Ontwaak en Skud | World Challenge

Ontwaak en Skud

David WilkersonSeptember 1, 1984

“Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad! Want in jou sal verder geen onbesnedene of onreine meer kom nie. Skud jou los uit die stof, staan op, sit neer, o Jerusalem! Maak los die bande aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion! Want so sê die HERE: Vir niks is julle verkoop, julle sal ook sonder geld gelos word” (Jesaja 51:1-3).

Hier geopenbaar, is Jesaja se hartseer en jammerlike visioen oor wat van die kerk geword het. (Hou in gedagte dat Sion meer is as antieke Israel; dit is ook die verlostes van die Here in hierdie middernaguur.) Luister na hierdie verskriklike beskrywing van die toestand van God se volk:

Die dogter van Sion, eens ‘n rein en beeldskone vrou wat geboorte gegee het aan baie seuns, het soos ‘n slaaf gelê in die stof, misbruik deur die onbesnedenes en onreines.

Haar klere was geskeur en vuil, en sy het wanhopig gekerm en geklou aan die ketting om haar nek wat haar versmoor het.

Sy het vir 3 dinge gepleit: (1) om gou vrygemaak te word; (2) om nie in slawerny te sterf nie; en (3) om nie van haar geestelike voedsel afgesny te word nie (Jesaja 51:18).

Haar vyande het daar gestaan en God geterg en gelaster – haar gespot dat haar God geen krag gehad het om haar uit slawerny te verlos nie.

Twee verskriklike dinge het met haar gebeur: eerstens, niemand was jammer vir haar nie; tweedens, niemand kon haar vertroos nie. Haar eie seuns het “beswyk en gelê...soos ‘n wilde bul in ‘n net.” Volgens Jesaja, was sy heeltemal alleen, met geen hulp in sig nie: “Nie een van al die seuns wat sy gebaar het, het haar gelei nie; en nie een van al die seuns wat sy grootgemaak het, het haar aan die hand gegryp nie” (Jesaja 51:18).

In haar hand was ‘n beker van siddering! Daar het sy in haar skande gelê, in die stof vertrap deur die vyand, wat oor haar geloop het net soos hy wou. Die een wat die gereedskap van die Here gedra het, was nou besmet en onrein.

In haar jammerlike slawerny, haar onversadigde honger, haar hulpelose toestand, het sy in ‘n bewusteloosheid verval. Haar sensitiwiteit was weg. Lusteloosheid het haar siel vasgegryp. Haar verstand was so verward dat sy net in die stof kon lê, verstom en weerloos. Tensy iets gou sou gebeur, sou sy sekerlik in ‘n koma verval en sterf soos ‘n dier in kettings.

Die tragedie van dit alles is dat hierdie arme, verslaafde dogter van Sion haarself in slawerny verkoop het vir niks! Geen sataniese slawehandelaar het haar gevang en haar teen haar wil weggesleep nie. Sy was oorval deur een of ander groot onsigbare krag. Sy het haarself in slawerny verkoop – vir niks! Luister na die sombere woorde van Jesaja: “Vir niks is julle verkoop” (Jesaja 52:3).

Kom laat ons nou by die belangrike deel uitkom. Van wie praat Jesaja werklik? Wie is hierdie slawedogter wat vasgeketting is soos ‘n dier en so minagtend behandel word?

Die dogter van Sion in ballingskap is almal wat hulleself ag as verlostes, maar in sonde lewe.

Hierdie beklaenswaardige skepsel is die gelowige wat vasgeketting is aan ‘n geheime sonde. Dit is die een wat skande oor God se huis bring deur ‘n dubbele lewe te leef. Dit is die owerspeler wat ‘n ruspose van sy sonde neem om die altaar met trane te bedek. Dit is die man of vrou wat so baie siele vir Christus gewen het, maar wie se geestelike lewe getap word deur begeerte. Dit is almal wat vasgeketting is aan ‘n sonde wat nie laat staan is nie, met hulle gesigte in die stof van wanhoop, neergeboë met skande, oor wie die vyand loop en hulle sover kry om hulle luste te bevredig net soos hy wil.

