Opstandingslewe | World Challenge

Opstandingslewe

Gary Wilkerson
November 20, 2017

“En die dag daarna was Hy op weg na ‘n stad met die naam van Naïn; en baie van sy dissipels en ‘n groot menigte het saam met Hom gegaan” (Luase 7:11). Toe Jesus by die stad Naïn aangekom het, was daar ‘n groot gevolg agter Hom. Hy het in die heuwels en weivelde gepreek, die siekes gesond gemaak, honger skares gevoed en die koms van God se koninkryk verkondig. Baie van die mense wat Hy gesond gemaak en gevoed het, het by sy groeiende getal dissipels aangesluit. Probeer hierdie dansende, vreugdevolle skare voor jou geestesoog sien terwyl hulle die stad nader: Hulle moes gelyk het soos ‘n massiewe karavaan van blydskap.

Net toe hierdie jubelende, opgewonde skare naby Naïn se stadspoorte gekom het, het ‘n begrafnisstoet op pad uit hulle tegemoetgegaan. “En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net ‘n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was ‘n weduwee; en ‘n groot menigte van die stad was by haar” (Lukas 7:12).

Wat ‘n kontras. Aan die een kant was ‘n skare vol vreugdevolle eenheid en feesviering. Hulle het wonderbaarlike genesings gesien en kos het bonatuurlik vermeerder. Aan die ander kant was roubeklaers met net die teenoorgestelde voorkoms, mense neergeslaan deur die pyne en leed van die lewe. Hierdie groep was baie bewus van tragedie terwyl hulle ‘n kis gedra het waarin ‘n jong seun se lyk was.

Christene ken beide hierdie realiteite. Aan die een kant, ken ons die diepste, egste blydskap in die lewe deur ‘n verhouding met Jesus. Terselfdertyd, is ons ten volle bewus van lewe in ‘n wêreld wat vreeslik stukkend, gebroke en desperaat is. Ons sien huwelike opbreek, geliefdes wat met kanker getref word, kinders wat ongeërg is oor die wonderlike gawe van God se liefde. As ons nie self een of ander verskriklike swaarkry beleef nie, ken ons waarskynlik iemand wat dit wel beleef.

Dit is ook waar op ‘n nasionale vlak. Ten spyte van Amerika se ongeëwenaarde voorspoed, lewe miljoene burgers in verskriklike armoede, insluitend ‘n groeiende aantal kinders. Soos ‘n begrafnisstoet, maak die armes elke oggend hulle oë oop en wonder, “Hoe gaan ek my kinders kosgee? Waarom is dit my realiteit?”

Sien in jou geestesoog die kontras tussen die twee groepe in Naïn toe hulle mekaar buite die stadspoorte tegemoetgegaan het. Jesus se volgelinge het gedans en sy lof besing, “God is met ons!” Die begrafnisroubeklaers moes hieroor ontsteld gewees en geprotesteer het, “Julle is so minagtend! Gee pad voor ons.” Skielik het die feesvierders stil geword en gesê, “Ons is jammer, ons het nie geweet daar is ‘n begrafnis nie.”

So, wat het Jesus gedoen toe Hy die stoet van roubeklaers gesien het? “En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie!” (Lukas 7:13). Christus het gesê, “Wag ‘n bietjie. Daar is ‘n behoefte onder ons.”

As ‘n herder, glo ek die kerklewe behoort vol gedans en blydskap, lag en, ja, pret te wees. Ons moet hierdie wonderlike lewe wat ons in Christus gegee is, vier. Dit mag vir jou ligsinnig klink, maar volgens die Psalmis, is dit die mees natuurlike reaksie, en hy skryf, “Die Here is my sterkte en my skild; op Hom het my hart vertrou, en ek is gehelp; daarom jubel my hart en sal ek Hom loof met my gesang” (Psalm 28:7).

Selfs terwyl ons hierdie groot blydskap dra en dit uiterlik uitdruk, moet ons onthou van die swaar stoet van talle rondom ons, wat laste van siekte, verlies, lyding en droefheid dra. Te midde van ons feesviering, moet ons soos Jesus sê, “Wag ‘n bietjie, iemand ly. Laat ons ons fokus rig op die een in nood wat by die poort uitkom.”

Ek is seker die bedroefde weduwee het gedink haar wêreld het tot ‘n einde gekom. Haar seun was haar enigste oorblywende familie, en sy het waarskynlik gevoel sy het geen rede gehad om aan te gaan nie. Hoe het Jesus hierdie bedroefde vrou se behoefte aangespreek? “Moenie ween nie! En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil” (Lukas 7:13-14).

Let op wat gebeur toe Jesus opgetree het: Almal het in hulle voetspore gaan staan. Al wat Christus gedoen het, was om vir hierdie vrou te sê om nie te huil nie, en Hy het die kis aangeraak. Selfs met hierdie kort, eenvoudige daad, was daar egter ‘n duidelike gesag.

Wanneer enigeen van ons geroep word in ‘n situasie van wanhoop, moet ons optree met God se gesag.

