe is steeds meer begeerlik as die Boom van Kennis. Net in die wete en aanskoue van Hom leer ons skielik geheime van waarhede ken en verstaan wat ons nooit sou kon ontrafel met enige navorsing nie. “Deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom” (Hebreërs 13:21).

Dit is laster om te verkondig dit wat bloot deur ons gaan sonder om ‘n verandering te bewerkstellig. Dit is krimineel volgens God om te verkondig dit wat nie sy krag in ons eie lewens en bedienings gewerk het nie. Dit mag reg wees vir sekere oppervlakkiges om Christus met twis te verkondig, maar nie vir die man of vrou van God nie! Ons moet ‘n toenemende openbaring van Christus verkondig – slegs as daardie openbaring ‘n diepe verandering in ons teweeg gebring het. My gebed is nou, “O God, laat my slegs verkondig wat ek deur die Gees verstaan! Laat dit ‘n volheid wees! Laat dit eers ‘n deel van my natuur en karakter word. Laat dit ‘n deel van my eie geestelike geskiedenis met die Here wees.”

Paulus het ‘n persoonlike bekommernis geuiter: “Dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.” Hy sou sekerlik nooit sy veiligheid in Christus in twyfel getrek het nie. Dit was nie hier sy bedoeling nie. Die Griekse woord vir verwerplik hier beteken “afgekeur” of “nie waardig nie.” Hy het die gedagte gevrees van voor die oordeelstroon van Christus staan om geoordeel te word omdat hy ‘n Christus verkondig het wat hy nie werklik geken het of omdat hy ‘n evangelie verkondig het wat hy nie ten volle uitgeleef het nie. Dit is waarom jy dikwels hoor Paulus praat van die “lewende Christus” of “Christus wat in my lewe.” In Paulus se oë, moet enige bedienaar wat preek, toeneem in die kennis en uitoefening van Christus – of afgekeur word!

Ten slotte, daar is ‘n vraag wat ek vir jou moet vra. Dit is iets wat die Heilige Gees my op die hart gedruk het! Jy kan nie nog ‘n uur verder gaan om jouself ‘n dienaar van God te noem totdat jy die volgende kan antwoord nie! Dit is die hart van die boodskap.

WIL JY WERKLIK NIKS ANDERS AS CHRISTUS HÊ NIE? IS HY WERKLIK ALLES – JOU EEN DOEL IN DIE LEWE? Waar is die mishoop in jou lewe? Het jy alle dinge as skade geag ter wille van die openbaring van Hom? As jy niks anders as Christus wil hê, is jou bediening nie jou loopbaan nie – gebed is! As Hy alles in alles vir jou is, sal jy die leer van sukses as boosheid weier! Jy sal jou self wegsteek in Hom! Jy sal nie hoef vermaan te word om Hom te soek nie! Jy sal dikwels na jou binnekamer gaan, met die wete dat jy die oomblik wat jy daar instap, by Sy tafel sit! Jy sal aanbid! O ja, jy sal in Sy teenwoordigheid sit, sonder haas en Hom liefhê, Hom aanbid met opgehefte hande en smag na Hom.

Soveel van ons gebruik Christus. Ons gebruik Hom om ons eie bedienings te bevorder, om ons eie koninkryke te bou. Ons dryf handel met Sy Naam! Mag God ons vergewe!

HET ONS HOM LIEF, WIL ONS WERKLIK SLEGS HOM HÊ? Totdat jy weet dat Christus alleen is wat jy nodig het en begeer, moenie êrens in Sy Naam gaan nie. Moenie in Sy Naam iets doen nie! Klaar daardie vraag eers uit! Al wat jy vir mense hoef te gee, is dit wat jy van Christus het!

Download PDF