Daar kan geen ware verlossing van die boeie van sonde wees totdat ons onsself as daardie dogter van Sion sien nie – in die stof, vasgeketting, vertrap, stadig aan die wegsink in ‘n geestelike bewusteloosheid. Ons moet na hierdie visioen van Jesaja kyk en uitroep, “O God, dit is ‘n beeld van my! Ek is geboei! Die duiwel het my vertrap. Ek is onrein – my rein kleed is bemors en geskeur en niemand kan my wys hoe om los te kom nie!”

Deur die profeet Jesaja, sê God vir ons presies hoe ons kan loskom – waarom ons nie verlossing van ons boesemsondes kry nie: “Jy het jou siel vir niks verkoop!” Broer, suster, is dit nie tyd om eerlik te kyk na daardie een heersende passie nie, daardie een sonde waaraan ons steeds verslaaf is, daardie een sonde wat aanhou terugkom, keer op keer?

Die meeste Christene, bedienaars ingesluit, kan magtig en groot in God word, behalwe vir EEN oorblywende sonde. ‘n Tragiese voorbeeld is David Berg, stigter van die Kinders van God. Hy het begin as ons Teen Challenge genoot in Huntington Beach, Kalifornië. Hy was ‘n magtige leraar en prediker. Hy het charisma en ‘n goeie kennis van God se Woord gehad. Eers was hy toegewyd: hy het oor verlore siele geween; hy het die evangelie getrou verkondig. Maar David Berg (wat later sy naam na Moses Berg verander het) het uiteindelik verval in bloedskande met sy sewejarige dogter. Dit het hom gedryf om sy vrou van baie jare te verlaat en saam met ‘n lang string jong vroue te gaan woon. Hy het duiwelsbesete geword. Sy leierdemoon, Abrahim, het hom gelei om te begin wat hy genoem het “flankeer-evangelisasie” – nog ‘n naam vir prostitusie. Hy het op die ou end meer as 6,000 onskuldige meisies in prostitusie ingelei. Vandag maak en versprei hy verskriklike pornografiese kasette. Hy het bely dat hy dag en nag geteister word deur demone van wellus. Nou, totaal duiwelsbesete, is hy nooit tevrede nie. Hy het owerspel, homoseksualiteit, sadomasochisme en bloedskande probeer. Sy drang is onversadigbaar.

Mag hierdie hartverskeurende storie dien as ‘n somber waarskuwing aan almal van ons! Ons moet eerlik en God-vresend kyk na ons sonde en die waarheid erken: “Ek kry niks hieruit nie! Hierdie slawerny, hierdie voortdurende oogee aan my luste, is nie vir my voordelig nie. In alle opsigte is dit net sleg!”

Hoe mislei word ons deur ons sonde. Watter goed doen dit aan ons? Watter moontlike voordeel is daar? ‘n Paar oomblikke van plesier? Maar teen watter prys? Slapelose nagte; ondraaglike skuld; ‘n vernietigende fisieke tol op ons liggame; die vrees en verskrikking van ‘n liefdevolle Here bedroef; die ysingswekkende besef dat ons verslaaf geraak het, onsensitief wees, en op die ou end bewusteloosheid – nie in staat om los te kom nie!

Vergelyk die plesiere wat jou sonde jou gee met al die pyn wat dit jou kos. Op die ou end sit jy met niks aan die positiewe kant nie. Totdat hierdie waarheid jou siel aanraak, sal jy nooit verlossing vind nie. Die profeet Jesaja het namens God self gepraat: “Julle verduur hierdie slawerny vir absoluut niks nie. Dit is alles verniet. Julle verkoop julleself vir minder as goedkoop – vir niks!”

Jy is op die pad na oorwinning as jy kan ontwaak tot die waarheid dat jou sonde nie die moeite werd is nie. Die pad van sonde is ‘n sinnelose, nuttelose doodloopstraat. Moenie Satan blameer vir jou penarie nie. Hy kan nie verkoop wat hy nie besit nie, en daarom is hy nie die een wat ons verkoop vir niks nie. Ons doen dit self.

Wanneer die Bybel praat van “vir niks is julle verkoop,” impliseer dit die verlies van alles. Dit stel voor dat as ons voortgaan om onsself oor te gee aan ons luste, sal dit ons op die ou end alles kos wat ons het. Die dogter van Sion het alles verloor: haar reputasie, haar reinheid, haar familie, haar hoop, haar toekoms, haar gemeenskap met God. Wat ‘n waarheid om te erken en mee af te reken – “My sonde voeg vir my niks waarde by nie. Ek word verkoop vir niks. En, boonop, as ek voortgaan in my sonde, sal dit alles vat wat ek het. Dit voeg niks by nie – maar vat alles!”

