Nuwe Verbond Christusfees | World Challenge

Nuwe Verbond Christusfees

Gary Wilkerson
December 9, 2013

Jesaja het van Jesus gepraat toe hy hierdie woorde geprofeteer het: “So sê die Here: In die tyd van die welbehae het Ek U verhoor, en in die dag van heil het Ek U gehelp; en Ek behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, om die land weer op te rig, om verwoeste erfenisse te laat beërwe” (Jesaja 49:8, beklemtoning myne).

As die kerk van Jesus Christus, vier ons Jesaja se profetiese aankondiging elke Kersfees. Die profeet het verklaar dat God op die punt was om sy Seun as die antwoord vir elke hulpgeroep en gebed te stuur. Daar is egter baie meer agter hierdie vers as wat ons gewoonlik met die storie van ‘n baba in ‘n krip assosieer. Ons word vertel dat Jesus in menslike vorm gestuur is om God se verbond met die mens te openbaar: “Ek gee U as ‘n verbond met die volk” (Jesaja 49:8).

Toe God ons sy Nuwe Verbond gegee het, het Hy nie ‘n nuwe stelsel met ‘n nuwe stel reëls opgestel nie. In plaas daarvan, het Hy ons ‘n persoon gestuur. Kortliks, Jesus is die verbond wat God gestuur het.

Die Ou Verbond was ‘n baie defnitiewe stel reëls gebaseer op voorwaardes. Dit het verklaar, “As jy dit of dat doen, dan sal God jou lewe gee. Maar as jy dit nie doen nie, sal jy God se seën mis.” Natuurlik het die mense heeltyd misluk om God se standaarde te bereik. Hulle was nie in staat om sy wet, wat heilig en rein was, te onderhou nie. Die gevolg was dat hulle lewens geteister was met skuld, skande en wanhoop.

Deesdae het ons dit op een of ander manier in ons koppe gekry dat dit nodig is om God se Ou Verbond aan te pas. Maar Jesus het nie gekom om ‘n verbond aan te pas nie; Hy het gekom as die verbond. Hy het nie gekom om ons die seën van genade te wys nie; Hy is die seën van genade.

Nog ‘n valse beeld wat ons ontwikkel het, is dat Christus gekom het om die vrede tussen ons en ‘n woedende Vader te bewaar. Ons sien Jesus as iemand wat altyd verskoning aanteken vir ‘n bejaarde ouer: “Julle moet maar sy norsheid oorsien. Hy het in sy latere jare bietjie nukkerig geword. As julle Hom leer ken, sal julle sien hoe liefdevol Hy is.”

Beide hierdie beelde is wanvoorstellings. En beide neem aan dat Jesus gekom het om die wet vir ons makliker te maak. In der waarheid het Jesus dit egter moeiliker gemaak. Hy het in een van sy eerste preke gesê, “Julle het gehoor dat daar gesê word, ‘Moenie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê, ‘Moenie eers met wellus na iemand kyk nie, anders het jy reeds egbreuk gepleeg.’ Julle het gehoor dat gesê word, ‘Moenie moord pleeg nie.’ Maar Ek sê, ‘Moenie eers kwaad wees vir jou broer nie. As jy is, het jy reeds moord gepleeg.’”

Dit was Jesus se eerste werk van sy bediening op aarde: om God se wet vir ons moeiliker te maak. Dit was ‘n daad van ongelooflike barmhartigheid. As die beliggaming van die Nuwe Verbond, het Hy aan ons die ontmoontlikheid gewys om God se wet te onderhou. Hy het die vereistes van die wet verhoog, om ons te wys dat ons dit nooit sou kon doen sonder sy genade en krag nie.

Regdeur die geskiedenis, het mense soos Luther, Calvyn en Wesley beklemtoon hoe belangrik dit vir God se mense is om die Nuwe Testament te verstaan. Hulle het dit gesien as ‘n saak van God se woord reg onderskei — om te verstaan wat is wet en wat genade is. Hulle het gesê as ons misluk om hierdie een saak te verstaan, is ons verdoem tot ‘n leeftyd van wanhoop. Luther en Wesley het geweet dat dit waar was, want hulle het self daardie wanhoop beleef.

Hier is die verskil: Onder die Nuwe Verbond, was God se wet nie meer ‘n uiterlike standaard om na te strewe nie. In plaas daarvan, sou sy wet op ons harte geskryf word deur die Heilige Gees: “Omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Romeine 5:5). Ons is gevul met die Heilige Gees — die lewe van God self — om ons te help om sy heilige Woord te gehoorsaam. Christus het ons so liefgehad en het Homself vir ons gegee, sodat ons sy nuwigheid van lewe kan hê.