Die Bybel roep almal van ons om uit te reik na die behoeftiges met die aanraking van God se liefde. Dit vra vir vertroue. Ek bedoel nie selfvertroue, die soort innerlike gevoel wat ons laat beter voel oor onsself nie. Ek bedoel ‘n vrymoedigheid wat verklaar, “Niks is vir God onmoontlik nie.” Dit is ‘n vrymoedigheid gegrond in die waarheid dat dieselfde Gees wat Christus uit die dood opgewek het, ook in ons woon. En wanneer God ons in ‘n droewige situasie instuur, kan sy teenwoordigheid dinge verander.

Vriend, as jy van ‘n goeie begrafnis hou, moenie Jesus uitnooi nie. Hy het nooit by ‘n begrafnis in die Skrif uitgekom sonder om die dooies lewend te maak nie. Wat sê dit vir ons? Dit sê dat dit vir Jesus nie net oor medelye gegaan het nie. Ja, die Bybel sê Hy het trane gestort vir die treuriges. Maar Hy het ook krag en gesag gebring om te verander wat dood en sonder hoop was, en dit weer lewend gemaak.

Dit is presies wat ons roeping is as bedienaars van sy Goeie Nuus. Jesus self het gesê ons sal groter werke doen as Hy. En so, wanneer ons sy lewe en bediening bestudeer, doen ons dit nie net om Bybelse kennis in te win nie. Ons doen dit om te leer hoe om in dieselfde Gees van Christus op te tree – om te lewe, te dien en lief te hê soos Hy.

Dit beteken om te wandel in die gesag wat Hy vir ons gegee het. Toe Jesus gepreek het, het mense opgemerk, “Hy praat met soveel gesag. Nog nooit is ons God se Woord so aangebied nie!” As ons geslag ‘n merk vir Christus op hierdie wêreld moet laat, moet ons die gesag besit wat Hy vir ons gegee het – om enige situasie binne te gaan met ‘n vrymoedigheid wat sê, “Ek is hier in die Naam van Jesus.”

Jy mag dink, “Dit klink so voorbaring. Hoe kan ek daarop aanspraak maak om in Jesus se Naam op te tree?” Ek het jarelank so gevoel. Ek het in ‘n Pinkstertradisie grootgeword, en was afgesit deur baie van die “kragprediking” wat ek gehoor het. Maar met verloop van verskeie jare in my roeping as ‘n bedienaar, het ek besef ek kon nie die werke van Christus se koninkryk uitvoer sonder sy krag en gesag nie. Sonder dit, was alles leë, dooie godsdiens. Ons kan eenvoudig nie bang wees vir wat die hel uitspuug in mense se lewens in nie – om die wat ly by te staan en te vertroos sonder om hulle ook in te lig oor die opstandingslewe nie.

Jesus het dit gedemonstreer toe Hy die dooie seun in die kis gesien het. Hy het in wese gesê, “Ek gaan medelye hê met hierdie weduwee. En dan gaan Ek hierdie begrafnis ruïneer!” “En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op! En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee” (Lukas 7:14-15).

Waar Jesus die seun opwek uit die dood, sien ons ‘n Verlosser se begeerte om opstandingslewe in te blaas in die dinge wat skynbaar sonder hoop is.

Jesus het nooit opgehou om sulke werke te doen nie. En Hy wil dieselfde in ons midde doen vandag – om al die pyn en lyding te konfronteer wat uit stadspoorte uitkom met ‘n krag baie groter was wat hierdie gebroke wêreld ken.

Te veel van ons sien ‘n begrafnisstoet en staan bloot opsy en dink, “Die lewe is rof. Ek het niks om te sê vir hierdie mense in hulle situasie nie.” Maar wat as Jesus jou dring om ‘n geveg aan te knoop met die dood soos Hy het? Sê vir my, het jy gesien hoe jou huwelik koud geword het? Verdra jy dit dat jou kinders afdwaal na dwelms terwyl jy dink, “God is soewerein. Daar is niks wat ek daaraan kan doen nie.” Of is daar ‘n stem diep binne-in jou wat jou dring, “Niks verder nie! Ek sal nie langer die spook van die dood toelaat om op my huis af te kom nie.”

Dikwels wanneer Christene daarop aanspraak maak, “Dit is alles in die soewereiniteit van God,” stel hulle God se werke gelyk aan Satan s’n. Nee! Ons Here is goed, liefdevol, ‘n geneser, ‘n transformeerder, ‘n veranderingsagent. Hy gaan die stad binne met lewe, liefde, blydskap, krag en sterkte. En Hy konfronteer die dood met beide medelye en opstandingslewe.

Ek ken baie Christene wat na hulle nederlae kyk en sê, “God neem my deur hierdie dinge om iets vir my te leer.” Dit mag so wees; Hy kan dit sekerlik doen. Maar wat as Hy jou onderskeiding leer? Wat as Hy jou die verskil tussen sy soewereine, heersende wil en ‘n donker geestelike aanvaarding wys? Wat as Hy vir jou dinge wys om jou tot aksie te laat oorgaan om met vrymoedige, lewende geloof op te tree?

