Opvaringslewe | World Challenge

Opvaringslewe

David WilkersonMarch 1, 1984

“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle. Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien (Johannes 14:1-7).

Is dit nie een van die mees diepgaande openbarings wat Christus ooit met sy dissipels gedeel het nie. Hy het vir hulle ‘n nuwe manier van lewe probeer wys, in ‘n nuwe dimensie wat hulle nie geweet het bestaan nie. Hier in hierdie gedeelte, het Hy die werklikheid van die Opvaringslewe bekendgestel. Jesus het vir hulle gesê, “Ek verlaat julle om vir julle ‘n plek in ‘n ander realm te gaan voorberei. Ek sal julle in daardie realm inbring – My opgevaarde, opgestane realm. Julle sal met My verenig word in die krag van die opvaringslewe.”

Het dit by die Here se dissipels geregistreer? Nie meer as wat dit in ons geestelike gedagtes registreer nie. Kyk na die ontsaglike blindheid van hierdie manne wat drie jaar lank gehoor het van oovloedige, ewige lewe. Ons Here het hulle probeer laat verstaan daar moes geen breuk, geen onderbreking in hulle intieme verhouding met Hom wees nie. “As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer” (Johannes 12:26).

Maar sou Hy nie hemel toe gaan na Sy Vader om in die hemel saam met Hom te sit nie? Ja! En Hy het gesê, “Volg My daarheen! Julle kan wees waar Ek heen gaan.”

God help ons om te sien wat die dissipels nie gesien het nie! Christus het die weg vir ons oopgemaak na ‘n bonatuurlike realm. Hy het opgevaar na die hemel – na die regterhand van die Vader – om vir ons ‘n plek gereed te maak daar saam met Hom. Hy smag dat elke gelowige saam met Hom in Sy hemelse plek sal sit en om hulle in die volheid van rykdom van Sy heerlikheid te bring.

Die Here het dit bedoel toe Hy gesê het, “Ek sal julle nooit verlaat of begewe nie.” Hy het bedoel Hy sou ons na Homself bring – verenig met Hom in heerlikheid – nou, terwyl ons op aarde is. Toe Hy gesê het, “Neem jou kruis op en volg My,” waarheen het Hy bedoel moet jy Hom volg? Hy is nie langer hier op aarde nie. Hy is ‘n vlees-en-bloed Mens wat in die hemel sit. As jy Hom volg, moet jy gaan waar Hy is. Hy is buite alles wat van hierdie aarde is. Hy is buite alles wat van die vlees is. Hy is buite alles wat sigbaar is. Hy bly in die realm van die gees. En slegs die Heilige Gees kan ons neem na waar Hy is.

Die dissipels het Jesus se belofte gehoor: “...dat waar Ek is, julle ook kan wees...” Maar soos so baie van ons vandag, kon hulle dit slegs sien as ‘n toekomstige seën. “Hy sal eendag kom, my wegraap en my huistoe na Sy huis neem,” het hulle gedink. Vir hulle, was dit alles in die toekoms. Maar Christus het dit bedoel as ‘n onmiddellike seën. Hy het gesmag daarna dat hulle sou verstaan, dat deur geloof hulle oë oopgemaak sou word om die koninkryk van God binne-in hulle te sien. Hy wou hê hulle moes dadelik saam met Hom opvaar!”

Die Here se bedoeling was die heeltyd om op te vaar as die eersteling en gereed te maak vir ‘n groot insameling van Sy kinders in die koninkrykslewe in. Hoe kan ons hierdie bedoeling mis? Hoe duidelik kan Hy dit maak? “Ek sal weer kom, en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is....”

Ek probeer nie enigeen se geseënde hoop in die Here se spoedige wederkoms wegneem nie. Ek sê daar is ‘n realm in Christus waarin Hy nie hoef te kom en jou uit te snuffel nie. Dit is ‘n plek van eenheid, ‘n plek van sulke intimiteit dat jy op hierdie oomblik kan sê, “Ek is weggeraap!”

My hoop is nie die wegraping nie – my hoop is Christus en Sy volkome volheid nóú. Ek verlang nie na Sy koms op een of ander toekomstige datum nie. Ek is nie bekommerd oor of ek gereed of waardig sal wees om te gaan nie. Hy het reeds vir my gekom, en ek het opgegaan na Hom toe. Ek kan nie hoër in Hom gaan as wat ek reeds is nie. Ek hoef nie bekommerd te wees oor of Hy my sal kom haal nie, want ek is reeds by Hom in die hemel!

