Ongelooflike Geloo | World Challenge

Ongelooflike Geloo

Gary WilkersonDecember 17, 2012

Kry jy die gevoel dat God op die punt is om iets wonderliks in jou lewe te doen? Het Hy tot jou hart gespreek, “Ek het iets spesiaals vir jou voorberei. Jy is op die punt om saam met my te wandel soos nog nooit tevore nie?” Miskien is jou lewe reeds grootliks deur God geseën. Nou sê die Heilige Gees dat Hy sy langverwagte belofte tot vervulling gaan bring — en dat dit jou sal verstom.

As dit jou lewe op hierdie oomblik beskryf, kan ek met die gesag van die Skrif vir jou sê: Maak gereed om jou hart te ondersoek.

Die volgende deel is wat ek noem ‘n “ongelooflike geloof” ervaring. Die soort geloof is om te glo dat die beste nog aan die kom is dit maak nie saak hoe goed dinge alreeds gaan nie. Dit is ‘n geloof wat sê, “Al droom ons om groot dinge vir God se koninkryk te doen, is sy visie altyd groter.” Wat die Here in die kort bestaan van die kerk waarin ek pastoor is, gedoen het, het my wildste verwagtinge oortref. Nie ‘n week het verbygegaan waarin daar nie iemand sy of haar lewe vir Jesus gegee het nie — en die meeste weke is dit baie meer mense. Wanneer ons kos onder die armes versprei, vra baie van hulle, “Waarom doen julle dit?” Ons antwoord dan, “Dit is Jesus,” en hulle gee hulle lewens vir Hom.

Dit alles gebeur op ‘n wonderbaarlike manier. In drie jaar se tyd het ons kerk van 3 pare tot amper 1,500 mense op Sondae gegroei. Nuwe gelowiges word vinnig volwasse, getroue dissipels en hulle groei in kennis van God. Hulle is goed op pad na hulle uiteindelike doel: om radikale, toegewyde sendelinge vir Jesus te word en te gaan waarheen Hy hulle ookal mag lei.

God oortref nie net ons eie verwagtinge nie; Hy wys ons wat Sý verwagtinge is en dit is wonderlik om te sien. Net in ons gebied alleen is daar steeds ‘n kwart miljoen mense wat Christus nie ken nie en verlede jaar het die Here ons gedring om twee nuwe kerke hier te plant, waarvan een in ‘n gevaarlike gebied van die stad is. Ek is eenvoudig verstom oor God se groot dade.

Die ongelooflikste deel van dit alles is: Ek glo daar is groter dinge wat nog gaan kom. Ek is oortuig dat God Homself nog kragtiger sal openbaar — nie net in bekerings, uitreike, hulp aan die armes of ‘n impak in die stad nie, maar in kabad. Dit is die Hebreeuse woord vir “die gewigtigheid van God, sy teenwoordigheid.” Dit klink ongelooflik, nê? Natuurlik. Maar nou kom die moeilike deel.

Dit is op presies hierdie punt dat God sy mense vra om hulle harte te ondersoek.

God is agter elke glorieryke werk en Hy sal nie sy heerlikheid met enigiemand deel nie. Hy sal nie toelaat dat enige hindernis in die pad van die blink glans van sy Seun kom nie. Daarom het Hy rein werktuie nodig om sy werk te doen. Wanneer sy mense dus op die hoogtepunt van hierdie seëninge kom en krag vrylik deur hulle vloei, dan sê Hy vir hulle, “Wag nou eers ‘n bietjie en stop alles. Ek wil hê julle moet eers julle harte ondersoek.”

Dit was die woord wat ek ervaar het dat God wou hê ek moes preek toe ons kerk onlangs sy derde herdenking gevier het. Julle kan julself indink dat ek gehuiwer het. Ek het myself ingedink dat die hele kerk verward na my sal staar terwyl hulle dink, “Wag — jy vertel vir ons dat ons almal wonderlik is, maar dan draai jy om en sê ons moet verander.” Dit sou wees soos ‘n man wat sy vrou uitneem vir ete vir hulle huweliksherdenking en dan sê, “Liefling, ek het gehoop om met jou te praat oor die ekstra gewig wat jy aangesit het.”

Dit is nie presies soos dit is wanneer God ons vra om onsself te ondersoek nie. Per slot van sake, ons is bewus daarvan dat ons eie geregtigheid soos ‘n besoedelde kleed voor Hom is en dat ons sy genade nodig het. Maar in werklikheid, net wanneer ons op die rand van God se grootste werke in ons lewens is, dan vra Hy ons om aan hierdie vrae te dink: “Is daar enigiets in my hart wat die Here nie behaag nie?