Die Hebreeuse woord vir niks is chinnam, wat beteken: “Gestroop van alle rede of saak” of “te kniel of laag te buig voor ‘n mindere om hom te bevoordeel; om gunstig met ‘n mindere te handel.”

‘n Tydjie gelede, het ‘n bedienaarsvriend vertroulik vir my gesê, “My huwelik is ‘n tronk. My vrou verstaan my nie; ons het geen kommunikasie nie. Ek moet uit hierdie verhouding uitkom as ek ooit geluk wil vind! Ek het ‘n pragtige jong vrou onmoet wat geestelik en goedhartig is en my verstaan.” Hierdie man het sy vrou geskei, sy twee pragtige dogters verlaat en die jonger vrou getrou. Die besluit het hom sy bediening gekos. Nie lank daarna nie, het hierdie nuwe huwelik verander in algehele bitterheid en hulle het uitmekaargegaan. Hy is nou heeltemal alleen en verkoop versekering. Hy treur oor die herinnering aan sy lieflike familie en sy eens florerende bediening. Hy het vir niks verkoop... en was agtergelaat met niks.

Hou asseblief in gedagte dat die besoedelde dogter van Sion, wat geboei en gebroke in die stof lê, nie Isébel of ‘n kind van die duiwel is nie. Liewer, sy is die een wat “julleself noem met die naam van Israel en...wat sweer by die Naam van die HERE en die God van Israel roem, maar nie in waarheid of in geregtigheid nie — want hulle noem hul na die heilige stad en steun op die God van Israel, HERE van die leërskare is sy Naam..” (Jesaja 48:1-2).

Dink daaraan! Sou God ons in so ‘n lig sien wanneer ons volhard in ons sondige hardkoppigheid? “Ja, jy is (steeds) My kind. Ek sal jou altyd liefhê, maar jy tree bedrieglik teenoor My op! Jy het jou oë en ore toegesluit en jou nek styf gemaak. Jy het daardie slawedogter geword en lê vasgeketting in die stof....”

Het jy Sy woorde hoor weerklink in jou ore: “Reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE!” (Jesaja 52:11)? Sien jy waarop dit neergekom het – hoe laag, hoe onrein, hoe verhard, verblind, verwilderd en naby jy is om te val in ‘n dronk bewusteloosheid?

Daar is ‘n weg uit sonde uit – en ‘n weg na algehele verlossing

Voor ons gereed is vir verlossing, moet twee dinge gebeur: Ons moet erken dat ons onrein, geboeide slawe is; en ons moet die uiterste nutteloosheid van ons sonde erken. Dan is ons gereed om verlos te word. Jesaja 52 gaan eintlik oor die verlossing uit hierdie jammerlike, gevange dogter van Sion. Dit is ‘n beeld van verlossing uit die mag van sonde. In hierdie hoofstuk het ons God se antwoord op al ons bindinge, al ons boesemsondes, al ons verslawings.

Ons begin met die volgende:

I. God het selfs sy mees ongehoorsame kinders lief – en Hy is daarop ingestel om hulle nie te veroordeel nie, maar hulle te verlos.

Luister na die liefdevolle woorde van ons Vader as Hy kom om Sy gevange dogter van Sion te verlos: “Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan” (Jesaja 52:1). Daar is geen bestraffing hier nie, geen veroordeling nie, geen terugtrek van Sy liefde en genade nie. God verlaat nooit Sy bedroefde, verslaafde kind nie. Wanneer die verdrukte dogter van Sion uitroep, “Die Here het my verlaat,” antwoord God:

“Kan ’n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My” (Jesaja 49:14-16).

Hoe alleen kan ons voel in ons persoonlike stryd om onsself te vry te maak van alle boesemsondes. Hoe dikwels dink ons nie God het ons met woede uitgesluit en ons oorgelaat om die vyand op ons eie te bestry nie. Ons dink Hy is uit op toorn en oordeel. Maar in teenstelling, het ons God se woord! Ons word ‘n diepgaande en heerlike belofte gegee: “Sal Ék jou nie vergeet nie! Kyk...jou mure is gedurig voor My...”