My Bybel sê vir my ek is reeds in die hemele in Christus Jesus. Dit is my geseënde hoop. Terwyl menigtes van Christene rondsit en wag om Jesus van aangesig tot aangesig te sien – wagtend om Hom in Sy heerlikheid te sien – aanskou ek nou reeds Sy lieflike aangesig. Ek kan nou reeds Sy heerlikheid sien en aanraak.

Glo jy ons is bokant hierdie wêreld en sit tans saam met Christus in die hemele? Hoor dit: “Maar God...het ons...saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus” (Efésiërs 2:4-6).

Wat het Jesus gesê sou Hy doen sodra Hy na die Vader gaan? Vir ons ‘n plek berei! Ons ontdek ons sit nou reeds in daardie plek wat Hy voorberei het. Dit word van Christus gesê, God het “Hom uit die dode opgewek...en Hom laat sit...aan sy regterhand in die hemele” (Efésiërs 1:20). Waar is ons geseënde Here! Hy sit in die hemele. Waar is ons as ons in Hom is? Ons sit in die hemele. As Hy die wynstok is en ons die lote, kan ons glad nie in Hom bly nie, tensy ons verbind is aan Hom waar Hy is. Hy is in die allerheiligste, ‘n geestelike realm, ‘n koninkryk binne-in ons wat nie van hierdie wêreld is nie.

Ons moenie lewe in die aardse realm, gelykvorming aan die wêreld en ‘n slagoffer van sy wellus en boosheid wees nie. Ons moet beweeg tot in die glorieryke plek wat Hy vir ons voorberei het – in Sy teenwoordigheid. Christus het bedoel dat ons, ons lewe leef in Sy volle teenwoordigheid te alle tye. Ons was bestem om niks te weet onder mense nie, maar Christus en Hom as gekruisigde; Ons moet ons aardse lewe verloor en dit in Sy teenwoordigheid vind, om uit te gaan en Hom tegemoet te gaan “toeberei soos ’n bruid” (Openbaring 21:2). Ons moenie ons liefdes rig op enigiets van hierdie aarde nie, maar ons moet bekoor wees met ons hemelse lewe. Ons moet wakker word uit die slaap, ons lampe gereedmaak en lewe soos iemand wat altyd gereed is.

Jesus het in wese vir al sy dissipels gesê, “Julle het My nou nodig – nie ná ‘n ontruiming nie. Julle het My bonatuurlike krag en sterkte nodig om ‘n vol, oorvloedige lewe nóú te leef. Ek was met julle – Ek gee julle nou iets beter. Deur My Gees, sal julle aan My verbind wees. Ek sal julle bring waar Ek is. Julle sal saam met My opvaar en teruggaan om die opvaringslewe in die vlees te lewe.”

Dit is onbegryplik dat die dissipels nie eens geweet het waarheen Christus sou gaan of hoe om daar by Hom te kom nie. Jesus het gesê hulle behoort te geweet het waarvan Hy praat: “...En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle...” (Johannes 14:4). Dit is asof Hy vir hulle gesê het, “Ek het dit baie eenvoudig en duidelik gemaak. Ek gaan terug na My Vader. Wanneer Ek daar kom, sal Ek ‘n vir julle ook ‘n plek berei, sodat waar Ek is, julle ook sal wees. Ek gaan na Opvaringslewe – en julle ook! Julle verstaan dit, nê?”

Maar hulle het nie verstaan nie! Hulle kon eenvoudig nie begryp hoe Christus na ‘n bonatuurlike realm kon beweeg, in vlees en bloed, en hulle ook daar kon inbring nie. Thomas het hulle verwarring uitgedruk: “Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?...” (Johannes 14:5).

Is dit nie waar die kerk vandag is nie? Die Here sê vir ons om deur geloof te kom en bo hierdie wêreld saam met Hom te sit in die hemele, en ons weet nie waarvan Hy praat nie. Ons gaan voort om te lewe soos geestelike bedelaars en armes. Ons laat toe dat ons ingesluk word deur vrees, eensaamheid, bekommernis en wanhoop. Ons lewe as slagoffers van begeertes, sonde en die owerhede en magte van hierdie wêreld. Die klein bietjie oorvloedige lewe wat ons kry, kom in sarsies, en gou raak ons weer neerslagtig in die realm van vrees en leegheid.