Het ek nagelaat om iets te doen wat Hy van my gevra het? Ek wil niks in my lewe toelaat wat sal verhinder dat God kan doen wat Hy wil nie.”

God bring altyd sy mense by hierdie punt uit. Hoekom? Voor God sy beste kan doen, moet Hy iets diep binne-in ons doen. Hy wil ons sy oorwinning gee, maar Hy verlang ook ons totale toewyding aan Hom.

Die eerste ses hoofstukke van Josua beskryf die wonderlike werk wat God onder sy mense oor ‘n tydperk van ‘n paar jaar gedoen het. Israel was bevry na 400 jaar in slawerny. Hulle het pas uit die woestyn gekom nadat hulle 40 jaar daar rondgedwaal het. Na al hierdie dinge het God hulle geseën. Nou was hulle op die grens van Kanaän, die land wat oorgeloop het van melk en heuning en wat Hy jare tevore aan hulle belowe het. Hulle het oor die grens getrek — en wat het gebeur? Dadelik het Josua na die jonger geslag mans gedraai en hulle aan God afgesonder. Die Skrif gebruik die woord “besny” om hulle voorbereiding te beskryf, maar die dieper betekenis daarvan is, “Hulle is gereed gemaak.”

Hoekom het Josua dit gedoen? Nou dat hulle oor die grens gegaan het, het hulle te staan gekom teen die dik, ondeurdringbare mure van Jerigo. Om hierdie vyand aan te vat sou onmoontlik wees vir die ongeorganiseerde Israeliete. Tog het God vir hulle gesê, “Die laaste paar jaar het Ek het julle geseën. Julle het my ongelooflike rykdom ervaar. Maar julle werk is nie klaar nie.”

Hoe het die Israeliete vir hierdie stryd voorberei? Hulle het nie hulle swaarde skerpgemaak of hulle harnasse blink gevryf nie. In plaas daarvan, het die voorbereiding in hulle harte plaasgevind. God het hulle beveel om om die stad te loop terwyl hulle sing, bid en op Hom wag. Laastens het Hy hulle beveel om die trompette op te lig en ‘n enkele blaas te gee. Binne ‘n oomblik het daardie groot mure ineengestort.

Josua en sy manskappe het groot heldedade gedoen deur hulle vyande te verslaan, groter lande te beërwe en groter oorwinnings te behaal as wat hulle ooit tevore gesien het. In werklikheid het Josua iets gedoen wat selfs Moses nie gedoen het nie: Hy het een-en-dertig konings verslaan. Ek glo dit was ‘n beeld van wat die Here in ons lewens wil doen. Hy wil ons bring tot by ‘n tienvoudige vermeerdering, Hy wil sy Gees op ‘n verstommende manier uitstort en Hy wil hê ons moet glo dat Hy dit alles wil doen. Kortliks, Hy wil hê ons moet ‘n ongelooflike geloof hê.

Tydens hierdie groot oorwinning het daar egter iets gebeur waarmee gedeel moes word.

In hoofstuk 7, het die Here vir Israel gewaarsku om nie enige van die buit van die vyande wat hulle verslaan het, te neem nie. Waarom hierdie verbod? God wou hê dat hulle hulle oë op die hemelse dinge moes hou, nie op die dinge wat vergaan nie (materiële goed wat soos die gras vergaan nie).

Maar een man, Agan, het besluit om ‘n paar goed vir homself te neem. “Ek het naamlik een mooi mantel uit Sinear by die buitgoed gesien en twee honderd sikkels silwer en een goudstaaf van vyftig sikkels in gewig, en ek het dit begeer en dit geneem” (Josua 7:21). Dit was regtig nie baie nie — net ‘n mooi jas en ‘n handvol silwer en goud. Dit is egter altyd een klein dingetjie waarop God sy vinger lê. Waarom? Hy weet dat een ding die hele vervulling van ons einddoel kan verhinder.

Is daar iets wat jy nalaat om te doen — een ding wat jou kan terughou van God se beste vir jou? Vir baie van ons, sal dit redelike dinge wees. Dit kan ‘n begeerte wees om vas te hou aan spaargeld, wat die Here eerder wil hê ons moet weggee. Dit kan wees om vas te hou aan ‘n veeleisende loopbaan, wat ons weghou van ons familie. Soos Agan, kan ons aan iets “onbenulligs” vashou sonder om te besef wat dit aan ons harte doen.