Die woord hier vir mure is chowmah, wat letterlik beteken “vasgeheg aan ‘n muur.” Verstaan jy wat dit beteken? God sê vir ons Hy is vasgeheg aan ons in ons gevangenskap. Die mure wat ons wil vaskeer, is ook Sy mure. Hy voel wat ons voel. In Nuwe Testament taal, het Hy “medelye met ons swakhede.”

Deur die hele Woord sien ons God Homself verbind aan die stryd van Sy gehoorsame dienaars. Dit is een van die mees vertroostende en bemoedigende voorbeelde wat ons van Sy sorg kan hê.

Beskou Jakob – ‘n baie ongehoorsame kind van God. Hy was ‘n gesalfde dienaar wie se sondes hom en sy familie die onderspit laat delf het. Dit was by Bet-el waar God bonatuurlik aan hom verskyn het. Dit was hier waar hy ‘n leer gesien het tot in die hemele en engele wat op en af klim. Hy het die Here gesien en hoorbaar gehoor: “En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het” (Génesis 28:15).

God het Homself verbind aan Jakob, Sy seun in slawerny, en Hy het belowe dat Hy nooit daarvan weerhou sou word om Sy woord aan hom na te kom nie. “Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as ’n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel” (Génesis 28:16,17).

Twintig lang jare het verbygegaan na hierdie wonderlike belewenis – jare van beproewing en smart. Maar God was altyd aan Jakob verbind. Nadat hy Bet-el verlaat het, het Jakob apaties geword en die heerlikheid van sy nag met die Here vergeet. Hy het koud, afvallig, en wellustig geword. Weer het God aan hom verskyn en met hom gepraat: “Ek is die God van Bet-el waar jy die gedenksteen gesalf het, waar jy aan My ’n gelofte gedoen het. Maak jou dan nou klaar, trek weg uit hierdie land en gaan terug na jou geboorteland” (Génesis 31:13). Dit was God wat in wese gesê het, “Onthou hoe Ek jou aangeraak het. Onthou al jou beloftes aan My. Gaan terug na die altaar – terug na Bet-el.”

In plaas daarvan, het Jakob in Sigem gaan woon (Génesis 33). In Hebreeus, beteken Sigem twee dinge: “teruggaan” en “’n plek van laste.” By Sigem het hy in allerhande moeilikheid beland. Sy huis was onteer: een van sy dogters was verkrag en sy seuns het moord gepleeg. Watter verskriklike laste! Maar weereens het hy sy probleme toegeskryf aan buite God se wil wees – om op die verkeerde plek te wees weens ongehoorsaamheid.

Was ons daar, hoe sou ons Jakob geroskam het! “Meneer, jy is in hierdie gemors weens die ongehoorsaamheid van jou hart. Jy was aan God ongehoorsaam! Kyk na die skande en skuld wat jy oor jouself en jou familie gebring het!” Hoe anders het ons geduldige God Jakob hanteer. Nie een woord was met hom gepraat oor Sigem of dat hy buite God se wil was nie. Nie ‘n woord oor al die besoedeling, moord, en onreinheid nie. Geen bestraffing nie. Geen beskuldigings nie. Geen veroordeling nie.

In plaas daarvan, het God vir Jakob ‘n positiewe weg gewys na verlossing en vryheid. “Maak jou klaar, trek op na Bet-el” (Génesis 35:1). Hy het die volste reg gehad om hom te bestraf: “Waarom het jy My instruksies geïgnoreer? Waarom is jy so ongehoorsaam, so swak? Waarom weier jy om te luister en te gehoorsaam?” Maar Hy het nie. Hy het bloot gesê, “Jy weet om te doen. Gaan terug na die altaar – terug na jou eertse liefde.”

Hierdie keer het Jakob gereageer. Hy het ontslae geraak van al sy afgode, sy familie bymekaar gemaak en teruggegaan Bet-el toe. Daar was hy herstel en God was aan hom verbind totdat die oorwinning behaal is. Ons, is ook geroep om al on afgode af te lê, nuwe klere aan te trek, en terug te keer na die altaar van bekering.