Ons het die Here lief, ons weet ons is vergewe – maar ons geniet nie werklik volheid, vervulling, volkome blydskap en tevredenheid nie. Soms voel ons ‘n trek na iets dieper, iets meer vervullend, maar ons waag dit nie om te glo dat, wat Christus sê, waar is nie – dat daar ‘n lewe is hier op aarde wat gelewe kan word in heerlike volheid, verenig met Hom waar Hy is. Opvaringslewe!

Dit is een van die groot waarhede wat die Heilige Gees terugbring na die kerk: Die Waarheid van Christus se Oppergesag – Die waarheid dat Hy in hierdie laaste dae ‘n lewe van heerlikheid, volheid en oorwinning voorsien het.

Geen wonder nie Satan probeer so hard om hierdie waarheid te keer. Ons Here het gesê Hy kom terug na ‘n glorieryke, triomferende, seëvierende volk. Die duiwel verkies om oorwinning van ons af weg te hou. Oral waar jy nou gaan, honger en dors Christene na ‘n inniger wandel met die Here. Heiliges van God is moeg vir die kaf, die oppervlakkigheid. Die hongersnood van God se Woord is op die punt om tot ‘n einde te kom. God openbaar Sy Seun in die harte van diegene wat Hom soek.

Hierdie geslag is in ‘n geestelike hongersnood. Daar is leegheid in siele, maar daar is ook ‘n groeiende aptyt vir waarheid en werklikheid. Herders en evangeliste wat nie uitgaan om Hom tegemoet te gaan nie – wat te besig raak om saam met Hom in hemelse plekke te wees – sal uitgelaat word. God sal op jongmanne en jongvroue ‘n gees van wysheid en openbaring in die kennis van Jesus Christus uitstort. Diegene wat in die kerkbanke sit, sal óf Hom navolg in die hoë roeping, of in ‘n ver land beland, gelykvorming aan hierdie wêreld.

Daar is net een manier om te kom waar Christus is – Jy moet eers sterf!

Jy moet sterf aan sonde en aan die wêreld. Dit word geïllustreer waar Petrus die Here vra, “Waar gaan U heen? Jesus antwoord hom: Waar Ek heengaan, kan jy My nou nie volg nie, maar later sal jy My volg...” (Johannes 13:36). Petrus het geargumenteer, “Here, waarom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U gee” (Johannes 13:37).

Jesus het Sy punt gemaak! “Die enigste manier om My te volg, is om te sterf! As jy saam met My in die plek wil sit wat Ek vir julle berei het, moet julle sterf.” Maar Petrus wat nog nie reg vir die Opvaringslewe nie. Hy was steeds te aardsgebonde, te behep met homself en sy eie sekuriteit. Hy sou uiteindelik raadop word. Hy sou terugkeer na die Vader se huis, gesoen word, vergewe word en na die feesmaal van die gemeste kalf geneem word. Dan sou hy die res van sy lewe bedien soos ‘n man wat van God gekom het.

Jy kan nie opvaar na Sy heilige berg nie totdat jou hande rein en jou hart skoon is. Jy moet, saam met Paulus, alle dinge prysgee om Christus as wins te verkry waar Hy is. Daar is goddeloosheid om te laat staan, ‘n reiniging om jou aan te onderwerp, ‘n breuk wat nodig is. Talle Christene sal nie uitgaan om Hom tegemoet te gaan nie, omdat hulle nie gewillig is om hulle afgode te laat staan nie. Hulle wil verligting by Christus hê, maar nie intieme verhouding nie. Hulle wil gered wees, maar nie te naby nie. Hulle wil liefgehê wees, maar slegs van ‘n afstand af.

Nie totdat ‘n man God aanroep, eerlik is oor sy wellus en swakheid nie; nie totdat hy alles neerlê en sy hart daarop rig om te lewe in die werklike teenwoordigheid van Christus nie – sal die hemel vir hom oopmaak. Dood is nie werklik ingewikkeld nie. Word net siek genoeg vir sonde en dit sal gebeur.