Die eerste aanklaer het in die Tuin van Eden verskyn: “Die aanklaer van ons broeders...wat hulle aanklaag voor ons God, dag en nag” (Openbaring 12:10). Satan se beskuldigings is een ding wat Jesus gekom het om mee af te reken as ons lewende, geesvervulde verbond. In Jesaja 49, het God nie ‘n teologie gestuur om sataniese leuens te vernietig nie – Hy het Jesus gestuur. Die eerste profesie in Génesis het gesê dat Satan die Messias se hak sou byt, maar dat Jesus die duiwel se kop sou vermorsel. Tweeduisend jaar gelede met Kersfees, het Jesus daardie werklikheid in ons lewens ingebring.

Soms het ek ‘n ondervinding wat ek dink ander ook moontlik het. Soms word ek wakker in die middel van die nag met ‘n vryswewende angs. Dit is asof ek iets verkeerds gedoen het, maar ek weet nie wat nie. Hierdie angs was baie meer prominent ongeveer ‘n dekade gelede. Wanneer die foon in ons huis gelui het, het dit my laat skrik. My eerste gedagte was, “Wie bel my om vir my te vertel dat ek drooggemaak het? Wat het ek verkeerd gedoen?”

Dit is die aanklaer. Hy fluister, “Jy is ‘n niksnut, waardeloos en ‘n las vir ander. Kyk na jou geskiedenis, hoeveel keer het jy verkeerd gedoen. Jy sal nooit verander nie.” Ons verhouding met daardie stem het in die Tuin begin. Maar toe Jesus gekom het, het Hy verklaar, “Dit eindig nou onmiddellik.” Hy voeg ‘n wonderlike versekering by: “Moenie dink dat Ek hulle by die Vader sal beskuldig nie” (Johannes 5:45).

Dit bring ons by die tweede stem wat ons beskuldig: “Daar is een wat julle beskuldig — Moses op wie julle gehoop het” (Johannes 5:45). Wat het Jesus hiermee bedoel? Moses verteenwoordig die Ou Verbond wet, wat van God ontvang is op die berg Sinai. As ons ons hoop daarop plaas om God se wet te vervul, dan is dit Moses se stem wat ons beskuldig wanneer ons misluk. Jy mag dink, “Waarom sou enigiemand hulle hoop in die Ou Verbond wet plaas?” Christene doen dit heeltyd. Dit gebeur wanneer ons sê, “God het my ‘n bevel gegee en ek kan dit doen. Ek kan sy heilige standaard onderhou.”

Dit is hoe ons “ons hoop op Moses plaas.” Dit is ook die oomblik wanneer ons harte begin siek word: “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek” (Spreuke 13:12). Ons het geen ware hoop wanneer ons ons visier daarop instel om Moses se wette te vervul nie — omdat ons nie die vermoë het om dit te doen nie.

Onder hierdie bepalings, mag ons probeer om Jesus te aanbid, maar dit voel aards. Iets in ons harte voel nie reg nie. Ons ervaar iets kom kort — en dit is: die genade van God wat na ons toe kom in Christus, die lewende verbond. As Moses se stem aankla, “Jy is nie heilig nie,” dan hou ons aan probeer. Maar die gevolge bly dieselfde — en ons beland in wanhoop.

Dit bring die derde beskuldigende stem: ons eie. Paulus sê, “Hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig” (Romeine 2:15). Wie is hierdie persoon van wie Paulus hier praat, die een op wie se hart die wet steeds geskryf staan? Dit is die Christen met een voet op berg Sinai en die ander op die berg Sion. Hy probeer steeds die oorblyfsels van die Ou Verbond uitleef. Hy vertel vir homself, “Ek het die hele week goed gedoen in die Here. Daar is geen rede waarom ek nie nog ‘n week soos hierdie kan hê nie.

Sulke gedagtes “verskoon” hom, volgens Paulus. Met ander woorde, hy is nie meer van God afhanklik terwyl hy streef om die wet te vervul nie. Maar wanneer mislukking kom, sal dieselfde stem wat hom eers “verskoon” het, hom nou beskuldig: “Ja, jy het die wet onderhou, maar nou het jy dit gebreek. Watter soort Christen is jy? ‘n Skynheilige of net ‘n swakkeling wat God nooit kan behaag nie?”

Die Farisieërs het probeer om “regverdige werke” te handhaaf deur wettiesheid. Alles wat hulle gedoen het, was gebaseer op plig en verpligting sonder blydskap. Soos hulle misluk het, het hulle net aangehou om die wet aan te pas en skuiwergate by te voeg. Met verloop van tyd, het om die wet te onderhou nie meer daaroor gegaan om God lief te hê nie, maar om ‘n lewelose, onpersoonlike geskrif te onderhou. Die gevolg was ‘n koue, vreugdelose groep leiers, wat voortdurend hulle eie foute toegesmeer het, terwyl hulle ander veroordeel het. Dit het ook gelei tot ‘n gebroke, wanhopige gemeente van mense, wat nooit die wette wat op hulle gelê is, kon onderhou nie.