Jakob is nie die enigste voorbeeld van God se blywende getrouheid aan Sy kinders nie. Beskou Petrus se herstel ná sy verskriklike sonde. Wat kon erger wees as om ons Here te verloën? Arme, struikelende, vallende, lafhartige Petrus – buite in die vissersboot, waar hy probeer om sy gekwelde gewete te sus. Op die strand was die Een wat hy verloën het. Jesus het hom nie veroordeel nie. Hy het ‘n vuur gemaak, bietjie vis gaargemaak en Petrus geroep, “Kom eet.” Sonder aarseling, het Petrus uit die boot gespring om na Hom te gaan. Hy het nie gedink om vir die ander by hom te sê nie, “Ek is te skaam oor wat ek gedoen het. Ek verdien nie Sy liefde so gou nie. Laat iemand anders gaan.” Die hart van Jesus het nie teenoor Petrus verander nie. Hy wou hom eers voed, om sy persoonlike honger te stil. Hoe aandoenlik. Dit was nie, “Kom en word veroordeel” nie; liewer “Kom en eet – hou maaltyd met My.”

Jesus roep ons, “Kom eet”

Dierbare Christen, het jy al ooit die Here gefaal? Het jy, ten spyte van die genade van God? Leef jy soos ‘n slaaf in die stof? Is jy bang vir God se toorn? Bekommer jy jou omdat jy dink God wil wraak hê? Kyk dan na die Saligmaker se voorbeeld hier: “Kom eet.”

Nadat die Here Petrus gevoed het, het Hy hom liefdevol die wortel van sy probleem gewys. Dit was asof Jesus vir Petrus gesê het, “Petrus, Ek verbly My in gemeenskap met jou. Ek het jou reeds vergewe. Ek het geen beskuldiging teen jou nie. Maar Ek is bekommerd oor jou. Ek wil jou verlossing volkome maak. Laat My vir jou wys wat die wortel van jou sonde is.” “Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus...het jy My waarlik lief, meer as hulle hier?” (Johannes 21:15).

Dit was die byl wat teen die wortel gelê is. Petrus se ware probleem was die heeltyd hoogmoed. Voor hy geval het, het Petrus aan homself gedink as iemand wat besonders heilig, vroom, sterk in wysheid en vol karakter was. Onthou sy roem: “Al sal ander faal – ek sal nooit nie!” Hy het regtig geglo hy het die Here meer liefgehad as al die ander dissipels. Hy het homself ‘n bietjie nugterder, opregter, yweriger en meer begaan oor God se koninkryk beskou as al die ander.

Dit is in sulke omstandighede waarin God sonde toelaat om Sy heilige doel te dien. Hy sal ‘n Christen se trots ernstig toets deur oorweldigende versoekings. Menslike trots gee ons ‘n vals vrymoedigheid tydens toetse. “Dit kan my nie skade doen nie,” sê ons. “Ek is verhewe bo sulke dinge. Geen probleem nie.” Wanneer ons vertroue in onsself is eerder as in ons Here, is ons val onvermydelik. Petrus het geval – diep en hard! Erger as al die ander.

Glo dit of nie, Petrus was nader aan oorwinning op daardie oomblik waarop hy misluk het, waar hy op die Judese heuwel geloop en geween het, terwyl hy met spyt en nederigheid vir homself gesê het, “O, ja, ek is die groot Petrus – die rots. Ek was daardie heilige man van God wat gedink het hy kon niks verkeerd doen nie! Reiner, heiliger as al my tydgenote. Kyk nou na my – ek het ‘n sonde gepleeg, swarter en leliker as die sondes van al die prostitute wat ek vir Christus gewen het!”

God het by die wortel uitgekom! Petrus kon ophou om op homself te vertrou en voortgaan met die sake van God se skape laat wei. In hierdie tyd van toetsing, het Christus Homself aan Petrus verbind en saam met hom agter sy mure gestaan en het hom met pure liefde en genade teruggewen.

Watter boodskap wil die Here oordra aan Sy gevange dogter van Sion? Wraak? Toorn? Oordeel? Nee! Hy sal nie droefheid byvoeg by daardie gebroke, huilende, lydende vrou wat in die stof lê nie. Liewer, Hy kies om haar met hierdie woorde te vertroos:

“Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!” (Jesaja 52:7).

Daar, kinders van God, is ons boodskap aan al die seergemaakte, gebroke, gevange kinders van die Here. “Hoor! Jou wagte! Hulle verhef die stem, hulle jubel almal saam; want hulle sien vlak voor hulle oë hoe die HERE terugkeer na Sion. Breek uit, jubel almal saam, puinhope van Jerusalem! Want die HERE het sy volk getroos, Jerusalem verlos” (Jesaja 52:8,9).