Vriende, ons is in ‘n oorlog. Toe Paulus vir die Efésiërs geskryf het om die volle wapenrusting van God op te neem, was dit nie ‘n Sondagskoolles vir kinders nie. Dit was omdat ons bestem is om ‘n stryd aan te knoop met die vyand, wat nie sal opgee totdat hy ons geloof sien smeul op die ashoop nie. Die Heilige Gees het ons ‘n swaard gegee om mee te stry in die werklike lewe!

Sommige Christene sal dit lees en dink dit is van toepassing op politiese konfrontasie. Hulle sal hulle Bybels optel en dorptoe marsjeer om kapsie te maak teen die verwydering van die Tien Gebooie aan ‘n hofgebou. Hoeveel van daardie Christene kan egter die Tien Gebooie opnoem? Hulle besef nie die ware stryd waarvoor Jesus hulle geroep het nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie – daar is defnitief ‘n plek vir daardie soort gevegsfront. Maar wat is makliker om vir die wêreld te sê: “Jy leef in duisternis,” of “Ek bring vir jou genesing, oorvloedige lewe”? Jesus het presies daardie vraag gevra vir die godsdienstige skare van sy dag: “Wat is makliker om vir die kreupele te sê, ‘Jou sondes is vergewe,’ of ‘Staan op en loop’?” Hy het toe ‘n kreupel man genees om die verskil tussen die lewendige werk van God se koninkryk en die leë werke van dooie godsdiens aan te toon.

Mag ons almal glo, bid, vertrou, in die stryd tree en die lewe verkondig wat Jesus vir ons met ‘n prys gekoop het.

Te veel van ons is bekommerd oor mislukking wanneer ons in geloof uitstap om die magte van die duisternis te konfonteer.

Toe ek ‘n jong herder was, het ek gebid vir wie ook al na my gekom het en het God gevra om hulle te genees. Die meeste van daardie mense was nie genees nie; trouens, ek het gewoonlik gekry waaraan hulle gely het. Maar dit het my nooit gekeer om vir hulle te bid nie. Hier is waarom.

Twee uit elke drie keer wat ek preek, misluk ek. En ek kan altyd sê wanneer my preek nie goed is nie. Iemand sal my stop om my daaroor te komplimenteer, maar wanneer ek vra wat hulle daarvan onthou, kry hulle die bok-in-die-hoofligte-kyk. Of ek vra my genadige, liefdevolle vrou wat sy van die preek gedink het, en sy verander die onderwerp na die weer.

My punt is dit: Wat as predikers ophou om te preek omdat hulle laaste preek swak was? Ons stop nie – trouens, ons stop nooit nie – omdat ons geroep is. Ons moet getrou bly aan ons roeping en vertrou op die Gees om sy verstommende, wonderbaarlike werk te doen.

Daar is nog ‘n rede waarom ek nooit opgehou het om vir mense te bid nie. Soms, wanneer hulle nie dadelik genees word nie, weet hulle ten minste dat God vir hulle omgee. En die saad van geloof wat in hulle geplant word deur gebed, sal mettertyd opkom soos die Gees dit natmaak. Ons rol is bloot om getroue boodskappers van sy Goeie Nuus te wees – om aan die wat ly ‘n geneesheer te bied wat hulle liefhet en vir hulle omgee.

Ek het myself onlangs hieraan herinner toe ek verby ‘n jong vrou gery het wat op die sypaadjie gestaan en ‘n bord opgehou het. Ek weet nie hoe om dit meer sensitief te sê nie, maar haar gesig was misvorm deur ‘n groot groeisel. Dadelik was ek gedring om vir haar te bid – maar terwyl ek stadiger gery het om my venster af te draai, het ek skielik bang geword. Nie net was ek bang die Here sou nie optree nie, maar ek het nie geweet hoe om haar te nader nie. Ek het aangehou ry.

Ek is skaam om hierdie storie te vertel, maar ek doen dit om jou te vermaan. As ons in vrees lewe, sal ons nooit in geloof optree nie. My gebed in hierdie dae is, dat die Here my weer oor daardie jong vrou se pad sal bring – om my nog ‘n geleentheid te gee, met die vertroue dat Hy getrou sal wees om haar aan te raak.

Vriend, ons is geroep om te glo dat Jesus die mees verharde bendelede kan bereik, dat Hy die mees misvormde liggame kan aanraak, dat Hy wonderwerke vir “die geringstes” kan doen. As ek soms in die kansel kan faal, dan kan ons almal misluk op die bedieningsveld. Selfs as ons ons roeping weerstaan weens vrees, kan ons vir ons Vergewer sê, “Here, ek weier om weer by haar verby te ry. Gee my nog een geleentheid.”

Het jy jou vrymoedigheid verloor? Kan jy onderskei tussen stille aanvaarding van God se wil en ‘n drang om op te tree teen duisternis? Here, leer ons om lief te hê in U Naam. En lei ons om te wandel soos U gewandel het, om die dood te konfronteer as dit deur die poorte kom. U is getrou om opstandingslewe te bring!

Download PDF