Toe Christus die saligsprekinge gelewer het, was dit aan ‘n gebroke, hopelose liggaam van gelowiges. Hy het hulle vertel, “Geseën is julle wat gebroke is, julle wat ween en wat arm van gees is. Nou is julle nou geseënd, nie omdat julle iets gedoen wat dit verdien het nie. Julle is geseënd omdat Ek met julle is.”

Wat ‘n openbaring. Ons is geseënd, net eenvoudig omdat Jesus met ons is. Die Christusfees seën van Immanuel — “God met ons” — neem ‘n heel nuwe betekenis aan in die lig van Jesaja se profesie:

“Ek…gee U as ‘n verbond van die volk…om verwoeste erfenisse te laat beërwe” (Jesaja 49:8). Die seën van Christus se teenwoordigheid sou alle beskuldigende stemme stilmaak.

Hierdie stilmaak het letterlik in die storie van die vrou wat in egbreuk betrap is, gebeur. Die godsdienstige leiers het haar na Jesus gebring en daarop aangedring dat Hy haar ook beskuldig. Maar heimlik het hulle ‘n ander rede gehad om haar voor Hom te bring: Hulle wou Jesus beskuldig.

Het jy al ooit gehoor van Christene wat God van iets beskuldig? Ek hoor dit heeltyd by alle mense in my pastorale berading: “God werk nie in my lewe nie. Ek het alles gedoen wat ek kan, maar Hy het my steeds nie vrygemaak nie.” Dit is presies wat Satan ons wil laat doen: God in ons harte beskuldig. Dit skep ‘n nimmereindigende siklus van slawerny en bindinge.

Kyk na hoe Jesus die egbreekster s’n — en sy eie — beskuldigers antwoord: “Het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi’” (Johannes 8:7). God was nie meer die een wat beskuldig word nie. Jesus het die soeklig geplaas waar dit hoort: op hulle eie sonde. Hulle reaksie was, “Hulle [het]...een vir een weggegaan” (Johannes 8:9).

Let op wat Jesus toe vir die vrou gesê het: “Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie?” (Johannes 8:10). Dit is presies wat Jesus vir ons vandag sê: “Waar is julle beskuldigers? Waar is die stemme van Satan, Moses en jou eie hart wat sê, ‘Jy is sondig, hopeloos, ‘n mislukking’? Hulle is almal weg. Ek is nou jou geregtigheid. En ek het hulle almal vir jou stilgemaak.”

Daardie stemme mag steeds skree en roep in ons ore. Maar wanneer dit gebeur, dan sal ons nog ‘n stem bo hulle almal hoor: “My skape luister na My stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My” (Johannes 10:27). Christus se stem sal met ons spreek, “Ek het jou beskuldigers stilgemaak.” Sy waarheid sny deur al die onrus en geraas met sy vrede, wat alle verstand te bowe gaan.

“En Jesus sê vir haar: 'Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie’” (Johannes 8:11).

Dit is uiters noodsaaklik dat ons op hierdie vaste fondament bou: God beskuldig ons nie! Dit is ‘n fondament gebaseer, nie op die wet of beskuldigings of wanhoop nie, maar op die heerlike, genadige werk van God self. As Hy ‘n beskuldiging teenoor ons hoor, vertel Hy vir Jesus, “Vernietig dit.” Op daardie oomblik, sal ons die stem van die Heilige Gees hoor sê, “Moenie na daardie leuen luister nie. Dit was vernietig op die kruis. God beskuldig jou ook nie. Sy Seun het jou vrygemaak.”

Ons sal sondig — die Bybel maak dit baie duidelik. Maar wanneer dit gebeur, sal die stem wat ons hoor die Heilige Gees s’n wees. Hy bring oortuiging van ons ootredinge — maar dit is ‘n hoopvolle oortuiging, een wat lei tot vreugdevolle bekering en nie tot wanhoop nie. “Ek...gee U as ‘n verbond van die volk, om verwoeste erfenisse te laat beërwe” (Jesaja 49:8).

Jesus is aan ons gegee. En in ons tyd van moedeloosheid, sal ons sy stem bo alle ander hoor: “Ek beskuldig jou ook nie.” Mag God jou voorsien met sy genade om op daardie fondament te bou — en verbly jou in jou Nuwe Verbond Christusfees!

Download PDF