Hier is die heerlike waarheid:

Diegene wat sterf aan hierdie wêreld kry ‘n oop hemel!

Wanneer jy die deur van die hemel vir jou sien oopgaan en jy weet dat jy toegang het – sal jy nooit weer lewe soos voorheen nie.

Stéfanus het Opvaringslewe gekry voor hy gesterf het. Hulle het hom uit die stad gegooi en hom gestenig. “Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemel geopend” (Handelinge 7:55). Toe hy ‘n visioen kry van die Man in die hemel, was hy verhewe bo hierdie wêreld. Hy was skielik daar, in Sy werklike teenwoordigheid, deur geloof. Die klippe kon hom nie seermaak nie; die pyn het niks beteken nie – hy het toegang gehad tot ‘n oop hemel!

‘n Paar maande gelede het ek my 33-jarige vennoot begrawe. Hy was die besigheidsbestuurder van ons bediening en vir my soos ‘n seun. Voor hy gesterf het, het ons lang, glorieryke ure gepraat oor die ewige lewe en die visie van Jesus Christus wat ons beide ontvang het. Selfs al was sy liggaam geswel van kanker in die lewer, was hy bekoor met die teenwoordigheid van Christus. Hy het ‘n kykie gehad van die hemelse lewe en het verlang om in die werklike teenwoordigheid van die Here te wees.

Hy was ‘n vurige ondersteuner van die Dallas Cowboy voetbalspan. Maar nou, wat het dit saak gemaak as hulle nie na die Super Bowl toe gegaan het nie? Hy was dood vir alle sport. Dit het alle betekenis vir hom verloor. Sy blou sportskarretjie het sy waarde verloor; dit was nou ‘n stuk gemors. Hy was op pad na die stad van God op ‘n wa van vuur! Sy kas vol klere was nou net vodde. Hoe kon dit vergelyk met die mantel waarmee hy besig was om uitgerus te word? Sy gemaklike huis was nou niks meer as ‘n hoop materiële stene, net ‘n kwynende herinnering met geen betekenis hoegenaamd nie.

Sy werk, so vervullend as wat dit was, het nou niks beteken nie. Hy het die horison dopgehou vir sy Geliefde. Selfs sy toegewyde vrou en twee lieflike dogtertjies was nie langer die fokus van sy aandag nie. Sy hart was nou heeltemal oorgegee aan die Liefhebber van sy siel. Hy was besig om gespeen te word van alle aardse dinge, en Christus alleen het alles vir hom geword. Alle ander dinge het sy betekenis verloor.

Sy laaste woorde aan my was, “Broer Dave, as ek alles moes oorhê, sou ek elke dag, my hele lewe, leef asof ek op die randjie van die dood gelewe het. Ek sou my lewe fokus slegs op Jesus. My werk, my huis, my gesin, sou alles ondergeskik wees. Christus sou my hele lewe wees. Ek sou nie lewe met vrees, of bekommernis of aardsgesindheid nie. Ek sou die volheid van Christus geniet soos ek Hom geniet in hierdie laaste dae. O, hoeveel het ek mislgeloop. My lewe moes die hele tyd so gelewe gewees het. Asseblief, broer, moenie tyd mors nie. Druk deur en lewe soos ‘n man uit die hemel. Leef dood vir hierdie wêreld en lewend vir Hom. Geniet Hom!”

Ek glo die Here as Hy vir my sê, dat Hy “ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons” (1 Petrus 1:3) – nou.

Dink daaraan! ‘n Lewe gereserveerd in die hemel vir my op hierdie oomblik, waar ek bly in Sy teenwoordigheid, waar Hy is, verteenwoordig op hierdie oomblik deur Christus in die teenwoordigheid van die Vader, sonder vlek en met ontsaglike groot blydskap!

Wat hierdie wêreld betref, het ek hier “geen blywende stad nie, maar...soek die toekomstige” (Hebreërs 13:14). Ek het my liefdes gerig op daardie dinge in my hemelse plek in Christus en nie op die dinge van hierdie wêreld nie. Ek is dood vir die wêreld, lewend vir Christus. My burgerskap is in die hemel. Nou “verlang ek na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse...want Hy het vir hulle ‘n stad berei...” (Hebreërs 11:16).