Arme, gevange dogter – ontwaak! Jy word steeds liefgehê. Jy het jouself verkoop vir niks; jy sal verlos word teen geen koste vir jouself nie – gratis – deur genade alleen. Watter goeie nuus! Jou boeie sal afval. Jy sal weer sing en jubel van blydskap. Jy sal ‘n nuwe kleed gegee word. Jy sal herstel word. God bring jou terug as ‘n bruid vir Sy Seun.

II. Die gevange dogter van Sion sal nooit verlos word nie, tensy sy self heerskappy neem in die Naam van die Here.

Die verslaafde dogter van Sion moet haarself regskud, opstaan uit die gemors, die boeie afgooi en haar regmatige plek inneem en gaan sit saam met Christus in die hemele. “Skud jou los uit die stof, staan op, sit neer, o Jerusalem! Maak los die bande aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion!” (Jesaja 52:2).

Ontwaak, skud, en beklee jou met Sy sterkte. Sterkte hier in Hebreeus is “skuld,” wat beteken, “self vrymoedigheid,” met ‘n vermetelheid wat dui op ‘n leeu wat opstaan om te brul, sy maanhare skud en opstaan om krag te openbaar.

Hierdie sondige, verslaafde dogter word grootliks liefgehê deur haar Here. Maar sy sal sterf soos ‘n slaaf tensy sy self iets doen aan haar toestand. Alle aanduidings wys dat die boeie nie gesluit is nie. Daar is geen onsigbare krag wat haar vashou nie. Sy is vry om te enige tyd weg te loop van haar slawerny, ‘n pragtig kleed van heiligheid aan te trek en terug te keer na haar regmatige plek by Christus op die troon. God pleit by Sy verslaafde kinders, “Ontwaak tot julle verantwoordelikheid! Skud af al daardie vals idee’s dat jy nie kan wegloop van jou sonde af nie!”

God vra nooit vir ons om die ontmoontlike te doen nie. Sou Hy vir ons sê om boeie af te haal wat gesluit of onbreekbaar en onmoontlik was om van te los te kom? Sou Hy vir ons sê om op te staan en uit die gemors te klim as ons geen krag of sterkte gehad het om dit te doen nie? God sê ons is vry – sonde het geen heerskappy oor ons nie! As ons in die slawerny van ‘n boesemsonde bly, is dit bloot omdat ons weier om op te staan en weg te loop.

Moenie sê, “Ek is hulpeloos. Ek het geen krag of wil om dit te weerstaan nie.” Dit is eenvoudig nie waar nie. Jy het al God se krag en al die magte van die hemel tot jou beskikking. Die geopenbaarde arm van die Here is binne-in jou. Hier is die waarheid – en jy moet dit in die oë kyk:

“Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien” (2 Petrus 1:3).

“En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Efésiërs 3:20).

Staan op, loop weg van sonde af – en in blydskap in

Die verlostes van die Here moet terugkeer en alle afgode laat staan voor daar enige gejuig kan word. “So sal dan die losgekooptes van die HERE teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees” (Jesaja 51:11).

God het gesê, “Jy het op jou eie stoom na Egipte gegaan. Jy het jouself vir niks verkoop. Skud nou jouself wakker, staan op en keer terug: “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit” (Jesaja 52:11). Dit is die sleutel tot oorwinning – en dit kan nie vermy word nie! Ek is verantwoordelik deur die krag van God binne-in my, om weg te loop van my sonde af. Geen verskonings nie. Geen uitstel nie. Ek moet vertrek! Ek moet terugkeer!

Dit is die punt van dood – die dood van die Kruis. Christus het voor my uitgegaan; Hy het die mag van sonde gebreek. Ek kan myself nie dood, opgestaan, en opgevaar ag totdat ek oorgegaan het na gehoorsaamheid nie. Die deurbraak na die heerlikheid, na die jubelende gesange, na genesing en herstel, kom slegs nadat ek ‘n finale besluit gemaak het om al my afgode te laat staan en agter Christus aan te gaan. “Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien” (1 Thessalonicense 1:9).