Ons God wil magtige dinge deur ons doen. Hy wil deur ons sy liefde aan die wêreld wys. So, as ons aan iets vasklou wat in die pad staan om dit te bereik — ‘n bietjie hardkoppigheid, ‘n bietjie weiering om Hom vir alles te vertrou — sal Hy dit vir ons uitwys.

Soms wil God egter hê dat ons nog iets by ons lewens moet byvoeg voor Hy sy beste bring. Dit mag iets wees wat ons nog nie gedoen het nie. Daarom wil Hy hê ons moet vra, “Was ek te stadig om te reageer op iets wat God my gevra het om te doen?”

Ons vind ‘n voorbeeld in Handelinge, toe die dissipels ‘n nuwe lid in die plek van Judas gekies het. Toe hulle in die Bovertrek was, het hulle lootjies getrek en Matthías gekies. Dit het na ‘n klein dingetjie gelyk; dieselfde manne het gesien hoe Jesus wonderwerke gedoen het, blinde oë oopgemaak het, duiwels uitgedryf het en selfs ‘n man uit die dood laat opstaan het. Hulle het gesien hoe God se koninkryk op hierdie aarde gekom het soos nog nooit tevore in die geskiedenis nie. En toe Christus opgevaar het na die hemel, het Hy aan hulle ‘n ongelooflike woord gegee: “Julle sal selfs groter werke doen wanneer ek my Heilige Gees stuur. Hy sal julle krag gee. Groter dinge moet nog kom!”

Inderdaad, hierdie dissipels sou verder as Israel en die Midde Ooste gaan na Europa, Indië en Afrika en die goeie nuus van Christus aan die nasies verkondig, alles binne hulle eie generasie. Waarom was dit op daardie stadium so belangrik om nog ‘n dissipel by te voeg? Hulle het dit om een eenvoudige rede gedoen: Petrus het ervaar dat dit iets was wat God wou hê hulle moes doen.

“En in dié dae het Petrus te midde van die dissipels opgestaan – die skare van persone daar bymekaar was omtrent honderd-en-twintig – en gesê: Broeders, hierdie Skrif moes vervul word wat die Heilige Gees voorspel het deur die mond van Dawid aangaande Judas...want hy is saam met ons getal gereken en het ook die lot van hierdie bediening gekry...Want daar staan geskrywe in die boek en die Psalms: Laat sy woonplek woes word, en laat daar geen inwoner in wees nie! En: Laat ‘n ander een sy opsieniersamp neem. Van die manne dan wat saam met ons rondgegaan het al die tyd waarin die Here Jesus by ons in- en uitgegaan het... van hulle moet daar een saam met ons getuie word van sy opstanding” (Handelinge 1:15-17,20-22).

Hierin lê daar ‘n groot les vir die kerk van Christus van vandag. Dit is om nooit ‘n saak wat knaend in die hart is, te ignoreer nie, al is dit ook hoe klein. God plaas sy vinger op hierdie sake om ‘n rede: om te openbaar hoe ons harte op Hom reageer.

As ‘n pastoor word ek omgekrap wanneer ek mense in ons gemeente sien wat nie met die probleme in hulle lewens deel nie. Wanneer ek vra hoe dit gaan, dat antwoord hulle, “Eer aan God, Hy seën my.” Maar ek weet dat hulle tiener so pas gearresteer is. Of daar is rusie met ‘n gade. Of hulle is vervreemd van iemand anders in die gemeente.

Ja, God het groter dinge in stoor vir ons, maar ons kan dit nie in besit neem totdat ons eers met die kwessies van ons harte gedeel het nie. Jou probleem mag ‘n klein dingetjie wees, maar in God se oë is dit die belangrikste ding op hierdie oomblik. Sonder om dit te addresseer, kan ons vergeet om in die toekoms in sy beste te wandel. God wil altyd alles in orde hê voor hy die deur oopmaak vir die volgende verstommende stadium van sy werk. En wat die dissipels sien gebeur het in dieselfde uur, was verstommend: Drieduisend mense het tot bekering gekom.

Waarop plaas die Here sy vinger in jou lewe? Is dit om een of ander klein dingetjie weg te neem? Of is dit iets wat jy nog moet doen wat jy nagelaat het? Moenie uitstel in jou reaksie op die Gees se getroue stem nie.  Om met daardie een klein dingetjie te deel, kan jou hele toekoms bepaal. Sal jy die ondersoek doen? As jy dit gedoen het, kan jy weet dat God se beste voor die deur is — en jy het die Een behaag wat jou wil seën.

Download PDF