Aardse seëninge – materialisme – moenie langer vergelyk word met geseën wees “met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” nie (Efésiërs 1:3). Ek gee die sigbare prys vir die heerlikheid van die onsigbare. Ek is bo hierdie toneel hier onder omdat ek by Hom is, opgevaar.

Trouens, God het nooit bedoel dat Sy kinders lewe as slagoffers vir enigeen of enigiets nie. Nie vrees, nie twyfel, nie duiwels, nie demone, nie owerhede, nie magte, of dinge siende of onsiende, nie enige wapen teen ons gesmee nie. Ons is ‘n Opvaringslewe belowe. ‘n Plek in Christus in die hemel. ‘n Lewe van blydskap en vrede in die Heilige Gees. Maar ons het ons op hierdie kant van die Jordaan kom vestig, steeds op die rand van die gevreesde woestyn. Ons het onsself mislei en bedrieg.

Johannes, die openbaarder, het gesê, “Kyk, ’n geopende deur in die hemel, en die eerste stem... soos ‘n basuin ... het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur. En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon” (Openbaring 4:1,2).

Daar is geen twyfel in my gedagtes nie dat God vir ons ‘n geopende hemel gegee het en dat Hy ‘n oorblyfsel van toegewyde dissipels bymekaarmaak om saam met Hom in die hemelse realm te kom sit om God se planne te ontdek vir die toekoms. Die Heilige Gees is uitgestort om ons almal terug te bring na Christus toe, die Hoof! God is volkome van plan om ‘n heilige saad op te rig, ‘n hemelse ras, wat ‘n volle openbaring sal ontvang van Sy heerlikheid en afkom om vanaf die troon te bedien.

Hulle sal bedienaars en gemeentelede wees wat heeltemal losgemaak is van hierdie wêreld – wat alle begeerte vir ‘n ereplek voor mense prysgegee het – wat die hoë roeping van God in Christus opgeneem het en en lewe in die lig van Sy heilige teenwoordigheid – wat vrymoedig is omdat hulle rein is – wat weet hoe om die hongeres te voed – wat vestings kan neerwerp omdat hulle een is met Christus.

Die Here is tans besig om Sy ewige koningkryk op te rig. Hy reinig Sy oorblyfsel. Dit is nie ‘n tyd vir speletjies, materialisme of dwase begeertes nie.

Nie van hierdie wêreld nie

Ons word nie uit hierdie fisiese wêreld uitgeneem nie, maar in ons geestelik mens, is ons nie van hierdie wêreld nie: “En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld...” (Johannes 17:11). Waar was Christus toe Hy so gebid het? Hy was steeds in die Heilige Land, in ‘n aardse tuin. Tog het Hy gesê, “En Ek is nie meer in die wêreld nie...” Die dissipels was steeds “in die wêreld” omdat hulle nie verstaan het nie – hulle was aan die slaap. Maar Christus het reeds deurgebreek na die hemelse realm! “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar” (Johannes 17:15).

Ons is nie weg uit die fisiese aarde nie, maar Jesus het verder gegaan en gesê, “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). Toe kom die wonderlike gebed vir Opvaringslewe vir Sy kinders: “Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het...” (Johannes 17:24).

Hoor jy wat ek sê? Sien jy wat ek sien? “Nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie....Ek gaan na My Vader... Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle saam met My sal wees, sodat hulle in my heerlikheid kan lewe.” Paulus het Sy heerlikheid gesien. Stéfanus het dit gesien. Ek het dit gesien! Waarom maak jy nie aanspraak op jou plek in die hemel op hierdie oomblik nie?

Jesus het gesê, “En julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as....” (Handelinge 1:8). Hoeveel van julle het na Israel gegaan om te begin getuig? Hoeveel het op ‘n toer gegaan en in die Jerusalem in die Heilige Land begin? Jy sê, “Dit is net figuurlik, wat beteken: ‘Begin waar jy is.’” Nee! Ek sê dit is meer as dit! Dit is die Nuwe Jerusalem – Sion – waar Christus op Sy troon sit. Jy gaan na waar Hy is, en kom daarvandaan uit! Jy begin by jou hemelse plek, soos ‘n hemelse mens en jy kom uit Sy teenwoordigheid in die Jerusalem wat daarbo is. “So sê die HERE: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van die trou...Want die saad van vrede, die wingerdstok, sal sy vrug gee, en die aarde sy opbrings lewer, en die hemel sal sy dou skenk; en die oorblyfsel... sal Ek al hierdie laat beërwe” (Sagaría 8:3,12).

Christus het teruggekeer na die Jerusalem wat daarbo is – Sion – en van daar af sal die oorblyfsel die waarheid stuur. Dit sal voorspoedig wees, en Sy kinders sal die lewe in oorvloed besit. Jesaja 2:3 sê, “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.” Weer, in Galásiërs 4:26, lees ons, “Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal” Ons kom uit hierdie baarmoeder uit – in Nuwe Jerusalem!

Christus het ons agtergelaat met ‘n geheim hoe om die wêreld te oorwin – en die kerk sien of hoor dit nie! Daar is ‘n een-vers openbaring oor hoe om nie geaffekteer te word deur enigiets wat Satan of die wêreld na jou kant toe gooi nie. Dit is opgeteken in Johannes 3:31: “Hy wat van bo kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. En wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy; en niemand neem sy getuienis aan nie.”

Jy kan maklik die man herken wat kom vanuit Christus in die hemele. Hy praat slegs wat hy sien en hoor: Christus, Christus, Christus! Hy praat van oorvloedige opvaringslewe – en niemand sal hom glo nie. Verkondig die vlees... swakheid... mislukking... voorspoed – glo hulle. Verkondig opstandingslewe – weier hulle.

 Laat my vir jou wys wat gebeur wanneer jy saam met Hom opvaar en Hom sien in Sy glans en heerlikheid!

Paulus – nadat Christus gesterf en opgevaar het na die hemel – het gesê, “Het ek nie Jesus Christus, onse Here, gesien nie?” (1 Korinthiërs 9:1). Later herhaal hy dit, “En dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf...en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene...” (1 Korinthiërs 15:5-8). Waar het Paulus Christus in die vlees gesien? Ons Here het reeds hemel toe gegaan. Paulus ook! Toe hy deur die Gees na die hemele geneem was, het hy Hom gesien waar Hy was. En van toe af, het hy nooit die hemel verlaat nie, behalwe om te bedien!

Hier is die geheim: “Maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal...” (1 Korinthiërs 15:10). Luister na die apostel se aanspraak: “Ek was ontydig gebore, maar ek het meer gearbei as almal wat by Hom was voor die opstanding.” Met ander woorde, “My hemelse visioen het meer liefde en toewyding en evangelisasie geproduseer as hulle aardse visioen.”

Dit behoort ons hoop te gee. Soos Paulus, is ons almal ontydig gebore. Ons was nie hier toe Christus op die aarde gewandel het nie. Maar ons het iets beters. Ons kan gaan waar Hy is! Ons kan uitgaan om te arbei, te evangeliseer, te werk – meer as al die Here se aardse dissipels. Waarom? Omdat ons vanaf die troon kom! Omdat ons ‘n spesiale genade gegee is. Die hemelse plek is beter as die aardse. Dit sal blywend wees. Dit is ewig.

Die mens wat lewe in die hemele saam met Christus, doen meer vir God omdat Christus alles ondersteun wat hy begin. Die een in die hemel ken die gedagtes van God. Hy is nie bekommerd nie nie. Hy weet wat om te doen. Hy doen bloot wat hy gehoor het die wil van God was. Hy was teenwoordig by die raad van die Godheid. Jy kan nie saam met Christus in die hemele sit en nie goddelike gesprekke hoor nie. Die Bybel sê, “Want ons burgerskap is in die hemel” (Filippense 3:20). Aangesien dit die geval is, sou die ware dienaar van God in staat wees om met vertroue te kan sê, “Ek het God gehoor praat en ek doen wat ek gehoor het.”

‘n Nuwe Naam volk

“En jy sal met ‘n nuwe naam genoem word...” (Jesaja 62:2). Ons beweeg van die bonatuurlike na die glorieryke. Die heerlikheid van God sal nou die fokus wees – nie die seën van God nie. Ons beweeg van die bonatuurlike na die ewige! Die natuurlike het geen plek waar ewige waardes blom nie. Dit is ver bo die bonatuurlike – dit is bo alles! God se volheid.

Download PDF