Wag jy vir iemand om jou wakker te maak – om jou wakker te skud en jou wonderbaarlik uit dit stof te trek? God het Israel nie uit Egipte geneem op engelevlerke nie. Hy het hulle vyande verswak – al Farao se krag en gesag weggeneem – en toe vir hulle gesê om op te staan en uit te loop! Dit was nie soseer God wat hulle sterk gemaak het nie, as wat dit God was wat hulle vyande swak gemaak het. By die Kruis, het Christus Satan gestroop van sy mag oor gelowiges. Sy hakskeen het die kop van die slang vermorsel. Ons was vrygemaak – dit is ons verantwoordelikheid om daardie vryheid toe te eien en weg te loop!

Die dogter van Sion behoort in die hemele, om te sit saam met Christus in ‘n kleed van heiligheid. Wat is die grootste hindernis vir haar vryheid? Dit is nie die duiwel nie. Dit is nie die boeie wat haar gevange nou nie. Dit is iets amper ongelooflik. Sy word in haar slawerny vasgehou omdat sy gewag het vir iemand anders om haar op te tel – haar af te stof – die boeie te verwyder – en haar te klee.

Dit is waarom so baie Christene nooit verlos sal word van hulle boeie nie. Hulle wag vir iemand anders om hande op hulle te lê en hulle swakheid uit te werp. Hulle wil hê God moet bonatuurlik hulle uit hulle slawerny uithaal, met geen poging van hulleself af nie. Jy kan bid soveel jy wil, “Here, maak my los! Breek my boeie! Kry my uit hierdie verskriklike afgrond.” Maar niks sal verander nie totdat jy ontwaak, en jou self opwek, opstaan en wegloop van jou sonde!

Jou boeie het geen demoon wat dit vashou nie. Die Here staan gereed, hou ‘n pragtige kleed van reinheid na jou uit. Al wat Hy van jou vra, is dit: “Staan op! Skud jouself wakker! Loop weg, vrylik – dit is binne jou geestelike vermoë. Kom en neem jou plek in langs My in die hemele. Kom terug en word genees. Kom en juig, sing, wees versoen.”

III. Die deurbraak vir volle verlossing kom die oomblik waarop ons ontwaak tot wie ons in Christus is!

God sê vir ons, “Ontwaak – tot jou sterkte.” Kyk weer ‘n keer na die gevange dogter. Hoe sal sy vrygemaak word? Bloot deur ‘n openbaring van wie sy is. Niks anders nie. Sy sal vry wees die oomblik wat sy die gawes wat in haar is, opwek. Sy lê daar, bloeiend, in lyding, in boeie – toe daar ‘n stem uit die hemel kom: “Ontwaak kind. Jy is sterk in die Here. Jy kan wegloop!” Moenie vir my sê jy is net ‘n swak klein lammetjie nie. Jy is ‘n lam met ‘n leeu se natuur, ‘n leeu se brul, ‘n leeu se krag en sterkte. Geen wonder Satan vlug nie. Dink aan ‘n legioen demone wat een van daardie krag-toegeruste lammers nader. “Pasop! Een van hulle kan ‘n duisend van ons laat vlug. Tien van hulle kan tienduisend van ons wegjaag.”

Wek die gawe van die Heilige Gees op! Jy was krag gegee oor al die mag van die vyand. Dit is die tragedie van daardie Christene wat voortgaan om as slagoffers van sonde te lewe: Hulle is blind vir die krag en sterkte in hulle. Satan sou hulle hulleself soos Simson laat sien – gestroop en geskeer van alle mag en sterkte weens kompromie. Dit is Ou Testament teologie. Dit is die leuen wat so baie Christene in slawerny hou. Hulle sien hulle begeertes wat hulle lei asof hulle blinde, hulpelose dienaars is.

Dis nie so nie! Jy mag dalk nou reg in die kloue van ‘n boesemsonde wees, maar as jy jou bekeer en Hom ten volle vertrou, is jy steeds magtig in Heilige Gees krag en sterkte. O, dat die kerk van Jesus Christus sou hoor en verstaan wat God deur Jesaja sê:

*“Ontwaak! Gebruik die krag wat jy het!

*“Staan op uit die stof! Jy is verlos!

*“Geen onbesnede of onrein mense sal my heilige dinge aanraak nie!”

*“Skud jouself los van jou swakheid en lusteloosheid!

*“Onthou wie Ek is – onthou wie jy is!”

Staan op, en gaan sit deur geloof in die oorwinning van die hemele!

Jy hoef nie nog een uur geboei te wees nie! Jy is vrygemaak – Neem jou vryheid op!

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE